"Ons het almal gewonder wat sy bedoel en ek het haar toe gevra, "Wat kan ons nog doen, kleinding? Jesus kan sien die spens is leeg, nie so nie?"
"O, ja," het sy geantwoord, maar dink Pappie nie dat as ons die tafel dek en die borde en die messe en die vurke regsit, Hy kan sien dat ons regtig glo dat Hy ons dadelik iets sal stuur om te eet nie?"
"Ons het geglimlag, maar ek het gedink, "Ek moenie minder geloof as my klein dogtertjie hê nie."
Ons gooi toe die tafeldoek oor en kry die borde en die messe en die vurke en sit hulle reg. Toe die tafel mooi gedek was, het ons daar neergekniel om te bid.
"Dit was 'n wonderlike biduur. Ek onthou hoe my klein dogtertjie gebid het. "Liewe Jesus," het sy gesê, "U sien dat ons die tafel gedek het om U te wys dat ons glo dat U ons gaan help. Stuur ons asseblief kos om in die leë borde te skep."
"En wat het toe gebeur?"
"Dit was wonderlik," antwoord my vriend. "So wonderlik dat Meneer dit dalk nie sal wil glo nie. Maar ons het skaars van ons knieë af opgestaan of iemand het aan die voordeur geklop. Ek het gaan oopmaak en daar het twee vroue gestaan, elkeen met 'n mandjie vol allerhande eetware. Hulle was feitlik vreemdelinge vir ons, maar hulle het ons vertel dat hulle lus gevoel het om ons iets te bring om te eet. Ons het hulle ingenooi en die tafel gewys wat ons gedek het en hulle vertel dat ons net klaar gebid het toe hulle geklop het. Regtig, ek weet nie wie was die gelukkigste, of ons of hulle nie."
"Ek dink ek weet wie was die blyste van almal," het ek gesê. "Die klein dogtertjie."
"Ek dink ook so," het hy gesê, "want dit het regtig gelyk of Jesus twee engele uit die hemel gestuur het om ons gebed te verhoor."
"En miskien het Hy," het ek sy geloof aangemoedig. "Dit sou nie die eerste maal wees dat getroue kinders van die Here ontwetend engele in hulle huise ontvang het nie."