Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
In die weegskaal geweeg
Van al die wonderlike dinge wat daar in Londen te sien is, is daar seker niks wonderliker as die skaal by die koninklike munt nie.
Daar is een skaal wat so fyn gebalanseer is dat as jy twee stukkies papier van gelyke grootte neem en jou naam op een stukkie skryf, dan sal die een met jou naamtekening swaarder weeg as die een daarsonder, dit sal aantoon hoe swaar jou naam weeg!
Dit is baie belangrik dat die skaal sekuur moet weeg, want die hele geldstelsel van die land is daarvan afhanklik.
Julle moet verstaan dat banke nie hulle geld tel nie, hulle weeg dit. Elke muntstuk moet die regte gewig hê anders is daar gevaar dat hulle aan sommige mense meer geld sal uitbetaal as wat hulle moet kry en dit sal baie gou moeilikheid veroorsaak.
Maar daar is nog 'n ander rede waarom hierdie skale perfek moet wees. In die proses van die aanmunting van geld, soos die smelt van die metaal en ander werksaamhede voordat dit tot munt geslaan word, is daar gevaar dat sommige daarvan verlore kan raak; hierteen moet gewaak word en daarom word sulke akkurate skale gebruik. As daar nie sulke waaksaamheid was nie, kan daar miskien snaakse dinge gebeur.
Wat gedoen word, is dit: die metaal word van kamer tot kamer ingeweeg en uitgeweeg met die baie fyn skale en as daar 'n verskil is, dan moet die betrokke beamptes rekenskap gee, want selfs die kleinste verskil beteken baie wanneer goud of silwer geweeg word.
Dit is wanneer die proses van muntslaan so te sê klaar is, dat die skale soms verbasende dinge aantoon.
Die skale skei munt in drie klasse, naamlik "regte gewig", "te lig" en "te swaar". Dit is baie interessant om te sien hoe skale werk en die muntstukke verdeel in die klasse waaraan hule behoort.
'n Mens kan die skale nie bedrieg nie. As 'n geldstuk net 'n duisendste deel van 'n ons te lig is, sal die skaal dit aanwys. As een net effentjies te swaar is, toon die skaal presies aan hoeveel dit te swaar is. Elke geldstuk moet net reg wees.
Toe ek eendag hierdie proses gadeslaan, kon ek nie help om te dink aan die les wat die werkers in die munt gedurig geleer word nie - alhoewel ek glo dat hulle soms te besig is om daaroor na te dink. In elke kamer waar hulle werk, word hulle gedurig daaraan dat hulle werk dopgehou en nagegaan word tot 'n duisendste deel van 'n ons.