My Volk+ (Die Trekpad van 'n Nasie) ADULT PHARMA 
Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika

Adult Pharma

MALE (and FEMALE) LIBIDO BOOSTER
We offer fast, secure and reliable ordering with your complete privacy. We will go the extra mile for each and every customer. Money Back Guarantee. Express Delivery. Safe Payments.
Male and Female Libido Boosters

Deel VI

Die Unie van Suid-Afrika, 1910-1961: Blanke konsolidasie en Swart bewussyn

INLEIDING

Die "Euforie" van unifikasie is gou getemper deur die harde werklikhede waarmee die inwoners van die nuwe staat in die onrustige 20ste-eeuse wêreld gekonfronteer is. Klasse-, rasse- en kulturele skeidings is nie oorbrug nie en het steeds groot druk op wisselende politieke groeperings uitgeoefen.

In die eerste twaalf jaar né uniewording het verwoede botsings tussen kapitaal en arbeid die land geskud. Deelname aan twee wêreldoorloë het die groot klowe in die Blanke gemeenskap na vore gebring, binnelandse spanning aangewakker en die ekonomie getoets en gestimuleer.

Ekonomiese laagte- en hoogtepunte, welvaart en armoede is deur internasionale strominge beïnvloed. Die goudmyne het steeds die grootste deel van die nasionale inkomste gelewer, hoewel sekondêre nywerhede sterk toegeneem het. Die tempo van verstedeliking het versnel. Tegnologiese vooruitgang, wat in sommige sektore deur die staat beheer is, was 'n belangrike onderdeel van die moderniseringsproses.

Die instelling van 'n republiek was vir sommige Blankes die verwesenliking van 'n ideaal en die hoogtepunt van 'n gestadige opmars na volle outonomie, maar het ook 'n band met Brittanje verbreek wat meer as anderhalf eeu bestaan het.

Rasseverhoudinge was steeds die grootste probleem van die komplekse samelewing. Pogings om die Blankes saam te snoer, en al hoe meer segregasiewetgewing, kon ekonomiese integrasie egter nie stuit nie, terwyl die Swart bewussyn en geaktiveerde protes skerper geword het.

--- --- ---

Hoofstuk 16

Unie en onenigheid, 1910-1924: S.B. Spies

Die eerste taak van die nuwe goewerneur-generaal, Herbert Gladstone ('n seun van W.E. Gladstone), was om 'n eerste minister aan te wys. Die Britse regering was van mening dat Louis Botha hiervoor die geskikste sou wees. Sy enigste noemenswaardige teenstander was John X. Merriman. Nadat Gladstone die plaaslike mening gepols het, het hy met sy regering saamgestem, want Botha het die grootste steun onder die Blankes geniet. Baie Swartes en Kleurlinge - wat nie om hul mening gevra is nie - sou Merriman egter verkies het.

Die eerste stappe.

Louis Botha het L.S. Jameson se idee van 'n regering deur "die beste mense" ongeag partyverband verwerp. In plaas d aarvan het hy sy kabinet uit die regerende partye in al vier state saamgestel. Merriman het Botha se aanbod van 'n pos in die kabinet van die hand gewys. Hertzog is slegs opgeneem nadat hy 'n aanstelling as appèlregter geweier het. Die basiese uitvoerende en geregtelike strukture was teen 31 Mei 1910 ingestel na die ontwerp wat in die grondwet vervat is.

Die algemene verkiesing van 15 September 1910 is deur ondersteuners van die regering, kandidate van twee ander partye en 'n aantal onafhanklikes betwis. Die Arbeidersparty, wat in Januarie 1910 onder leiding van H.W. Sampson en F.H.P. Creswell gestig is, was 'n stedelike party wat die belange van Blanke werkers verteenwoordig het. Die Unionisteparty onder L.S. Jameson was 'n sameflansing van die Engelssprekende partye van Transvaal, Kaapland en die Oranjerivier-kolonie. Eers in November 1911 het die Suid-Afrikaanse Party (SAP) -  formeel tot stand gekom.

Daar was geen belangrike verskil in die beleid van die Unioniste en die regering nie. Vir albei was 'n verenigde Blanke Suid-Afrika noodsaaklik, albei troue ondersteuners van die Britse Ryk-Gemenebes, albei was dit eens dat die "Naturelle-vraagstuk" buite die partypolitiek gehou moet word en albei was ten gunste van Blanke immigrasie en teen dié van Indiërs. Die verskille wat wel bestaan het, het gespruit uit klemverskille ten opsigte van dié sake en uit die perspektiewe en vooroordele van die Blanke taalgroepe. Die regering het die verkiesing met 'n algehele meerderheid van 13 setels gewen.

Ongeveer 14 000 Kleurling- en 6 000 Swart stemgeregtigdes in Kaapland sou hul stem binne die opset van die Blanke politiek uitbring. Indiërs en die oorgrote meerderheid van die Swartes en Kleurlinge - sowat 80 persent van die totale bevolking - het geen regstreekse rol in die stelsel van parlementêre politiek gehad nie, hoewel hulle almal geraak is deur die besluite wat binne dié stelsel geneem is.

In Januarie 1912 het die inisiatief van die prokureur Pixley ka Izaka Seme gelei tot die stigting in Bloemfontein van die South African Native National Congress (sedert 1923 bekend as die African National Congress of ANC). J.T. Jabavu, tot in daardie stadium een van die invloedrykste Swart leiers, het inApril 1921 sy eie South African Races Congress gestig om kontak met Blanke politici te behou. Gandhi het aan die einde van 1910 na Suid-Afrika teruggekeer. In sy afwesigheid het die lydelike versetbeweging onder die Indiërs momentum verloor, maar hy het die gebruik van Tolstoy Farm buite Johannesburg gekry (dit was gewy aan die opvattings van die Russiese skrywer en denker Leo Tolstoi), en dit het die sentrum van die volgende fase van satjagraha geword.

Binne die Unie, 1910-1914

In Mei 1912 het 'n aankondiging oor spoorweguitbreidings deur die minister van Spoorweë en Hawens, J.W.. Sauer, sonder om dit na die kabinet te verwys, gelei tot die bedanking van die Transvaler H.C. Hull, wie se Departement van Finansies regstreeks daarby betrokke was. Die gevolglike kabinetskommeling het die regering waarskynlik verswak, maar nog ernstiger was die verskille tussen die versoeningsbeleid van die Transvaler Louis Botha en die beskerming van die Afrikaner wat deur die Vrystater J.B.M. Hertzog voorgestaan is. Daar was 'n aansienlike meningsverskil tussen hulle oor sake soos taal, opvoeding, algemene verhoudings tussen die twee Blanke groepe, Blanke immigrasie en die band met die Britse Gemenebes.

Die finale breuk het gekom ná Hertzog se toesprake in Oktober 1912 by Nylstroom en in Desember 1912 by Smithfield en De Wildt, toe hy na sekere Engelssprekende leiers in Suid-Afrika verwys het as "vreemde fortuinsoekers" en twee afsonderlike strome vir die ontwikkeling van die twee Blanke groepe voorgestaan het. Hy het dit ook gestel dat "Suid-Afrika vir die Afrikaner" is. Eers later het hy verduidelik dat dié benaming bedoel was om diegene aan te dui wat die Unie as hul land aanvaar. Sy slagspreuk "Suid-Afrika eerste" het die Unioniste en sommige Engelssprekende regeringsondersteuners ontstel, maar dit was mmoeilik vir Botha en sy volgelinge om te ontken dat die belange van die Unie inderdaad voorkeur moes geniet bo dié van die Britse Ryk. Natalse verontwaardiging oor Hertzog se verklarings is verpersoonlik deur die bedanking van kol. G. Leuchars uit die kabinet. Botha het tevergeerfs probeer om Hertzog oor te haal om te bedank, en het toe op 14 Desember 1912 sy eie bedanking ingedien. Hy is egter deur Gladstone gevra om 'n nuwe kabinet saam te stel, waaruit hy sowel Hertzog as Leuchars weggelaat het.

Die Afrikaners was oënskynlik verseker van 'n getalle-oorheersing van die Blanke bevolking, maar nogtans het baie van hulle onseker en onvergenoeg gevoel en geglo dat hulle verwerp word deur 'n regering wat sogenaamd hul eie was. Deur hulle tot samewerking binne die Gemenebes en konsiliasie teenoor Engelssprekendes te verbind, was Botha en Smuts waarskynlik in die eerste plek gemotiveer deur die geloof dat die belange van die Unie en sy Blanke inwoners só die beste bevorder kon word. Dit ly egter min twyfel dat ware versoening afgehang het van 'n bereidwilligheid aan die kant van die Engelssprekende gemeenskap om sy oorheersing van die openbare en handelsektor te verminder.

Hertzog se direkte bepleiting van Afrikanerbelange was opreg, maar dikwels opsetlik uittartend, en in sy vertroue op die steun van sy eie groep het hy min agting getoon vir sy party se delikate posisie ten opsigte van die Engelssprekendes. Hoewel geen minister Hertzog se kant gekies het nie, en slegs 'n handvol Volksraadslede, het openbare vergaderings en partykongresse die omvang van sy steun onder die breë publiek getoon. Die Nasionale Party van die Vrystaat is in Julie 1914 gestig, die Transvaalse Nasionale Party die maand daarna, en dié van Natal en Kaapland in onderskeidelik Augustus en September 1915.

--- --- ---

Die staking van 1913

Die staking van Mei tot Julie 1913 het by die New Kleinfontein-myn naby Benoni ontstaan ná verset van Blanke ondergrondse werkers teen die gewysigde werktye wat 'n nuwe bestuurder ingevoer het. Die skynbaar onbenullige sake wat tot die staking gelei het, was aanduidings van groot ontevredenheid oor kwessies soos die bestuur se versuim om met die arbeidsmag oorleg te pleeg en die voorkoms van meintering, vererger deur lang ure ondergronds en ontoereikende veiligheidsmaatreëls.  Die vrees vir verdringing deur goedkoper Swart arbeid, wat in 1922 beslissend sou wees, was in 1913 nie 'n sentrale strydpunt nie, hoewel dit nie heeltemal afwesig was nie.

Teen Julie 1913 het 19 000 Blanke werkers by alle goudmyne aan die Witwatersrand asook 'n aantal kragsentrales gestaak. Die gebruik van stakingsverbrekers ("onderkruipers") het gelei tot toenemende gewelddadigheid en ingryping deur die regering. Die Unie-Verdedigingsmag was nog nie goed genoeg georganiseer om beskerming teen die toenemende militansie te verskaf nie, en Smuts het die Goewerneur-generaal op 30 Junie 1913 om troepe van die imperiale garnisoen gevra om die orde aan die Witwatersrand te help handhaaf. Die versoek is toegestaan, maar geweld het nogtans toegeneem nadat Smuts 'n openbare byeenkoms in Johannesburg op 4 Julie verbied het. Die volgende dag het straatbendes die kantoor van The Star en die Johannesburgse stasie aan die brand gesteek en die Corner House en die Rand Club probeer aanval. Troepe het op die skare geskiet en ten minste 21 mense is gedood. Botha en Smuts, wat hul hoofkwartier in die Carlton-Hotel in die stad gehad het, het ingewillig tot die eise van die Federasie van Vakbonde dat die stakers in hul werk herstel en 'n regterlike ondersoek na hul griewe onderneem sal word. Die menigte is uitmekaar, maar vir die res van 1913 het arbeidsonrus nie heeltemal bedaar nie.

--- --- ---

Die staking van 1914

Teen die einde van 1913 is spoorwegwerkers as besuinigingsmaatreël deur die regering afgedank. 'n Hoofsekretaris van hul unie, H.J. Poutsma, het 'ns taking vir 8 Januarie 1914 uitgeroep, en ses dae later het die Federasie van Vakbonde gevolg met 'n algemene staking. Smuts het vinnig toegeslaan. Eenhede van die Unie-Verdedigingsmag, wat intussen behoorlik georganiseer was, is op 10 Januarie gemobiliseer, en krygswet is ingestel. Koos de la Rey en sy kommando het hul gewere op die Trades Hall gerig. Stakerleiers is gedwing om hulle oor te gee, en baie mense - met inbegrip van Volksraadslede soos T. Boydell en F.H.P. Creswell, twee toekomstige ministers - is in hegtenis geneem. Sowat tien dae nadat dit begin het, is die staking onderdruk met die verlies van slegs twee lewens. Smuts het Poutsma en agt ander stakerleiers van vreemde herkoms na Europa laat deporteer.

--- --- ---

Voor die stigting van die Nasionale Party het die regering waarskynlik die grootste parlementêre teenstand ondervind van die handvol Arbeiders. Buite die Parlement is die regering swaar op die proef gestel deur die stakings van 1913 en 1914. Die probleem van diep, laegraadse gouderts, die finansiële beperking van 'n internasionaal vasgestelde goudprys (tot die Eerste Wêreldoorlog £4-4s-11/12d per fyn ons) en die Suid-Afrikaanse verskynsel van 'n Blanke arbeidsaristokrasie het aan die stryd 'n besondere patroon verleen.

Die leiers van die Transvaalse Mynwerkersunie (wat n á die staking van 1913 tot die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie herdoop sou word) en van die oorkoepelende Transvaalse Federasie van Vakbonde (bekend as die Federasie) was nog altyd immigrante. Die myne het egter al hoe meer gebore Suid-Afrikaners, veral Afrikaanssprekendes (sommige van wie in 1907 as stakingsverbrekers gebruik is), gewerf.

Hoewel vakbonde eers in 1924 amptelik erken is, het lidmaatskap toegeneem. Nuwe vakbonde het ook in die nasleep van die stakings van 1913 en 1914 tot stand gekom. In Maart 1914 het die Arbeidersparty 'n meerderheid van een setel in die Transvaalse Provinsiale Raad behaal en tydens die parlementsitting van 1914 het die regering die Ongevallewet ingedien, wat aan sekere eise van Blanke werkers toegegee het.

In dié tyd is daar ook ten bate van die Blanke landbousektor  wetgewing ingedien. Die stigting van die Landbank van Suid-Afrika in Oktober 1912 het spesiale voorsiening vir krediet aan boere gemaak. Die ekonoom Francis Wilson beskou die verstewiging van tradisionele regeringsinmengin in landb ou as die belangrikste gevolg hiervan, met die uitwerking dat boere "toenemend na die staat gekyk het om hul probleme op te los".

Daar is gehoop dat unifikasie rasseverhoudings sou verbeter. Die verkiesing van Walter Rubusana* tot lid van die Kaapse Provinsiale Raad het dit ook laat lyk asof Swartes in die nuwe politieke arena nie noodwendig blote politieke pionne in die hande van Blankes sou hoef te wees nie. *Inligting oor hom later verder

Soos in die verlede is "Naturellebeleid" egter dikwels deur die ekonomiese eise van die Blankes (veral met betrekking tot arbeid en grond) en hul vrese en vooroordele bepaal, eerder as deur die behoeftes van die Swartes self. Die houding van Blankes was ' n vermenging van onsekerheid en geloof in die minderwaardigheid van die Swartman. Sulke houdings was algemeen onder die Blankes wat in die tweede dekade van die 20ste eeu in ander dele van Afrika by die bestuur van kolonies betrokke was, en in Suid-Afrika kon dit nouliks anders wees.

Louis Botha se toekomsblik, wat hy in 1912 privaat geskets het, stem in breë trekke ooreen met die programme van "afsonderlike ontwikkeling" en "tuislande" van later jare. Volgens hom sou dit die beste wees as Swartes - "natuurlik onder beheer van die Unieregering" - politieke regte verkry in hul eie afsonderlike gebiede in die Transkei, Zululand, die Soutpansberg en die bestaande hoëkommissaris-gebiede Basotholand en Swaziland. Dit was egter 'n deel in die verre toekoms. In werklikheid was die wette wat die posisie van Swartes voor 1914 in die Unie gereël het, nie so omvattend of onbuigsaam as dié van die era van apartheid ná 1948 nie. Ondanks aandrang van die publiek is huwelik of geslagsverkeer oor die kleurskeidslyn bv. nie verbied nie. Desondanks was Botha se "Naturellebeleid" op segregasie en diskriminasie gegrond.

Regulasies ingevolge die Mijnen en Bedrijven Wet van 1911 het werkafbakening ingestel deur geskoolde arbeid tot Blankes te beperk. Die Naturelle-arbeid Regelings Wet van 1911 het bepaal dat aan Swart slagoffers van nywerheidsongevalle minder vergoeding betaal word as aan Blankes, en dat Swartes in die tradisie van die meester-en-diensbode-wetgewing van die 19de eeu krimineel strafbaar is vir arbeidskontrakbreuk en stakings. Die Zuid-Afrika Verdedigings Wet van 1912 het bepaal dat net Blanke mans dienspligtig is. Die min derwaardige posisie van Swartes in die Unie is nog verder onderstreep deur die Paswette, wat hul vryheid van beweging beperk het. Die heftigste Swart reaksie voor 1914 was egter op die Naturellen Grond Wet van 1913. (Meer inligting hieroor lateraan)

Swart mynwerkers aan die Witwatersrand het in Julie 1913 gestaak en so ook Swart arbeiders by die Jagersfontein-diamantmyn in die Vrystaat nadat een van hulle in Januarie deur 'n Blanke gedood is. Die historikus Charles van Onselen het die misdade van die Swart bendes Nineviete, wat in die middel van 1912 hul toppunt bereik het, beskou as 'n ander vorm van weerstand teen 'n staat wat deur Blankes oorheers is, in 'n tyd voor die politiek bewuste lede van die Swart elite die SANNC gestig het.

Voor die Eerste Wêreldoorlog was die reaksie van die SANNC onder Dube vreedsame protes in die vorm van versoekskrifte en afvaardigings. Versoekskrifte aan en gesprekke met Botha en met die Britse regering in Londen het egter geen wysiging van die Natuerllen Grond Wet of enige ander vorm van wetlike belemmering teweeggebring nie.

--- --- ---

Die Naturellen Grond Wet (no. 27 van 1913)

In die middel van 1912 het Hertzog begin om die Naturellen Grond Wetsontwerp op te stel. Ná sy weglating uit die kabinet is dit deur die Parlement geloods deur J.W. Sauer, wat vroeë as liberaal beskou is.

Swart bewoning is tot ongeveer 9 miljoen ha grond (minder as 8 persent van die land se oppervlakte) beperk, met die belofte van meer in die toekoms. Kaapland is hiervan uitgesluit, aangesien die toepassing van die wet op dié provinsie afbreuk sou doen aan die Swart stemreg wat in die Suid-Afrika-wet verskans is. In die Vrystaat, waar soortgelyke voorsieninge reeds veronderstel was om in werking te wees, het hierdie wet aanleiding gegee tot die uitsetting van Swart plakkers op Blanke plase (soos in ander provinsies gebeur het) of hul omskepping in arbeiders.

Sol Plaatje het geskryf dat dié wet die Swartman van Suid-Afrika "nie werklik 'n slaaf, maar 'n verstoteling in die land van sy geboorte" gemaak het, terwyl J.L. Dube geglo het dat dit in die eerste plek bedoel was om die Swartes op die Blankes se voorwaardes in Blanke diens te dwing.

Moderne historici het die aandag gevestig op die verbod op die aankoop van grond deur Swartes in "Blanke" gebiede en op die afbakening van "Naturelle-reservate", maar hulle beklemtoon ook die betekenis van Dube se vertolking.

--- --- ---

W.B. Rubusana (1858-1936)

Walter Benson Rubusana is in die distrik Somerset-Oos gebore, by Lovedale opgelei en as predikant van die Kongregasionalistiese Kerk georden. Hy het in 1904 na  Londen gegaan om toesig te hou oor die druk van 'n hersiene Xhosa-Bybel, wat hy help vertaal het. Ses jaar vroeër was hy betrokke by die oprigting van die koerant Izwi Labantu (Die Stem van die Volk") in Oos-Londen. Sy Zemka Inkomo Magwalandini ("Daar gaan jul vee, lafaards"), 'n versameling spreekwoorde, word as 'n klassieke werk beskou en is in 1911 en weer in 1964 herdruk. Hy was ook die skrywer van The History of South Africa from the Native Standpoint.

Rubusana was voorsitter van die South African Native National Convention  en lid van die afvaardiging wat in 1909 onder Schreiner na Londen gegaan het. Hy is die enigste Swartman wat ooit lid van 'n Provinsiale Raad geword het.

J.L. Jabavu en Rubusana het in 1911 die Universal Races Congress in Londen bygewoon, maar later het hul weë uitmekaar gegaan. Deur in die provinsiale verkiesing in Tembuland in 1914 as derde kandidaat te staan, het Jabavu die Swart stem verdeel, en die Unioniste-kandidaat, A.D.B. Payne, het die setel verower. Rubusana het gehelp om in 1912 die SANNC te stig en was lid van die afvaardiging wat in 1914 na Londen gegaan het om teen die Naturellen Grond Wet protes aan te teken.

--- ---

Bande en strewe na buite, 1910-1914: buurstate, dominiumstatus en die wêreldkrisis

Voor 1914 het die imperiale owerheid vertoë deur die Unie-regering vir die oordrag van Swaziland en Betsjoeanaland afgeweer. Voor uniewording is die moontlike aankoop van Suid-Rhodesië van die British South African Company deur Botha en ander leiers bespreek, maar hul aanbod van £20 miljoen is van die hand gewys. Gedurende die eerste jare van Unie het die onderstroom van gevoelens teen aansluiting by die Unie wat reeds onder die Rhodesiese setlaars bestaan het, egter sterker geword, en in 1914 is die Company se oktrooi met nog tien jaar hernieu.

Die magte en beperkings van die Unie van Suid-Afrika was dieselfde as dié van die ander dominiums, die selfregerende state binne die Britse Ryk-Gemenebes, nl. Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Newfoundland. Die Britse regering het die soewereiniteit van die dominium-regering in die interne sake van hul eie lande streng eerbiedig, maar in buitelandsde sake en verdedigingsbeleid was die dominiums nog duidelik ondergeskik aan die Verenigde Koninkryk. Tydens die Rykskonferensie van 1911 het alle afgevaardigdes aanvaar dat, indien Brittanje oorlog sou verklaar, die dominiums outomaties ook in oorlog sou verkeer. Die Kanadees Laurier het egter aangedring op 'n byvoeging wat nie verwerp is nie, nl. dat die dominium-regerings self kon besluit oor die mate van hul deelname.

Met die Verdedigings Wet van 1912  het die Suid-Afrikaanse regering 'n belangrike stap gedoen in die rigting van verantwoordelikheid vir sy eie plaaslike verdediging en die lewering van 'n wesenlike bydrae tot imperiale verdediging. Die totstandkokming van die Unie se eerste verdedigingsmag was een rede waarom die aantal imperiale troepe in Suid-Afrika nog verder verminder is. 'n Ander was verontwaardiging oor "die skiet van werkers in opdrag van 'n  Boere-regering", soos die gebeure van 1913 in sekere Britse kringe vertolk is.

Suid-Afrika was die enigste deel van die Ryk-Gemenebes wat regstreeks aan 'n Duitse besitting gegrens het. Die verhouding tussen die Unike-regering en sy Duitse bure was korrek, maar nie hartlik nie. Ná 1910, en veral ná die totstandkoming van die Unie-Verdedigingsmag, was die gevoel in Britse militêre kringe dat Suid-Afrika enige Duitse aggressie oor die Oranje kon hanteer. Offensiewe operasies teen Duits-Suidwes-Afrika is deur komitees van die Britse Departement van Oorlog bespreek, maar nòg in 1911 (soos Suid-Afrikaanse Nasionaliste later beweer het) nòg in enige ander stadium voor die oorlog is daar in Suid-Afrika of Brittanje definitiewe planne vir so 'n aanval opgestel.

Op 4 Augustus 1914 het die Britse ultimatum aan Duitsland verstryk, en die Unie van Suid-Afrika het, soos die res van die Britse Ryk, outomaties in oorlog verkeer. Die Suid-Afrikaanse regering het onmiddellik aangebied om die verpligtinge van die imperiale garnisoen in die Unie oor te neem. Die Britse regering het gevra dat Suid-Afrikaanse troepe Swakopmund en Lüderitzbucht beset en die radiostasies verder in die binneland van Duits-Suidwes-Afrika in beslag neem. Daar is ook gestipuleer dat alle grondgebied wat beset word, tot die beskikking van Brittanje moes staan vir 'n uiteindelike ooreenkoms ná die oorlog. Aanvanklik was die Suid-Afrikaanse kabinet verdeeld oor die inval in Duits-Suidwes-Afrika. Op 10 Augustus 1914 het hulle egter daartoe ingestem, en die Britse regering is hiervan ink ennis gestel. Die Parlement is byeengeroep vir 'n spesiale sitting op 9 September, en die volgende dag is die mosie ten gunste van militêre optrede teen Duits-Suidwes-Afrika met 'n meerderheid van 91 stemme teen 12 aangeneem, en in die Senaat met 24 stemme teen 5. Net Hertzog en sy volgelinge het daarteen gestem.

Gewapende protes, rebellie of burgeroorlog?

Op 9 Oktober 1914 het S.G. (Manie) Maritz, 'n luitenant-kolonel in die Unie-Verdedigingsmag in bevel van dié deel van Noordwes-Kaapland wat aan Duits-Suidwes-Afrika grens, met meer as 1 000 soldate van die burgermag (en sestig van sy eie troepe as gevangenes) die grens oorgesteek en by die vyand gaan aansluit. Onder die Afrikaners het 'n gewapende protes of rebellie uitgebreek met baie van die kenmerke van 'n burgeroorlog. Die onmiddellike aanleiding was die Parlement se besluit om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, maar die werklike oorsaak kan tot 1902 teruggevoer word.

Baie Afrikaners het steeds na hul verlore onafhanklikhjeid gehunker. Bowendien het sekere vooraanstaande Boere beweer dat 'n aantal bittereinders in 1902 by Vereeniging vir vrede te vinde was net omdat daar afgespreek is om die stryd weer op te neem sodra Brittanje in 'n ander oorlog verwikkel raak. In 1912 het Maritz, J.C. Kemp en ander voormalige Boeregeneraals en -kommandante die moontlikheid bespreek om hul posisie in die Verdedigingsmag te gebruik om die republieke te herstel as die geleentheid hom voordoen.

Daar was ook ander griewe. Die Vrystaters het afgeskeep gevoel, veral ná Hertzog se weglating uit die kabinet. Doé provinsie is swaar deur droogte geknel, en die grootste steun vir die Rebellie het uit die geteisterde Noordoos-Vrystaat en die arm Wes-Transvaal gekom.

Wat ook al die redes mag wees waarom die gewone rebelle tot geweld oorgegaan het, sou daar waarskynlik geen rebellie gewees het nie sonder die leiding van o.a. C.R. de Wet in die Noordoos-Vrystaat., De la Rey en Kemp in Wes-Transvaal en Maritz in Noordwes-Kaapland - invloedryke figure wat in dié streke waar die opstand die heftigste was, die grootste aanhang geniet het.

Die eerste ernstige tekens van misnoeë, wat in die middel van Augustus 1914 in Wes-Transvbaal voorgekom het, is aangestig deur die gerespekteerde genl. J.H. de la Rey, 'n genoemde senator. De la Rey was diep geïmponeer deur die visioene van Niklaas ("Siener") van Rensburg in die distrik Lydenburg van 'n stryd tussen 'n grys bul (Duitsland) en 'n rooi bul (Brittanje), wat deur die grys bul gewen word. Ook het hy die nommer 15 gesien op 'n donker wolk waaruit bloed vloei, en d aarna De la Rey sonder hoed, gevolg deur 'n rytuig bedek met blomme - wat as 'n komende triomf vir De la Rey vertolk is. Botha en Smuts het die ou generaal egter na Pretoria ontbied, en die vergadering wat hy op 15 Augustus by Treurfontein toegespreek het, het sonder insidente verloop.

In die middel van Augustus en daarna was Maritz, De la Rey, Beyers (die kommandant-generaal van die Unie-Verdedigingsmag, wat van die komende inval in Duits-Suidwes-Afrika op die hoogte was), De Wet en Kemp met mekaar in verbinding. In breë trekke is 'n staatsgreep met brandpunte aan die grens van Duits-Suidwes-Afrika, in die Vrystaat en in Potchefstroom bespreek. Ná sy terugkeer na sy hoofkwartier het Maritz met die Duitsers in verbinding getree en gereël dat Beyers na die grens sal kom om goewerneur Seitz te ontmoet. De la Rey sou die troepe in die militêre kamp by Potchefswtroom, waar Kemp in bevel was, toespreek. Ná die spesiale sitting van die Parlement  het Beyers, wat blykbaar geaarsel het, besluit om as kommandant-generaal te bedank, en Kemp het ook sy offisiersrand neergelê.

Seitz het tevergeefs na die grens gekom, en Maritz was blykbaar nie bewus van die ontwikkelinge in Transvaal nie. Op die aand van 15 September 1914 het De la Rey, wat na Pretoria gekom het, Beyers blykbaar oorgehaal oms aam met hom na Potchefstroom te gaan. Op pad daarheen is De la Rey deur die polisie by Langlaagte naby Johannesburg doodgeskiet toe hul motor deur 'n padversperring gejaag het. Daar is min twyfel dat dit 'n vergissing was: die polisie het De la Rey en  Beyers vir lede van die berugte Fosterbende aangesien.

Volgens Kemp en ander offisiere wat in Potchefstroom op De la Rey gewag het, sou sy aankoms die teken vir die aanvang van die Rebellie wees. Kemp het vroeg die oggend van 16 September van De la Rey se dood verneem. In sy herinnerings het hy geskryf: "Om twee-uur voormiddag van 16 September 1914 was die hele Rebellie op 'n end."

Planne in die Vrystaat en Wes-Transvaal is uitgestel, en aan die grens het Maritz en die Duitsers onbegrypend gewag. By De la Rey se begrafnis het die gevoelens hoog geloop. Beyers het aangekondig dat hy geen rebellie beoog het nie. Protesvergaderings het plaasgevind en mosies is aangeneem wat die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika veroordeel. Vir die eerste keer het Botha beklemtoon dat slegs vrywilligers vir die inval gebruik sou word.

Skaars was dié versekering gegee of Maritz is deur Smuts beveel om met sy troepemag (wat nie uit vrywilligers bestaan het nie) oor die grens op te ruk. Smuts en Botha het later verklaar dat dit gedoen is om Maritz (oor wie daar gerugte in omloop was) te dwing om sy ware gedaante te toon. Sy aanbod van bedanking is van die hand gewys en op 9 Oktober het hy gerebelleer, nadat hy verneem het dat regeringstroepe op pad na Upington is.

Op 11 Oktober 1914 het die regering krygswet afgekondig en manskappe begin opkommandeer om die Rebellie te onderdruk. Beyers het van Pretoria na die Magaliesberg vertrek, waar groepies burgers by hom aangesluit het. Sommige van dié wat opgekommandeer is, het geweier om te gehoorsaam, en teen 27 Oktober het rebelle wat deur De Wet besiel is, dorpe in die Noordoos-Vrystaat beset, beslag op eiendom gelê en skade aangerig. Dieselfde dag is Beyers se kommando deur regeringstroepe verdryf en het daar skermutselings plaasgevind.

Op 7 November was De Wet by Sandrivier in 'n heweige skermutseling betrokke en is sy seun gedood. Botha se pogings om oud-president Steyn as bemiddelaar te gebruik, het misluk vanweë wantroue aan die kant van sowel die rebelle as die regering en die groeiende bitterheid. Die geweld het toegeneem. De Wet het Winburg beset, waar sy kommando volgens die magistraat opgetree het asdof dit 'n "oorlogsmag op vyandelike gebied" was. Botha het persoonlik bevel aanvaar en op 11 November het hy De Wet op die plaas Mushroom Valley suidoos van Winburg verslaan, hoewel De Wet en die grootste deel van sy mag ontsnap het. Hulle is agtervolg en op 1 Desember op die plaas Waterbury naby Vryburg gedwing om oor te gee.

'n Week later is Beyers se kommando aan die owers van die Vaal suid van Makwassie vasgekeer. Terwyl hy te perd deur die rivier probeer kom het, het Beyers onder die water verdwyn. Aan sy lyk kon geen koeëlwonde gevind word nie en daar word vermoed dat hy aan 'n hartaanval beswyk het.

Maritz kon nie daarin slaag om in Noordwes-Kaapland rebellie aan te stig nie en is tydens 'n aanval op Keimoes op 22 Oktober in die knie gewond. Op 26 November het Kemp met sowat 600 man by hom aangesluit, ná 'n epiese mars uit die distrik Schweizer-Reneke. Op 16 Desember het dié twee rebelle-leiers 'n manifes uitgevaardig waarin hulle 'n republiek uitroep, en vyf dae later het hulle by Nous 'n oorwinning behaal. Nadat hulle op 24 Januarie 1915 deur genl. Jaap van Deventer teruggedrywe is, het hulle ingestem om oor te gee. Kemp is gevange geneem, maar Maritz het na Windhoek teruggekeer en daarvandaan na Angola gegaan.

Die laaste stuiptrekkings van die Rebellie in Transvaal was hewig. In November en vroeg in Desember 1914 het hardnekkige groepies onder J.J. Pienaar (wat heelwat later administrateur van Transvaal sou word) en Jopie Fourie regeringstroepe by Warmbad en Rondefontein, naby Hammanskraal, swaar verliese besorg. Op 15 Desember 1914 is die grootste deel van die mag, met inbegrip van Fourie, op die plaas Nooitgedacht gevange geneem.

Fourie is voor 'n krygsraad gedaag omdat hy by die rebelle aangesluit het sonder om uit die Aktiewe Burgermag te bedank. Hy is skuldig bevind en op 20 Desember deur 'n vuurpeloton tereggestel. Fourie word in sommige kringe as die martelaar van die Rebellie beskou, en Smuts is veral vir sy dood verwyt. In die kontreks van krygswet was sy teregstelling moontlik geregverdig, maar dit was byna sekerlik 'n politieke fout.

Meer as 11 400 man het gerebelleer. Die regering het 32 000 troepe ingeroep om die opstand te onderdruk. Aan die kant van die rebelle is 190 man gedood en aan regeringskant 132. Spesiale howe het die gewone rebelle tot boetes en kort termyne in die gevangenis gevonnis. Van die leiers het Kemp die swaarste vonnis gekry, nl. sewe jaar gevangenisstraf en 'n boete van £1 000. De Wet is tot ses jaar en £2 000  gevonnis. Voor die einde van 1916 is alle rebelle egter vrygelaat. Maritz het eers in die begin van 1924 na die Unie teruggekeer en is toe verhoor tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis; 'n paar maande later het die nuwe Pakt-regering  (waarin sy mede-rebel Kemp as minister gedien het) hom vrygelaat.

Ander gevolge van die Wêreldoorlog en binnelandse strominge, 1914-1919

Op 18 September 1914, voor Maritz se verraad, het Unietroepe by Lüderitzbucht aan wal gestap en is die troepe van brig.-genl. H.T. Lukin, wat op 1 September reeds by Port Nolloth ontskeep is, by Sandfontein gestuit. Die onderdrukking van die Rebellie het toe nog voorkeur geniet, maar daarna het 'n Suid-Afrikaanse mag van meer as 40 000man Duits-Suidwes-Afrika binnegeval. Louis Botha was steeds premier én opperbevelvoerder.

Op 6 Mei 1915 het Botha Karibib beset en ses dae later Windhoek binnegrek. Die stratiese goel van die veldtog is bereik toe die radiostasies buite werking gestel is. Goewerneur Seitz se voorstel dat vyandelikhede nou gestaak word, die twee militêre magte in besit bly van die gebiede wat hulle beset en dat die toekoms van die kolonie tydens die vredeskonferensie beslis word, is egter verwerp. Minder as 'n maand later, op 9 Julie 1915, is die Duitse bevelvoerder Franke deur die voortgesette opmars en omvleuelingsbeweging van die Suid-Afrikiaanse kolonnes gedwing om by Korab oor te gee.

Die verowering van Duits-Suidwes-Afrika is as 'n groot oorwinning begroet in 'n tyd toe die Geallieerdes elders min sukses gehad het. Vandag word die geweldige getalle-oormag van die Suid-Afrikaanse leër egter erken. Daar was ook onbevredigende aspekte van die veldtog: talle flaters, buitensporige uitgawes (meer as £15 miljoen) en wrywing tussen Engels- en Afrikaanssprekende troepe. Nogtans was die verowering van die gebied in minder as ses maande met die verlies van minder as 300 Suid-Afrikaner 'n uitsonderlike prestasie. Vir Suid-Afrika sou die verowering van die Duitse kolonie in die tweede helfte van die 20ste eeu egter verreikende gevolge hê.

Meer as 60 000 Suid-Afrikaners het van Februarie 1916 tot die eidne van die oorlog saam met Indiese, Nigeriese, Oos-Afrikaanse en Britse troepe in die uitgerekte Oos-Afrika-veldtog geveg. Hulle het te staan gekom teen 'n leër van hoofsaaklik Swart askari's onder die sktiterende aanvoering van genl. Paul von Lettow-Vorbeck. Van Februarie 1916  tot Januarie 1917 was Smuts opperbevelvoerder, en J.L. van Deventer vanaf Mei 1917. Meer as 1 500 Suid-Afrikaners het tydens die veldtog gesneuwel of aan siekte beswyk.

Aan die Wesfront in Europa het sterftes in die loopgrawe versterkings noodsaaklik gemaak. Vanaf September 1915 is 'n Suid-Afrikaanse kontingent gewerf wat uitsluitlik uit vrywilligers bestaan het, en deel van die imperiale leër sou uitmaak. Die Eerste Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade onder bevel van brig.-genl. Lukin het in die laaste kwart van 1915 in Brittanje aangekom. Teen die einde van die jaar is die brigade na Egipte gestuur om die Turks-Senoessi-bedreiging aan die Suezkanaal te help onderdruk.

In April 1916 is die brigade na Frankryk gestuur en as deel van die Negende Divisie was dit in Julie betrokke by die verwoede gevegte tydens die Somme-offensief. Die stryd om Delville-bos van 15 tot 20 Julie, toe meer as 750 Suid-Afrikaners gedood en 1 500 gewond is, was die klimaks van die Suid-Afrikaanse deelname aan dié slag. Nadat  hulle versterkings ontvang het, het die Suid-Afrikaanse brigade sy skouspelagtigste opmars tydens die derde slag van Ieperen in September 1917 beleef. Lukin, nou met die rang van generaal-majoor, het die Negende Divisie van Desember 1916 tot Februarie 1918 aangevoer. By Marières-bos het die brigade in Maart 1918 weer swaar verliese gely en twee maande later het hulle die Messines-rant op heldhaftige wyse verdedig. In die laaste stadium van die oorlog was die brigade erg verswak - tot 'n enkele saamgestelde bataljon.

Volgens die amptelike Suid-Afrikaanse oorlogsgeskiedenis is meer as 12 000 Suid-Afrikaners (onder wie meer as 3 000 Swartes en meer as 700 Kleurlinge) op alle oorlogsfronte dood. Nogtans was die Unie se dodetal, en trouens sy bydrae tot die oorlog (gereken in mannekrag en geld) kleiner as dié van die ander dominiums.

In een aspek, nl. die rol van gen. J.C. Smuts, kan die Suid-Afrikaanse bydrae egter uniek genoem word. Geen staatsman van enige ander dominium het só 'n belangrike rol by die sentrale bepaling van inperiale en Geallieerde strategie gespeel as die Unie se minister van Verdediging nie. Tydens die Ryks-oorlogskonferensie in Maart 1917 het hy hernieude pogings teengeswtaan om imperiale federasie deur te druk en 'n konsepbesluit opgestel waarin die status van die dominiums as outonome nasies bevestig is. Hy het die opperbevel in Palestina van die hand gewys, maar op aandrang van die Britse premier, David Lloyd George, in Brittanje aangebly. Hy was 'n waardevolle aanvulling van die eksklusiewe Britse oorlogskabinet van ses man, hoewel sy posisie grondwetlik hoogs ongewoon was aangesien hy nie 'n lid van die Britse Laerhuis was nie. Hy het 'n groot verskeidenheid take verrig en sy skerpsinnigheid is hoog aangeprys.

--- --- ---

In Augustus 1914 het Blanke vrese oor 'n Swart opstand herleef, maar die regering het die Swartmense verseker dat die oorlog hulle nie sou raak nie. Die SANNC het besluit om hul agitasie teen die Naturellen Grond Wet vir die duur van die oorlog te staak. Die aanbod van Swart, Indiër- en Kleurling-organisasies wat troepe vir aktiewe diens wou lewer, is deur die regering van diehand gewys, hoewel 'n klein groepie Kleurlinge wat die gebied goed geken het, 'n rukkie tydens die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika as bewapende verkenners gebruik is. 'n Verdere uitsondering was die bewapening van 'n Kleurling-bataljon, die sg. Kaapse Korps, om in Oos-Afrika te veg. Selfs toe die behoefte aan troepe in die loopgrawe die grootste was, het die Unie-regering geweier om Swartes as gevegstroepe te werf. Tydens die veldtogte in Afrika is ander Suid-Afrikaners as Blankes egter wel as nie-gevegstroepe gebruik. (So het Indiërs bv. as baardraers diens gedoen.)

Die besluit om aan die versoek van die imperiale regering te voldoen en Swart en Kleurlingarbeiders en ander hulpkragte na Frankryk te stuur, i s ook taamlik onwillig gedoen en deur die Nasionaliste, Arbeiders en selfs sommige lede van die SAP as bedenklik beskou. Dieregering het dit taamlik moeilik gevind om manne vir die South African Native Labour Contingent (SANLC) te werf, maar uiteindelik is tog sowat 21 000 man na Europa gestuur, waar hulle ongeveer een kwart van die leër se totale arbeidsmag in Frankryk uitgemaak het. Die lede van die SANLC is in afgeslote kampongs gehuisves, hoofsaaklik uit vrees dat hul kennismaking met 'n vrye lewe in 'n land sonder kleurslagboom met hul terugkeer na Suid-Afrika tot "maatskaplike euwels of probleme" sou kan lei.  Die vlyt en vaardigheid van die SANLC is hoog aangeprys. Die verlies ter see op 21 Februarie 1917 van 615 lede van 'n kontingent van die SANLC op die Mende het die gemoedere van die Swart bevolking meer as enige ander gebeurtenis tydens die Eerste Wêreldoorlog gaande gemaak.

Swartes, Kleurlinge en Indiërs het gehoop dat hul lojaliteit ná die oorlog beloon sou word, en Smuts was van mening dat Blanke Suid-Afrikaners wat in Oos-Afrika langs Indiërs geveg het, hul Indiër-medeburgers in 'n gunstiger lig sou sien. Die meeste Suid-Afrikaners het egter onbewus gebly van dié nuwe dimensie. Smuts en andere was besorg oor die welslae wat Swart soldate behaal het, veral in Oos-Afrika, en het teen die gevolge van die bewapening van Swartes gewaarsku.

--- --- ---

Die ooreenkoms tussen Smuts en Gandhi, 1914

Vir Gandhi en sy volgelinge was lydelike verset (satjagraha) hul belangrikste strategie, en in Oktober 1913 het meer as 2 000 Indiërs onder leiding van Gandhi opsetlik die wet oortree deur van Natal tot in Transvaal te stap. Die satjagrahi's is in hegtenis geneem en saamgebondel in kampongs. Nog duisende Indiërs was bereid om hul voorbeeld te volg en op die suikerplantasies het al meer arbeiders geweier om te werk. Die protes en die onderdrukking daarvan is algaande deur geweld gekenmerk. Gandhi is tot meer as 'n jaar gevangenisstraf veroordeel. Die imperiale owerheid was voor 'n dilemma: hulle wou hulle nie in die sake van 'n selfregerende staat inmeng nie, maar hulle was bewus dat die protes in Indië met aandag dopgehou is.

Lord Hardinge, die onderkoning van Indië, het openlik met Gandhi en sy volgelinge gesimpatiseer. Onder sterk druk het die Unie-regering Gandhi onvoorwaardelik vrygestel en 'n Indiër Ondersoek Kommissie aangestel. Smuts, wat toe minister van Binnelandse Sake was, is deur sy vriendin Emily Hobyhouse oorreed om tegemoetkomend op te tree. Die Indiërs Verlichting Wet van 1914 het sommige van die omstrede wetloike belemmerings getemper: die belasting van £3 wat Indiërs moes betaal indien hulle ná afloop van hul kontraktyd in Natal wou aanbly, is afgeskaf. en die geldigheid van Indiër-huwelike is vir immigrasiedoeleindes erken.

Toe Gandhi Suid-Afrika verlaat, was hy tevrede met wat hy beskou het as die eerste stappe tot die volle bevryding van Indiërs in Suid-Afrika. Indiërs is egter nog steeds verbied om in die Vrystaat te woon ('n beperking wat tot in die middel-tagtigerjare van krag sou bly) en hulle was nog altyd sonder politieke verteenwoordiging.

Maureen Swan is van mening dat Gandhi se leiding in Suid-Afrikaanse sake oorskat is omdat hy hoofsaaklik die boonste vlakke van die Indiër-gemeenskap verteenwoordig het en 'n selektiewe hervormingskampanje gevoer het - hoewel die ingeboekte arbeiders kortstondig met satjagraha vereenselwig is.

--- --- ---

'n Kommissie onder sir William Beaumont wat aangestel is om die toewysing van nog grond ingevolge die Naturellen Grond Wet van 1913 te ondersoek, het in 1916 sy verslag voorgelê en hierna is 'n wetsontwerp vir die administrasie van Naturellesake opgestel wat gebiedskeiding verder moes voer en 'n globale oplossing vir die "Naturelleprobleem" probeer vind. Die we4tsontwerp is later teruggetrek, aangesien die toekenning van spesifieke bykomende aangewese gebiede deur gevestigde belange bemoeilik is en bowendien het die howe beslis dat die wetsontwerp, wat die verskanste stemreg van sekere Swartes in Kaapland sou raak, nie op daardie provinsie van toepassing was tensy 'n meerderheid van twee derdes in albei huise verkry word nie.

Die Blanke politiek was tydens die oorlogsjare stormagtig. Die invloed van die Arbeidersparty, wat voor Augustus 1914 verder toegeneem het, het skerp gedaal. Hertzog was teen geweld gekant, maar tog nie bereid om die Rebellie openlik af te keur nie. Die Nasionale Party se kritiek op die regering se oorlogsbeleid het algemene steun onder die Afrikaners geniet.Die oprigting van die Nasionale Pers in Kaapstad en die verskyning van De Burger in Julie 1915, met dr. D.F. Malan as redakteur, het die Nasionaliste se saak versterk. Die Unioniste het die regering se standpunt oor die oorlog en sy onderdrukking van die Rebelllie gesteun, maar terselfdertyd het die SAP se lojale steun aan Brittanje die Unioniste so te sê sy bestaansrede ontneem. Dit is byna seker dat die SAP ná Augustus 1914 Afrikanersteun verloor het, hoewel heelwat van dié steun waarskynlik reeds sedert die breuk met Hertzog twyfelagtig was.

Smuts, wat tydens Botha se afwesigheid in Duits-Suidwes-Afrika in beheer was, het dit oorweeg omd ie algemene verkiesing wat aan die einde van 1915 moes plaasvind, uit te stel, of selfs die Britse voorbeeld te volg deur geen verkiesing te hou tydens die oorlog nie, maar die Unie se tweede algemene verkiesing is tog op 20 Oktober 1915 gehou. Die SAP het 'n ooreenkoms met die Unioniste aangegaan om te voorkom dat die pro-oorlogstem in sekere kiesafdelings verdeel word en het 14 setels meer as die Unioniste en 27 setels meer as die Nasioinaliste verwerf.

Die nuwe regering is nadelig geraak deur Smuts se lang afwesighede as gevolg van imperiale verpligtinge. Botha se gesondheid het intussen agteruitgegaan en sonder en sonder die steun van sy optimistiese luitenant was hy geneig om in ernstigste depressie te verval.

--- --- ---

Louis Botha (1862-1919)

Louis Botha is in die distrik Greyttown in Natal gebore en het skaars twee jaar formele skoolopelding ontvang. In 1886 is hy getroud met Annie Emmett, 'n Engelssprekende vrou van Ierse afkoms en op 34 is hy tot die Transvaalse Volksraad verkies.

Tydens die Tweede Anglo-boereoorlog het botha - moontlik die Boere se begaafdste veldheer - wêreldberoemd geword, veral ná sy oorwinnings by Colenso en Spioenkop. In Maart 1900 het hy P.J. Joubert as kommandant-generaal van die Transvaalse magte opgevolg. Hy het in Februarie 1901 met Kitchener op Middelburg oor vrede onderhandel, maar die Britse voorstelle verwerp. Teen Mei 1902 het hy egter besef dat verdere weerstand sinloos was.

As gevolg van sy aantreklike voorkoms en persoonlikheid en sy voortreflike oorlogsrekord het Botha ná die oorlog 'n leiersfiguur onder die Transvaalse Boere geword, terwyl sy gematigdheid hom ook vir die Britse owerheid aanvaarbaar gemaak het.

Hy was besonder gevoelig vir kritiek en ná 1914 het sy gesondheid ernstig verswak. Hy het swaar op die intellek en administratiewe talent van Smuts staatgemaak, maar selfstandig gebly, met uitgesproke eie menigns en die moed van sy oortuigings. Sy peternalistiese rassebeleid van segregasie was tipies van sy tyd en agtergrond. Hy het sterk geglo dat Engels- en Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika tot 'n nasie saamgesmee moet word, en hy was ten gunste van die uitbreiding van die Unie se grense.

Hy was nie altyd doeltreffend in die Parlement, die koukus en die kabinet nie. Die Nasionaliste was van mening dat hy deur die Britse Ryk verblind is, en sy gretigheid om die Engelssprekende groe3p tevrede te stel, het hy moontlik nie genoeg waarde aan die Afrikaanse kulturele en politieke strewe geheg nie.

Die meeste Britse politici het hom hooggeskat. Smuts het hom 'n "prins onder manne" genoem. Buxton het hom as 'n held vereer. Volgens 'n teenstander, Patrick Duncan,  het hy 'n "persoonlike magnetisme gehad wat jou dwing om hom te vertrou, selfs wanneer jy di dinge wat hy vir jou sê, nie kan aanvaar nie".

--- --- ---

Met die uitbreek van die oorlog was die Unie se finansies in 'n warboel. Sakemanne en boere het gevrees dat die banke die aflossing van oortrekkings en verbande sou eis. Amptenare van die Tesourie het samesprekings gevoer met bankiers, handelaars en mynmagnate om noodmaatreëls tgetref en die Britse regering het aan die Unie finansiële steun verleen, soos aan die ander dominiums. Om in sy behoeftes te voorsien, is die regering in 1914 gedwing om die eerste keer inkomstebelasting te hef en indirekte belasting te verhoog.

Sekere nywerhede is swaar deur die oorlog getref. Vier dae ná die begin van die oorlog  het die De Beers-maatskappy by Kimberley, die Premier-myn en elders te staak, omdat voortgesette produksie nie lonend sou wees nie. Die myne het gesluit gebly tot Julie 1916, toe beperkte bedrywighede hervat is. Die sluiting van die diamantmyne het ongeveer 5 000 Blankes en meer as 45 000 Swartes werkloos gelaat. De Beers het ingestem om 'n aantal Blankes op halwe loon in diens te hou en vir die ander werk te vind.

Die reëlings wat aan die begin van die oorlog getref is, het beklemtoon, soos die geskiedskrywers Mark en Trapido opmerk, hoe belangrik dit vir Brittanje was om 'n "goedgesinde" regering in Suid-Afrika aan die bewind te hê. Daar is besluit dat die Bank of England die hele goudopbrengs van die Witwatersrad sou oorneem. Plaaslike banke sou voorskotte aan die myne uitbetaal. Aanvanklik sou die ru-goud nie na Londen verskeep word nie, maar in Suid-Afrika gehou word tot dit veilig sou wees om die ongemunte goud per see te vervoer. Die goudmyne het die hele oorlog deur in bedryf gebly, en in dié tyd het al hoe meer Afrikaners as mynwerkers in diens getree in die plek van manne op aktiewe diens, terwyl 'n beperkte getal Swartes in diens geneem is om halfgeskoolde werk te verrig. Dié ontwikkeling het die Mynwerkersunie verontrus, en in September 1918 het hulle met die Kamer van Mynwese die sg. Status Quo-ooreenkoms bereik waarvolgens sekere werk steeds vir blankes uitgehou sou word.

Invoerbeperkings het plaaslike nywerhede tydens die oorlog gestimuleer, en die oprigting van nuwe fabrieke het die verstedelikingsproses verhaas, veral aan die Witwatersrand en besonderlik onder Swartes. In Suid-Afrika, soos in baie ander land, het die lewensduurte tydens die oorlog skerp gestyg. Swartes, wat die meeste hieronder gely het, het hul mismoeë te kenne gegee deur sporadiese stakings aan die goudmyne in Desember 1915, Januarie en Februarie 1916 en Julie 1918, en deur 'n boikot van konsessiewinkels. In Junie1918 het sanitêre werkers in Johannesburg vir hoër lone gestaak.

Universiteitswette wat in 1916 deur F.S. Malan deur die Parlement geloods is, het 'n federale unieversiteit, die Universiteit van Suid-Afrika, met ses samestellende kolleges in die lewe geroep, en die Victoria-kollege en die Suid-Afrikaanse Kollege onderskeidelik omskep in die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad. Hoofsaaklik Blanke studente het dié universiteite en kolleges bygewoon, hoewel anderskleuriges in Kaapstad en Johannesburg toegelaat is. In 1916 is die South African Native College by Fort Hare naby Alice in die distrik Victoria-Oos geopen.

--- --- ---

Die Groot Griep van 1918

Die mees troumatiese ervaring vir alle Suid-Afrikaners tydens die Eerste Wêreldoorlog was waarskynlik die sterftes as gevolg vand ie wêreldwye epidemie van die sg. Spaanse griep tussen September en November 1918. Volgens amptelike syfers het 11 726 Blankes en 127745 Kleurlinge, Indiër en Swartes in Suid-Afrika aan dié siekte gesterf, hoewel onlangse navorsing daarop dui dat lg. syfer moontlik so hoog soos 200 000 was. Uit Kimberley, wat besonder swaar getref is, is berig: "Alle winkels het toegemaak en daar was feitlik geen mense op straat nie. Waar daar trems geloop het, het hulle die mense verniet vervoer, aangesien daar geen kondukteurs was om die reisgeld in te vorder nie ... dit was onmoontlik om afsonderlike grafte te grawe en genoeg doodkiste te verskaf, en mense is sonder kiste in lang slote begrawe.

--- --- ---

Louis Botha het Suid-Afrika saam met Smuts by die vredeskonferensie in Parys verteenwoordig en twee nie-amptelike Suid-Afrikaanse afvaardigings het ook in 1919 na Europa gegaan. Die gedagte dat die onafhanklikheid van die voormalige Boererepublieke herstel moet word, het by die Transvaalse Nasionalis Tielman Roos opgekom, en hoewel Hertzog geen hoë verwagtinge  gehad het dat so 'n beroep sou slaag nie, het hy ingestem om 'n deputasie na Europa te lei. 'n Afvaardiging van vier lede van die SANNC onder leiding van Sol Plaatje het ook oorsee gegaan om 'n versoekskrif met griewe aan die Britse regering voor te lê en 'n nuwe bedeling vir die Swartmense in Suid-Afrika te vra. Geeneen van die twee afvaardigings het egter welslae behaal nie.

Die amptelike Suid-Afrikaanse afvaardiging in Parys was veral besorg oor twee sake wat nóú met mekaar verband gehou het, nl. die Volkebond en die toekoms van Suidwes-Afrika. Smuts se pamflet The League of Nations: a Practical Suggestion, wat aan die vae idees van ander staatsmanne vorm gegee en sy eie voorstelle in dié verband verwerk het, was 'n groot bydrae tot die totstandkoming van dié Volkebond.

Voor die aanvang van die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika het Smuts die goewerneur-generaal, Buxton, meegedeel dat dit vir Suid-Afrika onmoontlik sou wees om die gebied weer af te staan. Smuts se mandaatstelsel is op alle verowerde Duitse kolonies toegepas en Suidwes-Afrika het 'n Klas C-mandaat geword, wat beteken dat die Unie die gebied onder sy wette sou regeer.

Botha en Smuts het albei die Verdrag van Versailles onderteken, hoewel Smuts byna geweier het omdat hy dit as 'n "onmoontlike en verkeerde vrede" beskou het. Die Eerste Minister het op 24 Julie 1919 weer in die Unie aangekom. 'n Bietjie meer as 'n maand later, op 27 Augustus, het hy aan 'n hartaanval gesterf en Smuts het die Unie se tweede premier geword.

Na-oorlogse probleme en patrone

Die Industrial and Commercial Union (ICU), wat gestig is deur Blanke vakbondlede en 'n jong Swartman uit Njassaland (Malawi), Clements Kadalie, het teen die einde van 1919 groot getalle Swart en Kleurlinglede begin trek. In Maart en April 1919 het die Transvaalse tak van die SANNC betogings deur Swart werkers aan die Rand teen die passtelsel aangemoedig, hoewel die nasionale president van die Congress, S.M. Makgatho, teen die gebruik van geweld gewaarsku het. Meer as 700 betogers is in hegtenis geneem terwyl hulle "Nkosi Sikelel'-iAfrika" ("God behoed Afrika") gesing het. In Februarie 1920 het Swart studente by Kilnerton naby Pretoria met 'n hongerstaking begin en by Fort Hare is 'n paar maande later geboue afgebrand. Op 17 Februarie 1920 het 'ns taking by die East Rand Proprietary Mine begin wat voortgeduur het tot 28 Februarie, toe 71 000 Swart werkers by  21 myne al daarby betrokke geraak het. Volgens Philip Bonner kan dié staking beskou word "as deel van 'n agitasie met 'n breë basis onder die werkersklas".

Hernieude en verskerpte antagonisme teenoor Indiërs in dié tyd is veroorsaak deurdat al hoe meer Indiërs in Transvaal in die naam van maatskappye eiendom verkry het. In 1919 is die South African League gestig om skuiwergate in die wette wat dit vir Indiërs moontlik gemaak het om woon- en eiendomsregte in stede en dorpe te verkry, te probeer uitskakel.

Die ontevredenheid van sekere Afrikaners met hul posisie het tydens die laaste deel van die oorlog toegeneem. In Junie 1918 is die vereniging John Suid-Afrika gestig, wat spoedig as die Afrikaner-Broederbond bekend geraak het, met as breë doelstelling "die bevordering van alle belange van die Afrikanernasie".

In die Unie se derde algemene verkiesing op 10 Maart 1920 het die konstitusionele band met Brittanje 'n prominente plek verkry, maar die hoë lewensduurte en die posisie van die Indiërs was twee ander kwessies waarop die opposisiepartye gehamer het. Die regering is ook van wanbestuur in die oorlogsjare beskuldig. Die Suid-Afrikaanse Party is 'n ernstige terugslag toegedien en het drie setels minder as die Nasionale Party verower. Smuts kon slegs wankel regeer met 'n parlementêre meerderheid van vier indien die Unioniste en Onafhanklikes bereid sou bly omd ie SAP te steun.

Ten spyte van sy ongemaklike situasie het die regering tydens die parlementsitting van 1920 belangrike wetgewing rakende die toenemende ontevredenheid onder die Swart bevolking deurgevoer gekry. Die Naturellesake Wet van 1920 het die Kommissie van Naturellesake in die lewe geroep om Naturelle-administrasie en -beleid te ondersoek en aanbevelings daaromtrent te doen en het voorsiening gemaak vir die byeenroep van "Konferensies van Naturelle". Dié wet kan beskou word as 'n poging om die Swartes 'n geleentheid vir die uitdrukking van hul behoeftes te gee, maar dit was ook 'n voortsetting van die beleid van segregasie.

Pogings om die hereniging van die Nasionale en Suid-Afrikaanse Party te bewerkstelllig, het gelei tot 'n vrugtelose konferensie in Bloemfontein in September 1920. Smuts se enigste altenatief was om die Unioniste te nader, en kort daarna is die Unioniste deur die SAP geabsorbeer. Die algemene verkiesing van 8 Februarie 1921 het die politieke situasie totaal verander. Die nuwe SAP het 13 setels meer gewen as wat hulle en die Unioniste in 1920 saam gehad het, en Smuts se nuwe kabinet het drie voormalige Unioniste, nl. Thomas Smartt, Patrick Duncan en J.W. Jagger ingesluit.

Tegnologiese ontwikkeling in die lugvaart en elektrisiteitsvoorsiening het in die vroeë twintigerjare Suid-Afrika bereik. Op 4 Februarie 1920 het twee Suid-Afrikaners, Pierre van Ryneveld en Quintin Brand, uit Londen vertrek in 'n poging om die eerste te wees om van Brittanje na Suid-Afrika te vlieg. Nadat twee vliegtuie in ongelukke verwoes is, het hulle 45 dae later in Kaapstad neergestryk. Allister Miller het in 1919 die Aerial Transport Company, die voorloper van 'n staatslugdiens, in die lewe geroep. Ingevolge die Elektrisiteit Wet van 1922 - wat volgens verskeie munisipaliteite ingbreuk op hul regte gemaak het - is die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) met H.J. van der Byl as eerste voorsitter gestig. Dit sou 'n staatsliggaam sonder winsbejag wees om elektriese krag in die Unie te verskaf en die voorsiening daarvan te koördineer.

In Junie 1921 het Smuts na die Rykskonferensie in Londen gegaan en 'n memorandum saamgeneem wat die outonome grondwetlike status van die dominiums omskryf. Aangesien die houdings van die ander Statebondsleiers ongunstig was, het hy dit egter nie voorgelê  nie. Hertzog het dié memorandum geërf en dit in 1926 gebruik. Volgens Smuts se biograaf, W.K. Hancock, het dié dokument "die Balfour-verklaring van 1926 en die hele daaropvolgende grondwetlike ontwikkeling tot die Statuut van Westminster in 1931 vooruitgeloop, maar Smuts het geen erkenning daarvoor gekry nie". Smuts se briefwisseling met Churchill ná sy terugkeer uit Londen was die basis van die Simonstad-ooreenkoms, wat 'n belangrike element van Suid-Afrika se verdedigingsbeleid voor 1939 was.

Geweld as gevolg van vyandigheid tussend ie rasse en die regering se "Naturellebeleid" was nog steeds 'n onrusbarende kenmerk van die Suid-Afrikaanse samelewing. Nadat die Port Elizabethse leier van die ICU, Samuel Masabalala, op 23 Oktober 1920 in hegtenis geneem is omdat hy 'n staking probeer reël het om werkers se lone te verbeter, is die polisiekantoor waar hy aangehou is, omring deur 'n skare wat met stokke bewapen was. Klippe is gegooi en die polisie en Blanke oud-gediendes het op die skare geskiet. 'n Blanke meisie en 23 Swart mans is gedood; 'n Swart vrou, 45 Swart mans en 4 Blanke mans is beseer.

'n Nog ernstiger botsing het op 24 Mei 1921 by Bulhoek, 40 km van Queenstown, plaasgevind. Enoch Mgijima en sy volgelinge, wat as die Israeliete bekend gestaan het, het hulle onwettig hier as plakkers gevestig. Volgens Mgijima was dit op bevel van God om die einde van die wêreld af te wag. Die regering het die plakkers verskeie kere versoenend probeer oorhaal om wet te trek, maar tevergeefs. In Mei 1921 is ongeveer 800 swaar bewpande manskappe onder bevel van die Kommissaris van Polisie na Bulhoek gestuur, maar Mgijima het steeds geweier om te trek. Ongeveer 500 Israeliete het die polisie met assegaaie en tuisgemaakte wapens bestorm. Dit is nie seker wie die eerste skoot gevuur het nie, maar ná 'n verwoede geveg van twintig minute was 183 Israeliete dood of noodlotting gewond. Honderd het minder ernstige verwondings opgedoen en 150 is in hegtenis geneem.

In Junie 1922 is die Smuts-regering weer eens sterk veroordeel vanweë su aandeel ind ie veldtog teen die Bondelswartstam in Suidwes-Afrika, wat beswaar gemaak het teen die hoë belasting wat hulle vir hul jaghonde moes betaal en die besetting van hul grond deur Blankes. Die regeringstroepe wat teen hulle uitgestuur is, het 2 man verloor, tewyl 115 Bondelswartmans gedood is. Vroue en kinders is ook gedood of beseer in bomaanvalle.

Hertzog het geglo dat die regering se gebrek aan 'n besliste standpunt oor "Naturellebeleid" vir dié onrus verantwoordelik was. In 1923 het die regering aandag begin gee aan Swartes in die stede. Soos T.R.H. Davenport aangetoon het, is 'n betreklik liberale wetsontwerp wat eiendomsreg aan Swartmense in stede sou gee, die paswette sou versag en 'n mate van Swart steun geniet het, omskep in die Naturelle (Stadsgebiede) Wet van 1923, wat segregasie en instromingsbeheer afgedwing het. Die wetsontwerp was gebaseer op die beginsel dat die aanwesigheid van Swartes in die stede slegs daardeur geregverdig kan word dat hulle in die behoeftes van die Blankes voorsien.

Plaaslike owerhede is gemagtig om lokasies vir Swartmense in stedelike gebiede opsy te sit, maar die Swart inwoners sou hier geen eiendomsregte kry nie. Die registreer van dienskontrakte is aan die stadsrade toevertrou en werklose en "oproerige" Swartes kon deur dié liggame uitgesit word. Daar was enorme Swart verset teen dié wetsontwerp.

In Julie 1921 het blanke sosialiste, onder wie W.H. Andrews en S.P. Bunting, hul onderskeie organisasies saamgevoeg tot die Kommunistiese Party van Suid-Afrika, wat 'n medium vir veelrassige politieke optrede in Suid-Afrika geword het. Aanvanklik het die party hom egter meer daarop toegespits om die lot van die Blanke werkers te verbeter, en die ontevredenheid van die Swartes was op rasse- eerder as klasseverskille gerig.

'n Ander, minder radikale eksperiment in veelrassige samewerking is aangepak toe twee Amerikaners, Thomas Jesse Jones en J.E.K. Aggrey, tesame met J.D. Rheinallt Jones gemeenskaplike rade in die lewe geroep het waarin Swartes (soms lede van die ANC) en Blankes saam gedien het om groter wedersydse begrip tussen die rasse aan te wakker en te bevorder.

Tydens die Rykskonferensie van 1921 is die voorstel van die Indiese verteenwoordiger, Srinivasa Sastri, dat Indiërs wat wettig in ander dele van die Britse Ryk woon, gelyke burgerregte in dié lande moet kry, deur Smuts verwerp. Die botsing tussen die verteenwoordigers van Suid-Afrika en Indië is by die Rykskonferensie van 1923 hervat. Indiërs in Suid-Afrika, verontrus deur Blanke antagonisme en deur drie diskriminerende en beperkende ordonnansies wat in 1922 deur die Natalse Provinsiale Raad aanvaar is (waarvan twee weliswaar deur die sentrale regering geveto is), het in Mei 1923 die South African Indian Congress gestig. Die regering se aankondiging dat 'n Klassegebiedswet in Januarie 1924 ingedien sou word, het gelei tot heftige protes deur Indiërs in sowel Indië as Suid-Afrika. Die digter en politikus mev. Sarodjini Naidoe, 'n lid van die Indian National Congress, het in Februarie 1924 na Suid-Afrika gekom en drie maande later voorsitter van die Suid-Afrikaanse liggaam geword.

Die einde van die Eerste Wêreldoorlog het 'n groot ekonomiese opbloei ingelui. Die goudprys het gestyg, myne kon selfs laegraadse erts ontgin en Blanke mynwerkers het hoër lone ontvang. In 1921 is die Unie se eie sentrale bank, die Suid-Afrikaanse Reserwebank, opgerig om die uitreiking van banknote en geldbeheer te konsolideer. 'n Wet van 1919 het daartoe gelei dat 'n tak van die Britse Munt in 1923 in Pretoria gestig word, wat die owerheid van die Unie in staat gestel het om sy eie munte te slaan. In 1921 het die voltooiing van die Randse Affineerdery in Germiston mynmaatskappye in staat gestel om hul eie goud in Suid-Afrika te affineer.

Die welvaart ná die oorlog was egter van korte duur. Die landbousektor is swaar getref deur die ernstige droogte van 1919. Ongunstige wêreldneigings in die ekonomie wat twee jaar ná die oorlog begin ontwikkel het, het gelei tot dalende pryse vir landbouprodukte. Teen 1921 was daar ook 'n afname in Suid-Afrika se steenkooluitvoer. Die hoër goudprys het inflasie in Suid-Afrika aangewakker en terselfdertyd het die werkloosheidsyfer gestyg.

'n Daling in die goudprys het die winsgewendheid van baie mynmaatskappye bedreig. Die Kamer van Mynwese het desperaat begin soek na middele om produksiekoste te besnoei, en uiteindelik in Desember 1921 tydens 'n konferensie aan die toenemend militante werkers voorgestel dat drie veranderinge in Februarie 1923 ingestel word in 'n poging om die krisis die hoof te bied. Die lone van hoogs besoldigde mynwerkers sou verminder word. Die Status Quo-ooreenkoms sou opgehef word, wat na verwagting die afdanking van 2 000 Blanke werkers sou meebring. Ondergrondse werk sou herorganiseer word, sodat die werk van die hoër besoldigde geskoolde Blankes voortaan deur laer besoldigde Swartes verrig kan word (in 1921 was die uitgawes aan lone vir 21 000 Blanke mynwerkers byna dubbel dié vir die 180 000 Swart werkers). Die steenkoolmynwerkers, wat op 1 Januarie 1922 begin staak het, het eerste hierop gereageer. Nege dae later het die goudmynwerkers en die werknemers by kragsentrales ook begin staak. Meer as 20 000 Blankes was ledig en as gevolg daarvan ook 'n groot persentasie van die 180 000 Swartes.

--- --- ---

1922: Van staking tot opstand

Die eerste botsing tussen die polisie en die stakerskommando's het op 27 Februarie 1922 by Angelo tussen Germiston en Boksburg plaasgevind. Hoewel daar nie geskiet is nie, is sommige mense beseer en meer as twintig stakers in hegtenis geneem. Toe meer as 250 stakers die volgende dag in die rigting van die Boksburgse gevangenis optrek, is drie van hulle gedood en vier polisiemanne gewond. Ander dade van geweld wat die situasie vererger het, was pogings om treine te ontspoor en die aanranding van Swartes deur mynwerkers. Die Kamer van Mynwese het as versoeningsgebaar aangebied om verder te onderhandel, maar dit is deur die "Aangevulde Dagbestuur" verwerp, en 'n algemene staking is uitgeroep. Teen 10 Maart 1922 was die wet en orde oënskynlik heeltemal tot niet: stakers het die Newlands-polisiekantoor in Johannesburg gedwing om oor te gee en in Brakpan is mynbeamaptes en polisie koelbloedig doodgemaak. Die regering het krygswet afgekondig en die Aktiewe Burgermag opgeroep. Die Unie-Verdedigingsmag het vliegtuie en artillerie teen die stakers gebruik. Op 11 Maart is die Imperial Light Horse in 'n hinderlaag gelok by Ellispark in Johannesburg en die Transvaal Scottish het by Dunswart verliese gely toe hulle die stakers se greep op die Oos-Rand probeer breek. Heftige skermutseling by Fordsburg op 14 Maart het uitgeloop op die verowering van die stakers se hoofkwartier deur regeringsmagte. Twee van die leiers, nl. Percy Fisher en H. Spendiff, wat in die gebou was, het selfmoord gepleeg eerder as om hulle oor te gee. Tydens opruimingswerk hierna was regeringstroepe betrokke by insidente waarin gevange stakers doodgeskiet is, oënskynlik omdat hulle wou ontsnap.

--- --- ---

"Die regering," het Smuts op 10 Januarie gesê, "sal 'n kring om albei partye trek, sy bes doen om die wet en orde te handhaaf en hulle toelaat om dit uit te baklei." Dié woorde het aanleiding gegee tot die onjuiste beskuldiging dat Smuts die situasie koelbloedig laat ontwikkel het. In werklikheid het die Premier in November 1921 die eerste keer tussenbeide getree. Hy het van die Kamer 'n verklaring verkry dat geen algemene aanval op Blanke arbeid bedoel word nie. Die opening van die Parlement is uitgestel sodat die ministers aan die Witwatersrand beskikbaar kon wees vir onderhandelings. Smuts het hard maar tevergeefs probeer om die Kamer en die vakbonde te ooreed om hul geskille by te lê. 'n Konferensie tussen die twee partye onder voorsitterskap van regter J.S. Curlewis het egter 'n dooie punt bereik.

Die simpatie van die Nasionale en Arbeidersparty was by die stakers, van wie moontlik soveer as 75 persent Afrikaners was, al was hulle nie die aanvoerders nie. Daar was ook 'n mate van steun vir die werkers op die platteland, waar sommige mense die situasie wou uitbuit om 'n republiek tot stand te bring. Teen die einde van Februarie het die "Aangevulde Dagbestuur", wat gestig is om al die betrokke vakbonde te verteenwoordig, beheer oor die situasie verloor. Die leierskap het in die hande van 'n meer militante Aksieraad oorgegaan, onder wie se lede daar mense was met Kommunistiese neigings - hoewel aangepas by hul gevoel van Blanke meerderwaardigheid. (Onder die spandoeke wat hulle vertoon het, was daar een met die leuse: "Werkers van die wêreld, verg en verenig vir 'n Wit Suid-Afrika.")

Twee bykomende faktore het tot 'n toename in geweld gelei: die polisiebeskerming aan stakingsverbrekers of "onderkruipers", en die organiseer van stakers in semi-militêre kommando's, waarvan sommige bewapen was.

Ernstige botsings het plaasgevind, maar teen 17 Maart was die stakers se weerstand op 'n einde en is die staking afgelas. Juiste ongevallesyfers is moeilik bekombaar. Die amptelike statistieke was soos volg: 43 soldate, 86 polisiemanne en 81 burgerlikes (onder wie 39 opstandelinge en 42 onskuldiges, o.a. 'n aantal Swartes) is gedood; 133 soldate, 86 polisiemanne en 315 burgerlikes is gewond. Altesame 5 000 mense is in hegtenis geneem, 1 000 het in die hof verskyn, 18 is ter dood veroordeel en 4 is opgehang, nl. C.C. Stassen, S.A. (Taffy) Long, H.K. Hull en D. Lewis.

In die begin van 1924 is die Nyswerheidsversoeningswet aangeneem om die vreedsame skikking van geskille te vergemaklik (hoewel "pasdraende" Swartes van sy bepalings uitgesluit was). Die Departement van Mynwese, wat daarvan bewus was dat die mynmaatskappye die regulasies met betrekking tot die kleurskeidslyn in arbeid oortree, het in Augustus 1923 'n toetssaak ingestel. Die uitspraak van die Hooggeregshof was dat die regulasies wat uit die Wet op Mijnen en Bedrijven van 1911 voortspruit, buitemagtig was. Die mynmaatskappye kon dus met die toekenning van werksaamhede aan die myne alle kleurbeperkings veronagsaam. In 1924 was daar 1 700 minder Blanke werkers in die myne werksaam as in 1921, en bedryfskoste is verminder.

Smuts het die skuld vir die opstand gekry. Hertzog het die gebeure aan die Rand in 1922 gekoppel aan ander gevalle in Smuts se loopbaan waarin teenstand met geweld onderdruk is en verklaar dat die Eerste Minister se voetstappe "drup van die bloed".

In Mei en Junie 1922 kon die owerhede van Suid-Afrika en Mosambiek geen bevredigende vergelyk oor hawe- en spoorsake bereik nie. In Oktober 1922 is Smuts se hoop dat Suid-Rhodesië tot die Unie sou toetree en die SAP sou versterk, verydel. Blanke Rhodesiërs het in 'n verkiesing met 'n stempersentasie van meer as 80 persent met 8 774 stemme teen 5 989 ten gunste van verantwoordelike regering eerder as inlywing by die Unie besluit - 'n besluit wat vir sowel Rhodesië as Suid-Afrika verreikende gevolge sou hê.

Hertzog en Creswell het lank reeds op goeie voet verkeer en ander lede van die Nasionale en Arbeidersparty is nader aan mekaar gebring deur hul veroordeling van die regering se hantering van die staking. Samesprekings tussen die leiers van die twee partye het in April 1923 gelei tot 'n "pakt" wat deur hul onderskeie kongresse bekragtig is. Daar is ooreengekom dat dit onwenslik sou wees om die opposisiestem in 'n driehoekige verkiesingstryd te verdeel. Tydens die parlementsitting van 1924 was die samewerking tussen die Paktparty reeds duidelik en Arbeiders het hul sosialistiese beskouings getemper, terwyl die Nasionaliste alle verwysings na afskeiding van die Gemenebes vermy het. Die ongewildheid van die regering is weerspieël in 'n aantal terugslae in tussenverkiesings in Kaapland, Natal en Transvaal sedert 1921. Toe 'n sterk SAP-kandidaat, A.G. Robertson (wat as administrateur van Transvaal bedank het om die setel te betwis) op 5 April 1924 in Wakkerstroom deur 'n byna onbekende kandidaat van die Nasionale Party, A.S. Naudé, verslaan is, het Smuts besluit om te bedank, hoewel daar byna nogtwee jaar voor die verstryking van sy regering se ampstermyn was.

--- ---

'n Aanbevole lees-/bronnelys sluit hierdie hoofstuk af

--- --- ---

Hoofstuk 17

Van die Pakt tot die begin van apartheid, 1924-1948: B.K. Murray en A.W. Stadler

INLEIDING

In die opkoms van Afrikaner-nasionalisme as die oorheersende politieke en sosiale mag in Suid-afrika en in die evolusie van die land se segregasionistiese rassebeleid baken die jare 1924 en 1948 twee betekenisvolle stadiums af.

Hertzog se Nasionale Party, wat in 1924 met die steun van die Arbeidersparty aan bewind gekom het, het probeer om binne Suid-Afrika vir die Af;rikaners gelykheid met die Engelssprekende blankes te verkry en Suid-Afrika konstitusioneel onafhanklik van Groot-Brittanje te maak. Nog 'n strewe was die skepping van 'n infrastruktuur tot voordeel van binnelandse ekonomiese belange. Die segregasiebeleid is in verdere besonderhede uitgewerk en in die nywerheid verskans. Pogings om die Swart kiesers van Kaapland van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, het in 1936 geslaag, nadat die Afrikaner-nasionalistiese beweging geskeur en Hertzog se Nasionale Party met die Suid-Afrikaanse Party van Smuts saamgesmelt het.

Teen 1948 is die verdeelde m agte in die Afrikaner-nasionalisme weer verenig en dr. D.F. Malan se oorwinning in die algemene verkiesing van dié jaar het die weg gebaan vir die oorheersing van die Nasionale Party in Suid-Afrika. Apartheid is verkondig en uitgebou as die raamwerk vir latere rassebeleid en industrialisering.

Die algemene verkiesings van 1924 en 1948 was uitsonderlik in dié opsig dat dit in die vyftig jaar lange geskiedenis van die Unie van Suid-Afrika die enigste verkiesings was wat 'n verandering van regering meegebring het. In albei gevalle het die Nasionaliste aan bewind gekom.

--- --- ---

Die tydperk van 1924 tot 1939: B.K. Murray

Die Pakt-regering wat Hertzog in Junie 1924 gevorm het, is deur die Nasionale Party oorheers en die Arbeidersparty was slegs 'n baie junior vennoot. Tot 1928 het die Nasionaliste en die Arbeiders in die algemeen daarin geslaag om as 'n span op te tree. Afgesien van die instelling van 'n afsonderlike Departement van Arbeid, het die Arbeidersministers geen belangrike bydrae tot die Pakt-regering se beleid gemaak nie. Die algemene rigting van die regering se beleid is bepaal deur Hertzog self, die enigste lid van die kabinet wat al ondervinding van landsbestuur gehad het. Die Pakt-regering se belangrikste beleidsrigtings kan in drie breë kategorieë verdeel word, nl. kwessies van status, die ekonomie en rasseverhoudings.  Die laaste twee was dikwels nou verweef.

Die Pakt-regering, 1924-1929

Vir die algemene verkiesing van 1924 is Hertzog se nasionalisme, en veral die republikeinse komponent daarvan, gedemp deur die vereistes van sy ooreenkoms met die hoofsaaklik Engelssprekende Arbeidersparty. Desondanks was die aantrekkingskrag van sy party vir die meeste Afrikaners, soos uit die algemene verkiesing van 1915 die eerste keer duidelik geblyk, sy nasionale program. Toe hy aan bewind was, het Hertzog dus belangrike aspekte van dié program uitgevoer, veral wat betref taalgelykheid en die soewereine onafhanklikheid van Suid-Afrika. In 1925 is die betekenis van "Nederlands" in die grondwet  uitgebrei om Afrikaans in te sluit en hierna is daar aangedring op die amptelke gelykheid van Afrikaans en Engels. Dr. D.F. Malan, as minister van Binnelandse Sake, Opvoeding en Openbare Gesondheid, het vereis dat die staatsdiens volkome tweetalig moet wees. Só is belangrike loopbane vir Afrikaners oopgestel - 'n ontwikkeling wat nog meer doelgerig bevorder is deur die Malan-regering ná 1948.

Tydens die Rykskonferensie in Londen in 1926 het Hertzog Smuts se memorandum van 1921 gebruik en 'n belangrike rol gespeel by die duidelike omskrywing van die gelyke status van Suid-Afrika en ander dominiums met Brittanje binne die Ryk en die Gemenebes. Volgens die Balfour-verklaring was Brittanje en die dominiums "outonome gemeenskappe binne die Britse Ryk, gelyk in status, in geen opsig ondergeskik aan mekaar in enige aspek van hul binnelandse of buitelandse aangeleenthede nie, maar verenig deur 'n gemeenskaplike trou aan die Kroon, en vryelik verbind as lede van die Britse Gemenebes van Nasies". Dié verklaring van die soewereiniteit van die dominiums het regstreeks gelei tot die instelling van 'n Suid-Afrikaanse Departement van Buitelandse Sake, met Hertzog aan die hoof. In 1928 is daar ook, ná 'n lang twis, 'n nuwe nasionale vlag ingevoer.

--- --- ---

Die vlagstryd

Die vlagstryd het drie jaar lank gewoed. Die eerste wetsontwerp om voorsiening te maak vir 'n nasionale vlag vir Suid-Afriak is vroeg in 1925 deur D.F. Malan in die Volksraad ingedien, maar eers in November 1927 het ' n vlagmaatreël volle parlementêre goedkeuring verkry. Vroeër daardie jaar het die Volksraad 'n vlag goedgekeur, maar die Senaat, waar die Suid-afrikaanse Party nog 'n meerderheid gehad het, het dit ten gunste van sy eie ontwerp afgekeur.

Die omstrede punt was die posisie van die Union Jack in die nuwe vlag. Malan se eerste voorstel was vir 'n "skoon" vlag sonder Union Jack of republikeinse kleure. Dié regstreekse verwerp van die Union Jack het die Engelssprekende  blankes egter die harnas in gejaag en 'n uitgesproke partikularistiese toon aan die stryd verleen. Vlagsimboliek het 'n uiters emosionele kwessie geblyk, en Malan se voorstelle het groepe dwarsdeur die land verdeel, nie net in die Parlement nie. Soos H. Saker, die historikus van die vlagstryd, dit gestel het: "Die kern van die saak was dat redelikheid by een groep oorheers is deur 'n afkeer van die Union Jack se assosiasie met oorheersing en oorwinning, en by die ander deur vrees vir afskeiding en verafrikaansing."

Die geskil is eers in Oktober 1927 besleg ná private samesprekings tussen Hertzog en Smuts. Hertzog het ingewillig om die Union Jack en die twee republikeinse vlae in die voorgestelde nasionale vlag op te neem en die Union Jack naas die nasionale vlag voor die vernaamste regeringsgeboue te laat wapper om die Unie se verbintenis met die Britse Gemenebes te simboliseer. Die Parlement het dié kompromis eenparig goedgekeur en die nuwe vlag is op Uniedag 1928 die eerste keer gehys.

--- --- ---

Die ontwikkeling van die ekonomie

Hertzog het aan bewind gekom aan die einde van die ekonomiese insinking wat Smuts se regering erg benadeel het. Hertzog se eerste termyn as premier het daarenteen byna presies saamgeval met 'n tyd van ekonomiese vooruitgang en opbloei wat eers beëindig is deur die Groot Depressie aan die einde van die dekade. Alle sektore van die ekonomie het by die verbetering baat gevind. Die goudmynbedryf het herstel, landboupryse was in die algemeen gunstig, daar was al hoe meer bewerkbare grond in Blanke besit en die nywerheidswese het goeie vordering gemaak.

Die Pakt-regering was die eerste wat 'n sistematiese program vir die ontwikkeling van sekondêre nywerhede in Suid-Afrika aanvaar het, in die vorm van beskermende tariewe, soos bepaal in die Doeanetarief en Aksijnsrechten Wijzigings Wetsontwerp van 1925, en die ontwikkeling van 'n infrastruktuur, veral die oprigting van 'n staatsbeheerde yster- en staalbedryf. Hoewel dit twee keer deur die Senaat afgekeur is, is die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalkorporasie (Yskor) in 1918 deur 'n wet van die Parlement as openbare nutsmaatskappy gestig. Algemene skeptisisme oor die lewensvatbaarheid van die onderneming en agterdog oor staatsbeheer het daartoe gelei dat private kapitaal nie die aangebode aandele gekoop het nie, en in 1931 het die staat in die praktyk volle beheer oor die korporasie oorgeneem, en al die direkteure is deur die regering aangestel. In 1934 het Yskor met produksie begin.

Hertzog se Nasionale Party was 'n oorweldigende plattelandse party, maar om verskeie redes wou dit die industriële ontwikkeling van Suid-Afrika bevorder eerder as om die land 'n betreklik onontwikkelde ekonomiese kolonie van Brittanje te laat bly. Sy program vir industrialisering het voortgespruit uit 'n vrees dat die goudmynbedryf 'n kwynende bate was, die begeerte om die binnelandse mark vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte uit te brei, 'n vasberadenheid om werkgeleenthede te skep vir Afrikaners (dikwels "armblankes" wat besig was om van die platteland na die stede te trek) en 'n algemene begeerte om die land meer selfonderhoudend te maak en te keer dat sy hulpbronne uitgeput raak. Die Arbeidersparty was ook ten gunste van beskerming en industrialisering om meer werkgeleenthede te skep.

Die industriële arbeidsbeleid van die Pakt-regering was een van "beskaafde" arbeid teen 'n "beskaafde" tarief. Dit was 'n beleid wat ten minste so ver teruggestrek het as Het Volk, en basies het dit beteken dat voorkeur gegee behoort te word aan die indiensneming van Blankes, en teen hoër lone as diê vir Swartes.

Die Wijzigings Wetsontwerp op Mijnen en Bedrijven of "Kleurslagboomwet" van 1926 het die posisie van geskoolde Blanke werkers beveilig deur die geldigheid van die kleurslagboomregulasies, wat vroeër deur die Hooggeregshof ongeldig verklaar is, te herstel, en die Loonwet van 1925 het die inkomste van ongeskoolde Blanke werkers probeer beveilig. Vir meer werkgeleenthede vir ongeskoolde Blankes het die Pakt-regering staat gemaak op sowel staatsondernemings soos die spoorweë en hawens, wat aan al meer Blankes werk verskaf het, as die vereiste dat beskermde nywerhede meer Blankes in diens moes neem. Tariefbeskerming is aan nywerhede verleen op voorwaarde dat hulle 'n "aansienlike hoeveelheid" Blanke arbeid in diens neem.

Beleid teenoor Indiërs en Swartes

Die beleid van die Pakt-regering teenoor die Indiër-gemeenskap is beliggaam in D.F. Malan se Terzijdezetting van Wijken en Immigratie en Registratie (Verdere Voorzienings) Wetsontwerp van 1925, wat die woon- en handelsegregasie van Indiërs wou bewerkstellig en die Indiër-bevolking tot 'n "absolute minimum" wou verminder deur repatriasie te vergemaklik.

Die Indiërs se teenstand teen die voorgestelde wetgewing was nie meer lydelike verset nie, maar 'n poging om steun van oorsee te verkry, veral uit Indië self. Teen die einde van 1925 het die Suid-Afrikaanse Indiërraad 'n afvaardiging na Indië gestuur om die Britse onderkoning te spreek en 'n reeks openbare en private byeenkomste toe te spreek. Terselfdertyd het die Indiese regering 'n feitekommissie na Suid-Afrika gestuur, en deur bemiddeling van die Britse regering het Hertzog ingewillig om hulle te woord te staan.

--- --- ---

Die toekoms van die Indiërs

'n Tafelronde tussen afgevaardigdes van die Indiese en die Suid-Afrikaanse regering is gereë vir die einde van 1926. Dié konferensie het van 17 Desember 1926 tot 12 Januarie 1927 plaasgevind en het aanleiding gegee tot die Kaapstad-ooreenkoms, wat voorsiening gemaak het vir gesamentlike steun aan vrywillige repatriasie en vir die benoeming van 'n agent-generaal as diplomatieke verteenwoordiger van die Indiese regering in Suid-Afrika. Hierbenewens het die Suid-afrikaanse regering onderneem om die Terzijdezetting van Wijken en Immigratie en Registratie (Verdere Voorzienings) Wetsontwerp terug te trek en die Indiërs wat in die land agterbly, "op te hef".

Vir die Suid-Afrikaanse regering was die belangrikste komponent van die Kaapstad-ooreenkoms die repatriasieskema, maar in die praktyk het dit ondoeltreffend geblyk. Die gevolg was 'n tweede tafelronde vroeg in 1932, wat vorendag gekom het met die idee om Indiërs as koloniste in 'n ander gebied as Indië te vestig. 'n Ondersoekkommissie na kolonisering is in 1933 benoem en het ten gunste van Noord-Borneo gerapporteer, maar van dié skema het niks tereggekom nie.

--- --- ---

As minister van Naturellesake het Hertzog in Julie 1926 drie "Naturelle"-wetsontwerpe ingedien. Die Unie Naturellen Raads Wetsontwerp het voorsiening gemaak vir die instelling van 'n beraadslagende raad van 50 Swartmense (van wie 35 verkose sou wees) vir die hele Suid-Afrika; die Parlementsverteenwoordiging van Naturelle Wetsontwerp was daarop gemik om Swart kiesers van die gemeenskaplike kieserslys in Kaapland te verwyder en Swartes dwarsdeur die Unie te laat verteenwoordig deur sewe Blankes in die Volksraad wat oor maatreëls met betrekking tot Swartmense sou kan stem; en die Naturelle Grond Wysigings Wetsontwerp het voorsiening gemaak vir die uitbreiding van die gebied wat in die Wet van 1913 aan Swartes toegeken is deur sekere gebiede vir mededingende aankoop deur Swartes en Blankes oop te stel.

Benewens die "Naturelle"-wetsontwerpe het Hertzog ook 'n Kleurling Regte Wetsontwerp aan die Parlement voorgelê om 'n begin te maak met die uitbreiding van politieke regte na Kleurlinge buite Kaapland. Vir Hertzog self was die vier wetsontwerpe integrerende dele van 'n oorkoepelende oplossing van die "Naturelle-Kleurlingvraagstuk" en hy het bepaal dat hulle sáám sou staan of val. Aangesien hulle die verskanste klousules van die Unie-grondwet geraak het, was vir die Parlementsverteenwoordiging van Naturelle Wetsontwerp en die Kleurling Regte Wetsontwerp 'n meerderheid van twee derdes tydens 'n gesamentlike sitting van die twee huise van die Parlement nodig.

Hertzog se vernaamste rede vir die voorgestelde wetgewing word tradisioneel gesoek in sy begeerte om Blanke politieke oppergesag en die Blanke kultuur in Suid-Afrika te bewaar deur uniforme politieke segregasie tussen Blank en Swart te verseker. Hertzog self het beweer dat die Nasionale Konvensie 'n ernstige fout begaan het deur toe te laat dat Swartes in Kaapland op die gemeenskaplike kieserslys bly, aangesien hulle reeds in twaalf kiesafdelings 'n beslissende faktor was, en hy het voorspel dat daar binne sowat vyftig jaar  meer Swart as Blanke kiesers in Kaapland sou wees. Ook het hy gevrees dat die Swart stemreg van die Kaap as voorbeeld vir die hele Unie voorgehou sou kon word. Die voorstel om meer grond aan Swartes beskikbaar te stel, was 'n teenprestasie vir die verlies van die Kaapse stemreg.

In 'n nuwe studie het Marian Lacey aangevoer dat dit Hertzog se primêre doelwit was om die Kaapse Swartes onder beheer te bring en Kaapland in ooreenstemming te bring met die patrone van segregasie en eksploitering wat reeds in die ander provinsies gevestig was. Aangesien die Kaapse stemreg met grondbesit verband gestaan het, was die Kaap, soos reeds genoem, uitgesluit van die bepalings van die Naturellen Grond Wet van 1913, en in werklikheid was alle Swartes in die Kaap, nie net die kiesers nie, minder vatbaar vir kontrole en eksploitasie.

Smuts het skerp kritiek op die wetsontwerp uitgespreek - ook op die voorstelle ten opsigte van grond. Hy het dit ontoereikend geag en volgens hom sou dit territoriale rassevermening eerder laat toeneem as afneem. In Maart 1927 is die wetsontwerpe ná hul eerste lesing na 'n gekose komitee verwys. In Februarie 1929 het Hertzog ingrypend gewysigde weergawes van die Parlementsverteenwoordiging van Naturelle Wetsontwerp en die Kleurling Regte Wetsontwerp by 'n gesamentlike sitting van albei huise van die Parlement ingedien. Hulle is weer eens deur die SAP teengestaan en gevolglik kon nie 'n twee-derde-meerderheid daarvoor verkry word nie.

Swart reaksies onder die Pakt-bewind.

In 1924 het leiers van die belangrikste Swart organisasies, veral die African National Congress (ANC) en die Industrial and Commercial Workers Union (ICU), die vooruitsig van 'n Nasionale regering verwelkom. Tydens 'n konferensie in Mei 1924 het die AND Swart kiesers aangemoedig om "solied vir 'n verandering van regering te stem", en Clements Kadalie, die nasionale sekretaris van die ICU het Hertzog ook gesteun.

--- --- ---

Clements Kadalie (omstreeks 1896-1951)

Clements Kadalie is in Njassaland (Malawi) gebore en aan die Livingstonia Missionary Institute as onderwyser opgelei. Daarna het hy in Mosambiek en Suid-Rhodesië (Zimbabwe) as klerk gewerk voordat hy na Suid-afrika gekom het. Vroeg in 1918 het hy hom in Kaapstad gevestig. 'n Toevallige ontmoeting met 'n Blanke vakbondlid, A.F. Batty, het daartoe gelei dat hy plaaslike dokwerkers begin organiseer, en in 1919 het hy die eerste sekretaris geword van die vakbond wat die Industrial and Commercial Workers Union (ICU) sou word.

Kadalie se buitelandse herkoms, en selfs sy onvermoë om enige Suid-Afrikaanse Bantoetaal te praat, het 'n politieke bate eerder as 'n las geblyk. Hy is met geen etniese groep in Suid-Afrika geïdentifiseer nie en het sy gehore in Engels toegespreek. So het hy 'n universele aantrekkingskrag gehad en 'n organisasie opgebou waarin Swartes uit verskillende agtergronde byeengebring is.

In 1925 het Kadalie en die ICU hul hoofkwartier na Johannesburg verskuif en in 1927 het hy deur Europa gereis en die Ingternasionale Arbeidskonferensie in Genève bygewoon, veral om internasionale erkenning en steun vir sy vakbond te soek. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het die ICU agteruitgegaan en Kadalie het gebots met sowel A.W.G. Champion, die Natalse leier, as met William Ballinger, die raadgewer wat deur die Britse Arbeidersbeweging uitgestuur is. Kadalie se klagte was: "Ek het 'n raadgewer gevra, en 'n diktator gekry." In 1929 het hy as nasionale sekretaris van die ICU bedank en die "Independent ICU" gestig, wat slegs in Oos-Londen 'n georganiseerde aanhang gehad het. Hy is in 1951 in Oos-Londen oorlede.

--- --- ---

A.W.G. Champion (1893-1975)

A.W.G. Champion het op die voorgrond getree as Clements Kadalie se vernaamste luitenant en leier van die ICU in Natal. Die ICU was in werklikheid 'n versameling plaaslike takke eerder as 'n hoogs gesentraliseerde organisasie, en as Natalse sekretaris het Champion Durban tot die grootste en rykste tak van die ICU uigebou.

Champion is in Natal gebore en aan die Amanzimtoti Training Institute opgelei. Hy was eers 'n polisiekonstabel in Johannesburg. Van 1920 tot 1925 was hy 'n klerk by Crown Mines en het hy president van die Native Mine Clerks' Association geword. In 1925 het hy by die ICU aangesluit, waarna hy na Durban gestuur is as Natalse sekretaris.

In 1928 het hy 'n uitval gehad met Kadalie en die Natalse takke onafhanklik verklaar as die ICU yase Natal. Dié organisasie het ook ontbind, en hierna het Champion sy politieke loopbaan as lid van die ANC ontwikkel. In 1945 het hy die amp van Natalse president van die ANC aanvaar en dit gebly tot hy in 1951 deur Albert Lutuli verslaan is. Hy het toe bedank uit die ANC.

--- --- ---

Teen 1929 was Swart leiers in die algemeen egter ontnugter deur Hertzog en het hulle sy "Naturelle"-wetsontwerp verwerp. Die Naturelle-konferensie wat deur die Smuts-regering ingevoer is, het die voorstel om Swart stemreg in Kaapland af te skaf, met 'n groot meerderheid verwerp. Die Naturelle-konferensie wat deur die Smuts-regering ingevoer is, het die voorstel om Swart stemreg in Kaapland af te skaf, met 'n groot meerderheid verwerp.

Die leiers van sowel die ANC as die ICU was meestal lede van die Swart middestand, en dit was juis dié klas wat Hertzog se "Naturelle"-wetsontwerpe as 'n bedreiging beskou het. Hertzog het gedreig om die Swart elite van bestaande regte te beroof. Die gevolg was 'n radikalisering van die ANC en terselfdertyd het die ICU daarin geslaag om die grootste massabeweging wat tot in daardie stadium in Suid-Afrika was, te mobiliseer. Die leiers van die ANC, wat tot dusver versigtig, gematig en selfs konserwatief was, het in 1927, ná die verkiesing van Joseph Gumede as president, tydelik 'n nuwe strategie aangepak, nl. om die ANC in 'n massa-organisasie te omskep. 'n Paar ANC-leiers het selfs kontak gemaak met die klein Kommunistiese Party van Suid-Afrika, wat in 1924 ook die verbond tussen Nasionaliste en Arbeiders gesteun het, maar sedertdien besef het dat sy "vernaamste revolusionêre taak onder die Naturelle is".

Die Swart en Kleurling-vakbond, die ICU, is in die middel van die twintigerjare omskep in 'n massabeweging wat aan 'n breë verskeidenheid algemene griewe uiting gegee en takke dwarsdeur die Unie en ook in die aangrensende gebiede gestig het. In die stede het dié vakbond veral welslae behaal met die organiseer van werkers in die dokke, spoorweë en munisipale dienste, maar sy massabasis het die ICU gekry danksy sy indringing in die platteland, veral in Natal en Oos-Transvaal, wat veral bewerkstellig is deur te konsentreer op die kwessie van grond, lone en passe. Teen 1927, sy topjaar, het die ICU sowat 100 000 lede gehad. Hierna het die beweging vinnig agteruitgegaan as gevolg van vervolging deur die staat en werkgewers, interne onenigheid, hopeloos ondoeltreffende organisasie en ontnugtering oor sy vermoë om materiële voordele vir sy lede te verkry.Een voormalige ondersteuner het gekla: "Dit het alles maar net op toesprake uitgeloop."

Teen 1929 was die ICUin wanorde, maar teen die agtergrond van 'n nuwe selfversekerdheid in die Swart politiek het die sg. "Swart gevaar"-verkiesing van daardie jaar plaasgevind. Oswald Pirow, Hertzog se nuwe minister van Justisie, het 'n veldtog geloods wat 'n groot terugslag vir die linkses was. Die ANC het Gumede as president vervang deur die behoedsame Pixley Seme en opvallend meer konserwatief geword, en dit, tesame met gebrekkige organisasie, het veroorsaak dat sy politieke invloed in die dertigerjare minimaal was. Die Kommunistiese Party het bevind dat dit van alle populêre steun afgesny is. Volgens die Komintern was die party "feitlik geïsoleer van die spontane beweging van die massa".

Die "Swart gevaar"-verkiesing

In die "Swart gevaar"-verkiesing van Junie 1929 het die kleurvraagstuk die eerste keer die oorheersende kwessie in 'n verkiesingstryd geword. Hertzog se doel in die verkiesing was om die Blanke kiesers om hom te skaar en so steun te kry vir sy "Naturelle"-wetsontwerpe. Daarom het hy dit gestel dat sy party die enigste betroubare kampvegter vir die Blanke in Suid-Afrika is, en Smuts en die SAP bestempel as voorstanders van rassegelykheid en integrasie. Die aantyging was belaglik, want hoewel die SAP  die "Naturelle"-wetsontwerp teengestaan het, het dit 'n wesenlik segregasionistiese party gebly. Die beskuldiging het egter bly kleef, en die uitslag van die verkiesing was 'n oorwinning vir Hertzog en die Nasionaliste.

Die belangrikste getuienis teen die SAP was Smuts se toespraak op Ermelo op 17 Januarie 1929, toe hy verklaar het dat Suid-Afrika die "Naturellekwessie" nie alleen kon oplos nie, maar net met die hulp van Brittanje en die samewerking van sy noordelike bure. Die kardinale doelwit van sy beleid, het hy gesê, was die skepping van 'n "Britse konfederasie van Afrika-state ... 'n groot Afrika-dominium wat ononderbroke deur Afrika strek". Die reaksie van die Nasonale leiers, wat vervat is in die bekende "Swart manifes" wat deur Hertzog, Tielman Roos en D.F. Malan uitgevaardig is, was om Smuts uit te kryt as "die apostel van 'n Swart Kafferstaat wat strek van die Kaap tot Kaïro". Hoewel Smuts geprotesteer het dat sy woorde heeltemal verdraai is, was een van die hooftemas van die Nasionale verkiesingsveld hierna dat, sou Smuts sy sin kry, groter rassegelykheid en uiteindelik Swart oorheersing sou volg. 'n Stem vir die Nasionaliste was 'n stem vir Blanke Suid-Afrika.

Van Pakt tot samesmelting, 1929-1934

Ná die besliste oorwinning van die Nasionaliste in die algemene verkiesing van 1929 het Hertzog probeer voortgaan op die pad wat hy reeds uitgestippel het. Hoewel die Nasionaliste nie meer die steun van die Arb eiders nodig gehad het nie, en die "National Council"-Arbeiders van die Pakt weggebreek het, het Hertzog twee Arbeiders in die kabinet behou, nl. F.H.P. Creswell self en H.W. Sampson . Hertzog het die portefeulje Naturellesake aan E.G. Jansen gegee, maar daar is voortgegaan met die beleid van die "Naturelle"-wetsontwerpe. In 1930 is dié wetsontwerpe nogmaals by 'n gesamentlike sitting ingedien en daarna na 'n gesamentlike gekose komitee van albei huise verwys. Op internasionale vlak het Hertzog sy poging voortgesit om die soewereine onafhanklikheid van Suid-Afrika bo alle twyfel te verseker, en met die Statuut van Westminster in 1931 is dié statuut dan ook bevestig.

Die gekose komitee het eers in 1935 oor die "Naturelle"-wetsontwerpe verslag gedoen, maar intussen is die Swart stemreg in Kaapland sterk afgewater deur ander maatreëls wat die Hertzog-regering aangeneem het. In 1930 het die Vrouestemregwet alle Blanke vroue die stemreg gegee en in 1931 is die beskawingstoets vir Blanke mans in Kaapland ingevolge die Wet tot Wysiging van die Stemreg afgeskaf. Hierdeur is ongeveer 10 000 Blanke manlike kiesers tot die kieserslys gevoeg. Die persentasie Swart stemgeregtigdes het van 7,5 na 2,5 van die Kaapse kieserskorps gedaal, en van 3,5 na slegs 1,1 persent van die totale kieserskorps van die Unie.

Die gebeurtenis wat die Hertzog-regering op ander paaie gedwing, en uiteindelik tot koalisie en later samesmelting met Smuts se Suid-Afrikaanse Party gelei het, was die Groot Depressie, en veral die krisis oor die goudstandaard in 1931-1932.

--- --- ---

Die goudstandaard-krisis

In 1931 het 'n finansiële krisis Europa getref en in antwoord daarop het Brittanje van die goudstandaard afgestap.Verskeie lande het onmiddellik dié voorbeeld gevolg, maar nie Suid-Afrika nie. Sowel Hertzog as sy minister van Finansies, N.C. Havenga, het geglo dat Suid-Afrika as die wêreld se voorste goudprodusent verbind was tot die goudstandaard, en hulle wou ook graag toon dat Suid-Afrika nie meer 'n ekonomiese satelliet van Brittanje was nie. Die gevolg was dat die depressie in Suid-Afrika vererger is deur 'n uitvloei van kapitaal en deurdat minder goedere, veral diamante en landbouprodukte, uitgevoer is. Die Suid-Afrikaanse pond was byna twee keer soveel werd as die Australiese pond, en vir Suid-Afrikaanse wolboere was dit feitlik onmoontlik om op 'n ineengestorte wêreldmark mee te ding. Die ernstige droogte van 1931 het sake net vererger.

Die mynbedryf het die beslissing aanvanklik gesteun omdat uitgawes daardeur in toom gehou kon word, maar smuts het dit tot partypolitieke kwessie verhef. Tydens 'n noodsitting van die Parlement in November 1931 het die SAP gepleit dat Suid-Afrika die Britse voorbeeld moet volg. Anders, het Smuts gewaarsku, sou die land tot "onvermydelike en sekere vernietiging" gedoen wees.

Vroeg in Desember 1932 het Smuts se beskermling, J.G.N. Strauss, die Nasionale kandidaat in 'n tussenverkiesing in Germiston verpletterend verslaan. In reaksie hierop het Tielman Roos, Hertzog se voormalige minister van Justisie wat in 1929 uitgetree het, tot die politiek teruggekeer. Op 16 Desember 1932 het Roos by Haakboslaagte in Wes-Transvaal geëis dat 'n nasionale regering tot stand moet kom om van die goudstandaard af te sien en die bittere rassestryd tussen Afrikaans- en Engelssprekende Blankes te beëindig. Die oortuiging het posgevat dat Suid-Afrika nie die goudstandaard kon handhaaf nie en geld het die land uitgestroom. Op 28 Desember het Havenga aangekondig dat Suid-Afrika van die goudstandaard afgestap het.

--- --- ---

Die wêreldwye ekonomiese insinking wat as die Groot Depressie bekend staan, het begin met die Wall Street-ineenstoring in Oktober 1929. Van Wall Street het die krisis na die hele Amerikaanse ekonomie uitgebrei en daarvandaan na die res van die wêreld. In 1931 het die depressie nóg ernstiger afmetings aangeneem ná 'n "krisis binne 'n krisis": die Europese finansiële ineenstorting, wat meegebring het dat Brittanje in September 1931 van die goudstandaard afgestap het.

Suid-Afrika het aanvanklik nie Brittanje se voorbeeld gevolg nie, maar veral nadat Tielman Roos, Hertzog se voormalige minister van Justisie, weer tot die aktiewe politiek toegetree en 'n nasionale regering bepleit het, het die druk te groot geword. In die begin van 1933 het Smuts en Roos onderhandelinge vir 'n koalisie aangeknoop. Dit het skipbreuk gely toe Roos daarop aandring om self eerste minister te word, want Smuts was nie bereid om terug te staan nie. Sonder sy slagkreet van die goudstandaard kon Roos hom nie veel bied nie. Smuts het dus verkies om koalisie met Hertzog te oorweeg.

Op 30 Januarie het Smuts in die Volksraad 'n nuwe begin vir die Suid-Afrikaanse politiek bepleit en voorgestel "dat die regering onmiddellik bedank om die geleentheid te skep vir die instelling van 'n nasionale regering". Hy het Hertzog taamlik taktloos daaraan herinner dat die regering onderneem het om die goudstandaard te handhaaf; intussen het hulle die belofte verbreek, maar tog skaamteloos aan die bewind vasgeklou. Hertzog het bitter op Smuts se voorstel gereageer, want dit het meer na 'n mosie van wantroue geklink as na 'n aanbod van versoening. Koalisie het skaars nog moontlik gelyk. Agter die skerms het J.H. Hofmeyr (**sien inligting oor  hom hieronder), Smuts se luitenant, hom egter daarvoor beywer om die aanbod van 'n nasionale regering te herhaal, wat hy op 1 Februarie gedoen het. Hierdie keer het die beroep tot regstreekse onderhandelinge gelei.

Hertzog se eie kabinet en koukus was verdeel oor die kwessie. Nogtans het Hertzog besluit om onderhandelinge met Smuts aan te knoop. Hy het die koukus van sy party meegedeel dat hulle nie kon hoop om die volgende verkiesing op eie krag te wen nie, dat Smnuts in die hande van die "imperialisteise" vleuel van die SAP gedryf sou word indien sy pogings tot koalisie misluk, dat die toestand van die land 'n koalisieregering geëis het en die landwye begeerte na eenheid nie verontagsaam kon word nie. Die meerderheid in die koukus het sy diagnose aanvaar.

--- --- ---

J.H. Hofmeyr (1894-1948)(**)

Jan Hendrik Hofmeyr word hoofsaaklik vir sy intellektuele en administratiewe vermoëns en sy liberale oortuigings onthou. Op 23 was hy reeds professor in klassieke tale en daarna hoof van die South African School of Mines and Technology (die voorloper van die Universiteit van die Witwatersrand) in Johannesburg. In 1922 het hy dié universiteit se eerste rektor geword en in 1924 op uitnodiging van Smuts administrateur van Transvaal.

Hofmeyr het 'n belangrike rol gespeel in die skepping van die koalisie tussen Smuts en Hertzog en was in die Koalisie- en Smelter-regering minister van Onderwys en ook minister van Binnelandse Sake (tot 1936) en minister van Arbeid en Mynwese (van 1936 tot sy bedanking in 1938). Toe Smuts in September 1939 die regering saamstel wat Suid-Afrika tot die Tweede Wêreldoorlog laat toetree het, was Hofmeyr eers minister van Finansies en Onderwys en later adjunk-premier.

As minister het Hofmeyr deurgaans 'n swaar administratiewe las gedra en ten minste twee en soms soveel as ses belangrike portefeuljes behartig. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy feitlik die regering waargeneem en Smuts vrygestel om op die oorlog en buitelandse sake te konsentreer. Tussen 1941 en 1945 was hy verantwoordelik vir 112 van die 264 wetsontwerpe wat deur die Parlement aangeneem is. Die druk het onvermydelik 'n nadelige uitwerking op sy gesondheid gehad en sy moeder sy vroeë dood hieraan toegeskryf.

As politikus was Hofmeyr die hoop én wanhoop van Blanke liberale in Suid-Afrika. In 1936 was liberale gevoelens op hom verenig toe hy teen Hertzog se Wetsontwerp op Naturelle-verteenwoordiging gestem het en in 1938 en 1939 het hy oor beginselsake eers uit die kabinet en toe uit die VP-koukus bedank. Baie liberale het gehoop dat hy 'n Liberale Party sou stig, maar hy het geglo dat die Verenigde Party van binne kon verander. In die lig van die nasionalistiese oplewing teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het sy liberalisme egter soms eerder 'n verleentheid vir die party geword.

--- --- ---

In die middel van Februarie het Hertzog, bygestaan deur Havenga, en Smuts, bygestaan deur Patrick Duncan, met hul onderhandelinge begin en voor die einde van die maand is koalisie bewerkstellig. In Maart is die Koalisieregering saamgestel, met Hertzog as eerste minister en Smuts as adjunk-premier en minister van Justisie. Die nuwe kabinet het uit ses Nasionaliste en ses lede van die SAP bestaan. D.F. Malan het 'n pos in die kabinet van die hand gewys en die Arbeiders is uitgesluit. In die daaropvolgende algemene verkiesing, in Mei, het die koalisiepartye 'n oorweldigende oorwinning behaal.

Die samestelling van die Koaliasieregering is een van die mees deramatiese hoofstukke in die geskiedenis van die partypolitiek in Suid-Afrika. Dit het twee manne saamgebring wat hemelsbreed verskil het wat persoonlikheid, styl en lewenshouding betref en wat twee dekades lank geswore politieke vyande was.

Daar word soms beweer dat koalisie vir Smuts 'n terugslag was, of selfs 'n nederlaag. Dit is egter nie seker dat die SAP die volgende verkiesing sou gewen het nie. Hoewel daar in die land algemene ontnugtering met die regering was, was daar ook min geesdrif vir die SAP. Selfs al het Smuts gevoel dat hy die volgende verkiesing sou kon wen, was hy nie seker of dit was wat hy wou hê nie. Hy wou eerder "'n einde (hê) aan die orgie van rassepolitiek waarom ons openbare lewe gedraai het". Indien die land ten gunste van hereniging was, dan het Smuts dié gevoel gedeel.

Vir Hertzog was koalisie bepaald sinvol en nie omdat hy die mag wou behou nie. Uit sy eie oogpunt was die nasionalistiese doelwitte van sy party reeds bereik. Die plek van Afrikaans en die burgerregte van Afrikaners was gevestig en die soewereine onafhanklikheid van Suid-Afrika verseker. Die een belangrike item op sy agende was die Swart stemreg in Kaapland en om dit te kon afhandel, het hy die samewerking van die SAP nodig gehad.

Ná die samestelling van die Koaliasieregering en sy oorweldigende oorwinning in die algemene verkiesing van Mei 1933, was daar veral uit Transvaal groot druk ten gunste van die samesmelting van die twee partye. Op 5 Junie 1934 het Hertzog die "Program van Beginsels" wat hy en Smuts vir 'n gekombineerde party uitgewerk het, bekend gemaak en in Desember is samesmelting uiteindelik bereik met die totstandkoming van die Verenigde Party. Smelting is verwerp deur D.F. Malan en sy volgelinge onder die Nasionaliste, wat die Gesuiwerde Nasionale Party gestig het en deur kol. C.F. Stallard en ses ander Engelssprekende Volksraadslede van die SAP, wat die Dominiumparty in die lewe geroep het.

In die onderhandelinge vir samesmelting was die grootste struikelblok die kwessie van Suid-Afrika se rol en regte binne die Britse Gemenebes. Vir Hertzog was die belange van Suid-Afrika altyd allesoorheersend en die Gemenebes bloot 'n kwessie van gerief; vir Smuts was die Gemenebes "'n groot saak" en lidmaatskap daarvan van die allergrootste belang vir Suid-Afrika. In sy toenadering tot Hertzog in Februarie 1934 (in 'n poging om samesmelting te verhinder) het Malan gewys op die verskille tussen Hertzog en Smuts oor Suid-Afrika se regte en verpligtinge in die Gemenebes, met inbegrip van die kwessie vansesessie en neutraliteit in oorlogstyd. Hertzog en Smuts het uiteindelik nie hul fundamentele verskille uit die weg geruim nie en besluit om daaroor te bly verskil. Wat wel bereik is, was die aanvaarding van die Statuswet, waardeur Suid-Afrika se soewereine status bevestig is.

Die ander belangrike kwessie wat nie tydens die onderhandelinge vir samesmelting ondubbelsinnig opgelos is nie, was dié van die Kaapse stemreg. Die samesmeltingsooreenkoms, soos die koalisie-ooreenkoms, het die partye verbind tot "'n poging in alle erns" om die "Naturelle-vraagstuk op te los en bygevoeg dat die lede van die nuwe party vry sou wees om na hul gewete oor die aangeleentheid van "aparte verteenwoordiging van Europeërs en Naturelle" te stem.

Die Smelter-regering, 1934-1939

Die Smelter-regering was nie so samehorig soos Hertzog se vorige regerings nie - nie net omdat die uiteenlopende elemente bymekaargebring het wat oor fundamentele kwessies verskil het nie, maar ook vanweë Hertzog se styl van leierskap. In wese het hy opgehou om leiding te gee. Hy was veral besorg oor twee sake, nl. sy "Naturelle"-wetsontwerpe en die soewereiniteit van Suid-Afrika. Individuele ministers is toegelaat om hul eie gang te gaan, soms reëlreg in stryd met Hertzog se eie beginsels. Hy het buitelandse sake as sy eie eksklusiewe verantwoordelikheid beskou en selfs Smuts, sy adjunk-premier, nie behoorlik ingelig nie.

Die Smelter-regering het uiteindelik in September 1939 op die rotse geloop vanweë die kwessie van Suid-Afrika se neutraliteit in of deelname aan 'n grootskaalse oorlog waarby Brittanje betrokke was. Vir Hertzog was die grootste prestasie van sy laaste bewindsjare die feit dat sy "Naturelle"-wetsontwerpe in 1936 aangeneem is; samesmelting het hom die tweederde-meerderheid gegee wat hy nodig gehad het. Ironies genoeg het dit juis op 'n tydstip gebeur toe ekonomiese ontwikkelinge besig was om groter integrasie tussen die rasse te bevorder.

Nadat Suid-Afrika van die goudstandaard afgestap het, het 'n aansienlike ekonomiese oplewing gevolg en die ekonomiese groei is tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog voortgesit. Die nasionale inkomste het gestyg van £234,7 miljoen in 1932-1933 na £394,8 miljoen in 1938-1939, 'n toename van 68,2 persent.

Die goudmynbedryf het gedy. Ná die afstap van die goudstandaard het die goudprys van 85s per ons na 120s gestyg en teen 1939 was die 154s. Die gevolg was 'n aansienlike toename in mynbedrywighede en afsettings wat nooit winsgewend was nie, het binne die winsgrens begin val. Ook is 'n nuwe goudveld, die Wes-Witslyn, geopen. Daar was 'n beduidende toename in die vraag na sowel Blanke as Swart mynwerkers, maar die Blankes het die meeste voordeel uit die opbloei getrek. Hul reële lone en indiensnemingsyfers het vinniger gestyg as dié van die Swartes, hoofsaaklik omdat toenemende meganisering meer geskoolde arbeid en toesighoudende dienste - wat tot Blankes beperk was - noodsaaklik gemaak het.

Die oplewing in die goudbedryf het die hele ekonomie gestimuleer. Deur belastings op "oortollige winste" het die staatsinkomste uit die goudmynbedryf dramaties toegeneem en op meer as 30 persent van die totale inkomste te staan gekom, teenoor 5,8 persent in 1930. Die hoë inkomste uit goud het ook die buitelandse valuta voorsien waarmee grootskeepse uitbreiding in die sekondêre nywerheid gefinansieer is. Die klere- en tekstiel-, metaal- en masjien- en klip-, klei en baksteenbedrywe het almal hul produksie meer as verdubbel. Die uitbreiding van die metaalingenieurswese, wat vanaf 1934 yster en staal verkry het van Yskor, was besonder vinnig. Die plofstof- en chemikalieë -nywerheid, wat deur die reusagtige African Explosives and Chemical Industries Ltd oorheers is, het gebloei as 'n regstreekse gevolg van die oplewing in die goudmynbedryf. Nog 'n kenmerk van die tydperk was die ontwikkeling van die land se vervoernet. Spoorlyne is geëlektrifiseer en in1935 is die Nasionale Paaieraad ingestel, wat die volgende jaar 'n omvattende vyfjaarpgoram vir die bou van nasionale paaie van stapel gestuur het.

'n Belangrike gevolg van dié ekonomiese groei,veral wat nywerhede betref, was vinniger verstedeliking namate sowel Blankes as Swartes in die nuwe fabrieke werk gekry het. Volgens die sensus van1936 het 31,4 persent van die totale Suid-Afrikaanse bevolking van 9,6 miljoen in die stede gewoon, met inbegrip van 65 persent van die 2 miljoen Blankes. Van die Swart bevolking van 6,6 miljoen het 45 persent in die reservate gewoon, maar 'n hoë persentasie van die volwasse mans was op enige gegewe oomblik afwesig as trekarbeiders. Van die 55 persent van die Swart bevolking in "Blanke" gebiede het 61 persent op plase gewoon en 39 persent in stedelike gebiede. In Transvaal, waar die grootste industriële groei was, het Swartes 53 persent van die stedelike bevolking uitgemaak. Aan die Witwatersrand h et die Blanke bevolking van 233 000 in 1921 toegeneem tot 410 000 in 1936 en die toename in die Swart bevolking was selfs groter, nl. van 304 000 tot620 000. In Johannesburg is die nuwe woonbuurt, Orlando,vir Swart behuising uitgelê. 'n Groot nuwe Swart stedelike bevolking het dus te voorskyn getree en tydens die Tweede Wêreldoorlog sou dié bevolking selfs nog vinniger toeneem.

Herzog se "Naturelle"-wetgewing

'n Resultaat van fundamentele belang wat deur samesmelting moontlik gemaak is, was dat Hertzog se "Naturelle"-wetsontwerpe in 1936 uiteindelik aangeneem is. Die voorwaardes vir samesmelting het bepaal dat 'n oplossing vir die kwessie van Swart verteenwoordiging sover moontlik deur instemming verkry moet word, maar terselfdertyd "aan die vrye uitoefening van die diskresie van die individuele lede wat die party in die Parlement verteenwoordig" oorgelaat moes word.

--- --- ---

Die "Naturelle"-wette van 1936(*)

In 1935 het Hertzog die gekose komitee se voorstel van 'n Groot Komitee van die Senaat verwerp en in plaas daarvan voorgestel dat 'n adviserende Verteenwoordigende Naturelleraad van 22 lede onder voorsitterskap van die sekretaris van Naturellesake ingestel word. Die wetsontwerp oor die Kleurlingstemreg het heeltemal verval, terwyl die Wetsontwerp op Naturelleverteenwoordiging voorsiening gemaak het vir vier verteenwoordigers vir die Swartmense in die Senaat en vir 'n Verteenwoordigende Naturelleraad. Die Wetsontwerp op Naturelletrust en -grond het 'n verdere 6miljoen ha grond gevoeg by die 9 miljoen wat reeds deur die Wet van 1913 vir Swartes gereserveer is. Uit die Swart oogpunt was die grondvoorstelle 'n verbering op dié van 1926, want bykomende grond vir Swartes sou deur die staat aangekoop word en nie beskikbaar wees vir privaat aankope deur kompeterende Swartes en Blankes nie.

Die Wetsontwerp op Naturelle-verteenwoordiging het Swart verteenwoordiging in die Volksraad uitgesluit. Buite die Parlement is Swart weerstand teen die wetsontwerp gekoördineer deur 'n All African Convntion,wat inDesember 1935 gestig is onder voorsitterskap van D.D.T. Jabavu, leier van die Cape Native Voters'Convention. Op 13 Februarie 1936 het Jabavu 'n deputasie na Hertzog aangevoer om teen die afskaffing van Swart stemreg in Kaapland te protesteer. Hertzog het toe voorgestel dat Swart kiesers in Kaapland op 'n afsonderlike kieserslys geplaas word en vir drie Blanke verteenwoordigers van hul belange kon stem. Die voorgestelde verteenwoordiging van Swartes in die Senaat sou gehandhaaf word. Die AAC het dié kompromis nooit goedgekeur nie, maar Hertog het 'n finale weergawe van die Wetsontwerp op Naturelle-verteenwoordiging op 17 Februarie by die Parlement ingedien en die vereiste meerderheid van twee derdes daarvoor verkry. Die Wetsontwerp op Naturelletrust en -grond waarvoor nie 'n tweederde-meerderheid nog was nie, is hierna aangeneem.

Die beleid van politieke en territoriale segregasie is hierdeur bevorder. Swartes in Kaapland is nie net van die gemeenskaplike kieserslys verwyder nie, maar ook beroof van hul reg om grond buite die gereserveerde gebied te koop. Hiermee is die volle koördinering van die Unie se "Naturelle"-beleid bewerkstellig. In 1937 het die Wet tot Wysiging van die Wette op Naturelle gevolg, waardeur die stelsel van stedelike segregasie en instromingsbeheer uitgebrei en versterk is.

--- --- ---

Uiteindelik was daar tydens 'n gesamentlike sitting van albei huise 'n stemming van 168 teenoor 11 ten gunste van die Wetsontwerp op Naturelle-verteenwoordiging. Onder die minderheid wat daarteen gestem het, was daar sowel liberale in die Verenigde Party, soos F.S. Malan en J.H. Hofmeyr, as die segregasionis kol C.F. Stallard van die Dominiumparty. Smuts, wat die wetsontwerp aanvangklik teengestaan het, het vir die gewysigde weergawe gestem.

Dit is moontlik dat selfs nog voorsamesmelting die meeste van die SAP-lede in die Parlement besluit het om die beginsel te aanvaar dat die Kaapse Swartes van die gemeenskaplike kieserslys verwyder moet word en die regtervleuel van die party het beslis getoon dat dit bereid was om selfs verder as Hertzog te gaan. In die gesamentlike gekose komitee wat in 1930 aangestel is, het twee verteenwoordigers van die SAP, nl. Heaton Nichols en Stallard, die voortou geneem om die Blanke oorheersing wat 'n kenmerk van die voorgestelde wetgewing was, verder te verskerp. Nicholls, wat dit beskou het as die geleentheid om "die volslae en blywende oorheersing van die Europeër" te verseker, was verantwoordelik vir die plan om alle Swart verteenwoordiging in die Volksraad af te skaf en te vervang deur slegs vier verteenwoordigers vir die Swartes in die Senaat. Stallard was op sy beurt verantwoordelik vir die voorstel dat 'n Groot Komitee van die Senaat, bestaande uit "alle Naturelle-verteenwoordigers en ten minste 'n gelyke aantal Blankes", ingestel moes word om voorgestelde wetgewing en belastingheffings rakende Swartes te oorweeg. Die sou die Unie-Nazturelleraad vervang wat Hertzog aanvanklik voorgestel het. Die komitee het die voorstelle van Nicholls en Stallard in beginsel goedgekeur, maar albei is uiteindelik deur Hertzog verwerp, soos vroeër hierbo uiteengesit is.(*)

Die herlewing van Afrikaner-nasionalisme

Samesmelting en die breuk tussen Hertzog en Malan was van die allergrootste belang in die geskiedenis van die Afrikaner-nasionalisme. Hoewel Malan se Gesuiwerde Nasionale Party aanvanklik baie min lede gehad het, hoofsaaklik tot Kaapland beperk was en oor net 19 setels in die Volksraad beskik het, het dit binne vyftien jaar as die grootste krag in die politieke lewe van die Afrikaner en die nuwe regerinde party van Suid-Afrika geword. Die party was nie net 'n herskepping of "gesuiwerde" weergawe van Hertzog se ou Nasionale Party nie. In sy ideologie en sy verworteling in alle institusies in die Afrikanerlewe het die party 'n fundamentele afwyking van die Hertzog-tradisie van Afrikaner-nasionalisme verteenwoordig.

Die brandpunt van Hertzog se nasionalisme was die wetlike status van Afrikaners. Om dié rede was sy vernaamste doelwitte die versekering van taalgelykheid vir Afrikaners, burgerregte vir Afrikaanssprekendes en die grondwetlike onafhanklikheid van Suid-Afrika. Sy omskrywing van "Afrikaner" was nie eng eksklusief nie en het nie net Afrikaanssprekendes omvat nie, maar ook Engelssprekende Blankes wat waarlik jolaal was aan Suid-Afrika en taalgelykheid aanvaar het. Sy nasionalisme is deur 'n sterk gevoel van "Suid-Afrika eerste" gekenmerk en dit het sy buitelandse en ekonomiese beleid help vorm. Die nuwe party het egter 'n veel aggressiewer nasionalistiese ideologie ontwikkel. Dit was sterk republikeins en etnies eksklusief, het die klem op die eiesoortigheid van Afrikaner-"kultuur" geplaas en het nie net die gelykheid van Afrikaners voor die wet as prioriteit gesien nie, maar ook hul haglike sosiale en materiële toestand. Dié doelwitte het vorm gekry in 'n uitgebreide reeks politieke, kulturele en ekonomiese liggame waardeur die party gewerk het om die aspirasies van die Afrikaner te verwoord en sy eie greep op Afrikanerkiesers uit te brei en te verstewig. Die belangrikste koördinerende organsasie hiervoor was die Afrikaner-Broederbond.

Die Afrikaner-Broederbond, wat oorspronklik as kultuurorganisasie gestig is, het in die dertigerjare al hoe meer 'n poliltieke karakter verkry. In 1929 het die Bond sy eerste front-organisasie, nl. die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), gestig. Die het baie van die kulturele werksaamhede oorgeneem en die Bond self dus vrygestel om te konsentreer op ander sake, met inbegrip van die politiek. In die samesmeltingskrisis van 1933-1934 het die Bond op besliste wyse die kant van Malan en die Gesuiwerde Nasionaliste gekies en uit die krisis te voorskyn getree as die voorvegter van Afrikaner-nasionalisme in die Noorde. Die Bond het in die geheim opgetree en in werklikheid die Gesuiwerde Nasionale Party in die Noorde beheer. In sy beroemde toespraak op Smithfield in November 1935, waarin hy die Afrikaner-Broederbond en sy bedrywighede veroordeel het, het Hertzog verklaar: "Dit ly geen twyfel dus dat die geheime Broederbond niks anders is dan die gesuiwerde Nasionale Party geheimelik besig onder die grond, en dat die gesuiwerde Nasionale Party niks anders is as die geheime Afrikaner-Broederbond, sy bedrywighede voortsittende bo die grond."

In die oë van die Afrikaner-Broederbond was sowel Afrikaner-eenheid as Afrikaner-oorheersing in Suid-Afrika noodsaaklik vir die oorlewing en ontwikkeling van die Afrikaner-nasie en -"kultuur". Taalgelykheid en selfs die groter deelname van die Afrikaner in die landsbestuur was nie meer voldoende nie.

'n Belangrike element in die Bond se pogings in die dertigerjare om sowel Afrikaner-volkseenheid as die ekonomiese mag van die Afrikaner te bevorder, was die sg. "ekonomiese beweging". Vir die Bond het klasseskeiding en politieke verdeeldheid Afrikaner-eenheid bedreig en was die hardnekkige "armblanke-vraagstuk" die ooglopendste manifestering van klasseskeiding onder Afrikaners. Die doel van die ekonomiese beweging was om Afrikaner-kapitaal te mobiliseer en armoede onder die Afrikaners te verlig. Terselfdertyd is Christelik-nasionale vakbonde in opposisie tot bestaande liggame bevorder om Afrikaanssprekende werkers los te maak van organisasies wat op klas gegrond was, hul posisie binne die Blanke arbeiderskorps te verbeter en hul steun vir Afrikaner-nasionalisme te verkry. Die geslaagste was die Spoorbond, 'n vakbond van spoorwegwerkers wat in 1934 gestig is. Die uitdaging van die Afrikanerbond van Mynwerkers aan die bestaande Mynwerkersunie het in duie gestort toe 'n "geslote geledere"-ooreenkoms tussen die Kamer van Mynwese en die Mynwerkersunie aangegaan is.

Twee van die grootste prestasies van die Broederbond en die FAK voor die  Tweede Wêreldoorlog was die reëlings vir die eeufeesherdenking van die Groot Trek in 1938 en die stigting van die Reddingsdaadbond (RDB) 'n j aar later. Die eeufeesvierings het onder beskerming van die FAK en onder beheer van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, met H.J. Klopper as voorsitter, plaasgevind. Dit het die vorm aangeneem van 'n simboliese ossewatrek van Kaapstad na Pretoria, en die hoogtepunt was die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. Die belangrikste tema van die toesprake wat tydens die trek gelewer is, was die noodsaak vir Afrikaner-eenheid, en die viering het meegebring dat Afrikaners verenig is. Om dié "ossewagees" te bestendig, is die Ossewa-Brandwag (OB) gestig,wat onder die dekmantel van 'n kultuurorganisasie opgetree het.

'n Tweede tema van die trektoesprake was die probleem van Afrikaner-armoede, en die FAK het dit verder gevoer deur in Oktober 1939 'n Ekonomiese Volkskongres in Bloemfontein byeen te roep. Hieruit het die Reddingsdaadbond tot stand gekom om die ekonomiese vooruitgang van die Afrikanervolk te bevorder deurAfrikanerkapitaal vir belegging in Afrikanersake te mobiliseer. Die hoof van die Reddingsdaadbond was dr. N. Diederichs, wat later minister van Finansies geword het.

--- --- ---

Die Ossewa-Brandwag

Die Ossewa-Brandwag onderleiding van dr. J.F.J. (Hans) van Rensburg het aanvanklik 'n goeie verhouding met die Herenigde Nasionale Party gehad en 'n hele aantal vooraanstaande partylede het daarby aangesluit. Onder die druk van gebeure ná die uitbreek van die oorlog is dié gees van vriendskaplikheid egter vervang deur onversoenlike wedersydse vyandskap. 'n Latere eerste minister, B.J. Vorster, was lid van die OB en is tydens die oorlog by Koffiefontein geïnterneer omdat hy van betrokkenheid by sabotasie-bedrywighede verdink is.

Die botsing tussen die HNP (#) en die OB was die gevolg daarvan dat dit moeilik was om die party tot politieke en die OB tot kulturele sake te beperk. In die eerste oorlogsjare het die OB skouspelagtig gegroei en teen 1941 het hy tussen 300 000 en 400 000 lede gehad. Die styl van die beweging het ook toenemend militaristies geword. 'n Keurkorps, die Stormjarers, is gestig (die naam het herinner aan dié van die Nazi's se Sturmabteilung). Sabotasie deur lede van die beweging was 'n verleentheid vir die HNP, wat, soos Malan afkeurend opgemerk het, op konstitusionele middele staat gemaak het om sy doelwit te bereik.

Teen die einde van 1941 het die OB en die party mekaar reeds verbitterd aangeval. In 1942 is ampsdraers van die party verbied om by die OB aan te sluit, en in 1944 het Malan aangekondig dat dié verbod op alle lede van die HNP van toepassing sou wees. Grotendeels as gevolg van die party se vyandskap het die OB agteruit begin gaan en teen 1943 was dit uitgedien.

#(Bespreking en inligting oor die HNP volg later)

--- --- ---

Die tydperk van 1939 tot 1948: A.W. Stadler

Toe die Britse eerste minister, Neville Chamberlain, op Sondag, 3 September 1939, verklaar dat Brittanje in oorlog met Duitsland verkeer, was die Suid-Afrikaanse Parlement juis byeen in 'n spesiale sitting om die lewensduur van die Senaat, wat op 5 September sou eindig, te verleng. Hertzog het die geleentheid gebruik om sy besluit bekend te maak dat Suid-Afrika neutraal behoort te bly, in die wete dat die Nasionale Party hom sou steun. Die kabinet was egter verdeeld oor die besluit.

Die Maandag het Hertzog in die Parlement 'n voorstel ingedien dat die land neutraal bly, maar dat die regering sy kontraktuele verpligtinge teenoor Brittanje erken wat die vlootbasis by Simonstad betref, asook dié wat uit Suid-Afrika se lidmaatskap van die Volkebond voortspruit. Smuts het 'n amendement voorgestel dat die Unie sy betrekkinge met Duitsland verbreek en nie neutraal bly nie. In die debat het Hertzog verklaar dat indien Suid-Afrika die oorlog met 'n verdeelde (Blanke) bevolking moes aanpak, die versoening van die afgelope ses jaar ongedaan gemaak en die politieke stryd geïntensiveer sou word. Dit was die land se reg om neutraal te bly, en ook in sy belang. Hy het die Ierse eerste minister, De Valera, se besluit om  neutraal te bly as voorbeeld gestel en Hitler se pogings om Duitse onafhanklikheid te verkry, vergelyk met sy eie strewe na Afrikaner-vryheid. Dié vergelyking het alle hoop op versoening verongeluk.

Smuts het geantwoord dat dit onmoontlik was om neutraliteit te laat strook met die land se verpligtinge teenoor Brittanje en die Gemenebes. Hertzog se voorstel is verwerp, maar die goewerneur-generaal, sir Patrick Duncan, het geweier om die Parlement te ontbind. Hertzog het bedank en Smuts is gevra om 'n kabinet saam te stel. Op 6 September het die nuwe regering 'n proklamasie uitgevaardig ingevolge waarvan betrekkinge met Duitsland verbreek is.

Hertzog en die Nasionale Party

Die besluit om tot die oorlog toe te tree, het hewige botsings in die land en veral binne en tussen die politieke partye aan die gang gesit. Onmiddellik nadat hy as premier bedank het, het Hertzog met Malan se party begin onderhandel. 'n Saamtrek by Monumentkoppie buite Pretoria op 9 Oktober 1939 was veronderstel om die versoening tussen Hertzog en Malan openlik te bekragtig, maar "hereniging", soos die versoeningsbeweging bekend geraak het, het besonder moeilik geblyk.

Versoening is vertraag deur sowel beginselsake as kwessies van strategie en organisasie. Hertzog het verklaar dat hy 'n republikein is, maar hy het aanbeveel dat dié doelwit met omsigtigheid nagestreef word. In latere toesprake het hy geweier om die verbreking van konstitusionele bande met Brittanje te oorweeg of 'n republiek te aanvaar tensy 'n breë konsensus onder die Blankes daarvoor verkry is. Malan het dit egter duidelik gestel dat ' n eenvoudige meerderheid in die Parlement syns insiens voldoende sou wees vir die instelling van 'n republiek.

Daar was egter selfs onversetliker Nasionale Party-leiers as Malan. Algaande het hy trouens as bemiddelaar tussen Hertzog, Pirow en die "gematigdes" aan die een kant en die onversetlikes in sy party (o.a. J.G. Strijdom, C.R. Swart en H.F. Verwoerd) aan die ander kant begin optree. Die belang van die kwessies van strategie en organisasie wat Hertzog en Malan verdeel het, is vergroot deur Hertzog se voorneme om 'n nuwe politieke party (die Volksparty) te stig om die nasionalistiese Afrikaners polities te verenig. Malan wou nie 'n nuwe party hê nie, want dit sou die posisie van die Gesuiwerdes se gevestigde leierskap in die gedrang bring, maar ewe min wou hy 'n onheelbare skeuring met Hertzog hê. Hul kompromie was dat die Nasionale Party en die Volksparty in die Parlement as 'n enkele party onder Hertzog sou optree. Die Nasionale Party is herdoop tot die Herenigde Nasionale Party (HNP) of Volksparty.

Ondanks dié omslagtige reëlings het die verhouding tussen die Hertzogiete en Malaniete steeds meer gespanne geraak as gevolg van druk deur republikeinse aktiviste in die HNP om die party daartoe te dwing om die ideaal van 'n republiek met groter ywer na te strewe. Dié druk is in die eerste helfte van 1940 vergroot, toe 'n Britse neerlaag of oorgawe moontlik begin lyk het. In Julie is 'n republikeinse veldtog geloods, wat deur Hertzog sterk teengestaan is.

Tydens die Vrystaatse partykongres in November 1940 is Hertzog se voorstel van gelyke regte vir Engelssprekendes verwerp. Hertzog het hierop bedank as leier en lid van die party wat hy 'n kwarteeu tevore testig het. In 'n toneel wat só aangrypend was dat selfs sy bitterste vyande in swygende huldebtoon opgestaan het, het hy die kongres verlaat.

Hertzog se neerlaag in die Vrystaat is gevolg deur 'n selfs verpletterender neerlaag tydens die Transvaalse konferensie in Desember oor sy eis dat 'n republiek gebaseer moet wees op 'n breë konsensus tussen die twee Blanke taalgroepe. Die beleid van die Federaad van die HNP is so gewysig dat 'n republiek deur 'n gewone parlementêre meerderheid verkry kon word. Daar is ook besluit dat geen Jode lid van die party kon word nie.

Hertzog het nog altyd ondersteuners ind ie Transvaalse Nasionale Party gehad, maar hulle was in die minderheid. Maar, selfs al het hy die steun van meer Volksraadslede as Malan gehad, met inbegrip van gesiene figure soos N.C. Havenga en genl. J.C. Kemp, het hy besef dat hy met sy neerlaag in Transvaal beheer oor die party verloor het. Hertzog en Havenga het  in Desember uit hul Volksraadsetels bedank en in Januarie 1941 die Afrikanerparty gestig. Hertzog se steun in die Volksraad het gedaal van 36 tot 10, en hy is in 1942 oorlede, verbitter deur sy neerlae.

'n Verdere twispunt in die opposisiegeledere was die vraag of die nasionalistiese Afrikanerdom sy politieke leiers sou vind in die Nasionale Party, in wese 'n parlementêre organisasie, of in buiteparlementêre bewegings. Die Ossewa-Brandwag (OB) was die dreigendste van die buiteparlementêre groepe wat die oppergesag van die party uitgedaag het.

'n Ander faksie wat die Malaniete in die Nasionale Party teengestaan het, was Oswald Pirow se "studiegroep", die Nuwe Orde, wat tot sy dood bande met Hertzog behou het en, volgens gerug, ook met die Ossewa-Brandwag. Vanaf 1942 het Pirow en sy parlementêre ondersteuners nie meer die koukusvergaderings van die Nasionale Party bygewoon nie en hulle het as afsonderlike groep aan die 1943-verkiesing deelgeneem. Hulle het al hul setels verloor, wat miskien nie verbasend is nie, want afgesien van die vyandigheid van die Nasionaliste het hulle ook verklaar dat hulle teen sulke parlementêre instellings soos verkiesings gekant was.

--- --- ---

J.B.M. Hertzog (1866-1942): S.B. Spies

James Barry Munnik Hertzog was vyftien jaar lank eerste minister van Suid-Afrika - die langste dat iemand dié pos onafgebroke beklee het. Hy is in die distrik Wellington gebore en het aan die Universiteite van Stellenbsoch en Amsterdam in die regte studeer. Hy het 'n ruk lank in Pretoria as advokaat gepraktiseer en in 1895 is hy 'n pos as regter in die Oranje-Vrystaat aangebied.

Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy regsadviseur vir die Vrystaatse kommandante en in 1900 is hy as generaal aangestel. Hy was een van die eerste voorstanders van 'n guerrilla-tegniek en was aanvoerder van geslaagde invalle in die Kaapkolonie.

Ná 1902 was Hertzog een van die leiers van die Orangia-Unie. In die kabinet van die Oranjerivier-kolonie was hy prokureur-generaal en minister van Onderwys. Hy het Hollandse taalregte afgedwing, wat by Engelssprekendes ongewild was. Sy grootste bydrae tot die Nasionale Konvensie was die opstel van Artikel 137 van die Suid-Afrika-wet wat Hollands en Engels gelyke regte gegee het.

In die eerste Unie-kabinet was Hertzog minister van Justisie en vir 'n kort rukkie minister van Naturellesake. Ná die breuk met Louis Botha en die stigting van die Nasionale Party het Hertzog veral drie beginsels voorgestaan en probeer implementeer, nl. 'n tweestroom-beleid waarin Engels- en Afrikaanssprekende Blankes gelyke regte sou hê, 'n beleid van "Suid-Afrika eerste" in grondwetlike en ekonomiese sake, en 'n beleid van rasseskeiding. Dit het die kern van sy politieke filosofie uitgemaak en sy loopbaan oorheers.

Ná die Koalisie en Smelting het Hertzog die unieke posisie wat hy van 1907 tot 1932 beklee het, nl. dié van algemeen aanvaarde kampvegter vir Afrikaner-regte, verloor. Ná sy kortstondige versoening met D.F. Malan in 1939 het Hertzog se politieke loopbaan inbitterheid en frustrasie geëindig toe hy van die Herenigde Nasionale Party uitgesluit is.

--- --- ---

Suid-Afrika en die Tweede Wêreldoorlog

Meer as 2 miljoen Suid-Afrikaners het hulle vrywillig aangemeld vir oorlogsdiens, met inbegrip van 120 000 Swartes, wat egter tot 'n nie-vegtende rol beperk is. Maar selfs in die tradisionele rol van knegte en arbeiders het baie van dié Swartes heldedade verrig.

Suid-Afrikaanse troepe het in Oos-Afrika, Madagaskar, Noord-Afrika en Italië geveg. Die veldtog in Oos-afrika was trouens grotendeels 'n Suid-Afrikaanse onderneming. Suid-Afrikaners het ' n groot aandeel gehad in die neerlaag van die Italiaanse troepe by El Wak in 1940, en 'n jaar daarna was hulle die belangrikste element in die mag wat die Hertog van Oasta se troepe in die slag van Amba Alagi verslaan het. In dié slag is die mag van die Spilmoondhede in Oos-Afrika beslissend gebreek. Duisende Italianers wat in dié veldtog gevange geneem is, is na Suid-Afrika gestuur, en baie het hulle ná die oorlog hier gevestig.

'n Groot getal Suid-Afrikaanse troepe was betrokke by die stryd in Noord-Afrika. Twee divisies, wat as deel van die Britse Agtste Leër na Egipte gestuur is, het deelgeneem aan die groot veldslae van 1941 en 1942, met inbegrip van dié by Sidi Resegh. Daar was 10 000 Suid-Afrikaners in die rampspoedige leër wat deur Rommel by Tabroek vasgekeer is. Die meeste van hulle is tot aan die einde van die oorlog in Duitse krygsgevangenekampe aangehou. Baie Suid-Afrikaners het in die slag van El Alamein onder Montgomery gedien waar Rommel se opmars om Egipte te verower deur die Agtste Leër gestuit is. Die Sesde Suid-Afrikaanse Pantserdivisie is as deel van die Agtste Leër na Italië gestuur nadat die beleid dat geen Suid-Afrikaanse troepe buite Afrika sou veg nie, deur die Parlement herroep is. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het aan baie sendings oor die besette Europa deelgeneem, o.m. aan die merkwaardige sending in die middel van 1944 wat kosvoorrade oor Warschau afgegooi het terwyl die Rooi Leër aan die oostelike oewer van die Weichsel gestaan en die Duitsers besig was om die Poolse opstand in die stad te onderdruk.

Krygsdiens het 'n belangrike invloed op die opvattings van die troepe gehad. Baie het na Suid-Afrika teruggekeer met die oortuiging dat rassisme irrasioneel en parogiaal is. Die Springbok-legioen, wat ná die oorlog gestig is, het radikaler opvattings gehuldig as wat die meeste oudgediendes bereid was om te duld, maar die Fakkelkommando, wat in 1953 aan die voorpunt van die stryd vir die behoud van die verskanste klousules van die Suid-Afrika-wet was, het groot steun onder oudgediendes geniet.

Nog voor die oorlog het die Italiaanse inval in Ethiopië Suid-Afrikaanse Swartes tot die besef gebring dat daar 'n onafhanklike Swart staat in Afrika bestaan en baie Swartes was aan die kant van die internasionale magte wat Fascisme teengestaan het. Die oorlog het die teenstrydigheid tussen die Swartes se gebrek aan politieke regte en die redes wat aangevoer is vir die Geallieerdes se taak treffend vir hulle uitgewys. Dié teenstrydigheid is verskerp toe Swartes wat hulle vir militêre  diens aanmeld, tot die besef moes kom dat hulle nie bewapen sou word nie, maar voertuie moes bestuur en loopgrawe moes grawe. Die Suid-Afrikaanse owerheid het die Britse leër selfs daartoe oorgehaal om Swartes wat in Betsjoeanaland en Basotholand gewerf is, met niks gevaarlkers as kieries en assegaaie te bewapen nie. Die African National Congress het hieroor, net soos in die Eerste Wêreldoorlog, 'n tegemoetkomende houding ingeneem om die oorlogspoging nie te benadeel nie. In 1943 het die konferensie van die ANC egter reeds die implikasies van die Atlantiese Handves vir Suid-Afrikaanse Swartes bespreek en volle burgerregte vir almal in die Unie geëis.

Op ekonomiese gebied het die oorlog toestande geskep vir 'n groot oplewing wat tot 1945 sou voortduur. Dié oplewing het saamgeval met 'n radikale verandering in die struktuur van die ekonomie wat tydens die depressie begin het. 'n Oorlogsnywerheid is gevestig wat 'n groot deel van die Unie-Verdedigingsmag se benodigdhede ten opsigte van kanonne, pantservoertuie en ammunisie gelewer het en dit het navorsing gestimuleer in 'n reeks aanverwante sake, soos die metallurgie en kommunikasiewese en tot belegging in in opleidingsprogramme en arbeidsbesparende metodes gelei. Dié nywerheidsgroei het op sy beurt die vraag na arbeid gestimuleer en die disintegrasie van die landelike ekonomie en gemeenskap verhaas wat reeds in die Groot Depressie van die vroeë dertigerjare ver gevorder het. Die beweging van die platteland na die stede het ná 1939 toegeneem en sosiale en politieke konflikte aangewakker en vererger, veral onder Swartes en Blankes wat aan dieselfde proses van verandering blootgestel was. Dit het ernstige spanninge op regeringsinstansies geplaas.

Van belang vir die toekomstige verhouding tussen die regering en nywerhede in privaat besit was die oprigting in 1940 van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie om nuwe nywerhede en bedrywe te gehelp finansier. Die Sosiale en Ekonomiese Beplanningsadviesraad, wat in 1942 onder voorsitterskap van dr. H.J. van Eck ingestel is, het 'n groot reeks maatskaplike en ekonomiese aangeleenthede ondersoek en aanbevelings vir die modernisering van die ekonomie en die regering gedoen wat die rigting van die toekomstige verhouding tussen die staat en die private sektor beïnvloed en mikpunte vir na-oorlogse nywerheidsontwikkeling gestel het.

Die instroming van ingevoerde fabrieksware uit Europa, veral uit Brittanje, het feitlik tot 'n einde gekom. Dit het plaaslike nywerheidsgroei bevorder. Die mark is verder gestimuleer deur die hoë indiensnemingsyfers in die meeste nywerheidsektore, die toetrede van nuwe groepe tot die arbeidsmark (baie Blanke vroue het in die ammunisiebedryf weg gevind en baie Swart vroue het vir die eerste keer in febarieke gaan werk) en die deurtog van besoekende troepe in die hawestede.

In die tydperk 1936-1946 het die Swart stedelike gevolking van Suid-Afrika byna verdubbel. Dié massale verstedeliking het die mees omstrede strydpunt in die na-oorlogse Blanke politiek geword. Dit was die agtergrond van die meningsverskille tussen liberale en die voorstanders van volslae skeiding wat in 1948 aan bewind gekom het en dit het ook die Afrikanerwerkers se vrees vir mededinging om werkgeleenthede en woonplek in die oorbevolkte stede versterk.

--- --- ---

In die veertigerjare het nie net Swart werkers in toenemende getalle na die stede verhuis nie, maar het ook al hoe meer Swart gesinne hulle daar gevestig.

Plakkerskampe

Vanaf 1944 het groot plakkerskampe aan die buitewyke van veral Johannesburg, maak ook rondom ander groot stede, ontstaan. Ten spyte van die pogings van plaaslike owerhede om hulle te verwyder, het dié kampe, wat goed georganiseer was en onder knap leiding gestaan het, bly voortbestaan tot in die vyftigerjare, toe munisipale behuising en mettertyd ook behuising wat deur die sentrale regering opgerig is, aan die plakkers verskaf kon word.

Die plakkers het die kern uitgemaak van die enorme stedelike n edersettings wat 'n kenmerk van die na-oorlogse nywerheidstede geword het. Die leiers van die kampe, sos individue, soms komitees, het besture en dienste, howe en polisie ingestel. Hulle het heffings van die inwoners geëis en die handel in die kampe beheer. Munisipale amptenare het dikwels beweer dat die kampe ongesond en onhigiënies, deur misdadigers geteister en in hoofsaak deur rondlopers bewoon is. Sommige van die kampe was inderdaad onhigiënies, maar ander is goed onderhou. Misdaad was nie erger as in ander gebiede nie en die meeste volwassenes het tot met die aanbreek van die na-oorlogse resessie werk gehad.

Die beroemdste plakkerleier, James Mpanza, het deur middel van die Sofazonke-party (wat nog steeds bestaan) verskeie plakkerskampe georganiseer. Mpanza was beroemd vir die charismatiese gesag wat hy uitgeoefen het. Hy is die "koning van Orlando" genoem en het die toegeneentheid van 'n groot aantal getroue aanhangers geniet. In Soweto onthou baie mense hom met trots en word hy as die stigter van dié satellietstad van Johannesburg beskou.

--- ---

Die ernstige agteruitgang van die landbou in die reservate sedert die depressie is vererger deur die maatreëls wat ingevolge die Naturelletrust en -Grond Wet van 1936 ingevoer is. In 1939 het die regering regulasies afgekondig waardeur gebiede in die reservate tot "opheffings"-gebiede verklaar is. Die Departement van Naturellesake het grense4 gestel aan hoeveel grond boere kon ploeg en aan hoeveel vee toegelaat is. Dié maatreëls, sowel as wydverspreide versuim om kopbelasting te betaal, het gelei tot talle botsings tussen die polisie en Swart kleinboere. Die vermindering van vee het groot ontevredenheid veroorsaak, want vir die stamlede was vee hul rykdom, benewens die feit dat hulle melk, kos en trekkrag voorsien het.

Die regering se program in die dertigerjare om die landbousektor weer op te bou, het Blanke boere in staat gestel om hul produksiemetodes te meganiseer en dus minder afhanklik van Swart arbeid te word. 'n Knellende droogte in die eerste oorlogsjare het Swart plaasarbeiders ook swaar getref. Mielieporuksie op Blanke plase en in die reservate het gedaal. Teen die einde van die oorlog moes Suid-Afrika mielies uit Argentinië invoer enboere het die rantsoene van Swart arbeiders verminder. Al dié faktore het bygedra tot die beweging van mense van die platteland na die stede tydens die oorlog en die jare daarna.

Tydens die oorlog het die fabriekswese en boubedryf meer arbeid as ooit tevore nodig gehad en vanaf 1943 het die regering instromingsbeheer verslap en die moontlikheid van 'n hersiening van die paswette begin bedspreek. Ondanks die groot vraag na arbeid en die betreklik hoë lone van Swart werkers, was woonomstandighede in die stede swak. Lone het nie tred gehou met stygings van huurgeld en prysverhogings ten opsigte van kos en vervoer nie. Ondervoeding, veral onder kinders, was algemeen. Die groot instroming van mense na stedelike gebiede het munisipale dienste onder druk geplaas en die tekort aan Swart behuising het toegeneem.

Teen die einde van die oorlog is die regering gekonfronteer met toenemende getuienis dat die beleid wat in die twintigerjare ingevoer is, nl. dat Swartes "tydelike besoekers" in die stedelike gebiede is, verander behoort te word. In 1946 is regter Henry Fagan benoem tot vookrsitter van 'n kommissie van ondersoek na die paswette. Die kommissie het verskeie gedetailleerde voorstelle gedoen vir 'n verslapping van die paswette en om bestuursliggame in die Swart woonbuurte tot stand te bring, maar dit is ná 1948 deur die Malan-regering verwerp. Nogtans het opeenvolgende regerings ná die oorlog deur hul dade (hoewel hulle dit nooit amptelik erken het nie) aanvaar dat die vestiging van Swartes in die stede de facto permanent is.

Die radikalisering van die Swart politiek en die regering se rassebeleid

Die sosiale omwenteling van die oorlog het die politieke stryd van die Swartes op die platteland en in die stede verskerp, in die vorm van sowel werkersoptrede as politieke bewegings met 'n gemeenskapsbasis. Op die platteland is weerstand teen die Naturelletrust en -Grond Wet die hele dekade deur voortgesit en het dit die aandag van die ANC en die Kommunistiese Party getrek. In die stede he4t huurdersbewegings en vervoerboikotte aksie teen huisbase en vervoermaatskappye gemobiliseer. Daar was kos-onluste in mynkampongs en by opvoedkundige inrigtings. Die reeks busboikotte aan die Witwatersrand en in Pretoria wat die hele oorlog deur voortgeduur het, het die regering gedwing om die lewensomstandighede en lone van werkers te ondersoek. Alle vlakke van die regering was betrokke by pogings om laat in 1944 die busboikot by Alexandra, aan die buitewyke van Johannesburg, te probeer beëindig. Die Public Utility Transport Company (Putco), wat deur die regering gesubsidieer is om reisgeld laag te hou, is regstreeks as gevolg van die boikot gestig. Boikotte het ook die ANC gedwing om aan die praktiese probleme van die gewone mense aandag te skenk.

Swart werkers het tydens en ná die oorlog al  hoe militanter geword. In reaksie op die omvangryke stakings wat laat in 1942 begin het, het die regering Oorlogsmaatreël 145 ingevoer, wat stakings deur Swartes verbied het. Dit was egter nie besonder doeltreffend nie. Tydens die oorlog het Swart vakbonde ook vinnig gegroei, nadat hulle reeds in die laat dertigerjare veral aan die Witwatersrand, maar ook in die Kaap en Natal ontwikkel het. Swart en veelrassige vakbonde is georganiseer deur linksgesindes met verbintenisse met die Kommunistiese Party, hoewel baie van hulle Trotskiste was.

Die ANC Youth League, wat in 1943 gestig is, het 'n radikaler standpunt ingeneem as die konserwatiewe elemente in die ANC, wat nog altyd die leierskap van dié organisasie oorheers het. In 1944 het die Congress 'n anti-pasveldtog georganiseer wat geslaag begin het met 'n betoging van 20 000 mense in Johannesburg, maar die teiken van 'n miljoen handtekeninge vir 'n petisie teen die paswette kon nie bereik word nie.

In die geskiedenis van die Naturelle-Verteenwoordigende Raad kom 'n soortgelyke verskuiwing voor. In die eerste raadsverkiesing, wat voor die oorlog plaasgevind het, is hoofsaaklik konserwatiewe lede van die Swart middestand verkies. Die Raad het gou die reputasie gekry dat dit 'n blote "praathuis" is. In die verkiesing van 1943 is radikaler en aggressiewer lede egter verkies en tydens die mynwerkerstaking (*** inligting  hieronder) het die Raad besluit om in protes te verdaag. ) Paul Mosaka het die liggaam as 'n "speelgoedtelefoon" beskryf, 'n "apparaat wat geen klank kan oordra nie". In 1947 is Smuts se aanbod om die ledetal van die Raad te vergroot, sy magte uit te brei en bowendien ook erkenning aan Swart vakbonde te verleen, verwerp, omdat die liggaam geëis het dat Swartes as burgers van Suid-Afrika erken moet word. In die praktyk het die Raad in duie gestort. Die stigting van dié liggaam was geen oplossing vir die drie probleme waarmee Swartmense al hoe meer gekonfronteer is nie, nl. die paswette, te min grond en die magteloosheid en beperktheid van Swart verteenwoordiging in die Parlement.

--- --- ---

***Die mynwerkerstaking van 1946

Die staking van Swart mynwerkers aan die Witwatersrandse goudmyne in Augustus 1946 was die klimaks van 'n reeks mynstakings en -onluste wat doe gevolg was van 'n kombinasie van lae lone, gevaarlike werk- en  woontoestande en swak rantsoene. Die kontantloon van Swart mynwerkers, oorwegend trekarbeiders uit die reservate, het van 1890 tot 1942 gedaal van 2/6 na 2/- per skof. Wesenlik het die konflik oor lone die verswakkende toestande in die reservate weerspieël. Die argument ten gunste van lae lone was dat die Swartes 'n deel van hul inkomste uit vee- en grondbesit in die reservate verkry.

In 1941 is die African Mine Workers' Union gestig, onder leiding van Gaur Radebe, sekretaris vir mynwese in die Transvaal African Congress en lid van die Kommunistiese Party. Ondanks polisie-inmenging het die liggaam die regering daartoe beweeg om die Lansdown-kommissie aan te stel om toestande aan die myne te ondersoek. In sy verslag in 1944 het die kommissie erken dat die reservate nie meer die lone van arbeiders sonder grondbesit aanvul nie en benewens ander hervormings aanbeveel dat hulle 'n loon moet ontvang wat met dié van die nywerheidswese gelykstaan. Die Union het die aanbevelings as "hopeloos ontoereikend" bestempel, maar eise vir 'n staking verwerp. Aan die einde van die oorlog het die Union egter 'n loon van 10/- per dag, gesinsbehuising, betaalde verlof, bonusse en die herroeping van Oorlogsmaatreël 145 geëis. Die Transvaal Council of Non-European Trade Unions het 'n staking gesteun.

Vroeg in Augustus 1946 is tydens 'n monstervergadering van mynwerkers besluit om te staak en op 12 Augustus het 50 000 werkers in hul kampongs gebly. Altesame 73 000 werkers was by die stakings betrokke en 16 000 polisiemanne, met knuppels bewapen, het diens gedoen. Produksie is by tien myne volkome lamgelê en by baie ander ernstig ontwrig. Leiers van die Union is ingevolge oorlogsregulasies verhoor en die nasionale dagbestuur van die Kommunistiese Party het op 'n aanklag van opruiing tereggestaan. Die staking het dier adikale neigings in dieANC versterk en die verhoudings tussen die Naturelle-Verteenwoordigende Raad en die regering onder druk geplaas.

--- --- ---

Die regering wat Smuts in 1939 gevorm het, was moontlik die liberaalste in die Unie tot in dié stadium. J.H. Hofmeyr, op wie baie liberale hul hoop op 'n nuwe beleid teenoor Swartes gevestig het, was adjunk-premier. Die sekretaris van Naturellesake, Douglas Smit, was 'n gematigde en verligte amptenaar wie se werk 'n voorafskaduwing van die Fagan-kommissie was. Die Departement van Openbare Gesondheid het besef dat die gesondheid en voedingsprobleme van die bevolking doelgerigte optrede verg. Die  Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings het voortdurend deur ondersteuners in Pretoria en in die Parlement druk op die regering toegepas. Die mees reaksionêre Blankes was in opposisie. Tog was daar selfs in sake waaroor die meeste liberale dit eens was, skynbaar min vordering. Selfs die konserwatiefste Swartes kon moeilik glo dat daar in hul maatskaplike en politieke toestande enige wesenlike verbeterings sou kom.

Die regering se inkorting van die grondregte van Indiërs in Natal en Transvaal was 'n duidelike bewys dat nie alle reaksionêre  in opposisie was nie. In die vroeë oorlogsjare het Indiërs heelwat grond in die Durbanse middestad gekoop. Ná die verslag van die Broome-kommissie het die Parlement die Wet tot Beperking van Handel en Okkupasie van Grond aangeneem, wat Indiërs in dié provinsie drie jaar lank verbied  het om nog grond te koop. In 1946 het die Parlement 'n wet aangeneem wat dié maatreël permanent gemaak het. 'n Poging om die Indiërmening te paai deur hulle verteenwoordiging in die Parlement aan te bied in ruil vir die verlies van die reg om verdere grond te verkry, is deur Indiërleiers verwerp. Dr. T.M. Dadoo, dr. G.M. Naicker en eerw. Michael Scott was onder die duisende wat hulle in die lydelike versetsveldtog van 1946 aan inhegtenisneming blootgestel het. Die Indiër-gemeenskap het ook 'n afvaardiging na die Verenigde Volke-Organisasie gestuur en só die eerste van talle vraagstukke rakende Suid-Afrika na dié internasionale liggaam geneem. Die Indiese regering het betrekkinge met Suid-Afrika verbreek. Rassisme was klaarblyklik nie die prerogatief van een party nie. Die Arbeiders- en die Dominiumparty het trouens oor die kwessie van Indiër-verteenwoordiging geskeur. Hoewel die regering 'n groot meerderheid in die Parlement gehad het, het dit nòg daar nòg onder die kiesers breë steun vir 'n liberale kleurbeleid gehad.

Die opkoms van die Nasionale Party, 1943-1948

Die Nasionale Party se oorwinning in die verkiesing van 1948 was nie 'n uitgemaakte saak wat deur die ekstrapolasie van die uitslae van die 1943-verkiesing verklaar kan word nie. (##)Dit kan ook nie uit 'n algemene voorkeur vir Afrikaner-sentiment of uit kleurvooroordeel verklaar word nie. Eerder het die NP se beleid na 'n oplossing gelyk vir die probleme waarmee Afrikaner-werkers en -boere in die laaste jare van die oorlog en die jare onmiddellik daarna te kampe gehad het - probleme wat nòg die VP-regering nòg die mededingende nasionalistiese organisasies kon of wou oplos. Nasionalistiese Af;rikaner-organisasies, met inbegrip van kultuurverenigings, kon die magteloosheid en verdeeldheid in bestaande organisasies vir die werkersklas en die feitlike ineenstorting  van die Arbeidersparty as 'n party van die werkers uitbuit om die steun van die Afrikaner-arbeidersklas vir die Nasionale Party te stabiliseer. Die hoeksteen van die NP-oorwinning van 1948 was die party se vordering in die landboudistrikte van Transvaal (waar hy  in 1943 swak gevaar het) en in die arbeidersdistrikte aan die Witwatersrand en die laemiddelklasgebiede van Pretoria (waar hy die eerste keer baie setels verower het).

--- --- ---

##Die algemene verkiesing van 1943

Die verkiesing van 1943 is deur sommiges beskou as 'n triomf vir die Verenigde Party en die koalisie ten gunste van oorlog. Ander het dit beskou as 'n waarskuwing dat die Nasionale Party die volgende verkiesing sou wen.

Die verkiesing het die oopenbare mening oor die oorlog getoets en duidelik 'n mandaat vir die voortsetting daarvan gelewer. Die Verenigde Party het steeds verskeie spesiale en streekbelange geakkommodeer en die regering het op sy koalisie met die Arbeiders- en Dominiumparty staatgemaak vir 'n groot parlementêre meerderheid. Sonder Hertzog kon die VP en die kabinet meer eensgesind en meer vasberade optree as voor die oorlog. Almal was verbind tot die oorlog en dit het die kenmerkende versplinteringsneigings van die VP verbloem. Veral Smuts se posisie is verstewig.

Daar was egter baie tekens dat die dae van die VP-bewind getel was. Ten eerste het die HNP sy beheer oor die Afrikaner-nasionalistiese politiek teen 1943 beslissend gekonsolideer. Net soos vir die regering was die verkiesing vir Malan 'n toets van die HNP se vermoë om die kiesers se steun te verkry vir besluite van partykongresse en -koukusse. In dié lig beskou, was die verkiesing 'n byna totale sukses vir die Malaniete, want hul teenstanders onder opposisiegroepe is uitgeskakel. Die HNP het boonop nou 43 Volksraadsetels gehad, in vergelyking met die 27 van die Gesuiwerdes in 1938. Die HNP het die Afrikanerdom op politieke gebied beheer en was besig om die rigting in te slaan wat aan hom die oorwinning in die verkiesing van 1948 sou besorg.

--- --- ---

Benewens arbeidskwessies het die boere ná die rasionalisering van die nywerheidswese met talle probleme te kampe gehad. Die Wet op Bemarking, wat voordie oorlog ingestel is, is toegepas met die doel om die getal landbou-eenhede te verminder en hulle doeltreffender te maak en ook om voedselpryse laag te hou, gedeeltelik in die belang van die nywerhede. Die mynbedryf, wat regstreeks aan hul arbeiders rantsoene verskaf het, het veral belang gehad by lae voedselpryse.

Die probleme van ongeskoolde Blanke arbeiders in die sekondêre nywerhede het dié van die boere gekomplementeer. Die lone van Blanke arbeiders het dieselfde gebly of selfs gedaal. Ondanks 'n styging van ongeveer 50 persent tydens die oorlog was Swart lone nog steeds laer as dié van Blankes, wat nog steeds verdringing deur Swart werkers gevrees het. Die woontoestande van die Blankes het gewissel, maar in sommige gebiede was dit skokkend en daar was 'n ernstige behuisingstekort. Ondervoeding was onder blankes nooit so ernstig as onder Swartes nie, maar tog het opnames tydens die oorlog getoon dat sowat 40 persent (en in arm gebiede 50 persent) van Blanke skoolkinders ondervoed was.

Die probleme van ongeskoolde en halfgeskoolde Blanke werkers is vererger deur ontwikkelinge in die nywerheid, die arbeidsbeleid van die regering en die toestande in die Blanke vakbonde. Die vinnige meganisering van die nywerheidswese tydens die oorlog het die indiensneming van Swarte4s as masjienbedieners in fabrieke aangemoedig. Baie Afrikaners was onseker oor hul toekoms in die arbeidsmark, veral tydens die resessie ná die oorlog en daar was dikwels stakings onder Blanke werkers teen die indiensneming van Swart masjienbedieners.

Die teenwoordigheid van die Arbeidersparty in die koalisie het aan die regeering 'n mate van beheer oor Blanke arbeid gegee wat niemaklik deur eenvoudige onderdrukking verkry sou kon word nie. Die leier van die Arbeidersparty, Walter Madeley, was trouens minister van Arbeid in Smuts se kabinet, en die kontroleur van mannekrag was  'n voormalige vakbondlid en veteraan van die 1914-staking, Ivan Walker.

Afrikaner-nasionalistiese leiers, wat vroeër nie daarin kon slaag om met die steun van die Broederbond en die FAK beheer van die Mynwerkersbond te verkry nie, het teen die einde van die oorlog dié vakunie oorgeneem. In 1948 het die Arbeidersparty geen enkele setel in 'n werkersklas-kiesafdeling bestry nie en het hulle dus die politieke leierskap van die Blanke werkersklas feitlik geheel en al aan die Nasionale Party afgestaan.

Die belangrikste linksgesinde vakbond met 'n sterk Afrikaanse ledetal was die Klerewerkersbond onder Solly Sachs, 'n Joodse oud-Kommunnis. Dié vakbond was doeltreffend op 'n veelrassige grondslag georganiseer, sodat Afrikaner- en Kleurlingwerkers saam kon optree waar gemeenskaplike belange geraak is. Dié voorbeeld van arbeidsolidariteit óór die kleurskeidslyn was 'n uitsondering op die reël wat die meeste blanke werkers aan hul rasvoorregte verbind het. Teen die einde van die oorlog het die druk van al hoe meer Kleurlingwerkers in die klerebedryf die veelrassige solidariteit van die arbeids in dié bedryf egter begin ondermyn.

In die verkiesing van 1948 was die grondslag van die Nasionale Party se veldtog sy apartheidsbeleid. Dié beleid was grotendeels onomskrewe, maar besonder aantreklik vir kiesers soos boere en halfgeskoolde werkers wie se belange deur die liberaler regeringsbeleid van die oorlogsjare bedreig is.

Die verslag van die Fagan-kommissieis 'n paar maande voor die verkiesing gepubliseer. Daarin is 'n analise gegee van die verstedeliking van die Swartes as 'n onafwendbare proses, en aanbeveel dat die paswette hersien word om die permanentheid van 'n stedelike Swart bevolking teerken. Vir Blanke werkers, of boere vir wie die rasionalisering in die nywerheidswese geen voordeel gebring het nie en wat nog steeds van swak besoldigde arbeid afhanklik was, was die aanbevelings onaantreklik. In die Sauer-verslag, wat vir die Nasionale Party opgestel is, is baie van die aannames dieselfde as dié in die Fagan-verslag, maar daar is aanbeveel dat instromingsbeheer verskerp word om voldoende arbeid vir Blanke boere te verseker.

Takties hetdie NP sy standpunt oor 'n republiek só gewysig dat die party belowe het om binne die Gemenebes te bly. Ook Hertzog sebeginsel van gelyke taalregte vir Engelssprekendes, wat die Party tydens die vroeë oorlogsjare teengestaan het, is aanvaar. Dit is twyfelagtig of die NP hierdeur baie stemme van Engelssprekendes gewen het, maar heelwat Afrikaners wat anders vir die VP sou gestem het, is ongetwyfeld daardeur gerusgestel. Bowenal het die aanvaarding van Hertzog se beginsels dit vir die NP moontlik gemaak om 'n deurslaggewende verbond aan te gaan met die Afrikanerparty, wat nie 'n bedreiging vir die oorheersing van die Nasionale Party was nie.

Ondanks sy kwynende invloed, was die OB 'n faktor waarmee in meer as twintig kiesafdelings nog rekening gehou moes word. Malan het vasberade geweier dat lede van die OB as kandidate vir òf die Nasionale òf die Afrikanerparty staan. Onder die aspirant-Volksraadslede vir wie dié beslissing 'n teleurstelling was, was die latere eerste minister B.J. Vorster. Malan het trouens nog verder gegaan en geweier dat die NP steun van die OB-lede werf of aanvaar. Kandidate wat in hul kiesafdelings OB-steun nodig gehad het om hul setels te wen, het egter geheime reëlings getref om dit te verkry.

Die Verenigde Party het die verkiesing daarenteen in wanorde tegemoet gegaan. Daar was 'n vasberadenheid om die oorlog eendragtig deur te voer, maar het Smuts nie meer die voordeel van die prekêre konsensus gehad wat hy sedert 1939 gebruik het om sy party en dié se bondgenote saam te snoer nie. Die regering het te staan gekom voor talle aanpassingsprobleme ná die oorlog, veral 'n skaarste aan sekere produkte, ontwrigtings, werkloosheid en stakings, sonder enige duidelike gevoel van politieke doelgerigtheid. Baie oudgediendes het bevind dat hul helde-ontvangs by hul terugkeer hulle geen werk of behuising besorg het nie en hulle het teen die regering gestem.

Die liberale groep in die VP, aangevoer deur Hofmeyr, was teikens vir beskuldigings deur die Nasionaliste dat die VP 'n koers ingeslaan het wat sou lei tot sosiale ontwrigting en die verdringing van Blanke werkers deur Swartes. Bowendien was Hofmeyr uiters ongewild by konserwatiewe elemente in sy eie party, wie se voorkeur vir 'n streng kleurbeleid nie veel van die Nasionaliste s'n verskil het nie. Die VP sebelangrikste politieke bates was die charismatiese figuur van Smuts (@inligting oor hom hierna) en Suid-Afrika se prestasies in die oorlog, maar dit het nie veel gewig gedra by die Afrikaner-werkers en -boere nie.

--- --- ---

J.C. Smuts (1870-1950): S.B. Spies

Jan Christiaan Smuts is naby Riebeeck-Wes in die Kaapkolonie gebore. Hy was 'n briljante student wat in Suid-Afrika en aan Christ College, Cambridge, ongekende akademiese onderskeidings behaal het. Hy het as advokaat gepraktiseer en voor die Jameson-inval het hy Rhodes se breë beleid gesteun. Hy het na Transvaal verhuis en is deur Paul Kruger as staatsprokureur aangestel. Kruger het voorspel dat hy 'n belangrike rol in die geskiedenis van Suid-Afrika sou speel.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het hy hom as 'n man van aksie bewys, maar later was hy en Louis Botha voorstanders van versoening. Hy was 'n belangrike grondlegger van die Unie van Suid-Afrika en was die dinamiesste maar ook meer gekritiseerde minister in Botha se kabinet, waar hy dikwels verskeie portefeuljes gelyktydig behartig het. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy magte in Suidwes- en Oos-Afrika aangevoer en internasionaal lof ontvang as lid van die Britse Oorlogskabinet, afgevaardigde na die Paryse vredeskonferensie en een van die grondleggers van die Volkebond.

Sy onstuimige en omstrede termyn as die Unie se tweede premier het geëindig toe hy in die verkiesing van 1924 verslaan is. Hy het daarna o.m. sy filosofiese werk Holism and Evolution voltooi, die Rhodes-gedenklesings aan die Universit van Oxford gegee en die Suid-Afrikaanse Party in opposisie in die Parlement gelei.  As leier van die opposisie was Smuts gekant teen Hertzog se pogings om Swartmense hul stemreg te ontneem, maar toe die Smelter-regering aan die bewind kom, het hy 'n gewysigde weergawe van Hertzog se wette oor stemreg en grond gesteun.

In 1939 het hy op sewentigjarige leeftyd weer eerste minister geword. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy internasionaal 'n belangrike rol gespeel en daarna was hy een van die stigters in 1945 van die Verenigde Volke-Organisasie (VVO). Binnelands het die politieke gety egter teen hom gedraai en in die 1948-verkiesing is hy verslaan.

In baie opsigte is Smuts een van Suid-Afrika se merkwaardigste leiers en die een met die grootste internasionale aansien.

--- --- ---

Die verkiesing van 1948 het 'n era van ononderbroke regering deur die Nasionale Party ingelui. Dit word as 'n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis beskou, maar die verkiesing self was nie 'n dramatiese ommeswaai nie. Die Herenigde Nasionale Party en die Afrikanerparty het gesamentlik 79 setels gewen teenoor die 65 van die Verenigde Party en 6 van die Arbeidersparty, en na skatting is die Nasionaliste deur minder as 40 persent van die kiesers gesteun. Die koalisie met die Afrikanerparty was vir die Nasionaliste noodsaaklik om 'n m eerderheid in die Volksraad vir die nuwe regering te kry. Hoewel  die oorwinning vir baie waarnemers verrassend was, het die uitslag met langtermyntendense in die verkiesingspolitiek gestrook. Sedert 1915 het die NP 'n uitsonderlike vermoë getoon om in verkiesings steun van Afrikaners te verkry. Die koalisie en samesmelting van die vroeë dertigerjare het die party weer in opposisie geplaas, maar in die veertien jaar voordat die Malaniete aan die bewind gekom het, het die Nasionaliste 'n magtige politieke instrument - gedra deur kulturele en ekonomiese liggame - gesmee om steun onder boere, sakemanne en werkers te verkry.

--- --- ---

'n Aanbevole leeslys sluit dié hoofstuk af.

--- --- ---

Hoofstuk 18

Die era van apartheid, 1948-1961: P.W. Coetzer

Die uitslag van die algemene verkiesing van 1948 was vir genl. Smuts 'n groot skok. Vir die 74-jarige dr. D.F. Malan, leier van die Herenigde Nasionale Party (HNP), en vir talle Afrikaner-nasionaliste, het 26 Mei 1948 egter die kroon gespan op jare van stryd en volharding.

Dit was die reeds bejaarde Malan se taak om nou 'n kabinet saam te stel wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling suksesvol kon uitvoer. Die keuse van sy kabinetslede het hom nie hoofbrekens besorg nie. N.C. Havenga, die bekame minister van Finansies in die Hertzog-era (1924-1939) en leier van die Afrikanerparty, moes noodwendig weer dié portefeulje kry. Met die praktiese uitvoering van die beleid van apartheid ophande, was die portefeule Naturellesake in die Hertzog-kabinet (1929-1933), E.G. Jansen, aangestel. Die Transvaalse HNP-leier, J.G. Strijdom, het Lande en Besproeiing, 'n minder belangrike portefeulje, verkies sodat hy meer aandag kon wy aan die opbou van die party in Transvaal, terwyl C.R. Swart, die Vrystaatse leier, die portefeulje Justisie gekry het. Slegs twee ministers (Strijdom en B.J. Schoeman) was Transvalers, terwyl sewe uit Kaapland gekom het. Die kritiek hierop kon Malan egter beantwoord deur daarop te wys dat met die samesmelting in 1934 slegs een HNP-Volksraadslid  uit 19 uit Transvaal gekom het en dat Kaapland die party oor baie jare gedra het.

--- --- ---

Dr. D.F. Malan

Die nuwe premier, dr. Daniël François Malan (1874-1959), het aan die Victoria-kollege (die voorganger van die Universiteit van Stellenbosch) en in Utrecht (Nederland) in die teologie gestudeer. As jong predikant het hy in 1906 voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging geword. In Julie 1915 aanvaar hy die hoofredakteurskap van die pas gestigte Kaaplandse Nasionale dagblad, De Burger, en in September word hy voorsitter en leier van die Nasionale Party in Kaapland. In die 1915-verkiesing staan hy in die kiesafdeling Cradock, maar verloor dié setel naelskraap. Ook in 'n tussenverkiesing in Victoria-Wes moet hy die knie buig, dié keer met slegs 16 stemme, maar in 1919 word hy Volksraadslid vir Calvinia. In dieselfde jaar is hylid van die Vryheidsdeputasie na Europa.

Nadat hy in 1924 as redakteur van Die Burger bedank het, word hy in Hertzog se Pakt-kabinet opgeneem as minister van Binnelandse Sake, Onderwys en Volksgesondheid. Hy speel 'n sleutelrol in die verkryging in 1927 van 'n nasionale vlag vir Suid-Afrika, naas die Union Jack. Met die totstandkoming van die koalisieregering in 1933 weier hy om in die koalisiekabinet te dien, maar steun koalisie ter wille van Afrikaner-volkseenheid. Hy is egter nie bereid om die samestelling van die Nasionale en die Suid-Afrikaanse Party te aanvaar nie en word in Desember 1934 hoofleier van die "Gesuiwerde" Nasionale Party en ook leier van die Opposisie.

In 1939 staan hy vir Hertzog as hoofleier van die Herenigde Nasionale Party terug, maar in Junie 1941 word hy ná Hertzog se bedanking hoofleier van dié party. Ná ses jaar as premier (1948-1954) tree hy op 80-jarige leeftyd in November 1954 uit die politiek. Hy is in Februarie 1957 oorlede.

--- --- ---

Die groei van die Nasionale Party

Malan kon nou begn om sy beleid van afsonderlike ontwikkeling ten uitvoer te bring. Daarbenewens kon hy die kragte van die Afrikaner-nasionaliste saamsnoer en 'n mandaat vir toekomstige regering verseker. Vir die konsolidasie van Afrikanerkragte en die voortgesette groei van die HNP moes hy Havenga en sy party in dieselfde kamp as die HNP kry. 'n Voorvereiste vir permanente politieke samewerking was dat Malan en Havenga konsensus moes bereik oor die belangrikste beleidsake. Die struikelblok was dat Havenga, anders as die HNP, nie die bestaande politieke regte van die Kleurlinge wou beperk nie.

In Oktober 1950 is bekend gemaak dat Malan en Havenga 'n ooreenkoms bereik het. Hulle het verklaar dat die aparte uitoefening van politieke regte deur die Kleurlinge vir sowel die Blankes as die Kleurlinge van belang was. Wetgewing om hieraan beslag te gee, sou tydens die parlementsitting van 1951 ingedien word. 'n Jaar later, op 22 Oktober 1951, het die Herenigde Nasionale Party van Malan en die Afrikanerparty van Havenga onder die ou naam, die Nasionale Party, saamgesmelt.

Verwikkelinge in Suidwes-Afrika het die groei van die Nasionale Party bevorder. Deur die Burgerskapswet van 1949 isdie stemreg o.m. weer aan Duitsers in dié gebied verleen, wat dit tydens die Tweede Wêreldoorlog verloor het. Deur wetgewing is ses setels in 1950 in die Unie-Volksraad aan verteenwoordigers van Suidwes-Afrika gegee. Die Duitsers het oorweldigend vir Malan gestem, sodat hy met ses bykomende setels minder afhanklik van die steun van die Afrikanerparty geword het.

Die kwessie wat die algemene verkiesing van 15 April 1953 oorheers het, was die politieke regte van die Kleurlinge. Die verkiesing sou ook aan die kiesers die kans bied om die regering se eerste vyf bewindsjare en die toepassing van die apartheidsbeleid te beoordeel. Die Nasionale Party (NP) het die verkiesing met groot vertroue tegemoetgegaan. Die nuwe hoofleier van die Verenigde Party (VP), J.G.N. Strauss, wat Smuts ná sy dood op 11 September 1950 opgevolg het, het 'n verbeter maar vergeefse poging aangewend omd ie NP se oorwinning van 1948 te wreek. Die NP het sy getal Volksraadsetels van 86 na 94 opgestoot en die NP-meerderheid van 13 in die Volksraad is tot 29 vergroot. Met die uitsondering van Natal, het die NP sy posisie in al die provinsies verbeter.

n Interessante kenmerk van die verkising was dat die totale getal stemme vir die NP sterk toegeneem het (1948: 400 180; 1953:  598 534), maar dat die party nieteenstaande sy klinkende oorwinning nog steeds minder stemme op hom verenig het as die VP (49,1 teenoor 49,2 persent).

In Oktober 1954 het Malan aangekondig dat hy 'n maand later uit die aktiewe politiek sou tree. Daar was twee moontlike opvolgers: Havenga en Strijdom. Malan se gunsteling was egter dr. T.E. Dönges, sy opvolger as Kaaplandse NP-leier. Omdat Dönges nog te jonk was,  het Malan sy gewig by Havenga ingegooi. Vir Malan was Havenga 'n beter keuse as Strijdom omdat hy 'n gematigder en ook die meer senior politikus was. Ondanks Malan se werk agter die skerms, is die vurige republikein Hans Strijdom egter deur die party as Suid-Afrika se vyfde premier aangewys. Havenga het sy kandidatuur teruggetrek omdat hy nie bereid was om in 'n nominasiestryd teen Strijdom te voer nie.

--- --- ---

J.G. Strijdom

Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom (1893-1958) het sy opleiding in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch en Pretoria ontvang en in 1929 NP-Volksraadslid vir Waterberg geword. Met die samesmelting in 1934 word hy mede-leier van die "Gesuiwerde" Nasionale Party in Transvaal. Hy was 'n baie sterk Afrikaner-nasionalis en republikein, en in die stormagtige koalisie- en samesmeltingsjare (1933-34) was hy die enigste Transvaalse NP-Volksraadslid wat geweier het om hom met die samesmelting van die NP en Smuts se Suid-Afrikaanse Party te versoen.

Een van sy grootste ideale was om die republikeinse staatsvorm in Suid-Afrika in te stel. In 1936 is hy tot Transvaalse leier van die NP verkies, maar vyf jaar later moes hy dié posisie weer deel, dié keer met genl. J.C. Kemp.Ná Kemp se dood in 1946 beklee Strijdom weer alleen die leiersposisie van die party in Transvaal. Sy opname in die Malan-kabinet van 1948 was slegs die voorspel tot sy verkiesing as Suid-Afrika se vyfde premier in 1954.

--- --- ---

Die premierskap van J.G. Strijdom

Die verkiesing van Strijdom as hoofleier deur die NP-koukus was 'n teken van die tyd: die politieke balans het na die noorde verskuif. Die "Leeu van die Noorde" en kampvegter vir Blanke heerskappy was die NP se antwoord aan die toenemende binne- en buitelandse teenstand teen apartheid. Sy verkiesing was ook 'n teken van die verskerping van die republikeinse beweging. Die Strijdom-kabinet het slegs twee nuwe lede bevat: Jan de Klerk wat senator geword het, en J.J. Serfontein, die hoofsweep.

In die Strijdom-jare het die NP steeds 'n bestendige groei gehandhaaf. Die algemene verkiesing van April 1958 het selfs groter belangstelling as dié van 1953 gewek. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die besielende leierskap van die NP en die verbeter aanslag op die regering deur die VP. Die apartheidsbeleid sou vir 'n derde keer 'n Suid-Afrikaanse verkiesing oorheers. Die regering se kanse is baie verbeter deur die verlaging van die ouderdomsvereiste vir die stemreg tot 18 jaar. Die algemene verwagting was dat die jonger geslag, wat sterk republieinsgesind was, geesdriftige steun aan die NP sou verleen.

Die NP is andermaal op die regeringskussings geplaas, met 'n totaal van 103 Volksraadsetels teenoor die 53 van die VP. Dié verkiesing was in twee opsigte merkwaardig: Wat totale stemmetal betref, het die NP vir die eerste keer die VP verbygesteek (55,2 teenoor 42,3 persent van die stemme), terwyl die Arbeidersparty ná 48 jaar in die Suid-Afrikaanse politiek finaal van die toneel verdwyn het. Sir De Villiers Graaff, die leier van die VP, is in sy kiesafdeling, Hottentots-Holland, verslaan, en die uitslae het onteenseglik bewys dat die VP, ondanks sy nuwe leier, besig was om te verswak.

Strijdom is op 24 Augustus 1958 ná 'n ernstige siekbed oorlede. Sy opvolger as premier was 'n Nederlander van geboorte wat as baba met sy ouers na Suid-Afrika verhuis het: dr. H.F. Verwoerd.

--- --- ---

Dr. H.F. Verwoerd

Hendrik Frensch Verwoerd is in 1901 in Amsterdam gebore. Toe hy twee jaar oud was, verhuis die gesin na Suid-Afrika. Hy was 'n puik student en akademikus wat aan die Universiteit van Stellenbosch en in Europa gestudeer het. Logika en Sielkunde, sowel as Sosiologie en Maatskaplike Werk, was die vakke wat hy op Stellenbosch gedoseer het. In 1934 organiseer hy die belangrike Volkskongres oor die armblankevraagstuk in Kimberley, en in 1937 word hy hoofredakteur van Die Transvaler.

Sy politieke looopbaan kry in 1946 sy beslag toe hy ondervoorsitter vand ie NP in Transvaal word. Twee jaar later is hy as senator aangewys en in 1950 word hy tot leier van die Senaat verkies. Later dié jaar stel Malan hom aan as minister van Naturellesake en in 1958 word hy die ses premier van die Unie. In September 1966 word hy deur 'n bode van die Parlement, Dimitrio Tsafendas, in die Volksraadsaal met 'n dolk vermoor.

--- --- ---

Die premierskap van H.F. Verwoerd

Dieselfde dag waarop Verwoerd premier geword het, het hy ingrypende kabinetsveranderinge aangekondig. 'n Ruk lank het hy self nog die portefeulje Naturellesake behou, maar later in die jaar sou M.C. de Wet Nel dit by hom oorneem onder die nuwe benaming Bantoe-Administrasie en -Ontwikkeling. Verwoerd het ook die stelsel van adjunk-ministers ingevoer.

Ná republiekwording op 31 Mei 1961 het Verwoerd sy eerste republikeinse ministerie aangekondig. Aanvanklik het dit geen verandering bevat  nie, maar in Augustus is twee adjunk-ministers bevorder en in die kabinet opgeneem: B.J. Vorster as minister van Justisie en P.W. Botha as minister van Kleurlingsake, Gemeenskapsbou en Behuising.

Met republiekwording nog vars in Suid-Afrikaners se geheue het Verwoerd aangekondig dat die volgende algemene verkiesing reeds in Oktober 1961 sou plaasvind. Dit is waarskynlik gedoen om die kiesers 'n kans te gee om hulle uit te spreek oor die besluit in verband met die uittrede uit die Statebond, terwyl Verwoerd ook vir die eerste keer sy eie aanhang onder die kiesers kon toets.

Vir die NP het die situasie met hierdie verkiesing weinig verander. Sy seteltal het van 103 tot 105 gestyg, terwyl die VP se 53 setels na 49 gedaal het. Die VP se laer seteltal was veral te wyte aan die feit dat twaalf van sy Volksraadslede in November 1959 weggebreek het om die Progressiewe Party onder dr. Jan Steytler te stig. Die NP het 46,2 en die VP 35,6 persent van die totale getal uitgebragte stemme op hul verenig. Tussen 1948 en 1961 het die NP sy verteenwoordiging in die Volksraad van 49 (saam met die Afrikanerparty) tot 105 opgestoot.

Die agteruitgang van die Vewrenigde Party

Vir die VP was die uitslae van die 1948-verkiesing onverwags en verpletterend. Veral J.H. Hofmeyr is in die VP-geledere as die sondebok vir die party se teleurstellende vertoning voorgehou. Smuts self hetegter ook van sy politieke volgelinge vervreem begin raak, en swak administrasie en voorbereiding was 'n verdere rede vir die VP se teleurstellende vertoning by die stembus.

Binne die VP was daar volslae verwarring. Harry Lawrence en Arthur Barlow wou  hê dat dr. Colin Steyn, die Vrystaatse partyleier, die leierskap van die VP by Smuts oorneem. Op 'n vergadering op 31 Mei van al die voormalige VP-ministers, in die afwesigheid van Smuts, het E.A. Conroy op Hofmeyr se bedanking aangedring. Hofmeyr se verweer was dat Smuts nie teenwoordig was nie en dat dit steeds die leier se reg was om oor dié saak 'n besluit te neem. Smuts het daarna vir Hofmeyr verdedig deurdaarop te wys dat hy onnodig skerp deru die NP aazngeval is. Vanweë Smuts se voorspraak is die vertroue in Hofmeyr in 'n groot mate herstel en is hy in November 1948 weer tot Transvaalse VP-leier verkies.

Vir die VP het Hofmeyr se skielike dood 'n maand later belangrike veranderinge meegebring, o.m. dat daar dringend gesoek moes word na 'n opvolger vir die bejaarde Smuts.

Hofmeyr se dood het egter nie die einde van 'n liberale element in die VP beteken nie, want manne soos Harry Oppenheimer, Morris Kentridge en R.J. deu Toit sou die vaandel van die liberalisme steeds hoog hou. Dit was dié liberalisme waarteen kol. Karel Rood, NP-voorbanker van Vefreeniging, vroeg in 1949 in verset gekom en wat tot sy bedanking as Volksraadslid gelei het.

Met die tussenverkiesing in Vereeniging het die NP die setel naelskraap van die VP verower. Oproepe tot beter organisasie binne die VP het as gevolg hiervan oor die hele land opgeklink, terwyl ook in toenemende mate gevoel is dat die gebrek aan 'n omlynde kleurbeleid, as 'n uitvloeisel van skerp innerlike verdeeldheid, die party tot nadeel gestrek het. Rood se bedanking is opgevolg met dié van senator J.M. van H. Brink, en ander vooraanstaande partylede soos maj. B.P. Greyling en J. du P. Basson.

Die nuwe leiersfiguur in die VP was Smuts se vertoueling, die LV vir Germiston-distrik, adv. J.G.N. Strauss. Bedenkinge oor die leierskap van Strauss, wat dikwels vir Smuts moes instaan, was 'n voorteken van verdere onmin en verval by die eens kragtige VP. In Junie 1950, ná sy tagtigste verjaarsdag en gepla met ernstige hartprobleme, het Smuts aangekondig dat hy die parlementêre leierskap van die VP afstand doen. Op versoek van Smuts is Strauss as nuwe parlementêre leier verkies. Die VP-koukus was egter ernstig verdeeld oor Strauss se meriete as leier, en Smuts sou tot met sy dood in September 1950 partyleier bly. Hierna is Strauss in November eenparig tot hoofleier verkies.

--- --- --- 

J.G.N. Strauss

Jacobus Gideon Nel Strauss, gebore in 1900, het 'n goeie akademiese en politieke skoling gehad. Nadat hy aan die Universiteit van Kaapstad en UNISA in die regte gestudeer het, het hy in 1923 private sekretaris van Smuts geword. Ses jaar later het hy LPR vir die SAP in die kiesafdeling Langlaagte geword. In Desember 1932, toe Suid-Afrika genoodsaak was om die goudstandaard te verlaat, wen hy 'n sleuteltussenverkiesing vir dieselfde party en word Volksraadslid vir Germiston-distrik. Van 1939 tot 1948 het hy as minister van Landbou en Bosbou in die VP-kabinet gedien. Hy het in Desember 1957, 'n jaar nadat hy deur sir De Villiers Graaff as VP-leier opgevolg is, finaal uit die politiek getree.

Dit was vir Strauss geen maklike taak om by 'n knap politikus en internasionaal gerespekteerde staatsman soos Smuts die leiers oor te neem nie. Bowendien het hy leier geword van 'n ernstig verdeelde party. Teen die einde van 1950 was dit duidelik dat Strauss groot teenstand sou ondervind indien hy die VP se politieke posisie sou wou probeer verbeter deur 'n politieke koalisie met Havenga aan te gaan. Die jong leier kon nie dieselfde dissipline in die party afdwing as Smuts nie en hy kon ook nie, soos sy voorganger, op die sterk steun van die Engelstalige pers staatmaak nie.

Die groot toetssteen vir Strauss se leierskap sou die 1953-verkiesing wees. Danksy die United South African Trust Fund, wat in 1949 met die hulp van Smuts gestig is, was die finansies van die VP vir dié verkiesing gesonder, en sake was ook op 'n hegter grondslag gereël en deegliker beplan. Die VP is ook baie versterk deur die totstandkoming van die Torch Commando, 'n organisasie van oudgediendes, wat met die uitsluitlike doel gestig is om as teenvoeter vir die NP te dien en om in die grondwetlike krisis oor die Kleurlingstem op te tree.

In Mei 1951 is 'n reuse-fakkeloptog deur die Johannesburge strate georganiseer en A.G. ("Sailor") Malan, beroemde vegvlieënier en held van die lugslag om Brittanje, is uitgenooi om die saluut te beantwoord. By dié geleentheid het Malan die woord gevoer, op die gevoel van die oud-soldate gespeel en beklemtoon dat die bepalings van die Suid-Afrika-wet in alle opsigte nagekom moes word. Die Johannesburgse opmars is gevolg deur verskeie optogte oor die hele land en 'n nasionale kongres in Junie 1951, waar Malan as eerste nasionale president en leier van dié beweging  gekies is. Die Torch Commando het baie vinnig tot ongeveer 'n kwartmiljoen lede gegroei.

Strauss het dié groep sy steun toegesê en teen die einde van 1951 het die VP, die Torch Commando en die Arbeidersparty die United Democratig Front gevorm, veral met die doel om as 'n verenigde front die komende algemene verkiesing tegemoet te gaan. Selfs voor die verkiesing was dit egter reeds duidelik dat die kanse van die VP om die NP-regering uit die kussings te lig, gering was.

Vir die deeglik georganiseerde VP was die 1953-verkiesing andermaal 'n groot teleurstelling. Nie alleen moes hulle weer die knie buig voor die NP nie, maar toesien hoe die regeringsparty se seteltal van 86 na 94 aangroei terwyl hul eie van 65 na 57 daal. Die gevolge van die algemene verkiesing van 15 april 1953 op die VP was verreikend. Dadelik ná die verkiesing het regse en linke groepe binne die party hul ontevredenheid met die beleid van die VP te kenne gegee. Ontevredenheid met die optrede van die nasionale voorsitter van die Torch Commando, L. Kane-Berman, en ander leiers van dié beweging het gelei tot die bedanking van G.H. Nichols en verskeie ander vooraanstaande lede van die VP en die stigting van die Union Federal Party onder Nicholls se leiding in Mei 1953.

Die federasiegedagte, groter magte aan provinsies en skeiding tussen die twee Blanke taalgroepe was vir dié party sentraal. Die VP het nie hierdie radikale gedagtegang onderskryf nie en onenigheid het dus hieroor, veral tydens kongresse, deurgeslaan. Dit lei ook tot tweespalt tussen Nicholls en die konserwatiewe Douglas Mitchell, die Natalse leier van die VP.

Reeds tydens die 1948-verkiesing het stemme begin opgaan vir die stigting van 'n Liberale Party met die liberale VP-minister J.H. Hofmeyr aan die spits. Ná Hofmeyr se dood in 1948 is die vaandel van die liberalisme binne die VP verder uitgedra. Die kleurbeleid van die VP was die belangrikste rede vir die uiteindelike stigting van die Liberale Party onder die parlementêre leiding van Margaret Ballinger in Mei 1953 - die eerste parlementêre leidster van die Liberale Party. (Alan Paton, 'n skrywer en apartheidsaktivis, was die stigter en leier van die Liberale Party.)

Die Liberale Party was die eerste party sedert Uniewording wat op die lees van veelrassigheid geskoei was en dit was die mees linkse party in Suid-Afrika. Dié party wou rassediskriminasie uitskakel, alle liberale, ongeag ras of kleur, saam op die politieke verhoog plaas en 'n nie-rassistiese demokrasie aan die land voorhou, met stemreg vir almal, sonder aansien van ras of kleur. Die Liberale Party sou egter spoedig verdwyn vanweë sy samewerking met die ANC, gebrek aan geld, min steun van die pers en die taktiek van sy opponente.

Kortom: ná 1953 was dit duidelik dat die VP bes;ig was om te ontbind. Daar is gevolglik na 'n meer dinamiese leier gesoek en die keuse het op die 42-jarige leier van die party in Kaapland, sir De Villiers Graaff, geval.

--- --- --- 

Sir De Villiers Graaff

Sir David Pieter de Villiers Graaff, die seun van 'n minister in Louis Botha se eerste kabinet, is in 1913 gebore en het aan die Universiteit van Kaapstad en in Oxford en Leiden (Nederland) verskeie grade verwerf. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het hy by die Geallieerde Magte aangesluit en die kapteinsrang verwerf. In 1942 is hy by Tobroek gevange geneem en tot 1945 in Italiaanse en Duitse krygsgevangenekampe aangehou. Met sy toetrede tot die politiek in 1947 verloor hy die tussenverkiesing in Hottentots-Holland, maar wen dieselfde setel met die algemene verkiesing die jaar daarna vir die VP. In 1951, op 38-jarige leeftyd, word hy Kaaplandse leier van die VP. In 1956 volg hy Strauss as VP-leier op. Hy beklee hierdie posisie totdat hy op 28 Junie 1977 as leier van die Opposisie bedank en uit die aktiewe politiek tree.

--- --- ---

Graaff se verkiesing as leier in 1956 is met geesdrif deur die party en die Engelstalige pers ontvang. Sy probleme was egter talryk. Die VP het nog met verskeie liberale in hul geledere gesit, o.a. Helen Suzman, John Cope, Ray Swart en Colin Eglin, terwyl die plattelandse Afrikaners dit moeilik gevind het om hulle met Graaff as leier te vereenselwig.

Die stigting van die Progressiewe Party

Teen 1959 het die VP opnuut ernstige interne probleme ervaar. Die party se linkervleuel het dié keer in opstand gekom teen die partyleiding van Graaff en veral teen die konserwatiewe Douglas Mitchell, die Natalse VP-leier. In Augustus het dit op 'n skeuring tussen die sentrale kongres van die VP in Bloemfontein uitgeloop. Die grootste bron van onmin was die linkervleuel van die party se aandrang op groter Swart verteenwoordiging in die Parlement en 'n gemeenskaplike kieserslys vir alle stemgeregtigdes.

Toe dit blyk dat die meerderheid van die V|P-lede daarteen gekant was, het 'n groep van twaalf koukuslede weggebreek en die Progressiewe Party onder leiding van dr. Jan Steytler gestig. Die Progressiewe Party was ten gunste van 'n veelrassige regering en 'n veelrassige Parlement. Later is die party se konstitusie aangepas en is vir gekwalifiseerde stemreg voorsiening gemaak. Tydens die algemene verkiesing van Oktobr 1961 het slegs een van die party se twaalf Volksraadslede, Helen Suzman, haar setel behou.

--- --- ---

Die NP se wetgewing oor Kleurlingstemreg

Die Wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers het veral die volgende ten doel gehad:

+ Kleurlinge in Kaapland sou van die gemeenskaplike kieserslys verwyder word.

+ Kleurlinge se name sou op 'n aparte kieserslys geplaas en Kaakpland in vier kiesafdelings ingedeel word wat elk 'n Blanke verteenwoordiger vir die Volksraad kon verkies.

+ Alle toekomstige Kleurlingkiesers se name sou tot dié lys toegevoeg word.

+ Kleurlinge sou ook drie Blanke verteenwoordigers vir die Kaaplandse Provinsiale Raad kon verkies.

+ 'n Uniale Raad vir Kleurlingsake sou geskep word.

--- --- ---

Die afskaffing van die Kleurlingstemreg

Met die bewindsaanvaarding van die NP in 1948 was daar geen ooreenstemming in Malan en Havenga se siening van die vraagstuk van politieke regte vir die Kleurlinge nie. In 1949 het hulle opnuut probeer om hul verskille hieroor uit te stryk. Havenga was egter onversetlik en het daarop aangedring dat die Kleurlinge op 'n afsonderlike kieserslys net soveel verteenwoordiging in die Volksraad moes kry as dié waarop dieselfde getal Blanke kiesers geregtig was. Teen die einde van die 1949-sitting het Malan die NP-koukus meegedeel dat hy nie in die komende jaar met wetgewing oor dié kwessie sou voortgaan nie.

In 1951 het Malan en Havenga uiteindelik 'n ooreenkokms bereik en op 8 Maart 1951 het dr. T.E, Dönges, die minister van Binnelandse Sake, die Wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers by die Volksraad ingedien. Hierdie wetgewing sou die begin van die ernstige grondwetlike krisis van die vyftigerjare inlui. Reeds by die indiening daarvan het die VP dit teengestaan en daarop aangedring dat dit aan 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat voorgelê word en slegs met 'n twee-derde-meerderheid, waaroor die regering nie beskik het nie, goedgekeur kon word. Hiermee het die Malan-regering nie genoeë geneem nie. Sy standpunt was dat die Unie-Parlement soewerein is en hom nie deur die "dooie hand van die verlede" kon laat bind nie.

Ten spyte van heftige teenkanting van die VP is die wetgewing in Mei 1951 met 74 tennoor 64 stemme in die Volksraad goedgekeur. Die VP het besluit om  hulle tot die geregshowe te wend, maar die Kaaplandse Afdeling van die Hooggeregshof het die aansoek van twee Kleurlingkiesers om die wetgewing ongeldig te verklaar, verwerp. Hierna het die VP die saak na die Appèlhof geneem en in Maart 1952 het die Appèlhof hom teen die regering uitgespreek.

Malan wou nie in die Appèlhof-uitspraak berus nie. Hy het slegs twee uitweë gehad: om die appèlregters te ontslaan of om 'n metode te vind waardeur hy aan die voorskrifte van die Grondwet ten opsigte van 'n twee-derde-meerderheid kon voldoen. Sy hande was egter gebind omdat albei weë vir hom op daardie tydstip te drasties was. Malan was onseker oor die houding wat Havenga en Sy Volksraadsondersteuner soou inneem, terwyl hy ook optrede deur die militante Torch Commando gevrees het.

In die hoop om die steun te kry van die "konserwatiewe" in die VP het Malan die Wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers uiteindelik in 1953 aan 'n gesamentlike sitting van die twee huise van die Parlement voorgelê, maar dié poging het misluk omdat geen steun van buite die NP ontvang is nie.

Ná Malan se uittrede uit die politiek in 1954 het sy opvolger, Strijdom, vroeg in 1955 sy planne met die Kleurlingwetgewing bekend gemaak. Dit sou in drie opeenvolgende fases gehanteer word: die samestelling van die Appèlhof sou gewysig word, die Senaat sou vergroot word en die wetsontwerp sou weer aan 'n gesamentlike sitting voorgelê word.

Die eerste fase is afgehandel deur die getal regters in die Appèlhof deur wetgewing van vyf tot elf te vermeerder en deur die vasstelling van die kworum an die hof op elf in sake waarby die regsgeldigheid van wette van die Parlement betrokke is. Hierna is oorgegaan tot die tweede fase. Ondanks heftige verset van die VP, die Engelstalige pers en liberale is wetgewing in die Volksraad aanvaar waardeur die Senaat van 44 tot 89 lede vergroot is. Ná die Senaatsverkiesing in Augustus was Strijdom gereed vir die derde en laaste fase van die stryd om die Kleurlingstem, nl. die deurvoer van die wetsontwerp om Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder. Vroeg in die parlementsitting van 1956 is 'n Wetsontwerp tot Wysiging van die Suid-Afrika-wet aan 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaar voorgelê en die vereiste getal stemme vir 'n twee-derde-meerderheid is verkry.

Die VP het die saak weer eens na die hof geneem. Nadat die Kaapse Hooggeregshof die wysiging van die Suid-Afrika-wet in verband met die Kleurlingstemreg bekragtig het, is die saak weer na die Appèlhof geneem, wat met 'n groot meerderheid ook uitspraak teen die VP gelewer het. Kaapland is daarna in vier kiesafdelings verdeel en die Kleurlingkiesers het die reg verkry om in elk van dié kiesafdelings een Blanke verteenwoordiger vir die Volksraad te verkies.

Anders as in die ander drie provinsies, kon Kleurlinge tot in 1956 lede van die Provinsiale Raad in Kaapland word. In dié jaar is wetgewing egter aangeneem waardeur dié reëling beëindig is en Kleurlinge in dié provinsie voortaan slegs deur Blankes verteenworodig sou word. Hierdie stelsel van Kleurlingverteenwoordiging soutot aan die einde van die sestigerjare voortduur, toe dit heeltemal afgeskaf is.

Die onetiese aanvaarding van die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers in 1956 het die Kleurling in 'n groot mate van die Afrikaner vervreem. Benewens die NP se strewe om sy beleid van afsonderlike ontwikkeling deur te voer, was die party se motivering  vir die afskaffing van die Kleurlingstem waarskynlik ook die vrees dat die Kleurlingkiesers hulle aan die kant van die VP-opposisie sou skaar.

Die apartheidsbeleid

Die jaar 1948 was 'n politieke waterskeiding vir Suid-Afrika, want vir die eerste keer is die ongeskrewe apartheidstradisie nou werklik omskryf en toegepas. Die NP het sy bewindsoorname hoofsaaklik te danke gehad aan die slagspreuk "apartheid" en het nou voortgegaan om dié beleid prakties toegepas te kry deur wetgewing.

Reeds voor die 1948-verkiesing het Malan verduidelik hoe apartheid die Swartmense van Suid-Afrika sou raak. Reservate sou behou en - indien moontlik - vergroot word. Landbouers sou hier in wetenskaplike boerderymetodes, grondbewaring en landbou in die algemeen onderrig word. Aparte woongebiede en verbeterde behuisingskemas sou aan "permanente" stedelike Swartmense verskaf word. Alle tydelike arbeiders sou na hul reservate gerepatrieer word. Op grond van hul voorneme om die reservate te omskep in tuislande met selfstandige regeringselsels, sou die Malan-regering Swart verteenwoordiging in die Parlement en in die Kaaplandse Provinsiale Raad afskaf. As 'n tydelike maatreël sou Swartmense nog deur Blanke verteenwoordigers in die Senaat sitting hê, o.m. ook om as hul grondwetlike skakel met die Blanke regering te dien. Die NP-beleid oor hoër onderwys was daarop gemik om aparte geriewe vir Swartmense te skep sodat hulle nie meer tot blanke universiteite toegelaat sou hoef te word nie.

Malan het die aanbevelings verwerp van die Fagan-kommissie wat in 1946 deur die Smuts-regering benoem is om die posisie van die Swartmense in Suid-Afrika te ondersoek. Hy was veral nie bereid om die bestaan van 'n permanente stedelike Swart bevolking in wetgewing te aanvaar nie.

--- --- ---

Belangrike Apartheidswetgewing, 1949 tot 1961

Wet no. 55 van 1949: Wet op Verbod op Gemengde Huwelike / Wet no. 21 van 1950: Ontug-wysigingswetsontwerp / Wet no. 30 van 1950: Bevolkingsregistrasiewet / Wet no. 41 van 1950: Groepsgebiedewet / Wet no. 46 van 1951: Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers / Wet no. 52 van 1951: Wet op die Voorkoming van Onregmatige Plakkery / Wet no. 68 van 1951: Wet op Bantoe-owerhede / Wet no. 67 van 1952: Naturellewet (Afskaffing van Passe en Koördinering van Dokumente) / Wet no. 47 van 1953: Wet op Bantoe-onderwys / Wet no. 49 van 1953: Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe / Wet no. 19 van 1954: Wet op die Hervestiging van Naturelle / Wet no. 69 van 1955: Wet op die Ontwikkeling van Groepsgebiede / Wet no. 64 van 1956: Naturelle- (Verbod op Interdikte) Wet / Wet no. 34 van 1959: Wet op die Bantoebeleggingskorporasie / Wet no. 3 van 1961: Wet op Gemeenskaplike Kleurlingreservate / Wet no. 31 van 1961: Wet op die Behoud van Kleurlinggebiede / Wet no. 79 van 1961: Wet op Stedelike Bantoerade

--- --- ---

Tydens die eerste twee jaar van die Malan-bewind is onmiddellike stappe gedoen om die apartheidsbeleid in die praktyk uit te voer. As eerste stap sou die ineenstrengeling van rasse in Blanke gebiede onder die loep geneem word. Deur die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike (1949) is huwelike tussen Blankes en anderskleuriges verbied, ondanks die feit dat daar sedert 1946 net 75 gemengde huwelike was teenoor 28 000 Blanke huwelike. Die jaar daarna is die eerste wysiging van die Ontugwet van 1927 aanvaar, waarna dit weer in 1957 (Wet no. 23) gewysig is. Ingevolge dié wet is sekere dade tussen gekleurdes en witmense verbied, o.m. buite-egtelike gemeenskap of poging daartoe of aanverwante onsedelike dade.

In 1950 is die Bevolkingsregistrasiewet goedgekeur waarvolgens 'n nasionale register opgestel is waarin elke persoon volgens sy ras geklassifiseer is. 'n Rasseklassifikasieraad is ook in die lewe geroep om oor twyfelgevalle uitsluitsel te gee. Die oogmerk met dié wet was waarskynlik om te verhoed dat Kleurlinge as Blank geklassifiseer word.

Die Groepsgebiedewet (1950) was die instrument van die NP-regering waarmee die fisieke skeiding tussen die verskillende rasse bewerkstellig moes word. Residensiële skeiding, veral in stedelike sentra, is deurgevoer, en gemeenskappe, bv. Kleurlinge in Kaapstad en Asiate in Durban, is soms na ander gebiede verskuif. Min Blankes is deur dié maatreël geraak. Sowel die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike as die Groepsgebiedewet is heftig deur die VP teengestaan, veral omdat hulle die wette as onnodig en onfatsoenlik beskou het.

Die Verteenwoordigende Naturelleraad, wat nooit aan Hertzog en Smuts se verwagtinge voeldoen het nie, is in 1952 afgeskaf, veral vanweë dié liggaam se voortdurende aandrang op groter politieke regte vir Swartmense.

Een van die mees omstrede stukke wetgewing was die Wet op Aparte Geriewe van 1953, wat openbare geriewe op grond van rasseskeiding gereël het met die bedoeling omn kontak uit te skakel en 'n "kleurgevoel" te behou. Die oogmerk was om rassevermenging te verhoed en te verseker dat die Blanke steeds die politieke septer swaai. Dié wet het voorsiening gemaak vir 'n kleurskeidslyn in alle openbare geboue, geriewe en openbare vervoermiddels deur o.m. bordjies "Net vir Blankes" of "Slegs vir Nie-Blankes" aan tebring.

'n Maatreël wat groot ontevredenheid by die Swart gemeenskap veroorsaak het, was die sg. paswette (Naturellewet van 1952). Dié wette het Swartmense verplig om te alle tye bewysboeke en ander dokumente te dra. Sodoende kon vasgestel word presies waar Swartmense werk, terwyl groter beheer oor hul bewegings uitgeoefen kon word. Die Naturelle- (Verbod op Interdikte) Wet van 1956 het bepaal dat Swartmense wat deur amaptenare aangesê wor dom sekere woongebiede te verlaat, hulle op geen wyse tot howe kon wend om dié bevel ongeldig verklaar te kry nie. Die beweging van Swartmense is verder beperk deur die Stedelike Gebiedewet. Klousule 10 het hulle verbied om langer as 72 uur in 'n dorp te vertoef sonder die toestemming van 'n bepaalde munisipale amptenaar.

Ekonomiese en industriële apartheid het ook nie uitgebly nie. Ingevolge die Naturelle-Bouwerkerswet was dit 'n kriminele oortreding vir Swartmense om enige geskoolde werk in 'n stad of dorp te doen, behalwe in 'n gebied wat spesifiek vir Swart bewoning opsygesit is.

Die Wet op die Bantoebeleggingskorporasie van 1959 het o.m. voorsiening gemaak vir die finansiering en koördinering van finansiële, handels- en nywerheidskemas vir Swart gebiede. Met die steun van die Suid-Afrikaanse Bantoetrust en individuele Swart beleggers is 'n Swart gesentreerde beleggingspatroon geskep, maar die gebrek aan 'n snelle ontwikkelingstempo, genoegsame finansiële insette en stimulering deur middel van private inisiatief was remmende faktore in die skepping van werklik lewensvatbare en soewereine sosio-ekonomiese eenhede.

Belangrike wetgewing oor tersiêre opleiding is tydens die parlementsitting van 1959 aangeneem: Die Wet op Universiteitskollege van Fort Hare het voorsiening gemaak vir 'n volwaardige akademiese inrigting vir Xhosa, terwyl die Wet op Afsonderlike Universiteitsopleiding afsonderlike universiteitsinrigtings vir Asiate, Swartmense en Kleurlinge moontlik gemaak het.

Die Stedelike Rade-wet het voorsiening gemaak vir die skepping van Swart rade in stedelike gebiede op die basis van hul nasionale eenheid. Hierdie rade sou hul verbintenis met die reservate van hul etniese groep en hul bepaalde owerheid, wat grootliks stamowerhede was, bly behou. In die praktyk sou hierdie stelsel egter nie baie goed werk nie omdat die stamowerhede geen inspraak ind ie funksionering van stedelike Swart owerhede gehad het nie.

Reeds in 1950 het die Malan-regering 'n kommissie onder prof. F.R. Tomlinson aangestel om deurtastende ondersoek in te stel na die rehabilitasie van die Swart gebiede in Suid-Afrika met die oog op uitbouing van 'n eie volkstruktuur gegrond op doeltreffende sosio-ekonomiese beplanning. Dit was ook 'n ondersoek na aparte ontwikkeling van Blankes en Swartmense en na maniere waarop tuislande ontwikkel kon word.

--- --- ---

Die Tomlinson-verslag

Die Tomlinson-kommissie het in Oktober 1954 die lywigste verslag voorgelê wat nog deur 'n regeringskommissie in Suid-Afrika uitgebring is. ('n Verkorte weergawe van die verslag het eers in 1956 verskyn.)

In dié verslag is aangevoer dat integrasie tot rassewrywing sou lei en gevolglik is aanbeveel dat afsonderlike ontwikkeling as landsbeleid aanvaar word, maar dit slegs kon gebeur indien die Swart gebiede volskaals en vinnig ontwikkel word. Private Blanke kapitaal en inisiatief moes toegelaat word om met dié ontwikkeling te help, aangesien meer as R200 miljoen binne tien jaar hiervoor opsy gesit moes word.

Die Verwoerd-regering het verskeie aanbevelings van die kommissie aanvaar, maar sommige van die finansiële en administratiewe aanbevelings verwerp. Hoewel die regering in 1956 R7 miljoen vir die ontwikkeling van Swart gebiede beskikbaar gestel het, is die jaar daarna geen bydrae hiervoor bewillig nie. Die regering was ook nie bereid om private blanke kapitaal en inisiatief toe te laat nie. Sy standpunt was dat dit tot ekonomiese imperialisme en uitbuiting van die Swartmense sou lei in gebiede waarin hulle op hul eie moes kon ontwikkel.

Een van die kommissie se verreikendste voorstelle was dat die stelsel van stambesit afgeskaf moes word, aangesien dit een van die redes vir die agteruitgang van die reservate was. Die kommissie het verklaar dat daar geen sprake van trots op besitreg kon wees waar geen eienaarskap toegelaat word nie. Daarom is aanbeveel dat Swartmense in landelike en stedelike gebiede vrye erfpag op grond moes hê. Verwoerd was nie hiertoe bereid nie, maar het wel ingestem tot nywerhede op die grens tussen Swart gebiede en Suid-Afrika. Veral die regering se onwilligheid om grootskaalse ontwikkeling in Swart gebiede van stapel te stuur om hulle ekonomies lewensvatbaar te maak, het die praktiese deurvoering van afsonderlike ontwikkeling ernstig benadeel. Die Tomlinson-kommissie het nietemin die breë grondslag gelê vir die afbakening en ontwikkeling van wat later as Swart tuislande bekend sou staan.

--- --- ---

Die Wet op Bantoe-owerhede (Wet no. 68 van 1951 het die Verteenworodigende Naturelleraad afgeskaf en so die weg berei vir 'n grote mate van selfbestuur in tuislande. Nadat met stamowerhede 'n begin gemaak is, kon die regering oorgaan tot die stigting van streekokwerhede. Die Transkei het hom die beste geleen tot die stigting van die eerste gebiedsowerheid, wat in Mei 1957 ingestel is.

Selfregering aan tuislande

Die NP se 1948-verkiesingsmanifes het reeds van die algemene beginsel uitgegaan dat die verskillende Swart volkere "sover moontlik" in hul onderskeie gebiede saamgetrek sou word "waar elke groep kan ontwikkel tot selfversorgende eenhede". Daarom moes werkgeleenthede daar geskep en dié gebiede ekonomies ontwikkel word. E.G. Jansen, tot 1950 minister van Naturellesake, het pas ná sy party se bewindsaanvaarding aangekondig dat die regering van plan was om aan die Swart inwoners van reservate "die grootste moontlike mate van beheer oor hul eie sake" te gee "met behoud van Blanke voogdyskap".

In 1951 het Verwoerd, Jansen se opvolger as minister van Naturellesake, die Wet op Bantoe-owerhede deurgevoer, waardeur vir die instelling van Swart tuislande, streekowerhede en gebiedsowerhede voorsiening gemaak is. Hierdeur is die inwoners grotendeels in staat gestel om hul eie sake van plaaslike aard te behartig. Ten einde van hoofmanne en raadsmanne "progressiewe leiers" te maak, is selfs 'n aantal opleidingskursusse deur die Departementvan Naturellesake gereël. Die Wet op Bantoe-onderwys (1953) het 'n staatsbeheerde Swart onderwysdepartement ingestel wat sou sorg dat die leerplanne aan die aard en behoeftes van die Swartmense voldoen.

As uitvloeisel van die Tomlinson-verslag het die regering besluit  dat die Nywerheidsontwikkelingskorporasie sou help met die ontwikkeling van nywerhede in Blanke dorpsgebiede op die tuislandgrense waarheen pendelaars bedags kon kom om te werk. Daar is gehoop dat dit die vloei van Swart arbeid na groot stede sou verminder en die ontwikkeling van tuislande sou stimuleer. Dit was egter eers teen die laat sestigerjare dat ' n paar sulke grensnywerhede behoorlik gevestig was.

Nadat Verwoerd in 1958 premier geword het, het hy toegegee dat sy beleid wel op selfregerende tuislande kon uitloop. 'n Jaar later het die regering die Wet op Bevordering van Bantoeselfbesstuur (Wet no. 46 van 1959) ingedien, ingevolge waarvan aan Swartmense in die Swart reservate die geleentheid gebied is om hulle uiteindelik, sonder Blanke inmenging of beheer, selfstandig te regeer. Dié stelsel het voorsiening gemaak vir die skeiding of indeling van Swartmense in agt verskillende etniese eenhede, elk met 'n eie kommissaris-generaal, aan wie die taak opgedra is om die bepaalde gebied te lei tot 'n selfregerende nasionale Swart eenheid. Die kommissaris-generaal sou as skakel tussen die etniese eenhede en die Blanke regering dien. In die wet is ook voorsiening gemaak vir die afskaffing van direkte Kleurlingverteenwoordiging in die Kaaplandse Provinsiale Raad, terwyl Swart verteenwoordiging in die Blanke Parlement ook afgeskaf is.

In die krisisjare van 1957 tot 1962 het Swart politieke ideologieë in verskillende vorme hul beslag gekry: die beweging van revolusionêre geweld (die Bambatha-ideologie), die stam-nasionalisme onder regeringsdruk, die inklusiewe nasionalisme van die African National Congress (ANC), asook die eksklusiewe Afrika-nasionalisme van die Pan Africanist Congress (PAC).

Swart opstande onder landbouers ind ie reservate het veral voortgevloei uit spanning oor o.m. die Wet op Bantoe-owerhede, armoede, afsetting van hoofmanne, die beperkings op bewegings na dorpe en die verpligting op Swart vroue om passe te dra. Onluste het veral in vier gebiede uitgebreek: die Hurutshe-reservaat, Sekoekoeniland, Zululand en Oos-Pondoland. Die onrus in Zululand het versprei na Cato Manor, 'n Durbanse Swart woonbuurt, waar die polisie verplig was om in te gryp. Die Oos-Pondolandse onluste was so ernstig dat die regering die orde daar met tenks en masjiengewere moes herstel. Hoewel die onrus onderdruk is, sou ontevredenheid jare lank voortduur.

Die groei van Swart nasionalisme - verset teen Blanke politiek

Met die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948 was daar reeds ontevredenheid by veral opgeleide en professionele Swartmense oor die diskriminerende maatreëls van die Blanke regering, waardeur hulle in 'n ondergeskikte posisie geplaas is. Reeds in 1944 is 'n veldtog teen passe gereël, gevolg deur 'n ooreenkoms tussen die African National Congress (ANC) en Transvaalse en Natalse Asiate vroeg in 1947 om hulle vir stemreg en maatskaplike regte te beywer. In 1943 het die Smuts-regering 'n Kleurling-Adviesraad gestig met die oog op nouer kontak met die Kleurlinggemeenskap en om hul behoeftes en doelwitte te identifiseer. Dié instelling het egter misluk, veral omdatdie Nasionale Anti-Kleurling-Advieskomitee (National Anti-CAC Committee), wat deur Kleurlinge gestig is, die Adviesraad as 'n instrument van apartheid beskou en politieke samewerking met Asiate en Swartmense gesoek het in 'n eenheidsbeweging teen rassediskriminasie. Aan die einde van 1943 het die Anti-CAC Committee kragte saamgesnoer met die All-African Convention (AAC) om die Non-European Unity Movement te stig. Die Kleurlinge, Swartmense en Asiate het hulle dus teen hul gemeenskaplike "verdrukker", die Blanke, verenig. In hul stryd om demokratiese regte en politieke verandering is hulle deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party gesteun.

Ná 1948 sou die ANC in die Swart politieke stryd die inisiatief neem. Tydens hul jaarlikse kongres in 1949 het hulle 'n militante "Program van Aksie" aanvaar, wat deur die Youth League beplan is. Die oogmerk was om die Swartmense van Blanke oorheersing te bevry en direkte verteenwoordiging in regeringsliggame te verkry deur stakings, openbare ongehoorsaamheid, weiering tot samewerking en die boikot van "gedifferensieerde politieke instansies".

Vir die eerste keer sedert sy stigting in 1912 het die ANC openlike weerstand getoon. Tot op dié tydstip was die ANC geen militante organisasie nie, maar 'n konserwatiewe b eweging met hervormingsoogmerke, bestaande uit 'n Swart p rofessionele elite wat die regeringsmag met die Blankes wou deel en die lewenspeil van hul mense wou verhoog. Die Youth League het daarenteen 'n ander tipe Swart politikus verteenwoordig. Geïnspireer deur die sukses van die staking van die Industrial and Commercial Workers' Union (ICU) en gevoed met die idees van die Swart Amerikaner Marcus Garvey, wat tot  op 'n Swart velkleur aangewakker en met die strydkreet "Afrika vir die Afrikane" vorendag gekom het, het die Youth League 'n nuwe tipe nasionalisme aangeblaas. Hulle was meer radikaal en militant as die ANC en het massa-aksie, wettig of onwettig, voorgestaan.

--- --- ---

Albert Lutuli

Albert John Lutuli is omstreeks 1898 naby Bulawayo in Zimbabwe gebore, waar sy vader as evangelis werksaam was. In 1908 is hy na die familie se tradisionele tuiste by die Groutville-sendingstasie in Natal gestuur en later by Edendale naby Pietermaritzburg as onderwyser opgelei. Hy was hoof van 'n primêre skool in Natal en 'n lekeprediker in die Metodistekerk.

Nadat hy 'n hoër onderwyseropleidingskursus aan die Adams-kollege bygewoon het, het Lutuli lid van die kollegepersoneel geword. In 1935 het hy die hoofmanskap van die Groutville-reservaat aanvaar en dié gebied sewentien jaar lank bestuur. In 1938 het hy Indië besoek en in 1948 die VSA> Hy was lid van die Verteenwoordigende Naturelleraad en het John L. Dube in 1948 opgevolg. In 1951 is hy tot Natalse provinsiale president van die ANC verkies en hy het die versetveldtog van 1952 openlik gesteun. Dit, asook sy weiering om uit die ANC te bedank, het in November 1952 gelei tot sy ontslag as hoofman. Hy het daarop 'n verklaring onder die titel "The Road to Freedom is via the Cross" uitgereik. Hierin het hy sy afkeer van geweld, sy oortuiging dat apartheid die gemeenskap degradeer en sy optimisme dat Blankes 'n gedeelde gemeenskap sal aanvaar, uiteengesit.

In Desember 1952 is Lutuli tot president-generaal van die ANC verkies, maar sy inperking in 1953, wat daarna hernieu is, het regstreekse betrokkenheid by ANC-bedrywighede onmoontlik gemaak. Hy het egter 'n simbool vir die massa geword, en in 1955 en 1958 is hy herkies. In 1959 is hy vir vyf jaar tot die distrik Benede-Tugela beperk, maar sy openbare toesprake in die tyd tussen sy inperkings is geloof deur baie Blankes wat sy pleidooie vir rede en verdraagsaamheid gesteun het.

In 1960, kort ná die Sharpeville-noodtoestand, het Lutuli tydens 'n betoging in Pretoria sy pas verband, en in Maart is hy in hegtenis geneem en vyf maande lank aangehou. In Desember 1961 het hy na Oslo gegaan om die Nobelprys vir Vrede te ontvang. In sy laaste jare het Lutuli se gesondheid en sig verswak. Op 21 Julie is hy naby sy huis in Natal deur 'n trein raakgery en het hy aan sy beserings gesterf.

--- --- ---

In 1949 het die ANC in dr. James S. Moroka 'n nuwe president-generaal gekry. Walter Sisulu van die Youth League sou die sleutelpos van sekretaris-generaal beklee.

--- --- ---

Walter Sisulu

Walter Max Ulyate Sisulu is in 1912 in die Engcobo-distrik van Transkei gebore. In 1940, die jaar toe A.B. Xuma (ook van Engcobo) president-generaal van die ANC geword het, het Sisulu by dié organisasie aangesluit. In 1943 was hy lid van die klein groepie aktiviste wat die ANC Youth League gestig het, waarvan hy die tesourier geword het. Hy was medeverantwoordelik vir die aanvaarding deur die ANC van die "Program van Aksie" van 1949, en is toe tot sekretaris-generaal verkies. A.B. Xuma is opgevolg deur James Moroko, wat die leierskap grootliks aan Sisulu oorgelaat het. Sisulu het in die Gesamentlike Beplanningskomitee vir die versetveldtog gedien en was in 1952 leier van een van die eerste lydelike versetgroepe. Hy issaam met ander leiers van die veldtog verhoor en gevonnis tot nege maande gevangenisstraf, opgeskort vir drie jaar.

In 1953 het Sisulu vyf maande lank deur Europa, die Sowjet-Unie en China gereis. Voorheen was hy 'n sterk voorstander van Swart nasionalisme, maar daarna het hy die veelrassige Congress Alliance gesteun. In die middel van 1954 het die regering hom beveel om uit die ANC te bedank en in 1956 was hy onder dié wat op aanklagte van hoogverraad in hegtenis geneem is. Tydens die noodtoestand van 1960 is hy aangehou en uiteindelik in Maart 1961 ná die Hoogverraadsaak vrygespreek.

In Oktober 1962 is hy in twaalfuur-huisarres geplaas en in Maart 1963 is hy daaraan skukldig bevind dat hy die doelstellings van die intussen verbode ANC bevorder het. Hy is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnijs. Hy het hierteen appèl aangeteken en is op borgtog vrygelaat, maar toe in 24-uurhuisarres geplaas. Op 20 April het hy sy huis verlaat en by die ondergrondse beweging Umkonto we Sizwe aangesluit. In 1963 is hy met die klopjag op 'n plaashuis by Rivonia in hegtenis geneem en tydens die Rivonia-verhoor skuldig bevind aan die beplanning van politieke sabotasiedade. Hy is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

--- --- ---

In Maart 1950 is die "Program van Aksie" met die Freedom of Speech Convention in Johannesburg van stapel gestuur. Dié konvensie, geopen deur Moroka, was die eerste van die groot betogings in 1950. Dit is opgevolg met "Freedom Day"-betogings teen rassediskriminasie, geborg deur die Kommunistiese Party, waaraan alle rassegroepe deelgeneem het. Swart arbeiders is versoek om van hul werk weg te bly en die helfte van die Swart arbeidsmag aan die Witwatersrand het hieraan gehoor gegee. In die gepaardgaande botsings tussen polisie en stakers is 18 Swartmense gedood. Die laaste betoging van 1950 sou op 26 Junie plaasvind, wat deur die ANC, die Asiatekongres, die African Peoples Organisation (APO) en die Kommunistiese Party as 'n "National Day of Protest and Mourning" uitgeroep is. Daar is veral geprotesteer teen die Groepsgebiedewetsontwerp en die Wetsontwerp op die Onderdrukking van Kommunisme, terwyl daar gerou is oor die Swart mense wat tydens die "Freedom Day"-betogings hul lewe verloor het. Hoewel Swartmense aan die Witwatersrand nie in groot getalle van die werk weggebly het nie, was talle in Port Elizabeth en Durban afwesig.

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) is in 1950 ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme (Wet no. 44) tot onwettige organisasie verklaar. Kommunistiese bedrywighede is hierdeur volkome aan bande gelê, ook dié van ander organisasies wat die doelstellings van die Kommunisme gepropageer het. Op 1 Februarie 1956 het die Suid-Afrikaanse minister van Buitelandse Sake, Eric Louw, die Russiese konsulaat in Pretoria gesluit.

In Julie 1951 het verteenwoordigers van die ANC, die Indian Congress en die Franchise Action Council 'n versetveldtog teen diskriminerende wetgewing gereël. In 'n brief aan Malan is met protesbyeenkomste gedreig indien alle diskriminierende wetgewing nie teen 29 Februarie 1952 afgeskaf is nie, maar die Premier het hierdie eise verwerp. Die Franchise Action Council is in 1951 deur Kleurlinge gestig om die Wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers teen te staan. Deur hul inisiatief is in Port Elizabeth en die Kaapse Skiereiland stakings gereël, wat ook die steun van Swartmense en Asiate geniet het.

Tydens 'n gesamentlike vergadering van die African en Indian Congress en die Franchise Action Council is 'n Joint Planning Council benoem om die optede van dié organisasies te koördineer. Hulle sou veral kragte saamsnoer teen die paswette, groepsgebiede, aparte verteenwoordiging en Swart owerhede. Tydens die Van Riebeeck-feesvieringe op 6 April 1952 het leiers van dié drie groepe vergaderings toegespreek. Op 26 Junie het 'n weerstandsveldtog teen veral die paswette en apartheidswetgewing begin. Oortreders het geweier om boetes te betaal en verkies om eerder tronkstraf uit te dien. Die versetbewegings sou egter eers drie maande later, in Oktober, sy hoogtepunt bereik. Heftige botsings het in Oos-Kaapland (by New Brighton in Port Elizabeth en Oos-Londen), Kimberley en die Witwatersrand plaasgevind, waartydens verskeie opstandelinge gedood is.

In 'n teenreaksie van die regering is oortreders van die paswette en die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme swaar strawwe opgelê. Ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste is verskeie Swart leiers ingeperk. Twee verdere wette is ook aanvaar, nl. die Wet op Openbare Veiligheid (Wet n o. 3 van 1953), wat vir die proklamering van 'n noodtoestand voorsiening gemaak het, en die Strafregwysigingswet (Wet no. 8 van 1953), wat spesifiek teen openbare onrus gemik was.

Hierdie versetveldtog het ses maande geduur en vir die Joint Planning Council weinig voordele ingehou. Dit het o.m. tot gevolg gehad dat die regering deur wetgewing die skroef stywer op versetbewegings kon aandraai en dat verskeie Swart en Asiatiese leiers uitgeskakel is, terwyl geen apartheids- of onderdrukkende wetgewing afgeskaf is nie. Dit het egter die internasionale aandag op Suid-Afrika gevestig en afkeer van die apartheidsbeleid meegebring. Terselfdertyd het dit tot die stigting van twee nuwe Blanke politieke party gelei: die radikale en baie pro-kommunistiese Congress of Democrats en die veelrassige Liberale Party onder leiding van Alan Paton. Albei partye was dit eens dat Swartmense dieselfde regte as die blankes moet hê. Die weerstandsveldtog het ook die ANC se ledetal tot 100 000 verhoog, van wie die meerderheid in Oos-Kaapland was. In Desember 1952 het die 54-jarige Albert Lutuli, wat ten nouste by die versetbeweging betrokke was, president-generaal van die ANC geword.

Swart nasionalisme in Suid-Afrika is teen die helfte van die vyftigerjare ook aangeblaas deur 'n groeiende internasionale front teen afsonderlike ontwikkeling. Veral by die Verenigde Volke-Organisasie (VV0) sou aanvalle teen die land begin toeneem, 'n neiging wat ook by die Statebondskonferensie in 1956 bespeur was. Dié veldtog het met die aanklag teen Suid-Afrika deur Ethiopië en Liberië oor Namibië in die Internasionale Geregshof (1960)  sy hoogtepunt bereik.

Die volgende Swart versetveldtog, wat in 1955 op die Congress of the People sou uitloop, het selfs 'n groter mate van rassesamewerking tot gevolg gehad. Die sukses daarvan is egter grootliks gedemp deur twee mislukte veldtogte van die ANC op ongeveer dieselfde tydstip. Die eerste kampanje was teen die implementering van die Bantoe-Onderwyswet (1953) gemik, maar Swartmense was verdeeld oor die wenslikheid van 'n boikot. Die tweede veldtog was gemik teen die verskuiwing van Swartmense uit die westelike deel van Johannesburg. Die ANC se verset teen die toepassing van dié gebiedsegregasie is met kragdadige maatreëls deur die regering onderdruk.

Die Kaaplandse leier van die ANC, prof. Z.K. Matthews, het die inisiatief vir die hou van die Congress of the People geneem, waartydens kongresgangers kon aandui watter veranderinge in Suid-Afrika nagestreef moet word. Hierdie kongres wat op 26 Junie 1955 in Kliptown, naby Johannesburg, gehou is, is aangebied deur die ANC, die Indian Congress, die South African Coloured People's Organization en die South African Congress of Trade Unions.

By vergaderings oor die hele land is gemeenskaplike griewe versamel en meer as 3 000 afgevaardigdes aangewys. Die kongres het 'n Freedom Charter aanvaar waarin o.m. aangedring is op gelyke regte vir alle volksgroepe, terwyl ook daarop aanspraak gemaak is dat Suid-Afrika aan almal behoort. Daar is aangevoer dat hulle nie 'n Swart meerderheidsregering wou hê nie, maar 'n demokratiese staat, gebaseer op die wil van die volk. Sekere sosialistiese beginsels, soos die staatsbesit van minerale, banke en nyswerhede, is ook aanvaar. Die Strijdom-regering het die oktrooi as staatsondermynend beskou en daarop gereageer met polisieklopjagte. Sommige kongresleiers is ingeperk en 156 ander vir hoogverraad gearresteer, maar die aanklagte teen 65 is teruggetrek. In die verhoor van die ander aangeklaagdes, wat in November 1960 begin het, is alle aanklagte uiteindelik teruggetrek. Die vyf jaar wat die verhoor geduur het, het die leiers van die sg. Congress Alliance egter nader aan mekaar gebring, en die meeste van die ANC-lede het hul bedrywighede ondergronds voortgesit.

Vir Swart nasionaliste m4t 'n Afrika-perspektief het die Freedom Charter, met sy strewe na rassesamewerking en die gebrek aan besliste Swart leiding, verraad teen Afrika-nasionalisme beteken. Hulle het 'n eksklusiewe Afrika-nasionalisme met die klem op die leidende posisie van Afrikane op die vasteland van Afrika voorgestaan. Met dié oktrooi is die saadjie dus gesaai vir die ideologiese breuk van 1958 wat tot die stigting van die Pan Africanist Congress (PAC) sou lei toe 'n groep afgevaardigdes tydens 'n provinsiale kongres van die ANC weens ideologiese verskille uitgestap het. 'n Paar maande later, April 1959, is die PAC onder leiding van die 34-jarige Robert Sobukwe gestig.

--- --- ---

Robert Sobukwe

Robert Mangaliso Sobukwe is in 1924 op Graaff-Reinet gebore en was van jongs af 'n knap student. Hy het 'n beurs na Healdtown verwerf en hom later by Fort Hare ingeskryf, waar hy hom veral op literatuurstudie toegespits het. In 1948 het hy lid geword van die ANC se Youth League, en in 1949 is hy tot president van die studenteraad van Fort Hare verkies, waar sy talent as spreker na vore gekom het.

In 1950 is hy as onderwyser aan 'n hoërskool in Standerton aangestel. Nadat hy in die openbaar steun gegee het aan die versetveldtog van 1952 is hy ontslaan, maar later weer aangestel. In dié tyd was hy nie betrokke by belangrike ANC-bedrywighede nie, hoewel hy sekretaris van die Standertonse tak was. In 1954 is hy as lektor in Afrikastudies aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel en het hy na Johannesburg verhuis, waar sy uitsonderlike intellek opgeval het. Hy was hoofsaaklik agter die skerms bedrywig, o.m. as redakteur van The Africanist. In November 1958 het hy 'n afsplintering van die ANC voorgestaan en is hy eenparig tot president van die pas gestigte Pan Africanist Congress verkies.

Sy welsprekendheid het steun vir die PAC verwerf. In Maart 1960, toe die PAC sy veldtog teen die paswette geloods het, het hy hom by die Orlando-polisiestasie in hegtenis laat neem in die hoop dat mense aangemoedig sou word om by die veldtog aan te sluit. Hy is die besonder vonnis van drie jaar gevangenisstraf opgelê. Aan die einde van dié tyd het die Parlement die Algemene Regswysigingswet aangeneem wat o.m. daarvoor voorsiening gemaak het dat die minister van Justisie enige politieke gevangene se aanhouding onbepaald kon verleng. Sobukwe is na Robbeneiland oorgeplaas, waar hy ses jaar gebly het.

Hy is in Mei 1969 vrygelaat en toegelaat om hom in Kimberley by sy gesin te voeg, hoewel hy in twaalfuur-huisarres geplaas is. Tydens sy aanhouding het hy 'n honneursgraad in die ekonomie aan die Universiteit van Londen behaal en begin studeer vir 'n graag in die regte. Hy het sy ingeskrewe klerkskap in Kimberley voltooi en in 1975 sy eie regspraktyk begin. Hy is op 27 Februarie 1978 oorlede.

--- --- ---

Nog voor die stigting van die PAC het Sobukwe in The Africanist geskryf: "We claim Africa for the Africans, the ANC claims South Africa for all." Soos die Youth League van die ANC was die PAC se strydkreet ook "Afrika vir die Afrikane". Hulle het die Congress Alliance, waaraan Kleurlinge en Asiate ook deel gehad het, as 'n remskoen vir hul strewe na die bevryding van Afrika beskou en gevrees dat die Freedom Charter tot 'n oorheersing van Afrikane deur nie-Afrikane sou lei. Die man wat op dié tydstip die teuels van die ANC gehou het en die breuk met Sobukwe se PAC moes verwerk, was Nelson Mandela.

--- --- ---

Nelson Mandela

Nelson Rolihlahla Mandela, 'n lid van die Tembu-koningsgesin, is in 1918 op Umtata gebore. Sy skoolopleiding het hy aan die Healdtown Mission College ontvang. In 1938 het hy hom by Fort Hare as student ingeskryf, maar hy is in 1940 geskors omdat hy aan 'n studenteprotes deelgeneem het. Terwyl hy deur die Universiteit van Suid-Afrika 'n B.A.-graad behaal het, het hy in Johannesburg as 'n mynpolisieman gewerk, en in 1943 het hy aan die Universiteit van die Witwatersrand vir 'n graad in die regte ingeskryf. Nadat hy dié graad behaal het, het hy en Oliver Tambo saam 'n regspraktyk begin.

Mandela het in 1944 by die ANC aangesluit en hy was 'n stigterslid van die Youth League, waarvan hy in 1950 die nasionale president geword het. Ná die versetveldtog van 1952 is h y tot ' n opgeskorte gevangenisstraf van nege maande gevonnis en ses maande lank verbied om Johannesburg te verlaat. Hy is tot adjunk-nasionale president van die ANC onder Albert Lutuli verkies, maar sy inperking het dit vir hom moeilik gemaak om effektiewe leiding te gee. In September 1953 is hy weer ingeperk. Hy is ook verplig om uit die ANC te bedank en is vir vyf jaar verbied om vergaderings by te woon. In die geheim het hy egter voortgegaan om die ANC te lei.

Nadat sy inperking in 1961 verstryk het, het Mandela 'n konferensie in Pietermaritzburg toegespreek, die idee van 'n nasionale konvensie gesteun en 'n broep op mense gedoen om drie dae lank by die huis te bly. Daarna was hy ondergronds aktief en 17 maande lank 'n voortvlugtige. Met sy bynaam "Swart Pimpernel" het hy verskeie Afrikalande besoek om steun te werf vir Umkonto we Sizwe se beoogde veldtog van geweld. In Julie 1962 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en is in Natal in hegtenis geneem. In November 1962 is  hy op aanklagte van aanhitsing en onwettige landsverlating skuldig bevind en tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Tydens die polisieklopjag van Julie 1963 op die hoofkwartier van Umkonto we Sizwe in Rivonia is dokumente in Mandela se handskrif gevind. Tydens die Rivonia-verhoor is hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

--- --- ---

Mandela het die breuk in 1959 in die ANC as 'n suiweringsproses verwelkom en Sobukwe se PAC bestempel as 'n gewese faksie van die ANC wat weinig sou groei. Dit was 'n oordeelsfout. Binne bestek van 'n jaarhet die PAC meer gegroei as die ANC in vyftig jaar. Teen 1960 het die Swart nasionaliste hul geduld met vreedsame pogings tot die omverwerping van die Suid-Afrikaanse politieke en sosiale struktuur begin verloor, sodat die metodes van die PAC, en selfs ook dié van die ANC, 'n sterk revolusionêre inslag begin kry het. Die Swartmense se verset was veral teen die ongewilde paswette gemik en was sterk op die weerstandsbeweging van 1952 geskoei. Passe is verbrand, geen verdedigings by hofsake is aangebied nie, borgtog is van die hand gewys en Swartmense het geweier om boetes te betaal. Tog het die 1960-versetbeweging in twee opsigte van dié van 1952 verskil: leiers was die eerste om hulle vir arrestasie aan te bied, en slegs Swartmense is uitgenooi om daaraan deel te hê. In Maart 1960 het Robert Sobukwe en ander PAC-leiers hulle by die Orlando-polisiestasie in Johannesburg oorgegee en is summier gearresteer.

In die meeste stede het die verset vreedsaam verloop, maar die twee uitsonderinge, Sharpeville en Lange (@wat later bespreek word), het tragiese lewensverlies opgelewer. 'n Week ná die gebeure by Sharpeville (waar 69 mense gedood en sowat 180 geword is op 21 Maart 1960), is 'n nasionale roudag en staking gereël, waartydens 450 000 Swartmense tuis gebly het. Sharpeville en Langa sou vir 'n baie lang tyd gemoedere teen Suid-Afrika ind ie buiteland gaande maak. Ook in Suid-Afrika sou dit op velerlei wyse weerklank vind.

--- --- ---

@Sharpeville en Langa

Aangestig deur leiers van die ANC en PAC, is landwye betogings teen veral die gehate paswette vroeg in 1960 onder Swartmense georganiseer. Pamfletteis in Swart woonbuurte versprei om die inwoners tot aktiewe optrede aan te spoor. By Sharpeville, naby Vereeniging, het dit op 21 Maart tot 'n ernstige konfrontasie tussen Swartmense en die polisie gelei. Nadat 'n polisiestasie omsingel en versterkings deur die polisie aangevra is, is op die Swart betogers geskiet. Altesame 69 is gedood, terwyl 180 gewond is.

Vir Suid-afrika het Sharpeville op 'n baie ongeleë tydstip gekom. Met die vooruitsig op 'n onafhanklike republiek was dit belangrik dat die land goeie betrekkinge met die buiteland handhaaf. Sharpeville het egter 'n skadukol oor hierdie vooruitsigte gegooi, want die gevolge van dié ongelukkige gebeurtenis is tot in die verste uithoeke van die wêreld met afkeur en weersin begroet. Sharpeville is as die uitvloeisel van 'n regeringstelsel en lewenswyse - apartheid - voorgehou. Heftige reaksie is uit die buiteland ontvang, veral van die Britse Arbeidersparty, asook uit Indië, Denemarke en Kanada. Buitelandse kapitaal is deur verskeie lande uit die Unie onttrek, en die gebruik van wapengeweld teen Swartmense is oral veroordeel. Op 27 Maart het duisende mense in Londen aan 'n betoging teen Suid-Afrika deelgeneem.

By Lange, naby Kaapstad, is intussen 'n soortgelyke veldtog teen die paswette georganiseer. Ook hier het die polisie op Swart oproermakers geskiet. Twee Swartmense is gedood

--- --- ---

Die Verwoerd-regering het die paswette tydelik verslap en 'n noodtoestand is afgekondig, openbare byeenkomste verbied en ongeveer 11 500 mense aangehou, van wie slegs 224 nie Swartmense was nie. Sommige Swartmense het na aangrensende Afrikastate gevlug. Op 8 April 1960 het die Wet op Onwettige Organisasies die ANC en PAC tot verbode party verklaar. Swaar strawwe sou aan enigeen opgelê word wat voortgaan om die doelstellings van die organisasies te bevorder. Voortaan sou die ANC en PAC ondergronds gaan en in toenemende mate gewelddadige optrede voorstaan.

Die Unie word 'n Republiek

Die jaar 1948 het ook 'n keerpunt in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis gebring: 'n republikeinse party het nou geregeer. Nuwe vewikkelinge in die Britse Statebond het die republikeinse ideaal van die NP begunstig. In 1949 het Indië 'n republiek binne die Statebond geword, wat talle Suid-Afrikaners oortuig het dat republiekwording nie tot isolasie of afskeiding sou lei nie. Hertzog se standpunt dat 'n republiek slegs in spesiale opdrag van die volk tot stand gebring kon word, is in 1953 deur Malan herbevestig.

Verskeie stappe is deur die regering gedoen om die soewereiniteit van die Unie te benadruk. Die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap is aangeneem (1949), die reg op appèl na die Britse Geheime Raad afgeskaf (1950), die oppergesag van die Parlement bo alle twyfel gestel (1955), die Unievlag as enigste Suid-Afrikaanse vlag en "Die Stem van Suid-Afrika" as enigste volkslied aanvaar (1957). In 1957 het die Unie ook die Britse vlootbasis Simonstad oorgeneem. Sedert 1951 was 'n republikeinse Suid-Afrikaner, E.G. Jansen, goewerneur-generaal. Die tafel was gedek vir 'n republiek. Al die belangrikste simbole vir so 'n republiek was reeds teen die einde van die vyftigerjare ingevoer: één burgerskap, één vlag en één volkslied.

Strijdom se uitgesproke standpunt oor 'n republiek het die VP-leir, Strauss, in 1955 genoop om die belangrikheid van die Unie se assosiasie met die Statebond in die Parlement opnuut te bevestig. Strijdom het die regering se staatkundige doel  herbevestig: Suid-Afrika se republikeinse doelwit sou onveranderd bly, en afskeiding van die Statebond sou deur die Unie se belange bepaal word.

Verwoerd sou die program vir die verwesenliking van algehele selfstandigheid deurvoer, nie slegs omdat die aandrang binnelands onder Blanke kiesers sterker geword het nie, maar ook omdat internasionale omstandighede Suid-Afrika in die rigting van 'n republiek sou stuur. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die voormalige Britse kolonies in Afrika en Asië onafhanklike statebondslede geword. Mettertyd het 'n negatiewe gesindheid teenoor Suid-Afrika, die land van apartheid en rassediskriminasie, by lede van die Statebond deurgeslaan. Met die groei van die Pan-Afrikanisme en die helder klanke van uhuru (vryheid) in Afrika het Afrikastate hulle in die VVO teen die Unie verbind en 'n doelgerigte veldtog teen sy beleid van afsonderlike ontwikkeling gevoer.

Verwoerd was oortuig dat die status van die Unie en sy verhouding tot Brittanje verdeeldheid tussen die twee taalgroepe meegebring het. Hy het onomwonde verklaar dat daar slegs binne die republiek eenheid tussen Afrikaans- en Engelstaliges sou kom. Die uitslag van die algemene verkiesing van April 1958 het aan die republikeinse strewe momentum gegee, en die onderwerp van republiekwording het die politieke toneel begin oorheers. Die nuwe premier het hom selfs op die republikeine binne die VP beroep, waarop die Opposisieleier, sir De Villiers Graaff, onomwonde verklaar het dat sy party teen 'n republiek gekant is.

In 1960 is luisterryke landwye feesvierings gereël om die vyftigjarige bestaan van die Unie van Suid-Afrika te gedenk. Op 20 Januarie, tydens die wantrouedebat in die Volksraad, het Verwoerd die dramatiese aankondiging gedoen dat die verkryging van 'n republiek "nou binne die terrein van die praktiese pollitiek kom" en dat 'n referendum daaroor gehou sou word. Hoewel die VP hierdeur onverhoeds betrap is, het die party onmiddellik die gedagte aan 'n republiek teengestaan, terwyl die Progressiewe Party hom ten gunste van 'n veelrassige republiek uitgespreek het.

Voor die referendum kom plaasvind, het verskeie rampe Suid-Afrika getref. 'n Dag ná Verwoerd se aankondiging is bekend gemaak dat 438 steenkoolmynwerkers ondergronds by Coalbrook vasgekeer is in die Unie se grootste mynramp ooit. Dit is opgevolg deur die moord op nege polisiemanne in die Swart woonbuurt Cato Manor naby Durban.

Die "Winds of Change"-toespraak van die besoekende Britse eerste minister, Harold Macmillan, in Februarie 1960 (#sien paneel hiernaas), sou ook 'n belangrike invloed op Suid-Afrika hê. Vir talle Engelssprekendes met 'n pro-Britse gevoel was dit eensklaps duidelik dat hul hoop vir die toekoms beswaarlik nog by Brittanje kon lê. By sommige Engelssprekendes het daar 'n verandering in houding teenoor Verwoerd plaasgevind, wat in Oktober 1960 met die referendum die skaal beslissend in sy guns sou swaai. Ook weifelende Afrikaanssprekende Blankes het met nuwe oë na 'n republiek, die Statebond en hul toekoms gekyk.

--- --- ---

#Die "Winds of Change"-toespraak

Slegs twee weke ná Verwoerd se opspraakwekkende eerste aankondiging in die Volksraad van 'n referendum oor republiekwording het die Britse eerste minister, Harold Macmillan, ná 'n besoek aan verskeie Afrikalande, die Unie-Parlement toegespreek. Dié toespraak sou later allerweë as die "Winds of Change"-toespraak ("Winde van Verandering") bekend staan.

Macmillan het o.m. gesê dat die ontstaan van onafhanklike nasies sedert die val van die Romeinse Ryk een van die belangrikste kenmerke van die politieke lewe van Europa was. Nasionalisme  het nou by Afrikastate in toenemende mate na vore getree. Hy het daaraan toegevoeg: "The most striking of all the impressions I have formed since I left London a month ago, is the strength of the African national consciousness. The wind of change is blowing throughout the continent.... Whether we like it or not, this growth of  national consciousness is a political fact. We must all accept it as a fact. Our national policies must take account of it.

"This means, I would judge, that we must come to terms with it. I sincerely believe that if we cannot do so we may imperil the precarious balance between East and West on which the peace of the world depends."

Macmillan het hom afgevra watter voobeeld die Statebond kon stel om die mense van Asië en Afrika vir die Weste te wen. Vir hom het die antwoord gelê in die skepping van 'n samelewing waarin individuele verdienstelikheid die enigste maatstaf vir sowel politieke as ekonomiese vooruitgang sou wees. In 'n land wat deur verskillende rasse bewoon word, moes dit die doelwit wees om deelgenootskap tussen die groepe te bevorder. Feit was, aldus Macmillan, dat daar 'n fundamentele verskil van beskouing tussen Brittanje en Suid-Afrika bestaan het.

Verwoerd se antwoord was kernagtig: "There must not only be justice to the black man in Africa, but also to the white man ... This is our only motherland. We have nowehere else to go.... We see ourselves as a part of the Western world - a true white state in Southern Africa with a possibility of granting a full future to the black man in our midst."

--- --- ---

Terwyl die eggo's van die Macmillan-toespraak nog deur Suid-Afrika weerklink het en republiekwording steeds die gesprek van die dag was, het die kollig verskuif na die volgende ramptoneel: die Swart woonbuurt Sharpeville by Vereeniging. (Kyk vroeëre paneel oor @Sharpeville)

'n Paar weke ná die voorval by Sharpeville is die Wet op Onwettige Organisasie met die steun van die VP aanvaar. Hierdeur is die PAC en ANC tot verbode organisasies in Suid-Afrika verklaar. Die regering het 'n noodtoestand afgekondig en hom bereid verklaar om selfs die leër te mobiliseer. Alle openbare vergaderings is verbied en oortreders kon sonder verhoor aangehou word. Sommige politieke partye, welsyns- en ander organisasies het die regeringsmaatreëls teengestaan en bystand verleen aan die familie van aangehoudenes, o.m. die Liberale Party, Progressiewe Party, Coloured People's Organisation,  die Black Sash (++ sien paneel hieronder) en die Internasionale Rooi Kruis.

Nie slegs deur Engelstalige liberale nuusblaaie in Suid-Afrika en van oorsee nie, maar ook van die kant van geestelikes van die Engelse kerke in die Unie, o.a. eerw. Trevor Huddleston, aartsbiskop Joost de Blank en biskop Ambrose Reeves, is Verwoerd onder 'n spervuur van kritiek geplaas.

--- --- ---

++ Die Black Sash

Die Black Sash is in Mei 1955 in Johannesburg gestig deur ses vroue onder leiding van Ruth Foley. Aanvanklik was hulle bekend as die South African Women's Defence of the Constitution League. Hulle het veral teen die NP-regering se voorgenome Senaatswet geprotesteer. Landwye protesvergaderings is georganiseer, straatoptogte gereël en versoekskrifte aan die goewerneur-generaal en kabinetslede voorgelê.

Lede van dié organisasie het met swart serpe oor die skouer stil wag gestaan by amptelike geleenthede wat deur kabinetslede bygewoon is. Hoewel nie aan 'n politieke party verbonde nie, het die Black Sash aktief belang gestel in pollitieke sake en adviesburo's in die stede geopen vir Swartmense wat onseker oor hul regsposisie was. Hulle het ook betoog vir groter opvoedkundige en sosiale hulp aan Swartmense.

--- --- ---

Op Saterdag, 9 April 1960, het Verwoerd die Paasskou in Johannesburg geopen. 'n Ryk Transvaalse boer (en apartheidsaktivis), David Pratt, het op 'n kort afstand twee skote op die Eerste Minister gevuur en hom in die kop getref. Verwoerd het die sluipmoordaanval egter oorleef en vyf weke later sy ampspligte hervat.

In 1960 het sestien Afrikastate lede van die VVO geword. Spoedig sou nog nuwe onafhanklike state volg. Hierdie Afrikablok in die VVO sou alles moontlik probeer om toenemende druk op Suid-Afrika uit te oefen om sy rassebeleid te laat vaar.

Op 30 Junie 1960 het die Belgiese Kongo onafhanklik geword. Dié stap is gevolg deur 'n bloedige burgeroorlog wat die land in chaos gedompel het. Blankes het in groot getalle uit die Kongo padgegee en baie van hulle het nin Suid-Afrika 'n heenkome gevind. Sommige liberale Blankes het begin besef dat die liberale gedagte dat 'n onafhanklike Swart regering vrede sou bring, moeilik aanvaar kon word. Die Blanke openbare mening het sterk teen liberale denkrigtings gedraai.

In April het die Parlement die Referendum-wet goedgekeur en op 3 Augustus het Verwoerd aangekondig dat die referendum op 5 Oktober sou plaasvind. Die referendum is teen die agtergrond van binnelandse onrus, politieke wanorde in Afrika en heftige buitelandse kritiek teen Suid-Afrika tegemoetgegaan. Dit was 'n intensiewe en soms bittere veldtog en 90,5 persent van die Blanke kiesers het hul stemme op 5 Oktober uitgebring: 850 458 ten gunste van 'n republiek en 775 878 daarteen, 'n meerderheid van 74 580 vir die republikeine. Natal was die enigste provinsie waar die meerderheid teen republiekwording was.

Dit was duidelik dat die republikeinse saak nie met die Afrikanerstem alleen deurgevoer is nie, want heelwat Afrikaanssprekendes het teen 'n republiek gestem. Dit was ná die volkstemming ook duidelik dat heelwat Engelstaliges hulle by die republiekeine gevoeg het. Verwoerd het sy goeie gesindheid en dank teenoor die Engelssprekendes getoon deur twee Engelstalige minister, A.E. Trollip en F. Waring, in sy kabinet op te neem.

In Maart 1961 het Verwoerd die Statebondskonferensie in Londen bygewoon. Sy oogmerk was om, soos hy aan die kiesers belowe het, Suid-afrika se lidmaatskap van die Statebond te bly behou. Van meet af was dit egter duidelik dat die Afro-Asiatiese leiers en die Kanadese premier die uitsetting van Suid-Afrika sou bewerkstellig. Weens die besware teen Suid-Afrika se hertoelating en eise wat vir Verwoerd onaanvaarbaar was, het hy besluit om Suid-Afrika se lidmaatskap van die Statebond te beëindig.

Die gevolge van Suid-Afrika se uittrede op 15 Maart 1961 was minder ernstig as wat verwag is. Dit was nie nodig om die patroon van handels- en voorkeurhandelsooreenkomste te wysig nie. Die Britse premier, Harold Macmillan, het die versekering gegee dat voorkeurhandelsooreenkomste nie beïnvloed sou word nie, aangesien dit tweesydig van aard en reeds sedert die Ottawa-konferensie van 1932 van krag was.

In Januarie 1961 het Verwoerd die nodige wetgewing ingedien vir die totstandkoming van die republiek. Die belangrikste bepaling was dat die Britse monarg deur 'n staatspresident vervang sou word. Op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika tot stand gekom en terselfdertyd is Suid-Afrika se lidmaatskap van die Statebond beëindig. C.R. Swart is verkies tot die eerste staatspresident. Hiermee het Suid-Afrika 'n nuwe era betree.

Swart weerstand sou nie uitbly nie. Die verbod op die ANC en PAC het meegebring dat Swartmense nou geen wettige organisasie meer as mondstuk gehad het nie. Plaaslike selle is gevorm en besluitneming sover moontlik gesentraliseer. Nelson Mandela het die leiding van die ondergrondse ANC op hom geneem, terwyl sy Johannesburgse prokureursvriend en voormalige kollega, Oliver Tambo, oorsee gestuur is om 'n tak in ballingskap van die organisasie te stig. PAC-leiers wat hul aan die polisie oorgegee het, is verhoor en die meeste is tot tronkstraf van een tot drie jaar gevonnis. Baie het ná hul ontslag besluit om Suid-Afrika te verlaat.

Die eerste reaksie van die Swart leiers ná die beëindiging van die noodtoestand in Augustus 1960 was om hul radikale magte te herenig. Mandela het 'n staking van drie dae beplan om saam te val met die aanvaarding van republikeinse status. Tien dae voor die staking is alle openbare vergaderings egter verbied en talle Swartmense aangehou. Militêre en burgerlike magte is opgeroep en die lugmag is gebruik om opstandige Swartmense te beheer.

Mandela het heftig gereageer op die mislukking van die beoogde staking. Die Swart versetleiers het gevoel dat as vreedsame proteste soos dié deur die mobilisasie van die weermag en die polisie onderdruk moes word, die mense moontlik verplig sou wees om ander metodes van verset te gebruik. In Junie het die ANC en die verbode Kommunistiese Party (onder leiding van die advokaat Bram Fischer), tot 'n veldtog van geweldpleging besluit, wat op 16 Desember 1961 sou begin.

Die dade van sabotasie tydens hierdie veldtog was die werk van Umkonto we Sizwe ("Spies van die Nasie"), 'n nuwe organisasie onder beheer van die ANC en die Kommunistiese Party. Die oogmerk van die sabotasieveldtog was om die regering by intensiewe denke oor Suid-Afrika se politieke toekoms te betrek. Die teikens sou veral petrol-opslagplekke, kraglyne, staatsgeboue, spoorlyne en verbindingsweë wees.

Intussen het die PAC ook aktief gebly. In die laaste helfte van 1961 het lede van die PAC 'n nuwe susterorganisasie, Poqo ("gesuiwerdes"), gestig. Hierdie organisasie het klaarblyklik nie sy beslag van die PAC-topbestuur gekry nie en is deur individuele lede - veral diegene wat pas gevangenisstraf uitgedien het - gestig. Streng genome was Poqo dus nie 'n ondergrondse vertakking van die PAC nie, hoewel die kern van sy ondersteuners PAC-lede was. Die organisasie het 17 streektakke en 'n groot aantal plaaslike takke en selle gehad. Waar Umkonto we Sizwe 'n sabotasieliggaam was, was Poqo 'n terroristegroep. Poqo se oogmerk was om die nywerheidsweë te ontwrig en dan die regering lam telë.

Die beoogde opstande het egter nooit plaasgevind nie, veral weens die regering se maatreëls om geweldpleging en onrus te bekamp en alle dade van sabotasie en terrorisme in die kiem te smoor. Dade van geweldpleging het nietemin onder die vaandel van Poqo plaasgevind.

Vir Swartmense en Kleurlinge was dit egter teen 1961, die jaar van republiekwording, duidelik dat die nuwe republiek vir hulle weinig gebring het waaroor hulle kon juig. Blanke Afrika-nasionalisme is bevredig; Swart en Bruin Afrika-nasionalisme is onbevredig gelaat. Hiermee sou die Blanke Suid-Afrikaners in die jare ná 1961 rekening moes hou.

--- --- ---

'n Volledige aanbevole lees-/bronnelys sluit die hoofstuk en gedeelte af.

--- --- ---

Radio Omroeper Kort Kursus

Radio Omroeper Kort Kursus

R2095
Adult Pharma

A Pill to Thrill (Distributor Agents Needed)

R350
Independent Candidate Course

Online Independent Candidate Course

R3499
Shuttle Services Pretoria

Privaat UBER Pretoria (Shuttle Service)

R519
< >