En toe dit nag word, sê sy: "My man, is dit nie die gewoonte dat die man boegoe aan die bruin se arms moet vrywe nie? Waarom dan is dié gewoonte in ons huis dood?"
En klein Oukiep vat die gemaalde boegoe uit die veldsakkie en hy vryf haar arms. en dit begin donker word; en agter die skerm sit die raadsmanne. En klein Oukiep sê:
"Waarom blink my Napti se oë groen in die donker?" En Nampti lag. En hy sê weer: "Waarom word my Nampti se naels krom en lank?" En Nampti lag.
En sy stem bewe en hy sê: "Waarom is daar hare aan my Nampti se arms?"
En Nampti lag en sy sê: "Vryf die boegoe, laat ons by die gewoonte bly."
En sy hart word swak; en hy sê: "Hier is ' n doring in my Nampti se arm."
En Nampti sê: "Is dit dan nie die man se werk om dit uit te trek nie?" En hy vrywe met die boegoe , en haar arm word die voorpoot van 'n leeu, en haar stem begin diep word. En hy trek die baardhaar uit en toe roep hy na die voormanne: "Dis 'n leeu! Help my, my Ta, of ek is gedaan!"
En hulle hardloop in met messe en ligte, en toe die strooihuis lig word, siet hulle in die middel sit Nampti, en klein Oukiep vryf haar arms met boegoe. En Hulle sê: Waar is die leeu?"
En klein Oukiep word skaam en hy sê: "Ek was bang in die donker. Ek het gedroom." En hulle groet Nampti met mooi woorde.
En sy het altyd die voorste vrou op die werf gebly.
EUGENE N. MARAIS
Vertellers
Saamgestel deur Merwe Scholtz
Eerste Uitgawe
ISBN 0-7981-2853-4