
Ons droom almal soms dié soort drome. En seuns veral. Swaar en donker drome waaruit ons langsaam en teensinnig wakker word en wat 'n dag of drie daarna nog by ons bly soos 'n mooi en treurige herinnering.
As kind had ek 'n dik, blou boek met prente van al die vreemde plekke in die wêreld. En op bladsy soveel was daar 'n prentjie van die Swartwoud.
Die náám het my gevang, die naam meer nog as die prentjie. Dit is die soort naam wat enige kind se verbeelding sal aangryp, hom drome sal laat droom.
Die Swartwoud sou 'n plek wees met myle-myle donker bome, met kastele en kuuile blou water en wit swane. En prinsesse, miskien, en prinse op perde.
Toe ek sestien was, het ek nog die boek gehad, maar dit toe al reeds te goed geken om nog daarin te blaai. Ek het ook nie meer aan kammaland geglo nie. Ek het nie meer van dwergies gedroom en van feetjies met towerstaffies nie. Ek het gedroom van dogters in my klas en van sonde en van groot, swaar vroue en die see.
En warm somermiddae as ek verveeld was en nie werk had vir my hande nie, het ek die veld ingegaan met koorsige gedagtes. Tussen die bome en die warm gras sou ek op my rug gaan lê en my verwonder aan die blou lug en aan miere wat op takkies loop en aan meeldou op die blare.
En dan het ek myself probeer voorstel ek lê in die Swartwoud. Maar dit was nie altyd maklik nie; die landskap om my was te oop en te lig, te bekend. Die Swartwoud sou ' n donker en klam plek wees wat ek nie ken nie, 'n eindelose woud met sneeu en snoesige herberge en dakkamers met smal vensters en groot, wit dubbelbeddens en fluistergesprekke. Elke herberg sou sy meisies hê: robuuste, blonde goed met haelwit tande en koper-oorringe en heupe.
'n Mens verander baie in tien jaar, en bly baie dieselfde. 'n Man van ses-en-twintig moet soms glimlag as hy terugdink aan die drome van sy puberteitsjare. En dan, op 'n dag, betrap hy homself dat hy dieselfde drome droom.
Maar nie meer, soos vroeër, in sy slaap nie.
--- --- ---
Ek het die aand so teen vuilskemer in die stasiekafee in Stuttgart gesit - tussen twee vure. Ek wou 'n trein haal Basel toe, maar kon nie mooi besluit watter een nie. Daar was twee om van te kies: die sneltrein oor Karlsruhe, en 'n boemeltreintjie oor Herrenberg en Titisee. Die sneltrein sou my die volgende oggend voor dagbreek in Basel besorg, die boemeltreintjie eers die nag daarná teen twee-uur se stryk en ek sou 'n paar keer oorklim - meer die boemeltreintjie sou my deur die hart van die Swartwoud neem.
Ná 'n bietjie wik ek weeg het ek téén die sneltrein besluit en 'n kaartjie gaan koop Herrenberg toe. Tyd was nie 'n probleem nie en ek wóú die Swartwoud sien.
Daar was nie baie mense op die trein nie, maar die paar wat daar was, het die beknopte drinksalon vol gesit. Dit was in die hartjie van die somer en die aand was drukkend warm. Ek het in die gang by 'n venster gestaan met my kop buite om 'n bietjie vars lug te kry.
Die landskap was geheimsinnig in die vroedonker: spitsdakhuisies uit 'n vergete dwergland, af en toe blougroen dennebosse, dan weer lappe oop veld met koeikampe, skielik 'n haltetjie met 'n naambord, melkkanne, 'n paar roetswart huisies met televisie-antennes, nogmaals bosse, plasies, kampe. Dit was asof ek ná jare weer deur my blou prenteboek blaai.
Ek het daardie nag min geslaap. Elke keer as die trein by 'n haltetjie tot stilstand kom was ek wakker. Dan was daar lui stemme op die perron, en aflaaigeluide, die gekners van voetstappe oor gruisklip, lang stiltes, en uiteindelik sou ons weer beweeg, langsaam spoed wen, al hoe vinniger, wiegend, en ek sou weer slaap.
As dit nie was dat ons op byna elke haltetjie 'n halfuur of wat moes vertoef nie, sou ons Basel waarskynlik vroeg die volgende oggend kon bereik het. Die roete was immers korter as die een wat die sneltrein oor Karlsruhe moes volg - ek glo nie dit was verder as tweehonderd kilometer nie. Maar 'n boeretrein ken geen haas nie.
Was was die volgende oggend tienuur in Rottweil, en ek moes tot eenuur daar wag op 'n aansluiting na Neustadt. As ek maar geweet het ons sou eenuur vertrek, kon ek 'n huurmotor gekry het om my 'n bietjie in die distrik rond te neem, want was nou midde-in die Swartwoud. Maar niemand het presies geweet wanneer wat gebeur nie en ek had geen keuse nie as om in die bedompige stasiekroeg 'n onlesbare dors in bedwang te probeer hou.
Sesuur die aand was ons in Titisee en ek moes weer wag op 'n aansluiting, maar dié keer kon ek darem vasstel dat my trein eers tienuur die aand sou vertrek; ek het van die geleentheid gebruik gemaak om die dorpie in te gaan en vervoer te soek.
Maar Titisee het blykbaar nie huurmotors nie. As die dorp so iets het, was ek seker ongelukkig. Ek kon in ieder geva nie een opspoor nie. Ek het gevolglik maar op dapper en stapper besluit.
As ek sê ek was teen daardie tyd lankal nie meer in die beste van buie nie, stel ek dit lig. Al die moeite om die Swartwoud te sien, en al wat ek nog tot in daardie stadium te sien gekry het, was godverlate haltetjies, stasiekafees en die eenselwige binnekant van 'n paar tweedeklas-treinkompartemente.
Titisee lê weggesteek tussen beboste heuwels. Veel van 'n dorp is dit nie - net 'n paar strate, 'n paar huise, 'n paar winkeltjies. Die heuwels rondom was donker van pers denneplantasies en die lug was blou en oop en dit was stil. Ek kon my eie voetstappe tussen die bruin baksteenmure hoor opklink terwyk ek aanstap, sommer 'n koers in.
Daar was niks besonders aan die toneel nie. Daar was geen houtherberg nie, geen laggende blonde meisies nie. Die enigste meisie wat ek gesien het, was 'n skraal, donker kind wat my stuurs begluur het met die verbygaan. Sy het 'n tamaai kruisbeeld aan 'n kettinkie om die nek gehad wat effens geblink het in die laatson.
Ek was gou uit die dorp uit. Die pad het die bosse ingeslinger, maar ek het dit nie gevolg nie, ek het 'n voetpad gekies wat in 'n eikelaning af loop. Daar was voëls in die bome wat die warm middag met hulle eensame gefluit getrotseer het. Ek het my baadjie uitgetrek en aan 'n vinger oor my skouer laat hang. Hier en daar links en regs van die laan was daar weggesteekte woonhuise - maar nêrens 'n lewende siel nie.
Dit was al sterk skemer en ek het begin dink aan omdraai toe ek die grootpad sien, en oorkant die pad 'n herberg. Omdat ek dors was, het ek besluit om eers 'n dop te gaan maak.
'n Paar ou mans het in die kroeg gesit en gesels, maar hulle het stilgebly toe ek binnekom. Dit was drukkend warm in die vertrek, donker - só donker dat ek eers ná my tweede bier die meisie in die hoek gewaar het, Sy het in 'n rottangstoel gesit met haar elmboë op die tafel voor haar. Langs haar op die grond het daar iets gestaan wat ek aanvanklik nie mooi kon uitmaak nie. Dit het effens geblink en ek het my verbeel ek kan 'n groot tuit uitmaak soos dié van 'n blaasinstrument.
Ek was besig aan die laaste bietjie van my derde bier toe die meisie opstaan. Die oubasies, wat intussen weer aan die gesels geraak het, het haar oor hulle skouers dopgehou en vriendelik gegroet toe sy uitgaan.
Dit wás 'n musiekinstrument wat sy by haar gehad het - 'n yslike tuba. Die ding was so groot dat sy moes meet en pas om dit by die deur uit te kry. Sy was jonk en skralerig, en blond. Ek het haardit nie beny om daardie tamaai gevaarte te dra nie.
Ek het my bier klaar gedrink en betaal en uitgegaan. Dit moet 'n rapsie oor sewe gewees het.
Die meisie het 'n entjie van die herberg af langs die pad gestaan, die tuba soos 'n opgerolde koperluislang langs heer op die grond. Toe ek naby haar kom, tel sy die instrument op en begin met moeite daarmee aanstryk, oor die pad en in die laan op waarmee ek gekom het.
Ek het maar 'n entjie agter haar gehou, want ek het besef dat as ek by haar verbygaan, dit niks minder as my plig sou wees om hulp aan te bied nie. Maar ná honderd tree het ek skaam gekry vir my blatante lyfwegstekery, haar ingehaal en aangebied om te help dra.
Sy het die instrument neergesit en na my gekyk, toe gesug en geglimlag en die sweet met 'n moupant van haar voorkop afgevee.
"Jy red my lewe," was al wat sy gesê het.
Ek kon haar gesig nou vir die eerste keer ordentlik sien, en iets daarin het my nuuskierigheid geprikkel. Daar was iets bekends aan haar wat ek nie kon plaas nie. Sy het só bekend gelyk dat ek op die punt was om haar na haar naam te vra, maar ek het net betyds besef: dis onwaarskynlik dat ek haar ooit voorheen sou ontmoet het; sy lyk waarskynlik maar na iemand wat ek ken, maar op die oomblik nie aan kan dink nie.
Ek het die tuba opgetel en ons het begin aanstaan. Die ding wás swaar - en boonop nog ongemaklik om behoorlik vatplek aan te kry.
"Is jy op pad dorp toe hiermee?" wou ek weet.
Sy het geknik, tot my ontsteltenis. My lot was dus beklink; ek sou haar tuba die kilometer of wat dorp toe moes dra.
Ons het maar min gepraat op pad. My Duits was nog nooit van die beste nie. Die dinge waaraan ek kon dink om te sê, kon ek nie op Duits geformuleer kry nie, en die dinge wat ek geformuleer sou kry, was niks om van te praat nie.
Ek sou byvoorbeeld graag wou weet hoe dit gekom het dat sy met die tuba opgeskeep sit - ás dit 'n tuba was; want daaraan het ek al hoe meer begin twyfel. Die ding was groter as 'n tuba en beslis swaarder: dit kon miskien 'n bombardon wees. Ek het gewonder of sy die instrument kan bespeel. 'n Tuba word nog net hier en daar in dorpsorkeste gebruik en dan moet jy dit dra. Sy kon die instrument skaars oplig, wat nog daarop loop en blaas.
Sy het die hele tyd 'n tree of wat voor my geloop, en terwyl dit nog lig was, het ek van die geleentheid gebruik gemaak om haar onderlangs dop te hou, te probeer dink aan wie sy my herinner. Maar later was dit donker onder die bome en haar gesig het sy buitelyne begin verloor.
Hoe minder ek van haar gelaatstrekke kon sien, hoe meer het sy my herinner aan meisies wat ek geken het, aan meisies wat ek wou ken, aan meisies oor wie ek gedroom het. Haar oë was iemand s'n en haar mond het my aan iemand anders herinner. Haar hande was bekend, maar ek kon nie dink hoekom nie; haar manier van stap...
Ek het almal weer onthou, die een na die ander. Met die swaar tuba op my skouer, skuins agter haar in die voetpad, die someraand swaar en soet, het ek hulle onthou.
Die donker een by die groen dorpsdam wat ek nooit wou soen nie omdat sy vir my heilig was. Haar het ek eerste onthou.
Maar daar was ander. Na haar; ná die wit klein maagd was daar ander, minder maagdelik. Die gedroomdes en dié tussen die bladsye van vergeelde tydskrifte, dié wat wydsbeen staan en terg terwyl hulle oplag na my bruin seunsknieë tussen die geniepsige turksvye.
Die groen meisie onder die water wat afduik langs my heupe, en sak, en sak, haar hare soos seegras om my knieë, afsak en weer opstyg terwyl ek wag dat sy haar borste instuur in die holtes van my hande.
En die kloosterkind met die bokhaarjas en die warm mond wat na wildeklapper ruik; die afsydige wat my in die sneeu soen voor 'n swaar houtdeur kort ná middernag eenkeer.
En die ander heilige meisie in die grys hotelkamer by die see; die amber een met die treurende borste en die foto van 'n guru in haar handsak wat haar vreugde met haar naels hiëroglifies op my rug skrywe, sonder 'n geluid.
Met die reuse-tuba oor my skouer en vensters lig ver agter bome, die voëls lankal slapend, het ek hulle in my geheue getel. En elkeen met haar vergelyk. En sy was almal van hulle. En sy was niemand.
Intussen, tree ná tree, het die tuba aan gewig gewen - totdat ek later, naby die dorp, net nie meer kon nie; ek het die instrument op die grond neergesit en gesug.
"Is hy swaar?" wou sy weet.
Ek het geknik en geglimlag, toe plat op die grond gaan sit. Sy het nader gekom en op haar hurke neergekniel, só dat sy met haar voorarms op die instrument kon leun. Om die een of ander rede was die aand nou ligter as 'n rukkie tevore - ek kon haar gesig weer naastenby uitmaak. Ek het oor die bos uitgekyk en die bleek skynsel bokant die bome gesien en geweet die maan kom op.
"Dis lief van jou," het sy gesê, "om my te help."
Iewers het 'n koekoek geroep, vlugtig, tussen die bome. Dit was laat in die jaar vir 'n koekoek, het ek nog gedink. Ek onthou dit, want net daarná, asof sy my gedagte geraai het, het die meisie gesê: "Hulle roep altyd as die maan opkom."
Die tuba se tuit het na my gekyk, 'n ronde swart kol, 'n swaar oog wat my dophou en wag om weer opgetel te word. Die koekoek het weer geroep, nader nou, en ek het gesê: "Ek dag hulle roep net in die lente."
Sy het oor die instrument gestreel, byna liefderyk, glimlaggend. "In liefdesverhale, ja." Sy het fluisterend gepraat asof sy bang was iemand hoor wat sy sê. "In Titisee roep hulle dwarsdeur die somer." Sy het nog steeds die instrument gestreel, saggies, baie saggies, en iets in die gebaar het my verleë gemaak en my laat wegkyk.
Reg agter die donker oog van die tuba het die maan nou verskyn, 'n koeëlronde skyf; maar die tuit het 'n deel daarvan onsigbaar gemaak en dit soos 'n seker laat lyk.
"Hulle roep tog net as hulle paar," het ek gesê. "En hulle paar net in die lente."
Sy het haar wang teen die instrument gedruk. Daar is altyd dié wat nie 'n maat kan kry nie. Húlle roep dwarsdeur die somer. Hulle gee nie moed op voor die herfs nie."
Die maan se skyf het elke oomblik voller geword; later was dit byna rond, behalwe vir 'n happie heel onder.
"Is hier nagegale ook?" wou ek weet.
Sy het geknik.
"Ek sou graag 'n nagtegaal wou hoor. Ek het nog nooit 'n nagtegaal gehoor nie."
"Miskien," het sy gesê, "as ons gelukkig is, hoor ons een. Maar ek dink jy gaan teleurgesteld wees."
"Ek glo nie."
Ek het na die tuba gekyk. Dit het geduldig tussen ons gelê, blink en eensaam. Maar ek had die gevoel, die hele tyd, dat hy luister na ons gesprek.
"Toe ek nog 'n kind was," het ek gesê, maar nie verder gekom as dit nie. Ek was bang my woordeskat laat my in die steek. En ek was spyt; ek wou graag vir haar vertel van die nagtegale wat ek as kind hoor sing het snags as ek van die Swartwoud droom.
Die maan was nou los van die tuba se tuit, los en drywend en lig soos 'n geel ballon.
"Dink jy ons kan weer probeer?"
Ek het geknik en opgestaan en die instrument opgetel, op my skouer gelig, aangestryk, baie stadig, baie teen my sin.
Die maan was al hoog toe ons die dorp oplaas bereik. Daar het 'n paar straatligte gebrand, maar dit het onnodig gelyk, want die nag was helder en oop.
"Is dit nog ver?" wou ek weet toe ons al 'n hele ent die dorp in was. Die instrument het teen dié tyd reeds 'n ton geweeg en ek het geweet ek sou nie meer kon veel verder nie.
"Nog so twee blokke," het sy gesê, en ná 'n rukkie: "Ek is jammer ek moet jou dit aandoen."
Ek wou nog sê ek weet nie hoe sy die ding gedra sou gekry het nie, maar ek was te moeg om my brein ook nog in te span.
Ek stel my voor dit sou 'n mooi aand kon gewees het, was dit nie vir die tuba nie. Ek was immers in die Swartwoud en dit was hoogsomer en volmaan en daar was koekoeke in die bome. Maar die tuba was te swaar vir my; dit was soos 'n berg op my skouers en ek weet net ek het gebid, later, met elke tree, dat die oomblik moes aanbreek waarin ek dié las vir goed sou kon afwerp.
Dit het vir my gevoel ons is al déúr die dorp toe die meisie oplaas by 'n tuinhekkie gaan staan. Die heining was vol wit rose en iewers was die swaar, soet geur van iets soos katjiepiering.
"Hier," het sy gesê.
Sy het voorgegaan en ek moes sukkel om my vrag deur die smal prieel te kry. Die tuinpaadjie was van los gruisklip en ek kon hoor hoe sleep my voete toe ons daaroor beweeg. Sy het die voordeur oopgesluit en ons het die donker huis binnegegaan. 'n Lig is iewers aangeskakel en ek het 'n trap voor my gesien en byna hardop gebid dat ek nie nog dáár ook moet uit nie. Maar sy het teen die trap begin opklim en ek had geen keuse nie as om te volg.
Weerskante aan die mure was geraamde prente van houthuisies en sneeuberge en dennebome en takbokke, en bo teen die trap was daar 'n oudmodiese koekoekklok.
Die meisie het by 'n swak verligte kamer ingegaan en omgedraai en gesê: "Hier." Ek moes weer sukkel om die tuba tussen die kosyne deur te kry. Maar daar was 'n bed voor my en ek het die laaste twee, drie tree soontoe gestruikel, die tuba op die bed neergegooi en self op die voetenent neergesyg, hygend en nat van die sweet.
Eers toe ek opkyk, 'n oomblik later, het ek die ou vrou teen die kussings sien sit. Sy was skrikwekkend maer; haar gesig was benerig en hol en bebaard, en daar was 'n swart slaapmusie op haar kop. Anderkant haar het 'n kers op 'n hoë tafeltjie gebrand en die donker bedstyl agter haar skewe tralieskaduwees teen die muur laat gooi.
"Moenie met haar praat nie," het die meisie agter my gesê. "Maak asof jy h aar nie sien nie."
Maar ek het skaars gehoor wat sy sê, ek het net roerloos gesit en kyk na die bleek kadawergesiggie. En op haar beurt het sy my dopgehou, baie agterdogtig. Haar pap mond het af en toe inmekaar gefrommel tot haar ken byna aan die punt van haar neus raak. Ek kon nie haar oë sien nie, maar ek het gemerk sy draai haar gesig stadig van my na die meisie en terug, van my na die meisie en terug. Toe begin haar een hand beweeg, baie stadig, soos iets wat oor die laken kruip - 'n slu, geel diertjie. Ek het die hand dopgehou, gesien hoe dit tot by die tuba vorder, hoe die benerige vingertjies voel-voel oor die koper kruip. En toe begin die instrument beweeg, so ongemerk dat ek die eerste paar oomblikke gedink het ek verbeel my dit. Maar later ek sien hoe trek sy dit nader na haar toe, baie versigtig oor haar knieë, duim vir duim, tot op haar skoot. Toe lig sy albei hande en tas oor die tuba rond, stuur haar arms daaroor uit, omhels dit soos 'n jarloerse kind sy enigste speelding.
Ek het die meisie aan my skouer voel raak en omgekyk. Sy het met haar kop gewys ons moet uitgaan. En ek was ineens verlig om te kan gaan; dit het my gevoel ons hoort nie daar nie; ons blote teenwoordigheid het ons skuldig gemaak aan die een of ander vreemde en onvergeeflike sonde. Ek het saggies opgestaan en deur toe geretireer, my oë nog onseker en verskonend op die ou vrou gerig.
Die meisie het die deur versigtig agter ons toegetrek.
"Hoe kan ek jou bedank?" het sy saggies in die donker gevra.
"Ek moet gaan," het ek gesê. "My trein vertrek tienuur."
"Rus net eers," het sy gesê. "Jy's nat van die sweet. Ek sal solank vir ons iets maak om te drink."
Ons het met die trap af gegaan en agter ons het die koekoek skielik geroep - nege keer.
Die meisie het beduie en moet saamkom kombuis toe. Sy het my 'n stoel aangebied en ek het langs die swaar houttafel gaan sit, haar dopgehou terwyl sy koffie maal, die ketel kook, die koppies regsit. Dit was 'n stil nag en die huis was stil. Haar werskafgeluide het eensaam geklink in die groot en skemerige vertrek, en tussen dié geluide deur kon ek my horlosie hoor tik.
Ek het die hele tyd aan iets probeer dink om te sê, maar daar was niks; daar was niks op aarde wat die moeite werd was om oor te praat nie. En ek moes die stilte verdra, ongemaklik en teen my sin, soos lank tevore as ek en die donker maagd gaan stap het en by die groen dorpsdam op die mankolieke pier wag op mekaar se woorde.
Toe, ineens, was daar die rare geluidjie iewers in die huis. 'n Kortaf blêr. Ek het na die meisie gekyk en sy het geglimlag en met haar kop plafon toe beduie.
"Die tuba?"
"Ja."
"Kan sy dan speel?"
"Sy probeer."
Vir die tweede keer het ons die blêrgeluid gehoor, harde dié keer, maar die toonhoogte was dieselfde. Ons het saam geglimlag en gewag. Maar lank was dit stil. Die meisie het vir ons rogbrood gesny en ons het bokmelkkaas daarby geëet en ons koffie proeënd gedrink.
Af ek toe was daar weer 'n vals en onseker noot uit die dak uit, dan twee note, dan drie. Dan 'n wysie wat begin posvat, koers vrloor, wegraak. En weer stilte.
Ek wou aan ander dinge dink, maar telkens as ek die tuba hoor, het ek weer die instrument in die ou vrou se arms gesien, bronstig opgekrul in haar skoot.
--- --- ---
Hoe dit presies gebeur het, weet ek nie, maar ek het my trein verpas die aand. Ek het teen kwart oor nege aanstaltes begin maak om te loop. By die voordeur, toe ons groet, het ek gevra hoe ek moet stap om by die stasie te kom. Die meisie het probeer beduie, maar later aangebied om liewer self vir my te gaan wys.
Die dorp het al geslaap. Die strate was bleek en verlate en ek het die hele tyd gevoel ek wil op my tone loop om niemand wakker te maak nie.
Ná vyf minute se stap het ons op 'n lek by 'n smal steeg ingegaan en toe oor 'n donker binneplein gestap, deur nog 'n steeg, en toe kortpad deur 'n park.
Ons was in die middel van die park toe die meisie skielik gaan staan. Ek het na haar gekyk en gesien sy luister, haar hand half gelig.
"Dis 'n nagtegaal," het sy gefluister. "Hoor jy?"
Ek het geluister, maar kon niks hoor nie. Nie dadelik nie. Eers veel later het ek iets gehoor wat dalk 'n nagtegaal kon wees; maar ek was nie seker nie - die metale gebalk van die tuba het nog steeds in my nageklink; dit kon dít wees wat ek in my verbeelding hoor.
Maar toe die meisie weer vra of ek die nagtegaal hoor, het ek geknik en gesê ek dink so.
"Daar is nog tyd," het sy gesê. "As jy wil, kan ons nader gaan."
Ons het tussen die donker bome begin deurstap. Die maan was reeds hoog en klein in die lug, en daar was wolke aan die verbygaan wat ons beurtelings in lig en skaduwee laat loop het.
Die nagtegaal het net af en toe geroep, en elke keer kon ek dit duideliker hoor. Later was hy so naby dat ons hom in die takke kon hoor rondspring. En verder vorentoe het daar nou 'n tweede hoorbaar geword, en 'n derde. En tussen die geroep deur het ek steeds nog in my verbeelding die tuba gehoor, 'n treurige geluid uit die woud van my blou prenteboek.
Ek het nie aan tyd gedink nie, maar in die tyd ín terúg. Totdat my trein gefluit het - 'n minuut voor tien.
--- --- ---
Dit was die tweede nag agtereenvolgens wat ek nie kon slaap nie. Op elke kwartier het ek die muurhorlosie sy deuntjie hoor speel, op elke uur na die koekoek geluister. En tussen-in, soms minute aanmekaar, soms net af en toe, noot vir noot, was daar die gebalk van die ou vrou se tuba.
Die meisie het by haar in die kamer geslaap. Aan die begin kon ek die twee hoor praat, maar later het die meisie nie meer geantwoord as die ou vrou vrae vra nie. Ek het gevolglik afgelei die meisie slaap. Sy was waarskynlik gewoond aan dié soort nagmusiek. Maar ek nie. Die tuba het my wakker gehou, en die tik-tak van die muurhorlosie teen die trap, en die deuntjie elke kwartier.
Daar was ook nog 'n ander geluid, 'n huiwerige gekraak van hout of sink af en toe. Eers het ek gedink dis die dak wat krimp ná die dag se hitte, maar later was ek nie meer seker nie.
Net ná drie het ek opgestaan en by die venster gaan uitleun. Die kamertjie was klein en bedompig, maar met my gesig buite kon ek die tuin se rose ruik. Die maan was reeds onder en dit was so donker dat ek niks van die tuin kon uitmaak nie.
Later het ek by die deur gaan staan, my oor daarteen gedruk. Die tuba was stil, maar ek kon die getik-tak hoor by die trap. Ek het my hand op die deurknop gesit maar dit nie gedraai nie; dit was 'n troos om te dink ek kan dit draai as ek wil. Ek kan dit draai en die deur oopmaak en uitgaan. In my verbeelding het ek die deurknop gedraai en die deur oopgemaak, uitgegaan.
Ek het probeer dink hoe dit moet voel om die meisie teen my vas te hou. 'n Mens verander baie in tien jaar, en bly baie dieselfde.
Die muurhorlosie het die halfuur geslaan. En terwyl die klank daarvan aan die wegsterf was, het ek skielik weer die gekraak gehoor, en ek kon die vloerlante onder my voete voel meegee, baie effentjies. Daar was iemand in die gang.
My hand was op die deurknop en ek het gevoel hoe die deurknop onder my vingers begin draai. Maar dit het nie ver genoeg gedraai om die deur te laat oopgaan nie. In stede daarvan het dit begin terugglip; ek het dit probeer keer, maar my vingers was nat van die sweet en kon nie vat kry aan die gladde knop nie. Ek het my hand aan die laken afgegee en weer na die deurknop gesoek, dit gekry, dit gedraai. Ek kon voel hoe sy weerstand bied. Ek het die knop stadig heen en weer in haar hand gedraai, heen en weer baie versigtig. Ek kon voel hoe sy dit vashou en dan weer los, vashou en los. Ek het teen die deur geleun, my oor teen die hout, en geluister, en die knop in haar hand gedraai, links en regs gedraai, saggies, en gevoel hoe sy dit vashou en los, vashou en los. My hand het weer begin sweet en die knop het al hoe gladder geword in my palm. Dit het weer begin gly. Maar ek het dit gedraai, heen en weer, baie saggies heen en weer - totdat sy dit na 'n ruk skielik stewig vasgegryp het, so styf dat ek dit nie meer kon roer nie.
Ons het lank so gestaan, weerskante van die deur. My lyf was klam en moeg, en ver in die dorp het 'n klokhorlosie vieruur geslaan.
Ek het gestaan en luister hoe die geluid wegsterf, hoe di t stil word, hoe die stilte ons inneem, die huis inneem, ons en die huis verower. En toe alles stil was, die vloer, die gang, die hele huis, die dorp - toe, vir die eerste keer dié nag met selfvertroue, nootvas, het die tuba begin speel. 'n Stadige, statige, melancholiese mars.