Dit laat my nou sommer dink aan wat 'n jong dame my die ander dag vertel het hoedat sy van die kollege af op weg huis toe haar beursie verloor het met al haar geld daarin. Dit was 'n slag vir haar, want sy was arm. Sy moes eenvoudig haar geld terugkry en toe het sy die Here Jesus gevra om haar te help.
Drie weke het verloop - drie weke van wag en wag. En toe, een more, het sy 'n pakkie oor die pos ontvang, met haar beursie en al die geld daarin. Dit is baie wonderlik sal julle sê.
Maar, hier is nog 'n storie. 'n Paar maande gelede is daar aan my deur geklop en 'n vrou wat baie ontstel was, het my vertel dat sy haar bos sleutels, haar huis sleutels en haar koffers se sleutels, verloor het terwyl sy in Londen was.
"Waar het jy hulle verloor?" het ek haar gevra.
"By die dieretuin," het sy gesê.
"By die dieretuin! Dis mos 'n baie moeilike plek om iets te verloor," het ek gesê.
Sy het ingestem, veral daar die plek daardie dag duisende en duisende besoekers gehad het.
Daar was niks anders te doen as om te bid nie. Sy het baie ernstig gebid. Die hemel kon nie anders as om so 'n gebed van geloof te verhoor nie.
Dae het verbygegaan. Sy moes 'n werktuigkundige kry om die deur van haar huis vir haar oop te maak, maar sy het vas geglo dat sy haar sleutels sou terugkry.
Een middag het daar 'n motor voor haar huis stilgehou en 'n welgeklede man het aan haar voordeur geklop.
"Verskoon my," het hy gesê, "maar het u nie miskien iets by die dieretuid 'n tyd gelede verloor nie?"
"Ja," het die vrou gretig geantwoord, "my sleutels!"
"Wel, hier is hulle," het die man gesê. "Ek het hulle daar gevind en ek het u naam en adres op die plaatjie daaraan gesien."
Hy het twintig myl ver gekom om haar sleutels terug te bring!
Wel, miskien was dit maar toeval, dog ek dink nie so nie. Jesus het Sy eie wonderlike maniere om die gebede van Sy geliefde kinders te verhoor en Hy help hulle graag in tyd van nood.
Met ander woorde: Jesus wil nie hê dat ons ons moet bekommer nie, maar dat ons na Hom toe moet kom met al ons moeilikhede. As julle iets verloor het en voel dat julle dit eenvoudig moet hê, bid maar tot Hom - en sien wat gebeur.
Een ding is seker. Hy weet waar dit is, want Hy is alwetend. En as dit vir julle beswil is en tot verheerliking van God sal strek dat julle dit weer moet terugkry, sal Hy julle help om dit terug te kry.