
Ná die naweek op Heidefontein was die lewe vir my nooit weer dieselfde nie.
Ek was oorgehaal vir die avontuur om na dié plaas te gaan waar ek nog nooit was nie.
"Ek gaan my blou engeltjievel-rok saamneem en die groene met die blink knope. Magdaleen sê hulle trek oor die naweek aan vir aandete. Vrydagaand speel haar ma klavier en hulle dans. Magdaleen se broer Ferdinand bring 'n maat saam van Elsenburg af vir die naweek as ek saamgaan. Hulle dans seker Kaaps. Maar weet Ma, Miss Turpin leer vir ons ballroom ook. Sy neem ons een-een en leer ons. Haar suster Heather speel die klavier daarop die verhoog in Torpie se bioskoop en ons dans lekker. Maar nie uit die baai uit nie. Miss Turpin sê 'n mens dans met jou onderlyf stil en mooi in."
Ma kyk my aan asof sy iets dink wat sy nie sê nie. Sy sit voor die sonkamer se groot venster met haar blomkatalogusse, besig om 'n lys rose op te stel. Sy het 'n pienk tuinrok aan met lang moue en 'n blomdoek om haar nek teen sonbrand. Sy ruik soos warm gras en spaansvlieg. Haar gesig is pienk en haar oë nabyblou, nie ver-blou soos hulle soms is nie.
"Wil jy regtig na die De Bruyns toe gaan vir die naweek?" vra sy.
Dit kwel my dat Ma nie sommer dadelik bly is oor die uitnodiging wat ek gekry het nie. Ek gaan sit op die sofa by haar. Ek kyk stip na haar.
"Hoekom kan ek nie gaan nie?" vra ek.
"Ons ken nie juis die De Bruyns nie, weet jy. Ons kom nooit by hulle op die plaas nie. En hulle kom nooit hier nie."
"Maar Ma ken tog vir Magdaleen se ma."
"Nee, nie juis nie. Sy kom maar selde op die dorp." Mammie maak 'n wysbeweginkie met haar hand soos sy maak as sy by haar sigselwers iets dink.
"Maar sy's tog gaaf. En baie mooi ook, né Ma?"
"Ja, sy's baie mooi. Sy lyk altyd heel besonders as 'n mens haar êrens raakloop."
"Magdaleen sê haar ma maak skilderye. Sy het al twee uitstallings in die Kaap gehou."
"Ja, ek het gehoor dat sy skilder. Maar ek het self nog nie van haar skilderye gesien nie."
Ons hoor die voordeur oopgaan en voetstappe wat nader kom. Dis Pappie wat van die kantoor af huis toe kom.
Hy kom sonkamer toe, soen eers vir Mammie en toe vir my.
Waar's die ander kinders?" vra hy.
"Trix draai die karring onder die vyeboom. Leon en Kleinboet maak die malmokkiehok skoon. As jy 'n rukkie wag, kan jy 'n glas karringmelk kry."
Pappie gaan sit op oupa Boois se stoel waar hy altyd sit.
"Hoor 'n bietjie hier," sê Mammie. "Amanda is genooi om vir die naweek na die De Bruyns te gaan op Heidefontein."
"Umm," sê Pappie en koerant oopvou.
"Wat sê jy daarvan?"
"Wil sy gaan?"
"Ja, Pappie man," sê ek gou, "ek wil graag gaan."
"Wat sê jou ma?"
"Johan, ek weet nie of dit die regte ding is om die kind na mense toe te laat gaan wat ons nie ken nie."
"Ag, ek ken ou Tien de Bruyn darem al my lewe lank. Sy vrou is vir ons vreemd, Ja. Ons het háár nog nooit regtig leer ken nie. Sy aard nie goed hier nie. Sy het in die Kaap grootgeword en sy het ander belange as die mense hier. Dis al. Seker ook nie vir so 'n vrou maklik om haar aan die lewe op 'n Strandveldse plaas gewoond te maak nie. Tien de Bruyn het 'n groot boerdery. Daar was 'n tyd toe hy swaar gekry het, maar nou gaan dit met hom goed. Sy wol behaal nou 'n goeie prys. En hy saai ook."
"Dis snaaks," sê Mammie, "'n mens sien mevrou De Bruyn nooit op die dorp nie."
"Ag, sy het seker elders vriende."
"Maar dink jy ons kan Amanda saam met hulle dogter plaas toe laat gaan vir naweek?"
"As Amanda wil, kan sy seker maar gaan. Die kinders het mekaar natuurlik nou by die skool leer ken. As hulle by mekaar wil kuier, kan hulle seker maar by mekaar kuier. Die ondervinding sal vir Amanda goed wees."
Ek het my klere in ons beste koffer gepak, die Vrydagmiddag ná skool my skoolklere uitgetre, in Ma se lang spieël gaan kyk of die soom van my groen rok reg hang, en om halfvyf het Magdaleen saam met Louwtjie, die De Bruyns se voorman, in hul bakkie gekom om my te haal.
"Jy ruik lekker," sê Magdaleen toe ek langs haar inklim.
"Dis my ma se parfuum. Pappie het dit vir haar van die Kaap af gebring."
"My ma het parfuum wat van Parys af kom. Dit ruik soos vleiaandblomme."
"O, dit moet heerlik wees!"
"Ek sal vir haar sê sy moet vanaand daarvan aansit. Dan kan jy dit ruik."
Ek word al hoe blyer oor die naweek wat voorlê. Dis lekker om na 'n huis toe te gaan waar 'n mens nog nooit was nie. Dis lekker om ander mense se kos te eet. Dis lekker om te hoor wat hulle praat.
Ons ry suid na die blou kom van die duine. Die wind kom van die see af, maar dis nie sterk nie. Die son skyn sag op die veld.
"My ma sê jou ma is mooi."
Magdaleen antwoord nie dadelik nie. Dit lyk asof sy ook aan iets dink wat sy nie wil sê nie.
"Ja," knik sy, "my ma is mooi. Ek sal vir jou my ma en pa se troufoto wys. Sy het 'n trourok van ivoorsatyn aangehad. Die hele bodeel is met pêrels uitgewerk."
"O, dit moet pragtig wees!"
My ma het nie pêrels op haar trourok gehad nie. Maar dít sê ek nie.
Ek kyk na die veld waar die eerste heide van die lente nou begin blom. Hier en daar is daar al wit rysheide, die rooi, pers en wit Elim-heide en die klokkiesheide wat vir my die lekkerste ruik.
"Ai!" sê Magdaleen. Ons gaan môre Bloubaai toe. Ferdinand en Lex gaan visvang en hulle het gesê ek en jy kan saamgaan. Ek weet nie, maar dit kán wees dat juffrou Brink ook saamgaan,"
"Sy's julle onderwyseres op Heidefontein, né?"
"Ja, sy's ons skooljuffrou. Sy hou vir my broertjies skool. Daar is nie nou ander skoolkinders op die plaas nie. Nou bly sy by ons. Ons skooljuffrou bly altyd by ons."
"Ek het haar nog nie van naby gesien nie. Net so op 'n afstand nou die dag by die poskantoor."
"Sy's nog nie lank by ons nie. Ek is mos die begin van die jaar dorpskool toe - nou ja, sy't ná die Aprilvakansie gekom. Haar naam is Erina. Dis 'n mooi naam, né?"
"Ja, dis 'n mooi naam. Is sy ook mooi?"
"Ja, sy's ook mooi. Dirkie en Tienie hou van haar. Jy sal haar vanaand sien. Sy maak vir haar vreeslike mooi klere."
"Gaan sy nie naweke weg nie?"
"Nee, sy gaan byna nooit weg nie. Sy kom van Laingsburg af. Nou hou sy baie van die Strandveld, want dis tog nie so vaal nie."
Ons ry by Witklip se bloekombos verby. Ek ruik die see op die wind.
"Juffrou Brink het gesê sy gaan vir my 'n rok maak. Ek kan enige patroon kies, net wat ek wil hê."
"Daar's mooi rokgoed by Rothmann se winkel."
"Nee, Mamma het gesê sy sal vir my die goed in die Kaap gaan koop."
"Ai lekker!" sê ek. En ek dink: Die De Bruyns is seker baie ryk. Parfuum uit Parys. 'n Skooljuffrou in die huis. Rokgoed uit die Kaap. Hulle is soos boekmense. Ek is tog bly ek gaan by hulle kuier.
Ons draai regs van die strandpad af by die naambord Heidefontein.
Ek verwonder my aan die wit sanderige grond tussen die melkhoutbome. Ons ry verby plate tolbos en slangbos en blombos, verby 'n windpomp en 'n paar buitehuise, swaai weer regs al langs 'n klipmuur om 'n tuin en hou voor die huis stil. Dis 'n groot huis met hoë vensters en 'n stoep rondom.
Ons klim uit die bakkie en Louwtjie, die voorman, sê in sy heserige brystem: "Missies De Bruyn het gesê ek moet maar julle goed in die agterste vrykamer sit."
Hy neem ons koffers en gaan met hulle by die stoeptreetjies op.
Ons loop by die voordeur in en met 'n breë gang af na die agterste deel van die huis.
Ek ruik wors wat braai en koljander, blouseep en droëvrugte - en veldblomme, kalkoentjies miskien en ja ... klokkiesheide.
Aan die onderent van die gang draai ons regs in 'n slaapkamer. Daar is swaar outydse meubels in die kamer en 'n hemelbed met 'n gehekelde deken daaroor.
"Gaan ons hier slaap?" vra ek.
"Ja, dis ons agterste vrykamer," sê Magdaleen. "Dis al ouma De Bruyn se goed wat Pappa ná Ouma se dood gekry het."
"Was die hemelbed jou ouma s'n?"
"Ja, dit was Ouma en Oupa se bed op Duinedal. Maar Mamma wil nie daarop slaap nie. Nou het Pappa dit hier gesit."
"O, ek het nog nooit in 'n hemelbed geslaap nie."
"Ek gaan vanaand by jou slaap, dan kan ons lekker lê en gesels in die hemelbed."
Ek streel met my vinger oor die halfmaanpatroontjies van die deken.
"Kom ons pak jou klere uit. Kyk, hier hang jy hulle op, in die groot kas. O, dis 'n mooi rok, dié bloue!"
"Ja, dis myengeltjievel-rok. Die materiaal blink so mooi, né?"
"Trek hom vanaand aan, toe!"
"Wat gaan jy aantrek?"
"Ek het ook 'n blou rok. Net 'n bietjie ligter blou. Ek sal dit aantrek."
Ons pak uit en gesels. Dis vir my snaaks dat ons nie Magdaleen se mammie gesien het nie. Ek vra nie waar sy is nie en Magdaleen sê ook niks van haar nie. Ek hoor stemme in die huis, voetstappe wat klap, maar daar kom niemand om my en Magdaleen te groet nie.
"Kom ek gaan wys vir jou die plaas," stel Magdaleen voor. "Dan kan ons later kom aantrek."
Ons loop by die agterdeur uit oor die agterstoep en meteens is ons op die oop werf waar die wind met sterk rukstote van die see af waai.
Die aand toe die etensklok lui en ek en Magdaleen in die eetkamer kom, sien ek eers die ander huismense.
Magdaleen se pa, oom Tienie de Bruyn, ken ek darem, maar nie goed nie. Ek het hom al by Pappie in die kantoor gekry en hom daar gegroet.
Hy is 'n groot man met 'n sonrooi gesig, amper wit hare en baie blou oë soos die mansmense in die Strandveld het. Hy stryk met sy hand oor my hare en sê: "Lekker dat jy by Magdaleentjie kom kuier het, Amanda."
Magdaleen se mammie kom by die deur in. Sy is lank en skraal en haar donker hare is hoog op haar kop gekam. Sy lyk vir my dadelik soos Kleinboet se mak bokkie by die huis. Sy het bruin oë wat lyk asof hulle luister.
Sy soen my op my wang en ek ruik haar parfuum. Soos vleiaandblomme, dis reg wat Magdaleen gesê het.
"So this is Amanda," sê sy en ek hoor dadelik dat sy mooi praat. "Amanda, please call me Lindy, will you dear? You see, my name is really Vera Lindeman. So I'm called Lindy by my sister's children. Not auntie. Don't you think Lindy's nicer?"
Ek voel meteens vreeslik skaam en weet nie wat om te sê nie.
"Ferdinand," sê oom Tienie vir sy seun, "jy ken tog seker vir Amanda., Amanda, dis Ferdie se maat, Lex Truter. Juffrou Brink, dis Magdaleen se vriendinnetjie, Amanda. En dié twee..." Hy beduie na die twee witkopseuntjies in blou truie, " is Dirkie en Tienie de Bruyn."
"En dis Keiser," wys Magdaleen die groot grys wolfhond wat langs haar pa se stoel lê.
Ons gaan sit aan die grooit eetkamertafel. Oom Tienie buig sy kop en vra vinnig en half binnensmonds die seën.
Ek ruik die opgesteekte lampe, die braaiwors en die roereier op die blourand-skottels en Lindy se Paryse parfuum. Ek sal moet oefen om vir haar Lindy te sê. Dis snaaks om 'n grootmens so sommer op haar naam te noem.
Ek kyk na juffrou Brink wat oorkant my sit. Sy lyk soos 'n tak kanferfoelie in 'n wit en geel rok. Haar hare is goudgeel, kort en krullerig. En sy het groen oë, Katoë, ja. Maar sy is mooi.
Elke keer dat sy lag, kyk amal na haar. Sy lag so 'n snaakse halfsinglaggie soos my kanarie by die huis.
Ferdinand vertel hoe en Lex fisante geskiet het op pad fontein toe dié middag. Hy lyk soos sy ma. Ook lank en donker. Amper net sulke oë. Hy is al 'n man. Hy sal nie met my praat nie Ek is dan nog in die skool. Nou maar eers in standerd sewe, net soos sy suster. Ek is bly dat ek lang kouse aanhet en Ma se wit krale by my blou rok.
Lex is seker net so oud soos Ferdinand. Hy het 'n mooi blonde kuif en 'n vriendelike gesig. Maar hy is nie so mooi soos Ferdinand nie. Hy's meer gewoon. Ek wonder of hy ooit kan dans.
Die twee seuntjies lyk vir my maar net soos ander seuntjies. Ek kyk nie juis na hulle nie. Hulle eet baie en stry aanhoudend. Dan maak juffrou Brink hulle stil en sê hulle moet hul servette gebruik.
"Was julle kamer reg?" vra Magdaleen se ma vir haar. "Ek was op Bloubaai en dit het ongelukkig 'n bietjie laat geword. Daar kuier 'n kunstenaar uit die Kaap by Herzbergs. Hy skilder daar. Ek het na sy werk gaan kyk. Hy sê hy het nog nooit so 'n treurige see gesien soos die see om Bloubaai nie."
Dit klink vir my wonderlik - 'n kunstenaar op Bloubaai. Sommer hier by ons! 'n Kunstenaar wat die see skilder. Wat weet wanneer die see treurig is. Maar niemand sê iets nie.
"Het julle pos gebring van die dorp af, Magdaleen?" vra oom Tien, kompleet asof hy glad nie gehoor het wat sy vrou gesê het nie.
"Ja, Pappa, Louwtjie het dit in die kantoor gesit.
Almal eet in stilte verder.
Keiser kap met sy stert teen die vloer. Ek voel meteens dat ek iets moet sê, sommer iets moet vertel of iets moet vra. Maar ek kán nie.
Skielik sê Magdaleen: "Mamma, Amanda kan 'The Highwayman' opsê. So mooi, 'n mens gril skoon. Sy het dit nou die aand by die debatsvereniging opgesê."
"Dan moet Amanda dit vir ons opsê," sê haar ma. Sy kyk meteens opgewek om die tafel.
"Ons gaan vanaand musiek maak en vrolik wees," sê sy. "Dis mos lente. Die wêreld is nuut en mooi. Moet ons dit nie vier nie?"
Haar bruin oë blink en ek sien haar mond bewe.
Sy en oom Tien kyk na mekaar. Hulle kyk na mekaar, lank en stil. Maar hulle sê niks. Toe skuif oom Tien sy stoel agtertoe, staan op en loop by die deur uit in die gang af. Ek voel meteens dat ek uit die eetkamer moet wegkom. Dis nie lekker daar met die lampe wat so brand en die seuntjies wat so stry en juffrou Brink wat so singlag dat almal na haar kyk nie. Die wind ruk die vensters en êrens klap daar 'n deur.
"Die wind waai vanaand weer van die see af," sê Ferdinand. "Waar is die skuifpaal, Mamma? Ek sal maar die vensters opskuif."
"Kom ons gaan sitkamer toe, sê Magdaleen en slaan haar arm om my lyf. "Mamma gaan vir ons klavier speel, né, Mamma?"
"Ja, kom ek gaan speel vir julle," sê haar ma. Haar stem klink hoog en dun, heeltemal anders as toe sy my gegroet het. Sy stap voor my en Magdaleen uit in die gang en dit lyk asof die goue strepe in haar rok inmekaar loop.
Dirkie en Tienie spartel saam met die hond die gang af.
"Ons gaan Keiser op sy agterpote laat dans," jil Dirkie. "Met Magdaleen se hoed op."
"Gedra julle," maan juffrou Brink, "of julle gaan nou-nou slaap."
In die sitkamer brand daar baie lampe, daar is gemaklike stoele met blommetjie-oortreksels en skilderye aan die mure, skilderye van die see, van die visserskuite by Bloubaai, van die perlemoenskulpe teen die sandduine, en een skildery wat lyk asof dit van dié plaas kan wees. Ek kyk na die skilderye, maar ek is te skaam om iets oor hulle te sê.
Op die ronde tafel in een hoek van die sitkamer staan 'n wilgerpatroon-sopkom met klokkiesheide. Hulle ruik soos ver verlang.
Ek dink aan Ma en Pa by die huis. Maar ek wil nie aan hulle dink nie. Ek sál nie aan hulle dink nie.
Ek gaan sit langs Magdaleen op die sofa.
Haar ma trek die klavierstoeltjie uit, slaan die deksel oop en gaan voor die klavier sit.
Sy begin speel. Haar hande lyk mooi so op die swart en wit klawers. Haar vingers is lank en haar naels mooi blink gemaak. Sy speel iets wat ek nie ken nie. Dis dansmusiek wat swaai-swaai. Sy speel eers stadig, maar skielik is dit asof sy besluit dat dit vinniger moet wees.
Sy buk vooroor en swaai die wysie vinniger.
Juffrou Brink staan teen die geel gordyn voor die venster aan die voorkant van die kamer en neurie die wysie saam. Die seuntjies lê op die vloer en speel met Keiser. Ferdinand en Lex kyk na die gewere op die gewererak teen die een muur.
"Oh, come on!" roep Magdaleen se Lindy-ma. "Aren't you going to dance?"
Sy slaan oor na 'n ander wysie.
"What about this?" roep sy.
En toe ken ek die wysie. Heather Turpin speel dit as ons dansles neem in Torpie se bioskoop.: "Somebody loves you".
Juffrou Brink trap-trap heen en weer en sing die woorde saam met die musiek: Somebody loves you, / I want you to know. / Somebody loves you, / Wherever you go.
Die lamplig blink op haar hare. Haar kanferfoelierok waai om haar bene. Die klokkiesheide ruik die kamer vol.
Ek kyk na Lindy voor die klavier. Dit lyk asof sy met toe oë speel. Haar gesig lyk wit en haar mond bewe.
Sy kyk skielik weer na ons kant toe.
"Toe dan! Wat makeer julle! Gaan julle nie die lente indans nie?" Sy begin ook die woorde van die liedjie sing: Somebody loves you, / And right from the start. / Happiness blew into / Somebody's heart.
Ferdinand kom vra of ek met hom sal dans. My kop draai toe ek opstaan. Ek sit my hand op sy skouers soos Miss Turpin ons geleer het en ons begin dans. Sy trui ruik soos veld en fisantvere. Sy gesig is mooi glad. As my hand van sy skouer afgly, voel ek die sterk spier in sy bo-arm.
Ons hoor sy ma en juffrou Brink sing: Somebody loves you / Each hour of the day, / When you're around here, / Or when you're away.
Magdaleen dans met Lex. Dirkie en Tienie laat Keiser op sy agterpote dans, al op één kol.
Toe sien ek oom Tien kom die kamer binne.
Hy sê niks.
Hy loop net tot daar waar juffrou Brink voor die geel gordyn trap. Ek hoor nie dat hy met haar praat nie. Hy sit sy arm om haar en hulle begin dans.
Nou sing almal saam: Somebody loves you, / I want you to know, / Loves to be near you, / Wherever you go.
Toe ek en Ferdinand by die klavier verby dans, kyk ek na sy ma.
Sy buig laag oor die klavier en speel baie vinnig. Maar dis asof sy glad nie by ons is nie. Sy sien nie dat ons dans nie. Sy hoor nie wat ons sing nie.
Toe ons in die oorkantse hoek dans, hou die musiek skielik op, al is die liedjie nie klaar nie.
"Julle sal my moet verskoon, asseblief. Ek het effens hoofpyn."
As sy uit die kamer is, probeer almal nog gesellig wees. Die seuntjies probeer weer die hond aan die dans kry en juffrou Brink betig hulle nie. Maar Magdaleen sê: "Amanda, kom ons gaan slaap, wat."
Ek wag dat sy vir haar ouers moet gaan nag sê, maar sy neem my sommer aan my arm en loop saam met my in die gang af na die vrykamer.
In die hemelbed gesels Magdaleen nog oor die rok wat juffrou Brink vir haar gaan maak en die môre se uitstappie na Bloubaai.
Maar ek luister na die wind. Ek hoor die see in die wind en ek dink: Oormôre is ek weer by die huis.
Audrey Blignault