Genis, geeste en gesies

P.G. DU PLESSIS

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

 Ek sal my nooit vergeet nie, Johanna kom dié oggend daar met 'n mandjie eiers of tamaties of iets aan. Soen Genis, want sy was 'n niggie van sy oorlede vrou

Ons staan voor die koöperasie en dit was ek en Genis en Veldsman van die plotte, en dan was daar Soon Pieterse en die koöperasiemannetjie, wat met die tester in 'n boer se vrag mielies rondgesteek het om te kyk of hy nie nat mielies kry nie.

Sê Veldsman nog vir Johanna sy's sweerlik die enigste vrou in die distrik wat gebore in staat is en soen Genis uit vrye wil, want dit wil vir hom lyk al die ander vlug om elke hoek en draai as  hy aankom.

Nee, sê Johanna, die oom soen nogal nie onaardig nie.

Want Genis is toe al 'n hele rukkie wewenaar en rus of duurte het hy nie. Soos 'n gees wat nie wil rus nie, sê Veldsman, spook hy by alles wat rok dra.

Maar met sy rondkuiery, sal hy elke keer vir hom gaan loop vashaak aan vroumense wat op sy oudrdom nie vir sy hart kan goed wees nie. Hy't 'n swakte vir vollerige lywe gehad en dan  het hy skoon oorstuur geraak, en dominiee moes hom 'n paar ker aanmaan en aan sy ouderdom herinner.

Johanna was skralerig, seker dié dat hy haar altoos oorgeslaan het as hy die distrik hier invlie met sy bakkie agter die vroumense aan.

Met dié dat Johanna nog so staan en jil, kom Soon Pieterse se spannetjie daar verby. Hulle is kort agter mekaar en hulle loop soos 'n klomp orrelpypies van groot na klein. Elkeen 'n skeet. As die een nie profeteer nie, dan hoor die ander een blomme huil, en so gaat hulle aan. Maar dom. Almal in standerd een gebondel, behalwe die een wat 'n rukkie mooi was.

Altyd so op 'n bondel geloop. Behalwe die oudste wat kom tande tel het by die koöperasie.

Die dag kom Soon se troppie daar verby en een van die dogtertjies loop doer agter. Vra ons Soon daarna. Nee, sê Soon, dis Gesie. Sy speel maar altyd so.

Met Arrie, sê een van die kinders. So op 'n hoë stemmetjie, deur die neus, want die hele spulleltjie was gedurig oopbek aan die lugskep.

Wat se Arrie? sê Genis nog, want hy het altyd met Soon gefoeter oor Soon se kinders so met die onsienlike deurmekaar is.

Nee, sê Soon dis maar Gesie se verbelentheid, maar dit is vir hom te oulik hoe die kind met dié Arrie kan speel. Dis Arrie voor en agter, en dit kan nie wag om van die tafel af op te staan nie, want Arrie wag buite en dan is dit 'n gegroetery en 'n geselsery met dié Arrie dat dit ' n naarheid is.

Genis raak skoon oorstuur en hy sê maar dis mos geeste-oproepery en hy sweer die kind gaan weer onheil stig op die dorp.

Soon sê hom hy moet sy bek van sy kinders afhou, anders slaan hy hom weer vir hom toe, en hy moet die kind uitlos, hy kan mos sien sy doen niemand kwaad nie.

Gesie kom toe ook daar aangestap en dis te aardig hoe sy met dié Arrie loop en gesles, net of daar iemand by haar is.

Ná  Soon nou sy sê gesê het, vra Veldsman ewe of Arrie nou die enigste onsienlike is wat die kind mee p raat.

Nee, sê Soon, daar's baie van die oorledenes wat die kind mee praat en daar kom die wonderlikste stories uit oor die gevoelens van die oorlede vrouens van sekere wewenaar sop die dorp.

En met dié stryk hy aan met die troppie agterna en heel agter Gesie - en 'n mens wil nie praat nie, maar Veldsman sê nog dis al of hy Arrie ook sien aanstap.

Maar Genis is toe skoon op hol, want die dode moet rus, sê hy, en wie dink die Pieterses is hulle dat hulle skete almal moet ontstel, sê hy, en wat het hulle met sy oorlede vrou of sy wewenaarskap te make, en hoe dink ons moet 'n man tot vrye kom as jy weet 'n oorledene kyk jou gedurig op die ontmoontlikste tye aan, en al wat die Pietersetjies se skete vir hom werd is, is smarte.

Johanna lag, en sy sê so 'n gees moet seker maar swaar kry met dié dat hy so te kere gaan. Elke nag besig.

Johannes loop toe en Veldsman sê Genis moet kyk hoe mooi stewig sy nog in die heup is en hoe netjies haar kuite nog trek en so 'n skraal vrou bly darem maar mooi as sy lig op haar voete is.

Maar Genis is toe beswaard. Hoe dink ons, vra hy, gaan  hy ooit weer naby 'n vroumens kom as sy oorlede vrou alles bekyk en dan nog alles aan Soon Pieterse gaan uitblaker? Alles lê na'and die dorp vol en dit kom by Dominee uit en dis in elk geval te aardig om net van die ding te wéét.

Staan ons weer een Maandag so voor die koöperasie, kom Genis daar aan. Spierwit geskrik.

Ewe besig in die winkel, kkom die verbrande Gesie daar aan, sê hy, en dé weet hom te vertel die antie stuur groete en sy sê hy moet die suiker afmerk. Hy het die suiker ' n bietjie duurder gemaak vannag, want slaap kan hy tog deesdae nie; maar wat het sy oorlede vrou met sy pryse te doen? Waar sy is, maak dit tog nie saak nie en dis nie meer haar goed nie, want 'n doodskleed het g'n sakke nie, en so gaat hy aan.

Begin Genis toe 'n paar weke almal doodkuier. Jy kry hom, as hy hom nou eers sitgemaak het in jou huis, nie daar uit nie, tot hy na'and nie meer anders kan nie, dan steek hy 'n groot Coleman aan en met dié is hy huis toe en dan kan jy maar oplet die ding brand die hele nag.

Veldsman sê nog hy sal darem nog wil sien of daardie gees Genis se vlees gaan oorwin, want soos hy die ding het, moet Genis se ongedurigheid nou al kwaai aan die roepe wees.

Is ook so. Hier teen die derde week sien ons een aand die bakkie is hier die dorp uit, en Ou-Koos wat vroeg melk, sê Genis uis vroegdag eers terug en hy het die Coleman-lamp by hom in die bakkie aan die brand.

Veolgende dag staan ek Gesie só en kyk toe sy die straat afhol en by Genis se winkel in. Dag toe ohoo! en ek stap nader.

Genis staan verwese agter die toonbank.

Vra ek hom. Nee, sê hy, so kan dit nie aangaan nie. Gesie was nou net by hom. Weet, sê ek. Gesien.

Die antie sê, sê Genis, sê Gesie, die oom moet die vroumense los en hy moenie dink daardie lamp van hom maak dat hy nie gesien word nie.

Genis begin toe sommer uitvra hoe ver so 'n gees rek en of dit waar is dat hy nie oor die water gaan nie,want dan sal hy maar anderkant die rivier moet vry. Weet nie herwaarts of derwaarts nie. Maar naderhand begin hy skoon oorstuur raak en daardie klein nuusdraer moet die dorp uit en Soon en sy hele gebroedsel moet weg, en so gaan dit aan.

Johanna kom toe daar aan en sy sê die arme kind kan mos nie die skuld kry as Genis hom misdra nie en hoekom vra hy nie vir Gesie om die antie te vra wat hy moet doen dat haar gees kan rus nie.

Ja, sê Genis, maar hy's half bevrees vir die kind en of Johanna nie vir hom die boodskap sal doen nie en of iemand nie die nag met hom wil waak nie, want slaap kry hy nie meer nie.

Praat ek met Veldsman oor die ding en hy sê ons moet seker maar help.

Deur die nag by hom gewaak. As hy insluimer, dan skrik hy wakkeer. Skree vreeslik elke keer.

Oggend so teen agtuur sit ons nog so, toe staan Gesie in die deur.

Nee, sê sy, die antie sê sy sal rus as oom Genis met tannie Johanna trou. Toe's sy daar uit.

Dieselfde dag gevra en drie weke later trou hulle toe.

Dominee sê nog nooiot was hy so verlig om 'n wewenaar van sy gewete af te kry nie.

Lettie van Veldsman sê, Johanna sê, so dom soos daardie Pietersetjies is, kan jy byna nie glo nie, sy't haar byna doodgesukkel om 'n paar woorde in die kind se kop te kry, wanneer sy die boodskappe aan Genis moet gee. Lettie sê, Johanna sê, gelukkig het Genis hom elke keer so geskrik dat hy nooit gevra het wie die antie is nie, want Gesie sou dan sweerlik die hele ding verongeluk het.

P.G du Plessis

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play