Op die vier hoeke van die vierkantige monument is standbeelde van onderskeidelik Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en die Onbekende Voortrekker. By die ingang staan 'n beeld van 'n Voortrekker-vrou wat haar twee kinders beskerm, geskep deur Anton van Wouw. Die voorstel dat 'n Monument ter ere van die Voortrekkers opgerig moet word is vir die eerste keer op 16 Desember 1888 geopper, toe President Paul Kruger die Geloftedag-plegtighede by Bloedrivier in Natal bygewoon het. Maar die Sentrale Volksmonumentêre komitee (SVK), wat die bou van die monument behartig het, is eers in 1931 gestig. Die boubedrywighede het op 13 Julie 1937 tydens 'n plegtigheid op Monumentkoppie begin. Die hoeksteen van die monument is op 16 Desember 1938 deur drie afstammelinge van oorspronklike Voortrekkerleiers gelê: Mev. J. C Muller (kleindogter van Andries Pretorius), Mev. K.F Ackerman (agter-kleindogter van Andries Hendrik Potgieter) en Mev. J.C Preller (agter-kleindogter van Piet Retief).
Die Voortrekkermonument is op 16 Desember 1949 ingewy. Die totale boukoste van die monument het sowat £ 360,000 of R 719,202.00 gekos. Die koste is grotendeels deur die Suid-Afrikaanse regering gedra. 'n Groot amfiteater met sitplekke vir nagenoeg 20 000 besoekers is in 1949 noord-oos van die Voortrekkermonument opgerig.