Dan stap hy na een van die seuns, lê sy hand op hom en sê "Dis beter om te sterf...." en as die seun die sin voltooi en sê "as om 'n leuen te vertel", dan het hy aan sy vriende gesê "Sien julle nou, dit is een van my kinders."
Deur hierdie eenvoudige toets kon hy altyd sy kinders uitken en die seuns en dogters - wetende dat hulle hom enige tyd onverwags mag ontmoet - het gesorg dat hulle nie vergeet het wat hy hulle geleer het nie.
Maar nou wonder ek: veronderstel dat ek een van julle nou sou teëkom en sal sê wat daardie ou predikant aan sy kinders gesê het, wat sou julle antwoord? As ek sou sê "Dis beter om te sterf...." sou julle die sin sonder om te aarsel kan voltooi deur te sê "as om 'n leuen te vertel"? Sou julle?
Ek weet julle sal dit kan doen as julle regtig glo wat daardie rympie sê.
In die verlede was daar al manne en vroue wat werklik die dood verkies het, liewer as om 'n leuen te vertel. Hulle het marteling en 'n wrede dood verkies, liewer as om hul lewe te besmet met 'n leuen. Die wêreld het vandag groot behoefte aan meer sulke manne en vroue.
As julle eendag so 'n man of vrou wil wees, dan moet julle Eerwaarde Golightly se woorde onthou: "It is better to die, than to tell a lie".
Niemand sou seker kan sê hoeveel seuns en dogters deur sy woorde bewaar is van leuentaal nie. Soos waarskuwende klokkies het daardie woorde, elke keer wanneer hulle in versoeking gekom het om 'n leuen te vertel, in hul ore gelui en so is hulle van daardie sonde bewaar.