
Elke jaar moes Ma se laatlammetjie 'n tydjie by ouma Swart op Elandsdrif gaan kuier. Daardie ou familieplaas van die Swarts het aan die end van 'n lang, digbewoonde vallei gelê waardeur daar 'n swart rivier kronkel. Plek-plek kon 'n mens die rivier se water nie eens sien nie, so dig was dit met vaalgroen palmiet begroei. Wanneer die winterreëns val, stroom die rivier maklik oor sy walle, die laagliggende vallei word 'n geweldige watervlak, en die plaashuise lê dan op eilandjies in die tydelike meer. In die somer is die vallei die ene lugspieëlinge: dit lyk vir 'n mens of jy sommer nou-nou op Elandsdrif moet aankom, maar dit duur dan nog goed 'n halfuur voordat jy die ou opstal bereik.
Eindelik hou die kar voor die huis stil. Dit lyk ontsaglik groot vir die jong seun wat uit ons beskeie woning kom. As jy by die deur inkom, is jy nie sommer in die voorhuis nie; daardie saalagtige vertrek bereik jy eers as jy deur die portaal en die koffiekamer geloop het. En dan volg die menigte slaapkamers en die voorkamer, en as jy die hele huis deurgeloop het, kom jy eindelik op 'n breë stoep met 'n wit muur toegemaak, en daar lê die rivier voor jou, en jy ontdek dan dat jy nou vir die eerste keer die voorkant van die huis sien; maar niemand het ooit daar afgeklim nie.
Vir 'n seun wat van 'n bosryke plaas af kom, was Elandsdrif se werf kaal: die grond was brak en dor en die enigste struike wat daar gegoei het, was aalwees en 'n paar kaffertwakbome. Die rivier was ook "kaal". Daar was geen spaansriet, geen akker-, bloekom- of populierbome nie. En die wonderlikste van alles: jy kon nabure plase sien lê. Dit was nie soos in Caledon waar die plase agter die hoë koppe wegkruip nie. Die werf was klein vir so 'n groot woonhuis: stalle, skure en krale was sommer alles rondom die huis. Nee, die Bredasdorpse Strandveld was te vaal en plat en kaal vir 'n seun wat met groot akkerbome grootgeword het waarin die tortelduiwe die hele liewe lange dag sit en kir en koer het.
Ouma Swart se huisgesin was nogal verbasend klein vir so 'n kasarm van 'n huis. Daar was net Ouma, haar dogter Chrissie, en haar twee seuns, Jermie en Thysie. Die drie kinders was my tante en ooms, maar ook my niggie en neefs: Ouma Swart was eintlik Ma se stiefmoeder, want sy was oupa Swart se tweede vrou, maar ook Pa se suster.
Ouma self was 'n skraal vroutjie, maar haar kinders was lang mense: oom Jermie met sy ses voet sewe het die rekord vir die Viljees en die Swarts gehou. Met so 'n klein gesin moes elandsdrif se huis besonder stil gewees het. Maar moenie glo nie. Daar was 'n ewige kom en gaan van mense. Skaars was die koffiekoppies gewas of daar moes al weer koffie geskink word. Op een of ander manier was die groot tafel in die voorhuis met elke maaltyd vol beset, want elke maaltyd was 'n fees. Ouma moes nie alleen vir die gesin en vir die "witmense" kook nie, maar ook - 'n mens kan amper sê vernaamlik - vir die komendes en gaandes wat ongetwyfeld sou opdaag en altyd welkom was om tot die dis toe te tree.
Ouma Swart kon 'n menigte dinge uit die ou dae op haar droë maar interessante manier vertel. Sy het ook allerhande kunste uit daardie ou dae geken, soos die vervaardiging van fyn stysel uit aartappels en pragtige juwele uit spanspekpitte, hardebolkeilsaadjies en gevlegte perde- of mensehare. sy het geweet hoe om alle ouderwetse kosse te maak: haksel, swartsuursop, lewerfrummels, makrolle en soesies; en met haar dood het ook die geheim van haar ongeëwenaarde blatjangresep vir die mensdom verlore gegaan.
Die gesinslewe was 'n eienaardige mengsel van deftige waardigheid en gemoedelike laissez-faire. Ant Chrissie was vir haar familie aan albei kante dié model van welvoeglikheid, hoflikheid en vernaamheid, maar ook van vriendelikheid en mensliewendheid. Sy is ongetroud dood, maar sy was gedurende haar lang lewe 'n moeder vir die jonger lede van haar familie en ook vir seuns en dogters wat so ver familie van haar was dat jy die verwantskap "skaars met 'n klip kon raak gooi". Haar innige vroomheid was ontbloot van alle geveinsdheid: sy het dit uitgelewe in plaas van daaroor te praat. Wyd en syd was sy bekend as iemand wat uit haar wye lewenservaring haar medemens van raad kon dien. Dit is ongelooflik hoe sy by haar menigvuldige huislike pligte nog so 'n groot - en natuurlik in Engels geskrewe - korrespondensie kon voer. Lank ná haar moeder se dood was sy nog die onbetwiste hoof van die Swart-familie, wat met die heengaan van ant Chrissie ook onmiddellik opgehou het om as clan te bestaan.
Oom Jermie was 'n beesagtige groot mansmens en goed lelik daarby. Alles aan hom was groot en swaar, selfs onder die groot Swarts en Viljees het hy soos 'n kolos verskyn. Oom Jermie het waardigheid en aansien as sy geboortereg beskou en nooit daarvan gepraat nie, of miskien nie eens daaraan gedink nie. Sy vrolikheid, geestigheid en bonhomie het van sy hele wese uitgestraal, en waar hy was, kon die sorg en kommer van die daaglikse lewe nie indring nie. Hy is eers in later jare as oujongkêrel getroud, en toe kon hy so ewe ongeërg vir sy aanstaande sê: "Ek wil met jou trou, ek wil nie na jou vry nie!" Watter meisiemens kon ook vir oom Jermie nee sê! Hy was te opgeruimd van geaardheid, te gaaf en populêr, die meisies het geweet dat hulle as oom Jermie se vrou nooit 'n vervelige dag sou beleef nie.
Maar toe ek vanmelewe op Elandsdrif gekuuier het, was oom Jermie nog oujongkêrel en die boer op die plaas. Hemel, die spietse van oom Jermie, sy lekker geselstrant, sy bulderende gelag, sy riskante stories en sy gepeperde taal! Ouma en ant Chrissie het al lank die hoop opgegee om van oom Jermie 'n gentleman te maak; miskien het hulle ook geweet dat ware siele-adel, waarmee oom Jermie so ryklik bedeel was, die enigste toetssteen vir 'n gentleman is.
Oom Jermie was eers reg op sy stukke aan tafel, want dan móés die meisiemense na hom luister; daar is so baie grappies wat hulle geur verloor as daar niemand is wat daaroor geskok is nie. Nog voor die maaltyd begin het, kon oom Jermie al sy streke begin uithaal; onder Ouma se lang tafelgebed kon 'n mens eienaardige geluide hoor, so iets soos flap! flap! of soos 'n pot pampoen wat kook. Onderwyl almal se oë gesluit is, het oom Jermie ewe behendig sy wysvinger vinnig oor sy tafelmaats se lippe getrek en die pampoenpotgeluid gemaak. As die amen eers uitgespreek is en die slagoffers met blosende gesigte daar sit, het Ouma dan probeer red wat nog te red was:
"Hemel, Jermie, dis al weer jy wat so stuitig was!"
"Nee, ag, Ma, ek weet nie waarvan Ma praat nie!"
"Jy weet goed genoeg. Jy't al weer met jou vuil vinger gewerskaf."
"Nee, Ma, hoe kan Ma dit dan sê? Ma se oë was dan toe."
"Ag, hemel, Jermie, jy sal ook altyd 'n kind bly."
En Ouma het volkome raak gesien: oom Jermie het 'n kind gebly met 'n kind se naïwiteit en 'n grootmens se verstand en lewenservaring. Sy kinders het die wêreld se respek vir hom gehad, maar ook hul liefde vir hul groot maat was grenseloos. En omdat oom Jermie nie alleen sy kinders se respek nie, maar ook hul vertroue en liefde besit het, was hy die eerste "moderne vader" wat ek leer ken het.
En dan bly daar nog Thysie, die draer van die familienaam van sy moeder se geslag. Hy was verstandelik baie minder bedeel as sy boetie: om die waarheid te sê, Thysie was 'n coeur simple, 'n begrip wat 'n mens nie maklik in Afrikaans kan weergee nie. Hy het die kinderlikheid van sy broer besit sonder sy verstand. Thysie het tot sy dood toe Ouma en ant Chrissie se seuntjie gebly, die verontregte, iemand wat teen die wreedheid van die lewe beskerm moes word, die Parsifal, die heilige nar van Wagner se musiekrama.
Alles het hy letterlik opgevat: die ou familieplaas en sy familie was vir hom werklikhede, alles anders was openbaringe van die wye, vreemde, vyandelike wêreld daar buite wat hy net van hoorsê geken het. Sy verstand kon net sekere dinge begryp en niks meer nie. Op 'n dag moes hy 'n stuk grond dries, en oom Jermie het vir hom gesê dat hy om vyfuur kon ophou. Toe dit al hoe later word en Thysie maar steeds nie opdaag nie, het oom Jermie gaan kyk wat gaande is. Daar stap Thysie nog ewe gerus agter die ploeg, al het die son al lank agter die rug gesak.
"Maar, Thys! Hoekom kom jy nie huis toe nie? Dis al pikdonker en die vee moet al flou getrek wees!"
"Maar, Boetjie, dis mos nog nie vyfuur nie."
"Wat praat jy van vyfuur! Jou horlosie moet staan, kêrel. Dis al agtuur verby, en die vee moet nog versorg word."
"Nee, Boetie het gesê ek moet tot vyfuur ploe, en ek ploe na my ge-losie?"
Soms kon Thysie hom lekker uitdraai uit die plaaswerk; 'n ekskusie kon hy blitsvinnig uitdink en wonderlik plousibel beplooi. Gewoonlik was sy voorwendsel dat hy "vir Ma 'n werkie in die huis moet doen". Daardie werkie was meestal maar koffiemeul of karring draai of aartappels skil. Daar sit Thysie dan in die portaal of in die kombuis met sy taak, en die wêreld kon rondom hom vergaan, hy sou dit nie eens gemerk het nie. Voor 'n groot verjaardag het Thysie interessanter huiswerkies gekry soos kaneel stamp of amandels oopstamp vir die Duitse koek, of selfs rosyntjiepitjies uithaal. Daardie werkies het hy liefs op die solder, wat 'n mens met 'n binnetrap uit die kombuis bereik het, gedoen, want dan kon Ouma nie sien hoe die een amandel of rosyntjie na die ander na Thysie se mond toe gaan in plaas van in die bak te beland nie. Maar Ouma was ook uitgeslaap en het Thysie se swakhede van oudsher geken. As Thysie bo-op die solder besig was, moes hy op ouerlike bevel aanhou met fluit of sing. Solank dan "Snelt dan jare, snelt vrij henen" as treurige elegie van die solder af gehoor word, kon Ouma weet dat die rosyntjies en amandels nie onderweg na die bak sou verdwaal nie.
Soos so baie verstandelik minder bedeeldes, het Thysie 'n nimmereindigende probleempie met hom rondgedra: 'n probleempie nie vir homself nie, maar vir die niggies en kleinniggies in die familie wat hom welvoeglikheidshalwe moes soen. Thysie het naamlik gedurigdeur 'n druppeltjie aan sy groot Viljee-snawel gedra, 'n glansende pêreldtjie wat, nadat die eerste een hom gesoen het, tydelik sou verdwyn. Maar daardie vloeibare aanhangseltjie van Thysie was soms 'n baste probleempie vir sy drae self, wat origens in salige onbewustheid van sy alter-ego'tjie was.
So 'n voorval onthou ek nog soos die dag van gister. Die ou eettafel was die aand vol beset deur huismense, gaste, familie en "opdagers". Ouma se seën was gevra, oom Jermie het 'n lippe laat klap, en almal sit nou weer met oop oë, want die aandete sou begin. Die saalagtige ou eetkamer was maar karig verlig deur die hanglamp: die hoof en voet van die tafel waar Ouma en Thysie onderskeidelik gesit het, was in halfdonker gehul. Elkeen het sy bord snyselsop voor hom gehad en net gewag totdat die gasvrou haarself ook bedien het om weg te val.
Toevallig kyk Ouma in die rigting van die ander ent van die tafel. In die newelrige duister daar onder skyn daar 'n liggie, flou soos die aanster op 'n maanskynnag. Die maan was die hanglamp en die aandster was Thysie se druppel. Dwarsoor die lang tafel skree OUma in haar hees altstem: "Thy ... ys!! Thy ... ys!!! Ag, hemel, daar lê dit ook al!" En Thysie se druppeltjie verdwyn in sy bord snyselsop soos 'n sterretjie wat eensklaps verskiet en vir altyd verdoof word. Maar Thysie se sterretjie het getroue opvolgers gehad, hoewel hul lotgevalle nie in die familie-oorlewering verewig is nie.
Sies tog, arme Thysie! Die hele familie het hom innig liefgehad met die vanselfsprekende liefde waarmee 'n mens die minderbedeeldes in jou clan liefhet. Tot vandag se dag mis almal hom; hy was tevrede om as eenvoudige van gees deur die lewe te gaan, want wat hy in die lewe moes ontbeer, daarvoor het die liefde van familie en vriende hom ryklik vergoed.
Rondom Elandsdrif het nog baie Swart-familie gewoon: almal interessant vir die nuuskierige agie van 'n plaasseun. Daar was byvoorbeeld oom Jan "Boois" wat so bang was vir spoke dat hy verseg het om ooit alleen in 'n kamer te slaap, en tant Annie wat, toe sy haar einde voel nader, al haar klere uitgedeel het. Daardie gevoel was egter totaal verkeerd, want tant Annie het herstel en nog jare ná haar voorgevoelde "uiteinde" gelewe, sodat sy haar klere die een stuk na die ander weer moes terugvra.
Maar die interessantste familielid was ou nig Bet "Rooiwal", so genoem na haar huisie wat teen die rooi wal van die rivier geleë was. Sy was 'n dogter van Ma se oudste suster, wat ek nooit gesien het nie en wie se nakomelingskap ek tot ontsteltenis van die familie en tot my eie skande baie sleg geken het en nog ken.
Maar nig Bet Rooiwal het ek baie goed geken. Sy was 'n groot, sterk boertante, van wie 'n mens nooit in der ewigheid sou verwag het dat sy aan ipekonders kon ly nie. En tog was dit die geval.
Dan was haar kop so seer dat dit kon bars, dan was dit haar maag wat onderstebo was, dan was dit 'n pyn hier, dan was dit 'n pyn daar. En haar enigste troos in hierdie ondermaanse foltering was Ouma. Dan moes Ouma 'n bietjie kruie vir die hoofpyn, dan 'n bietjie "jemieka"-gemmer vir die maag, dan 'n bietjie smeergoed vir haar arme ou rug stuur. En die fyn kossies mag ook nie makeer nie.
Nig Bet kon enige bode van Elandsdrif al ver-ver sien aankom en betyds nuwe kwale en plae prakseer. Kom jy naby Rooiwal, kon jy al nig Bet se hartverskeurende weeklae hoor. Kom jy haar huisie binne, was die vuur nie opgemaak nie, die tafel nie afgeneem nie en die slaapkamer pikdonker. Gaan jy dan met Ouma se gawes die kamer binne, lê nig Bet op die ou greinhoutkatel in haar rooi fleneletse naghemp en steun en kreun maar eenstryk deur. Wanneer nig Bet Ouma se bode nie sien aankom het nie, kon jy haar ewe vrolik en perdfris vind by h aar bord "oom-en-tante" of 'n lekker tersál of 'n bord "stadige intrap". Soms het nig Bet die bode ook net betyds gewaar en kon skaars-skaars haar draai kry. Woerts was sy in die bed, die jeremiades styg ten hemel, die beddegoed is tot onder nig Bet se ken opgetrek, maar dit kon dikwels gebeur dat haar velskoene aan die onderent van die rooi siskombers uitgesteek het. Trapsgewyse het haar steune en kreune dan tot bedaring gekom: die kalmeringsgraad het in direkte verhouding tot die grootte van Ouma se presentjie gestaan. En so het nig Bet van jaar tot jaar gelewe, gesond en - gelukkig!
Elandsdrif se ou woonhuis staan vandag nog ewe fier op die ou werf. Die ou Swarts rus al jare der jare in die ou familiekerkhof onder in die groenvoerkamp, maar die ou gemoedelikheid, gasvryheid en vername deftigheid van daardie gesinslewe het tog hul stempel op die nageslag en op die lewensopvatting van die hele Bredasdorpse Strandveld gelaat. Die nuwe geslag het ander sedes en gewoontes, maar soms laat 'n skielike stemnuanse of 'n eienaardige handgebaar of 'n verbygaande blik in Susan se oë haar hele voorgeslag herlewe. Dan dink ek weer aan Ouma met haar hees altstem en aan ant Chrissie se trots houding. Maar vernaamlik dink ek aan oom Jermie, haar vader, met sy uitbundige vrolikheid en optimisme, sy lippeklapstreke en aan die goeie ou tyd op Elandsdrif wat dit nog my voorreg was om saam met die ou Swarts mee te maak.
C.G.S de Villiers