Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die Skipbreuk
"Help! Ons vergaan!"
Daar ver in die Stille Oseaan het die boot Helen B. Sterling in 'n vreeslike storm beland. Golwe so groot soos berge het teen hom geslaan. Water het in sy ruim begin instroom en dit was duidelik dat hy nie veel langer meer bo water kon bly nie.
Die kaptein het 'n noodsein oor die radio laat uitstuur. Altemit sou iemand dit opvang. Daar was min hoop, want hulle was honderde myle van die land af en vir sover die kaptein kon vasstel, was daar geen ander skip naby genoeg om die noodsein op te vang nie.
Die storm het vererger en die dapper matrose het besef dat die einde naby was. Die radio-operateur het aangehou die noodsein uitstuur.
Baie myle daarvandaan was die Australiese slagskip Melbourne op weg na sy tuishawe. Meteens het sy radio die noodsein van die Helen B. Sterling opgevang. Onmiddellik het hy van koers verander en in die rigting van die sinkende skip gevaar. Ure het verbygegaan. Intussen het die Helen B. Sterling wat deur die kwaai golwe geteister is, stadig begin sink. Sou die Melbourne betyds kom? Dit het byna onmoontlik gelyk.
Die kaptein van die sinkende skip het eindelik die volgende boodskap uitgestuur: "Ons kan nie nog 'n uur uithou nie. Die ruim is vol water, die golwe slaan bo-oor ons. Ons is besig om die reddingsbote te laat sak, maar niemand sal in hierdie see kan leef nie. Vaarwel!"