Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die prys van Vergeetagtigheid
Feitelik alles was al klaar vir Kersfees. Die hele gesin was baie besig, om al die werkies klaar te maak sodat kersdag vir hulle die gelukkigste dag van die jaar sal wees.
Elke kind het sy werk gekry, en elkeen het 'n aantal dinge gehad om te doen, en as hulle almal mooi saamwerk, sal hulle alles betyds klaarkry.
Geoffrey se werk was om al die pakkette af te lewer wat Moeder vir die bure opgemaak het.
"Jy moet nie een vergeet nie, Geoffrey," het sy gesê. "Hierdie pakkies mag 'n groot verskil maak vir sommige van hierdie mense of hulle 'n aangename Kersfees gaan hê of nie, daarom moet jy nie een vergeet nie!"
"Ek sal nie vergeet nie," het Geoffrey gesê, "Ek sal sommer dadelik aan die werk spring."
En hy is daar met sy fiets weg, swaargelaai van die pakkies. Na 'n rukkie was hy weer terug om nog 'n vrag te kom haal.
Alles het voorspoedig gegaan totdat Geoffrey van sy skoolmaats ontmoet het. Hulle het lekker gespeel, en Geoffrey het by hulle aangesluit.
Aangesien daar nog slegs twee pakkies by die huis was wat hy moes aflewer, het hy gemeen dat dit nie sou saak maak as hy vir 'n rukkie speel nie; hy kon mos die pakkies later in die aand aflewer, het hy gedink. En dis Kersfees, waarom kan hy nie maar 'n bietjie speel nie. "'n Mens kan nie al die tyd werk nie," het hy vir homself gesê.
Met die spelery het hy die twee pakkies skoon vergeet, en ook die tyd.
Hy het baie laat by die huis gekom, en ongemerk binnegegaan sonder om aan die pakkies te dink. Sy gewete het hom 'n bietjie gepla, want hy moes eerder huistoe gekom het om die ander met hulle werk te help.
Dit was al elfuur daardie aand toe Moeder toevallig die twee pakkies onder die kombuistafel sien.
"O, die ondeunde seun!" het sy uitgeroep. "Hier het hy mooi twee pakkies vergeet. Ek sal hom nou wakker maak en stuur om hulle te gaan aflewer."
"Moet hom liewer nie nou stuur nie," het Pappie gesê. "Dit het begin vries, en die pad is baie glad."
"Maar die pakkies moet vanaand afgelewer word," het Moeder gesê, en sy was vasberade.
"Nou goed," het Pappie gesê, "dan moet ons hulle maar self gaan aflewer as hulle vanaand moet gaan."
"Ja, laat ons dit doen."