
Die negende dag van hul trek oor Wapadsberg merk Jakadas Pool die hondsdol hond wat hul donkiekarretjie agtervolg, die eerste keer op. Hy is al suf uigestaar oor die vaal rugge van sy twee donkies. Hul stom, roeiende koppe teen die uitgestrekte vaalte van die vlaktes laat hom terugverlang na die valleie van Rooidraai, Sondaemiddae as hy van die rivier af opkom, skoongewas in die blink Viswater, en Kintie vryf sy hare in met Vaseline. Dan die eerste teug, die beste een, van die dik, romerige koringbier uit die ses skottels wat voor die huis in die son staan.
Toe hy die dolheid in die hond sien, gee hy die leisels oor aan sy vrou, Kintie, en dink: Vandag sal ons nie kan uitspan nie - nie voor ons eers daardie maer dierasie afgeskud het nie. Die drie kinders sal maar so in die ry moet pis van die karretjie af grond toe. Die hond haal hulle stadig in, maar hou op vyftig tree sy afstand. Dis 'n gewone steekhaar; hy kon van enige struis in die Wapadsberg gedros het. Maar Jakadas sien dadelik, toe hy die eerste keer met 'n omkyk die hond gewaar, aan die skuimklosse om sy bek, die skewe kop en die wit om die oë dat die hond mal is.
"'n Meerkat het hom seker gebyt," sê hy aan Kintie en knoop sy kierie los van die reling van die donkiekarretjie. Hy tap die laaste bietjie lampolie in die lantern, draai die pit so laag moontlik en steek dit brand. Terwyl hy Fielies, sy oudste, aan die hakskene vashou, hang Fielies agter die karretjie af en bind met 'n veterriempie die lantern aan die gatkant van die donkiekar vas - só dat hy net-net bokant die grond hang.
"So ja," sê Jakadas toe hy die maer lyfie van sy seun ophelp tot bo-op die trek. "Nou hou die oliereuk die gedierte terug." Hy neem die leisels weer by Kintie en vra haar om haar rug na die voorpad te draai en saam met die kinders die hond dop te hou. As die hond nader kom as vyftig tree, moet hulle hom sê. Wat hy dan sal doen, weet hy nie. Van hondsdolheid het almal in die Karoo geweet: selfs as 'n hondsdolkoei jou lek, kry jy die stuipe, die watervrees en die skuim om die mond, die alleenloop en iewers op die vlakte, waar hulle jou lyk moet uitbrand, die dood. 'n Meerkat wat jou bekruip, kan die dolheid by jou inbyt. Val 'n mal hond se blaf net op jou ore, het die ou mense gesê, trek die kiem by jou kop in. Op die plaas was daar net één raat vir 'n dol dier: loop roep die baas dat hy hom kan vrekskiet in sy spore.
As hulle net water kan kry, hoop Jakadas: dit sal die hond verjaag. Van vroegoggend al, lank voor die hond hulle spore begin naloop het, was die water al op. Kintie is in die ander tyd en sy is aanhoudend dors. Die watersak wat in die skaduwee onder die karretjie aan die as swaai, is al uitgedroog; dit sal nie eens help as hy dit vir haar om teen haar maag te druk vir die klamte en koelte wat nog in die seil kan wees nie. Fielies het gaan voel: niks.
Hy onthou goed, met die swaaiende ore van die donkies voor hom en Kintie se rug teen syne, hoe Oompie Danster in die Kamdeboo deur 'n dol hond bekruip is. Oompie Danster het sy bokke opgepas en onder 'n kriedoring gesit toe hy oor die allenige vlakte 'n druipstert hond na hom aangehink sien kom. Oompie Danster het dadelik gesien die hond is mal: die oop mond, die skuimkwyl, die windskewe draffie. En Oompie Danster het sy bokke net so gelos en gehardloop vir die naaste water - 'n windpomp so vierhonderd tree ver. Maar voor hy halfpad windpomp toe was, het die hond hom geskraap, hom net een ruk aan die onderbeen gegee, die ruik van die water op die wind gekry en padgegee, slinger-slinger tussen die kriedorings in.
Oompie Danster het geweet hy't net drie dae op die vlakte oor. Hy't sy bokke aangejaag kraal toe sonder om te naby aan hulle te kom, die spar met 'n riem vasgewoel en sy laaste bevele en wense van onderkant die wind geskreeu na sy vrou en kinders, waar hulle deur die struis se vensters na hom staan en kyk het. Drie dae lank het al die struise hul deure toegehou terwyl Oompie Danster sy laaste dwale op die aarde dwaal. Die eerste nag kon hulle hom hoor huil soos 'n jakkals, die tweede nag was hy al so kêns dat hy aan die struise se deure kom hamer het. Binne het almal verskrik op 'n hopie gesit met olielampies voor hul inasem. Eers teen die vroegoggend kon hulle hom hoor wegwaal nadat hy eers Ouma Danster se lêhenne met sy eie tande gaan doodbyt het. Met sy wegloop, het Ouma Danster altyd gegril, kon hulle sy tande hoor klapper soos die koors hom gevat het.
Die derde nag, toe almal se kos in die struise al op was, het hy handeviervoet draaie op die werf kom gooi en die mense het geglo: Oompie Danster het in 'n mal hond verander en die res van sy lewe loop hy die spore na van mense wat hom in sy lewe in die gesig gevat het. Die oggend ná die derde nag het Ouoma Danster al die struise opgeklop. "Julle kan maar uitkom," het sy aan die gehawende gesigte gesê wat die bodeure oopgemaak het. "Die Kroo het Oompie Danster gevat, Here seën sy arme siel sigself."
Net een maal kon hy Kintie se rug teen syne voel roer en praat sy. Hy ken dié beweging in haar lyf - dis wanneer sy haar kopdoek laag oor haar oë trek om iets te sê. "Dis jou Oompie Danster," sê sy. En 'n bietjie later, weer die aftrek van die doek: "Wat het jy hom aangedoen, Jakadas?"
Hy trek sy skouers op en probeer spot. "Oor ek sy bokke uitgemelk het in die sandsloot?" Maar die hol kol op sy maag sê óók: dis Oompie Danster wat juis nóú gekies het - n oudat hulle stry gekry het oor die rantsoen op Rooidraai en die distrik moes uit - om hom by te loop oor sy kleintydsondes.
En om die donkies te probeer sambok tot 'n draffie, sal nie help nie. Hulle't nie meer krag oor ná nege warm dae op die pad nie. Buitendien lyk die hond nog lig op sy voete, al hang sy kop so laag. Gelukkig, dink Jakadas terwyl hy omkyk, slaap die kinders. Fielies lê met sy een armpie slap oor die reling, waar hy met 'n stokkie teen die wielspeke sit en speel het. Die twee meisiekinders lê op 'n hopie agter die rooster en kosblikke. Kintie het 'n goiingsak oor hul koppe getrek vir skaduwee.
Hy onthou nog hoe die ougoed Oompie Danster se spore nageloop het om sy lyf te kry sodat hulle dit kon toepak met doringtakke om aan die brand te steek. Sy spore het in groot kringe oor die vlaktes geloop, af in die dongas teen die droë riviere, teen die voetheuwels van die Sneeuberge uit, maar aanhoudend terug na die toe kerkdeur van die sendingkerkie onder die peperbome, waar Oompie Danster sy voornaam - al wat hy ooit leer skryf het - in die stof geskryf het. Dit was die laaste helder ding wat hy ooit gedoen het. Die ougoed wat sy spore gevolg het, het gesweer dat sy spore later verander het: dié om Ouma Danster se hoenderhok was al half mens, half hond, en dié voor die huise se drumpels wat pure pote van 'n hond.
En nou, op die negende dag van hul trek, moet Oompie Danster verskyn uit die kleintyd. Nege dae, kan hy skaars glo, is hy en Kintie en die kinders al op pad. By elke uitdraaipad met 'n plaasbordjie het hulle uitgespan, die donkies gekniehalter en hulle laat wei op die goewermentsveldjie weerskante van die pad. Verder as dit mog die donkies nie - die boere sket sommer gou op 'n trekdonkie. As die seil skuins gespan was vir skaduwee en daar was genoeg hout vir vuur, het hy die plaaspaadjie gevat nadat Kintie die boer se naam van die bordjie vir hom afgelees het. By party boere werk 'n man nie as jy dit nog kan verhelp nie. Hulle is sambokboere, wat net bokkoms en mieliemeel en moeite gee.
Aleen het hy die plaaspaaie afgestap en by die laaste hek, waar die bome en die blombeddings begin, het die werfhonde gewoonlik begin blaf. Dan jou respekte gewys deur op ' n afstand te wag tot die baas of miesies uitkom of een van die kombuismeide stuur om te vra wat jy wil hê.
Maar nêrens is werk nie. Oral lê trekke langs die pad oor. Die droogte vat sy tol en die boere dank af waar die hande te veel is en die werk te min. Dan weer terug na die trek by die afdraaipad. Van ver af sal Kintie met haar hand bokant die oë hom staan en dophou, en hy sal vroegtydig sy kop skud, sodat sy haar hule kan huil voor hy by haar uitkom. As hy by haar kom: die aftrek van die doek. "Jakadas Pool, ek wil nie die kind langs die grootpad kry nie, hoe gaan die kind voel as hy groot is en hy moet hoor hy's soos 'n weggooivel die lewe in langs die grootpad?"
Op die tweede dag het die twee hoenders in die draadhok langs die watersak gevrek, tesame, as hulle 'n teken gekry het. Die aand het hulle vet hoendervleis geëet, en hy't weer teruggedink aan Rooidraai. As daardie Baas Rooikoos net gehou het by sy belofte om die rantsoene op te skuif, dan was hulle nog daar, by daardie draai in die rivier met sy rooi dongas vol dassiegate. Maar toe die baas hom by die rantsoenkamer byloop en hom klap dat hy steier teen die meelsakke, voor die ander volk, en hy val teen die sementvloer en hy moet weer opstaan om die mieliemeel van sy wang af te vee, het hy sy twak en koffie en bokkoms voor die witman se voete neergegooi, huis toe geloop en vir Kintie gesê: "'n Man moet jou kop lig. Jou vuiste kan jy nie teen 'n witman lig nie." Sy broer Seun sit al twee van sy drie jare vir aanranding; juis teen Baas Rooikoos se neef, Piet Donkerhoek, het hy sy arms gelig. Hulle sê Piet Donkerhoek het Seun dronk in die melkstal gekry, aan die sing en melk met die ongespande koei se een agterbeen in die halfvol melkemmer. Hulle't so baklei in die stal, gly-gly op die beesmis en tot in die pisvoortjies tussen die koeie, dat Piet Donkerhoek se stoetkoeie se melk vir 'n week daarna nie wou sak nie. Toe die uiers dikgeswel tussen die koeie se agterbene hang en die melk deur die spene grond toe begin spuit, moes die veearts geroep word. Piet Donkerhoek het swaar verlies gely en sy kwota by die kaasfabriek verloor omdat hy vir twee weke nie melk kon lewer nie. Seun se vrou en kinders - sy was nog binnemeid in die opstal en die oudste seun hekoopmaker vir Piet Donkerhoek - is van die werf af gejaag en die polieste het Seun eers goed opgedonner agter die melkstal voor hulle hom in die vangwa weggevat het. Sy vrou en kinders het drie maande teen die treinspoor gesit en snag kos gesteel uit die vuilgoedblikke van die Guest House teen die rivier.
"Mens gaan nie 'n witbaas teë nie. Jy byt nie die hand wat jou voed nie." Só het Kintie gesê toe hy die aand by die huis kom ná die klap. Maar hy't gesê: "'n Man moet jou kop kan lig." Hulle is die nag daar weg, Kintie in trane tot hulle Rooidraai se honde nie meer kon hoor nie. Toe het sy haar doek oor die oë afgetrek en die bitter trek om die mond gekry. Tot diep in die nag het hulle gery, met die oop sterre bo hulle en die wit pad tussen die donkies se koppe. Hy't sweep ingelê, wat hy wou ver wees as die dag breek. Dalk sou Rooikoos hom met die baie kom soek sodat hy sy maand notice kon inwerk voor hy loop.
By die afdraai Graaff-Reinet toe, het hy en Kintie lank gestry. Die maan was al aan die ondergaan en ver op die turksvyvlakte het 'n jakkals getjank. Sy wou reguit aan, Middelburg toe: sy't familie daar in die lokasie gehad. Hy wou Wapadsberg oor, na Graaff-Reinet, want hy't gehoor daar was 'n bui reën in daardie geweste. Dáár sou werk wees.
Op die vierde dag, toe hulle die eerste opdraandes van Wapadsberg vat, het Fielies maagkoors gekry van die dooie bleshoender wat hulle teen die pad gekry het. Agterna het hulle eers gedink: die bleshoender het 'n goeie dag dood teen die pad gelê en die ongediertes het nie daaraan gevreet nie. Hulle moes gedink het, maar hulle was honger en bly oor die skielike stuk vleis en Kintie het stew gekook saam met 'n paar varkore wat hy en die kinders langs die pad uitgegrawe het. Fielies was al een wat siek geword het en vir twee dae het sy maag geel geskyt. Die bleshoender het seker op 'n manier DDT of wolwegif ingekry.
"Die kind is naby dood," het Kintie gesê. "Die hoender was vol gif, die Here help ons." En sy't haar maag vasgehou terwyl die kraaie bokant hulle draai soos die donkies al stadiger en moeër gestap het. Later het hy hul skofte rou geslaan, maar opgegee, want hulle trek net hul ore plat en poep hom in die gesig.
"Die donkies gee in," het Kintie gesê.
"Brandsiek gemorse!"
"Moet hulle nie moer nie, Jakadas, dis die Here se gediertes."
Ja, hy't óók gehoor die Here het 'n esel gery, maar nie sulke donkies nie, nie Karoodonkies nie, wragtag.
Kintie het hom stil bekyk met haar hand op haar maag. "Ek kry nie genoeg gesonde kos in nie," het sy gesê.
Hy't stilgehou, uitgespan en eenkant, wég van Kintie en die kinders, onder 'n boom gaan sit en nadink. Teruggaan was nie moontlik nie, die baas sou klaar 'n ander trek laat kom het. Nee, hulle sou moes vorentoe, tot by reëns, waar ook al.
En op die negende dag, skielik: die hond. Hy't omgekyk na die pad wat agter hulle wegslinger, 'n ent gesit en vorentoe kyk, en toe het iets hom weer laat omkyk. Skielik, asof uit die niet, was die hond daar. Wit oogbolle, die bek laag teen die grond, skuim wat tap op die droë pad. Al tussen die wielspore, asof dit twee drade is waartussen hy draf.
"Ons kan nie afklim voor ons nie by water is nie," het hy aan die kinders verduidelik. "As die hond water ruik, sal hy geepad."
"En as ons nie water kry nie, Pa?" Filies het van sy speletjie by die wielspeke opgekyk. Die meisiekinders was soos hul ma: dikbek om die mond, stil.
"Ons sal water kry. Die spruite sal iewerste afkom. Laasnag was daar weerlig in die berge. Diékant toe." Hy't beduie met die sweep.
"Moenie vir die kinders lieg nie, Jakadas," h et Kintie gesê. "Daar was g'n weerlig nie. Ek het heelnag wakker gelê."
"Onder die seil , ja. Ek h et die are gesien, diékant toe." Hy't weer beduie. "En vanoggend reën geruik."
"Dis dou, jy weet dis douo wat mens ruik as die veld so droog is. Dis g'n reën nie." Weer die doek oor die oë.
"Ons sal water kry." Hy't vorentoe gedraai, weg van die hond agter hulle, en die donkies met die sweep se steelkant in die holle gepor. "Kom julle gemorse. Hie-ja, hie-ja nou!"
Die dag toe Fielies elke paar honderd tree sulke geel plassies langs die pad geskyt het, het die skeerders op hul dikwielfietse verbygekom. Hulle't stilgehou en hul fietse teen die telefoonpaal naby die trek staan gemaak. Fielies het in die seil se skaduwee gelê en sweet. Die ses manne het saam met hom pyp gestop. Daar was ook 'n Xhosa by hulle en geel Boesman wat in Botswana leer skeer het. Die Xhosa het 'n vetplantjie in die veld loop soek en hulle het dit fyngestamp en saam met bietjie lampolie vir Fielies ingegee. Hy't geslaap tot die volgende dag en hy was beter toe hy wakker word.
Die wêreld lyk maar armoedig Graaff-Reinet se kant toe, het die skeerders beduie. Die wol is vuil van die stofveld en enige skaap wat jy op sy skof omkeer, lê wydsbeen van die wurms. En die boere betaal sleg: nou net sikspens die vlies. Baie boere het ook skeermasjiene gekoop. Dan doen een man 'n hele span se werk in een dag.
Om hulle te troos, het hy die slypklip wat hy by sy oorlede pa geërf het, gaan losdraai uit die klam lappe langs die watersak. "<y pagoed was ook 'n skeerder - tot hy sy handsening in 'n baklei afgesny gekry het." Hulle het hul skêre uitgehaal en woordeloos geslyp terwyl die koffiewater op die kole geborrel en twee reiers ver bo hulle oorgevlieg het. Hy't beduie. "Kyk, Kintie, daar moet water wees." Sy't haar hand op haar maag gesit en kyk hoe die slypsteen se grys water oor die skeerders se vingers droog word.
Later, gebuk oor hul fietse, is die skeerders weg nadat hulle an hom 'n rolletjie pruimtwak gegee het. In Somerset-Oos, hoor hulle, soek 'n klomp boere 'n skeerspan. Dis nog vier dae se ry ver, hulle moet aanstoot. "Dié wêreld het genade lankal vergeet," het die een aan Kintie gesê toe hulle ry. Hy en Kintie en die meisiekinders het staan en kyk terwyl die skeerders wegtrap.
"Jy kan skeer, Jakadas," het Kintie die aand gesê.
"En 'n huis? Gaan jy en die kinders so allenig langs die pad oorlê terwyl ek op die plase rondskeer? Die polieste sal julle optel, Kintie."
"Ons kan 'n huis soek."
"Die plaasboere gee net huis as jy ook jou hande gee, jy weet dit, Kintie."
"Ek kan by my mense op Middelburg gaan bly."
"Hulle slaap sewe in 'n kamer. En jy't nie papiere vir die lokasie nie."
Die doek oor die oë. Hoe kon sy nie lag nie, op Rooidraai, as hy aar 'n skottel turksvye uit die vlak bring!
En nou die hond. Ook toe dit skemer raak, steeds: die hond. Kintie moet Fielies vashou terwyl hy in die ry water afslaan. Die hond draf oor die druppeltjies in die sand, hy kom net aan of niks sien nie, net die droë watersak wat aan die as swaai.
Een maal, ver vorentoe, sien hulle 'n stofstreep aankom. "'n Kar!" roep Kintie. "'n Witman!"
Hulle was tot die kar nader kom. "Ons moet hom stop." Kintie staan swaar regop, wankel op haar bene. "Dalk het hy 'n roer." Toe die dreuning die hond se ore bereik, lig hy sy kop. Hy spits sy ore en draf na die rand van die pad toe. Maar hy staan nie stil nie. Hulle sien die son blink op die kar se voorruit. Jakadas staan regop en swaai sy arms. Kintie verloor haar balans en val terug op die trek. Die kar is vol witmense. Hulle wys na die donkiekar. Die kar swiep verby. 'n Dik wolk stof sak oor hulle neer. Hulle hoes, die kinders begin huil. Toe die stof wegsif, sien hulle die hond, weer in die middel van die pad, tussen die wielspore. "Dis jou Oompie Danster," fluister Kintie. "Hy kyk my in die oog."
In die lig van die lantern aan die as blink die hond se oë. Kintie breek vir hulle stokbrood en hou die blik vet sodat hy sy brood daarin kan vee. "Hy kon nie nader as hy kos ruik nie," sê Kintie. Die jongste meisiekind het begin huil, vroegskemer al, sy is nou half aan die slaap, maar kerm saggies as hulle oor 'n klip ry en die karretjie skud. Hy eet met die een hand en hou die leisels met die ander. Teen die steilte gaan staan die hot-esel viervoet in sy spore. Hy lê in met die sweep, mar die donkies roer nie. Agter hulle sien hulle die oë van die hond laer sak soos hy op die pad gaan lê. "Hy kom nie nader nie," sê Kintie. Sy sit die kosblikke weg in die trommel, die deksel piep in die stilte. Dis doodstil in die veld. almal weet - die jakkalse, die krieke - die mal hond loop vannag, dink Jakadas. almal wag tot sy spore oor die berg se rug loop voor hulle uitkom. Hy lê weer in met die sweep en skielik woer-woer 'n groot uil laag oor hul koppe.
"Uil in die pad," sê hy sonder om na Kintie te kyk. Sy't gelowe oor uile. Die donkies begin weer stap. Die uil het seker 'n muis gesit en vreet in die oop pad. Verbeel hy hom dit of hoor hy die hond se pote op die gruis? Dou begin in sy klere sit; hy voel koud. Kintie en die kinders het onder die komberse teruggesak, sy lê die hond met een oog en dophou. Hy dink aan Rooidraai: die klamheid van die dou op die onderdeur as hy dit oopstoot vir die vars môre wat mistig in die rivier se draaie lê. Die wit sprinkaanvoëls wat laag oor die lusernlande aankom, elke oggend dieselfde tyd, voor die bye begin raas in die lusernblom en die hitte jou met 'n swaar hand in die blaaie druk.
Rantsoene was skaars, losgeld ook vir klere of skoene, die hand van die baas suinig en streng. Maar 'n mooi plaas. Sondae het die polisie die struise kom skud vir gesteelde vleis of blikke uitgebraaide vet. Die wêreld was honger en die swerfvolk het onder die boere se stoetvee gevang asof dit slaghuisvee was. elke sondag het die vangwa oor die klippe en bottelskerwe en halwe bakstene van die struispaadjie aangebons gekom, maar die mense het oral weggesteek: 'n goed gesoute boud in die ou Fordkar se wrak, bo die vrot wiel, ónder die modderskerm. Eenkeer 'n hele slagding bo in 'n windpomp. "Julle dink die polisie kyk nie oop nie," het die kosntabel gesê - 'n bruinman nogal, een van hul eie mense - en sy neef Willempie aan die skouer weggevat vangwa toe.
Met die wegry het neef Willempie nog vir laas deur die gaasdraad van die vangwa na hom geskree: "Jy moet maar jou haasstrikke stel, neef Jakadas, en die belt intrek om jou mage!" En die vleis in die wrak - dié het die speurders gekry omdat 'n swerm brommers die middag om die modderskerm gaan draai het.
Verder kon hulle, óm die vleislus en die satheid vir sout bokkoms verby, darem 'n lewe maak op Rooidraai. Die baas het die vorige somer 'n kraan na die struise aangelê en hulle kon groente plant. Ná 'n maand of twee was sy lappie mielies al wat bly staan het, mankoeliekerig in die droë wind wat van die ooste af oor die vlakte gestoot het. Die ander se groente het doodgebrand, of gevrek in die vergetelheid van voordag opstaan en sonsak lyfseer huis toe kom, na die nors vrouens en die snotneuskinders. Saterdae en Sondae het Sikspens en sy mense dronk in die groente, teen die koel beetblare en slaaikope, aan die slaap geraak tot alles platgetrap en doodgepis was.
En toe hy vir Baas Rooikoos sê: "Die rantsoen is te min vir 'n man wat met sy hande werk van vroegdag tot laat en vir 'n vrou en vir drie kinders..." het die witman gesê:
"Maar dit was goed genoeg tot nou. Wat se storie is dit dan vandag nou weer?"
"Ons kos is op, Baas. En my vrou is in die ander tyd, Baas."
"En ek lê die kraan aan teen hoë koste," het Rooikoos se sproetgesig hier teen syne gesê, "en al wat julle doen, is om die kleingoed die kraan te laat ooplos. Kyk daai donnerse poel water wat om die kraan dam, en van julle groentetuine het niks gekom nie, ek het saad en grawe gegee en als."
My groentetuin staan, Baas, wou hy sê. Maar die woede van die oomblik het by sy bek verbygepraat: " Die mense het nie meer wil nie, Baas."
"Hoekom nie? Hoekkom nie? Oor niks meer vir julle goed genoeg is nie? Oor die opstokers snags van die treine afklim en tussen die struise rondloop?"
"Oor die lewe op die plase, Baas."
"Julle kry huise, julle kry kos, julle kry arbeid, julle kry alles. Dink jy ék kry iets verniet? Wie moet sy hand vir my oopmaak?" Baas Rooikoos voor hom: die rooi baard, die winkbroue met die roes in, soos hulle altyd oor hul grawe gespot het as hy van hulle wegstap. Die sproete op die gesig skielik groot, met die gesig so naby syne; hy kon die asem ruik, hy kon die vleis op die asem ruik, die vet ribbetjie wat hy self uit die slagkamer moes gaan haal vir die kombuismeide om te bewerk.
"Ons ly honger, Baas, kyk hoe vet is jou kinders."
En toe die oophandklap.
Kintie het met 'n swaar hart saamgekom. Huilend het sy die karretjie gepak en haar swaar lyf gehys tot bo-op die trek. Sy't die blik vet by Sikspens gekry - dis nog van die steelskape wat hulle in die serwituut langs die stasie teëgekom het. "Wie is dié ooi sonder baas?" het die manne gesê. "Kom ons trek hom plat sodat ons vrouens weer met blink gesigte kan lag."
Toe die spoorwegpolisie kom, was die laaste seninkie opgevreet en die laaste kloutjie en klossie wol tot as uitgebrand. Die polisiemanne het na die boepmage van die kleingoed gekyk en na die oumense wat met hul haasbekke in die struise skaduwee die vretery lê en uitslaap het met brommers wat al om hul oop monde wei, en die polisiemanne het gesê: "Rooidraai-gespuise, ons sal julle nog kry. Laat ons net een skaaphorinkie in jul herde uit die as krap, dan is julle almal voor die magistraat." Maar alles was skoongebrand en menskak bly menskak - dit het die speurders ook maar weer agtergekom toe hulle in die dongatjie agter die garingbome gaan ondersoek instel het. Die ooi het verdwyn in Rooidraai se honger mage in en het as niks anderkant uitgekom.
Hy glimlag, en sien dan dat Kintie by die kinders lê. Hy kyk agtertoe: daar is die oë, die oë wat hulle nie wil los nie. Oë, onthou hy uit sy kleintyddrome, toe Oompie Danster in 'n hond verander het: jy sit in die veld, houtgerus, en skielik kom 'n mak meerkat na jou toe aan en jy dink hy sal omvlie as hy méns sien, maar as hy nog nader kom, is jou tweede gedagte dat dit 'n makding is wat verdwaal het van sy werf, en voor jy nog jou oog in syne gerig het, bevlie hy jou skielik met sy skuimende, oop bek, sy grawende pote en byt hy sy malheid in jou vleis in. En nou: hy maak of hy Kintie nie hoor huil waar sy haar kop tussen die kinders ingedruk het nie. Tesame met die donkies se hoewe hoor hy nou duidelik die girts-girts van die mal hond se pote.
"Die uil," sê Kintie toe hy weer omdraai en regop sit.
Teen ligdag, toe die hond al duideliker in die skemerte word, kom hulle op die bodraai van Wapadsberg. Die kronkelende pas slinger na onder en ver van die leë vlakte kan hulle 'n mistigheid sien hang. "Droë mis," sê hy aan Kintie. Hulle begin afsak, hy trek albei leisels styf in, die donkies rem in hul stange terug en swaai hul koppe heen en weer, asof hulle verby hul oogklappe wil kyk. Die disselboom lê hoog teen hul nekke.
"Dáár's 'n werf!" roep hy skielik uit. Die son blink op die dak van 'n opstal tussen hoë bome. "Kintie, laat kom die brood en die vet, ons gaan na daardie plaas toe!"
Kintie is langs hom, haar oë blink van opgewondenheid. "Die kos is op," sê sy, maar dit maak nie meer saak nie. Fielies begin huil toe hy dit hoor en Kintie word naar en bring oor die reling op. Hy hoor haar leë maag ruk. Hy kyk nie om nie: die hond sal oor haar maaggoed loop sonder om dit eens te ruik, weet hy.
Op die vlakte draai hulle by die plaaspaadjie in. "Paradysvlei," lees Kintie.
"En die baas? En die baas?"
"Die naam is dof," antwoord sy. "Die verf is afgedop."
Stadig kruie hulle met die plaaspaadjie op, 'n laning bome deur. Die hond vat ook die draai by die bordjie in en volg hulle.
"Kom die brak?"
Haar stilte is sy antwoord.
Die werf se hek lê oop; hy't verniet sit en beplan hoe hy vooruit sal moet spring vir die oopmaak. Die tuine is effens verwaarloos. Jakadas kyk weer om na die hond. Kintie en die kinders sit nou teen hom. Teen sy rug kan hy haar maag voel druk. Helder sonneblomkoppe hang langs die paadjie, party geknak in die wind.
Die waenhuis se deure staan oop. Dit is leeg. Kintie trek haar asem in. "Hier's niemand nie, Jakadas!" Sy gryp hom vas, haar vingers in sy ribbes in. "O Here, Jakadas, die uil het dit beduie, net hier keer die hond ons vas!"
Hy moet vinnig dink; daar is nie 'n pad óm die huis nie. Daar is draaiplek vir die donkies, maar net een pad terug. Hy kyk om. Vyftig tree weg, tussen die spore, kop laag teen die grond: die hond.
"Ons gaan die huis in," sê hy.
Kintie trek haar asem in. "Dis inbrekery. Die polieste..."
"Bly stil, Kintie." Hy gee die kinders elk 'n klap sodat hulle hul huilery laat staan en mik ook 'n klap na Kintie. Weer kyk h y agtertoe. Die hond is 'n goeie ent weg, die rooi tong stoot skuimvlokke oor die tande.
Met twee kwaai hale sweep hy die donkies tot by die voordeur en spring af nadat hy die leisels in Kintie se hande gestop het. Hy kyk agtertoe, maar die hond sien hy nie: hy moet iewers agter die karretjie en die donkies wees. Met sy eerste skop gee die deur 'n kraakgeluid. Dit is van stewige hout. Met die tweede begin Kintie gil. Met 'n derde kraak die hout om die slot. Hy skouer dit oop. Kintie gee die kinders aan, eers Fielies, wat gat oor kop by die huis ingeboender word, dan die twee meisiekinders, en laaste, swaar en lomp in sy arms, met haar asem suur van die kots teen die bergpas nadat hulle die opstal gewaar het, Kintie.
Net voor hy die deur toestamp en 'n kas daarvoor inskuif, soek sy oë die hond, maar daar is steeds geen teken van dié nie. Vervaard kyk hulle in die skemer huis rond. Die meubels is spoggerig: koper-asbakkies en blompotte, 'n groot portret bokant die kaggel, diep sitstoele. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy mond. Witmenshuis - hy kan dit ruik: vloerpolish, vleis uit die kombuis. Seep, vliëgif. Dik matte op die vloer en voor die kaggel 'n tiervel met opgestopte kop: oop bek en glaserige oë. Hy gril en kyk uit. Die donkies staan in die tuin en wei op die grasperk, onbewus van die hond en die karretjie wat komielik agter hulle waggel soos hulle beweeg. Die hond lê in die middel van die werf, in die oopte, met sy kop op sy pote en sy oë op die voordeur.
Kintie en die kinders loop voor hom uit die gang af. In die slaapkamers is die beddens netjies opgemaak. In die badkamer, waar 'n spierwit sitbalie met 'n swart deksel staan, suig die kinders dors aan die toe kraan. Wanneer Kintie dit oopdraai, spoel blink water oor hul gesigte. Fielies druk sy kop onder die kraan en lag vir die bruin stofwater wat uit sy nek oor die bad se wit bodem spoel.
Hy stoot self die spens se deur oop. Dik, swaar biltonge - rugstringe - hang van die dak. Daar is 'n halfoop sak met goudgeel droëperskes. Hy vat 'n handvol en druk dit in die kinders se kieste. Kintie draai om en kom met ' n nat gesig voor hom staan. Sy kyk af na die kinders, toe weer na hom. "Vandag steel o ns, Jakadas, voor die aangesig van die Here."
Hy kry fynhout en 'n paar stukke doringhout in die hoek langs die stoof, druk dit by die stoof se bek in en haal 'n boksie vuurhoutjies uit die spens. Toe die swart stoof brul van die vlamme, sit Kintie 'n beker koffie voor hom neer. Hy kerf lang repe bilton. Hulle bly in die kombuis - waar al die kos is - tot hulle klaar geëet is. Dit is laatoggend toe Fielies op die sitkamerbank aan die slaap raak. Kintie laat die meisiekinders in die wit bad bad. Hulle sit tot by hul skouers in die water. Hul lyfies is bruin teen die wit teëls. Jakadas streel met sy vingers oor die blink, gladde teëls/
Later, toe die kinders al slaap, stap hy en Kintie na die voorhuis.
"Waar's jou Oompie Danster?" vra sy.
Jakadas kyk na buite.
"Hy lê op die werf. Hy hou die voordeur dop."
Kintie kyk na die portrette teen die mure. "Jou oompie," vra sy, "het hy eintlik rede gehad om jou kwaad aan te doen?"
Hy skud sy kop. "Nee."
Kintie vat hom aan die arm. "Kom ons kry ons rus, Jakadas."
Hulle slaap die hele middag en die nag. Toe hy die volgende oggend wakker word en uitkyk by die voorhuis se venster, is die hond weg. Hy gaan loer by al die kamers se vensters uit, maar sien niks nie. Toe tap hy 'n emmer water en terwyl Kintie angstig binne die voordeur wag, stap hy op die werf uit. Die emmer water hou hy styf teen sy bors, reg vir die gooi.
Hy gaan soek op die plek waar die hond gelê het. Die donkies staan dikgevreet onder in die tuin in die skaduwee van 'n bloekomboom. Hulle lyk half aan die slaap. Op die werfgruis loop die donkies en die karretjie se spore, spore wat tot teen die voordeur slinger en verder terug, die werfhek uit. Hul spore - syne en Kintie en die kinders s'n - lê slordig by die voordeur, waar hulle haastig in is.
Jakadas stap terug na die huis. Kintie maak vir hom oop.
"Die mal hond is weg," sê hy. "Seker in die vlak gaan vrek." Dat daar op die werf geen spore van 'n hond is nie, vertel hy haar eers later daardie aand, toe die kinders al dikgeëet slaap en hy en sy saam in die bad sit terwyl hy haar vet, opgeswelde boep met wit seepskuim sit en vryf.
ETIENNE VAN HEERDEN
Vertellers
Saamgestel deur Merwe Scholtz
Eerste Uitgawe
ISBN 0-7981-2853-4