
(Vir Fanus Rautenbach)
Dis nou eenmaal van ons Afrikaners - ons is fees-mense. As ons die een of ander gebeurtenis in 'n okkasie kan omsit, laat gaan ons die kans nie verby nie. En as die storie dan nog buitendien aan die waardige kant is, dan loop dit op 'n gewigtige ding uit.
Ongelukkig is die wêreld 'n plek met baie vlieë, wat net één pad ken, en dis na die apteker se salf toe.
Toe die Bybel in 1933 in Afrikaans ontvang is, was dit nie 'n sommerse gebeurtenis in die lewe van ons volk nie. En daar is op baie plekke mooi funksies gereël.
Maar op een - waarvan ek die besonderhede redelik volledig te wete gekom het - wou dit nie werk soos die plaaslike dominee se plan dit wou nie.
Dié betrokke predikant het 'n baie oorspronklike ding vir die dorp en die distrik in die gedagte gehad. Daarvoor was die stadsaal en die skoolkinders nodig.
En die kerkraad het die seën gegee op die dominee se onderneming. En so ook die susters van die gemeente, en die kultuurorganisasies en die owerstes van die dorp.
Almal beloof bystand en almal wag vir 'n opdrag.
Die dominee se plan werk toe só, en dis ook hoe daar geoefen word:
Die ganse gemeenskap gaan opgeroep word vir die plegtigheid in die stadsaal. En daar sal die Bybel as't ware Boek vir Boek ontvang word. Elke Boek word verteenwoordig deur 'n kind, wat 'n serp, min of meer soos dié van 'n staatshoof, skuins oor die bors het en waaroop dan die naam van 'n Bybelboek uitgebordeer is.
Nadat die publiek plaaseneem het in die stadsaal, sal die dominee agter die agterste gordyn op die verhoog stelling inneem.
Van daar sal hy dan met 'n luide stem uitroep: "En daar was Génesis."
Die Génesis-kind kom dan by die stadsaal se voordeur in en stap met die gangetjie langs dwarsdeur die gehoor en klim voor op die verhoog en gaan staan aan die een kant netjies op aandag.
En so sien die mense dan vir Génesis daar voor hulle.
Vervolgens laat die dominee hoor: "En daar was Exodus." en dan sal Exodus dieselfde weg volg as Génesis en langs dié gaan plek inneem.
En so sal die Bybel dan kind ná kind op die verhoog staangemaak word van Génesis af tot by Openbaring.
Om plek vir al die deelnemers in te rig, is daar op die verhoog bankies gesit waarop die agterste Boeke van die Bybel kan gaan staan sodat hulle nog steeds vir die gehoor sigbaar is.
So word daar weke lank aand vir aand geoefen. En aand vir aand laat die dominee vir ses-en-sestig keer hoor: " En daar was..."
En aand vir aand ná die ses-en-sestigste kind plek ingeneem het, kom die dominee van agter die gordyn te voorskyn en loop dan 'n draai deur die leë stadsaal om self ook te sien hoe aanskoulik die voorstelling behoort te wees.
Daarna gaan hy terug na sy plek agter die gordyn en oefen sy eie verskyning op die verhoog.
Hy kom van die sykant af agter die gordyn uit en kry sy staan skuins langs Génesis. Van daar af sal hy sy boodskap lewer en die afsluiting en die bedankings waarneem.
Terwyl die dominee met die oefenry in die saal doening was, het ses-en-sestig susters tuis die name van die Bybelboeke op die serpe sit en uitborduur.
Maar kennende 'n kind neem die dominee en die susters die gesamentlike besluit om die serpe - ten einde hulle skoon te hou - eers op die allerlaaste vir die kinders te gee. En dit sou wees wanneer die hele groep sowat 'n halfuur voor die verrigtinge by die stadsaal saamtrek.
Vir die finale oefening op die aand vóór die funksie nooi die dominee die kerkraadslede en ook ander vooraanstaande figure uit vir moontlike afrondingswenke.
Maar daar is geen punt van kritiek nie; niemand kan ook dink aan 'n byvoeging van die een of ander aard nie.
En so breek die groot dag aan.
Van twaalfuur se stryk af lei almal se rit en skrede stadsaal toe. Daar staan later 'n plaat mense soos die dorp nog nooit gesien het nie.
Halfeen word hulle gevra om in te gaan. Net die ses-en-sestig Bybelboek-kinders bly buite, en elkeen ontvang sy serp en moet dit dadelik omhang om 'n onnodige vattery daaraan te voorkom.
Die duidelike instruksie van die dominee, geonderstreep deur die skoolhoof, is dat die serpe skoon gehou moet word. Daar mag nie suffel as 'n stoffie of 'n strepie op wees nie.
Intussen mag die kinders maar nog 'n bietjie rondstaan, maar stiptelik om vyf minute voor een op die stadsklok moet hulle in 'n lang ry van Génesis tot Openbaring voor die hoofingang in gelid val.
En toe vind die ding plaas waarmee die dominee nie rekening gehou het nie...
Die meeste kinders is tot oorlopens toe trots op hulle serpe en op die name wat daar voor hulle borse uitgespelle staan: Psalms, Rut, Daniël, Petrus...
Die sien van die name is vir hulle nog lekkerder as wat die hoor daarvan was.
Maar party ander voel nie te danig oor wat hulle daar oor hulle borse geskryf sien nie. Jeremia, Job en Samuel is nie figure wat 'n spogtery sou verdra nie.
Tog is dié name nie té onverduurlik nie.
Net één seuntjie kan sy Bybelnaam by die aanskoue daarvan nie gesluk kry nie. Hy is Hábakuk.
Hy staan en bekyk die serp met sy ken op sy bors, mismoedig. Een ding voel hy, kan hy rein sweer, en dit is dat hy van hierdie dag af nooit weer in sy lewe 'n ander naam sal dra nie. Hy sal Hábakuk wees. Hy sal ge-Hábakuk hier en ge-Hábakuk daar word - waar hy hom ook al tussen die ander kinders bevind. Op die rugbyveld, in die klaskamer, in die swembad, op die speelgrond. Oral.
En hy kry 'n plan.
Sy pa se winkel is net om die hoek van die stadsaal af. En gelukkig sou die winkel oopgehou word tot op die laaste minuut voor die plegtigheid begin.
En hy seil met die straat af dat die serp se klos eintlik sterkwas agter hom maak.
In die winkel is hy so uit-asem dat hy skaars sy nood kan kla.
"Wat is dit, jong?" wil sy pa weet.
"Hulle gaan my doodspot, Pa," sê hy en wys na sy bors.
"Maar my kind, Pa kan daar niks aan doen nie."
"Pa kán. Gee my net 'n blik kondensmelk. Ek kan nie Hábakuk van der Merwe wees vir so lank as ek leef nie."
"Nee my kind, Hábakuk van der Merwe sal nie lekker klink onder Pa se dak nie. Maar hoe kan die kondensmelk help?"
"Pa, ek wil Hábakuk verkwansel vir 'n ander naam en dan gee ek die blik kondensmelk op die koop
toe."
Die Van der Merwe-pa sien dat sy spruit se kop reg op sy lyf sit en hy gee hom 'n groot blik kondensmelk.
En daarmee begeef Hábakuk hom terug na die res van die Bybelboeke toe. Tyd om kieskeurig te wees is daar nie; hy moet die transaksie afhandel voor die groot ding begin.
Hy hardloop hom in Rigters vas.
"Haai Pieter, kan ek nie ruil met jou nie? Ek wou so graag Rigters gewees het. Om ons ruil, dan gee ek jou hierie blik kondensmelk."
Rigters is skoon oorbluf oor dié onverwagte meevaller.
En daar word geruil.
Rigters van der Merwe maak hom uit die voete en Pieter-Hábakuk kom tot verhaal.
Hy kyk op sy bors af na sy nuwe naam.
"Hábakuk? Hábakuk Láúbscher? Nee, allagotta!"
En Hábakuk Laubscher storm vir II Samuel Pretorius.
"Haai Marie, wil jy nie ruil met my nie? Dan gee ek jou hierie blik kondensmelk. Ek wou tog so graag Samuel gewees het."
En daar word besigheid gedoen.
En II Samuel Laubscher verdwyn in die bondel Boeke.
Hábakuk Pretorius ruik onraad en storm vir Nehemia Engelbrecht.
Daar word handel gedrywe.
Hábakuk Engelbrecht begeef hom na Jesaja Deetlefs, dié homself in die gedaante van Hábakuk weer na Esra Mouton, dié weer as synde Hábakuk-ter-wille-ven-kondensmelk na Marietjie Maleági, sy weer na Efésiërs, en van dié af onderneem die Hábakuk-serp en die blik kondensmelk so te sê al Paulus se sendingreise en vergesel hulle so te sê ook al sy sendbriewe.
Teen die tyd dat die stadsklok op vyf minute voor een staan, was bykans die ganse Oue en Nuwe Testamente te klein om aan Hábakuk met sy blik kondensmelk 'n tuise te bied.
En toe kom die order dat daar haastig in die ry geval moet word. Van die gevolge van die kwanselry om nie Hábakuk te wees nie, word daar dadelik vergeet en die kinders bondel in hulle plekke in soos wat dit met al die oefenry toe al omtrent tweede natuur by hulle was.
En die voorste een, oorspronklik Génesis, maar nou Levítikus, hoor die magtige stem van die dominee deur die stadsaal kom: "En daar was Génesis."
Levítikus loop doodluiters met die gangetjie af deur die volgepakte stadsaal en gaan neem plek in by die beginpunt van alle dinge.
"En daar was Exodus."
Psalms huppel die verhoog op en gaan staan skiersregop as die tweede Boek van die Bybel.
"En daar was Levítikus."
Lukas kry sy staan in die derde posisie van die Oue Testament.
Die ouderlinge en diakens, die broeders en susters, die katkisante, jongeliede en Sondagskoolkinders, die dorpsowerstes en distriksleiers, die geringes en die vernames van die gemeenskap en die gemeente - almal sit verslae.
Maar die dominee, wat agter die gordyn net op sy gehoor aangewese is, glo dat alles nog volgens plan verloop. Wanneer die voetstappe op die verhoog stil word, kondig hy die koms van die volgende Boek aan.
"En daar was Númeri."
Jona trek op sy eerste dagreis vort verhoog toe.
"En daar was Deuteronómium."
Die skone Ester begeef heer verhoogwaarts.
"En daar was Josua."
Die Derde Brief van die Apostel Johannes vind sy weg.
En so "was daar" die een ná die ander Boek wat nie is wat hy was nie.
Die dominee bevind hom uiteindelik kort by die einde van die Nuwe Testament.
Vir die Eerste, Tweede en Derde Brief van die Apostel Johannes staan Klaagliedere, Kolossense en II Kronieke onderskeidelik in.
"En daar was Judas."
Die edele Rut maak haar verskyning.
"En daar was Openbaring."
Hábakuk buk agter in die saal om iets langs die deur neer te sit. Toe stap hy verwese om die laaste plek in te neem.
Die dominee kom te voorskyn en gaan staan skuins langs Levítikus-as-Génesis.
"Laat ons hierdie vreugdevolle dag voortsit met die sing van psalm 146, die eerste vers, "Prijs den Heer..."
Die dominee sit self in, maar die gemeente volg so swaarmoedig, dat die dominee halfpad ophou en voor begin.
Miskien is dit van aangedaanheid dat hulle nie kan sing nie, meen die dominee by homself.
Maar die tweede probeerslag met die psalm klink nog steeds veel meer na 'n treursang as na 'n lofpsalm.
Die dominee lewer sy boodskap so besield hy kon, laat weer sing, bedank dese en gene, en spreek die seën uit.
Eers met die omdraai om die kinders vir oulaas persoonlik bedank vir hulle pragtige bydrae, sou hy die tragedie aanskou.
En sy navraag lei hom net dieper in 'n raaisel in.
Buite die stadsaal staan en wag die mense hom in bondeltjies in.
"Dominee, hierie Bybel in Afrikaans is die deurmekaarste gemors..."
"Dominee, as Nederlands vir my Saligmaker goed genoeg was, dan is Nederlands ook goed genoeg vir my..."
"Dominee, my geheue is al te kort om hierie deurmekaar klomp name op 'n nuwe ry te leer..."
"Dominee, in hierie Bybel sal 'n mens vir geheel so verdwaal lat jy nooit nêrens uitkom nie..."
En die dominee se antwoord bly vir hulle net so duister soos die nuwe Bybel: "Wat passeer het, weet ek nie; ek vra vir die kinders of die duiwel in hulle gevaar het, maar hulle sê nee, dis Hábakuk met 'n blik kondensmelk.
Jan Spies