Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Dis Saliger om te Gee as om te Ontvang
Daardie storie van Joan en haar juwele laat my dink aan 'n ander dogtertjie wat eendag alleen winkel toe gegaan het.
Ons sal haar maar Gwennie noem, sodat julle nie kan uitvind wie sy regtig is nie.
Gwennie het vir 'n tyd by haar ouma gekuier, en die twee het groot vriende geword. Hulle was altwee baie hartseer toe die dag genader het dat Gwennie weer moes teruggaan na haar Moeder en Vader.
Een agtermiddag was Gwennie 'n bietjie rusteloos, en sy het ouma gesoebat om haar 'n bietjie met die motor uit te neem. Maar ouma kon op daardie oomblik nie gaan nie. Dit het Gwennie droefgeestig gemaak, en ouma was baie jammer dat sy haar nie kon uit neem nie.
'n Rukkie later het ouma vir Gwennie geroep. "Ek het aan 'n plan gedink," het ouma gesê. "Hoe sal jy daarvan hou om heeltemal vingeralleen winkel toe te gaan? Ek bedoel om iets moois vir jouself te gaan koop."
"Ek sal vreeslik daarvan hou!" het Gwennie uitgeroep. "Ek wou altyd graag alleen gaan. Maar ek het nie geld nie."
"Toe maar," het ouma gesê, "ek sal jou 'n paar sjielings gee, en dan kan jy vir jou koop wat jy graag wil hê."
"Mag ek na Woolworth's gaan?"
"Ja, as jy wil."
"O, ek is so bly!" het Gwennie uitgeroep, want dit was een van die dinge wat sy baie graag wou doen. Sy was gou aangetrek en reg vir die stad. Ag, hoe heerlik was dit vir haar om heeltemal alleen te stap, met haar eie geld in haar sak om te koop wat sy wou!
Eerlank was sy by die winkels en het sy die uitstalvensters besigtig. Later is sy by een van die groot winkels in, en Gwennie het daar soos in 'n droom rondgestap.
Maar wal sal sy nou koop - dit was baie moeilik om te besluit. Daar was baie dinge wat haar aandag getrek het, maar sy het net twee sjielings gehad.
Sy het aan 'n pop gedink, maar ag nee wat, sy het reeds baie poppe gehad.
Miskien 'n beursie of handsak? Of verf of 'n paar mooi sakdoekies?