Hulle het gemeen dat hulle inbrekers hoor! En wat nou gedoen?
Hulle het doodstil gestaan en luister.
Daar hoor hulle weer die geraas. Maar dis snaaks!
'n Inbreker sou hulle mos hoor en die lig sien wat hulle aangeskakel het - of miskien is hy baie besig.
My vriend het besluit om ondersoek in te stel, en baie versigtig is hy die trap op.
O! die kamerdeur is oop, en daar spring 'n ding uit. Dis 'n hond! 'n Rooi-bruin jaghond.
Toe hy verdere ondersoek instel, het my vriend ontdek dat die hond deur 'n oop venster ingekom het, en dat hy werklik op die bed gelê en slaap het - hy het natuurlik wakkergeskrik toe hy die mense hoor inkom.
Wie se hond is dit?
Wel, dit blyk dat sy mense voorheen daar gewoon het. Hy het seker eensaam gevoel en toe teruggekom na sy ou tuiste.
Hulle het Fluks, soos hulle hom genoem het, kos gegee, en toe uitgeja. Maar dit was nie die end van die saak nie. Daardie oggend het hulle op die boonste trap 'n kardoes met koekies gevind! Wie het hulle daar kom neersit?
Dit was heel moontlik Fluks. Dit was natuurlik sy hondemanier om 'Dankiie' te sê te betaal vir sy slaap op die bed. En wie kan sê dat dit nie so is nie?
Maar wat ek graag sou wou weet, en julle natuurlik ook, is waar Fluks daardie koekies gekry het? Miskien is dit nie 'n regverdige vraag nie. Ons sal maar liewer 'n sluier trek oor wat miskien 'n misstap was.
En is dit nie wat die Bybel ons leer, naamlik dat liefde 'n menigte van sondes bedek nie.