Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die Seun met die lig
Van seuns gepraat wat verdwyn - hier is 'n storie omtrent 'n seun wat skielik verskyn en weer skielik verdwyn het en tog sal ek hom en sy vriendelike daad nooit vergeet nie.
Dit was 'n vreeslike aand! Ek was alleen in my motor op weg uit Londen, toe ek skielik in 'n dik bank misgery het. Die mis was so dik dat ek niks voor my kon sien nie, nie eens 'n huis of 'n boom of 'n witstreep of die kant van die pad nie. Die kopligte van die motor het dinge net erger gemaak, want die digte mis het die lig teruggewerp.
Ek het probeer om verder te ry, maar net 'n paar oomblikke later het die wiele teen iets gestamp en ek het gedink dat ek oor iets gery het. Ek het die motor tot stilstand gebring en gaan ondersoek instel in die duisternis en toe ek ontdek dat al vier wiele teen die randsteen van die sypaadjie uitgeklim het!
Ek was vreeslik bly dat ek nie 'n persoon omgery het nie en toe moes ek probeer om weer terug te kom in die pad. Ek het die motor stadig laat terugloop en toe het ek weer daardie stampe voel, het ek geweet dat ek nie meer op die sypaadjie was nie.
Ek het naderhand ook nie meer geweet in watter rigting my motor staan nie, weer terug stad toe of in die pad huis toe. Daar was niks om my te help nie en ek moes maar hoop vir die beste.
"Wel," het ek by myself gedink, "dit lyk of ek die hele nag hier sal moet bly, of ten minste totdat die mis effens opklaar en dit mag eers ure later wees." En - laat ek dit sê - dis glad nie 'n aangename gevoel om in so 'n digte mis op die hoofweg te wees nie. 'n Mens weet nooit wanneer 'n ander motor teen jou mag bots nie.
Op daardie oomblik het daar 'n snaakse ding gebeur. Deur die venster aan my sy het die gesig van 'n seuntjie in geloer.
"Kan ek u help?" het hy hoflik gevra.