Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die verdwyning van Donald
Een baie snaakse ding omtrent Donald was die manier waarop hy met tye verdwyn het, gewoonlik juis wanneer Mammie hom baie nodig gehad het.
"Donald, Donald!" het Mammie gewoonlik geroep, maar daar was geen Donald nie.
Soms het sy deur die hele huis gegaan en geroep, dan het sy by die kamervenster uitgeleun en geroep en van die voordeur af en dan van die agterdeur af, maar daar was geen teken van Donald nie.
En dan, wanneer Mammie al baie onrustig geword het, hy stilletjies die kamer binnegesluip waar Mammie besig was, asof niks gebeur het nie.
As Mammie hom dan vra "Donald, waarom het jy nie gekom toe ek jou geroep het nie?" het hy gewoonlik gesê
"Ek is jammer Mamma, maar ek het gekom so gou as ek kon."
En as Mammie vra "Waar was jy al die tyd?", was al wat sy uit hom kon kry, "Aaaa, dis 'n geheim!"
Hoe Mammie ook al probeer het om iets uit hom te kry, het sy nie daarin geslaag nie.
Eendag het Mammie nie te gesond gevoel nie en Donald was weer weg.
"Liewe land, waar gaan die seun tog heen? En hoekom verdwyn hy so baie? Ek wens dat hy wou ophou om my so te tempteer wanneer ek moeg is."
Eindelik het hy weer tevoorskyn gekom. "Donald, hierdie streke van jou moet nou end kry. Ek wou jou gehad het om my te help met die skottelgoed en jy het net my hoofpyn erger gemaak."
"Ek is so jammer, waar is die vadoek. Ek sal sommer nou die goed afdroog."
Vir 'n rukkie het hulle daar saamgewerk en die meeste van die tyd was daar 'n afgetrokke uitdrukking op Donald se gesig.
Skielik het hy gesê: "Het Mammie gesê dat Mammie hoofpyn het?"
"Ja."