Net langsaan is die Argus-drukpers, en daar vergader al middae die horde klein bruin koerantverkopertjies. Hulle het die hoffie soms vir minder higiëniese doeleindes gebruik.
Eentyd was die kunstenares Ruth Prowse kuratrise van die Michaelis-kunsversameling wat in die Ou Burgerwaghuis gehuisves is. Sy het in die woonstel gewoon wat op die binnehof uitgaan en sy het, soos 'n mens kan dink, omtrent soos 'n engel met 'n swaard daardie binnehof teen sy besmetters bewaak.
Op 'n dag verwilder sy weer so 'n swetterjoeletjie kleingoed daar uit, al rasend oor wat hulle daar sou gedoen het.
"Issie onsie!" skree die vabonde so vinnig as wat hulle hulle uit die voete maak. "Issie onsie! Issie bryde!"