Jare gelede was daar in die stad Liverpool 'n hond met die naam Chubby en nog een, Ou Bob. Die twee honde was baie groot vriende. Hulle het saam geëet, saam gespeel en saam kattekwaad aangevang. Waar 'n mens Ou Bob gesien het, kon jy maar seker wees dat Chubby nie ver daarvandaan was nie. Hulle was vreeslik lief vir mekaar.
Maar toe - eendag - het daar iets baie treurigs gebeur. Chubby het siek geword en doodgegaan. Ou Bob kon nie verstaan wat met hom gebeur het nie. Al wat hy geweet het, was dat daar geen Chubby meer was om mee te speel nie. Hy het orals na hom gesoek, maar kom hom nie vind nie. Hy het in sy eie hondetaal na hom geroep, maar daar was geen antwoord nie.
Toe het hulle hom geneem na die hondebegraafplaas van Liverpool waar hulle vir arme Chubby begrawe het.
Daar was geen Chubby vir Ou Bob om te sien nie, maar op die een of ander manier het hy verstaan. Die volgende dag het hy self na die graf gegaan en die dag daarna het hy weer gegaan. Hy kon nie meer van die plek af wegbly nie. Vir drie jaar het Ou bob elke dag na die graf van sy hondevriend gegaan en miskien gaan hy vandag nog daarheen.
Ek wonder wat hy dink wanneer hy daar is en of hy enige hoop het om eendag miskien weer vir Chubby daar raak te loop. Die arme Ou Bob! Het julle al ooit voorheen van sulke getroue hondeliefde gehoor soos hierdie?