Toe het die seuns met hulle fietse resies gejaag, en weer het Albert laaste gekom. In sommige van die resies het Albert tweede of derde gekom, maar hy was nooit eerste nie. Later het hulle binnenshuis gespeel, en een van die seuns, Jerry, het so 'n mooi kasteel met Albert se blokkies gebou dat selfs Albert moes erken dat dit die mooiste was.
Toe dit etenstyd was, het Albert besluit dat hy sou opmaak vir alles wat hy verloor het deur so vinnig koek te eet dat sy Moeder hom moes waarsku dat hy moontlik kan verstik. Eindelik is die besoekers weg, en Moeder het aan Albert gevra hoe hy die partytjie geniet het. "Dit was nie te sleg nie," het hy gesê.
"Jy het vir my nie heeltemal gelukkig gelyk nie," het sy gesê.
"Hoe weet Moeder dit?" het Albert gevra. "Ek kon dit in jou gesig sien," het Moeder gesê, "en ek dink ek weet wat geskeel het."
"Daar het niks geskeel nie," het Albert gesê.
"O, daar het," het Moeder gesê: "Jy het glad nie daarvan gehou om te sien hoe daardie seuns jou wen, en dinge beter kan doen as jy nie."
Albert het doodstil gebly, en Moeder het geweet dat sy die spyker op die kop geslaan het.
"Die enigste tyd toe jy daardie seuns gewen het, was toe jy die koek so vinnig geëet het, en dit was regtig nie 'n mooi ding om te doen nie, weet jy?"
Albert het vreeslik gebloos, en vir 'n rukkie het Moeder niks gesê ne.
"Weet jy, Albert, niemand kan altyd die beste in alles wees nie. Jy kan nie, en ek kan nie. En dit sou ook nie goed wees vir ons nie. As ons altyd eerste wil wees in alles, sal ons nooit gelukkig wees nie, want daar sal altyd ander mense wees wat ons sal wen.
Ons mag natuurlik die beste wees in sommige dinge, maar ons moet gewillig wees om toe te gee dat ander in sommige dinge beter as ons is. Sien jy wat ek bedoel?"
Albert het iets gesê, maar Moeder kon nie mooi hoor of dit ja of nee was nie; maar van daardie dag af het Albert nie meer so baie geroem nie.