
Fanie sit ek kyk na die uitslag van die intelligensietoets en sidder as hy besef wat met hom sal gebeur as hulle hom ooit sou uitvang. Dis 'n toets van 'n vereniging van superintelligente mense wat gereeld vergader om mekaar se intellekte te bewonder. Slegs sowat een uit elke vyftig persone kan by die vereniging aansluit, want die vereiste is 'n intelligensiekwosiënt van eenhonderd-en-dertig. Die getal waarna Fanie sit en kyk, is tweehonderd-en-vier.
Hy vou die toets in 'n tydskrif toe en probeer ongeërg lyk terwyl hy die vuurhoutjies in die kombuis vaslê en uitstap na die agterplaas. Nadat hy die wêreld eers versigtig bespied het, stap hy agter die motorhuis om na die oop kolletjie grond langs die suurlemoenboom. Hy gaan sit op 'n plat klip en kyk nog 'n keer na die toets. Dan trek hy 'n vuurhoutjie en hou dit teen die hoek van die papier.
Dit begin brand en hy draai dit stadig heen en weer sodat die vlamme oral kan bykom. Wanneer dit goed vlam, laat hy dit val en sit hy en kyk hoe dit uitbrand.
Van vandag af gaan hy geen kans meer waag nie.
Die groot probleem is dat hy so ingedagte raak. Soos die keer toe ou Stomphoek vir die grap 'n vraag oor Hilbert-ruimtes agteraan die meetkundevraestel gesit het. Hy het aan die komende naweek by Oupa-hulle sit en dink en het die verbrande ding foutloos voltooi sonder om daarop te let dat dit nie werk uit die skoolhandboek is nie, maar iets wat hy terloops raakgesien het toe hy die betekenis van sekere hiërogliewe in een of ander ensiklopedie nageslaan het. Asof Hilbert-ruimtes dan nou ook regtig soveel verskil van die Euklidiese ruimte. Maar dit het weke geneem voor die onderwysers hom weer begin ignoreer het en gister nog het ou Fielies hom nadenkend sit en beskou.
Dan was daar die keer toe hy besluit het dat ses-en-sestig persent die veiligste punt is en per ongeluk vir al agt vakke presies ses-en-ses persent gekry het.
En een oordeelsfout kan verskriklike gevolge hê.
Kyk byvoorbeeld wat met ou Jaap gebeur het. 'n Bietjie te mooi viool gespeel by daardie een kunswedstryd en nou sit hy in New York, weg van al sy maats, weg van sy posduiwe, weg van die moepelbome in die klofie van die Magaliesberg. Hulle moet glo elke dag tien uur lank oefen. Arme ou Jaap. Sy oë het sommer so dof gelyk op daardie foto waar hy op die verhoog staan met 'n strik om sy nek, nes 'n Krismiskat.
Hy staan op en vryf die oorblyfsels van die toets driftig met sy hak in die grond in. Dan skop hy die assies uitmekaar en stap terug huistoe.
In die weke wat volg, slaag Fanie daarin om uit die onderwysers se pad te bly. Hy merk met weemoed dat sy maats al hoe skaarser raak. Dié wat nie smiddae spesiale onderrig ontvang om een of ander talent te ontwikkel nie, ontvang spesiale onderrig om een of ander gebrek te genees. Ou Sias gooi eendag uit pure verveeldheid 'n spies dwarsoor die rugbyveld en nou moet hy middag na middag daar deurbring. Soggens moet hy halfses opstaan en om die blok draf terwyl die ander ouens nog slaap.
Die groot ligpunt is die besoeke aan Oupa-hulle se plasie buite die stad. Oupa, wat glo dat 'n seun eers op dertien jaar moet skool toe gaan, dat 'n seun moet speel.
Saterdae is die son nog skaars op as hy met sy visstok koers kry na die groot waterkuil waar Tshepo en Mokitlane reeds vir hom wag. Die eerste uur of twee sit hulle sommer net en visvang sonder om baie te gesels. Maar nege-uur, wanneer hulle eet, gesels hulle lekker. As een van hulle dan al 'n vis gevang het, braai hulle dit tussen die klippe. Anders eet hulle sommer van die beskuit wat Fanie die oggend in sy sakke gestop het.
Dis lekker om met Tshepo en Mokitlane te gesels. Hulle sê eintlik maar dieselfde dinge as wat ouens soos Kant en Hegel sê. Net nie so langdradig nie. Partykeer sal Mikitlane net afkyk na die grond toe en sy kop stadig heen en weer skud. En dan sê hy baie meer as Kant òf Hegel.
Fanie sit juis weer en dink aan iets wat Mokitlane die vorige Saterdag gesê het toe die rekenaarman hom die vraag vra.
Dit is 'n man van die universiteit wat belowende leerlinge kom keur om spesiale onderrig in rekenaarwetenskap te ontvang. Hy vra die vraag om die gebruik van rekenaars vir logiese bewerkings te illustreer en ongelukkig wys Fanie hom, sonder om te dink, op 'n subtiele toepassing - die implementering van die sillogismes van Aristoteles en hulle afgeleides.
Dit was 'n fout, 'n Groot fout.
Fanie en die ander kinders word drie middae van die week met 'n bus na die universiteit se rekenaar toe aangery en moet daar werk tot dit skemer is. Fanie luister met belangstelling na die eerste paar lesings, maar toe hy eers begryp hoe 'n rekenaar se binnegoed werk, begin hy verveeld raak. terwyl die lektor praat, begin hy skelmpies in die gevorderde handleidings oor sisteemanalise lees.
Al die groot rekenaars is deesdae met mekaar verbind deur 'n hoogs gesofistikeerde kommunikasienetwerk. As een van hulle ledig raak, gee die ander hom dadelik iets om te doen om seker te maak dat die hele stelsel ten volle benut word. Die manier waarop die rekenaars met mekaar praat, is vir Fanie baie interessant en ten spyte van sy irritasie raak hy gaandeweg verdiep in hierdie faset van die vak. Soms kry hy die goed half jammer as hy sien hulle dag en nag moet swoeg en nie eers 'n bietjie met mekaar oor koeitjies en kalfies kan gesels nie.
Om sekerheidsredes het elke rekenaar 'n kerngeheue wat baie deeglik beskerm word teen ongemagtigde toegang van buite. Oorkant Fanie-hulle woon 'n afgetrede sipier, oom Kassie, met slotte aan elke moontlike en onmoontlike ding op die werf en 'n yslike bos sleutels aan 'n ketting wat oor sy magie span. Maar Fanie ontdek dat oom Kassie se prosedures 'n nietigheid is teen die rekenaarmense se voorsorgmaatreëls.
Daar is tien getalle wat slagboomgetalle genoem word en in spesiale geheueposisies oor die kerngebeure versprei is. Instruksies aan die kerngebied word slegs aanvaar wanneer al hierdie getalle nul is, en die stroombaan wat die getalle nul maak, moet met twee sleutels aangeskakel word. Een van die sleutels word tradisioneel deur die hoof van die rekensentrum aan sy persoon gedra, terwyl die ander deur sy adjunk bewaar word.
Nou en dan word een van die slagboomgetalle verander wanneer 'n ander getal te groot word vir sy bergplek en oorvloei na die kerngeheue, soos brood wat oor 'n pan rys. Maar die kans dat dit gebeur, is baie klein en omdat daar tien slagboomgetalle is, hou sulke insidente geen gevaar vir die stelsel in nie.
Fanie is van nature 'n seun wat onaangenaamheid liefs vermy en hy sou waarskynlik maar in die nuwe toedrag van sake berus het as sy Saterdae by Oupa-hulle nie in die gedrang gekom het nie. Die lektor is egter 'n entoesisastiese jong man en meen dat sy leerlinge op Saterdae, wanneer die universiteitstudente nie daar is nie, meer tyd by die rekenaarterminale sal kan deurbring as op weeksmiddae. En dit is tóé dat Fanie vir die eerste keer in sy lewe behoorlik vlam vat.
Hy het aanvanklik nie 'n vaste plan nie, maar besef tog dat hy niks aan die sisteem sal kan doen voordat hy die slagboomregisters kan bereik nie. Daarom maak hy 'n deeglike studie van alles in verband met hierdie geheueposisies en veral van die manier waarop groot getalle na die kerngeheue kan oorloop.
Gaandeweg begin sy plan vorm aanneem. Die finale besonderhede kos drie Saterdae se harde dinkwerk met hoofrekene wat hom met 'n kwaai kopseer laat, maar dit is alles vir 'n goeie saak en een Saterdagoggend is hy reg vir hulle.
Hy gaan sit voor die rekenaarkonsole en nadat die gewone formaliteite afgehandel is, kan hy voel dat sy hart vinniger klop. Dan tik hy sy instruksies sorgvuldig in:
/*X = 138279643**131
/*HOOGSTE VOORKEUR Y
/*HOOGSTE VOORKEUR Z
/*Y = FOFELOOI
/*Z = SJORSJOR
/*Y = Z
/*Z = Y
/*VIND Y
//
Die sentrale verwerking van die rekenaar begin niksvermoedend om die getal 138279643 'n honderd een-en-dertig keer met homself te vermenigvuldig. Ná 'n rukkie word die resultaat te groot vir sy bergplek en begin dit oorvloeina die kerngeheue. Vir 'n paar mikrosekondes is daar 'n woeling om die eerste slagboomregister en dan verskyn die getal nul in hierdie posisie. Die proses word telkens herhaal en wanneer die sentrale verwerker die waarde van X beteken het, staan al tien slagboomregisters op nul.
Die volgende instruksies kom aan die beurt en nadat die verwerker seker gemaak het dat die slagbome opgehef is, word daar in die kerngeheue vir Y en Z plek ingeruim. Dan begin die drukker 'n stroom gegewens uitspoeg:
FOFELOOI IS SJORSJOR
SJORSJOR IS FOFELOOI
FOFELOOI IS SJORSJOR
SJORSJOR IS FOFELOOI
----
Ná 'n paar minute merk die operateur onraad en probeer die program kanselleer, maar hy kan nie toegang tot die verwerker kry nie, omdat die berekening deurgaans hoogste voorkeur geniet. Terwyl 'n dun rokie by die sentrale konsole uitstyg, verdiep die sielestryd van die blikbrein. In 'n wanhopige poging om die raaisel op te los, word die program as geheel in masjientaal na die ander rekenaars in die netwerk oorgesein. Kort hierna stort die verwerker onherroeplik ineen.
Drie rekenaars in ander stede van die land verleen hoogste voorkeur aan die program en begin om X te bereken. Ná 'n paar sekondes kom al hulle ander aktiwiteite tot stilstand terwyl hulle met die onpeilbare misterie worstel:
FOFELOOI IS SJORSJOR
SJORSJOR IS FOFELOOI
----
Die program word deur 'n INTELSAT-sateliet, wat ses-en-dertigduisend kilometer bo die Atlantiese Oseaan hang, na verskeie wêreldsentra oorgesein van waar dit verder versprei word.
Diep binne 'n berg in Colorado sit 'n kolonel in die bevelsaal van die Noord-Amerikaanse Lugverdedigingskommandement. Dit is nog nag. Een van die liggies op'n paneel voor hom gaan aan om te toon dat 'n boodskap met hoogste voorkeur uit Alaska op pad is. Dit verskyn op die televisieskerm:
FOFELOOI SAYS SJORSJOR
SJORSJOR SAYS FOFELOOI
FOFELOOI SAYS SJORSJOR
----
Terwyl hy naarstig deur die kodeboek blaai om die betekenis van hierdie vreemde berig na te slaan, gaan die paneelliggies van die ander sentra een vir een aan. Hy skakel na stasies in New York, in Groenland en in die Noordpoolsirkel en ontvang telkens dieselfde kode, totdat dit vir hom duidelik word dat 'n katastrofe van ontsaglike omvang sy land bedreig. Die rooi telefoon word opgetel en ná agt-en-tagtig sekondes is hy in verbinding met die President. Tien sekondes later begin berigte van kragonderbrekings uit alle windrigtings van die kontinent instroom terwyl die beheerrekenaars van die kragnetwerke verdiep raak in hulle nuwe taak. Hoewel dit nie duidelik is hoe die vyand se geheime wapen funksioneer nie, besuit die President om nie langer te talm nie en gee hy die bevel vir die lansering van die eerste golf strategiese kernmissiele. Die lanseerrekenaars weier egter om die bevel uit te voer en waarsku net onophoudelik:
FOFELOOI SAYS SJORSJOR
----
Switserland se grootste rekenaar, in Bern, begin inmiddels om aan die probleem te werk en stuur dit na Triëst aan die Adriatiese kus. Van daar gaan dit vervolgens na Zagreb in Joegoe-Slawië, Miskolc in Hongarye en Kiëf in Sowjet-Rusland. Wanneer die anti-missielstelsel van die Moskou-gebied buite werking raak, besef die bevelvoerders dat die Kapitaliste op ' slinkse wyse 'n bres in die verdediging van die glorieryke Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke geslaan het. Die lanseerbevel word ook hier te laat gegee en 'n gees van verslaentheid heers in die sentrale bevelspos as 'n onstuitbare stroom papier uit die rekanaars die vreesaanjaende boodskap oordra:
FOFELOOI SJORSJORSKI
SJORSJOR FOFELOOISKI
----
Die Sjinese rekenaarnetwerk is betreklik klein en is net by een punt, naamlik Lo Woe aan die grens met Hongkong, met die res van die wêreld verbind. Fanie se program bereik Hongkong eers ná vyftien minute. 'n Teenpropaganda-afdeling in Kanton bemerk ondertussen dat die meeste buitelandse uitsaaistasies stil geword het en 'n wakker offisier besluit om die land se verdediging op 'n gereedheidsgrondslag te plaas. Die program word egter vyftien sekondes voordat die Lo Woe-skakel verbreek word, oor die grens gesein en so bereik die epidemie ook die land van die Koeblai Khan.
Dit is vieruur die middag van die eerste Oktober en 'n honderd-en-veertig miljoen skoliere is oor die hele land besig met 'n gesamentlike gimnastiekvertoring ter viering van die stigting van die Volksrepubliek van Sjina veertig jaar gelede. Hulle bewegings word gesinchroniseer deur radiosein wat direk uitgesaai word deur die rekenaar van die Sentrale Onderwyssekretariaat in Peking.
Daar is 'n huiwering in die reëlmatige ritme en dan versnel die seine skielik. Die kinders se bewegings raak al hoe vinniger en die sweet tap hulle af as hulle probeer om in pas te bly. Die tempo versnel steeds en plek-plek bars pandemonium los as die kleiner kinders glad nie meer kan byhou nie. Skielik kom die teken dat die vertoning verby is en die kinders huiswaarts kan keer.
Die verbasing op die kindergesiggies maak plek vir 'n stralende vreugde en onderwysers wat die vloei van die strome kinders uit die stadions probeer stuit, word doodeenvoudig uit die pad gevee. In die Ou Imperiale Stad in Peking verskyn 'n vreemde boodskap op die elektroniese reklamebord bo die Hek van Hemelse Vrede:
FOFELOOI /§φ¥ SJORSJOR
Die herstel is stadig en die nabetragting pynlik. Ofskoon die Verenigde Volke die blaam vir die ramp op Suid-Afrika se skouers probeer plaas, neem min mense die beskuldiging ernstig op. Vir sover Fanie kan vasstel, word hy deur niemand verdink nie - net in ou Fielies se oë is daar soms 'n klein vraagteken.
Maar vandat die mense wat eers net oor die osoonlaag en die walvisse en kernreaktore bekommerd was, besef watter bedreiging rekenaars vir die mensdom inhou, is dit nie meer mode dat kinders baie tyd voor een van hulle deurbring nie.
En dan is daar 'n nuwe groet wat al hoe meer gehoor word waar 'n paar kinders saamkom om 'n bietjie te speel of om sommer net niks te doen nie. Dis ' n groet wat in die oostelike hooglande van Mantsjoerye ontstaan het kort ná die Groot Rekenaarverwoesting van 1 Oktober en oornag versprei het na Nepal en die Filippyne en Japan en Mexiko en al die ander lande, tot dit Suid-Afrika ook bereik het.
Fanie gebruik dit nie, maar vroeg op 'n Saterdagoggend, wanneer hy by die waterkuil aankom, hou Tshepo die eerste drie vingers van sy regterhand omhoog omd ie letter "F" te vorm, terwyl Mokitlane hom saggies verwelkom met die woorde:
FOFELOOI IS SJORSJOR
P.C. HAARHOFF
Vertellers 2
Saamgestel deur Merwe Scholtz
Eerste Uitgawe
ISBN 0-7981-2853-4