My Volk+ (Die Trekpad van 'n Nasie) ADULT PHARMA 
Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika

Adult Pharma

MALE (and FEMALE) LIBIDO BOOSTER
We offer fast, secure and reliable ordering with your complete privacy. We will go the extra mile for each and every customer. Money Back Guarantee. Express Delivery. Safe Payments.
Libido Booster Pretoria

Die Republiek van Suid-Afrika, 1961-1984: Weerstand, uitdaging en verandering

Deel VII

INLEIDING

Die republikeinse grondwet van 1961, wat in hoofsaak op die |Westminster-regeringstelsel van die Unie gebaseer was, het 22 jaar lank van krag gebly. Suid-Afrika se uittrede uit die Britse Statebond het 'n uitvloei van kapitaal en die begin van 'n nuwe fase van internasionale isolasie tot gevolg gehad, maar die ekonomiese welvaart is gou herstel. Die regering het steeds groot steun van die Blanke kiesers geniet en voortgegaan met die deurvoering van sy apartheidsbeleid. Die magte van Swart weerstand is onderdruk of gedwing om ondergronds te gaan of die land te verlaat.

Pragmatisme van die kant van die regering en beroepe op buitelandse détente het teen die middel van die sewentigerjare begin afneem omdat die Republiek 'n kritieke fase binnegegaan het. Ná die ontstaan van onafhanklike Marxistiese Swart state in die subkontinent het Suid-Afrikaanse gewapende magte in militêre operasies en invalle buite die grense van die Republiek betrokke geraak. Binnelands het 'n toename in die gedwonge verwydering van Swartmense uit sekere gebiede tot botsings gelei, en gewelddadige rasse-onluste het opgevlam.

'n Nuwe bewind het 'n beter bedeling vir stedelike Swart werkers aanvaar, asook die afskaffing van sekere diskriminerende maatreëls. Instromingsbeheer, aparte woongebiede en onderwysstelsels is nie oorboord gegooi nie, maar as gevolg van die regering se nuwe benadering en uitdruklike verbintenis tot die aftakeling van apartheid het hy sy steun na regs verloor. 'n Mate van ontspanning is met buurstate bereik, maar die bedreiging van buite is geensins afgeweer nie.

Teen die einde van die sewentigerjare het die myn-, landbou- en nywerheidsektore 'n oplewing beleef, maar teen 1984 was die land vanweë  droogte, politieke onsekerheid, disinvestering, 'n dalende goudprys en 'n verswakkende rad in die greep van 'n resessie.

Die bedeling van 1983 was die ingrypendste grondwetlike verandering sedert 1910, maar dit het die Swartmense niks gebied nie. In 1984 was die grootste uitdaging vir die Republiek van Suid-Afrika om, te midde van groeiende internasionale druk, 'n stelsel te ontwerp wat die aspirasies van die meerderheid van sy bevolking sou bevredig.

--- --- ---

Hoofstuk 19

Suid-Afrika en Afrika, 1961-1984: H.J. van Aswegen

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die golf van Afrika-nasionalisme onkeerbaar oor Afrika begin spoel. Die Europese moondhede met groot gevestigde belange in Afrika moes inderhaas hul koloniale beleid aanpas by toenemende eise om onafhanklikheid. Teen 1961 was die dekolonisasieproses reeds in volle gang en een kolonie in Afrika na die ander het as onafhanklike staat sy plek in die internasionale gemeenskap ingeneem.

Die grondlegging van 'n Afrikabeleid

In Suid-Afrika het republiekwording in 1961 geen ingrypende veranderinge in die binnelandse politieke situasie meegebring nie. Ook Suid-Afrika se houding teenoor Afrika is nie onmiddellik daardeur geraak nie. Gebeure in Afrika sou die regering egter ná 1961 tot 'n herwaardering van Suid-Afrika se posisie in Afrika en sy verhouding met die onderskeie onafhanklike state dwing.

Baie jare lank het Afrika 'n uiters beperkte rol in Suid-Afrika se buitelandse beleid gespeel. Kontak met Afrika het in  hoofsaak deur die koloniale moondhede soos Brittanje, Frankryk en andere geskied. Ná die bewindsoorname deur die Nasionale Party in 1948 was die konsolidering van dié party se gesag binnelands sy eerste prioriteit. Eers tydens die bewind van J.G. Strijdom (1954-1958), bygestaan deur Eric Louw as sy minister van Buitelandse Sake, is die grondslae van 'n Afrikabeleid tentatief gelê.

Die resultate van dié beleid was skraal. Die Unie van Suid-Afrika het as Blanke Afrikastaat buite die groeiende kring van onafhanklike Afrikastate gebly, en vanuit dié kring het die kritiek op Suid-Afrika se apartheidsbeleid al hoe heftiger geword. Suid-Afrika is saam met die ander koloniale moondhede, veral Portugal, as rassiste, imperialiste en kolonialiste uitgekryt.

Die eerste versigtige pogings van Suid-Afrika om nouer skakeling met onafhanklike Afrika te bewerkstellig, is deur dr. H.F. Verwoerd aangewend. Dié vriendskapsbetuigings het egter nie veel indruk op Afrika of die toenemend vyandige internasionale gemeenskap gemaak nie. Die grootste enkele struikelblok in die pad van normale betrekkinge was Suid-Afrika se interne beleidsrigtings, en die onafhanklike Afrikastate het toenemend hul lidmaatskap van en invloed in internasionale organisasies soos die Verenigde Volke-Organisasie (VVO) gebruik om die wêreldmening teen Suid-Afrika te keer.

Internasionale isolasie is in 1961 'n stap verder gevoer toe Verwoerd, onder druk van die Afro-Asiatiese lidlande, besluit het om Suid-Afrika se lidmaatskap van die Statebond te laat verval. Hierdeur is formele kontak verbreek met verskeie Afrikastate en invloedryke Statebondslande en -organisasies deur wie Suid-Afrika 'n rol in Afrika sou kon gespeel het. Verskeie Afrikastate het ná Sharpeville hul handelsbande met Suid-Afrika verbreek, en in 1962 is Suid-Afrika uit die Kommissie vir Tegniese Samewerking in Afrika Suid van die Sahara geskors. In Afrika het slegs Portugal, wat ondanks toenemende wêrelddruk steeds bly vasklou het aan sy Afrika-kolonies, nog bande van vriendskap met Suid-Afrika behou.

Druk van Afrika het in 1963 toegeneem toe die Organisasie vir Afrika-Eenheid (OAE) gestig is. Reeds by die stigtingskonferensie van die OAE in Addis Abeba het dié organisasie hom skerp teen apartheid en rassediskriminasie in Suid-Afrika uitgespreek.

In die Verwoerd-era het Suid-Afrika geen formele diplomatieke bande met Afrikastate gesluit nie. In 1962 het sir Abubakar Tafawa Balewa, die eerste minister van Nigerië, en in 1964 Kenneth Kaunda, die president van Zambië, hulle openlik bereid verklaar om diplomatieke bande met Suid-Afrika aan te knoop, maar dié toenadering is taamlik kil van die hand gewys. Dit was gulde geleenthede vir Suid-Afrika om sy vriendskap teenoor Swart Afrika te toon. Uitnodigings wat van tyd tot tyd aan Swart leiers gerig is om Suid-Afrika te besoek, het ook niks opgelewer nie.

Met die onafhanklikwording van die drie Britse protektorate aangrensend aan Suid-Afrika - Lesotho (1966), Botswana (1966) en Swaziland (1968) - het Suid-Afrika hulle onmiddellik as volle onafhanklike state erken en hom bereid verklaar om goeie buurbetrekkinge te handhaaf. In September 1966 het Verwoerd die eerste minister van Lesotho, Leabua Jonathan, vir samesprekings na Pretoria genooi. 'n Paar dae later is Verwoerd om die lewe gebring en geen volledige verklaring oor die samesprekings is ooit uitgereik nie. Dit is nogtans duidelik dat 'n grondslag vir samewerking gelê is op die basis van die erkenning van die onafhanklikheid en soewereiniteit van die state, nie-inmenging in mekaar se huishoudelike sake en vreedsame naasbestaan. Jonathan het egter geen geheim gemaak van sy afkeer van apartheid nie en homself verbind tot vreedsame aftakeling daarvan.

Die samesprekings het ook nie tot die aanknoop van diplomatieke betrekkinge gelei nie, hoewel Lesotho ten gunste daarvan was. Suid-Afrika se ontwykende houding moet gesien word in die lig van Verwoerd se idee van kontak met Afrika op 'n losser en meer ad hoc-basis deur besoeke oor en weer van ministers en selfs telefoniese kontak. Vir Lesotho was dit onaanvaarbaar, veral omdat Suid-Afrika net die volgende jaar met Malawi diplomatieke bande gesmee het. Dié houding het onvermydelik tot agterdog oor Suid-Afrika se werklike bedoelinge gelei.

Ander gebeure in Suider-Afrika in dié tyd het ook bepalend ingewerk op die verhoudinge tussen Afrika en Suid-Afrika. Die eerste was die eensydige onafhanklikheidsverklaring (UDI) van Rhodesië op 11 November 1965. Die afwerping van die Britse gesag deur die Blanke minderheidsregering in dié Britse kolonie het sterk emosies in Swart Afrika en elders ontketen. In Suid-Afrika is die stap in die algemeen met toejuiging ontvang en beskou as 'n versterking van Blanke gesag op 'n vasteland waar die Blanke vinnig besig was om verdring te word.

Dialoog en détente, 1966-1978

Ná 1966 is die Republiek se Afrikabeleid dinamies uitgebou deur premier B.J. Vorster, bygestaan deur Hilgard Muller (minister van Buitelandse Sake), Brand Fourie (sekretaris van Buitelandse Sake) en andere. Suid-Afrika het uitwaarts beweeg en met verskeie onafhanklike Afrikastate dialoog gevoer. Dit het die grondslag gelê vir 'n fase van ontspanningspolitiek in die verhoudinge tussen Suid-Afrika en Afrika en selfs tussen Suid-Afrika en sy Westerse bondgenote.

Een van die belangrikste faktore wat tot dié dinamieser Afrikabeleid bygedra het, was die toenemende internasionale druk op en isolasie van Suid-Afrika. Teen 1966 was bykans veertig Afrikastate reeds onafhanklik, en as invloedryke drukgroep kon hulle nie bloot geïgnoreer word nie. Die aandrang om Suid-Afrika uit die VVO en ander internasionale liggame geskors te kry op grond van die beleid van apartheid, wat as 'n "misdaad teen menswaardigheid" veroordeel is, het al hoe sterker geword. Suid-Afrika het al hoe afhankliker geword van die steun van die VSA, Brittanje en Frankryk in die Veiligheidsraad van die VVO en besef dat goeie betrekkinge met Afrika 'n voorwaarde vir aanvaarding in die internasionale wêreld geword het. In 1968 het Muller dit duidelik uitgespel dat "ons eenvoudig moet aanvaar dat ons betrekkinge met die res van die wêreld grootliks afhang van ons betrekkinge met die state van Afrika".

Nou verbonde hieraan was 'n groeiende bewussyn in Suid-Afrika dat hy 'n bepaalde verantwoordelikheid teenoor onafhanklike Afrika het. Suid-Afrika was by uitstek in 'n gunstige ekonomiese, tegnologiese en geografiese posisie om bystand aan Afrika te gee, maar kon ook heelwat baat deur sy kontakte met Afrika. Nuwe markte vir Suid-Afrikaanse goedere kon geskep word wat tot groot voordeel vir die vinnig ontwikkelende Suid-Afrikaanse ekonomie kon wees. Vriendskap met Afrika sou ook buitelandse beleggings in Suid-Afrika aanmoedig.

In die loop van die sestigerjare het Suid-Afrika ook veel sterker bewus geword van die militêre en strategiese implikasies van vyandige buurstate. Die aandrag van die OAE om "rassisme" in Suid-Afrika met militêre geweld omver te gooi, en die begin van "terroriste-aanslae" op Angola en Mosambiek, het 'n vyandige aanslag op die Republiek uit die noorde 'n wesenlike gevaar gemaak wat nog groter geword het in die lig van toenemende Chinese en Russiese optrede in Afrika. Die Kommunistiese lande het die bevrydingsbewegings in Afrika gesteun en toenemend van wapens voorsien. Goeie betrekkinge met Afrika, ekonomiese hulp, politieke stabiliteit, rus en vrede was die beste teenvoeter teen Kommunistiese indringing.

Die OAE kon nie eenheid of eensgesindheid onder die Afrikastate skep nie. Daar was diepgaande verskille tussen die radikaler state (meestal onder Kommunistiese invloed) en die gematigdes. Suid-Afrika het hom op laasgenoemde groep toegespits, en veral Lesotho en Malawi het aanvanklik baie aandag gekry.

In Januarie 1967 het Vorster die premier van Lesotho, Leabua Jonathan, op 'n amptelike staatsbesoek ontvang. Sake van wedersydse belang is bespreek, maar geen formele diplomatieke bande is gesmee nie. Verwoerd het reeds langs diplomatieke kanale kontak gemaak met dr. Hastings Banda van Malawi, wat in 1964 voor die OAE standpunt ten gunste van betrekkinge met Suid-Afrika ingeneem het. As pragmatis het Banda besef dat goeie handelsbetrekkinge met Suid-Afrika wederkerige voordele inhou en dat die duisende Malawiese mynwerkers in Suid-Afrika broodnodige valuta vir sy staat verdien.

In 1967 het Suid-Afrika en Malawi formele diplomatieke bande gesmee. Dit is opgevolg deur 'n amptelike besoek aan Malawi deur Muller in 1968 en deur Vorster in Mei 1970. Tydens 'n staatsbanket het Banda Suid-Afrika bedank vir sy tegniese en ekonomiese hulp - veral met die bou van die nuwe hoofstad van Malawi, Lilongwe. Banda het Suid-Afrika in Augustus 1971 besoek. Hy is met volle eerbewys ontvang en oral met gejuig en entoesiasme begroet.

Suid-Afrika se Afrika-diplomasie was nie net tot Lesotho en Malawi beperk nie. Reeds in 1968 het Muller bekend gemaak dat Suid-Afrika gereelde kontak met verskeie Afrikastate opgebou het en dat gemiddeld drie afgevaardigdes van Afrikastate per maand die Republiek die jaar tevore besoek het. Baie van hulle het hier aangedoen op pad elders heen en ontmoetings en samesprekings het dikwels onopvallend op lughawens plaasgevind.

Nieteenstaande dié positiewe ontwikkelinge het die algemene uitgesproke houding van Afrika in die jare van dialoog oorwegend vyandig gebly. In die OAE is Malawi heftig gekritiseer, veral deur Zambië, en daar is selfs op Malawi se skorsing uit dié liggaam aangedring. Enkele Afrikastate, waaronder verskeie voormalige Franse kolonies, was meer simpatiekgesind teenoor Malawi. Afrika was in twee kampe verdeel oor dialoog met Suid-Afrika.

Die OAE het ook ander frustrasies beleef. Hul veldtog om Suid-Afrika internasionaal te isoleer, het misluk, hoofsaaklik omdat die groot Westerse moondhede (die VSA, Frankryk en Brittanje) hulle nie laat bind het deur Afro-Asiaties-geïnspireerde VVO-besluite oor sanksies teen Suid-Afrika nie.

'n Gebeurtenis van kardinale belang in Afrika se houding teenoor Suid-Afrika was die aanvaarding van die sg. Lusaka-manifes op 16 April 1969 deur veertien staatshoofde van Oos- en Sentraal-Afrika, onder leiding van Julius Nyerere en Kenneth Kaunda. In die 24-punt-manifes het die staatshoofde hul standpunt oor die Blanke koloniale regerings in die streek onomwonde gestel. Suid-Afrika is spesifiek in sekere artikels vermeld.

--- --- ---

Die Lusaka-manifes (uittreksels)

6. In Mosambiek, Angola, Rhodesië en die Republiek van Suid-Afrika is daar 'n openlike en volgehoue miskenning van die beginsels van menslike gelykheid en nasionale selfbeskikking. Die gemeenskappe in die gebiede word doelbewus georganiseer om die beginsels te vernietig.

7. Ons is nie vyandig teenoor die regerings omdat hulle deur Blankes beheer word nie. Ons is vyandig omdat daar minderheidsregerings aan die bewind is, gegrond op die leer van ongelykheid.

8. Ons standpunt oor Suider-Afrika is 'n verwerping van rassisme en nie 'n pleidooi vir omgekeerde rasse-oorheersing nie. Ons glo dat alle mense wat hul tuiste in Suider-Afrika gemaak het, Afrikane is, ongeag hul velkleur, en ons sal 'n rassistiese meerderheidsregering met 'n beleid van doelgerigte diskriminasie op grond van ras teenstaan.

12. Met betrekking tot die strewe na bevryding kan ons nie ons standpunt prysgee of wysig nie. Ons het altyd verkies en verkies steeds om bevryding sonder fisieke geweld te verkry. Ons verkies om te onderhandel eerder as om te vernietig, te praat eerder as om dood te maak. Maar aangesien vreedsame vooruitgang deur die regerings in Suider-Afrika verhinder word, het ons geen ander keuse as om aan die inwoners van die gebiede al ons steun in hul stryd teen die verdrukkers te gee nie.

--- --- ---

Vorster het voortgegaan om die goeie betrekkinge met sy buurstate uit te bou deur kontak met Afrikastate verder noord, en enkele gematigde leiers, soos pres. Félix Houphouet-Boigny van die Ivoorkus, het 'n realistieser benadering tot Suid-Afrika bepleit. Hierin is hy deur verskeie state gesteun. Uit ander oorde is hy egter gekritiseer, en tydens die OAE-spitsberaad in 1971 is die sg. "Deklarasie oor Dialoog" aanvaar, wat dialoog met Suid-Afrika verwerp het.

Teen 1971 was dit dus duidelik dat Suid-Afrika se dialoogbeleid beperkte sukses behaal het. Van die enkele state wat positief daarop gereageer het, was die meeste nie bereid om openlik kontak met Suid-Afrika te maak nie - veral nie deur dieaangaan van formele diplomatieke betrekkinge nie.

Suid-Afrika het ná die UDI nouer betrokke geraak by verwikkelinge in Rhodesië. Die ekonomiese steun wat Suid-Afrika en Portugal aan Rhodesië verleen het, het hom gehelp om die wêrelddruk en handelsboikot onmiddellik ná UDI te oorleef. Die gevaar wat 'n eskalerende konflik in Rhodesië vir Suid-Afrika ingehou het, het ook tot verdere hulpverlening gelei. In Augustus 1967 het die Zimbabwe African People's Union (ZAPU) en die verbode ANC 'n samewerkingsooreenkoms gesluit met die oog op 'n gewapende stryd teen Suid-Afrika en Rhodesië. Vorster het kort daarna met die Rhodesiese regering ooreengekom om lede van die Suid-Afrikaanse Polisie na Rhodesië te stuur om met die stryd behulpsaam te wees. Suid-Afrika se doelwit was kennelik om die Blanke regering in Rhodesië te steun sodat dit met Suidwes-Afrika, Angola en Mosambiek 'n stewige buffer noord van Suid-Afrika teen 'n vyandelike Swart Afrika sou vorm.

--- --- ---

Die Suidwes-Afrika-kwessie, 1966-1973

'n Broeiende internasionale dispuut oor Suid-Afrika se beheer oor Suidwes-Afrika het reeds in 1960 daarop uitgelooop dat Liberië en Ethiopië in die Wêreldhof teen dié beheer oor die voormalige Duitse kolonie 'n saak aanhangig gemaak het. Op 16 Julie 1966 het die Wêreldhof die saak met agt stemme teen sewe ten gunste van Suid-Afrika beslis. Kort daarna egter het die Algemene Vergadering van die VVO besluit om Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika op te sê en die gebied onder VVO-beheer te plaas. Die Organisasie vir Afrika-Eenheid het die besluit op sy ministersraadsvergadering van Oktober 1966 ten volle gesteun. Internasionale dkruk, onder aansporing van Swart Afrika, was teen Suid-Afrika aan die oplaai.

Glad nie gediend met Suid-Afrika se voortgesette beheer oor Suidwes-Afrika nie, het die VVO in 1967 'n mislukte poging aangewend om die administrasie van die gebied oor te neem. 'n VVO-besluit dat Suid-Afrika op 4 Oktober 1969 sy beheer oor Suidwes-Afrika moes beëindig, is ook deur Suid-Afrika geïgnoreer en dié liggaam was magteloos om uitvoering daaraan te gee. Twee jaar later het die Wêreldhof, op versoek van die Veiligheidsraad van die VVO, 'n adviserende mening gegee waarkragtens Suid-Afrika se voortgesette teenwoordigheid in Suidwes-Afrika onwettig verklaar is en Suid-Afrika verplig sou wees om sy beheer onmiddellik te beëindig. Deur diémening het die Suid-Afrikaanse regering hom hoegenaamd nie laat bind nie.

Pogings in 1972 en 1973 deur die sekretaris-generaal van die VVO, Kurt Waldheim, om met Suid-Afrika oor 'n oplossing vir die geskil te onderhandel, het ook misluk. In 1973 het die VVO herbevestig dat hy Suid-Afrika se teenwoordigheid in Suidwes-Afrika as onwettig beskou en is die South West African People's Organization (Swapo) as die enigste wettige verteenwoordiger van die bevolking van die gebied erken. Swapo het sedert 1965 met 'n gewapende stryd in Suidwes-Afrika begin en teen 1973 het Suid-Afrika reeds 'n aansienlike militêre en polisiemag in die gebied gehad om die vyand teen te staan.

--- --- ---

Rhodesië se UDI het nie net die politieke verskille nie, maar ook en veral die ekonomiese interafhanklikheid tussen die state en kolonies van Suider-Afrika beklemtoon. Die sluiting van die grens tussen Rhodesië en Zambië het albei state nog meer op Suid-Afrika aangewese gemaak vir hul in- en uitvoer. Zambië was sterk teen die Blanke "minderheidsregerings" in Suid-Afrika en Rhodesië gekant en Kaunda het sy grondgebied ter beskikking van organisasies gestel wat die regerings van Rhodesië, Suidwes-Afrika en Mosambiek met geweld wou omverwerp.

Nieteenstaande dié oënskynlik militante houding was Kaunda een van die meer gematigde leiers van Swart Afrika, en sy talryke probleme tuis het hom die belangrikheid van nouer bande met Suid-Afrika laat besef. Vanaf 1968 het hy en Vorster in 'n kort briefwisseling betrokke geraak en dit is opgevolg deur geheime samesprekings tussen verteenwoordigers van die twee state. Dié samesprekings het tot niks konkreets gelei nie, maar wel goeie gesindhede geskep. Kaunda se skerp aanvalle op Suid-Afrika se interne beleid, sy veroordeling van Westerse wapenverkope aan Suid-Afrika en die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse troepe in Caprivi en Rhodesië het hom egter die gramskap van Vorster op die hals gehaal. In April 1971 het Vorster dit wêreldkundig gemaak dat Zambië, wat so krities teenoor Suid-Afrika was, self in die geheim met die Republiek kontak gemaak het en dit het verhoudinge tussen die twee state voorlopig vertroebel.

In die jare van dialoog het die verhoudinge tussen Suid-Afrika en Lesotho aansienlik verswak. Teen 1970 het Jonathan die idee van dialoog nog ten volle onderskryf en Lesotho as 'n brug tussen Suid-Afrika en Swart Afrika beskikbaar gestel. Suid-Afrika het dié aanbod nie aanvaar nie en sy diplomasie op "belangriker" state soos die Ivoorkus toegespits. Uitgesluit uit die dialoogproses het Lesotho se standpunt teen Suid-Afrika killer geraak. Jonathan het apartheid al hoe sterker gekritiseer en sy volle steun aan die bevrydingstryd in Suider-Afrika toegesê.

Die staatsgreep in Portugal in April 1974 het die dekolonisasie van die Portugese koloniale ryk in Afrika ingelui, en teen die einde van 1975 was Angola en Mosambiek reeds onafhanklik. Vir Suid-Afrika het die gebeure besondere implikasies ingehou. Nie alleen is 'n bevriende Westerse moondheid, Portugal, uit Afrika gedryf nie, maar die Blankbeheerde bufferstroom aan die noordgrens van Suid-Afrika was verbreek. Twee Marxisties-georiënteerde Swart state het Portugal se plek ingeneem.

Die Suid-Afrikaanse regering het dadelik op dié uitdaging gereageer. Vorster het op 23 Oktober 1974 voor die Senaat dit duidelik gestel dat Suid-Afrika verbind was tot vrede, voorspoed en ontwikkeling in Suider-Afrika en herbeklemtoon dat die beginsels van soewereniteit en nie-inmenging in die huishoudelike sake van ander state altyd gehandhaaf sou word. Suid-Afrika was bereid om 'n nie-aanvalsverdrag met enige Afrikastaat aan te gaan om te toon dat hy nie militante oogmerke in Afrika het nie.

'n Dag later het Suid-Afrika se verteenwoordiger in die VVO, Pik Botha, die beleid van afsonderlike ontwikkeling openhartig bespreek en erken dat die Blanke regering ook foute maak. Botha het dit duidelik gestel dat sy regering nie diskriminasie op grond van ras of kleur goedkeur n ie en dat 'n proses van verandering reeds aan die gang was wat ingrypende gevolge vir die toekoms inhou.

Dié beleidsverklarings dui 'n nuwe fase in Vorster se Afrikapolitiek aan, nl. vredes- of ontspanningspolitiek (détente) met die klem op vrede, stabiliteit en samewerking in Afrika. Op 26 Oktober 1974 het Kaunda na dié uitsprake verwys verwys as "die stem van redelikheid waarop Afrika en die res van die wêreld gewag het".

Vorster het daartoe oorgegaan om sy détente-beleid in praktiese politiek te omskep. In September 1974 het hy op 'n kort besoek na die Ivoorkus vertrek, waar hy samesprekings met Houphouet-Boigny en Leopold Senghor, die president van Senegal, gevoer het. Op pad terug is ook Gaboen, Botswana en Rhodesië aangedoen. Dit was die begin van 'n periode van intensiewe kontak en gesprek met Afrikaleiers wat Vorster, Muller en ander Suid-Afrikaanse politici en amptenare die jaar daarna na verskeie Afrikastate geneem het. In September 1975 het die minister van inligting van die Ivoorkus, L. Dona-Fologa, Suid-Afrika besoek.

Ná die onafhanklikwording van Mosambiek op 25 Junie 1975 het Vorster die hand van vriendskap na Mosambiek uitgesteek. Die aanvanklike reaksie was bemoedigend maar vaag. Pres. Samora Machel was 'n oortuigde Marxis en het die revolusionêre stryd in Suider-Afrika openlik gesteun. Vryheid ná jare van bittere stryd sou dié staat nie sonder meer vriendskaplik ingestel maak teenoor die Blanke regering van Suid-Afrika nie.

Vorster se détentepoging het 'n tyd lank groot verwagtinge in Suid-Afrika gaande gemaak, maar in Afrikageledere was daar diepgaande woelinge en verskille, soos tydens die OAE-ministersvergadering in Dar-es-Salaam in April 1975 duidelik geblyk het. Zambië en die Ivoorkus is skerp gekritiseer deur die radikaler state oor hul samewerking met Suid-Afrika. In die uiteindelike Dar-es-Salaam-deklarasie is Suid-Afrika deur alle betrokkenes weer eens veroordeel weens sy apartheidsbeleid.

Dié verklaring vorm saam met die Lusaka-manifes die kern van die beleid van Afrika jeens Suid-Afrika. Met uitsondering van enkele state wat bereid was om openlik - en enkeles in die geheim - met Suid-Afrika betrekkinge te onderhou, was daar in die algemeen geen versoening tussen Afrika en die Republiek moontlik nie.

'n Verswarende faktor was Suid-Afrika se militêre ingryping in Angola in 1975 en 1976. Die burgeroorlog in Angola, met Kubaanse steun aan die Marxisties-gesinde MPLA, het 'n bedreiging vir Suid-Afrika, Zambië en Zaïre ingehou en op versoek van lg. twee state en met aanvanklike medewerking van die VSA het 'n Suid-Afrikaanse troepemag Angola in 1975 binnegeval. Enkele maande later, ná verskeie militêre suksesse, is die mag onttrek.

Die inval het wêreldwye reperkussies gehad. Tydens 'n spesiale OAE-spitsberaad in Addis Abeba in Januarie 1976 het die leiers van Afrika hul diepe besorgdheid uitgespreek oor die skending van Angola se soewereiniteit en gebiedsintegriteit deur Suid-Afrika en andere. Die radikaler Afrikastate het Suid-Afrika skerp veroordeel. Op aandrang van Kenia het die Veiligheidsraad van die VVO in Maart 1976 vergader en ook die Suid-Afrikaanse optrede veroordeel.

Die gemoedere in Afrika is ook teen Suid-Afrika opgesweep deur die opstande in Soweto en ander Swart stedelike woonbuurte in 1976. Die OAE het Suid-Afrika se "onderdrukking" van die verset ten sterkste veroordeel en die vernaamste Westerse moondhede se handelsbande met Suid-Afrika opnuut aangeval. Daar was wêreldwye steun vir die standpunt van die OAE en in November 1977 het die Veiligheidsraad van die VVO 'n verpligte wapenverbod teen Suid-Afrika aanvaar om sy verdrukking van die Swart bevolking en militêre aggressie teen sy buurstate teen te werk. Internasionale druk en isolasie was aan die toeneem.

In die jare van détente was Suid-Afrika se aandag só sterk toegespits op die Rhodesiese vraagstuk en die skakeling met sekere belangrike Afrikastate dat sy onmiddellike buurstate, Botswana, Lesotho en Swaziland, op die agtergrond geskuif is. Swaziland, bewus van sy ekonomiese afhanklikheid van Suid-Afrika, het deurentyd goeie betrekkinge met sy magtiger buurman behou. Swaziland het hom duidelik uitgespreek teen die huisvesting van ANC-terroriste, hoewel koning Sobhuza II en sy regering krities was teenoor Suid-Afrika se interne beleidsrigtings.

Botswana was meer uitgesproke krities. As een van die vyf sg. frontliniestate het hy 'n belangrike rol in Suider-Afrika gespeel en sy president, sir Seretse Khama, was nie bereid om bloot vir eie voordeel met Suid-afrika saam te werk nie. Khama het Suid-Afrika skerp gekritiseer oor sy "verdrukking" van die Swartes en het Botswana se deur oopgehou vir vlugtelinge uit Suid-Afrika, wat hy as "slagoffers van rassisme en verdrukking"bestempel het. Botswana het ook voortgesette steun aan Swapo beloof en Suid-Afrika gekritiseer vir sy militêre optrede oor die Angolese en Zambiese grens heen. In 1977 het Botswana ook diplomatieke bande met Kuba gesmee.

Die verhouding tussen Suid-Afrika en Lesotho het in dié jare aansienlik verswak. Ná lang vertragings het Vorster en Jonathan in 1974 byeengekom om die knelpunte tussen die twee state te bespreek. Die gesprek het nie tot verbeterde verhoudings gelei nie en Lesotho het hom in die jare daarna openlik teen kontak met Suid-Afrika uitgespreek. Met die onafhanklikwording van Transkei in 1976 het verskeie grensinsidente die spanning verder verhoog. In 1977 het Lesotho 'n skerp aanval op Suid-Afrika gemaak en geweld as die enigste oplossing vir die vraagstukke in die Republiek voorgehou. Jonathan het Lesotho se aanspraak op die sg. verowerde grondgebied - 'n groot deel van die Oos-Vrystaat - herhaal, maar dit is kategories deur Suid-Afrika verwerp.

--- --- ---

Suid-Afrika en Rhodesië, 1974-1975

Een van Vorster se vernaamste doelstellinge was om te help om 'n aanvaarbare en vreedsame oplossing vir die sg. Rhodesiese vraagstuk te vind. Die bosoorlog in dié staat het in felheid toegeneem en Afrika was sterk gekant teen Ian Smith se "onwettige" regering. Suid-Afrika was in die dilemma dat hy die Smith-bewind waan die lewe help hou het en daardeur aan geloofwaardigheid in die oë van Afrikaleiers ingeboet het. Die eskalerende konflik het ook gevaar vir Suid-Afrika ingehou. Vorster was verplig om Suid-Afrika se steun aan Rhodesië te heroorweeg, en sekere Afrikaleier, o .a. Kaunda, het hom beskou as die een invloedryke staatsman wat Ian Smith tot ander insigte kon bring.

Vorster het die vredesinisiatief optwee maniere aangepak. Eerstens het hy Suid-Afrika se polisiemag uit Rhodesië onttrek en tweedens het hy probeer om Smith oor te haal om met die nasionaliste-leiers te onderhandel. Hy het dit egter duidelik gestel dat hy Smith nie sou dwing om 'n Swart meerderheidsregering te aanvaar nie. Sy pogings i s gesteun deur Zambië, Tanzanië, Mosambiek en Botswana - die sg. frontliniestate - wat die Swart leiers aan die konferensietafel moes besorg. Tussen September 1974 en Augustus 1975 is intensiewe onderhandelinge gevoer wat uitgeloop het op die sg. brugberaad, toe Smith ensekere Swart leiers op 25 Augustus 1975 in 'n Suid-Afrikaanse treinwa op die brug by die Victoriaval ontmoet  het. Tydens die beraad het Vorster en Kaunda ook samesprekings gevoer oor sake van belang vir Suider-Afrika. Hulle het ook hul bes gedoen om die Rhodesië-samesprekings te laat slaag.

Nieteenstaande dié pogings het die brugberaad misluk, maar Vorster het dit nie as finaal beskou nie. Toe die VSA deur sy minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, nuwe vredesinisiatiewe loods, het Vorster 'n belangrike rol gespeel om Smith oor te haal om die Kissinger-voorstelle - wat op Swart meerderheidsregering neergekom het - te aanvaar. Ook dié inisiatiewe het misluk, en in 1977 en 1978 het Vorster steeds die rol van bemiddelaar gespeel in die soeke na 'n oplossing wat alle partye sou bevredig. Omstandighede buite sy beheer het die pogings laat faal.

--- --- ---

Suidwes-Afrika/Namibië, 1974-1982

Te midde van Vorster se détentepogings het Suid-Afrika se teenworodigheid in Suidwes-Afrika 'n al hoe groeter geskilpunt ;in die Afrika- en wêreldpolitiek geword. In 1974 het die frontliniestate met Suid-Afrika begin onderhandel oor die oordrag van die gesag in Suidwes-Afrika aan die inwoners van die gebied met behulp van die VVO. In Desember 1974 het die Veiligheidsraad 'n resolusie aanvaar wat Suid-Afrika ses maande gegun het om dié gesag oor te dra, maar die Republiek was nie daartoe bereid nie. In 1975 het Suid-Afrika dieTurnhalle-konferensie belê om die grondwet vir Suidwes-Afrika op te stel. Dié grondwet is in 1977 deur die Blankes van Suidwes-Afrika in 'n referendum aanvaar. Vir die VVO en Swapo was dit egter onaanvaarbaar.

Weens internasionale teenkanting is die Turnhalle-grondwet nooit in werking gestel nie. Die VVO het deur resolusie 385 van 30 Januarie 1976 sekere riglyne neergelê vir 'n internasionaal aanvaarbare skikking in Suidwes-Afrika, o.m. die hou van vrye en regverdige verkiesings onder toesig van die VVO. Ná maandelange onderhandelinge tussen Suid-Afrika en die vyf Westerse lede van die Veiligheidsraad en die eskalasie van die oorlog teen Swapo, het Suid-Afrika en Swapo die skikkingsvoorstelle aanvaar. Onderlinge verskille het die poging egter laat misluk. Suid-Afrika het voortgegaan om op eie inisiatief 'n verkiesing in Suidwes-Afrika te reël, terwyl die VVO deur die aanvaarding van resolusie 435 in September 1978 weer eens vir verkiesings onder sy toesig voorsiening gemaak het.

In dié stadium was dit duidelik dat die uiteenlopende belange van Suid-Afrika, Swapo en die VVO 'n skikking uiters moeilik sou maak. Suid-Afrika, gesteun deur die VSA, dring aan op die onttrekking van die Kubane uit Angola as voorwaarde vir 'n skietstaking en die toepassing van resolusie 435. Angola beskou dit as sy interne saak wat nie onderhandelbaar is nie. Samesprekings tussen Suid-Afrika en Angola op Kaap Verde en die sekretaris-generaal van die VVO, J. Pérez de Cuelar, in 1983 het ook nog geen oplossing gebring nie.

--- --- ---

Die "totale aanslag" en omvattende strategieë

Vorster se détentepoging het grootliks misluk. Daarby het die Inligtingskandaal teen die einde van sy bewind baie daartoe bygedra om Suid-Afrika se beeld in die buitewêreld verder te verswak.

Die nuwe eerste minister, P.W. Botha,het sy amp in moeilike omstandighede aanvaar. Bygestaan deur sy minister van Buitelandse Sake, Pik Botha, en die sekreatais van Buitelandse Sake, Brand Fourie, het P.W. Botha met meer realisme en pragmatisme Suid-Afrika se posisie in Afrika bepaal en sy beleid daarvolgens ontplooi.

In dié tyd het verskeie faktore 'n bepalende invloed op Suid-Afrika se Afrikabeleide gehad. Een van die belangrikste was die onafhanklikwording van Zimbabwe in 1980. Die nuwe eerste minister, Robert Mugabe, was uitgesproke anti-Suid-Afrikaans. Boonop was Suid-Afrika nou die enigste Blank beheerde staat in Afrika en is hy aan sy noordekant begrens deur verskeie state met Marxistiese ideologië.

Mugabe se oorwinning het ook vir Afrika die gevoel gegee dat hy die stryd teen imperialisme, kolonialisme en rassisme wen. Die klem in die stryd het nou na Suidwes-Afrika/Namibië en Suid-Afrika verskuif. Druk op die Westerse lande om sanksies teen Suid-Afrika in te stel, het toegeneem, terwyl Afrika openlike steun aan die ANC en PAC gegee het in die vorm van die verskaffing van wapens, basisse, opleidingsgeriewe en vrye deurgangsreg in die meeste buurstate van Suid-Afrika.

Dié bedreiging is vergroot deur die toenemende hulp wat Suid-Afrika se vyande van die Oosbloklande ontvang het. In angola was reeds 'n gedugte Kubaanse militêre  mag saamgetrek terwyl Kubaanse, Oos-Duitse, Russiese en ander militêre en siviele personeel in Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe werksaam was.

Terwyl die militêre bedreiging toegeneem het, het Suid-Afrika selgs beperkte en voorwaardelike steun van sy tradisionele Westerse bondgenote gekry. Tydens die Carter-bewind in die VSA het betekkinge tussen die twee state aansienlik verswak. Hoewel die Reagan-administrasie, met sy beleid van konstruktiewe betrokkenheid, meer toeskietlik teenoor Suid-Afrika was, het die druk op die Republiek om interne hervormings aan te bring en tot 'n skikking in Suidwes-Afrika/Namibië te kom, nie afgeneem nie.

Onder die druk van dié werklikhede het P.W. Botha sy Afrikabeleid begin ontplooi. Om sy erns te beklemtoon, het hy Suid-Afrika se bereidwillligheid herbevestig om nie-aanvalsverdrae met sy buurstate te sluit, maar geen Afrikastaat het hierop gereageer nie.

'n Belangrike voorwaarde wat Botha vir dié vreedsame naasbestaan gestel het, was dat die Republiek se buurstate nie organisasies wat deur Suid-Afrika as terroristies beskou word, soos die ANC en PAC, moet huisves nie. Indien hulle dit wel doen, sou Suid-Afrika nie huiwer om aanvalle teen die ANC en PAC oor sy grense heen in die buurstate te loods nie.

Een van die sentrale aspekte van Botha se beleid was sy siening van die vyandigheid teenoor Suid-Afrika as 'n "totale aanslag" wat deur die Kommuniste georkestreer word om die Republiek op alle terreine lam te lê en voor te berei vir Swart oorname. Om dié aanslag die hoof te bied, het die Suid-Afrikaanse Weermag 'n belangrike rol in Suid-Afrika se buitelandse sake begin speel. Ook is klem geplaas op groter streekekonomiese samewerking tussen die verskillende state van Suider-Afrika.

Verslegtende betrekkinge tussen Suid-Afrika en Lesotho vanweë grensskendings, veediefstalle, Jonathan se aansprake op die "verowerde grondgebied" en sy aanknoop van diplomatieke betrekkinge met die USSR (1980) en die Volksrepubliek China (1983) het tot 'n utiers gespanne verhouding gelei. In 1980 het P.W. Botha en Jonathan samesprekings gevoer, o.m. oor ekonomiese samewerking tussen die twee state, maar in die volgende jare het die grenssituasie verder verslag. In 1983 het Pik Botha en E.K. Sekhonyana, Lesotho se minister van buitelandse sake, weer samesprekinge gevoer oor ondermynende bedrywighede in hul onderskeie state. 'n Ooreenkoms is bereik dat geeneen van die twee lande elemente in hul grondgebied sal toelaat wat ondermyning teen die ander beplan nie.

Suid-Afrika het ook onderhandelinge met Swaziland gevoer oor die kwessie van die vergroting van Swaziland se grondgebied. 'n Ooreenkoms in dié verband is in Junie 1982 bereik, maar heftige reaksie van KwaZulu en Kangwane oor grondgebied wat hulle gaan verloor, het die uitvoering van dié ooreenkoms vertraag.

Stille diplomasie tussen Suid-Afrika en Mosambiek in die tagtigerjare is bekroon m et die besluit om vier werkgroepe vir elke staat te benoem om deur onderhandeling betrekkinge ten opsigte van ekonomiese sake, die veiligheidsituasie, toerisme en die Cahora Bassa-skema te probeer normaliseer.

Vyandelike aanslae op Suidwes-Afrika/Namibië deur Swapo uit Angola en Zambië, en deur die ANC en PAC, het in die tagtigerjare toegeneem. Suid-Afrika het die bedreiging met alle middele tot sy beskikking teengestaan. In Suidwes-Afrika/Namibië het die Suid-Afrikaanse Weermag, gesteun deur die plaaslike gebiedsmag, verskeie groot aanvalle op Swapobasisse in Angola geloods, o.m. in 1978, 1980, 1982 en 1984. Getuienis wat tydens dié aanvalle ingewin is, dui onweerlegbaar op Russiese steun aan Swapo.

Suid-Afrika het ook militêr opgetree teen ANC-groepe in ander buurstate, o.m. Mosambiek en Lesotho. In Januarie 1981 en weer in Mei 1983, ná 'n bomontploffing in Pretoria se middestad deur die ANC, het die SAW basisse van die ANC in Maputo aangeval. In 1982 is ANC-basisse in Maseru ook vernietig ná terroriste-aanslae in Bloemfontein. Suid-Afrika het geen twygel gelaat dat hy sulke terreurdade met volle geweld sou teengaan nie.

Dié aanslae en Suid-Afrika se teenoptrede het die spanning in Suider-Afrika aansienlik laat toeneem. Terwyl Suid-Afrika sy gebiedsintegriteit met krag beskerm, maar terselfdertyd die wens uitspreek om in vrede met sy bure te lewe, het sy buurstate, met uitsondering van Malawi en Swaziland, hulle aan die kant van die ANC geskaar. Toenemend is Suid-Afrika gekritiseer dat sy aanvalle oor die grense daarop gemik is om Suider-Afrika politiesen ekonomies te destabiliseer en só sy wil op die Swart state af te druk. Suid-Afrika is ook daarvan beskuldig dat hy sekere versetgroepe in die buurstate teen wettige regerings steun, nl. die Renamo-beweging in Mosambiek, wat reeds dele van dié land beheer het, die Lesotho Bevrydingsleër (die militêre vleuel van die Basutoland Congress Party), wat reeds verskeie aanslae teen die Jonathan-bewind gemaak het, en Unita onder Jonas Savimbi, wat reeds groot dele van Angola van die MPLA-bewind "bevry" het.

Teen die einde van 1983 het Suid-Afrika hom wat sy Afrikapolitiek betref, midde-in twee strome bevind. Aan die een kant is begin met die sensitiefste onderhandelinge met Afrikastate - veral met Angola en Mosambiek. Aan die ander kant was dit nodig om met sy magtige militêre vuis te slaan na diegene wat hom bedreig. Beskuldigings van destabilisering is oor en weer gemaak, maar onder die oppervlak van dié harde woorde was  'n groeiende realisme, meegebring deur die harde werkllikhede van verswakkende ekonomieë, reeds speurbaar, nl. dat interafhanklikheid en samewerking noodsaaklik en verkieslik bo oorlog is.

Nieteenstaande die belemmeringe van politieke en ideologiese verskille het Suid-Afrika tradisioneel ekonomiese bande met die state in Suider-Afrika gehad. Die afhanklikheid van dié state van Suid-Afrika vir hulle invoerhandel blyk daaruit dat Botswana en Swaziland 90 persent en Lesotho 95 persent van hul totale invoer uit Suid-Afrika verkry. 'n Groot deel van hul uitvoer word ook deur Suid-Afrika opgeneem.

Reeds sedert die ontdekking van diamante en goud was Suid-Afrika 'n groot verskaffer van arbeid aan Swart werkers uit sy noordelike buurstate. Hoewel die getal werkers uit ander state sedert die laat sewentigerjare verminder het, hoofsaaklik vanweë politieke druk, het Suid-Afrika in 1981 ongeveer 302 000 sulke Swart werkers in diens geneem. Uit Lesotho het 150 422 gekom, en uit Mosambiek 59 391, Malawi 30 602, Botswana 29 169 en Zimbabwe 16 965. Die geld wat dié werkers verdien, is 'n belangrike bron van inkomste vir hul lande van herkoms.

Met sy goed ontwikkelde vervoerstelsel speel Suid-Afrika ook 'n groot rol in Suider-Afrika. Verskeie state in dié streek beskik nie oor 'n eie hawe nie en hul spoorvervoerstelsels is in die algemeen beperk. Gevolglik moet hulle vir hul in- en uitvoer gebruik maak van duur padvervoer, of van die Tanzam-spoorlyn na Dar-es-Salaam, of van Suid-Afrika se vervoerstelsel en hawens. Bykans die helfte of meer van die invoerhandel van al dié state (Malawi 60 persent, Zimbabwe 70 persent, Botswana en Lesotho 100 persent) word deur Suid-Afrika gehanteer. Dié state is in 'n groot mate van Suid-Afrika se spoorweë en hawens afhanklik.

Op verskeie ander terreine is die interafhanklikheid speurbaar. Suid-Afrika verkry 'n beduidende hoeveelheid van sy krag van Cahora Bassa in Mosambiek, wat vir dié land 'n belangrike bron van buitelandse valuta is. Lesotho beskik oor baie water en wanneer die Hoëveld-waterskema voltooi is, sal Suid-Afrika water vir die Pretoria-Witwatersrand-Vereeniging-gebied van sy buurstaat kan koop.

Nieteenstaande die ekonomiese interafhanklikheid is daar in die verlede min pogings aangewend om streeksamewerking op 'n omvattende wyse te probeer koördineer. Tussen Suid-Afrika en Botswana, Lesotho en Swazilandbestaan wel 'n doeane-ooreenkoms (in 1969 hersien), terwyl arbeids- en ander betrekkinge deur verskeie ooreenkomste met die individuelestate beheer word.

In 1979 het P.W.Botha die inisiatief geneem om ekonomiese samewerking in Suider-Afrikaop'n vaste grondslag te plaas toe die idee van 'n Konstellasievan Suider-Afrikastate (Konsas) uitgespel en tydens 'n konferensie in Johannesburg op 22 November 1979 met Suid-Afrika se voorste sakelui bespreek is.

Botha was van mening dat alle state van Suid-Afrika tot Konsas moet behoort, maar met die eerste spitsberaad van regeringshoofde in Julie 1980 was dit duidelik dat slegs die onafhanklike en selfregerende nasionale state daarin belang gestel het. Gevolgllik is die idee van 'n konstellasie verander na 'n konfederasie, d.w.s. 'n kleiner groepering van state. Sedert 1980 is verskeie byeenkomste reeds gehou. Een van die belangrike uitvloeisels van Konsas was die skepping van 'n Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, wat op 1 September 1983 met sy werksaamhede begin het.

Suid-Afrika se ander Swart buurstate het Konsas as 'n groot bedreiging beskou en sommige leiers het dit vertolk as 'n poging van Suid-Afrika om 'n neo-koloniale ryk op te bou. Reeds in Mei 1979 is die idee van 'n opposisie-organisasie gelug, en in Julie van dié jaar is 'n Southern African Development Coordination Conference (SADCC) in Tanzanië gehou. Op 1 April 1980 het die SADCC in Lusaka 'n verklaring uitgereik waarin nege Afrikastate (Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Swaziland, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe) hul doelstelling duidelik uiteengesit het: onderlinge ekonomiese samewerking tot voordeel van almal met die doel om hul ekonomiese afhankllikheid van Suid-Afrika te beëindig.Die doel was nie om 'n konfrontasie met Suid-afrika te soek nie, maar om hulle geleidelik van hom los te maak.

Dramatiese deurbrake in 1984

Teen die einde van 1983 het dit gelyk asof die spanning tussen Suid-Afrika en sekere van sy buurstate sterk aan die oplaai was. Agter die skerms is egter op hoë vlak intensiewe onderhandelinge gevoer en vroeg in 1984 was dit reeds duidelik dat die leiers van Suider-Afrika vrede en samewerking bo oorlog met sy katastrofale gevolge verkies.

Reeds in Desember 1983 het Suid-Afrika aangekondig dat hy bereid was om 'n maandlange skietstaking vanaf 31 Januarie 1984 in Angola te handhaaf as Angola dieselfde sou doen. Angola en Swapo was aanvanklik huiwerig, maar onderhandelinge is voortgesit. In Februarie 1984 het die betrokke partye in Lusaka ontmoet en is die Lusaka-ooreenkoms gesluit, wat voorsiening gemaak het vir 'n skietstaking vanaf  1 Maart 1984, die geleidelike onttrekking van Suid-Afrikaanse troepe uit die suide van Angola, en 'n gesamentlike Suid-Afrikaans-Angolese Monitorkommissie om toesig te hou oor die uitvoering van die bepalings van die ooreenkoms.

Intussen is die onderhandelinge tussen Suid-Afrika en Mosambiek voortgesit en op Vrydag, 16 Maart 1984, is 'n vredesverdrag by Nkomati, op die grens van Suid-Afrika en Mosambiek, deur P.W. Botha en Samora Machel onderteken. In elf artikels het die twee state hulle verbind om in vrede met mekaar te lewe.

--- --- ---

Die Verdrag van Nkomati (Uittreksels)

Aanhef: Ooreenkoms oor nie-aggressie en goeie buurmanskap tussen die regerings van Mosambiek en Suid-Afrika.

Artikel 1: Ooreenkoms om mekaar se soewereiniteit en onafhanklikheid te eerbieding en van inmenging in huishoudelike sake te weerhou.

Artikel 2: Verskille en geskille sal deur onderhandeling, ondersoek, bedinging, versoening, arbitrasie of ander vreedsame wyses bygelê word. Geen geweld of dreigemente sal teen mekaar gebruik word nie.

Artikel 3: Die twee state se grondgebied sal nie as basis of deurgang vir enigiemand wat geweld teen die ander beplan, gebruik word nie.

Artikel 4: Die internasionale grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek sal doeltreffend gepatrolleer word.

Artikel 5: Propaganda wat oorlog of aggressie aanmoedig, sal verhinder word.

Artikel 6: Daar is geen weerspreking tussen hierdie verdrag en ander internasionale verdrae en verpligtinge van die twee state nie.

Artikel 7: Die ooreenkoms sal in goeie trou vertolk word en periodieke kontak sal gehandhaaf word om die doeltreffende toepassing daarvan te verseker.

Artikel 8: Die ooreenkoms ontneem die state nie van die reg om hulle te verdedig in geval van gewapende aanvalle nie.

Artikel 9: 'n Gesamentlike veiligheidskommissie bestaande uit hoë amptenare van elke staat sal toesig hou oor die toepassing van die ooreenkoms.

--- --- ---

Die verdrag van Nkomati het, nieteenstaande bedenkinge oor die werklike bindkrag daarvan, tot 'n daadwerklike afname van spanning in Suider-Afrika gelei. Samesprekings tussen Suid-Afrika en Swaziland, asook met Angola, Lesotho en Zambië om vrede en samewerking te bestendig, is in die maande ná 16 Maart gevoer. In Mosambiek en in Swaziland is die optrede van die ANC sterk aan bande gelê, terwyl Suid-Afrika sy steun aan Renamo beëindig het.

Afrika het versigtig maar positief op dié gebeure gereageer. Pres. Kaunda van Zambië het reeds voorbrand gemaak vir 'n spitsberaad tussen Suid-Afrika en die frontliniestate, met Zambië as gasheer. Kaunda het ook daarin geslaag om verteenwoordigers van Swapo en die Veelpartykonferensie van Suidwes-Afrika/Namibië in Mei 1984 in Lusaka vir samesprekings byeen te bring. Hoewel geen finale oplossing oor die onafhanklikheid van die gebied bereik is nie, is 'n basis gelê vir verdere onderhandelinge.

'n Gebeurtenis van kardinale belang was die beraad van die frontliniestate op 29 April 1984 in Arusha, Tanzanië. Dié beraad isdeur Mosambiek oorheers en Machel het die realiteite van konflik soos Mosambiek dit ervaar het - enorme finansiële verlies, hongersnood, ontwrigting en verset - duidelik uitgespel. Uitsprake tydens die beraad en die Arusha-verklaring wat daarna uitgereik is, dui op 'n nuwe gees van politieke realisme in Afrika. Die frontliniestate het steeds kritiek teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid, maar die belangrikheid van die beraad lê daarin dat die frontliniestate hul volle steun aan die Nkomati-verdrag met Mosambiek en die skietstilstand-ooreenkoms met Angola gegee het - 'n duidelike verbintenis tot vreedsame oplossing van die vraagstukke van Suider-Afrika.

Sedert die Arusha-byeenkoms het die uitvoring van die vrdrag van Nkomati egter al hoe meer kritiek ontvang. Mosambiek het Suid-Afrika reeds herhaalde kere daarvan beskuldig dat hy die ooreenkokms nie nakom nie en steeds steun verleen aan Renamo. Pogings van Suid-Afrika om Renamo te oorreed om met die Machel-regering te onderhandel, het ook misluk. Al die geskille is tot dusver deur onderhandelinge bygelê, maar dit is duidelik dat interstaatlike betrekkinge in Suider-Afrika steeds gespanne bly.

--- --- ---

'n Aanbevole lees-/bronnelys sluit dié hoofstuk af

--- --- ---

Hoofstuk 20

Van referendum tot referendum, 1961-1984: T.R.H. Davenport

Op 31 Mei 1961 het die Unie van Suid-Afrika 'n republiek buite die Statebond geword, met 'n grondwet wat min ooreenkokmste getoon het met vorige republikeinse grondwette in die land se geskiedenis. Dit was in al sy hoofkenmerke bloot 'n aangepaste weergawe van die Suid-Afrika-wet van 1909 en dus ook op die Westminster-lees geskoei.

Verwoerd se republiek, 1961-1966

Sommige kiesers was besorg oor die wyse waarop besluit is om die grondwet te verander, soos blyk uit die klein meerderheid van die "Ja"- oor die "Nee"-stemme in die referendum. Veral die uitsluiting van Kleurlingkiesers, die insluiting van die Blankes van Suidwes-Afrika en die vaagheid van die vraag waaroor gestem moes word, het kommer gewek. Sommige mense het gevoel dat aangesien 'n nasionale konvensie die Unie tot stand gebring het, 'n tweede die ontbinding daarvan moes bewerkstellig.

Die eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, het daarin geslaag om 'n verbasende gees van vertroue onder die Afrikaans- en Engelssprekende Blankes van Suid-Afrika op te bou, en - wat veral betekenisvol was - ook onder potensiële vriende oorsee wat bereid was om ondanks die onrus van 1960 in die land se toekoms te belê. Aanvanklik was daar 'n uitvloei van kapitaal, maar teen die middel van die sestigerjare is dit omskep in 'n massiewe toename in plaaslike en buitelandse beleggings, hoewel beperkings op die uitvoer van kapitaal heelwat hiermee te make gehad het. Die ekonomiese herstel het baie immigrante uit Europa gelok - 'n nuwe benadering deur 'n Nasionale Party-regering, wat tevore geneig was om "uitlanders" te wantrou.

Die koms van die Republiek is egter ook vergesel deur verskeie onrusbarende tekens, waaronder Suid-Afrika se isolasie in Afrika. Die volgehoue Portugese teenwoordigheid in Angola en Mosambiek was wel 'n gerieflike buffer, en ná Rhodesië se eensydige onafhanlikheidsverklaring in 1965 was daar ten minste een ander Blanke bewind op die subkontinent wat blykbaar geweet het wat hy wil hê en die moed van sy effens afwykende oortuigings gehad het.

Dit is moeilik om te bepaal in watter mate die Swart opposisiebewegings van Suid-Afrika wat tydens die onrus van die sestigerjare verbied is, ondanks dié verbod sou kon hergroepeer en die stryd voortsit. Selfs heir was ontwikkelinge oënskynlik in die guns van Verwoerd en sy minister van Justisie, B.J. Vorster. As oud-OB-generaal het Vorster ondervinding van paramilitêre verset teen 'n gevestigde bewind gehad, en iets geweet van die druk van eensame opsluiting en van die probleme waarmee 'n polisiemag in 'n ondermyningsveldtog te kampe kry. Hy het dus 'n reeks besonder streng wette in die wetboek geplaas om ondermyning te ontmoedig en dit makiliker te maak om inligting te kry van mense van wie vermoed word dat hulle daaroor beskik, selfs al is hulle nie as verdagtes in hegtenis geneem nie.

Stap vir stap is die polisie gemagtig om verdagtes in eensame opsluiting aan te hou vir hernieubare tydperke van twaalf dae (1962), negentig dae (1963), 180 dae (1965), 'n onbeperkte tyd met die magtiging van 'n regter (1966) en uiteindelik sonder regterlike magtiging (1976). Skuldigbevindings kon makliker verkry word nadat breë omskrywings in wette gegee is aan ander oortredings as hoogverraad en die bevordering van Kommunisme - veral "sabotasie" en "terrorisme" - en lang minimum-gevangenisstrawwe neergelê is. Behalwe lysting of inperking ingevolge die bepalings van die Wet op die Onderdrukking van Kommuniste is die minister in 1962 wetlik gemagtig om mense onder huisarres te plaas.

Gerugsteun deur dié maatreëls, was die regering in staat om die onrus die hoof te bied wat op die Sharpeville-oproer van 1960 gevolg het, toe 'n deel van die ANC hom hergroepeer het as Umkonto we Sizwe ("Spies van die Nasie") enKaapse lede van die PAC hulle in 1962 opnuut verenig het as die Poqo ("Gesuiwerdes"). Net soos in 1960 kon hierdie bewegings om ideologiese redes nie met mekaar saamwerk nie. Die PAC en die Liberale Party het ook hul steun aan 'n konferensie in Maart 1961 in Pietermartizburg onttrek toe dit lyk asof die ANC probeer om met geld van die Kommunistiese Party beheer oor die beweging te verkry. Poqo, wat 'n populistiese anti-blanke beweging geword het, het nie geskroom om informante en hoofmanne om die lewe te bring nie. Veral hoofman Kaiser Matanzima van die Transkei was 'n teiken, en Poqo was ook verantwoordelik vir 'n uitbarsting van geweld in die Paarl in 1962. Die beter ontwikkelende PAC het 'n betreklik doeltreffende stelsel van selle opgebou, maar sy optrede in Suid-Afrika is teen die middel van 1963 geneutraliseer, deels vanweë polisie-infiltrasie en deels vanweë die swak taktiese sin van sy leier, Potlako Leballo, wat in Maseru in ballingskap was.

Umkonto we Sizwe, onder leiding van Nelson Mandela, het 'n veldtog van beheerde sabotasie beplan waarin lewensverlies vermy sou word (vir sover Mandela sy volgelinge in bedwang kon hou), maar met die voorneme om - indien nodig - tot guerrilla-oorlogvoering oor te gaan. Die organisasie het egter nie genoeg middele gehad en sy bedrywighede ook nie skerp genoeg op sy doelwitte ingestel nie. Toe die polisie toeslaan en die leiers in 1963 in hul hoofkwartier by Rivonia, naby Johannnesburg, in hegtenis neem, het dit gou as versetsbeweging binne Suid-Afrika kragteloos geword.

Die African Resistance Movement, 'n oorwegend Blanke studente-organisasie wat hom tot sabotasie verbind het, was hoofsaaklik in Kaapstad, Johannesburg en Port Elizabeth bedrywig. Dit is grootliks in 1964 deur sy eie sekuriteitsflaters geknak. In 1964 het die Veiligheidspolisie ook die Kommunistiese Party vernuftig geïnfiltreer. Die leiers van Umkonto is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Dieselfde vonnis is opgelê aan Bram Fischer, 'n advokaat en die leier van die Kommunistiese Party, wat op borgtog vrygelaat is om ' n belangrike saak voor die Britse Geheime Raad te bepleit en daarna na Suid-Afrika teruggekeer het, hoewel hy geweet het dat hy daar sou moet teregstaan. Toe dit duidelik word dat die geledere van die Kommunistiese Party geïnfiltreer was, het Fischer sy borggeld verbeur, hom deur plastiese chirurgie vermom en die stryd probeer voortsit.

Swart teenstand is deur die verbod op die ANC en PAC, die Rivonia-verhoor en dié van die Kommunistiese leiers ontwrig, en in die laat sestigerjare is die meeste weerstand teen die regering dus uit buitelandse basisse georganiseer. Die ANC het 'n mate van steun gekry van die Sowjet-Unie en die Organisasie vir Afrika-Eenheid, maar kon min opgeleide saboteurs na die Republiek terugstuur.

Hoewel onrus steeds onder die oppervlak voortgesmeul het, was Suid-Afrika teen die middel van die sestigerjare dus oënskynlik tot 'n toestand van ordelike welvaart herstel. Dit is weerspieël in die styging van die Nasionale Party se seteltal met 21 in die algemene verkiesing van 1966 (sy grootste wins sedert 1953), al was die party reeds agttien jaar aan die bewind.

Op 6 September 1966, op die toppunt van sy triomf, is Verwoerd deur 'n bode van die Parlement, Dimitrio Tsafendas, in die Volksraad doodgesteek. Tsafendas is later kranksinnig verklaar en as daar politieke motiewe vir sy daad was, het dit nooit geblyk nie.

Vorster, 1966-1978: die staatshuishouding van verdeeldheid

B.J. Vorster was Verwoerd se klaarblyklike opvolger vanweë sy kragdadige onderdrukking van onrus en sy vermoë om die beeld van 'n rotsvaste Krugerfiguur te projekteer - iets wat Verwoerd ook hard nagestreef het. vorster sou die beleid op dieselfde spoor hou. In sy kabinet het hy manne aangestel met dieselfde beplanningsbeheptheid as Verwoerd, ongeag die uitwerking daarvan op menselewens. Vorster was self geen doktrinêre beplanner nie, maar hy het die beplanners toegelaat om hul gang te gaan, aanvanklik onbewus daarvan dat die Tomlinson-kommissie, o p wie se verslag Verwoerd se berekeninge gegrond was, die waarskynlike groei van die Swart bevolking enorm onderskat het. Die sensus van 1970 het getoon dat daar teen die einde van die eeu waarskynlik 37 000 000 Swartmense sou wees (en nie 21 00 000 nie), hoewel latere berekeninge daarop dui dat dié syfer moontlik te hoog geskat was.

Vir M.C. Botha, minister van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling, was die "skoonmaak" van Blanke gebiede voor en ná die bekendmaking van die sensussyfers ' n uitdaging. 'n Opdrag van 1967 aan landdroste het vier kategorieë Swartmense bepaal wat vir verwydering in aanmerking kom: bejaardes, ongeskiktes, en dié (meestal vroue en kinders) wat ingevolge die Wet op Stadsgebiede nie kwalifiseer om in stede te woon nie; oortollige mense op Blanke plase; mense wat in "Swart kolle" in blanke gebiede woon; en professionele mense wie se bekwaamhede in die tuislande nodig was.

Voorsiening sou gemaak word vir verskeie soorte nedersettings vir dié mense. Daar was "Bantoedorpe", soos Mdantsane by Oos-Londen, KwaMashu buite Durban en GaRankuwa buite Pretoria, met goeie geriewe soos openbare vervoer, teerstrate en spoelriolering, maar ook elementêre nedersettings in die veld met aanvanklik minimale geriewe, soos opslaanhutte van hout en rantsoene vir slegs 'n beperkte tyd.

Repatriëring is mettertyd aan 'n nuwe opvatting van burgerskap gekooppel. Elke onafhanklike tuisland sou sy eie burgerskap verleen - nie net aan sy inwoners nie, maar ook aan Swartes buite sy grense wie se huistaal dié van die betrokke tuisland is. Die Zulu-leiers het die implikasies van dié beleid duidelik besef en onafhanklikheid van die hand gewys, maar teen 1981 het vier tuislande onafhanklikheid aanvaar, nl. Transkei (1976), Bophuthatswana (1977), Venda (1979) en Ciskei (1981) - die TBVC-lande

Swartes wat só hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor het, sou slegs in die Republiek toegelaat word as daar werk beskikbaar was - en dan ook slegs as arbeiders op jaarlikse kontrakte. Aan die einde van elke jaar moes hulle na hul tuisland terugkeer. Dit sou verseker dat hulle die kontinuïteit van hul verblyf in die Republiek onderbreek en dus nooit geregtig sou wees op "Artikel Tien"-regte ingevolge die Wet op Stededelike Gebiede nie, want hulle sou nooit ononderbroke 15 jaar lank in 'n stedelike gebied woon of ononderbroke tien jaar by dieselfde werkgewer in diens gewees het nie.

In 1968 het die regering stappe gedoen om die indiensneming van Swartes in bepaalde kategorieë werk in stedelike gebiede te verbied, bv. agter toonbanke en as ontvangspersoneel, tiksters, telefonieste, klerke of kassiere, of as geneeshere in stedelike gebiede in diens van hul eie mense . Dit - so is gehoop - sou hulle aanmoedig om na die tuislande te verhuis en hul opleiding dáár te benut. Dié beperkings kon klaarblyklik nie afgedwing word nie. 'n Onvoorwaardelike verbod is egter op die bou van huise in Swart woonbuurte geplaas, gegrond op die teorie dat net enkelkwartier-hostels nodig was. Dieselfde beperkings was van toepassing op skole, waarvoor regeringsteun slegs in die tuislande beskikbaar was.

Die beheer van bestaande plaaslike owerhede in stedelike gebiede oor hul eie Swart woonbuurte is ook deur die regering afgeskaf en vanaf 1972 onder Bantoesake-administrasierade geplaas. Dié stelsel, wat onder meer bedoel was om finansiële selfstandigheid in die Swart woonbuurte te bevorder, het 'n swaar bykomende las op die inwoners geplaas sonder dat hulle kon deel in die inkomste uit die sakebuurte waar baie van hulle gewerk het. In Soweto was die verhouding tussen die inwoners en die Wes-Randse Administrasieraad dikwels gespanne. Dié stelsel is vroeg in die tagtigerjare geleide uitgeskakel namate magte deur nuwe wetgewing aan Swart plaaslike owerhede oorgedra en die bedrywighede van die rade op ontwikkelingsprojekte toegespits is.

Die nywerheidstrategie van die regering se beleid is vervat in die Wet op Fisieke Beplanning van 1968, wat die desentralisering van nywerhede na die grensgebiede moes bevorder. Nyweraars is deur belastingvoordele, goedkoop arbeid en ander toegewings aangemoedig om grensnywerhede op te rig, terwyl negatiewe druk uitgeoefen is deur hulle o.m. te belet om bykomende Swart werkers in die bestaande stedelike gebiede in diens te neem.

In die algemeen was dié strategie nie 'n sukses nie. Van 1960 tot 1972 is werkgeleenthede vir slegs 85 554 Swartes in die grensgebiede en tuislande geskep - miner as 8 000 per jaar en heelwat minder as die 50 000 per jaar wat volgens die Tomlinson-kommissie op grond van sy eie onderskatte syfers nodig sou wees.

Die regering se beleid het uiterste ellende tot gevolg gehad, maar net enkele hervestigingsgebiede, soos Llimehill in Natal en Sada en Dimbaza in die Ciskei het publisiteit in die pers gekry, meesal vanweë ondersoeke deur bekommerde  persone. Die omvang van die hervestigings was egter nog nie naastenby so groot soos dit nog sóú word nie.

In 'n geringe mate is die llugleegte wat deur die uitwyking van politieke bewegings gelaat is, deur die tuislandleiers gevul, hoewel hul standpupnt in die algemeen té na aan amptelike regeringsbeleid was om polities bewuste Swartmense aan te trek. Bloot deur die stelsel te aanvaar, het hulle koöptering deur die regering aanvaar, en die meeste kon slegs met noodregulasies aan bewind bly. Die Inkatha-beweging in Zululand was 'n belangrike uitsondering, wat hoofman Mangosuthu Buthelezi het hierdie kultuurorganisasie uit die twintigerjare laat herleef en polities gemotiveer. Met dié steun het hy beheer verkry oor die Wetgewende Vergadering van KwaZulu toe dié gebied in 1977 selfbestuur ontvang het. Hoofman Matanzima het op sy beurt die beheer oor die wetgewende liggaam van Transkei bekom deur 'n grondwet wat dit vir hom moontlik gemaak het om met die hulp van 'n meerderheid van hoofmanne te regeer. Teen 1976 het sy Transkei National Independence Party deur druk en begunstiging daarin geslaag om hoofmanne Victor Poto en Sabata Dalindyebo as mededingers uit te skakel en selfs die meeste verkiesbare setels te vul met mense wat deur die hoofmanne benoem is. Hoofman Lucas Mangope van Bophuthatswana het geen ernstige mededingers gehad nie.

Die tuislandleiers se verset teen die regering se opvatting van onafhanklike Bantoestans het sy toppunt bereik toe 'n geslote spitsberaad in November 1973 in Umtate die alternatief van federasie bespreek het. In Desember het Buthelezi tydens 'n byeenkoms in Oos-Londen voorgestel dat 'n federale unie van selfstandige state van Suider-Afrika tot stand gebring word waarby Blankes later uitgenooi kon word om aan te sluit. Dit was ook die begin van 'n tydperk van ondersoekende samewerking tussen die Zululeier en die Progressiewe, wat self besig was om van die gedagte van 'n federale stelsel van wigte en teenwogte weg te beweeg na 'n konsosiasie-demokrasie, wat die grondslag sou vorm van hul verset teen die regering se voorstelle vir grondwetlike veranderinge.

Konfrontasie deur die verworpenes: Soweto en die Kleurlingraad

In Junie 1976 het onrus in Soweto ontstaan wat na byna elke Swart woonbuurt in Suid-Afrika juitgekring het. Dié gebeurtenisse, wat in 'n hoofartikel in die Sunday Times beskryf is as "riots looking for a place to happen", is ontvonk deur die verpligte gebruik van Afrikaans as medium van onderrig in sekere vakke in Swart skole. Dit was egter waarskynlik 'n simboliese aanleiding eerder as die enigste rede, want hoewel Afrikaans soms as "die taal van die verdrukker" beskryf is, en Engels boonop die voordeel het dat dit 'n internasionale taal is, was daar geen tekort aan redes vir 'n opstand deur die jeug nie.

Die Administrasieraad-stelsel was ongewild ná die betreklike milde bestuur van die Johannesburgse stadsraad. Bewerings is gemaak dat die ANC deur middel van 'n nuwe sellestelsel agter die skerms bedrywig was. Maar selfs al was dit die geval, was die organisasie wat in 1976 die sterkste op die voorgrond was, die Soweto Student's Representative Council. Hulle het blykbaar die vernaamste betogings soos protesoptogte, stakings, aanvalle op sjebeens en 'n huurstaking georganiseer en die ouer garde saamgevoer.

Die gebeure was bloedig omdat die polisie begin skiet het op kinders wat klippe na hulle gegooi het en die meeste van die 700 Swartes wat gesterf het, was baie jonk. Kontrakarbeiders het ook gewelddadig teenoor skoliere opgetree, want hulle kon hul werk só maklik verloor dat hulle dit nie kon bekostig om afwesig te wees nie.

--- --- ---

Swart bewussyn en Steve Biko

Die polsslag van die Swart politiek in die vroeë sewentigerjare was in die Swart Bewussynbeweging. In 'n tyd toe die meeste dinge tot Swartes se voordeel oënskynlik aan Blanke paternalisme te danke was, het dié beweging ontstaan uit die dwingende behoefte by Swartmense om op eie bene te staan en op hul eie prestasies te kan roem. Steve Biko, 'n jong man van Oos-Kaapland wat in Natal gestudeer het, was die sleutelfiguur in dié beweging, wat sy besielingdeels uit die VSA gekry en in die Black People's Convention (BPC) politieke uiting gevind het, maar ook verskillende vorms van gemeenskapsdiens gelewer het.

Die leiers van die BPC is in 1974 ingevolge die Wet op Terrorisme verhoor en gevonnis omdat hulle studente-onrus by Swart universiteite aangestook het ná Frelimo se oorwinning in Mosambiek. Biko is in September 1977 in Pretoria dood terwyl hy deur die Veiligheidspolisie aangehou is. Die gebeure rondom sy daad (waaroor vrae gestel is waarop geen bevredigende antwoorde ontvang is nie), het in die selle van die Veiligheidspolisie in Port Elizabeth plaasgevind. 'n Geregtelike ondersoek het bevind dat sy dood veroorsaak is deur beserings wat hy opgedoen het ná 'n "handgemeen met lede van die Veiligheidspolisie in Port Elizabeth".

Die berig van sy dood het Suid-Afrika soos 'n elektriese skok getref. Daarvóór reeds het die Swart Bewussyn-beweging onder Swartes 'n nuwe bewustheid aangewakker wat in baie opsigte vergelyk kan word met dié onder Afrikaners tydens en ná die Tweede Anglo-Boereoorlog. Biko se dood, op hierdie besondere tydstip, het aan hom onder sy eie mense 'n posisie besorg wat vergelyk kan word met dié van Gideon Scheepers ná die Anglo-Boereoorlog.

--- --- ---

Die onrus het met wisselende intensiteit voortgeduur totdat die Swart Bewussyn-organisasies in Oktober 1977, 'n maand ná Steve Biko se dood, verbied isdeur Jimmy Kriger, die minister van Justisie. Die het egter geblyk datSwart Bewussyn sonder die steun van 'n vaste struktuur kon voortbestaan. Die onrus in die skole het eers laat in 1980 tot 'n einde gekom nadat die De Lange-kommissie aangestel is om die hele onderwysstelsel deurtastend te ondersoek. Die leerllinge was sterk gepolitiseer, en baie het na die buiteland gevlug vir militêre opleiding.

Ewe ernstig as die konfrontasie tussen die regering en die Swartmense was die krisis in die regering se betrekkinge met die Kleurling-gemeenskap, wat skerp verdeel is deur die uitbreiding van die skoleboikot na Wes-Kaapland in 1976-1977 en ook in 1980. Dié gebeurtenisse het plaasgevind onmiddellik ná die alglehele instorting van kommunikasie op politieke vlak tussen die regering en die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR).

Ná die aanvaarding van die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers in 1956 moes die Kleurlingbevolking tevrede wees met afsonderlike verteenwoordiging in die Volksraad deur vier Blankes. Dié reëling het tot 1968 voortgeduur, toe dit gelyk het asof lede van die Progressiewe Party die Kleurlingseetels kon verower. Die regering het dié moontlikheid voorgespring deur die Wet op die Verbod op Politieke Inmenging. In dieselfde jaar is die verteenworodiging van Kleurlinge in die Parlement heeltemal afgeskaf. 'n Afsonderlike verteenwoordigende raad, wat sou bestaan uit veertig verkose lede en twintig wat deur die regering benoem word, is ingestel. Aanvanklik het die Federale Party onder Tom Swartz, wat regeringsteungeniet het, genoeg verkose setels gehad om met die steun van al die benoemde lede 'n meerderheid in die raad te behou, maar in 1974-1975 het die Arbeidersparty onder Sonny Leon die meerderheid verkry en dit gebruik om die begroting te verwerp. Die regering het egter reeds in die konstitusie van die VKR vir so 'n moontlikheid voorsiening gemaak en nou sy mag gebruik om Leon as voorsitter te ontslaan en sy eie benoemde, mev. Alathea Jansen, aan te stel met die mandaat om die begroting goed te keur en die bestuur oor te neem.

Die verslag van die Theron-kommissie oor die Kleurlinggemeenskap (sien paneel hieronder) was die eerste stap in 'n proses wat uitgeloop het op die voorstelle van die Vorster-regering in 1977 vir grondwetlike hervormings. Wesenlik dieselfde voorstelle is in 1983 deur die Blanke kiesers in 'n referendum goedgekeur - grotendeels omdat 'n latere leier van die Arbeidersparty, eerw. Alan Hendrickse, sy ondersteuners oorreed het om die regering se goeie trou te aanvaar.

--- --- ---

Die Theron-kommissie

In 1973 is 'n kommissie onder prof. Erika Theron van Stellenbosch aangestel om die posisie van die Kleurlingbevolking in die algemeen te ondersoek. Dit was 'n gemengde kommissie waarin 'n paar Kleurlinge gedien het. Die Kommissie se verslag (Junie 1976) was opmerklik omdat dit in sekere opsigte van 'n onbuigsame segregasionistiese standpunt afgewyk het. So is aanbeveel dat Kleurlingkinders toegelaat moet word om private skole en universiteite vir Blankes by te woon indien hulle opgeneem word, asook dat die verbod op gemengde Blanke en Kleurlinggehore opgehef en dat die Kleurlinge volgens meriete by Blanke sportspanne ingesluit word. Die kommissie het ook die regering se optrede oor konstitusionele regte vir die Kleurling-bevolking gekritiseer en daarop nadruk gelê dat "die bestaande Westminster-regeringstelsel verander sal moet word om by die eiesoortige vereistes van die Suid-Afrikaanse plurale bevolkingstruktuur aan te pas".

--- --- ---

"Bring jul huise in orde": die Hertzogiete en die liberale

Ook die Blanke politiek was ontstuimig. Daar was 'n skeuring in regeringsgeledere in 1968-1969, toe Vorster die omstrede dr. Albert Hertzog uit sy kabinet ontslaan het. Die konflik is herlei tot 'n stryd tussen sg. "verkramptes" en "verligtes". Afgesien van persoonlike wrywing, was dit egter in wese 'n twis tussen die ideoloë, wat apartheid beskou het as 'n allesomvattende en selfgenoegsame stelsel wat in sy geheel verdedig moet word, en die pragmatiste, wat bereid was om "klein apartheid" (bv. oppervlakkig irriterende sake soos afsonderlike toue in poskantore, en selfs afsonderlike sportspanne) prys te gee om die "groot apartheid" van afsonderlike woonbuurte, werkgeleenthede en kiesstelsels doeltreffender te kan handhaaf. Die Hertzogiete het weggebreek en die Herstigte Nasionale Party (HNP) op die been gebring in 'n poging om hulle te suiwer van die afwykings in die jare ná Verwoerd.

Onder Vorster het Suid-Afrika die naaste aan 'n totalitêre staat gekom, maar die regering het tog nie die grens van algehele outoritêre bestuur oorskry nie. Die verllies van setels aan ander partye is nog geduld en in die algemene verkiesing van 1970 het die regering selfs agt setels verloor. Daar was voorbeeld-verhore soos dié van Laurence Gandar, redakteur van die Rand Daily Mail, op 'n aanklag dat hy die Wet op Gevangenisse oortree het deur sonder die polisie se toestemming beëdigde verklarings oor toestande in die gevangenisse te publiseer, maar die regering het nie volskaalse perssensuur toegepas nie.

Geskille het ook losgebars oor die bedrywighede van die Raad van Beheer oor Publikasies, wat 'n besonder groot getal boeke verbied het - in 1974 onder meer die eerste keer 'n Afrikaanse roman, nl. Kennis van die aand deur André P. Brink. Daar was egter nie baie vervolgings nie. Engelstalige koerante kon hul menings binne sekere perke nog vryelik uitspreek en eers met die begin van die oorlog in Angola in 1975 het die beperkings waaronder redaksies moes werk, vir oplettende lesers duidelik begin word.

Daar was heelwat langer reeds 'n sekere beheer oor die radio: dit kan teruggevoer word tot die instelling van daaglikse "redaksionele kommentaar" in spitsluistertye ná die Sharpeville-onrus. Televisiedienste is eers in 1976-1977 in Suid-Afrika ingestel, maar wat sensitiewe aangeleenthede betref, is kritiek op regeringsbeleid selde oor die SAUK toegelaat. In verkiesingstye het die SAUK ook verkies om die mening van kandidate deur sy eie kommentators te laat vertolk.

Die Engelstalige universiteite het tydens Verwoerd se bewind met die regering gebots oor die uitsluiting van Swart, Kleurling- en Indiërstudente en dié stryd verloor. Onder Vorster het die regering sy aanslag verskuif na liberale organisasies soos die studenteforum Nusas, die enigste verteenwoordigende studenteliggaam voordat die Afrikaanse Studentebond in die dertigerjare en die Swart beweging SASO in die sewentigerjare weggebreek het. Verskeie leiers van Nusas en die Christelike Instituut is ingeperk, en dié organisasies, asook die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en die University Christian Movement, is in 1972-1974 ondersoek deur 'n kommissie onder A.L. Schlebusch. Die UCM het homself ontbind en die Instituut vir Rasseverhoudinge is verneder, maar vrygestpreek, terwyl Nusas en die Christelike Instituut raads voor die voltooiing van die Schlebusch-kommissie se verslag ingevolge 'n nuwe wet van 1974 tot "geaffekteerde organisasies" verklaar en belet is om geld uit die buiteland te ontvang.

In die sewentigerjare was daar al tekens van die "totale aanslag" teen Suid-Afrika waaruit P.W. Botha se regering soveel politieke munt sou slaan, veral deur die toenemende Russiese inmenging in die voormalige Portugese kolonies. Dit was nouliks verbasend dat die regering dit in dié omstandighede nodig geag het om alles in sy vermoë te doen om vyandelike buitelandse propaganda teen te werk en alle beskikbare middele aan te wend om sy teenmaatreëls te laat slaag. Die publiek was egter nie die mate te wagte waarin dit sonder die medewete van die een liggaam wat die bedrywighede van die regering moes kan monitor, nl. die Parlement, kon gebeur nie.

Gepaard met Vorster se uitwaartse beleid (soos in Hoofstuk 19 beskryf) is 'n spesiale rekening vir sekuriteitsdienste in 1969 ingestel vir gebruik deur die eerste minister, slegs onderhewig aan ouditering na goeddunke van die minister van Finansies. In die praktyk is die geld in dié rekening egter ná oorlegpleging met die kantoor van die eerste minister na ander departemente oorgeplaas. In September 1978 het Vorster deels om gesondheidsredes bedank, maar kort hierna is hy tot staatspresident verkies. Kort voor sy uittrede was daar egter reeds gerugte oor die wanbesteding van staatsgeld in die Departement van Inligting onder C.P. Mulder, wat as leier van die Nasionale Party in Transvaal 'n sterk aanspraakmaker op die amp van eerste minister was. Daar kan min twyfel bestaan dat Mulder deur die koukus verkies sou gewees het, as dit nie vir dié gerugte was nie. P.W. Botha, die minister van Verdediging, wie se departement blykbaar nie by finansiële wanpraktyke betrokke was nie, is toe as Vorster se opvolger verkies.

--- --- ---

Die Inligtingskandaal

Regter A. Mostert van Natal, wat aangestel is om wanpraktyke i.v.m. valutabeheer in die algemeen te ondersoek, het besonderhede oor Mulder se Departement van Inligting teëgekom wat hom só gepla het dat hy dit aan die pers bekend gemaak het. Daar was bv. pogings om met staatsgeld die politieke doelwitte van die Nasionale Party te bevorder deur beheer te kry oor Engelstalige koerante binne en buite Suid-Afrika. Dit het onder meer gelei tot die stigting van 'n nuwe dagblad, The Citizen.

Onmiddellik nadat hy eerste minister geword het, het P.W. Botha die Mostert-kommissie ontbind op grond daarvan dat dit sy bevoegdhede ingevolge die reëls vir kommissies oorskry het, en regter R.P.B. Erasmus van die Vrystaat aangestel om ondersoek in te stel na die Departement van Inligting, wat intussen afgeskaf is. Erasmus se eerste verslag is vroeg in Desember 1978 in die Parlement ter tafel gelê. Vorster is daarvan vrygespreek dat hy wanpraktyke oogluikend toegelaat het terwyl hy eerste minister was, omdat hulle vir hom geheim gehou is deur C.P. Mulder, minister van Inligting, en genl. H.J. van den Bergh, 'n persoonlike vriend van Vorster en hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. P.W. Botha, as minister van Verdediging tydens die onreëlmatighede, en die minister van Finansies, O.P.F. Horwood, is ook vrygespreek. Onreëlmatige optrede is egter toegeskryf aan die sekretaris van die departement, Eschel Rhoodie. Hy is later tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnjis, maar dit is op appèl tersyde gestel. Volgens die verslag het Mulder oorsee lenings aangegaan sonder om die Tesourie daarvan in kennis te stel en groot bedrae staatsgeld aan 'n Nasionale Party-ondersteuner geleen om opposisie-koerante mee te koop.

Mulder het in April 1970 teruggeslaan deur te beweer dat Vorster en Horwood gelieg het toe hulle voorgegee het dat hulle niks van die koerantprojekte geweet het nie, asook dat die voormalige staatspresident, dr. N, Diederichs, gereeld met hom samesprekinge daaroor gevoer het. In Junnie het Erasmus sy finale verslag ter tafel gelê, waarin verklaar is dat Vorster wel van die onreëlmatighede geweet het. Vorster het gevolglik as staatspresident bedank.

--- --- ---

P.W. Botha, 1978-1984: die soeke na 'n nuwe rigting

P.W. Botha het gou sy administratiewe vaardigheid getoon deur die regeringstruktuur te hersien - nie soseer deur die getal staatsamptenare te verminder nie (wat hy wel probeer doen het), maar deur te verseker dat 'n groter deel van die staatsake van belang deur die kantoor van die eerste minister gekanaliseer word. Sleutelposisies is ook gevul deur manne aan wie se politieke en administratiewe aanleg hy waarde geheg het.

Daar was 'n sterk neiging tot sentralisering, wat goed geïllustreer word deur die aanstelling van genl. Magnus Malan as minister van Verdediging nadat Botha self dié amp nog 'n jaar lank behou het nadat hy premier geword het. Daar is beweer dat die Staatsveiligheidsraad, waarin Malan onder die nuwe eerste minister 'n belangrike rol gespeel het, die magte van die kabinet self begin oorneem het. Dié bewering is deur die lede van die raad ontken, maar dit is  begryplik dat agterdog gewek kon word deur 'n komitee wat in die naam van staatsveiligheid besluite neem waarvan net sommige lede van die kabinet kennis dra.

Die nuwe eerste minister was van plan om belangrike hervormings in die ekonomie aan te bring om die toenemende maatskaplike krisis weens die bevolkingsontploffing in die Swart gemeenskap die hoof te bied. Dit het gelei tot 'n ontmoeting met sakemanne in November 1979 in die Carlton-Hotel in Johannesburg om samewerking in dié taak te vra. Om ideologiese redes het die vorige regering ontwikkeling in die Swart stedelike woonbuurte laat stagneem, in die hoop dat die ware ontwikkelling in die tuislande sou plaasvind, maar ontwikkeling in die tuislande is nie met genoeg ywer aangepak nie. Dié versuim was veral ernstig wanneer in ag geneem word dat die Vorster-regering teen die einde van die sestigerjare groot voorspoed geniet het, wat in die vroeë sewentigerjare gevolg is deur 'n sterk styging in die goudprys.

Hoewel 'n ander indruk soms geskep is, het Botha nie werklik probeer om van die breë strategieë van die Tomlinson-kommissie af gte wyk nie. Toe die howe bv. in sake oor instromingsbeheer uitsprake gelewer het wat stedelike Swartmense begunstig, het die regering nuwe wetgewing ingedien om die skuiwergate in die stelsel van instromingsbeheer te sluit. Sulke uitsprake was o.m. dié in die Komani- en Rihoto-saak van onderskeidelik 1980 en 1981. Die Komani-saak het gegaan oor die reg van getroude vroue om by hul mans in die stad te woon, en die Rikhoto-saak oor die beginsel dat 'n kontrakarbeider wat tien jaar lank by dieselfde werknemer in diens is, daardeur die reg verkry om in die stedelike gebied te woon, al het hy sy dienstyd onderbreek deur jaarliks met verlof huis toe te gaan.

Terselfdertyd het die regering deur die Riekert- en Wiehahn-kommissies (sien paneel hierna) begin met 'n poging om werkvoorsiening vir Swart arbeiders te vergemaklik en om vakbondregte aan hulle toe te ken.

--- --- ---

Die Riekert- en die Wiehahn-verslag

Die verslag van die Riekert-kommissie van 1979 het teruggegryp op gedagtes van die Holloway-kommissie van 1932 deur die aanbeveling dat die regering die ontwikkeling van 'n stedelike Swart kleinburgery behoort te bevorder, maar dit duidelik apart moet hou van die trekarbeider-element, waarvan die basis in die tuislande moet bly. Riekerthet van die Tomlinson afgewyk vanweë die kritieke tekort aan mannekrag in die land. Teen die sewentigerjare was dit duidelik dat indien Suid-Afrika die groot getal Swart mans en vroue wat die arbeidsmark betree van wek wil voorsien, 'n jaarlikse groeikoers van 5 persent nodig sou wees. Met dié behoeftes in gedagte het die Riekert-kommissie 'n makliker vloei van Swart arbeid van een arbeidsdistrik na 'n ander aanbeveel, asook die skrapping van die vereistes dat die stedelike "gekwalifiseerde" immigrant binne 72 uur werk moet kry. Dié wat nie kwalifiseer nie, sou egter deur "vergaderpunte" op die grense van die tuislande moet beweeg, sodat die vloei uit die tuislande baie presies ooreenkomstig die vasgestelde werkgeleenthede in bepaalde distrikte gereguleer kan word.

Die taak van die Wiehahn-kommissie (ook van 1979) was om dit vir Swartes met regte in die stedelike gebiede makliker te maak om werkgeleenthede te vderky. Die kommissie se aanbevelings het gelei tot die skepping van 'n Nasionale Mannekragkommmissie om die arbeidsvloei te ondersoek en te reguleer. 'n Nywerheidshof is ook ingestel wat sake oor nywerheidsverhoudinge moes verhoor om die wrywing te verminder wat sou kon voortspruit uit 'n verdere aanbeveling van die kommissie, nl. die uitbreiding van gesamentlike onderhandelingsregte na Swartes.

--- --- ---

Die uitbreiding van gesamentlike onderhandelingsregte na Swartes was 'n groot stap wat reeds in die Tweede Wêreldoorlog deur die Smuts-regering oorweegt en toe verwerp is, soos ook gereeld deur die Nasionale Party daarna. Nou het Swartes met stedelike regte egter die reg gekry om hul eie gesegregeerde vakbonde te stig. In 1981 is dié reg na kontrakarbeiders uitgebrei, en gemengde vakbonde, wat in 1956 verbied is, is weer gewettig. Vanweë die neiding onder Swartes om hul vakbonde nie te registreer nie, is daar ook bepaal dat selfs ongeregistreerde vakbon de verplig sou wees om aan die registrateur van vakbonde toegang tot hul persele, boeke en ledelyste te gee.


Bevolkingsverskuiwings, inflasie en droogte

Die regering het die nuwe bedeling vir stedelike Swartes beskou as deel van 'n groter beleid van nywerheidsuitbreiding waardeur nie net die desentraliseringsbeleid van die Vorster-era bevorder sou word nie, maar waardeur ook bestaande infrastrukture benut sou kon word. Nywerhede sou aan bestaande arbeidsbronne in die tuislande gekoppel word, sodat die tuislande regstreeks tot hul produktiwiteit kon bydra en daaruit voordeel trek. Aanvanklik was die grootste ontwikkelings in Transvaal en Noord-Natal, maar teen 1982 het die regering begin besef dazt die grootste depressiegebiede in Oos-Kaapland langs die grense van Transkei en Ciskei is en die klem is dus na dié gebiede verskuif.

Die regering het die skepping van nog "Soweto's" binne die tuislande beplan om dié nuwe nywerheidsgebiede van arbeid te voorsien. 'n Noodsaaklike aspek van dié beleid was 'n bereidwilligheid om enorme bedrae geld aan die tuislande uit te betaal in die vorm van belastings op die lone van Swartes wat in die Republiek werk, die kanalisering van ontwikkelingsfondse na die verskillende tuislande se ontwikkelingskorporasies en banke en regstreekse finansiële toewysings om die tuislande solvent te hou.

In ruil vir dié ontwikkelings-"hulp" (soos dit amptelik beskou is) moes die tuislande onafhanklikheid aanvaar en binne hul grense groot getalle Swartes toelaat wat in Suid-Afrika gewoon het maar vir sy arbeidsbehoeftes oortollig was. Die meeste van die 3,5 miljoen mense wat sedert 1960 verskuif is, is ná die beëindiging van di e woonarbeidstelsel van plase "gerepatrieer". Baie ander gedwonge verskuiwings was die gevolg van die opruiming van sg. "Swart kolle" (konsentrasies Swartes in oorwegend Blanke gebiede, dikwels op plase waarvoor die oorspronklike Swart eienaars goeie pryse vir besitreg betaal het voordat verdere aankope onwettig gemaak is). Groot ontbering is gely in gebiede soos die Mfengu-nedersetting op die Clarkson-sendingstasie naby Humansdorp, waar die inwoners al sedert die dertigerjare van die 19de eeu gewoon het en diep verbitter is deur hul gedwonge verskuiwing na die Keiskamma-vallei in Ciskei, die Presbiteriaanse nedersetting in die "Blanke strook" tussen Transkei en Ciskei, en die groep plase rondom Driefontein in Suidoos-Transvaal, wat sedert 1912 in die besit van Swartes was.

Die merkwaardigste aspek van die verskuiwings was die enorme omvang daarvan en die talle klein konfrontasies wat daardeur veroorsaak is. Dié verskuiwings kan vergelyk word met die 18de-eeuse opruimings in Skotland en die omheiningsbeweging in Engeland vanaf omstreeks 1760 as voorbeelde van onteiening deur 'n magtiger inherente groep, hoewel op veel groter skaal. 'n algemene kenmerk was die gebruik van laaigrawe om plakkernedersettings naby stede op te ruim, bv. dié langs Modderdamweg en by Unibell buite Kaapstad in 1977-1978. Die standpunt van die owerheid was dat die inwoners weet dat hulle die wet oortree (wat wel die geval was, hoewel dié wet nie op almal in die land van toepassing was nie), en dié behandeling dus verdien. Die naaste ekwivalente van die georganiseerde plakkerbeweging wat in Suid-Afrika in dié jare plaasgevind het, was die totstandkoming van die krotbuurte van landelike verhuisers in Suid-Amerika, veral die barriadas van Lima in Peru.

Hervestiging het 'n swaar las op sommige gebiede geplaas, wat so oorbevolk geraak het dat die bestaande landboupotensiaal nie in die vraag kon voorsien nie. Só 'n gebied was die distrik Hewu in Ciskei waarheen 50 000 mense op eie versoek van Herschel en Glen Grey verskuif is toe dié gebiede by Transkei i ngelyf is. Toe hulle na Hewu verskuif is, was dit 'n gebied met voortreflike landbougrond, waar die voormalige blanke boere winsgewende skaap-, bees- en graanboerderye opgebou het, maar binne twee jaar was dié gebied vanweë droogte en oorbeweiding van alle plantegroei gestroop. Duisende van die mense sou gesterf het as die regering nie gereeld rantsoene verskaf het nie.

Toestande in die Oranje-Vrystaat was ewe benard in die snel groeiende lokasie Onverwacht, suid van Bloemfontein, waar daar weldra 'n bevolking van ruim 100 000 was (afkomstig van plase in die provinsie), asook in die nog groter plattelandse agterbuurt Thaba Nchu (deel van Bophuthatswana) en veral in die tuisland QwaQwa aan die rand van die Drakensberge, waar meer as 200 000 mense in die vroeë tagtigerjare 'n bestaan moes maak met byna geen geleentheid hoegenaamd om te boer nie, geen nabygeleë nywerhede in die Republiek waarheen hulle kon pendel nie en net elementêre gesondheids- en welsynsdienste.

Die regering is gekortwiek deur 'n daling in die goudprys en 'n uitmergelende droogte. Goud het sy hoogtepunt bereik toe dit vroeg in 1980 teen meer as $850 per fyn ons verhandel is en die Tesourie 'n rekord-goudinkomste van R3,6 miljard besorg het, maar teen Junie 1982 het dit tot minder as $300 teruggesak en daarna slegs met moeite weer die $400-kerf gehaal. Vir die regering was dit besonder moeilik om te bepaal hoeveel hy kon bestee, veral in 'n tyd toe verdedigingsuitgawes voortdurend gestyg het vanweë die vrees vir toenemende buitelandse druk op die Republiek. In die algemeen het die Tesourie beheers opgetree - volgens sommiges té beheers in die goeie jare, gesien in die lig van die veelvuldige probleme in die slegte jare. 

Mielie- en graanoeste het in 1980-1981 alle rekords oortref, maar dit is in 1982-1984 gevolg deur die ernstigste droogte in menseheugenis - wat as agtergrond van die plattelandse verskuiwings gesien moet word. Ironies genoeg het die belastingbetaler gevind dat hy ná mielie-oorskotte die hand net so diep in die sak moes steek as ná mislukte oeste, weens 'n bemarkingsbeleid wat die staat genoodsaak het om oorskot-oeste aan te koop selfs al was daar geen hoop om dit weer verkoop te kry nie. Die gevolg was dat die staat die boere teen 1982 'n hele paar honderd miljoen rand geskuld het. Die Landbank, wat geld vir beleggings teen prima-rentekoerse aan die boere geleen het, het self só baie skuld by die handelsbanke gemaak dat die regering die boere se skuld in 1984 moes konsolideer - weliswaar teen 'n lae waardasie van hul grond - om 'n groot stroom bankrotskappe te verhoed.

Toe P.W. Botha in 1981 'n tweede byeenkoms met nyweraars in Kaapstad reël, was daar onder sakemanne 'n mate van ontevredenheid met die gebrek aan vordering met die beloofde hervormings. Hoewel die Riekert- en Wiehahn-kommissies die grondslae vir ekonomiese groei neergelê het, het die harde aspekte van die beleid nog bly staan. In die regering se guns moet gesê word dat daar in die maer jare ná 1982 wel verbetering in stedelike toestande was en nywerheidsontwikkeling wel by 'n paar sentrums in die tuislande begin het, maar nog nie op 'n genoegsame skaal nie.

Konsensus deur stryd: die grondwetlike debat van 1983-1984

In die middel van 1982 moes die regering slag bied teen 'n uitdaging van regs onder leiding van dr. A.P. Treurnicht, die Volksraadslid vir Waterberg en Transvaalse leier van die party. Die skeuring het om 'n kwessie van semantiek eerder as politiek gegaan, want nòg Treurnicht nòg die regering was hoegenaamd van plan om die mag uit Blanke hande te laat glip. Die Eerste Minister het hom in die openbaar ten gunste van 'n uiters beperkte mate van "gesonde magsdeling" tussen Blankes, Kleurlinge en Indiërs uitgespreek, en 'n week later het Treurnicht in die NP-koukus geweier om 'n mosie van vertroue in die Eerste Minister te steun. Twee-en-twintig lede van die koukus het daarna uitgestap. Hul poging om beheer oor die party in Transvaal te kry, is gefnuik deur knap strategie aan die kant van die Transvaalse uitvoerende bestuur. Dit het Treurnicht verplig om sy veldtog buite die party voort te sit en die Konserwatiewe Pary (KP) in 1982 te stig.

Dit was 'n veel groter skeuring as dié tussen Vorster en die Hertzogiete in 1969. In 'n beslissende tussenverkiesing vroeg in 1983 kon die NP nie die kiesafdeling Waterberg van Treurnicht herower nie en later het hulle ook die kiesafdeling Soutpansberg verloor nadat dit sittende lid, S.P. Botha, bedank het. Ná die skeuring was daar ook tekens dat paramilitêre organisasies soortgelyk aan die Ossewa-Brandwag van die veertigerjare onder die dekmantel van 'n Afrikaanse kultuurbeweging besig was om na vore te tree.

Die hewige politieke twiste tussen die Afrikaner-partye het beheerste onderlinge oorlegpleging oor 'n ander doelwit van die Botha-regering, nl. grondwetlike hervorming, feitlik onmoontlik gemaak. Die 1961-grondwet was op die Westminster-leer geskoei en is doelbewus so na as moontlik aan die Suid-Afrika-wet van 1909 gehou om die Engelssprekendes gerus te stel. Dit het konfrontasies tussen partye en belangegroepe in die hand gewerk in situasies waarin minder retoriek en rustiger besprekings tot groter voordeel van die land kon gewees het. In ander opsigte het dié grondwet egter eienskappe gehad wat besonder geskik was vir die omstandighede in Suid-Afrika, nl. 'n staatshoof wat bo die politiek staan, 'n wetgewende liggaam van twee huise (wat moontlik duur is, maar heroorweging moontlik maak) en 'n kabinet wat aan die kiesers verantwoordelik is.

Openbare mening was gepolariseer tussen Swart bewegings soos die Azanian People's Organisation (AZAPO), 'n Swart Bewussyn-beweging wat 'n nasionale konvensie sou bywoon slegs indien die ANC, PAC en Black People's Convention (BPC) ook kon deelneem en alle politieke gevangenes dadelik vrygestel word, en aan die ander uiterste die HNP en KP, wat net op 'n grondslag van territoriale skeiding die mag met Swartes, Kleurlinge en Indiërs sou deel. Inkatha, onder Buthelezi, sou - soos die meeste Swart organisasies in die lig van hul klaarblyklike getalle-oorwig - voorkeur gegee het aan 'n unitêre staat met 'n gewone meerderheid-demokrasie. Die Wetgewende Vergadering van KwaZulu, wat deur Inkatha oorheers is, het egter reeds deur sy aanvaarding in 1982 van die verslag van die Buthelezi-kommissie die beginsel van magsdeling binne die grense van Zululand en Natal gesteun en was boonop bereid om aan 'n nasionale konvensie deel te neem om op die minste 'n grondwet met ingeboude beskerming vir minderhede te bespreek.

Die Progressiewe Federale Party (PFP) onder dr. Frederik van Zyl Slabbert was in noue voeling met Buthelezi en het die Zululeier waarskynlik oorgehaal tot die idee van 'n konsosiasie-demokrasie waarop sy eie filosofie gegrond was. Dié gedagterigting berus op drie grondbeginsels: eerstens dat afsonderlike gemeenskappe afsonderlik verteenwoordig word in 'n regeringskoalisie waarin daar tussen gemeenskapsleiers oorleg gepleeg word voordat 'n beleid aan hul volgelinge voorgelê word; tweedens dat elke groep ooreenkomstig sy getalsterkte in die wetgewende liggaam verteenwoordig word, sodat selfs minderheidsgroepe van verteenwoordiging verseker sal wees en 'n veto-reg kry om die aanvaarding van heeltemal onaanneemlike wetgewing te blokkeer; en derdens dat elkeen "segmentele outonomie" sal hê, d.w.s. beheer oor sake wat net vir hom van belang is, bv. kultuur. Die PFP het 'n konsosiasie-regering nie as 'n wonder-oplossing beskou nie en het besef dat 'n nasionale konvensie geen kans op sukses sou hê tensy sekere wette wat vir die Swart gemeenskappe beledigend is en hul regmatige kanse belemmer, opgehef word voordat so 'n byeenkoms plaasvind nie.

Die Nuwe Republiek-Party, wat in die Natalse Provinsiale Raad in die meerderheid was, het die verslag van die Buthelezi-kommissie verwerp en het nie in magsdeling op provinsiale vlak belang gestel nie. Die Nasionale Party, wat die Konserwatiewe oor 'n veel meer gematigde vorm van magsdeling uitgedryf het, kon nie toelaat dat die Buthelezi-voorstelle slaag nie omdat dit sou beteken dat hy die inisiatief prysgee. Die feit dat sommige NP-lede, o.a. dr. Dennis Worral, vir die idee van 'n konsosiasie-demokrasie ontvang was, was egter 'n argument in die guns van onderlinge oorlegpleging tussen die partye voordat 'n referendum gehou word.

Aan die begin van sy bewind het P.W. Botha 'n parlementêre gekose komitee aangestel om die nuwe grondwet wat deur die Vorster-regering voorgestel is, in hersiening te neem. Die aanbevelings van dié komitee het in die 1979-sitting tot drie belangrike grondwetlike veranderinge gelei: die Senaat is afgeskaf, die staatspresident is gemagtig om op aanbeveling van die partyleiers twintig lede tot die Volksraad te benoem, en 'n Presidentsraad is geskep. Dié liggaam, met slegs adviserende bevoegdhjede, is deur die staatspresident saamgestel uit lede van die Blanke, Kleurling-en Indiërbevolkingsgroepe, maar nie die Swart gemeenskap nie. Die laaste twee stapple is deur die PFP teengestaan, veral die skepping van die Presidentsraad, omdat dit geen Swart lede sou hê nie. In 1982 het 'n komitee van die Presidentsraad met Worrall as voorsitter opdrag gekry om 'n grondwet op te stel. Dié komitee het 'n verslag uitgebring waarin 'n mate van aandag aan konsosiasie-beginsels geskenk is.

Die botsing tussen P.W. Botha en A.P. Treurnicht is op 'n spits gedryf deur die kwessie van magsdeling, en Worrall het na bewering in 'n private gesprek verklaar dat dit moontlik sou kan wees dat Swartes mettertyd by die nuwe grondwetlike bedeling ingesluit word. Dit was water op die meul van die KP. Worrall is na Australië gestuur as ambassadeur en 'n verkleinde grondwetkomitee (nou sonder twee van sy drie politoloë) het 'n tweede verslag uitgebring, wat in toon merkwaardig van die eerste verskil het. Dit het dieselfde gedagtes weerspieël as dié in 'n toespraak wat P.W. Botha op 30 Julie 1982 tydens die federale kongres van die NP in Bloemfontein gehou het. Die gedagte van 'n handves van regte wat heelwat steun in die Worrall-komitee geniet het, is verwerp. Die komitee was voorts só bekommerd oor die moontlike gevare van besprekings wat op die dooie punt uitloop dat dit die afskaffing van mosies van wantroue voorgestel het, asook dat die regering nie ná 'n geslaagde sensuurvoorstel verplig sou wees om te bedank nie.

Die opposisiepartye het in die referendum oor die regering se grondwetloike voorstelle geen kans gehad nie, o.m. omdat die vraag só geformuleer was dat sowel die Progressiewe as Konserwatiewe "nee" moes antwoord (maar om verskillende redes) en die regering in staat was om sy voorstelle as 'n gebaar van gematigde hervorming aan te bied. In sekere opsigte was dit gematigde hervorming, maar dit het nie tydens die veldtog om stemme duidelik geblyk dat Botha se grondwet-wetspntwerp van 1983** en Vorster se voorgestelde konsep van 1977 (wat die Konserwatiewe tevrede gestel het) op 'n paar wysiginge na hoegenaamd nie van mekaar verskil nie.

--- --- ---

**Die grondwet van 1983

Die nuwe grondwet het voorsiening gemaak vir 'n uitvoerende staatspresident wat indirek verkies word deur 'n kieskollege van parlementslede waarin die meerderheidsparty in die Blanke huis die beslissende seggenskap sou hê. Die staatspresident kon slegs met die instemming van al drie huise van sy pos onthef word. Daar sou drie wetgewende huise wees, nlo. 'n Volksraad vir Blankes, 'n Huis van Verteenwoordigers vir Kleurlinge en 'n Huis van Afgevaardigdes vir Indiërs, waarvan die lede op afsonderlike kieserslyste verkies sou word. Die aantal lede per huis is só bepaal dat die Volksraad meer lede sou hê as die ander twee huise saam. Sake rakende die Swart bevolking sou by die staatspresident berus. 'n Kabinet, wat oorkoepelend oor die afsonderlike ministersrade vir elke huis sou wees, sou aangestel word deur die staatspresident, wat in sy keuse nie beperk sou wees tot parlementslede nie. Die kabinet sou wetgewing indien. Die Presidentsraad sou behoue bly, maar die meeste van sy lede sou nou op 'n proporsionele grondslag deur die drie huise verkies word. 'n Minderheid sou deur die staatspresident aangestel word, van wie tien op advies van die popposisiepartye. Daar sou gesamentlike komitees wees om dooie punte op te los en daar is aanvaar (hoewel dit nie duidelik bepaal is nie) dat die opposisiepartye hier 'n rol sou speel. Die regstruktuur sou onveranderd bly. Voorts sou provinsiale en plaaslike bestuur hersien word in die lig van beraadslaging deur komitees wat nog nie hul take voltooi gehad het nie.

--- --- ---

Op 2 November 1983 is die regering se voorstelle met 'n oorweldigende meerderheid van twee derdes in die referendum aanvaar ná 'n propagandaveldtog van ongekende intensiteit in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse media.

Later is aangekondig dat Kleurling- en Indiërmening getoets sou word deur algemene verkiesings, nie referendums nie. Dit het die regering, wat nie seker was dat dié gemeenskappe sy beleid sou steun nie, ins taat gestel om 'n meningstoets oor die sentrale kwessie te vermy. Mettertyd het die verkiesings plaasgevind: vir die Kleurlinggemeenskap in Augustus 1984, toe die Arbeidersparty van Allan Hendrickse 'n groot meerderheid verkry het (die stempersentasie van 30); en vir Indiërs in September 1984, toe die Nasionale Volksparty van Amichand Rajbansi 'n klein meerderheid behaal het (die stempersentasie was 24). Nog in September is P.W. Botha as eerste uitvoerfende staatspresident verkies en het hy Hendrickse en Rajbansi aangestel as ministers sonder portefeulje in die eerste veelrassige kabinet in die geskiedenis van Suid-Afrika.

--- --- ---

'n Aanbevole leeslys voltooi dié hoofstuk en 'n beknopte bronnelys van algemene en biografiese en outogiografiese werke sluit die totale boek af.

--- --- ---

Radio DJ Short Course

Radio Omroeper Kort Kursus

R2095
Independent Candidates South Africa

Online Independent Candidate Course

R3499
How to understand Body Language and Facial Expressions

Online Body Language Course

R2095
Play social Table Tennis Pretoria

N4 Gateway Tafeltennis Klub Pretoria

R70