En toe het daar 'n eienaardige ding gebeur. Jan het sy paaltjies uit die grond gepluk en met die kolf onder sy arm net so vinnig as hy kon, laat spat. Dit het so snaaks gelyk dat niemand juis vir hom kon kwaad voel nie.
"Ek sal met hom afreken," het Pappie gesê terwyl hy agter Jan aan koersvat.
"Wat makeer Jan?" het Pappie gevra toe Jan die kolf, bal en paaltjies op die garagevloer neergooi.
"Nie een sal nou speel nie," het Jan kwaai gesê.
"Reg genoeg, hulle behoort aan jou en jy kan met hulle maak soos jy wil, maar jy onthou seker die reël dat as jy saans klaar gespeel het, jy bed toe moet gaan, né?"
"Ek wil nie gaan slaap nie," het Jan brom-brom gesê.
"O, maar klein seuntjies wat te moeg is om krieket te speel, is veels te moeg om nie in die bed te wees nie. Gaan nou dadelik kamer toe!"
Brom-brom het Jan toe maar kamer toe gegaan. Nadat hy klaar gebrom het, het Pappie ook kamer toe gegaan.
"Slaap jy al, Jan?"
"Nee."
"Onthou jy nog daardie rolband wat ons by die mallemeule gesien het? Hoe die karretjies die een bult op en die ander af gegaan het?"
"Ja, Pappie."
"Verskeie kere op en verskeie kere af?"
"Ja, baiemaal."
"Wel Jan, die lewe is ook so. Miskien nog net meer op en af."
"H'm".
"En krieket is ook so, Jan. Baie op en baie af en gewoonlik gebeur dit wanneer ons dit nie verwag nie."
"H'm." Dit het gelyk of Jan onder die komberse wegraak.
"En ons moet leer om onder alle omstandighede opgeruimd te wees."
"Ek is baie vaak," het 'n klein stemmetjie gesê.
"Wel, my seun, slaap lekker en moenie vergeet wat ek jou vertel het nie!"
"Nee, Pappa."
Jan het nie vergeet nie en die volgende keer het hulle baie lekker krieket gespeel.