
Bruce was die oudste seun van 'n Skotse lord, en die erfgenaam van sy Vader se landgoed. Voor sy eerste vertrek na die kosskool, het sy Vader met hom 'n gesprek gehad.
"Kom, laat ons 'n bietjie met die gang afstap," het sy Vader gesê; "daar is iets wat ek jou wil wys." Bruce het seker honderde kere in sy lewe deur daardie gang gestap - vir hom was dit doodeenvoudig 'n gang tussen die voorportaal en die danssaal die die ander end van die ou kasteel, maar nou, skielik, het dit 'n ander betekenis gekry.
"Kyk daar teen die muur," het Vader aan Bruce gesê, terwyl hy wys na die portrette wat hy maar altyd daar gesien het vandat hy 'n klein seuntjie was. Daardie portrette was die werk van 'n beroemde kunstenaar.
"Daardie manne," het Vader gesê, "is jou voorvaders. Nie een van hulle het ooit 'n oneerlike daad gedoen nie. As hulle kon praat, sou hulle aan jou sê dat hulle van jou verwag om in hulle voetstappe te wandel. Eendag, as die wêreld nog so lank sal staan, sal jou portret ook daar hang, en daar moet geen skande aan kleef nie. Die naam van die familie moet hoog gehou word."
Dit was al, maar Bruce het dit nooit vergeet nie. Op skool, op kollege, en in sy later lewe, het hy daardie portrette onthou, en dit het hom altyd weerhou van kleinsieligheid en gemene dade, en hom gemaan tot edelmoedigheid.
Dit sou 'n baie goeie ding wees as ons almal so 'n ervaring kon hê! Natuurlik is daar baie min van ons wat in kastele woon, en die portrette van ons voorouers is in 'n gewone album, of lê miskien in 'n kis op die solder. Die huise van deesdae het nie sulke portretgange nie, en in elk geval sal ons ander prente daar wil hang.
Maar almal van ons, kan, as ons wil, portrette in ons geheue ophang, van grootmoedige manne wat ons geken het, of van gelees het. Deur aan hulle te dink sal ons geïnspireer word om getrou te wees aan die goeie dinge. Wie sal ons daar plaas? Miskien die portret van ons liewe Moeder, van ons opofferende Vader, van 'n dapper sendeling, of die een of ander persoon wat iets moois gepresteer het.
Miskien kan ek julle 'n paar wenke gee.
Self sou ek begin met 'n paar van die vernaamste Bybelfigure. In die Ou Testament dink ek aan Moses, wat Israel uit die Egiptiese slawerny gelei het. En dan is daar Elia, die profeet wat so onverskrokke was in 'n tyd van groot afval. In die Nuwe Testament sal ek die apostel Paulus kies, die geloofsheld van sy tyd, en die apostel Johannes wat die Meester so lief gehad het.
Dan sal ek ook portrette hang van die groot hervormers, en ek sal begin met Wycliffe, genoem die morester van die Reformasie. En by sy groep sal ek Johannes Huss van Boheme, Martin Luther van Duitsland, en William Tyndale plaas - laasgenoemde het ons die Bybel in die Engelse taal gegee.
Onder die portrette van sendelinge sal dié van Wiliam Carey wees, die skoenmaker wat na Indië gegaan het, Hudson Taylor van China, en Dawid Livingstone en Robert Moffat, wat die evangelie in Afrika verkondig het. By hulle sou ek ook van die latere sendelinge plaas soos F.A. Stahl wat die evangelie aan die Indiane van die Amasone gaan verkondig het, en Kaptein Jones, wat hom nie laat afskrik deur die kanibale op die eilande in die suidelike Stille Oseaan nie.
Verder sal ek portrette ophang van manne wat bekend is vir hulle mensliewendheid, soos George Muller, wat so veel vir die wese gedoen het; William Booth, die stigter van die Heilsleër, Florence Nightingale, die beroemde verpleegster; Andrew Carnegie wie se naam in gedagtenis gehou word deur sy vrye biblioteke.
Maar ons moet nie die beroemde ontdekkingsreisigers vergeet nie - dapper manne soos Columbus, die ontdekker van Amerika; Sir Ernest Shackleton, en Admiraal Byrd, die suidpoolvaarders; en Kommandeur Peary, ontdekker van die Noordpool.
En ons kan gerus ook 'n paar portrette hang van groot staatsmanne wat hulle volk deur groot krisisse gelei het - manne soos Gladstone, eerste minister van Engeland, en Washington en Lincoln van Amerika.
Wat van sommige baanbrekers op die gebied van Wetenskap en die medisyne? manne soos Thomas Edison aan wie ons elektriese verligting te danke het; James Watt, die uitvinder van die stoommasjien; Mevrou Curie, die ontdekker van radium; en Marconi, die uitvinder van die radio.
Beroemde manne op industriële gebied verdien ook 'n plekkie - manne soos Henry Ford, die vervaardiger van motorkarre; Steinmetz, wat ons geleer het om elektriese krag te gebruik; en Einstein, die atoomnatuurkundige.
En wat van die groot digters soos Milton, die skrywer van Paradise Lost; Tennyson, die skrywer van daardie gedig wat alle seuns liefhet, The Charge of the Light Brigade; en Longfellow, die skywer van The building of the Ship, The Village Blacksmith, en ander gedigte wat ons op skool geleer het?
Ek weet dat daar sommige van julle is wat ontevrede voel as ons nie ook portrette van beroemde kunstenaars ophang nie, soos byvoorbeeld: Michealangelo, Raphael, en Rembrandt; en die volgende beroemde manne in die musiekwêreld: soos Johann Bach, Chopin, Beethoven en Handel.
Op die aarde! wat 'n klomp portrette! Dar is glad nie meer plek aan die muur vir almal nie, want daardie anderkantste muur is gereserveer vir die beroemdste portret van almal. Ek bedoel die portret van Jesus wat al die beroemde manne en vroue geïnspireer het, en aan Wie hulle hulle beroemdheid te danke het.
As ons Sy lewe sou neem as maatstaf van alles wat mooi en goed en edel is, en die portrette van die mense wat ons wil eer daarvolgens sou oordeel, wel, dan sou daar nooit niemand vereer word wat 'n gemene daad gedoen het nie. Net oos in die geval van Bruce, sou die gedagte aan daardie edele manne julle oook inspireer om julle lewens te wy aan take wat die moeite werd is.