Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die Tweeling se geheim
Jennie en Jessie het baie gehou van geheime. As Jennie nie 'n geheim aan Jessie vertel het nie, het Jessie een aan Jennie vertel. Hulle was altyd besig met die een of ander geheim.
Op 'n goeie dag het Jessie iets in Jennie se oor gefluister - dit was 'n ander geheim wat sy wou vertel.
"Wat is dit?" het Jennie gevra."
"Sal jy belowe om vir niemand te vertel nie?" "Ja, ek belowe," het Jessie gesê. "Wat is dit?" Jennie het haar hande bakgehou by Jessie se oor sodat niemand kon hoor wat sy sê nie. En toe het sy begin fluister. Hoe meer sy gefluister het, hoe meer het Jessie gelag. Sy het so hard gelag dat Moeder kom vra het wat aan die gang was.
"Is dit alweer 'n geheim?" het sy gevra. "Wat se geheim is dit die keer?" "Aaaah!" het die tweeling gesê, terwyl hulle ondeund na mekaar kyk "dis die geheim."
"Maar julle het so lekker gelag; dit moet seker 'n baie spesiale geheim wees; vertel my maar."
"Ons kan nie," het Jessie gesê, "want die hele geheim is oor Moeder."
"Sjuut!" het Jennie gefluister; "jy vertel mos nou."
"Oor my?" het Moeder uitgeroep; "nou is ek vreeslik nuuskierig, vertel my maar."
"Ons kan nie," het Jennie gesê, "maar dis oor Moeder se hoofpyn." "Nou laat jy alles uit!" het Jessie weer gewaarsku. "
"Oor my hoofpyn?" het Moeder gesê; "wat is julle van plan om te doen?"
"Nee, dit mag ek nie sê nie", het Jessie gesê "want juis daar lê die geheim. Ons gaan Moeder in die bed hou - "
"Sjuuuuut!" het Jennie gewaarsku, "jy laat alles uit."
"O, julle gaan my in die bed sit! en wat dan?"
"Nou mag ons regtig nie verder vertel nie," het Jennie gesê; "dit sal die hele plan bederf, Wanneer ons vir Moeder in die bed sit, sal Jessie en ek al die werk doen-"
"Bly stil," het Jessie gefluister.
"Maar dit sal heerlik wees as julle al die werk gaan doen," het Moeder gesê.
"Ja," het Jennie gesê, "maar natuurlik moet Moeder niks daarvan weet nie. More sal ons vir Moeder ontbyt in die bed gee-"
"En," het Jessie bygevoeg, dan sal ons al die skottelgoed was en die hele huis uitvee-"
"En ons sal alles deeglik afstof" het Jennie gesê.
"Ons sal alles baie stil doen sodat daar geen geraas is nie-" het Jessie gesê.
"Dan sal Moeder vir 'n lang, lang tyd kan slaap," het Jennie gesê.
"En Moeder sal dan kan gesond word," het Jessie bygevoeg.
En toe skielik, het Jennie vir Jessie gesê: "Jy het die hele geheim vertel!"
"Nee, ek het nie, jy het."
Maar Moeder het tussenbei gekom en gesê: "Nie een van julle twee het my eintlik veel vertel nie. Dis nog die beste geheim wat ek in my lewe gehoor het!"