Almal het omgekyk. Toe was daar 'n gil van die vrou wat 'n rukkie tevore so lekker gelag het. "Dis my motor!" het sy ontsteld uitgeroep. Dit was haar motor; die stoffeerwerk was lelik verskeur, en haar doos sjokolade het verdwyn. Dit was ongelukkig vir haar, maar in 'n sin was dit 'n soort van vergelding, want sy het skynbaar nie omgegee solank dit iemand anders se motor was wat beskadig is nie.
Die voorval het my laat dink aan 'n teks in Spreuke, wat lui: "Hy wat bly is oor 'n ongeluk, sal nie ongestraf bly nie." Spreuke 17:5.
Daardie tetks was in hierdie geval bewaarheid. Ons behoort altyd baie versigtig te wees, wanneer ander dit ongelukkig tref, om nie hulle las swaarder te maak nie, want ons kan nooit weet hoe gou dieselfde ongeluk ons mag tref nie. Ek het al gevalle gesien waar dit baie gou gekom het.
Ek onthou dat ek eenmaal gelag het vir 'n vriend omdat sy motor teen 'n steilte gaan staan het; maar dit was nie lank nie, of ek was in dieselfde verknorsing, en daardie vriend was daar om dit te sien! Hy kon toe gesê het: "Goed So!" maar hy het nie. Dit was baie vriendelik van hom, was dit nie?
Ek hoop dat julle ook so sal handel, en dat julle, wanneer 'n vriend, of 'n vyand, se fiets 'n lek kry, of as hy 'n albaster verloor, of iets anders wat vir hom waardevol is, nie vir hom sal lag nie, maar hom sal help. As julle dan eendag in die verknorsing kom, mag daar miskien iemand wees wat julle sal help en met julle sal simpatiseer.