As hy moet uitgaan, dan wil almal sy waentjie stoot. Wanneer hy huil, wil almal sy trane wegsoen. Daar is ses dames en here wat klaarstaan om sy geringste wens uit te voer en wat meer kan 'n koning verwag? Niks is te goed vir hom nie en daar is niks wat almal nie aan hom sal gee nie. Dit is nou eenmaal waar, niemand bring soveel liefde in 'n huis as 'n baba nie!
Ons het gedink dat die baba 'n dogtertjie sou wees en daarom het ons baie meisiename klaar gehad. Maar 'n mens kan nou eenmaal nie aan 'n seun 'n meisienaam gee nie, kan 'n mens nou? Dink maar net hoe swaar 'n seun sou kry op skool met 'n meisienaam! Toe moes ons maar van voor af weer dink aan 'n naam. Ek het vreeslik gesoek in allerlei boeke om 'n naam te kry goed genoeg vir hom...en eindelik het ek 'n naam gekry in Slaaptydstories!
Maar watter saak maak dit tog of dit 'n seun of 'n dogter is? Dit is 'n baba - en seker een van die mooiste dinge wat God aan die mens kan gee.
Hoe aangenaam het hy die lewe vir ons gemaak van die eerste dag van sy koms af! Watter genot het dit vir ons verskaf om hom te sien groei en ontwikkel! Hoe heerlik is dit om sy klein vingertjies jou te voel vasklem met toenemende krag en om te sien hoe hy sy toontjie krul!
O ja, en hy kan hul ook wanneer hy daarna voel - so hard dat hy die bure steur, maar dit kry mens natuurlik alles op die koop toe as jy 'n baba het.
Wil julle nie ook graag 'n baba hê nie? Ek is seker dat julle een wil hê, maar julle sal nie ons s'n kan koop nie - net vir al die geld in julle bussies nie. Vra maar sy groot sussie en sy broers en hoor net wat hulle sal sê!
Ja, hoera vir die baba! Julle kan nou maar hard skree, want hy is wakker.