Dit het aand geword en baie omgekrap het hy gaan slaap. Toe hy in die bed was, het hy onthou dat hy nie gebid het nie.
"Wel," het hy gedink, "waarom moet ek nog bid. My sjieling is weg en wat sal verdere biddery nou help. As God my nie wil wys waar my sjieling is nie, sal ek ook nie tot Hom bid nie. Ek sal sommer net so gaan slaap."
Maar hy kon nie slaap nie. Kort-kort het 'n stemmetjie binne-in hom vir hom gesê: "Gert, jy het nog nie gebid nie."
Dan het hy maar weer omgedraai en probeer om te slaap, maar wat wou. Gert het rondgerol en rondgerol, maar slaap kon hy nie en daardie stemmetjie wou hom maar nie met rus laat nie. "Gert, jy het nog nie gebid nie." Eindelik het hy regop in die bed gesit.
"Miskien moet ek maar bid," het hy vir homself gesê. Toe het hy van die bed afgeklim en gekniel.
"O, wat is dit!" het hy uitgeroep, want sy knie het op iets klein en koud en hard te lande gekom: Dit was sy sjieling!