Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die Storm
Ken behoort 'n baie gelukkige seun te wees. Was hy dan nie by die see met 'n hele week se vakansie nie? Het hy dan ook nie 'n nuwe grafie en emmertjie gehad nie? En het sy Pappie hom nie ook 'n nuwe bootjie met seile gegee nie; en wat van die heerlike strand om op te speel en die lekker seewater om in te swem? Hy het al hierdie goed gehad, maar tog was hy nie tevrede nie.
Hy het ook net pas 'n baie heerlike ete geniet en nog was hy nie gelukkig nie. Om die waarheid tesê het hy baie rebels, opstandig, gevoel. 'n Mens kon dit sommer op sy gesig sien, want daar was 'n lelike frons op en sy lippe het sommer daar gestaan.
En dit alles sommer oor niks nie - soos gewoonlik. Pappie het hom gevra om op te hou met sy gooiery, want dit het die ander mense op die strand gehinder. Ken het gereken dat hy alle reg gehad het om met klippe op die strand te gooi en Pappie moes hom baie dreigend beveel om op te hou voordat hy dit gestaak het. Dis daarom dat hy nou so vies gelyk het.
"Kom ons bou 'n groot kasteel," het Pappie gesê net om hom weer lekker te laat voel. "Netnou sal dit hoogwater wees dan kan ons sit en kyk hoe dit ons vesting aanval."
"Ek wil nie kastele bou nie," het Ken dikmond gesê.
"Ag kom maar," het Pappie hom gepaai.
"Ek wil nie," het hy bitsig gesê terwyl hy sommer eenkant toe wegstap.
"Nou ja, goed, dan sal ek maar alleen een bou." Hy het toe die grafie geneem en begin grawe.
Ken het sommer aangehou stap langs die strand op. Dit was alles regtig baie snaaks, want hy was maar 'n seuntjie van nege jaar en daar het hy gestap met sy hande in sy broeksakke en met die gefronsde wenkbroue soos iemand wat 'n groot opstand beplan. Hy het al verder gestap en het nie besef dat die tyd vinnig verbygegaan het en dat hy sy huismense en vriende ver agtergelaat het nie.
Dit het sommer nog gekook binnekant in hom en hy het boos voortgestap. Hy wil by niemand wees nie, het hy gemompel, hy wil alleen wees. Hy wil ook nie met die ander speel nie. Hy wil alleen wees om te maak wat hy wil. Hy kon nou met klippe gooi waar hy wil en wanneer hy wil, want daar was nie ander mense nie. En hy was vreeslik bly daaroor, baie bly!
Op daardie oomblik het hy ontdek dat die lug skielik sommer baie koeler was. Hy het opgekyk na die lug.
Netnou het die son nog heerlik geskyn, maar nou was dit agter die wolke en hy het ook gemerk dat die wind van rigting verander het.
Ken het sommer stadiger begin loop. Hierdie verandering in die lug het hom glad nie aangestaan nie. Maar omdraai? Dit sou hy nooit doen nie.
Sowat tien minute later het Ken weer na die lug gekyk, dit was nou heeltemal toegetrek en vol swart, dreigende wolke. Die wind het net hard begin waai. Die see, wat eers so kalm was, het nou begin kook. 'n Dowwe slag het Ken tot stilstand gebring. Die frons op sy gesig was nou weg en hy het baie bleek geword. Hy het glad nie van storms gehou nie.
Die weer het al harder en harder gedreun. Skielik het 'n verblindende blits die donker wolke verlig, erger as wat hy nog ooit in sy lewe gesien het. Toe was daar 'n verskriklike donderslag, sommer reg bokant sy kop.
Ken het gewip soos hy skrik. Verwilderd het hy rondgekyk vir 'n skuilplek, maar daar was niks. Langs daardie hele strook strand was daar nie eens skuilplek vir 'n voëltjie nie. En toe het die reën begin val!
Die wind was baie sterk en daar was 'n vreeslike geraas soos die groot druppels in die water geval het.