Iets in haar stem het ' n indruk op hom gemaak.
"Haai!" het hy vir sy maats geskree, "wat dink julle daarvan? Sy het 'Dankie' gesê vir 'n ou soos ek."
Hy kon dit egter nie vergeet nie. En toe hy daaroor nadink, het hy vir homself gesê "En hoekom kan sy nie vir my 'Dankie' sê nie?" En dan "Hoekom kan ek haar dank nie waardig wees nie?" En "Hoekom moet ek altyd 'n arm, verflenterde outjie bly?" En eindelik "Ek gaan nie langer 'n verflenterde seun wees nie."
Met die nuwe ideaal besiel om iets van homself te maak, het hy begin werk soek. En hy het dit gekry. Hy het koerante op straat begin verkoop. Na 'n rukkie het hy 'n beter werk gekry. Toe doen hy aansoek om werk in dieselfde winkel waar hy die dame ontmoet het. Hy het geslaag en geleidelik verbeter totdat hy - vanweë sy pligsgetrouheid en harde werk - 'n goeie betrekking beklee het.
Jare het verbygegaan. Toe gaan daardie selfde deur eendag oop en 'n dame kom binne en haar gesig, nou baie ouer, het die jong man verras laat opkyk. Sy het na die toonbank waar hy gestaan het, gestap.
"Onthou u my nog?" het hy haar gevra.
Sy het hom aanskou. "Nee Meneer, ek glo nie ek kan nie. Het ons al tevore ontmoet? Waar kon dit gewees het?"
"Mevrou," het hy gevoelvol gesê, "ons het net eenmaal ontmoet en dit was by hierdie selfde deur. Ek was die verflenterde seuntjie wat eendag die deur vir u oopgemaak het en ...e...e... u was vriendelik genoeg om vir my 'Dankie' te sê.
"Ek dink ek kan onthou," het die dame gesê, "maar ek het dit alles reeds vergeet."
"U het seker, maar ek kon nie vergeet nie. Daardie 'Dankie' het my lewe verander. Dit het my aangespoor om iets te word. En nou wil ek vir u "Dankie' sê"
En nou, kinders, dink julle nie julle moet regtig oefen om 'Dankie' so vriendelik moontlik te sê moe? Julle weet nooit hoe dit iemand se lewe mag beïnvloed nie. En julle sal sekerlik gelukkiger voel nadat julle dit gesê het.
En kan ek iets voorstel?
Begin dit vandag vir Pappie en Mammie sê. Hulle doen meer vir julle as enigiemand anders. Hoekom begin julle nie sommer vir hulle elke keer dankie sê wanneer hulle julle met jul somme help, of vir julle etes, of vir klere wat reggemaak is, of vir iets wat vir julle gekoop is nie? Ek dink julle sal uuitvind dat hulle sal bly voel daaroor - hulle sal sekerlik verras wees.
Dit is in elk geval die moeite werd om te probeer, is dit nie? Sal julle?