Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Hoe Donald sy ete kwyt is
"Donald!"
Geen antwoord nie.
"Waar is die seun tog?" het Pappie gevra.
"Dit maak my vreeslik moeg," het Moeder gesê, "netnou is die kos koud."
"Wel, ons sal maar moet gaan eet as hy nie gou kom nie," het Pappie gesê.
Donald was 'n vreeslike vergeetagtige seun. Wanneer hy smôrens opstaan, het hy nie geweet waar hy sy skoene die vorige aand neergesit het nie. Dan was dit weer sy pet wat weg is. Die boeke wat hy saam moet neem na die skool, vergeet hy gewoonlik tuis. Een van sy groot moeilikhede was dat hy nooit betyds was nie. Alhoewel hy 'n pragtige polshorlosie op sy verjaarsdag gekry het, het hy sommer baie maiklik vergeet om te kyk hoe laat dit is.
Op daardie oomblik het hy daar langs die strand gestap en het hy net in mooi skulpies belanggestel. Niks anders het hom op daardie oomblik geïnteresseer nie. Hy is gewaarsku om teen kwart voor een by die huis te wees sodat hy nie die ander sou ophou vir middagete nie. Maar Donald het sy wandeling so geniet daar op die strand, dat hy die vermaning om betyds te kom, skoon vergeet het. Hy het so ver geloop dat die ander hom nie kon sien nie. Vader, Moeder, sy broers en susters het na hom geroep so hard as hulle kon, maar al wat gehoor het, was Donald. Nêrens was daar enige teken van hom nie.
"Waar sou die kind tog wees?" het Mammie gevra, half ontsteld. "Sou hy hom miskien seergemaak het?"
"Nee, ek glo nie," het Pappie gesê, "dis maar weer daardie ou moeilikheid van hom. Hy stel weer so vreeslik belang in iets dat hy sy belofte skoon vergeet het. Ek gaan nou huis toe."
"Maar," het Mammie gesê, "die idee om Donald agter te laat, staan my glad nie aan nie."
"My ook nie," het Pappie gesê, "ek sal nog eenmaal kyk."
Pappie het toe die ander in die motor gelaat en weer gaan soek na Donald en het ook so hard as hy kon geroep na hom. Maar daar was geen antwoord nie. Toe Pappie weer by die motor terug was, het hy baie vasberade gelyk. Hy wou niks meer oor die saak sê nie. Hy het die motor aan die gang gesit en huis toe gery.
Hulle het 'n heerlilke middagete gehad, maar nie een van hulle het dit eintlik geniet nie. Kort-kort was die gesprek maar weer oor Donald. "Ek wens Donald was hier," het een gesê." "Donald sou hierdie gereg baie geniet het," het 'n ander gesê." En toe het klein boetie gesê "Laat ons vir Donald ook iets bêre."