Een vlees

abraham h. de vries

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

Die skommeling van die waentjie het al só deel geword van hulle dat hulle dit snags op die dorpsmeente of by die uitspanplekke in die veld ook kan voel. Soos die son op hul gesigte. En die wind.

Maar van die verlatenheid kom sy minder agter as hy. Sy is altyd iewers in die buurt. As hy skêre en messe slyp, gooi sy die water op die steen. As hy gaan brandhout soek, kan sy hom hoor. Saans sit sy langs hom by die vuur. Sy is min alleen met haar gedagtes en met  haar gevoelens, want daar is altyd nog syne ook. Wat in hom omgaan, weet sy, soos hul liggame saam weet van die sinkplaat en die gate in die pad.

Al bly hy ook stil. As hy stilbly, weet sy dit beter. Soos vandag die hele dag al. Hy het vanoggend so opgestaan.

"Ons sal vanaand daar wees."

Dis al wat hy gesê het. Daar - dit beteken altyd 'n ander dorp.

Voordat  hulle vanmiddag geëet het, het sy hom agter die waentjie gesien staan. Hy het gewater. En hy het met sy voorkop teen sy arm gestaan. Sy het die are in sy nek gesien blou word. Daarna het hy hout gaan soek, maar daar was al hout. Hy wou nie hê sy moes sien nie.

Liewe God, hoe kan sy anders as om te sien en te voel? Hy is tog deel van haar. Toe hulle  hom die agtermiddag daar ingedra het - sy onthou nog 'n kamer, 'n waskom en beker, en die reuk van tabak en naftaleen, maar dis vaag - toe hulle hom daar ingedra het, was dit deur háár liggaam wat die koue getrek het.

Hy trek die leisels. Die twee donkies gaan staan.

"Hier is dit," sê sy en gee vir hom die vaal papiersakkie met sy tabak aan. Hy kyk nie na haar nie. Hy stop die pyp. Die vinger waarmee hy die tabak vasdruk, bewe. Hy sit die sakkie langs hom op die sitplek neer, maar sy vat dit en steek dit in die groot winkelsak langs haar.

"Ek is dors. Wil jy koffie hê?" vra sy.

"Dan kom ons te laat daar," antwoord hy, en sy stem is nie soos gewoonlik nie. Sy stem het weer die dun klank bygekry wat haar bang maak.

Hulle het hom na haar kamer toe gebring daardie dag. almal het geweet dis waar hy bly. Sy het hom verpleeg. Later het niemand hulle juis meer aan hulle gesteur nie. Maar sy het al daarvan ook vergeet. Dis net as hy só raak dat haar gedagtes al terúg dwing.

"Ek het nog koffie in die ketel. Jy kan dit net warm maak.

Hy skud sy kop.

"Kom!"

Die donkies het nog skaars gestaan. Die tuie lê in sweetkepe op hul skowwe, maar hy laat hulle nie rus nie. En dis sy enigste vriende So dink sy ook aan  hulle. Hy praat partymaal met hulle soos met mense, maar bly stil as sy om die waentjie geloop kom.

Sy hoef seker nie. Niks hoef sy te gedoen het nie. Maar daar is tóg nie 'n ander uitweg nie. Hulle het in mekaar vasgegroei geraak soos die kareebome wat by die uitspannings staan. Daar is altyd dié met sulke stamme.

Hy was 'n mooi man. Hy is 'n mooi man. Anderkant sy gesig glip die veld verby: die bossies wat laag op die grond groei en die plat klippe. Sy het eenmaal 'n kiekie gesien van gesigte wat uit klip gebeitel was. Terwyl sy na hom kyk, dink sy aan die kiekie. Maar die son val oor die dak van die wa-tent en dis asof sy gesig splinters word.

Sy haal die ketel uit en drink van die koue, bitter koffie.

Die wind het gedra, dit waai nou van voor af.

"Ek gaan die agterflap oopmaak," sê sy.

Hy antwoord nie. Sy klim in die wa in, hou aan die katel vas, wat in die een hoek heen en weer skommel, en hou die lantern by haar oor. Daar is nog olie in - dan het sy darem goed gesorg. Sy sit dit weer in die kassie langs die Bybel neer en maak toe die agterflap oop. Nou kan die wind deurwaai. Dan is dit vannag koeler. Gisternag het hulle rondgerol. Miskien is dit die maan. As die maan vol word, dan moet hulle altyd die wa so draai dat dit nie inskyn nie, maar gisteraand was hulle albei moeg en hulle het daarvan vergeet.

Toe maak sy die kis oop wat langs die bed staan. Sy haal 'n rok uit en sit dit op die bed neer, maar bedink haar. As daar 'n motor verbykom - die pad is stowwerig ... sy sal dit liewer later doen.

In die hoek bokant die bed staan die stukkie spieël waarby hy hom soggens skeer en sy hare kam. Sy hou aan die bed vas en kyk na haarself, maar sy raak weemoedig. Sy trek haar vingers deur haar hare en oor haar gesig, gaan staan regop en kyk of sy nie die dorp al kan sien nie.

Daar is nog niks. Sy gaan sit op die bed en wag.

Agter hulle lê die pad net so ver as voor hulle. Dis waarvan sy in hierdie wêreld nie hou nie. Toe sy nog 'n kind was, was daar baie draaie in die pad. En die son het ook nie so skielik ondergegaan soos hier nie. Binnekort sal sy Dirk se jas moet uithaal. Hy mag nie koud kry nie, veral nie op so 'n dag soos vandag nie.

Net die bed het dieselfde gebly. Dit was eers haar bed, toe syne en nou is dit hulle s'n. Sy sorg dat die koperknoppe blink bly en die lappieskombers maak sy gereeld heel.

Sy maak haar oë toe. Here, as hy net nie vannag weer probeer nie ... sy voel 'n koue hand oor  haar maag vat as sy dink aan verlede keer. Dit is maar goed dat hulle nie daardie nag op 'n dorpsmeent oorgebly het nie, want sy kan niks daaraan doen as hy so wild staan en vloek nie. Hy sou buitendien nie na haar geluister het nie, hy luister nooit. Na  niemand nie. Hy het weer met God gepraat. Dis nie soos sy geleer is nie. Vroeër het dit haar bang gemaak, maar nou het sy al gedink: miskien is dit soos 'n man met sy God praat. Miskien sal God verstaan. Voor die ongeluk was Dirk godsdienstig. Dis hoekom die bed eers net hare was.

Maar hoekom ... hoekom het hulle nie maar tóé? ... Néé, sy mag nie daaraan dink nie. Sy wil nie daaraan dink nie. As daar nie kos in die huis is nie, maak 'n mens jouself honger met dink aan kos. Dis hierdie lang pad wat daar agter, wie weet waar, begin en geen einde het nie, dis hierdie pad wat die gedagte in haar losskud.

Tog, die ander mense het dit as vanselfsprekend aanvaar, daar. Dis waarom hulle hom die dag na haar huis toe gebring het, nadat hy uit die  hospitaal ontslaan is. toe het dit sy bed geword.

Klara onthou skielik dat daar die hele dag nog nie 'n motor of 'n ander kar by hulle verby is nie - van vanoggend af al nie. Waarheen sou hulle op pad wees? Hy het nie vir haar gesê nie en sy het nie uitgevra nie. Hy weet waar werk is. Sy aanvaar dit so. En dan: dié afgeleë plekke, hulle hoef nie lank te soek nie. Hulle is oral waar 'n mens hulle nie verwag nie. Partymaal ver van mekaar af. Driedaagse reise, partymaal glad verder.

Sy kyk na  hom. Hy hou die leisels met albei hande vas en kort-kort vee hy met die horssweep oor die diere se ore. Sy kakebene is so styf op mekaar vasgebyt dat daar 'n knop senings net onder sy ore sit.

"Hoe ver is ons nog van die dorp af?" Sy gaan sit weer langs hom.

"Ek weet dit nie."

:Miskien net hier anderkant."

Sy sit haar hand op sy been. Partymaal is dit die verkeerde ding om te doen, maar partymaal laat hy sy skouers sak en sug, asof hy skielik bewus word daarvan dat daar 'n ander mens ook nog in die nabyheid is. Dan weet sy dat sy tussen sy gedagtes ingekom het, dan skud die knop onderkant sy oor losser en vee hy sy hande aan sy broekspype af. Dis goed as dit so is.

Vanmiddag kyk hy net voor hom.

Die snaakser kol op haar maag - sy voel dit weer. Miskien moet sy maar die kos gaan uithaal en in die potjie gooi. Die potjie hang aan die tent se dwarslat, dit sal nie uitmors nie. Op 'n dag het dit omgeval. Daarna het hy die haak gemaak. Wat kan hulle eet? Daar is nog bone. En daar is water in die ketel, sy hoef nie te vra dat hy moet stilhou en agter uit die vaatjie uittap nie. Miskien moet sy sommer al die bone in die water laat week. Dan kan hulle gou eet nadat hulle daar aangekom het.

Daar moet nog vleis ook wees, winddroog.

Toe sy die bone in die pot gooi, mors sy 'n paar, want hy hou onverwags die donkies in. Hulle is op 'n heuweltjie tussen twee koppies. Hiervandaan loop die pad afdraand. En agter 'n draai wat daar ver voor byna in die skemer van 'n vlei wegraak, kan sy die eerste huisies sien, elkeen met 'n skoorsteen en twee vensters weerskante van die voordeur.

"Daar onder om die draai, daar is die dorp," sê sy.

Sy skouers sak vorentoe. Hy sit 'n rukkie so stil, klim toe af en loop om die donkies, maar hy streel nie oor hul rúe soos gewoonlik nie. Hy tel net die tuie op en vryf oor die nat hare.

Party van die bone kan sy optel, maar die meeste het deurgeval tussen die verweerde buikplanke van die wa. Sy soek rond, klim af en tel op. Dis goed om so gebukkend te staan. Dit help vir die kol. En dan bly sy tog besig.

"Ons sal net ná donker daar wees. Gee die lantern dat ek dit kan aanhang agter," sê hy.

"Wat is die plek se naam?" vra sy.

"Ek weet nie."

Terwyl hy die lantern met 'n riem vasbind, sê hy: "Daar is 'n dominee. Jy moet my pak klere uithaal uit die kis uit."

"Gaan ons dan?"

Sy maak haar oë toe en hou die boontjies in haar hand vas tot dit taai voel. Dit beteken dat sy verniet bang was, heeltemal verniet. Sy wil amper begin lag. Sommer vir sy manier van iets sê. So kortaf.

"My rok is dan gekreukeld," kla sy kamma. "Jy moet vroeër gesê het. Maar ek sal dit uithang, Dirk, ek speel sommer maar. Daar begin die teerpad. Hier sal nie meer stof kom nie."

Goddank! O, dankie dat hy nou só praat. Selfs sy stem het verander. Hy práát weer, Hy praat weer met haar. Wat hy gesê het, is genoeg. Sy weet wat dit beteken. Daarom was hy vandag so stil. Hy het daaraan gedink. Hy het gewik en geweeg, nou het hy besluit.

"Sal ek hiervandaan die leisels vashou?" vra sy. Hy staan agter die oop flap. Agter hom lê die pad nog soos vroeër vanmiddag, maar die son het weggesak. Die aand is altyd vriendeliker. Hy maak die flap los.

"Maak vas binne," sê hy. Hy gaan sit weer op die drywer se bankie en vat die leisels. 

"Weet jy waar die meent is?" vra sy om te hoor of hy die plek ken.

"Nee, hoe moet ek weet?"

"Ek het maar gedink."

"Ek sal dit kry."

"Gaan jy vanaand nog vra? Van die messe en die skêre, bedoel ek? By die mens."

"Ek gaan na die  poliesstasie toe, soos altyd. Hulle weet. Jy kan maar die kos opsit. Ek wil nie ander mense se kos eet nie," antwoord hy.

Hulle soek nie lank na die meent nie. Dit lê by die ingang van die dorp langs 'n riviertjie, waarin daar hierdie tyd van die jaar net poele met groen slik staan. Dis 'n dooie tyd van die jaar.

Nadat hy die donkies versorg het, trek hy hom aan. Sy maak die pot sop. Daar is gelukkig vanaand niemand anders wat hier uitspan nie. Hy het nie eens die voorflap van die wa-tent toegemaak nie.

Terwyl hulle eet, gaan hy nie sit nie. Hy bewe soos iemand wat koud kry. Hy haal swaar asem. Partymaal hou hy op met eet en dan is sy bang dat hy aan die snik sal gaan.

"Daar is nog brood," sê sy.

"Ek gaan vra," sê hy, "trek jou aan."

"Moet ek die soldeerbout en die slypsteen uithaal?" vra sy en daar is 'n knop in haar keel wat sy nie weggesluk kry nie. "Vir môre."

"Ons gaan môre vroeg weer weg."

"Ek het maar bedoel."

Sy weet nie wat sy eintlik bedoel het nie. Miskien kan sy dit maar nie glo nie. Waar is die kam? Het hy weer die kam in sy sak gesteek? Dan sal sy maar moet wag totdat hy terug is. Haar hoed is darem nie té verkreukel nie. En die rok - nou ja, dis aand.

In haar ander rok voel sy vroliker. Sy lag vir haarself in die spieël. Daar was altyd maar net Dirk. Sy haal 'n ekstra kombers uit die trommel uit en gooi dit oor die bed. Miskien raak dit koud hier langs die rivier.

Nee, al kon sy ook, sy sou dit nie anders verkies het nie. Sy is soms gelukkig. soos vanaand. Sy kan dit nie glo nie. Dis asof sy haar in 'n droom aantrek en die ou lappieskombers wéér sien.

Toe sy opkyk, staan  hy in die opening.

"Die dominee is net hier bo," sê hy. "Het jy die papiere?"

"Ek het dit vandag al uitgehaal," antwoord sy. Hy staan 'n ruk stip na haar en kyk asof hy haar nie glo nie, maar sy tel dit van die bed af op en hou dit na hom uit.

"Hier's dit."

"Kom."

Die straat is stil, want die aand het vinnig toegesak. In omtrent al die huise brand nog ligte. Hier en daar hoor hulle kinders huil. Dan stap sy vinniger.

"Hier."

Hy gaan voor 'n hekkie staan en sy kan sien dat hy nie meer seker is van homself nie. Sy vat aan sy hand en druk dit. Hy maak die hekkie oop en laat haar eerste instap. Agter haar kom sy swaar voetstappe. Sy ken dit al - gelukkig is die paadjie na die voordeur toe nogal lank. Hy sal moed kry.

Hy klop aan.

"Daar sit 'n klokkie," sê sy.

"Hy't my gehoor," antwoord Dirk.

Iemand kom in die gang af, skakel die stoeplig aan en maak die deur oop. Dis 'n jong vrou en sy het 'n kind op haar arm.

"Ons wil met die dominee praat," sê Dirk.

"Gaan maar in die sitkamer in," sê die vrou. "Dominee is net besig om te eet. Hy sal nou hier wees." Sy stap weg.

Agter in die huis is daar die geluid van nog kinders en van water wat loop en van 'n bediende wat na iemand roep. Dit 'n groot huis, met hoë mure. En dis rustig.

Hulle gaan sit. Hy laat toe dat sy haar arm deur syne steek, maar hy bewe nog. Miskien het hulle te vroeg gekom. Hoe oud sou die dominee wees? Wat sal hy sê? Die lig in die een hoek van die vertrek is skerp. Klara wens hulle was in die wa-tent by die lig van die lantern.

"Goeienaand."

Hulle het die man nie eens  gehoor aankom nie. Hy is korterig en skraal. Hy lyk nog soos 'n seun, maar hy het die stem van 'n ouer man, dink Klara.

"Sal ons maar na my studeerkamer toe gaan? Ek is bevrees daar is nie veel rus hier in die huis voordat die kleingoed almal in die bed is nie. Maar hier is dit darem stiller."

Hy maak die studeerkamer se deur agter hom toe, gaan agter die lessenaar sit en skakel die radio wat sag gespeel het, af.

"Is daar iets waarmee ons kan help?"

"Ja."

Nou moet hy praat. Klara sit met haar hande in haar skoot.

Die dominee bly stil, kyk van die een na die ander, maar niks op sy gesig verraai wat hy dink nie.

"Ons is arm mense, dominee, en ons trek saam. Ons werk saam. Sy help vir my. Ek slyp skêre en messe en ek maak ketels en potte reg. Ek kan soldeer. Maar ons kom nie om te bedel nie. Ons kom om te vra dat u ons moet trou."

Die dominee glimlag, maar dis 'n glimlag waaragter hy al geleer het om baie soorte emosies weg te steek. Hy haal sy bril af.

"Ek is bly om te hoor dat u besluit het om te trou," sê hy stadig. "Maar u moet begryp dat daar 'n paar probleme is wat ons eers uit die weg sal moet ruim."

"Als het ons hier," sê Dirk en hy steek sy hand uit. "Ons bedel nie. Ons wil net trou. Dan gaan ons weer."

"U begryp my verkeerd."

"Ek begryp u nie verkeerd nie."

"Nou, nee, wag..."

Die dominee blaai deur die twee boekies. Hy frons, skakel die lig op die lessenaar aan en sit die boekies eenkant neer.

"Die boekies is al stukkend, dominee," sê Dirk. "Dis 'n harde lewe. Maar ons geboortesertifikate is daar. En ons is gedoop."

"Ek kan sien daar is al 'n bietjie met die boekies gespeel. Ek dink myne lê ook iewers hier rond. As ek mag vra, het u kinders?"

"Nee."

Sy skud ook haar kop. Waarom vra almal altyd dié vraag?

Dis skielik stil in die klein kamertjie met die baie boeke teen die mure.

"Eintlik, as ek mag verduidelik, het u 'n spesiale lisensie nodig onder hierdie omstandighede. Maar dis nou al te laat."

"Ek weet. Dit kan môre regkom."

"Kan ons dan nie maar...?"

"Nee!"

Dirk staan op. Klara maak haar oë toe. Gee hom die krag, bid sy. Gee hom die krag.

"Dis nodig en dis vanaand nodig, dominee," sê hy. Die vreemde vuur in sy stem laat die predikant stil sit en kyk na die man voor hom.

"Nie later nie. Ek is 'n eerbare man. En ek is 'n eerlike mens."

Die dominee kyk voor hom op die lessenaar vas. Dis asof hy wik en weeg aan iets.

"Sal jy of sal jy dit nie doen nie, dominee?" vra Dirk.

"Asseblief, dominee," sê Klara en ook sy staan op.

"Ek begryp dit nie." Die dominee vee oor sy hare.

"Sal jy dit doen of sal jy dit nie doen nie, dominee?"

Die stilte sit óm alles en in alles. Hoe lank sit hulle al hier?

"Wil julle só graag?" vra die predikant en  hy kyk reguit na hulle. Hy praat nou sag.

"Ja," sê Dirk.

Klara knik met haar kop en haal haar sakdoek uit.

"gaan sit maar weer."

Die predikant ontspan. Om sy mond speel 'n vriendelike glimlaggie terwyl hy agter hom in die boekrak soek na 'n boek.

"U het my nie gewaarsku nie, anders kon ek darem voorberei het," sê hy. "Wat ek nou gaan doen, is om  u kerklik in die huwelik te bevestig. Die res kan ons môre uitsorteer. Ek kan op die boekies nie mooi uitmaak nie."

"Dirk Helem en Klara Elizabeth van Deventer," sê Dirk.

"Ja, dis nie eintlik wat ek bedoel het nie, maar goed. Dankie. U begryp dus? Dra dit u goedkeuring weg?"

Hulle knik albei. Dirk se skouers hang vorentoe. Maar sy oë is groot en hy knip sy ooglede stadig asof hy wil seker maak dat hy alles sien wat gebeur.

"Laat my dan toe om te sê dat ek bly is dat twee mense van u ouderdom tot hierdie besluit gekom het. en ek is seker daarvan dat daar seën sal rus op hierdie besluit van u." Sy stem verander, terwyl hy die boek voor hom oopmaak.

"Weet u waarvoor god die heilige huwelik ingestel het?"

Dirk se oë is nou toe. Klara vat aan sy een hand en druk dit. Hy vat met sy ander hand oor hare. Behalwe vir die man voor hulle se stem is daar geen geluid nie. En die stem is eentonig, maar vriendelik. "... en julle sal een vlees wees..." In Dirk se liggaam breek iets soos 'n snik en Klara maak haar oë oop, maar sy het verniet geskrik. Hy kan hom beheer.

Die man voor hulle se stem raak groter as hy. Hy praat van die heiligheid van die huwelik en van die verbond van Chrisitus met Sy Kerk en van die doel van die huwelik en van die opdragte. Dan skielik is dit weer stil.

"Die res, soos ek gesê het, is nie in my hande nie. Maar as u mekaar die regterhand wil gee..."

Hulle hou mekaar se hande vas. Klare voel hoe Dirk se groot, growwe hande begin sweet. Maar hulle is óm hare, hou hare vas. Die predikant kom om die lessenaar geloop. Hy plaas sy hand op hul koppe.

"Dis 'n vreemde ondervinding wat u my vanaand laat deurmaak het. Ek is ook nog maar jonk in die bediening. Maar tog wil ek, omdat ek die erns van die saak aan u kan sien, met u praat. Nie soos 'n dominee nie, maar eerder miskien soos 'n medemens, want dit is ook my opdrag."

Die jong dominee praat uit sy hart uit. Klara vee  haar oë af. Hy praat van die huwelilk. Van sy eie huwelik en die geluk wat dit vir hom gebring het. Van die vreeslike eensaamheid van die mens praat hy, wat hy probeer deel met iemand anders, maar nooit kán nie. Maar ook van die seën van saam-wees.

"Laat ons bid."

Toe hy klaar is, wens hy hulle geluk.

"Weet u," sê hy en hy lag weer, weer soos 'n seun, "u het my vanaand baie ryker gemaak. Niks wat 'n mens meemaak, is ooit sommer-maar nie. Ek wil dankie sê. Maar nou moet ek ook terug na my gesin toe. Sal ons dan afpsreek? Wat nou van 'n koppie tee?"

"Nee, dankie," sê Dirk. "Ons het klaar geëet."

Hulle stap weer in die paadjie af waarmee hulle netnou gekom het. Alles het verander. Hy haal haar hoed af nadat hulle seker is daarvan dat die dominee hullenie meer kan sien nie.

"Miskien was hier werk," sê hy.

By die wa is die vuur al dood.

"Sal ek vir ons koffie maak?" vra sy.

"Ja. ek gaan slaap."

Sy maak die koffie, klim in die wa en begin haar uittrek.

"Wou jy dan nie gehad het nie?" vra hy.

"Ek het vir my gemaak, maar ek het dit buite vergeet," antwoord sy.

Hy staan op, stoot die lantern eenkant toe en stap weer uit.

Sy trek haar nagrok aan en gaan sit op die bed. Môre is nog 'n dag.

"Ek is moeg," sê hy toe hy die koffie inbring.

Maar hy sug nie, vir die eerste maal in 'n lang ruk.

Sy klim agter hom in. Hy draai die lantern kleiner, lê daarna en kyk en blaas dit toe dood. In die donker hoor sy hoe sy asemhaling swaarder word, maar voordat hy inslaap, sê hy: "Van almal by ons al was, was hy die jongste."

Ná 'n rukkie antwoord sy: "Ja. Maar hy bevestig net so mooi.

Abraham H. de Vries

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play