Baie omgekrap en brom-brom het die tweeling stadig af hekkie toe geloop waar hulle hulle goeie fiets laat staan het.
Twee minute later was hulle weer by die huis.
"Moeder, Moeder, Moeder!"
"Dis weg!"
"Wat is weg?"
"Ons fiets."
"Dis baie jammer," het Moeder gesê, alhoewel dit nie juis gelyk het of sy baie sleg daaroor gevoel het nie.
"Maar as julle dit nie daar buite laat staan het terwyl julle gestry het oor wie dit moes inbring nie, sou dit nie nou weg gewees het nie."
"Wat sal ons doen?" het altwee tegelyk gevra. "Ek weet nie," het Moeder geantwoord. "Gaan kyk maar weer of dit nie daar is nie."
Hulle het hierdie keer mekaar se hand gevat en gaan kyk. Hulle was baie stil. Toe hulle by die hekkie kom, wie anders sou hulle sien as Pappie en hy was besig om op 'n fiets te ry wat ver te klein vir hom was. Hans en Henk het oopmond na hom gekyk.
"Dis ons fiets!" het hulle gelyk geskreeu.
"Is dit regtig?" het Pappie gevra. "Ek kry dit hier buite en toe dag ek ek gaan so 'n entjie ry - terwyl julle twee so hewig twis."
"Dis nou my beurt," het Henk gesê toe Pappie afklim, "as jy dit nie wil hê nie, Hans."
"Toemaar," het Hans gesê, "ek sal wag, Henk."
Dit was voorwaar 'n baie mooi gebaar! Vir die res van die dag het hulle baie lekker gespeel asof daar niks gebeur het nie.