Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Hoe Jesus vir Tommie genees het
Tommy was vir drie dae al in die bed, en nog kon niemand vasstel wat hy makeer nie. Moeder het verskeiemaal sy koors gemeet en gevind dat dit byna honderd-en-vier grade was; dit het haar ontstel. Tommy was die jongste kind, en almal was baie lief vir hom.
Die dokter het hom kom ondersoek, en tog het niemand geweet wat hy makeer nie. Hy het Tommy se pols gevoel, met sy vingers op sy borskas geklop, en met die gehoorbuis geluister. Hy het Tommie se tong ondersoek, in sy ore gekyk, en ook in sy keel. Eindelik het hy sy kop geskud en gesê: "Ek kan niks verkeerd vind nie. Laat hom maar in die bed bly tot more, en dan sal ons sien."
"Dit kan nie masels wees nie," het Moeder gesê, "want hy het twee jaar gelede masels gehad. Kan dit moontlik skarlakenkoors wees?"
"Ek glo nie dis skarlakenkoors nie," het die dokter gesê, "maar ons sal more sien."
Wel, toe moes almal maar geduldig wag; en in die tussentyd het Tommy baie sleg gevoel. Hy wou met niks en niemand speel nie. Hy het so stil gelê dat Vader en Moeder baie onrustig geword het. Daardie aand, terwyl Pappie besig was om te skryf, het Tommy na hom geroep.
"Pappie, kom bietjie hier."
"Wat is dit?" het hy gevra, want hy sou enigiets doen as dit sou help om Tommy weer gesond te maak.
"Pappie, het hy gesê, "Jesus is seker besig om my gesond te maak."