
Eendag het ek 'n groot motorhawe besoek waar hulle die groot motorbusse herstel. Daar het ek iets gesien wat my baie genteresseer het.
Alles het beweeg.
Alles het langsaam beweeg - so stadig dat 'n mens dit nie sommer dadelik opmerk nie; maar as jy mooi kyk, kan jy sien hoedat 'n beskadigde bus, van die oomblik af dat dit in die garage kom, nooit stilstaan totdat dit weer anderkant uitgaan nie.
Dit klink natuurlik vir julle snaaks, maar dit is 'n feit, en die rede daarvoor is dat daar onder die vloer 'n sterk staalkabel is waaran die bus vasgemaak word sodra dit die motorhawe binnekom. Die kabel sleep dit langsaam voort, en alles wat aan die bus gedoen word, geskied terwyl dit so byna ongemerk voortbeweeg. Skoonmakers, skilders, stoffeerders, en werktuigkundiges wag langs die weg, elkeen van hulle gereed om hulle deel te doen, totdat die bus weer soos 'n nuwe een lyk en gereed is vir die pad.
Laat ons eers die ou busse wat hier in die motorhawe kom dophou, sodat ons kan sien wat bebeur... Dit is in 'n vreeslike toestand; die modderskerms is vol duike; die verf is af, en die vensters is stukkend; dit lyk of hierdie bus in 'n ernstige ongeluk betrokke was.
Eerste van alles beweeg dit onder 'n hysmasjien wat met twee reusearms die bak aflig, sodat die onderstel kan beweeg na sy eie afdeling vir opknapping. Daarna laat hulle die bak op 'n trollie sak wat aan die bewegende kabel vasgemaak is, en dan begin dit stadig deur die motorhawe beweeg.
Daar is manne wat die modderskerms en gebuigde dele afhaal sodat hulle reggeklop kan word. Ander manne skroef die sitplekke los vir nuwe stoffeerwerk. En die skilders spring aan die werk.
In die tussentyd beweeg die onderstel ook langsaam voort in sy eie afdeling waar dit uitmekaar gehaal word; alles word getoets, en nuwe dele word ingesit waar nodig. Die motor, die remme, die wiele - alles word deeglik skoongemaak en herstel, sodat die hele masjien opgeknap anderkant uitkom.
Wanneer die onderstel heeltemal gereed is met wiele, remme, en motor, verskyn die bak so 'n endjie voor hom, so goed as nuut.
Die bak word dan weer op die onderstel gelig en vasgebout, en daarna ry die bus by die garagedeur uit, weer gereed vir die pad.
Maar, laat ons nou vir 'n oomblikkie nadink. Hoe het hierdie wonderlike verandering plaasgevind?
Dit was omdat die lendelam ou bus aan die kabel vasgehou het! As die bus byvoorbeeld sou gesê het: "Ek wil nie nuwe modderskerms en nuwe dele en nuwe sitplekke hê nie; ek wil nie my masjien opgeknap hê nie, want dis alles te veel moeite en beslommernis; ek wil nie aan hierdie kabel vashou nie," sou dit maar 'n ou lendelam bus gebly het, nie waar nie? Maar die bus het aan die kabel vasgehou, en daarom is dit verander.
En dit is presies soos dit met almal van ons is, kinders. Die Here Jesus wil elke lewe neem wat deur die sonde bederf is, sodat Hy dit weer nuut kan maak. Nie alleen wil Hy die buitekant weer mooi verf nie, maar Hy wil alles in die lewe regmaak - elke bout en moer en skroef en wasser van ons masjien, en ook die wiele en remme.
Hy het Sy eie manier om dit te doen, en Hy is altyd suksesvol as ons maar net aan Hom wil oorgee.
As julle heeltemal nuutgemaak wil wees, en as julle al die duike in julle karakter uitgeklop wil hê, vertel Hom daarvan; neem Sy liefde aan en Hy sal alles weer regmaak.
Daar mag dinge gebeur waarvan julle nie hou nie, maar moenie laat dit julle ontmoedig nie, want dit is nodig om al die duike uit te kry.
Moontlik sal sommige van die ervarings wat julle deurmaak, onaangenaam wees, maar moenie moed opgee nie, want dit is die skuurpapier wat julle sal glad skuur.
As julle weet dat hulle aas Jesus vashou, kan julle seker wees dat alles goed sal eindig. Al het julle ook hoe 'n mislukking van julle lewe gemaak, sal Jesus dit so verander dat julle julleself glad nie sal ken nie.
In die plek van selfsug sal Hy julle 'n gees van opoffering gee. Ongeduld sal vervang word met sagmoedigheid. Die lus om rusie te maak, sal verdwyn, en julle sal liefdevol en vriendelik wees.
As julle maar die goue koord van ewige liefde sal beetneem wat die aarde met die hemel verbind, en wat altyd opwaarts beweeg na die koningkryk van God, is daar geen perke aan wat met julle kan gebeur nie. Die geheim is om vas te hou daaraan.