
DEEL V
INLEIDING
Minder as twintig jaar ná die ontdekking van diamante is die wêreld se rykste goudveld by die Witwatersrand op die Transvaalse Hoëveld oopgestel. Die gevolglike toename in welvaart, grootskaalse immigrasie en vinnige industrialisering en verstedeliking het ekonomiese en sosiale strukture verander en politieke kwessies omvorm. Kapitalisme het 'n groot faktor in die lotgevalle van die subkontinent geword.
Die ontdekking van goud het die verhouding tussen die Britte en die Boere verander. In die laaste dekade van die 19de eeu het die konfrontasie tussen Afrikaner-republikanisme en die nuwe Britse imperialisme - in werklikheid 'n stryd om politieke en ekonomiese oppergesag - Suider-Afrika oorheers.
Tydens die Anglo-Boereoorlog, wat in Oktober 1899 uitgebreek het, was Suid-Afrika die naaste aan totale oorlog sedert die Mfecane/Difaqane. Dié verwoestende botsing, wat byna drie jaar lank geduur het, het begin as 'n rusie tussen die Blankes oor wie die mag sou behou, maar het ontwikkel tot ' n ware Suid-Afrikaanse oorlog, met verreikende gevolge vir al die bewoners van die gebied. Boonop het dit 'n groot invloed o p internasionale verhoudinge gehad.
Die nederlaag van die Boere het 'n hoofstuk van republikeinse onafhanklikheid afgesluit en die vestiging van Britse oppergesag in Suid-Afrika moontlik gemaak. Afrikaner-nasionalisme is egter nie gebreek nie. Die verwagtinge van Swartmense, Kleurlinge en Indiërs op vooruitgang ná die Britse oorwinning is nie bewaarheid nie. Die Blanke heersers in die herboude voormalige republieke en dié in die ouer Britse kolonies in Suid-Afrika het hul ekonomiese en politieke belange in 'n eenheidstaat saamgesnoer.
--- --- ---
Hoofstuk 13
Die voorspel tot die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1881-1899: A.M. Grundlingh
Hoewel die Eerste Anglo-Boereoorlog (1880-1881) gunstig vir die Transvalers afgeloope het, het dit geensins beteken dat hulle ten volle van Britse oorheersing bevry was nie. Trouens, die jare daarna sou deur afwisselende maar steeds toenemende spanning tussen Brittanje en Transvaal gekenmerk word. Terselfdertyd sou die ontdekking van goud in 1886 op die Witwatersrand 'n belangrike en selfs beslissende invloed op dié verhouding uitoefen.
Die skikking ná die Eerste Anglo-Boereoorlog (1880-1881)
Op diplomatieke vlak is betrekkinge tussen Transvaal en Brittanje met die Pretoria-konvensie van 1881 ingelui. Hoewel die konvensie die Britse anneksasie van Transvaal ongedaan gemaak en selfbestuur aan die gebied toegestaan het, is Transvaal as 'n Britse susereiniteit beskou, en 'n reeks voorwaardes het verhoed dat die staat in alle opsigte onafhanklik kon optree. Vir die Transvalers was dit 'n onaanvaarbare toedrag van sake, en in 1883 het 'n deputasie bestaande uit genl. N.J. Smit, ds. S.J. du Toit en die pas verkose president, Paul Kruger, na Londen vertrek om met die Britse regering oor die wysiging van die konvensie te onderhandel. Ofskoon nie aan al die eise van die afvaardiging gehoor gegee is nie (Transvaal kon bv. nie verdrae met ander state, behalwe die Oranje-Vrystaat, sluit sonder Britse goedkeuring nie en kon ook nie onbelemmerd na die weste uitbrei nie), het die ondertekening van die Londen-konvensie in 1884 beteken dat Transvaal voortaan weer as die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) bekend sou staan en vir alle praktiese doeleindes feitlik ten volle onafhanklik wees.
Namate die spanning tussen die ZAR en Brittanje in die negentigerjare opgelaai het, het die susereiniteitskwessie egter opnuut ter sprake gekom. Die Britse minister van kolonies, Joseph Chamberlain, het verkeerdelik op 'n tegniese punt aangevoer dat die Britse susereiniteit oor Transvaal nooit ten volle prysgegee is nie. Chamberlain se argument was polities geïnspireer, het geen regsgeldigheid gehad nie, en is as 'n voorwendsel gebruik om in die binnelandse en buitelandse sake van die ZAR in te meng.
Die ander state en kolonies in Suid-Afrika is ook in die vroeë tagtigerjare deur die verhouding tussen Transvaal en Brittanjke beïnvloed. Vanaf 1881 was daar die eerste keer sprake van 'n oorkoepelende Afrikanernasionalisme wat Afrikaners in Transvaal, die Vrystaat en die Kaapkolonie omvat het. Die Transvalers se stryd teen Britse imperialisme, soos versinnebeeld in die Eerste Anglo-Boereoorlog, het die brandpunt van 'n snel ontluikende nasionale bewuswording geword. Die Vrystaatse Afrikaners het hulle in hoë mate met die Transvalers se versetbeweging geïdentifiseer, terwyl Afrikaners in die Kaapkolonie 'n soortgelyke reaksie geopenbaar het wat veral uitdrukking gevind het in groter ondersteuning vir die Afrikanerbond. In die oorwegend Engelssprekende Natal is die opstuwende Afrikanernasionalisme met toenemende agterdog as 'n bedreiging vir Britse opperheerskappy beskou. Die verwikkelinge is egter gou deur die epogmakende ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886 oorskadu.
--- --- ---
Die ontdekking van die Randse goudrif
Oor die jare was daar verskeie persone wat aanspraak gemaak het op die eer om die ontdekker van die Witwatersrandse hoofgoudrif te wees, maar volgens die historikus M.S. Appelgryn, wat die teenstrydige aansprake noukeurig vergelyk het, moet dié ontdekking gekoppel word aan die bykans ongeletterde Australiese mynwerker, George Harrison.
Die gewaarwordinge en gevoelens wat met die ontdekking van goud gepaard gegaan het, is later treffend deur die mynpionier F.P.T. Struben beskryf. In 1929 het hy aan die Rand Daily Mail vertel:
"Imagine my joy, when, out of that little bit of rock, there came almost a teaspoonful of gold, the pan literally covered with it. I was so astonished at the quantity of metal, which was of a light yellowish tint, that I was still doubtful whether it was really gold. I set off at once at a rapid pace to my camp, and tested it with chemicals... It was then I realised I had found a vein of remarkable richness... I stood at my tent door alone. There was no one to speak to in the vast solitude of the silent veld... Then as I looked over the barren veld and desolate koppies I saw a vision of a goldbearing formation that would bring millions of capital into South Africa..."
Die goudvelde het inderdaad tot 'n dramatiese kapitaalgroei in Suid-Afrika gelei. Maar die glans van goud en die daarmee gepaardgaande kapitalistiese ontwikkeling mag ons nie verblind vir die ander, minder aantreklike aspekte daarvan nie: die kapitalisteise klas wat die rykste goudvelde ter wêreld ontwikkel het, het ook 'n groot proletariaat geskep.
--- --- ---
Die goudsoektog in Transvaal
Goud, die edelmetaal wat in die 19de eeu die verbeelding van die wêreld gaande gemaak het, het derduisende fortuinsoekers op drie vastelande besiel in hul onvermoeide soektog na rykdom. In Transvaal was daar reeds in die vyftigerjare hardnekkige gerugte van goudafsettings, en in 1853 het die Volksraad P.J. Marais, wat ook in Kalifornië en Australië na goud gedelf het, as amptelike goudsoeker aangestel. Marais het klein hoeveelhede spoelgoud in die Jukskeirivier opgespoor, die eerste goudvonds in die Witwatersrandgebied.
Goudkoors het Transvaal egter eers in die sewentigerjare werklik beetgepak met die ontdekking van goud op die plaas Eersteling naby Pietersburg in 1871 en die ontdekkings daarna in Oos-Transvaal by Lydenburg, Pelgrimsrust en De Kaap. Die Eerste Anglo-Boereoorlog het die prospekteerdery in die wiele gery, maar ná die oorlog het S.J. Minnaar goud in lonende hoeveelhede op die plaas Kromdraai, noord van Krugersdorp, gevind, en dié plaas is in 1885 as 'n openbare delwery geproklameer. Sekere geologiese kenmerke op Kromdraai het vermoedelik ook die aandag op ander dele van die Witwatersrand gevestig, o.m. op 'n gebied suidoos daarvandaan waar die broers H.W. en F.P.T. Struben reeds in 1883 met prospekteerwerk besig was. Die Strubens het in 1884 'n belowende rif ontdek wat hulle die Confidence Reef genoem het, maar dit het nie aan hul verwagtinge voldoen nie. Nietemin het dit talle goudsoekers na die Rand gelok, en voor die einde van 1886 het die epogmakende ontdekking van die rykste goudriwwe ter wêreld plaasgevind.
--- --- ---
Goud en verandering in die ZAR
Hoewel goud reeds sedert die sewentigerjare veral in Oos-Transvaal gedelf is, was dit op 'n beperkte skaal, en in 1885 het die ZAR slegs 'n skamele 0.03 persent tot die totale wêreldproduksie bygedra. Ná die ontdekking van die besonder ryk goudafsettings op die Witwatersrand het die ZAR (met 'n bydrae van 27,5 persent in 1898) tot die grootste enkele goudprodusent ter wêreld gegroei. Vir die Transvaalse regering het hierdie vonds uit 'n finansiële oogpunt op 'n geleë tydstip gekom. Terwyl die republiek voor 1886 'n sukkelbestaan gevoer het, het die toekoms nou rooskleurig gelyk. Die staatsinkomste het van slegs sowat £200 000 in 1885-1886 toegeneem tot £1,5 miljoen drie jaar later. Boonop het die belangrikheid van goud in die internasionale monetêre stelsel teen die einde van die 19de eeu vinnig toegeneem en die ZAR in nog 'n stewiger posisie geplaas.
Vir die onringende state en kolonies was daar ook ekonomiese voordeel in die ontdekking van goud, en veral die Kaapse spoorweë en hawens het daarby baat gevind. Terselfdertyd het die Kaapkolonie egter sy posisie as die ekonomies toonaangewende staat in Suid-Afrika verloor en het die swaartepunt na Transvaal verskuif. Die feit dat 'n ou, gevestigde Britse kolonie op ekonomiese gebied deur ' n Boererepubliek oortref is, sou bydra tot die bittere politieke stryd in die laaste dekade van die 19de eeu.
Die Transvaalse goudmyne was die rykste ter wêreld, maar ook die moeilikste om te ontgin, want die gouddraende rots het honderde meter diep gelê en boonop was die goudinhoud van die erts besonder laag. Dit het spoedig geblyk dat individuele delwers nie opgewasse was vir die ontginningstaak nie en dat die rykdomme slegs deur diepskagbewerking en groot kapitaalkragtige maatskappoye met die nodige tegniese vaardigheid ontgin kon word. Skatryk sakemanne soos Cecil John Rhodes en Barney Barnato, wast reeds op die Diamantvelde 'n fortuin gemaak het, het egter nou die Witwatersrandse goudveld betree en aansienlike bedrae in die goumynbedryf gestort. Terselfdertyd is oorsese kapitaal, oorwegend uit Brittanje en Amerika, maar ook in mindere mate uit Duitsland en Frankryk, in die goudmyne belê.
Die onafhanklike delwer het dus weldra van die Randse goudvelde verdwyn. Dié ontwikkeling i s aangehelp deur die ZAR se Goudwet van 1886, wat nie slegs aan die staat politieke beheer oor die goudvelde gegee het nie, maar ook die proses van amalgamasie van mynbelange wetlik en administratief vergemaklik het. Die amalgamasie van kleiner myngroepe was dan ook aan die orde van die dag en teen 1895 is die toneel deur 'n klein aantal groot, monopolistiese maatskappye oorheers: die Wernher-Beit-Eckstein-groep, die Consolidated Goldfields, die Barnato-groep, die J.B. Robinson-groep, die S. Neumann-groep, die Albu-groep, die A. Goerz-groep, die Anglo-Franse groep en die Lewis-Marks-groep. Rhodes se Consolidated Goldfields was een van die belangrikstes van dié groepe.
Die aard van die Witwatersrandse goudmyne, en veral die lae gehalte van die erts, het beteken dat die kostestruktuur noukeurig beplan moes word en dat die bedryf weens die vasgestelde goudprys slegs lonend kon wees indien die produksiekoste tot 'n minimum beperk kon word. Een belangrike manier waarop besnoei kon word, was om die arbeidskoste so laag as moontlik te hou. Die daarstelling van 'n goedkoop, passiewe arbeidsmag was dus ' n prioriteit van die mynmagnate. Die grondslag vir die stryd tussen kapitaal en arbeid in Suid-Afrika is in hoë mate op die Witwatersrand, in samehang met die arbeidsituasie op die Diamantvelde, gelê. Vanaf die myne het die vraag na arbeid ook na ander sektore van die ekonomie uitgekring: paaie en spoorlyne moes gebou, hawens in die kuskolonies moes vergroot en nuwe geboue opgerig word. Die totstandkoming van nuwe markte op die goudvelde het ook tot 'n verhoogde landbouo-opbrengs en 'n gepaardgaande hoër vrfaag na plaasarbeid gelei, terwyl 'n toenemende getal vervaardigingsbedrywe, wat met die mynbedryf verband gehou het, arbeid vereis het.
Vir die Swart gemeenskappe ibn Suider-Afrika het dié ontwikkelinge 'n aansienlike ontwrigting van hul bestaande sosio-ekonomiese struktuur meegebring. Talle onafhanklike Swart kleinboere het trekarbeiders geword, wat op die lang duur dié gemeenskappe se selfonderhoudende en politieke mag benadeel het.
Die maatskaplike gevolge van dié industrialisering het ook die Blanke boerebevolking geraak. Van hulle kon nie die nuwe kapitalistiese bestel met sy radikale transformasie van sosiale patrone volkome ontsnap nie. Sommige verarmde Afrikaners het hulle mettertyd in die Goudstad bevind waar hulle deel van die laer Blanke arbeidersklas uitgemaak het. Soos die historikus C. van Onselen onlangs aangetoon het, het van die mans bakstene gemaak en allerlei soorte karweiwerk gedoen, en dit was ook nie lank voordat meisies uit sommige arm Afrikanerhuise in die uitgebreide prostitusienet op die Witwatersrand vasgevang was nie.
Vir die Kruger-regering was die veranderinge wat met die ontdekking van goud gepaard gegaan het, kennelik nie 'n onvermengde seën nie. Uit Brittanje, Amerika, Australië en Oos-Europa, asook uit die Kaapkolonie en Natal, het geskoolde mynwerkers, sakemanne en professionele persone na die Rand gestroom. Die presiese getal Uitlanders, soos hierdie mense genoem is, is nie bekend nie, want daar is nooit 'n sensus van al die republiek se inwoners gehou nie. Nietemin het daar 'n sterk moontlikheid bestaan dat die getal Uitlandermans weldra die manlike Boerebevolking sou oortref. Tussen veral die Britse Uitlanders en die landelke Boerebevolking was daar besliste kulturele en politieke verskille wat tot wrywing gelei en in intensiteit toegeneem het namate Brittane 'n al hoe groter belangstelling in Transvaal getoon het.
Benewens die vraagstuk van die stemreg vir Uitlanders, wat weldra 'n ernstige twispunt geword het, het die administrasie van die repupbliek ook heelwat kritiek ontlok. Die staatsapparaat van die ZAR was primêr ingestel op 'n landelike gemeenskap, en met die ontdekking van goud het die nodige mannekrag en kundigheid ontbreek om 'n snel groeiende industriële gemeenskap volkome doeltreffend te administreer. Bepaalde swakhede in die administrasie - hoofsaaklik nepotisme, waardeur "zoonen des lands" soms poste bekom het waarvoor hulle onbevoeg was, en die omkoopbaarheid van sekere amptenare - het dié situasie vererger. Vir die mynmagnate was dit onaanvaarbaar dat ' n ryk, ontwikkelende bedryf in die wiele gery word deur 'n bestuur wat na hul mening onbevoeg was. Wat hulle veral onthuts het, was die nadelige invloed op die pryse en kwaliteit van noodsaaklike goedere vir die mynbedryf wat deur die regering se stelsel van konsessies (in werklikheid staatsmonopolieë) meegebring is. Belangrike sake, soos die watervoorsiening van Johannesburg, die vervaardiging en verspreiding van drank en dinamiet en die aanbou van spoorlyne, is monopolisties beheer. Hierdie toedrag van sake het o.m. beteken dat die mynmaatskappye nie die pryse en gehalte van hul benodigdhede op die ope mark kon beding nie.
Kruger daarenteen het die konsessiestelsel as 'n belangrike wyse beskou waardeur die posisie van die regering versterk kon word. Sy strategie was om, as teenvoeter vir die vyandiggesinde mynmagnate in Johannesburg, kapitalistiese bondgenote te bekom wat deur die konsessiestelsel van hul welvaart afhanklik sou wees en op die ZAR dus peil kon trek.
Die Uitlanderleiers se ontevredenheid met die Transvaalse regering het in die negentigerjare al hoe groter geword en reeds in 1892 uiting gevind in die stigting van die Transvaal National Union (TNU). Charles Leonard, een van die Uitlanderleiers, het in 1895 namens hierdie organisasie 'n uitgebreide reeks griewe gepubliseer wat die Kruger-regering in ' n uiters negatiewe lig geplaas het. Hoewel dié griewe hoofsaaklik ekonomies van aard was, het politieke en kulturele oorweginge ook daarin voorgekom as bewys van die "totale" verdrukking wat die Uitlanders volgens die TNU moes verduur.
Dit is 'n ope vraag hoe verteenwoordigend van die Uitlanders die TNU werklik was, want in die Uitlandergemeenskap was daar diep verskille tussen die kapitaliste en die arbeidersklas, en selfs die lede van die kapitalistiese g roep se belange was nie altyd dieselfde nie. Van belang was egter dat die Uitlanderleiers deur organisasies soos die TNU die Kruger-regering onder druk geplaas en hul griewe tot 'n sentrale politieke kwessie tussen die ZAR en Groot-Brittanje verhef het.
Rhodes, Kruger en Brittanje tot 1895
Hoewel met reg aangevoer kan word dat materiële belange onderliggend was aan die stryd tussen Groot-Brittanje en die ZAR, is dit ongetwyfeld ook waar dat dié spanninge verhewig is deur die persoonlike verskille, vrese en ambisies van die onderskeie leiersfigure. Veral tussen Cecil John Rhodes en Paul Kruger was daazr hemelsbreë veerskille. Rhodes, wat in 1890 premier van die Kaapkolonie geword het, het sy miljoene op die Diamantvelde gemaak en was besiel met 'n imperiale visie vir Suid-Afrika. Kruger, daarenteen, was as president van die ZAR nie op dieselfde wyse behep met geldmag nie, en afgesien van die behoud van republikeinse onafhanklikheid het hy geen grootse ideale van Afrikaneroorheersing gekoester nie. In die praktyk het hierdie uiteenlopende gedagterigtings vergestalting gevind in Rhodes se poging om die ZAR met Britse grondgebied te omsingel, terwyl Kruger weer probeer het om sy staat se onafhanklikheid te bevestig deur pogings om 'n hawe vir die ZAR te bekom.
Rhodes was besorg dat uitbreiding van die ZAR die magsewewig tussen die Boererepoublieke en die Britse kolonies in Suid-Afrika kon versteur. Hy was daarvan oortuig dat 'n sterk ZAR 'n bedreiging vir Britse opperheerskappy sou inhou. Volgens hom sou dit veral die geval wees as die republieke 'n weg na die see verkry, aangesien dit die belangstelling van ander koloniale moondhede in die Suid-Afrikaanse kus kon aanwakker. Hier was Rhodes veral op Duitsland bedag, wat o.m. belangstelling in St. Luciabaai getoon het. 'n Eie hawe vir die ZAR kon ook die ekonomie van die Britse kolonies, wat ná die ontdekking van goud swaar op die invoerhandel na die ZAR gesteun het, ernstig benadeel. Die omringingsbeleid was dus daarop gerig om die Britse oppergesag in Suid-Afrika te verstewig, die politieke en ekonomiese belange van die Britse kolonies te beskerm en te verhoed dat Duitsland 'n invloedsfeer in Suid-afrika verkry.
In die uitvoering van sy beleid het Rhodes verkies om onafhanklik van die Britse regering op te tree. Hy wou die belange van die Britse Ryk uit die kolonies self - sonder die tussenkoms van Londen - bevorder. Daarom was hy daarteen gekant dat swak ingeligte Britse politici, wat dikwels net 'n kokrt tyd aan die roer van sake gestaan het, uitvoering moes gee aan die belangrike taak om 'n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag tot stand te bring. Na sy mening het hulle dikwels meer skade as goed gedoen, en Rhodes wou dus hê dat die Kaapkolonie die leiding moes neem in sy planne om Britse gesagsuitbreiding in Suid-Afrika te bewerkstellig.
Rhodes was ongetwyfeld in 'n gunstige posisie om te verseker dat sy grootse planne nie slegs droombeelde bly nie. Benewens die enorme geldmag wat gespruit het uit sy bykans volslae beheer oor die diamanthandel binne en buite Suid-Afrika en sy belange in die Witwatersrandse goudvelde, het hy gaandeweg ook formele politieke mag verkry. In 1881 het hy die lid vir Barkly-Wes in die Kaapse Parlement geword. Omstreeks dieselfde tyd het hy 'n houvas op die pers verkry, sodat sy politieke idees voortaan oor 'n breër front verkondig kon word. Voorts het Rhodes hom daarop toegespits om die steun van die Kaaplandse Afrikanerbond te werf. Hy was skerpsinnig genoeg om te besef dat die steun van dié politieke organisasie van groot waarde sou wees in die uitvoering van sy planne. Dié beleid het vrugte afgewerp, en in 1890 get Rhodes met die hulp van die Afrikanerbond eerste minister van die Kaapkolonie geword.
Met die eerste oogopslag mag samewerking tussen Rhodes en die Afrikanerbond vreemd voorkom. Rhodes was immers die aartsimperialis wat min simpatie met Afrikaneraspirasies gehad het, terwyl die Bond juis ontstaan het uit die ontluikende Afrikanernasionalisme ná die Eerste Anglo-Boereoorlog. Vir J.H. Hofmeyr, leier van die Afrikanerbond, was samewerking met Rhodes egter nie so onnatuurlik nihe. Hofmeyr was gekant teen politieke strominge wat die Blanke bevolking verdeel het en was van mening dat inmenging van die imperiale regering juis sulke verdeling in die hand gewerk het - 'n uitgangspunt wat gestrook het met dié van Rhodes dat die Kaapkolonie self, en nie Brittanje nie, die inisiatief in Suid-Afrika moes neem. Hofmeyr en Rhodes het ook die strewe na 'n verenigde, selfregerende Suid-Afrika gedeel, wat vir Rhodes vanselfsprekend en vir Hofmeyr noodwendig onder Britse vlag moes geskied. Hofmeyr was daarvan oortuig dat politieke konfrontasie met Brittanje sinloos en selfs rampspoedig sou wees en dat die politieke werklikheid in Suid-Afrika 'n mate van samewerking met Brittanje vereis het. Hierbenewens het Rhodes se kragtige bevordering van die Kaapse ekonomie (veral die landbou) die goedkeuring van die Kaapse Afrikaners weggedra, terwyl Rhodes en die Bond mekaar ook kon vind oor die kwessie van die verhoging van stemregkwalifikasies wat dit vir Swartes moeiliker sou maak om die stemreg in die Kaapkolonie te bekom.
Reeds voordat Rhodes Kaapse premier geword het, het hy daarin geslaag om republikeinse uitbreiding die hoof te bied. In dié verband het woelinge aan die wesgrens van die ZAR in 1882-1884 aan hom 'n uitstekende geleentheid gebied. 'n Aantal Blanke vrywilligers het betrokke geraak by die onderlinge twiste tussen 'n viertal Swart kapteins in Betsjoeanaland, en uit die gebiede waarmee dié vrywilligers beloon is, het die republiekies Gosen (1882) en Stellaland (1883) ontstaan. Onrus het egter voortgeduur, en die ZAR het gereken dat die oplossing daarin lê om die pro-Transvaalse kapteins, Moshette en Massouw, onder republikeinse gesag te bring. Terselfdertyd is gehoop om ook Stellaland en Gosen by die ZAR in te lyf en so die deur vir verdere weswaartse uitbreiding oop te hou. Hierin het Rhodes die gevaar van 'n verstandhouding tussen die Duitsers in Suidwes-Afrika en die Boere in Transvaal gesien, asook 'n bedreiging van die handelsroete na die noorde. Met die hulp van sir Hercules Robinson, die Britse hoë kommissaris, het hy daarin geslaag om die imperiale regering te oortuig van die wenslikheid om Betsjoeanaland onder Britse beheer te bring. In 1884 het sir Charles Warren met 'n mag van 4 000 man Stellaland en Gosen geannekseer, en in 1885 is die hele gebied suid van die Moloporivier onder regstreekse Britse bestuur gebring, terwyl die res van Betsjoeanaland as 'n protektoraat geadministreer sou word. Hierdeur is die ZAR se uitbreiding na die weste geblokkeer.
Uitbreiding noordwaarts is ook gefnuik toe Rhodes se British South Africa Company in Oktober 1889 'n oktrooi verkry het met volle finansiële en administratiewe verantwoordelikheid oor Matabele- en Mashonaland. Hierdeur het Rhodes se maatskappy dié gebied vir Brittanje verkry sonder enige finansiële bydrae deur die imperiale regering. Kruger was bereid om die Transvaalse aansprake op die noorde vrywillig te laat vaar in ruil vir toegang tot die see deur Swaziland en Amatongaland na Kosibaai. Dit was een van Kruger se grootste politieke flaters, want die Londense Konvensie (1884) het geen beperking op Transvaalse uitbreiding na die noorde geplaas nie, terwyl uitbreiding na ander gebiede slegs met die goedkeuring van die Britse regering kon geskied.
Brittanje het ook opgetree toe dit blyk dat St. Luciabaai in die ooste moontlik in Transvaalse of Duitse hande kn val. Rhodes was nie regstreeks by dié stap betrokke nie, maar die optrede van die Britse regering het sy goedkeuring weggedra. Deur middel van die Nuwe Republiek, wat in 1884 tot stand gekom het op grond wat Boerevrywilligers van Dinuzulu ontvang het nadat hulle hom gehelp het om sy mededinger Zibhebhu te verslaan, kon die ZAR moontlik St. Luciabaai as 'n hawe bekom. Ook Duitsland het 'n volgehoue en lewendige belangstelling in St. Luciabaai getoon. Voordat die ZAR of Duitsland egter tot dade oorgegaan het, het Brittanje hulle voorgespring en die baai in 1885 geannekseer.
Die pogings van die ZAR om 'n hawe by Kosibaai te bekom, is ook gedwarsboom. Tydens die laat tagtigerjare was die situasie in Swaziland baie verward, hoofsaaklik vanweë die instroming van Blanke avonturiers. Dit was duidelik dat óf Transvaal óf Brittanje vir die wet en orde in die gebied sou moes sorg. In dié omstandighede het Kruger met die Britte begin onderhandel oor die uitbreiding van die ZAR se gesag oor Swaziland, en tussen 1890 en 1894 is drie konvensies gehou voordat finaliteit oor die Swaziland-vraagstuk bereik is. Die belange van Natal en die gevaar van nouer betrekkinge tussen Transvaal en Duitsland was deurslaggewende faktore in die Britse diplomasie. Toe die moontlikheid opduik dat die ZAR in besit van Kosibaai kon kokm, het die Natalse regering dadelik heftig geprotesteer omdat 'n hwe noord van Durban hul handel met die Rand ernstig kon benadeel. Eweneens het die ontluikende vriendskap tussen Duitsland en Transvaal en die hernieude belangstelling van Duitsland in die Suid-Afrikaanse kus die skaal nog swaarder teen Transvaal gelaai. Hoewel die ZAR met die derde konvensie die reg verkry het om sy jurisdiksie oor Swaziland uit te brei, is die republiek ontnugter toe Brittanje kort daarna (in 1895) die Transpongola-gebied annekseer en 'n protektoraat oor Amantongaland afkondig.
Deur die ZAR ook die moontlikheid van uitbreiding na die ooste te ontneem, was die Britse omsingeling voltoooi. Dié beleid was nogtans nie volkome geslaag nie. Delagoabaai het nog steeds aan die ZAR 'n geleentheid gebied om 'n nie-Britse hawe te gebruik, en daarom het Rhodes herhaalde pogings aangewend om Delagoabaai in te palm. In 1894 is die spoorlyn tussen Pretoria en die Portugese hawe egter voltooi en het die republiek 'n weg na die see bekom. Rhodes het dus daarin geslaag om Transvaal 'n eie hawe te ontsê, maar hy kon nie daarin slaag om die ZAR volkome afhanklik van Britse hawens te maak nie en die republiek só geleideloik in die Britse kamp dwing nie. Om die republiek regstreeks onder Britse invloed te plaas en 'n Britse federasie in Suid-Afrika te bewerkstellig, moes ander planne beraam word.
--- --- ---
Stemreg vir die Uitlanders
Hoewel die Uitlanders 'n amaorfe, heterogene groep was en lank nie almal ewe begaan daaroor was dat hulle geen politieke seggenskap in die republiek gehad het nie, het die meer uitgesproke onder hulle reeds gou begin om op die stemreg aan te dring. Hulle het aangevoer dat hulle primêr vir die ontginning van die ZAR se rykdomme verantwoordelik was en dat hul toenemende getal dit noodsaaklik gemaak het om aan hulle mede-seggenskap in die landsbestuur te gee. Vir Kruger, wat in 1888 tot president herkies is, het hier die gevaar gelê dat pro-Britse Uitlanders die beheer van die republiek kon oorneem. Andersyds het hy en sy regering egter ook besef dat hulle op die lang duur nie bloot die eise van die Uitlanders kon ignoreer nie. Boonop sou Uitlanders ná 'n verblyf van vyf jaar in Transvaal aan die naturalisasievereistes van die ZAR voldoen. Daarom het Kruger dit raadsaam geag om aan die Uitlanders 'n mate van pollitieke seggenskap te gee, maar op so 'n wyse dat die status quo nie bedreig word nie. In 1890 is dus 'n Tweede Volksraad ingestel, en Uitlanders wat reeds twee jaar genaturaliseer was, het die stemreg vir hierdie liggaam verkry. Die Tweede Vollksraad het egter slegs seggenskap gehad oor sekere sake rakende Johannesburg en die mynwese, en wetsontwerpe van dié liggaam kon slegs wet word nadat dit deur die Eerste Vollksraad goedgekeur is.
Terselfdertyd is die verblyfkwalifikasies vir stemreg vir die Eerste Volksraad van vyf na 14 jaar opgeskuif en is bepaal dat geen Uitlander onder die ouderdom van 40 jaar die stemreg sou ontvang nie. Die doel van dié wetgewing was om aan die Uitlanders ' n politieke uitlaatklep te gee, maar die beheer van die land ongeskonde by die Eerste Volksraad te laat. Ten spyte van die geringe geloofwaardigheid wat aan die Tweede Volksraad as legitieme pollitieke instelling geheg is, het die lede van dié liggaam hul werk met erns bejeën. Die meeste politiekbewuste Uitlanders het egter besef dat dit weinig meer as 'n weerligafleier was.
--- --- ---
Die Jameson-inval
Teen 1895 het toestande in Brittanje gunstiger geword vir kragdadiger imperiale optrede in Suid-Afrika toe die Unioniste-regering van lord Salisbury aan die bewind gekom en Joseph Chamberlain minister van kolonies geword het. Chamberlain was 'n uitgesproke imperialis en oortuig van die noodsaaklikheid van 'n Suid-Afrikaanse federasie binne die Britse Ryk. Chamberlain se imperialistiese beleid het op drie oorwegings berus: die ekonomiese ontwikkeling van die Ryk, die inskerping van die waarde van die Ryk by alle Britse onderdane en die bevordering van politieke eenheid binne die Ryk.
Die nuwe gees wat met die bewindsverandering in Brittanje vaardig geword het, het duidelik geblyk in September en Oktober 1895 ten tyde van die sg. driwwekrisis. Ná die voltooiing van die Delagoabaaispoorlyn het die Kaap deur 'n tariefverlaging probeer om soveel as moontlik van die Rand se spoorverkeer te behou. Die Kruger-regering het hierop gereageer deur die tarief op die Transvaalse deel van die Kaapse spoorlyn te verhoog en so die "nasionale spoorlyn" (die Delagoabaailyn) te beskerm. Hierop het die Kaapse spoorlyn goedere tot by die Vaalrivier per spoor vervoer en daarvandaan per ossewa na die Rand, sodat die verhoogde tarief op die Transvaalse deel van die spoorlyn uitgeskakel kon word. Kruger het skerp op hierdie stap gereageer deur eenvoudig die driwwe aan die Transvaalse kant van die Vaalrivier te sluit.
Die implikasies van die driwwekrisis was vir Rhodes van besondere belang en hy het met afwagting die verwikkelinge dopgehou. Hy is nie teleurgestel nie: die Britse regering het 'n sterk en dreigende standpunt teen Kruger ingeneem, en die ZAR was verplig om di e driwwe te heropen. Vir Rhodes was dit nou duidelik dat hy in hoë mate op die steun van die Britse regering kon reken.
Terselfdertyd het Rhodes besef dat sy omsingelingsbeleid van Transvaal nie ten volle geslaag was nie en dat hy nou meer regstreekse druk op Kruger sou moes uitoefen as hy sy ideaal van 'n Britse federasie en'n meer aanvaarbare administrasie in Transvaal wou verwesenlik. Gevolglik is besluit om direk in Transvaalse sake in te meng deur die beplanning van ' n Uitlanderopstand in Johannesburg wat sou saamval met 'n inval in Transvaal uit Pitsani in Betshoeanaland deur dr. L.S. Jameson, die administrateur van die British South Africa Company in Suid-Rhodesië. Hierdeur wou Rhodes Transvaal tot 'n selfregerende Britse kolonie omskep wat gewillig sou wees om tot 'n Brits-Suid-Afrikaanse federasie toe te tree.
Chamberlain het 'n dubbele rol in dié komplot gespeel. Amptelik het hy gepoog om hom daarvan te distaniseer, maar navorsers het onlangs oortigend bewys dat, hoewel hy geen direkte rol in die eintlike inval gespeel het nie, hy wel deeglik betrokke was deur selfs vir Rhodes te adviseer oor 'n geskikte datum vir die beplande opstand en hom ook te help om 'n afspringplek vir die beoogde inval in Betsjoeanaland te verkry.
Hoe belangrik dit ook al vir die bereiking van Rhodes se pollitieke ideale was om Transvaal by 'n federasie onder die Britse vlag te betrek, was dit nie noodwendig die enigste motief met die inval nie. Daar was vir Rhodes klaarblyklik ook 'n persoonlike winsmotief op die spel, want die sukses van die inval sou sy belange op die Witwatersrandse goudvelde kon bevoordeel. Rhodes het betreklik laat tot die goudbedryf toegetree. Terwyl die maatskappye wat eerste op die toneel verskyn het, die goudlae naby aan die oppervlak kon ontgin, moes ander maatskappye, o.m. dié van Rhodes, die gouderts veel dieper onder die oppervlak uithaal. Dit het uiteraard groter bedryfskoste en kleiner winsgrens beteken. Juis dié maatskappye is deur Kruger se mynboubeleid gekortwiek, en dit sou dus ook in dié opsig tot Rhodes se voordeel wees om 'n regeringsverandering in Transvaal te bewerkstellig.
--- --- ---
'n Mislukte komplot
Die reëlings vir die omverwerping van die republikeinse regering was onbekook, en die Jameson-inval het op 'n volslae fiasko uitgeloop. Terwyl Jameson ongeduldig op die Transvaalse grens gewag het, het die Uitlanderleiers aan die Rand onderling met mekaar en met Rhodes gebots oor die aard van die regering wat ná die beoogde staatsgreep ingestel moes word. Boonop het die gewone Uitlanders nie veel geesdrif vir gewelddadige optrede gehad nie en het hulle op die vooraand van 1896 eerder in 'n Nuwejaarstemming as 'n revolusionêre gees verkeer. Rhodes het dus besluit om van die inval af te sien, maar toe was Jameson reeds oor die Transvaalse grens. Vir Kruger was die inval nie juis 'n verrassing nie. James se troepe, wat veronderstel was om in die nag van 29 Desember die telegraafverbinding met Pretoria buite werking te stel, het die verkeerde drade geknip en die ZAR-regering was reeds die volgende oggend van die naderende invalsmag bewus. Op 2 Januarie 1896 is Jameson se mag by Doornkop, naby Krugersdorp, deur die republikeinse magte tot oorgawe gedwing.
Die ZAR het Jameson en sy helpers aan die imperiale regering uitgelewer, terwyl die Uitlanderleiers in Johannesburg gevange geneem en aangekla is. Van die belangrikste leiers is ter dood veroordeel, maar hul vonnisse is tot boetes van £25 000 elk versag. In Brittanje het 'n parlementêre kommissie van ondersoek Chamberlain van aandadigheid aan die komplot vrygespreeek, maar daar bestaan geen twyfel dat die kommissie - waarop Chamberlain self gedien het - gegewens verdoesel het nie.
--- --- ---
Joseph Chamberlain (1836-1914)
Chamberlain het hom reeds op 'n vroeë leeftyd as sakeman, stadsraadlid en later burgemeester van Birmingham onderskei. In 1876 is hy as lid van die Liberale Party tot die Britse Parlement verkies. Ná azanvanklike vinnige opgang het hy egter in onguns verval weens sy teenkanting van die eerste minister, W.E. Gladstone, se beleid oor Ierland.
Nege jaar lank het Chamberlain geen amptelike betrekking beklee nie. In dié tyd het sy denke oor die aard, invloed en toekoms van die Britse Ryk ontwikkel. Hy het 'n sterk voorstander van doeltreffende immperiale organisasie geword, en was van mening dat Brittanje se belange die beste deur federasie gedien kon word. Deels vanweë sy belangstelling in imperiale sake is Chamberlain in 1895 as minister van kolonies in die Unionisteregering van lord Salisbury opgeneem.
Kort ná sy ampsaanvaarding is Chamberlain betrek by Rhodes se skema om die Transvaalse regering met geweld omver te werp. Hoewel Chamberlain nie 'n aandeel in die inval as sodanig gehad het nie, bestaan daar geen twyfel dat hy ingelig en aandadig was aan die komplot nie.
Chamberlain en Rhodes se strategie en oogmerke het nie altyd presies ooreengestem nie. Chamberlain was versigtiger as Rhodes vir die gebruik van geweld, en hy was ook van mening dat Transvaal 'n Britse kolonie moes word, terwyl Rhodes tevrede sou gewees het met 'n "bevryde" republiek.
Met sy aanstellling van Milner as hoë kommissaris het Chamberlain verseker dat die druk op die ZAR sou toeneem. Chamberlain het Milner 'n vrye hand in Suid-Afrika gegee en hoewel hy nie met Milner se aanbevelings akkoord gegaan het nie, het hy hom tog deur die hoë kommissaris laat lei.
--- --- ---
Die reaksie op die Jameson-inval
Die mislukking van die Jameson-inval het verreikende gevolge gehad. Rhodes moes as premier van die Kaapkolonie bedank, want die Afrikanerbond het onverwyld sy steun aan hom onttrek en 'n nuwe politieke rigting ingeslaan. Tydens die driwwekrisis het Hofmeyr hom aan die kant van Rhodes geskaar, maar nou het hy hom al hoe meer met die verontregte Transvaal vereenselwig. Die Bond het, ten spyte daarvan dat dit as 'n pollitieke organisasie in 'n Britse kolonie trou aan die Britse kroon verskuldig was, weer by uitstek die verteenwoordiger van eksklusiewe Afrikanersentimente en -aspirasies geword. Hierdeur is die politieke skeidslyne tussen Afrikaans- en Engelssprekendes in die Kaapkolonie veel sterker as voorheen omlyn. Terwyl die Bond in toenemende mate die draer van 'n opbruisende nasionale gevoel onder die Kaapse Afrikaners geword het, is die South African League - 'n uitgesproke imperialistiese organisasie met die oogmerk om Britse opperheerskappy in Suid-Afrika te bevestig - vroeg in 1896 gestig. Die League het die Engelssprekende Progressiewe Party in die Kaapkolonie sterk gesteun.
In die algemene verkiesing van 1898 het die Progressiewe Party te staan gekom teen die meer gematigde Suid-Afrikaanse Party onder leiding van W.P. Schreiner en John X. Merriman, wat hulle nie met die nuwe militante imperialisme in Suid-Afrika kon vereenselwig nie. Met die hulp van die Afrikanerbond het die Suid-Afrikaanse Party naelskraap daarin geslaag om aan die bewind te kom. Oortuigde imperialistiesgesinde waarnemers het dié oorwinning as ' n gevaarteken vir die Britse oppergesag in Suid-Afrika vertolk en die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon dat die Britse posisie moontlik met wapengeweld gehandhaaf sou moes word.
Intussen het die Oranje-Vrystgaat nou ook nader aan Transvaal beweeg. In Maart 1896 is die republiekeinsgesinde M.T. Steyn met 'n oorweldigende meerderheid tot president verkies bo J.G. Fraser, wat meer na die Britsbeheerde Kaapkolonie geneig het. Die gedagte van nouer samewerking tussen die twee republieke het nuwe stukrag verkry en in Maart 1897 is 'n Politieke Verbond tussen die ZAR en die Vrystaat gesluit wat o.m. samewerking op militêre gebied behels het. Hierdeur is op formele vlak die grondslag gelê wat later tot die Vrystaatse deelname aan die Tweede Anglo-Boereoorlog sou lei.
Uiteraard was die reaksie op die inval die hewigste in Transvaal. Dit was nou duideliker as ooit tevore dat die onafhanklikheid van die republiek bedreig was, en die Kruger-regering het dus op groter skaal begin bewapen. Die Uitlanders is nog meer as tevore gewantrou en Kruger was teensinniger as ooit om werklike politieke mag aan hulle te gee. Sy ferm optrede tydens die inval het sy eie posisie versterk en sy steun onder die Boerebevolking verder laat toeneem. Van die burgers wat voor 1896 van mening was dat die Uitlanders toegeefliker behandel moes word, het nou bankvas agter Kruger gestaan. In die presidentsverkiesing van 1898 het Kruger dan ook 'n klinkende oorwinning oor sy meer toeskietlike teenstanders - Schalk Burger, Piet Joubert en J.G. Kotzé - behaal.
--- --- ---
Paul Kruger (1825-1904)
Republikeinse politiek tussen die Eerste en Tweede Anglo-Boereoorlog is in 'n hoë mate deur Paul Kruger oorheers. In dié tydperk is hy vier keer tot president van die ZAR verkies en sy pogings om die onafhanklikheid van sy staat te behou, het sy naam in die Suid-Afrikaanse geskiedenis as grondlegger en kampvegter vir Afrikaner-republikanisme verewig.
Op ekonomiese gebied het Kruger ná die ontdekking van goud voortdurend probeer om die nuutgevonde rykdom só aan te wend dat dit tot die voordeel van die gevestigde Boerebevolking sou strek. Staatkukndige vryheid en ekonomiese selfstandigheid was vir hom bykans sinonieme begrippe en het die basiese uitgangspunte van sy beleid gevorm. Daarom het hy 'n vorm van ekonomiese nasionalisme nagestreef, soos o.m. blyk uit die oprigting van 'n eie munt, 'n nasionale bank, 'n onafhanklike spoorlyn na Delagoabaai en die wyse waarop die goudbedryf beheer is tot voordeel van die regering.
Dit sou foutief wees om te aanvaar dat Kruger altyd die steun van al die burgers van die republiek geniet het. Ofskoon die Blanke boerderygemeenskap in die republikeinse samelewing betreklik homogeen was, was daar tog sosio-ekonomiese en politieke verskille. Daar het weliswaar nie formele politieke partye bestaan nie, maar opposisie van die burgers teen Kruger het hoofsaaklik om genl. Piet Joubert en die sg. "progressiewe" gesentreer. Hierdie teenkanting het omstreeks 1893 'n hoogtepunt bereik toe Kruger o.m. van outokratiese neigings beskuldig en sy konsessiebeleid en die aanstelling van Hollanders in staatsposte heftig gekritiseer is. In die verkiesing van dié jaar het sy teenstander, Piet Joubert, byna 47 persent van die uitgebragte stemme getrek. Kruger het sy posisie daarna verstewig.
In sy onderhandelinge met Brittanje het Kruger herhaaldelik met Milner gebots. Hoewel Kruger dikwels van Britse kant as nors, weerbarstig en onversetlik bestempel is, was hy in werklikheid bereid om inskiklik op te tree, soos o.m. blyk uit sy gematigde behandeling van die oortreders in die Jameson-inval. Kruger was in der waarheid 'n vernuftige politikus en 'n ruwe aristokraat, maar Milner het hom bloot as 'n slinkse, onverfynde teenstander met verouderde idees beskou.
--- --- ---
Die Jameson-inval het ook die betrekkinge tussen Duitsland en die ZAR beïnvloed. Die Duitse keiser, Wilhelm II, het aan Kruger 'n telegram van gelukwensing gestuur met die wyse waarop die republiek die aanslag afgeweer het. Hoewel die oogmerk van die Duitse telegram eerder was om Brittanje op diplomatieke vlak te intimideer en nie soseer om die republiek te ondersteun nie, het dit by die Transvalers die valse hoop gewek dat die ZAR in toekomstige krisisse op Duitsland as 'n bondgenoot sou kon reken.
Hoe verreikend die gevolge van die mislukte inval ook al was, vervaag die belangrikheid daarvan wanneer dit uit die perspektief van die meeste Swart inwoners van Transvaal beskou word. Selfs al het die inval geslaag, sou h ulle nog steeds in 'n ondergeskikte posisie as 'n bron van goedkoop arbeid verkeer het. Wat die Blanke gemeenskap betref, was die Jameson-inval egter 'n belangrike mylpaal op die pad na oorlog.
Die spanning laai op
Ná die fiasko van die Jameson-inval was dit vir Chamberlain belangrik om sy verlore prestige te herwin. Ook was dit duidelik dat 'n Britse federasie in Suid-Afrika slegs bewerkstellig sou kon word as die Britse regering self 'n aktiewe rol daarin speel deur druk op die ZAR toe te pas. Dit beteken nie dat Chamberlain bereid was om met voorbedagte rade op oorlog af te stuur nie. Hy sou verkies het om van voortdurende diplomatieke druk gebruik te maak, maar deels as gevolg van sy eie meedoënlose diplomatieke spel en - soos A. Porter in 'n onlangse studie aangetoon het - sy fyn orkestrasie van die openbare mening in Brittanje het die betrekkinge tussen Brittanje en die ZAR so vinnig versleg, dat Chamberlain nie langer in 'n posisie was om verwikkelinge volkome te beheer nie.
Chamberlain se eerste diplomatieke skuif was om Kruger vir samesprekings na Londen te nooi. Hy het dit as 'n geleentheid beskou om o.m. toegewings oor die Uitlander-stemreg te verkry, maar Kruger was nie bereid om Transvaal se binnelandse sake op 'n amptelike konferensie te bespreek nie, omdat dit die indruk sou wek dat die ZAR nie selfstandig beleidsake bepaal nie.
Vir Chamberlain was dit 'n diplomatieke terugslag, maar op hierdie tydstip het hy nog nie ander alternatiewe oorweeg nie. In die Britse laerhuis het hy profeties verklaar dat 'n oorlog met die republiek uitgerek, bitter en duur sou wees en dat die verbittering van 'n stryd wat die vorm van 'n burgeroorlog sou aanneem, geslagte lank sou voortleef. Hy het dus op die ingeslane weg van diplomatieke onderhandeling voortgegaan en hom nou op die Londense Konvensie van 1884 beroep as regverdiging vir direkte inmenging in Transvaal se binnelandse sake. Hiervoor het Chamberlain geen regsgronde gehad nie, maar dit het hom nietemin die geleentheid gebied om die republiek soos 'n kwasi-kroonkolonie te behandel en die druk op die ZAR te verhoog. Hy het veral probeer om die ZAR se betrekking met Portugal te manipuleer en ook beweer dat die republiek se wetgewing oor die toelating van vreemdelinge ingevolge die konvensie ongeldig was. Hoewel hierdie pogings van Chamberlain min tasbare resultate opgelewer het, het hy daarin geslaag om die republiek op diplomatieke vlak te verkleineer en bewys gelewer van die Britse vasbeslotenheid om die gang van sake in Transv aal te dikteer.
Om verdere uitvoering aan sy beleid te gee, het hy sir Alfred Milner in Maart 1897 as Britse hoë kommissaris na Suid-Afrika gestuur. Milner was 'n briljante administrateur en 'n uitgesproke imperialis.
--- --- ---
Alfred Milner (1854-1924)
Hoewel Milner in Duitsland gebore is, was sy ouers grotendeels van Britse afkoms. Ná regstudie in Oxford is hy in 1881 tot die balie toegelaat, maar het hom in die joernalistiek begeef, waar sy ywer oor imperialisme en sosiale hervorming weldra opgeval het. In 1887 is hy aangestel as die amptelike private sekretaris van G.J. Goschen, die Britse minister van finansies, en twee jaar later is hy op Goschen se aanbeveling tot direkteur-generaal van militêre finansies in Egipte bevorder. Milner het hom uitstekend van dié taak gekwyt en in 1892 het hy na Engeland teruggekeer as voorsitter van die Raad van Binnelandse Inkomste. Sy bekwaamheid, deeglikheid en aansien het daartoe bygedra dat hy in 1897 as 'n geskikte keuse vir die pos van hoë kommissaris in Suid-Afrika beskou is.
Milner was 'n uitgesproke en oortuigde imperialis vir wie die konsolidasie van die Britse Ryk die hoogste prioriteit was. Hy het nie bloot 'n onbeteuelde begeerte gehad om soveel as moontlik van die landkaart rooi te verf nie, maar was oortuig dat hegte politieke en ekonomiese bande vir die Britse Ryk noodsaaklik was in sy wedloop om oppergesag teen ander opkomende moondhede. Sy politieke filosofie het gewentel om sy onwrikbare geloof in die voordele van Britse oppergesag vir die hele wêreld. Daarom was dit vir hom van die allergrootste belang dat Suid-Afrika nie vir die Ryk verlore moet gaan nie.
Milner was ongetwyfeld 'n uitmuntende administrateur, maar hy het weinig aanvoeling gehad vir dié wat sy sienswyses nie gedeel het nie. Hy het nooit werklik probeer om sy teenstanders se standpunte te verstaan nie en in die onderhandelinge wat die oorlog voorafgegaan het, was hy dikwels neerbuigend en arrogant.
--- --- ---
In 'n tydperk waarin ander nywerheidslande Brittanje op ekonomiese gebied na die kroon begin steek het, was Milner oortuig van die noodsaaklikheid om die Britse posisie te verstewig en uit te bou en Suid-Afrika was volgens hom juis een van die swaksgte skakels in die imperiale ketting. Chamberlain het hierdie opvatting van Milner in hoë mate onderskryf, maar anders as Chamberlain was Milner dogmatieser en onbuigsamer. 'n Historikus soos G.H.L. de la May is trouens van mening dat die aanstelling van Milner feitlik die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog verseker het. Dit is 'n oorvereenvoudigde siening, maar Milner se koms na 'n gespanne Suid-Afrika het dit geensins makliker gemaak om 'n vreedsame oplossing te vind nie.
Aanvanklik is Milner gemaan om geduld te beoefen in die hoop dat Kruger se posisie sou verswak en dat die Transvaalse regering dan bereid sou wees om belangrike hervormings deur te voer. Ná Kruger se oorweldigende oorwinning in die presidentsverkiesing van 1898 het hierdie hoop egter vinnig vervaag. Vir Milner was dit 'n bewys dat daar geen sprake van daadwerklike hervorming in Transvaal was nie. Hierbenewens het hy ook al hoe meer tot die oortuiging gekom dat die Afrikaners in die republieke en kolonies besig was om gemene saak teen Brittanje te maak ten einde Afrikanerheerskappy in Suid-Afrika te bewerkstellig. Daarom het hy aan Chamberlain laat weet dat oorlog blykbaar die enigste oplossing was. Chamberlain was egter in dié stadium van mening dat die omstandighede in sowel Brittanje as die Kaapkolonie ongunstig was vir 'n drastiese stap. Ook het hy gehoop dat die Kruger-regering self as gevolg van vermeende interne swakheid tot 'n val sou kom. Milner, daarenteen, was bevrees dat verdere uitstel moontlik die Uitlanders van Brittanje kon vervreem.
Intussen het die Transvaalse regering probeer om die dreigende krisis af te weer deur tegemoetkomender teenoor die mynmagnate op te tree. 'n Industriële Kommissie van 1897 het verreikende ekonomiese konsessies aan die myne en die Uitlanders aanbeveel. Die Volksraad het uiteindelik dié voorstelle afgewater, maar die mynbedryf het tog gebaat by die verwikkelinge wat op die optrede van die Industriële Kommissie gevolg het. Die ZAR het ook pogings aangewend om die gehalte van die landsadministrasie op te knap. Die jong Jan Christiaan Smuts is bv. as staatsprokureur aangestel en hy het hom daadwerklik beywer om veral korrupsie onder die polisie aan die Witwatersrand te bekamp. Al hierdie pogings het egter weinig invloed op die breër verhouding tussen Brittanje en die ZAR gehad, soos o.m. sou blyk uit die sg. Edgar-insident van 1898, wat 'n hewige emosionele reaksie onder die Uitlanders veroorsaak het.
--- --- ---
Die Edgar-insident
In Desember 1898 is 'n Uitlander, Tom Edgar, in selfverdediging deur 'n Transvaalse polisieman, Bart Jones, geskiet terwyl hy in 'n beskonke toestand 'n ander Uitlander aangerand het. Gevoelens in die Uitlandergemeenskap was gaande oor die voorval en die saak het weldra ' n politieke kleur verkry. Die voorval is verkeerdelik voorgehou as moort op 'n Britse onderdaan en as 'n voorbeeld van die "ondraaglike" toestande waaronder die Uitlanders in Transvaal moes leef. Met die steun van die South African League is protesvergaderings gereël en'n petisie opgestel waarin Brittanje versoek is om in te gryp en Britse belange in Transvaal te beskerm. Sir William Butler, die waarnemende hoë kommissaris, het egter 'n nugter houding ingeneem en geweier om die klagskrif aan die Britse koningin te stuur. Hy het besef dat die Uitlanders se saak op wankele grone berus het en dat hulle beeld van toestande in Transvaal oordrewe was.
--- --- ---
Die Edgar-insident het plaasgevind terwyl Milner met tuisverlof in Engeland was. Die waarnemende hoë kommissaris, sir William Butler, was van mening dat daar onder die Uitlanders 'n groep onverantwoordelike opstokers was wat lustig die oorlogsvuurgestook het. Volgens hom het Suid-Afrika geen snykundige operasie of bloedlating nodig gehad nie, maar 'n ruskuur en vereniging van harte.
So 'n sienswyse was vir Milner totaal onaanvaarbaar en sy optrede ná sy terugkeer uit Engeland was duidelik op konfrontasie met die ZAR ingestel. Bemoedig deur die hoë kommkissaris se houding, het die Uitlanderleiers 'n tweede petisie opgestel waarin hulle hul griewe uiteengesit en op Britse bemiddeling aangedring het. Dié petisie met 21 000 handtekeninge het reg in Milner se kraam gepas. Hy het dit aan Chamberlain deurgestuur met die versoek om 'n onmiddellike reaksie voordat die opgesweepte Uitlanders moontlik kon afkoel en die geleentheid verlore sou gaan om politieke munt uit die situasie te slaan. Milner is gevra om groter trefkrag aan die klagskrif te verleen deur verslag te doen oor die toedrag van sake in Transvaal, sodat Chamberlain die openbare mening in Brittanje beter kon manipuleer en sy saak sterker in die Britse ka;binet kon stel. In dié verslag - die sg. "helote-telegram" van Mei 1899 - het ongenaakbare verdrukkers van duisende lojale Britse onderdane veroordeel. Die Uitlanders was volgens Milner feitlik in die posisie van "helote" (slawe), en dit het dringend noodsaaklik geword dat Brittanje tot hul redding kom deur die Kruger-regering tot aanvaarbare hervormings te dwing. Chamberlain het dié telegram as verdoemend beskou en hoewel hy sy bedenkinge oor die implikasies daarvan op die lang duur gehad het, het dit hom die geleentheid gebied om die Britse kabinet te oortuig om die Uitlanderpetisie te aanvaar.
Hiermee het die stemregkwessie amptelik - en ook vir die Britse publiek - die sentrale geskilpunt tussen die ZAR en Brittanje geword. Hoewel die Britse woordvoerders van tyd tot tyd ander sake, soos die soewereiniteitskwessie, die behandeling van Swartes in Transvaal en die gewaande bedreiging van Britse gesag deur 'n Afrikaner-komplot, as argumente teen die republiek sou gebruik, was dié sake nie naastenby van soveel belang as die stemregvraagstuk van 'n casus belli aan Brittanje te gee en die openbare mening in Brittanje gaande te h ou nie. Daarom was Milner hierna ook steeds daarop bedag om die inisiatief te behou. Enige vorm van toenadering tussen die Kruger-regering en die mynmagnate, soos die tentatiewe pogings van Smuts vroeg in 1899 om tot 'n onafhanklike vergelyk met die mynbase te kom, was vir Milner onaanvaarbaar.
Die Bloemfontein-konferensie en daarna
Die Kaapse regering onder premier Schreiner en pres. Steyn van die Oranje-Vrystaat, het te midde van die toenemende spanning probeer om sake te besleg deur 'n konferensie tussen Kruger en Milner in Bloemfontein te reël. Die konferensie het op 31 Mei 1899 begin. Vir Chamberlain, wat nog nie ten volle oortuig was van die wenslikheid v an oorlog as 'n oplossing vir die Suid-Afrikaanse probleme nie, het dit na 'n moontlike uitweg gelyk, maar hy het nogtans aan Milner 'n vrye hand in die onderhandelinge gegee. Milner het dus na Bloemfontein gegaan met die primêre doel om die saak vir Britse inmenging te versterk en Kruger in 'n hoek te dryf. 'n Eerlike en opregte soeke na 'n aanvaarbare skikking vir albei partye was nie Milner se eerste prioriteit nie. Op sy beurt het Kruger die konferensie in 'n meer toegeeflike gees benader, maar hy was nie bereid om voorstelle te oorweeg wat na sy mening moontlik die onafhanklikheid van die ZAR kon ondermyn nie.
Die stemregkwessie was die belangrikste besprekingspunt op die konferensie. Milner het geëis dat Uitlanders reeds ná 'n verblyf van vyf jaar in die ZAR sonder enige voorbehoude die stemreg moes verkry. Kruger was bereid om aan bepaalde voorwaardes, die stemreg te gee, en hy was van mening dat hy hiermee 'n aansienlike toegewing gemaak het, want dit het die bestaande periode gehalveer. Hoewel Milner privaat erken het dat dit 'n groot verbetering op die bestaande situasie sou wees, het hy dit nie as voldoende beskou nie en hy Kruger se aanbod beleef maar beslis van die hand gewys.
In Bloemfontein het twee wêrelde ontmoet en by mekaar verbygegaan: dié van die gesofistikeerde imperialis Milner, wat in toenemende mate op konfrontasie wou afstuur, en dié van die ongekunstelde, nasionalistiese Kruger wat vrede verkies het, maar nie tot elke prys nie. Dit is nogtans nie ondenkbaar dat Kruger en Milner mekaar kon gevind het oor die betreklike klein verskil in hul onderskeie eise vir die Uitlanders se verblyfkwalifikasies nie - indien Milner werklik daartoe bereid was. Maar dit was reeds te laat. Ná Milner se verwerping van die sewejaarvoorstel het Kruger bewoë uitgeroep dat Brittanje van hom verwag dat hy sy land aan vreemdelinge moet oorgee, terwyl Milner die konferensie kil afgesluit het met die woorde dat geen tasbare vordering gemaak is nie en dat daar geen verpligtinge op een van die twee partye rus nie. Chamberlain was ontsteld oor Milner se vinninge beëindiging van die konferensie, maar die hoë kommissaris het die samesprekings as blote vertragingstaktiek van die Boere afgemaak.
Die mislukking van die konferensie in Bloemfontein was nog 'n belangrike mylpaal op die pad na oorlog. Dit het die ZAR se vertroue in openhartige en opregte onderhandelinge met Brittanje vernietig en die moontlikheid van 'n vreedsame diplomatieke skikking 'n ernstige knou gegee. Onbewus van die spanning tussen Milner en Chamberlain, het die ZAR Milner se arrogante en aggressiewe houding as tiperend van die imperiale regering beskou. Terselfdertyd het die beskikbare opsies vir die Britse regering ook verminder. Ná Milner se ongenaakbare houding in Bloemfontein móés Brittanje toesien dat Milner se eise uitgevoer word, desnoods met geweld. Die alternatief - om Milner as hoë kommissaris te herroep, die Uitlanders se griewe te verontagsaam en af te sien van die ideaal van Britse opperheerskappy in Suid-Afrika - was in dié stadium, ná die oorweldigende publisiteit wat met die voorafgaande gebeure gepaard gegaan het, nie meer moontlik sonder om alle Britse geloofwaardigheid in te boet nie.
Hoewel die Britse agterdog en onversetlikheid verhoudinge erg vertroebel en die kanse op 'n suksesvolle skikking verminder het, was alle diplomatieke kanale nog nie gesluit nie. Kapenaars soos W.P. Schreiner en J.H. Hofmeyr en die Vrystater Abraham Fischer het Kruger nog voortdurend aangemoedig om in belang van die ZAR verdere kompromisse te soek. Kruger het hierna die sewejaarvoorstel so gewysig dat dit, anders as tydens die konferensie in Bloemfontein, volkome terugwerkend sou word: Uitlanders wat reeds sewe jaar in Transvaal gewoon het, sou dus onmiddellik die stemreg kon verkry. Chamberlain het dié toevoeging verwelkom, maar Milner het dit as 'n blufspel beskou en in Julie 1899 daarop aangedring dat die stemregbepalings deur 'n gesamentlike kommissie van die twee regerings ondersoek moet word, want dit sou beteken dat Brittanje tot arbiter oor die wetgewing van die republiek verhef word, met die verdere algemene implikasie dat alle interne sake van die republiek blootgestel sou wees aan regstreekse inmenging deur Brittanje.
Verdere diplomatieke skuiwe het gevolg toe Smuts in Augustus 1899 half-amptelik met die Britse agent in Pretoria, Conyngham Greene, onderhandel het oor die moontlikheid van bykomende toegewings mits die ZAR vooraf kon weet of dit deur Brittanje aanvaar sou word. Dié voorstelle, wat Smuts aangemoedig is om amptelik te maak, was verreikend. Dit het aan Milner se eis van 'n terugwerkende stemreg van vyf jaar voldoen, maar was onderhewig aan die Britse aanvaarding van uitdruklike voorwaardes ten opsigte van geen verdere inmenging in Transvaalse sake nie, arbitrasie van ander onopgeloste geskille tussen die ZAR en Brittanje en dat Brittanje sy susereiniteitsaanspraak oor die ZAR sou laat vaar. Die ZAR-regering het ook daarop gestaan dat die aanbod as 'n eenheid beskou moet word: die voorwaardes kon dus nie van die toegewings oor die stemreg geskei word nie. Die koppeling van dié twee aspekte was moontllik 'n stap van twyfelagtige wysheid, want dit het aan die Britse regering, en veral aan Milner, wat nie kon bekostig om die stemreg as casus belli te verloor nie, 'n uitkomkans gebied.
Chamberlain het op 28 Augustus op Smuts se voorstelle geantwoord en sy tevredenheid met die vyfjaarstemregplan uitgespreek, maar die gepaardgaande voorwaardes verwerp. Die regering van die ZAR het hierop sy spyt te kenne gegee oor die afwysende houding van Brittanje en as alternatief voorgestel dat hulle nou bereid was om die gesamentlike kommissie van ondersoek na die sewejaarvoorstel te aanvaar. Vir Chamberlain, en in die besonder vir Milner, sou dit egter 'n diplomatieke nederlaag beteken het, en hulle was nie bereid om enige voorstelle wat volgens hulle reeds deur die republiek se eie vyfjaarvoorstel as ontoereikend bewys is, te aanvaar nie.
Die diplomatieke onderhandelinge (wat terugskouend byna in 'n klugspel ontaard het omdat daar veral aan die kant van Brittanje geen werklike begeerte was om die posisie te beredder nie) het nou vinnig ten einde geloop. Vir Smits was dit reeds op 2 September duidelik dat Milner, met die steun van Chamb erlain, daarop ingestel was om óf die ZAR militêr te verower óf die status van die republiek langs diplomatieke weë feitlik tot dié van 'n Britse kolonie te verlaag. Ná die mislukking van die laaste, wanhopige poging van pres. Steyn om verder met Milner te onderhandel, moes Transvaal en sy bondgenoot, die Vrystaat, die onaangename feit in die gesig staar dat Brittanje geen vreedsame oplossing meer wou hê nie en dat dit tot die republieke se voordeel sou wees om tot die aanval oor te gaan voordat verdere Britse troepeversterkings hulle ook die militêre inisiatief sou ontneem.
Daarom het die republieke op 9 Oktober 1899 by wyse van 'n ultimatum geëis dat alle Britse troepe aan sy grense onttrek, troepeversterkings ter see herroep en alle versterkings tot die Britse leër sedert 1899 binne redelike tyd u it Suid-Afrika verwyder word. Die ultimatum sou op 11 Oktober om 17h00 verstryk en indien die regering van die ZAR nie voor dié tyd 'n bevredigende antwoord ontvang het nie, sou die republieke dit as 'n formele oorlogsverklaring beskou. Brittanje het reeds op 29 September self 'n konsep-ultimatum opgestel, maar die Boere se ultimatum het hulle uitstekend gepas: die republieke het nou immers na die aggressors gelyk, en die openbare mening teen hulle in Brittanje kon nog verder opgesweep word. Die ZAR is in kennis gestel dat daar nie aan die vereistes van die ultimatum voldoen sou word nie, en met die verstryking van die spertyd op 11 Oktober 1899 het oorlog tussen die Boere-republieke en Groot Brittanje 'n werklikheid geword - 'n oorlog wat sy skaduwee lank oor die 20ste-eeuse Suid-Afrika sou gooi en die lewe van Blank en Swart drasties sou raak.
Vertolkings van die oorsake van die Tweede Anglo-Boereoorlog
Hoewel 'n hele aantal imperialistiesgesinde Britse skrywers ten tyde van onmiddellik ná die Tweede Anglo-Boereoorlog die Kruger-regering vir die uitbreek van vyandelikhede geblameer het, is dié vertolking sedertdien heeltemal deur historici gediskrediteer. Jonger historici het tereg eerder probeer om vas te stel waarom Brittanje soveel druk op die ZAR uitgeoefen het dat die republiek uiteindelik tot die aanval oorgegaan het.
Vir sommige geskiedskrywers, soos A. Keppel-Jones, het die ware oorsaak van die oorlog gelê in die stemregvraagstuk en die ZAR se onwilligheid om aan Britse eise daaroor te voldoen. Volgens die dié siening het die Britse regering namens die Uitlanders die stryd teen Kruger aangeknoop. Soos hierbo aangetoon is, was die stemregvraagstuk inderdaad die sentrale geskilpunt tusssen Brittanje en die ZAR, maar die kwessie kan nie bloot op sigwaarde as die werklike rede vir die uitbreek van die oorlog aanvaar word nie. In belangrike werke oor die oorsake van die oorlog het o.a. G.D. Scholtz en J.S. Marais oortuigende bewyse gelewer dat die stemregkwessie bloot die punt van die ysberg gevorm het - 'n gewaande grief wat gerieflik gebruik kon word om die ZAR tot oorlog te dwing.
Wat het werklik agter die openbare uitsprake oor die stemregvraagstuk gelê? Verskeie historici, o.a. J.S. Marais en G.H. le May, het die breë antwoord op hierdie vraag gevind in die poging om Britse oppergesag in Suid-Afrika te bevestig. So beweer Le May, wat besondere klem lê op Milner se rol in die uitvoering van die Britse beleid, dat Milner vir Chamberlain oortuig en Chamberlain op sy beurt die Britse regering oortuig het dat die Britse oppergesag in Suid-Afrika in gevaar gestel sou word as Brittanje nie die mag van Transvaal breek nie. Teen 1895 was dit duidellik dat die goudmyne geensins gou uitgeput sou wees nie en nog lank ongekende rykdomme sou voortbring. Daarom is dit nie verbasend nie dat die Britse ministerie van koloniale sake gevrees het dat dié snel groeiende rykdom die republliek in 'n onaantasbare posisie kon plaas as dié toonaangewende staat in 'n moontlik verenigde Suid-Afrika, en dat Britse belange heeltemal ondergeskik sou wees in so 'n bedeling.
Vir Marais lê die kern van die saak eweneens in die Britse vasbeslotenheid om 'n onafhanklike, verenigde Suid-Afrika te voorkom; hoe langer die ZAR sy onafhanklikheid en rykdom behou h et, hoe groter was die risiko dat die Britse kolonies in Suid-Afrika van die Ryk sou wegdryf. Die ZAR was dus nie slegs 'n struikelblok vir Britse belange nie, maar inderdaad 'n wesenlike bedreiging.
Sedert die verskyning van dié historici se werke in die sestigerjare het hul vertolking besondere gewig gedra en mettertyd feitlik die standaardverklaring van die oorspronge van die Tweede Anglo-Boereoorlog geword. Sonder om die belangrikheid van Britse oppergesag te ontken, het kritici van hul werk egter vanaf die sewentigerjare aangevoer dat dié interpretasie nie volkome reg laat geskied aan die komplekse net van vervlegte belange en oorweginge wat tot die uitbreek van die oorlog gelei het nie. So beweer Shula Marks en Stanley Trapido dat veral Le May te eng op Milner se karakter en persoonlike obsessie gekonsentreer het, sonder om die aard van "Milnerisme" as 'n uitdrukking van laat 19de-eeuse imperialisme op 'n ideologiese en praktiese vlak genoegsaam te ontleed. Hierdeur is die onmiddellike oorsake van die oorlog gestroop van die strukturele konteks waarbinne dit gestalte gevind het. Bowendien behels die term Britse "oppergesag" volgens dié skrywers 'n hoë mate van en behoort dit indringender ondersoek te word ten einde 'n oortuigende inhoud en betekenis daaraan toe te ken.
Veral die rol van goud in die internasionale ekonomie behoort in dié verband hoër prioriteit te geniet. Vanweë toenemende Amerikaanse en Duitse mededinging en die oorskakeling van die internasionale monetêre stelsel na die goudwisselstandaard het Brittanje se sentrale posisie op die internasionale geldmark teen die einde van die 19de eeu al hoe meer in gedrang gekom en het dit vir Brittanje noodsaaklik geword om sy goudreserwes aan te vul. Hoewel dit natuurlik nie die enigste oorweging was wat tot oorlog gelei het nie, het onsekerheid oor die Britse goudreserwes volgens Marks en Trapido 'n belangrike rol gespeel. In die gespanne negentigerjare kon geen Britse staatsman die risiko loop dat die toekoms van die Suid-Afrikaanse mynwese bedreig word deur 'n bewind wat - teref of nie - volgens Britse siening nie in staat was om die belange van die mynbedryf op die lang duur te waarborg nie en moontlik selfs gemene saak met Brittanje se mededingers kon maak.
Hierbenewens het die rol van die Randse kapitaliste reeds sedert die verskyning in 1902 van J.A. Hobson se werk oor die oorsake van die oorlog besondere aandag in die geskiedskrywing geniet. Vir Hobson het die werklike oorsaak van die oorlog gelê in die invloed wat die kapitaliste uitgeoefen het en die wyse waarop hulle die ministerie van koloniale sake gemanipuleer het. Onlangse navorsing het egter oortuigend aangetoon dat dit 'n oorvereenvoudigde siening is en dat die kapitaliste nie'n verenigde front gevorm het nie, terwyhl daar ook 'n veel groter mate van wedersydse beïnvloeding tussen die imperiale owerheid en die mynmagnate was as wat Hobson vermoed het.
Historici wat uit 'n histories-materialistiese perspektief werk, het weer aangevoer dat daar te veel op die intriges van individuele kapitaliste gekonsentreer word in plaas daarvan om die kapitalisme as 'n onderliggende struktuur te ontleed. Hiervolgens moet die eintlike oorsake van die oorlog nie soseer gesoek word in die rol van kapitaliste as enkelinge of in vae, algemene Britse oogmerke nie, maar in die vorm wat die kapitalisme in Transvaal aangeneem het. Hoewel die Kruger-regering volgens dié vertolking op sy manier probeer het om gunstige toestande vir kapitalistiese groei te skep, kon hy nie voldoende daarin slaag nie. Volgens C. van Onselen was nóg Brittanje nóg die mynbedryf bereid om kapitaal te akkumuleer ind ie tempo wat deeur 'n landelike bourgeoisie gedikteer is. Daarom was dit noodsaaklik om die republikeinse regering te vervang met 'n bewind wat op 'n doeltreffende wyse die optimale omstandighede vir die ontwikkeling van ongebreidelde kapitalisme kon bied. Dit het o.m. beteken dat daar voldoende en goedkoop Swart arbeid moes wees. Uit dié perspektief gesien, verkry die posisie van die Swartmense 'n heeltemal nuwe betekenis. So het D. Bransky aangevoer dat die eise van diekapitalisme meegebring het dat 'n verwoestende oorlog gevoer is om te verseker dfat Swartes as ondergeskiktes volkokme in die Blanke gemeenskap se behoeftes sou voorsien, terwyl hul eie, onafhanklike sosiale struktuur in die proses ondergrawe is.
Die groot stryd tussen die Blanke gemeenskappe in Suid-Afrika was dus volgens Bransky nie die resultaat van die teenstrydige retoriek oor stemreg tussen Boer en Brit nie, maar eerder die gevolg van 'n konflik oor die wyse waarop die kapitalisme verskans moes word en hoe dit moes ontwikkel - en dit sou veral uit die aard van die strukturele omstandighede ten koste van die Swartes geskied.
Tot op hede het nog geen omvattende sintese verskyin wat die dikwels uiteenlopende vertolkings oor die oorsake van die oorlog sistematies ontleed en die relatiewe belangrikheid van die onderling verweefde faktore op 'n genuanseerde wyse behandel nie. So 'n sintese sal hoë eise stel. Onder meer sal die aard en inhoud van republikanisme en die verhouding tussen die republikeinse regering en die mynbedryf opnuut beoordeel moet word, terwyl dit eweneens belangrik sou wees om die gebeure wat op die oppervlak plaasgevind het, binne die onderliggende strukturele kapitalistiese konteks te plaas en die betekenis daarvan met p resiesheid aan te toon. Slegs dan sal ons nader kan beweeg aan 'n totale vertolking van die komplekse gebeure en omstandighede wat tot die bittere konflik van 1899-1902 gelei het.
--- --- ---
'n Volledige aanbevole bronnelys verskyn aan die einde van dié hoofstuk
--- --- ---
Hoofstuk 14
Die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1899-1902: Thomas Pakenham
Om 17h00 op 9 Oktober 1899 het die Transvaalse staatsekretaris F.W. Reitz 'n ultimatum aan die Britse agent in Pretoria oorhandig. Agt-en-veertig uur later was die geallileerde repupblieke - Transvaal en Oranje-Vrystaat - Formeel in oorlog met Groot-Brittanje.
In die Britse Oorlogsdepartement (War Office) was dit asof hulle in 1899 nog steeds p robeer het om die oorlog van 1881 te wen. Voordat 'n Britse ekspedisiemag wat uit verskillende dele van die Ryk bymekaaqrgemaak is die twee republieke sou kon binneval, sou sowel Natal as die Kaapkolonie aan ' n Boere-aanval blootgestel wees. Die Oorlogsdepartement was van mening dat die Boere se offensief, net soos in 1881, sou bestaan uit "invalle" oor die grens deur twee- of drieduisend man, waarmee die Britse beroepsoldate gou sou afreken.
Die mobilisasie
Met so 'n aanname was dit natuurlik dat die Britse generaals in sowel Londen as Suid-Afrika die versterkings wat nodig was om die Britse kolonies teen aanvalle deur die Boere te beskerm, ver sou onderskat. Teen die begin van September was daar in die hele Suid-Afrika net effens oor die 12 000 Britse troepe. Veldm. Wolseley, opperbevelvoerder by die Oorlogsdepartement, het geruime tyd reeds aanbeveel dat die garnisoen in Natal versterk word met 10 000 bykomende troepe, wat die kolonie "tot by Biggarsberg" sou beveilig. Op 8 September het die Britse kabinet teësinnig toegestem om dié troepe, hoofsaaklik uit Indië, te stuur.Dit het egter gou geblyk dat die werklike behoeftes van albei kolonies ten minste vyf keer groter as Wolseley se skatting was. Ook het hy nouliks aandag geskenk aan geko-ordineerde verdedigingsbeplanning of aan 'n aanvalstrategie. Die generaal wat inderhaas uitgestuur is om beheer van die vergrote garnisoen in Natal oor te neem, die 67-jarige lt.-genl. sir George White, het niks van Suid-afrika geweet nie en het ook geen opdrag ontvang om oorleg te pleg met die bevelvoerende offisier in Natal, genl.-maj. sir Penn Symons, of met genl. sir Redvers Buller, man wat aangesê is om hom 'n paar weke later met die hoof-ekspedisiemag te volg nie. Toe White vroeg in Oktober in Natal aankom, kom hy agter dat Symons 'n groot flater begaan het deur 4 000 man in die kwesbare noordelike driehoek van Natal by Dundee in te druk. Die res van sy magte was by Ladysmith geplaas, wat te ver noord was om 'n veilige hoofkwartier te wees.
Wolseley se plan vir die verdediging van die Kaapkolonie was ewe ontoereikend. Twee grensdorpe, Kimberley en Mafeking (tans Mafikeng), is veral bedreig, maar 'n plaaslik gewerfde strydmag en 'n halwe bataljon Britse beroepsoldate, die North Lancashires, moes Kimberley verdedig. By Mafeking het die bevelvoerder van die garnisoen, kol. Robert Baden-Powell, nie eens 'n halwe bataljon beroepsoldate gehad nie, net sowat 500 lede van die Protectorate Regiment.
Die Britse besluit om 10 000 addisionele troepe na Suid-Afrika te stuur, het pres. Kruger en die Uitvoerende Raad van die ZAR uiteindelik daarvan oortuig dat oorlog onvermydelik was, maar dit het lank geduur om pres. Steyn van die Vrystaat daarvan te oortuig dat verdere onderhandeling nutteloos was. Dit het mobilisering vertraag: in die ZAR tot 28 September en in die Vrystaat tot 2 Oktober. Byna al die Britse versterkings het in Natal aangekom voordat die ultimatum oorhandig is.
Die gemeenskaplike strategiese plan van dié twee republieke was om 'n aanval van groot omvang, maar met beperkte oogmerke, op die twee kolonies te loods. Ten eerste moes hulle die Britse magte wat reeds hul grense bedreig, n eutraliseer. Dan moes hulle veilige verdedigingsposisies binne die kolonies inneem en probee rom die opmars van die Brittse se hoof-ekspedisiemag te blokkeer.
Toe die oorlog uitbreek, is ongeveer 32 500 van die 54 000 burgers op die lyste van die twee republieke gemobiliseer asook 'n paar duisend buitelandse vrywilligers uit die Boeregesinde Uitlandergemeenskappe. Die Vrystaatse strydmag was onder bevel van genl. Marthinus Prinsloo, dié van Transvaal onder genl. Piet Joubert. Die vernaamste offensief - met 11 400 Transvalers en 6 000 Vrystaters - is teen Natal gemik. Terselfdertyd sou die Britse grensgarnisoene by Kimberley en Mafeking bestorm word. Dit het 'n aansienlike reserwe in albei republieke gelaat, deels van mans wat nog nie gemobiliseer is nie, deels van garnisoene wat Transvaal se grens met Rhodesië en die Vrystaat s'n met Basotholand moes bewaak. Die meeste van die kommando's was goed bewapen met die nuutste moderne wapens - Mauser-magasyngewere met vinnige rooklose patrone, Krupp- en Creusot-snelvuurveldkanonne en 'n halfdosyn swaar kanonne.
Die voordeel van die gesamentlike aanvalsplan was die eenvoud daarvan, maar dit is noodlottig verswak deurdat dit oorhaastig opgestel is. Ook was daar tussen die Boeregeneraals dieselfde noodlottige gebrek aan ko-ordinering as tussen hul Britse eweknieë. Anders sou die Boere met byna tien keer meer troepe aan albei kante as in 1881, moontlik in Oktober 1899 dieselfde verpletterende en vernederende oorwinning oor die Britte behaal het as in Februarie 1881.
Vir baie burgers was die ultimatum 'n verligting. Die maandelange diplomatieke struweling was verby en nou sou daar na die een kant of die ander 'n beslissing kom. Daar was selfs praatjies oor die besetting van die twee kolonies - Jan Smuts, die 29-jarige staatsprokureur van Transvaal, het bv. gepraat van 'n "Afrikaner-republiek in Suid-Afrika wat strek van Tafelbaai tot die Zambezi".
Die gevoel van verligting was ewe groot onder die Britse gemeenskappe van die Kaap en Natal, wie se geledere deur Britse vlugtelinge vergroot is. Die Uitlanders, wat bedreig is met uitsetting uit Transvaal, het reeds sedert Junie per trein die ZAR begin verlaat. Die opbrengs van die Randse goudmyne het gedaal en die meeste winkels en kantore in Johannesburg het gesluit. Duisende vlulgtelinge het in Durban en Kaapstad aangekom ná 'n daelange reis in oop trokke, baie in 'n jammerlike toestand. Die mans het geesdriftig aangesluit by die eenhede wat in Oktober en November in albei kolonies gewerf is.
Die duisende Swartes uit die twee kolonies (asook Basotholand) wat by die Randse myne gewerk het, het die meeste gely. Anders as die Blankes, het hulle nie gratis treinkaartjies huis toe gekry nie. 'n Moedige beampte, J.S. Marwick, het 'n groep van 7 000 Swartes, waaronder 3 000 Zulu, deur Joubert se linies na Natal teruggelei, maar geen beampte van enige ander kolonie het die Swartes probeer help nie. Baie het behoeftig in Johannesburg agtergebly of is op pad huis toe van hul spaargeld beroof.
--- --- ---
Kommandolewe tydens die oorlog: Fransjohan Pretorius
Alle burgers tussen 16 en 60 jaar oud was dienspligtig, maar meegesleur deur die omstandighede het sommige grysaards ouer as 60 of penkoppe jonger as 16 ook op kommando gegaan. Die oorlog was 'n nasionale saak, geveg deur 'n volksleër. Vir die meeste burgers op kommando het godsdiens 'n belangrike rol gespeel. Die Bybel was hul bron van inspirasie, veral die Ou Testament, waaruit hulle hul met Israel se geskiedenis kon vereenselwig.
Gebrek aan dissipline was 'n probleem. Afwesigheid sonder verlof (verlofpes) het voorgekom omdat burgers eenvoudig huis toe gegaan het vir familie- of boerderysake. Veral wanneer dit aan die gevegsfront sleg gegaan het, was die verlofpes groter.
Die bykans statiese walaers het uit die staanspoor 'n dissipline-probleem veroorsaak. Ofskoon die walaers mettertyd verklein is, en daar tydens die guerrillafase 'n verbetering was, is die probleem nooit werklik opgelos nie, want die burgers was nie gehoorsaam wanneer hul eie besittings betrokke was nie. Offisiere het verkies om burgers vir oortredings te vermaan, maar in gevalle van afwesigheid sonder verlof en brutaliteit teenoor offisiere is straf tog soms toegepas, met inbegrip van geldboetes, dubbele wagbeurte of paksaal (waar 'n oortreder vir 'n gegewe tyd sy saal met geweer en bandelier op sy skouers in die laer moes ronddra). Die burgers was grootliks selfstandig, maar was tog ook afhanklik van standvastige leiers wat hul vertroue gewen het, soos Louis Botha, Christiaan de Wet en Koos de la Rey. Swart agterryers het onder meer die vee en perde opgepas, waens gedryf en kos gemaak. In die algemeen was die verhouding tussen die burgers en hul agterryers paternalisties maar hartlik.
Die verkryging van voedsel het toenemend 'n probleem geword, veral nadat Lourenço Marques (tans Maputo) teen September 1900 vir invoer gesluit is. Die stapelvoedsel van die burgers was vleis (gebraai, gekook of as biltong) en mieliepap. 'n Gebrek aan sout en koffie was spoedig 'n probleem, hoewel "koffie" gemaak is van mielies, patats, ens. Alles was skaars, maar niks het ooit heeltemal ontbreek nie. Vanaf die winter van 1901 het die "uitskud" van Britse krygsgevangenes die sorgwekkende probleem van voldoende klere verlig. Die buit van vyandelike konvooie het voorrade aangevul, ook van wapens en ammunisie, en talle burgers het uiteindelik met Lee Metford-gewere geveg. Die Boer was 'n berede skutter en sy perd was sy eerste liefde, maar ook goeie perde het mettertyd skaars geword.
Ontspanning was belangrik in die lang tye van niksdoen en die tyd is verwyl met rugby, atletiek, krieket, visvang, boks, musiek en lees. Saans om die kampvuur was dit ook meesal gesellig. Brandwag staan was vervelig maar belangrik, terwyl verkenning gevaarlik maar darem avontuurlik kon wees. Reën was lastig, maar het gelukkig weiding verskaf. Lastiger was vlieë en muskiete. In die algemeen het die burgers die kommandolewe geestelik goed ervaar. Daar was berusting - al was die lewe soms eentonig en vervelig - maar die verlange na huis en familie was dikwels groot.
--- --- ---
Die Boere-offensief
Soos verwag is, het die eerste veldslag van die oorlog in Noord-Natal, sowat 2 km van Dundee af, plaasgevind. Kort ná dagbreek op 20 Oktober het burgers wat deur Joubert uitgestuur is, van Talanaberg besig geneem en Symons se kamp daaronder begin bombardeer. In plaas van sy magte te konsentreer, het Joubert genl. J.H.M. Kock suid na Biggarsberg weggekeer en besluit om met slegs 'n derde van sy manskappe onder genl. Lucas Meyer en genl. D. Erasmus aan te val. Erasmus is deur swaar mis op Impatiberg verwar, en Meyer kon slegs sowat 1 500 skutters en 'n paar veldkanonne in die slag stoot.
Hulle is gou verjaag deur kartetse van Symons se 15-ponders en 'n bejonetbestorming deur drie infanteriebataljonne. Symons is egter noodlottig gewond toe hy die skuiling van 'n muur verlaat en hom in die vuurlyn begewe het, ná die meeste van sy ruiters in 'n roekelose poging om Meyer se terugtog af te sny, deur Erasmus afgemaai is. Na verhouding het die Boere minder verliese gely - 155 gedood, verword of gevange geneem, vergeleke met 500 aan Britse kant - maar Joubert het die kans verspeel om die garnisoen by Dundee gevange te neem.
Sir George White het op 21 Oktober per trein uit Ladysmith vertrek en genl. Kock se gtwee kommando's aangeval. Die slag van Elandslaagte was vir die Britte 'n skoolvoorbeeld van 'n oorwinning - die laaste vir 'n hele paar maande. Kock is noodlottig gewond en die vlugtende burgers deur 'n kavallerie-aanval verjaag.
Talana en Elandslaagte het White 'n kortstondige blaaskans gegun en op 24 Oktober is Prinsloo en sy Vrystaters ook by Rietfontein afgeweer. White het hierna alles in die spel gesit in wat hy self beskryf het as 'n "uitklophou" om met die Boere af te reken, maar op 30 Oktober ("Mournful Monday") het hy besef dat die Boere man vir man beter krygsmanne as die Britte was. Joubert en Prinsloo het uiteindelik verenig en 7 500 man, ondersteun deur dertien veldkanonne en drie stuks swaar geskut, in die stryd gewerp. Die veldkanonne het buitengewoon lang lonte gehad en kon dus verder skiet as dié van die Britte. Ná 'n onverstandige nagmars na Nicholsonsnek in 'n poging om die Boere af te sny, is White se troepe in wanorde na Ladysmith teruggedryf, met totale verliese van 1 272. Drie dae later is die spoor- en telegraaflyn na Ladysmith deurgesny, en White se oorblywende 14 000 troepe is beleër.
Aan die wes- en sentrale front in die Kaapkolonie was daar - anders as in Natal - min Britse troepe om die Boere te keer. Die geïmproviseerde garnisoene het die aanvallers egter op 'n afstand gehou en verhinder dat hulle help bydra tot die druk op Natal. Só beperk was die Boere se offensief aan dié fronte dat hulle nie eens probeer het om die strategiese spoorwegbrug oor die Oranjerivier te verower nie. Teen die derde week van November was dit duidelik dat die inisiatief na die Britte oorgaan. Die eerste van die 50 000 man in sir Redvers Buller se ekspedisiemag het in Suid-Afrika begin aankom en was per trein onderwyg om die drie beleë garnisoene te ontset.
Ten spyte van die verlore kanse het die Boere hul eerste strategiese doelwit bereik en het die tyd aangebreek vir die tweede strategiese doelwit, nl. om hulle in te grawe en vir die opmars van Buller se strydmag voor te berei. Indien hulle dié opmars kon stuit, sou hulle die drie beleërde dorpe deur honger tot oorgawe kon dwing.
Die eerste Britse teenoffensief
Sir Redvers Buller, die nuwe Britse opperbevelvoerder in Suid-Afrika, het op 31 Oktober, die dag ná "Mournful Monday", in Kaapstad aan wal gestap. Hy het gevind dat sir Alfred Milner, hoë kommissaris en goewerneur van die Kaap, "bibber" by die vooruitsig van die val van Kimberley en 'n algemene Afrikaneropstand in die Kaapkolonie. Paniekerige telegramme is ontvang uit Kimberley, waar Cecil John Rhodes deur die beleg vasgekeer is. White het van Ladysmith berig dat sy voorrade net sestig dae sal hou. Teësinnig het Buller dus besluit om af te sien van die oorspronklike plan van 'n opmars oor die betreklik maklike roete langs die spoorlyn tussen Kaapstad en Bloemfontein.
Die leërkorps, wat slegs op papier bestaan het, is verdeel selfs voordat die transportskepe vasgemeer het. Lt.-genl. lord Methuen is met een van die drie infanterie-divisies gestuur om Kimberley te ontset. Buller self het 'n tweede divisie en 'n deel van 'n derde geneem om White se magte te gaan red. Ander eenhede, met inbegrip van die kavaallerie-divisie onder lt.-genl. French en 'n aantal infanterie-bataljonne onder lt.-genl. Gatacre, is ontplooi in die bedreigde noordoostelike distrikte van die Kaapkolonie waar die Vrystaters die Oranje oorgesteek het.
Niemand was ongelukkiger oor dié improvisasies as Buller self nie. Ten spyte van sy bruuske manier van optrede en stugge voorkoms, was hy een van die min Britse generaals met ervaring van Suid-Afrika, en hy het die Boere nie onderskat nie. Hy het geweet dat dit weke sou duur om sy troepe voor te berei vir oorlogvoering in die veld, dat hy genoeg ruiters moes werf om die beweeglikheid van die Boere te ewenaar en 'n behoorlike inligtingsdiens moes organiseer. Daar was egter geen tyd nie.
Aanvanklik het dit gelyk of Methuen besig was om die verlore tyd in te haal. Ná veldslae by Belmont en Graspan (23 en 25 November) het hy 'n bres geslaan deur die Vrystaatse en Transvaalse kommando's, m aar op 28 November is hy by die Modderrivier gestuit. Die Transvalers is versterk deur kommando's onder genl. Piet Cronjé wat by die beleg van Mafeking betrokke was. Genl. Koos de la Rey het 'n nuwe taktiek ingevoer deur 'n vernuftig versteekte verdedigingslinie langs die Modderrivier te grawe, maar die Boere kon teen taktiese samewerking tussen hul kommando's bewerkstelllig nie. Ná 'n dag van swaar verliese - altesaam 478 - het Methuen se infanterie 'n oorgang oopgeveg. Snags kon hulle die groot seinsoeklig van Kimberley teen die wolke sien skyn, maar by Magersfontein is die opmars bloedig gestuit.
Cronjé en De la Rey het nog 'n loopgraaflinie op 'n afstand voor die koppies gegrawe wat so goed versteek was dat dit selfs nie uit 'n kabelballon gesien kon word nie. Die Highland Brigade h et net voor dagbreek op 11 Desember in geslote kolonne opgetrek om die koppies te bestorm, maar is afgemaai deur die geweervuur van duisende Boere in die versteekte loopgrawe. Geskok deur die verlies van 948 man (teenoor 255 aan Boerekant) het Methuen na die Modderrivier teruggeval en op versterkings gewag.
'n Ewe vernederende terugslag is genl. Gatacre op 10 Desember by Stormberg toegedien. 'n Nagmars teen 'n klein Boeremag het in 'n fiasko geëindig, en Gatacre het 135 gesneuweldes en gewondes en 561 gevangenes verloor.
Die hoogtepunt was egter Buller se terugslag op 15 Desember 1899 by Colenso. Met dieselfde natuurlike aanleg vir verdedigingstaktiek as De la Rey het Louis botha, wat Joubert intussen as waarnemende Transvaalse kommandant in Natal vervang het, die Thukela in 'n skynbaar onneembare verdedigingslinie omgeskep. Om Ladysmith te ontset, was Buller van plan om by twee aangrensende driwwe 'n oorgang oop te veg: die een by Colenso self en die ander 7 km stroom op, bo 'n lus in die rivier. Albei punte is egter deur die Boere in rye na ry versteekte loopgrawe verdedig. Buller het die aftog geblaas voordat meer as twee brigades op die spel geplaas is, maar die terugslag het hom duur gekos. Die Irish Brigade het in die lus van die rivier beland en 523 man verloor. Twee batterye veldkanonne is deur die vuurvreter-bevelvoerder van die artillerie, kol. Charles Long, so ná aan die vyand geplaas dat tien kanonne verloor is. Onder dié wat gesneuwel het in 'n poging om hulle te red, was lt. Freddy Robert, die seun van veldm. lord Roberts altesaam het Buller meer as 1 100 man by Colenso verloor, terwyl net agt Boere gesneuwel het en dertig verwond is.
Deur geeneen van dié pynlike nederlae het die Britte 'n enkele meter nuttige grond verloor nie, maar openbare mening in Brittanje is diep geskok. Dit het duidelik geword dat die oorlog nie teen Kersfees verby sou wees nie en dat 60 000 Britse troepe, hoofsaaklik infanterie, nie opgewasse was teen 35 000 Boere, hoofsaaklik berede skuttters, nie. Nog twee infanterie-divisies - die vyfde en sesde - was reeds op pad. 'n Sewende is aangevra, en ook nege ekstra bataljonne milisie en 'n kavalleriebrigade. Tienduisend vrywilligers, wat as die Imperial Yeomanry bekend sou staan, is in Groot-Brittanje en Ierland gewerf. Duisende ander sou in Suid-Afrika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland verkry word.
Buller is in beheer gelaat van die Natalse front, maar as opperbevelvoerder in Suid-Afrika is hy vervang deur lord Roberts, terwyl genl.-maj. lord Kitchener inderhaas van Soedan gebring is as Roberts se stafhoof. Binne tien dae ná die sg. "Swart Week" het lord roberts, 'n rouband om die arm, na Kaapstad vertrek.
Lord Roberts se opmars
Aan die Natalse front is Buller steeds deur Botha oorskadu, en die lot van Ladysmith was onbeslis. Vir die slag van Spioenkop (24 Januarie 1900) het Buller sy hoofmag aan sy onderbevelvoerder, genl. sir Charles Warren, toevertrou. 'n Flankmars en 'n aanval op twee fonte is beplan. Warren het die Thukela 32 km wes van Colenso oorgesteek, met die doel om êrens in die Rangeworthy-heuwels (Tabanyana) deur die Boerelinie te breek. Buller self sou 8 km laer af oor die rivier gaan en deur die huewels breek. Hierna sou hulle gesamentlik optrek om White in Ladysmith te ontset. Warren se opmars was egter só traag dat Botha hom langs die heuwelkruin kon ingrawe en dié aanslag afweer.
Hierna het Warren 'n kolonne onder brig.-genl. Woodgate op 'n nagmars uitgestuur om Spioenkop, die klipperige uitloper wat soos die sleutel tot die Boerelinie gelyk het, aan te val. Die Britte het Spioenkop feitlik onverdedig gevind, maar het versuim om hulle behoorlik op die kruin in te grawe en is met dagbreek van alle kante met geweer- en artillerievuur bestook. Warren het hulle nie ondersteun nie, en Woodgate is noodlottig gewond. Die sleutel het 'n lokval geword. Baie van die burgers het in die rigting van Ladysmith teruggevlug=, maar botha se verstommende selfvertroue is geregverdig, en Buller moes terugval.
By Vaalkrans het Buller nóg 'n sg. "sleutel" tot die vyand se linie gevind, wat ewe nutteloos geblyk het. Op 7 Februarie het hy nogmaals oor die Thukela teruggetrek. Mense het hom as "Sir Reverse" en "the Ferryman" begin spot, terwyl Botha net lof vir sy verdedigingstaktiek gekry het. Weer eens het die Boere hul genie vir vinnige veranderings van posisie en vir ingrawe getoon. Hulle het egter byna 400 man in dié veldslae verloor, krygsmanne wat - anders as dié van die Britte - nie maklik vervang kon word nie.
Intussen het lord Roberts uit die Kaap vertrek, met die doel om Kimberley te ontset en die republieke binne te val. Hy het verreweg die grootste leër gejad wat mpg om doé oorlog gesien is (43 000 man), asook 'n veel groter verhouding ruiters (ongeveer een kwart). Met dié dubbele voordeel het hy die Boere rondom Kimberley vinnig uitoorlê. Cronjé het sy loopgraaflinie by Magersfontein ontruim en oos langs die walle van die Modderrivier gevlug. Op 15 Februarie het offisiere van die kavallerie-divisie onder lt.-genl. French seëvierend voor die Kimberleyse Sanatorium stilgehou. Hier het hulle die ontset van die stad gevier met sjampanje, 'n geskenk van Rhodes, wat die kans benut het om kol. Kekewich, die veelbeproefde bevelvoerder van die Britse garnisoen, kras te veroordeel.
Cronjé, wat deur sy walaer belemmer is, is deur Robert se berede groepe vasgekeer waar hy by Paardeberg kamp opgeslaan het. Kitchener, wat tydens Roberts se ongesteldheid as waanemende bevelvoerder opgetree het, het hier een van die grootste flaters van die oorlog begaan deur die een bataljon na die ander op Cronjé se laer af te stuur. Hy het meer verliese vir 'n geringer doel gely as Buller by Colenso of Methuen by Magersfontein. Die Boere was egter vasgekeer sonder hoop op bevryding, en op 27 Februarie, die negentiende herdenkingsdag van die slag van Majuba, het Cronjé na 'n daelange artilleriebombardement met 4 000 man en 'n aantal vroue, kinders en Swart bediendes aan Roberts oorgegee. Dit was 'n geweldige slag vir sowel die mannekrag as die moreel van die Boere - Christiaan de Wet het later verklaar dat die gevolge daarvan "tot aan die einde van die oorlog gevoel is".
Aan die Natalse front het Buller die volgende dag uiteindelik vir hom 'n pad oopgeslaan en Ladysmith ontset. Van 14 tot 28 Februarie het hy Botha algaande uit sy aaneengeskakelde posisies gedwing en uiteindelik die volle krag van sy artillerie en die durf en taaiheid van sy infanterie benut.
Ten spyte van swaar verliese het Botha se manne, anders as Cronjé se strydmagte by Paardeberg, egter bedaard gebly. Teen skemerdonker op 28 Februarie het die eerste Britse troepe - twee eskadrons van die Imperial Lilght Horse - Ladysmith binnegetrek.
Intussen het lord Roberts se leër soos 'n stoomroller oor die Vrystaatse vlaktes beweeg. Op 7 en 10 Maart het die burgers van die twee republieke suidwes van Bloemfontein by Poplar Grover en Driefontein weerstand probeer bied, maar ná 'n moedige, kortstondige verset het hulle op die vlug geslaan.
Roberts het nou 'n noodlottige strategiese fout begaan. Soos hy aan koningin Victoria berig het, was hy van mening dat dit "nie baie lank sal duur voor die oorlog tot 'n bevredigende einde gebring word nie", want die Vrystaters se moed was gebreek, en ná die besetting van Pretoria sou die Transvalers se verset ook verkrummel. Om dié proses te verhaas, het Roberts op 15 Maart 'n amnestie afgekondig vir alle burgers - behalwe leiers - wat 'n eed van neutraliteit aflê en vreedsaam na hul huise terugkeer. Hy het geen poging aangewend om 'n Boerekolonne van 6 000 burgers onder genl. Olivier, wat blykbaar naby die Oranje vasgekeer was, te onderskep nie.
Tydens 'n krygsraad op Kroonstad op 17 Maart het albei Boerepresidente belowe dat die oorlog met nog groter wywer voortgesit sal word. De Wet en De la Rey het voorgestel dat die beweeglikheid van die kommando's nog verder vergroot word deur ontslae te raak van die ossewaens wat tot Cronjé se ondergang gelei het, sodat kommando's agter die Britse linies kon beweeg. Konvensionele veldslae sou plek maak vir guerrilla-oorlogvoering. Die ontmoedigde burgers het nuwe moed geskep, en soos De Wet later opgeteken het: "Daar was net een woord op almal se lippe: 'Voorwaarts'."
De Wet het die voordele van die nuwe guerrilla-strategie gou gedemonstreer toe hy op 31 Maart 'n kolonne onder brig.-genl. Broadwood voorlê. Hy was van plan om 'n veel kleiner kolonne aan te val wat die hoofwaterwerke by Sannaspos, 32 km oos van Bloemfontein, verdedig het, maar Broadwood, wat geen verkenners voor sy kolonne uitgestuur het nie, het in die val geloop. Die Wet se buit was agt veldkanonne en honderde gevangenes. Op 4 April het De Wet 'n halwe bataljon van die Royal Irish by Reddersburg vernietig en daarna weer noord verdwyn. Hy het die Britte altesame meer as 'n duisend verliese toegedien, terwyl sy eie klein strydmag feitlik ongedeed daaruit gekom het.
De Wet se aanvalle het Roberts se opmars vertraag, maar kon dit nie verhinder nie. Die tweede van Robers se "tierspronge" het op 3 Mei begin. Hy het besluit om in 'n dubbelkolonne met 43 000 man reguit langs die treinspoor na Johannesburg en Pretoria op te ruk. Intussen sou die mobiele deel van Buller se Natalse leër, twee infanterie-divisies en twee kavallerie-brigades uit die suidooste ook op Transvaal toesak. Terselfdertyd het Roberts 'n klein kolonne - 1 149 offisiere en manskappe, hoofsaaklik Uitlanders van die Rand en kolonialers van Kimberley onder kol. Bryan Mahon - gestuur om Baden-Powell in Mafeking te ontset.
Mahon se kolonne het hulle aangesluit by 'n tweede leërafdeling onder lt.-kol. H. Plumer, wat maande tevore uit Rhodesië gestuur is, maar te swak was om Mafeking alleen te ontset. Hul aankoms in Mafeking op 17 Mei was 'n betreklike antiklimaks. "O ja, ek het gehoor julle is hier iewers," het een van die verbygangers teenoor die eerste van die bevryders opgemerk. Hier was daar geen tonele soos in Londen, waar 'n uitbarsting van patriotiese histerie plaasgevind het toe die nuus 'n paar dae later daar bekend raak nie.
In die Vrystaat het Roberts sy opmars intussen onverbiddelik voortgesit. Sy getalsoorwig het sy teenstanders eenvoudig opsy gestoot. Die Boere het strategiese spoorbrûe en lang stukke spoorlyn opgeblaas, maar dit kon Roberts nie keer nie, want binne ure het Britse geniesoldate met die hulp van Swart arbeiders verleggings gebou.
Op 27 Mei het Roberts die Vaal oorgesteek. 'n Dag later is die anneksasie van die Oranje-Vrystaat formeel afgekondig en is dit tot die Oranjerivier-kolonie herdoop. Naby Doornkop, waar dr. Jameson gevange geneem is, het die Transvalers die opmars kortstondig teengehou, maar daarna het hulle in verwarring gevlug. Eers Johannesburg (31 Mei) en toe Pretoria (5 Junie) is prysgegee.
Die moreel van die Transvaalse kommando's het op 1 Junie sy laagtepunt bereik, en Smuts en Botha het by 'n krygsraad in Pretoria 'n wanhopige telegram opgestel aan Krurger, wat langs die treinspoor oos van Mosambiek aan die vlug was. Hy het op sy beurt 'n ewe wanhopige telegram aan pres. Steyn in sy laer naby Heilbron gestuur. Steyn se antwoord was egter soos 'n klap in die gesig: die Vrystaat sou nooit oorgee nie.
Die Transvaalse leiers het moed geskep en daar is besluit om al vegtend te retireer om die burgers kans te gee om van die skok van die oorgawe van die hoofstad te herstel. Ten spyte van die oënskynlike wanorde is 'n lewensbelangrike rustydjie verkry waarsonder dit nie moontlik sou gewess het om die oorlog voort te sit nie. Die oorlogskatkis van die twee republieke - 'n halfmiljoen pond in gemunte en ongemunte goud - is uit Pretoria verwyder, asook die swaar geskut en die ammunisie. Burgers het na die kommando's teruggestroom.
Dieselfde week het Christiaan de Wet se guerrilla-strategie 'n nuwe imensie aan die oorlog gegee. Op 31 Mei is vier kompanies van die Irish Yeomanry by Lindley in die Oos-Vrystaat deur sy broer Piet omsingel, en 50 man is gedood, 80 gewond en 450 gevange geneem. Op 7 Junie het Christiaan de Wet self drie swak garnisoenposte langs die treinspoor naby die Renosterrivier aangeval en hulle 486 verliese besorg, terwyl sy eie mag nouliks verliese gely het. 'n Enorme voorraadopslagplek is geplunder en aan die brand gesteek. Die enkele treinspoor wat Transvaal met die Kaapse hawens verbind het, is dae lank deurgesny, wat onder Roberts se staf paniek veroorsaak het. Teen die tyd dat sy kolonnes aangesukkel gekom het, het De Wet en Steyn - die simbole van verset - egter reeds verdwyn.
Die Kaapkolonie en die oorlog
Reeds van die begin van die oorlog af was die Kaapse eerste minister, W.P. Schreiner, in 'n moeilike posisie en gou het dit onmoontlik geword. Sy ministerie is oorheers deur Afrikaners en lede van die Afrikanerbond, wie se simpatie aan die kant van die republieke was. Self was hy sowel emosioneel as polities in 'n tweestryd. Hy moes probeer om dié strategiese kolonie te midde van 'n grootskaalse imperiale oorlog so neutraal moontlik te hou.
Schreiner het hom beroep op Steyn se plegtige versekering dat die Vrystaat die Kaap nie sou binneval nie. Om Kaapse troepe vir 'n inval in die Vrystaat te gebruik, sou ' n Afrikaneropstand in simpatie met die replublieke in die kolonne kon veroorsaak en - in die algemene wanorde - ook 'n opstand van die Swartes.
Die Kaapse regering het gesloer met voorbereidings vir verdediging en selfs toegelaat dat die Vrystaat net voor die oorlog ammunisie deur die Kaap invoer. By die beslissende stryd ter verdediging van Kimberley en Mafeking het Kaapse regeringstroepe geen wesenlike rol gespeel nie. Aan die ander kant het Schreiner, toe hy besef dat hy deur Steyn se beloftes mislei is, hom algaande deur Milner laat oorheers. elke distrik wat deur Vrystaatse kommando's binnegeval is, is onder die krygswet geplaas. Aangesien dié distrikte baie gouer deur die Vrystaat geannekseer is, het dit dalk nutteloos voorgekom, maar toe Buller en Roberts se strydmagte die gebied suid van die Oranje herower, kon hulle kragtens die krygswet hul eie reëls maak en verdagtes in hegtenis neem, voorrade kommandeer en briewe sensureer. Die groot Afrikaneropstand wat sowel Schreiner en Milner gevrees het, het nooit plaasgevind nie.
Milner het beweer dat sowat 3 000 Afrikaners voor die oorlog na die Vrystaat oorgegaan en saam met die kommando's geveg het. 'n Verdere 10 000 koloniale burgers het na bewering aangebied om by die Vrystaat aan te sluit toe die kommando's die Kaap binneval. Dit was van min militêre betekenis. Daar was net twee "rebellies", nl. by Prieska en in Griekwaland-Wes en hulle is sonder veel bloedvergieting in Mei en Junie 1900 onderdruk. Hul vernaamste uitwerking was polilties, want hulle het die Schreiner-minister uiteindelik tot 'n val gebring.
Milner, Chamberlain en die Britse regering wou hê dat Kaapse rebelle wat oorgee, swaar gestraf moet word. Schreiner het 'n kompromie aan die hand gedoen, nl. aanklagte van hoogverraad teen die leiers, maar net vyf jaar verlies van stemreg vir die gewone rebelle. Chamberlain het ingestem hiertoe, maar met twee uitsonderings het Schreiner se hele kabinet hul steun aan hom onttrek. Die meerderheid het daarop aangedring dat die rebelle nie strenger as gewone krygsgevangenes behandel moet word nie en was ook van mening dat gewone burgerlike reg weer ingestel moet word. Schreiner het bedank en sy voorganger, sir Gordon Sprigg, leier van die Progressiewe, het weer aan die bewind gekom, hoewel hy nie 'n meerderheid in die Parlement gehad het nie. Met die hulp van Schreiner en nog 'n paar van sy teenstanders het Sprigg in Oktober 1900 'n vrywaringswet deurgedruk. Voorlopig is die Kaapse rebelle toegeeflik genoeg behandel, maar in 1901 sou strenger maatreëls volg.
Lord Roberts in Transvaal
Op 21 Julie het lord Roberts begin met sy derde "tiersprong" - die opmars na Komatipoort. Voor hom was die meeste van die Transvaalse burgers wat nog in die veld was, onder die aanvoering van Louis Botha. Vanuit Heidelberg na die suidooste het Buller hom gereed gemaak om sy eie opmars voort te sit met die Delagoabaaispoor as mikpunt. Teen dié tyd het konvensionele veldslae egter hul belang verloor in die lig van die guerrilla-strategie van Steyn, De Wet en die Vrystaters.
Ten spyte van Roberts se aanloklike amnestie kon De Wet steeds sowat 8 000 burgers in die Oos-Vrystaat in die veld hou. Roberts het vyf kolonnes onder lt.-genl. sir Archibald Hunter agter De Wet aan gestuur, maar hy het die kans om Steyn en De Wet te vang, verspeel toe hulle in die nag van 15 Julie met 2 500 man en baie waens deur die Britse kordon geglip en koers gekies het na die noorde. Hunter se vyf kolonnes het om die Brandwaterkom saamgetrek, die weerstand van die Boere uit hul pad gevee en daarvan 'n lokval voorberei. Hoewel een van die passe, nl. Golden Gate, nog oop was, het meer as 4 000 burgers onder genl. Marthinus Prinsloo op 30 Julie oorgegee.
Hoewel hulle nog altyd deur hul waens belemmer is, het De Wet se kommando nogmaals by Roberts se magte verbygeglip. Op 6 Augustus het hulle die Vaal by een van die groot driwwe oorgesteek en hul tog na die noorde voortgesit. Roberts het beveel dat die passe deur die Magaliesberge verseël moes word. Ten minste 20 000 troepe het nou jag gemaak oop De Wet, maar Roberts en sy bevelvoerders het nie behoorlik gekoordineerd te werk gegaan nie en De Wet het hulle weer ontglip. Tot hul verbasing het De Wet se verkenners ontdek dat Olifantsnek nog oop was, aangesien genl. Ian Hamilton, wat deur Roberts beveel is om dit te verseël, dit nie kon regkry nie. Op 14 Augustus het die waens dus oor die onverdedigde nek getrek.
In Oos-Transvaal het Roberts en Buller se leërs intussen by mekaar uitgekom en 'n laaste poging aangewend om die oorlog op konvensionele wyse te wen. Tussen 21 en 27 Augustus het Buller by Belfast (ook bekend as Bergendal of Dalmanutha) Botha se posisie weerskante van die Delagoaspoorlyn aangeval. Die burgers is uitmekaargejaag, maar hul moreel was onaangetas. In die suide het genl. French die gebied rondom Carolina skoongemaak. Die krygsgevangenekamp naby Waterval-Onder is bereik en die Britse gevangenes vrygestel. Op 24 September het lt.-genl. sir Reginals Pole-Carew se divisie uiteindelik die grens by Komatipoort bereik, maar die Boere was lankal weg.
Op 11 September het pres. Kruger reeds met 'n sending na Europa vertrek aan boord van die kruiser Gelderland, wat deur die Nederlandse regering gestuur is om hom na Marseille te neem. Die uitvoerende gesag van Transvaal was nou in die hande van oorlogsveterane soos Botha, Smuts en De la Rey. Die kommando's is oor albei republieke verstrooi, maar die besluit het bly staan - om te veg tot die bittere einde.
Lord Roberts was steeds daarvan oortuig dat die oorlog "feitlik oor" was; al wat nog nodig was, was besliste optrede. Privaat het hy aangekondig dat hy die Boere sou "uithonger tot hulle oorgee" deur die vee en alle ander kosvoorrade van die platteland te verwyder. Sy amptelike beleid teenoor die burgerbevolking, soos in 'n aantal verwarrende proklamasies verwoord, was egter nog milddadig. Vegtende burgers wat reeds die eed van neutraliteit afgelê het, is toegelaat om by die huis te bly. Die burgerbevolking is beskerming teen plundering en mishandeling belowe. Hierteenoor het nuwe proklamasies - op 14 Augustus in Transvaal en op 1 September in die Oranjerivier-kolonie - egter gewaarskuk dat burgers wat hulle oorgee, voortaan as krygsgevangenes beskou sou word.
'n Nuwe beleid van kollektiewe straf is vroeër reeds ingestel. Mettertyd het die Britse regering 'n lys beskikbaar gestel van Boereplase en ander geboue wat deur die leër afgebrand is: twee in Junie 1900, drie in Jullie, twaalf in Augustus, 99 in September, 189 in Oktober en 226 in November. Die verhoudings was moontlik juis, maar die skaal was ongetwyfeld groter. Uiteindelik het die onmenslikheid van dié afbrandings kritiek in die Britse Laerhuis uitgelok en in November het Roberts 'n nuwe bevel uitgereik waardeur die wreedhede in die teorie beëindig is. 'n Plaas kon nie meer afgebrand word eenvoudig omdat die eienaar op kommando was nie, maar op grond van die een of ander "daad van verraad", soos wanneer daar op troepe gevuur is, of as straf omdat die spoor- of telegraaflyn onderbreek is of omdat dit as basis vir operasies gebruik is. Volgens die Britse regering is daar ná dié bevel slegs ses huise in Desember 1900 afgebrand, maar selfs al was dit waar, wat uiters twyfelagtig is, het die Britse leër die platteland nog altyd van alle kosvoorrade gestroop wat vir die guerrillastryders van nut sou kon wees. Die oorlogsgebied is nog altyd verwoers, en die lot van die burgerbevolking het al hoe hagliker geword.
Voordat Roberts op 11 Desember 1900 uit Kaapstad vertrek het, het hy herhaal dat die oorlog "feitlik oor" is. Lord Kitchener, die nuwe opperbevelvoerder, het op 29 November reeds oorgegee, en maand na maand is die grootte van die leër verminder. Lord Roberts het die kaart van Suid-Afrika binne tien maande ingrypend verander. Die Union Jack het nou oor sowel Bloemfontein as Pretoria gewapper. Die twee presidente moes uit hul hoofstede wyk: Kruger op 'n hopelose sending na Europa, en Steyn as voortvlugtige met De Wet en sy kommando's. Al die vernaamste dorpe en die belangrikste spoorlyne van die nuwe kolonies was onder Britse militêre beheer.
Roberts het gelyk gehad. Die oorlog was inderdaad feitlik oor: die oorlog van grootskeepse konvensionele veldslae. 'n Nuwe oorlog het egter begin - een wat ewe veel tyd, geld en lewens sou kos, en wat ook veel bittereder sou wees, omdat die burgerbevolking regstreeks daarby betrokke was.
Kitchener en die guerrilla-oorlog
Die Boere se strategie vir dié nuwe oorlog is beplan tydens 'n byeenkoms van die leiers van albei republieke - De la Rey, Botha, Smuts en Steyn - in die laaste dae van Oktober op die plaas Cypherfontein in Suidwes-Transvaal. Die Transvalers, veral Botha, het bedenkings oor die uitvoerbaarheid van guerrilla-oorlog gehad, maar die afwesige De Wet het 'n antwoord hierop verskaf. Vandat hy Roberts se konvooie in Maart die eerste keer in hinderlae gelok het, het hy die bewys gebring en Roberts se teenmaatreëls -die afbrand en plunder van plase - het na die bevestiging daarvan gelyk. Watter beter bewys was daar vir 'n burger dat sy eed van neutraliteit waardeloos was as om te wys hoe sy gesin in die verrookte puin van hul woning krepeer? Op die kort termyn was dit die uitwerking, maar op die duur moes Roberts se beleid om plaashuise en gesaaides te vernietig teen die kommando's werk. Reeds was dele van die veld besig om weer 'n woesteny te word. By Cypherfontein is besluit om guerrilla-oorlogvoering na die Kaapkolonie en Natal uit te brei - veral in die Kaap sou Afrikaners hulle steun. In albei kolonies was daar baie graan en perde, en om politieke redes sou dit vir die Britte onmoontlik wees om daar huise en gesaaides te vernietig.
'n Gesamentlike offensief op dié grondslag sou die hele verloop van die oorlog moontlik verander het, maar die verdeeldheid tussen die bondgenote was te diep. Die Britte het die guerrillastryders in die omgewing van Cypherfontein begin lastig val, De Wet het nooit daar uitgekom n ie en die kans op 'n gesamentlike offensief is verloor. Op 6 November is De Wet en Steyn by Bothaville (Doornkraal) deur 'n groep berede "Kakies" onverhoeds betrap en slegs hul vinnige ontvlugting, die heldhaftigheid van hul agterhoede en die traagheid van die Britse hoofkolonne onder genl.-maj. Charles Knox het die Vrystaatse leiers van dood of gevangeneming gered. Teen die einde van November was De Wet terug op sy ou jagterrein, besig om ongestraf konvooie in die Vrystaat aan te val en Britse kampe af te brand, terwyl Smuts en De la Rey op 13 Desember in die groot ravyn by Nooitgedacht 'n groot slag geslaan het.
Drie maande lank het genl.-maj.Clements en sy kolonne in die Moot, die vallei van die Magaliesberge, op en neer getrek en dit verwoes. Op 3 Desember het die Boerekommando's egter 'n konvooi swak verdedigde ossewaens op pad na Rustenburg gebuit. Clements se hoofkamp is oorheers deur 'n bergkruin wat net lig bewaak is. Net voor dagbreek op 13 Desember het genl. C.F. Beyers met 1 500 man die brandwaglinie op die berg aangeval. Genl. Badenhorst het van die weste ingebreek en Smuts en De la Rey het uit die vallei opgeruk. Die aanvalle was egter nie behoorlik gekoordineer nie. Clements het 637 man verloor, maar die oorlewendes het uit die val ontsnap. Afgesien van 'n verstewiging van moreel het die Boere net 'n stapel voorrade verkry en kon hulle nie die vyand se geskut verower en 'n werklike taktiese oorwinning behaal nie. Weer eens het die inisiatief na die Britte oorgegaan.
Intussen is Kitchener die eerste keer as opperbevelvoerder met 'n ernstige situasie gekonfronteer toe drie afsonderlike groepies kommando's die Kaapkolonie binneval. Kitchener se prioriteit was om De Wet en Steyn voor te keer. Op 23 November het De Wet Dewetsdorp (genoem na sy vader) verower en daarna suid gevlug met al meer Britse kolonnes op sy hakke. Op 6 Desember het hy die eerste keer probeer om die Oranje oor te steek, maar die rivier was in vloed en hy is teruggedryf na die noorde. Op 14 Desember is hy byna by Sprinkaansnek vasgekeer, maar hy het vir hom 'n pad oopgesny. Op 10 Februarie 1901 het hy daarin geslaag om die Oranje by Sanddrif oor te steek. Weer eens het Kitchener egter so 'n net van berede kolonnes om hom uitgegooi dat hy niks kon bereik nie, behalwe om te toon dat hy vinniger kon beweeg as sy agtervolgers. Uitgeput ná 'n strawwe tog van 1 000 km het hy hom dankbaar weer oor die Oranje na die bekende Vrystaat teruggetrek.
Op 6 Desember het sowat 1 000 burgers onder genl. J.B.M. Hertzog by Sanddrif deur die Oranje gegaan en sowat 700 onder genl. P.H. Kritzinger naby Burgersdorp. Die twee groepe kommando's het vinnig suid getrek en alle agtervolgers gepypkan. Teen Januarie 1901 is Hertzog verby die Roggeveldpasse en het hy by Lambertsbaai die see bereik, waar hulle deur 'n Britse oorlogskip bestook is. Kritzinger het op die Suurveld toegesak en die vyand uit sy pad gevee. Geeneen van die twee groepe kon egter genoeg rekrute onder die plaaslike Afrikaners werf of 'n algemene opstand ontketen nie. Teen die einde van Februarie het Hertzog hom by De Wet gevoeg en oor die Oranje teruggekeer, terwyl Kritzinger hom in die Suurveld verskans het. As militêre operasie was die Boere-inval in die Kaapkolonie net so 'n volslae mislukking soos die Britte se poging om die invallers te vang.
Teen 17 Januarie was feitlik die hele Kaapkolonie behalwe die hawens en die Transkei onder krygswet. Terselfdertyd het Milner Sprigg omgepraat om 10 000 lojaliste as milisie te werf. Met hul hulp kon die owerheid in dele van die kolonie perde en kosvoorrade opkommandeer ten einde die guerrilla-groepies te fnuik in hul poging som van die land te lwe. Dit was 'n subtieler metode as die afbrand van plase en ongetwyfeld geslaagder en mensliker. Tot die einde van die oorlog is dié hulpmiddels - militêr en wetlik - in die Kaapkolonie gebruik. Teen Mei 1901 is dele van die kolonie onveilig gemaak deur klein, ronddolende guerrillabendes, waaronder Kritzinger s'n.
n Maand tevore is spesiale militêre howe ingestel om gewapende koloniale rebelle te verhoor wanneer hulle gevang word. Hoe meer deur Kitchener se kolonnes uitgesnuffel lis, hoe meer het die aantal militêre howe toegeneem, en teen die einde van die oorlog is 700 doodvonnisse aan koloniale rebelle opgelê, waarvan 35 deur Kitchener bekragtig is. Hiernaas is 16 ander - Transvalers, Vrystaters en 'n aantal Swartes - ook tereggestel ná veroordelings op aanklagte soos moord op Swartmense of (in die geval van verskeie Swartes) die verkragting van Blanke vroue.
In Februarie het Kitchener Louis Botha oorgehaal om onder vrygeleide na die Britse linies te kom en vredesvoorwaardes te bespreek. Hulle het op 28 Februarie 1901 by Middelburg (Tvl.) ontmoet, maar die hoop wat tydens die ontmoeting ontstaan het, het bedrieglik geblyk. Kitchener se aanbod, wat deur die Britse regering goedgekeur is, was in die meeste opsigte soortgelyk aan dié wat die kommando's sou aanvaar toe die bittere einde in Mei 1902 op Vereeniging bereik is. Kitchener sou een bykomende toegewing doen, nl. om die Kaapse rebelle slegs met die verlies van stemreg te straf, maar dit is deur Milner en die Britse regering geblokkeer. Waarskynlik het dit egter geen verskil gemaak nie. Die moed van die burgers te velde het wel gesak, maar was nog nie gebreek nie.
Nadat Botha die Britse aanbod verwerp het, het Kitchener daarop gekonsentreer om die guerrillas te laat oorgee deur 'n uitbreiding van die konsentrasiekampstelsel en enorme klopjagte om die land van mense en voorrade te stroop. Aanvankllik was die aantal guerrillavegters (teenoor vroue en kinders) wat Kitchener gevang het, egter frustrerend klein.
--- --- ---
Die konsentrasiekampe: S.B. Spies
In September 1900 het lord Roberts die oprigting van sg. vlugtelingkampe goedgekeur. Drie maande later het Kitchener beveel dat alle nie-strydendes in sekere gebiede na die kampe verwyder moet word en teen die einde van die oorlog was daar meer as veertig kampe wat 116 000 Blankes gehuisves het en meer as sestig afsonderlike kampe met ongeveer 115 000 Swartes.
Die meeste inwoners was nie werklik vlugtelinge nie, maar mense wat opgevang is in Britse dryfjagte. Die Britse Militêre owerheid geglo dat die teenwoordigheid van Boeregesinne in die kampe die mans in die veld sou laat oorgee. Swartmense is van die platteland verwyder om te verhoed dat hulle aan die kommando's voorrade, inligting en hulp verskaf, en later is die Swart mans as arbeiders benut terwyl hul gesinne in die kampe gebly het. Die konsentrasiekampe is duidelik bedink as militêre maatreël om die weerstand van die vegtende Boere te beëindig.
Aanvanklik het Kitchener opdrag gegee dat die gesinne van mans wat oorgegee het, beter huisvesting en voedsel moet kry as die vroue en kinders van dié wat nog in die veld was. Toestande het van kamp tot kamp gewissel en het grotendeels afgehang van die ligging van die kamp self en die persoonlikheid en bekwaamheid van die superintendent. Opsetlike mishandeling is nooit goedgekeur nie, nog minder uitdelging, maar nogtans was voorbeelde van besonder swak huisvesting (meesal tente), ongeskikte voedsel, onvoldoende beddegoed en onhigiëniese sanitêre toestande volop. Dié faktore, tesame met die ongesonde toestand van die omgewing en uitsonderlike epidemies van masels en longontsteking, het 'n verskriklike tol geëis.
Vanaf die winter van 1901 het sterftes in die kampe skrikwekkend toegeneem. In die laaste maande van dié jaar het toestande begin verbeter, maar die skade was reeds aangerig. Altesaam 27 927 Boere (onder wie 26 251 vroue en kinders) het in die kampe omgekom, en meer as 14 000 Swartes in hul eie kampe.
--- --- ---
Emily Hobhouse: S.B. Spies
Emily Hobhouse (1860-1926), 'n filantroop en pasifis uit Cornwallis, was die dogter van 'n Anglikaanse geestelike. Sy het tydens die oorlog as kampvegster vir die lydende boerevroue en -kinders op die voorgrond gegtree.
In November 1899 het Emily Hobhouse sekretaresse geword van die South African Conciliation Committee, wat die beleid van die Salisbury-regering ten opsigte van die Boereregpublieke teengestaan het. In Junie 1900 het sy 'n massabyeenkoms van vroue in Londen georganiseer om teen die optrede van die Britse leër in Suid-Afrika te protesteer. Drie maande later het sy die South African Women and Children Distress Fund in die lewe geroep om behoeftige Boeregesinne te help.
In Desember 1900 het sy na Suid-Afrika vertrek. In die eerste drie maande van 1901 het sy kampe in die Kaap en die Oranjerivier-kolonie besoek en aan die hulpbehoewende inwoners, naas voedselvoorrade en klerasie, ook blyke van vriendelikheid en meegevoel gegee. Bowendien het sy dit bewerkstellig dat daar in sekere kampe verbeterings aangebring is.
Haar onthullings ná haar terugkeer na Brittanje het die aandag van die Liberale opposisie op die euwels van die kampstelsel gevestig en bygedra tot die Britse regering se besluit om 'n dameskommissie onder dame Millicent Fawcett na Suid-Afrika te stuur. Emily Hobhouse is nie tot lid van dié kommissie benoem nie, maar hul besoek,e n hul aanbevelings in Desember 1901, het 'n groot verbetering in toestande in die kampe meegebring. Toe Emily Hobhouse in Oktober 1901 na Suid-Afrika terugkeer, is sy in Kaapstad gearresteer en onmiddellik na Brittanje gedeporteer.
Ná die oorlog het Emily Hobhouse tuisnywerhede in die Oranjerivier-kolonie en Transvaal begin om Boeregesinne te help rehabiliteer. In 1913 is sy uitgenooi om die Vrouemonument in Bloemfontein te onthul, maar swak gesondheid het haar verminder om die plegtigheid by te woon en haar toespraak is namens haar voorgelees. Ná haar dood in Junie 1926 is haar as na Suid-Afrika gebring en by die Vrouemonument begrawe.
--- --- ---
In Maart 1901 het Kitchener 'n nuwe stelsel van blokhuise ingevoer, wat geleidelik tot 'n deurslaggewende faktor ontwikkel het. 'n Uitgebreide net van sink-en-klip-blokhuise, verbind met doringdraad en telefoonlyne, het oor die veld uitgesprei. Teen die einde van die oorlog was daar 8 000 blokhuise oor 'n totale afstand van 6 000 km, bewaak deur 50 000 troepe en 16 000 Swartes wat as verkenners en "wagte" gedien het. Die blokhuislinies het Kitchener in staat gestel om al hoe groter dele van die land van die vyand gesuiwer te hou en terselfdertyd om die guerrillamagte te verswak. Dit Britse kolonnes het hulle teen die blokhuislinies vasgejaag en hoewel hulle telkens ontsnap het, het die ontsnappings hulle al hoe meer uitgeput. Om die kolonnes te help, het Kitchener aan hulle 'n groot getal verkenners en drywers verskaf. Sommige is bewapen vir hul eie beveiliging, want die Boere het gevange Swart verkenners dikwels voor die voet geskiet. Ook het Kitchener wapenneerlêers gewerf om aan die dryfjagte deel te neem. In Transvaal is 'n National Scouts-korps gevorm en in die Oranjerivier-kolonie 'n Orange River Colony Volunteers-korps.
Kitchener het sy kolonnes nou ook opdrag gegee om nie meer vroue en kinders aan te keer nie. Sy motiewe was egter geensins humanitêr nie. Hy het uiteindelik ingesien dat die konsentrasiekampbeleid 'n fout was. Die burgers te velde sou deur die aanwesigheid van hul gesinne nog meer belemmer word as ooit.
Die Boereleiers het teen September 1901 al hoe desperater geword. Smuts het besluit dat aangesien die twee republieke van alle voorrade gestroop word, hy dioe Kaapkolonie moet binneval ten einde nogmaals 'n Afrikaneropstand te probeer ontketen. Op 3 September het hy die Oranje met ongeveer 250 man oorgesteek. Hulle was half uitgehonger en kon geen vars perde kry nie en Smuts kon geen opstand bewerkstellig nie. Aan die ander kant was blote oorlewing reeds 'n triomf. Smuts het deurgebreek na Noordwes-Kaapland en aan die einde van die oorlog Britse poste op Okiep beleër.
In dieselfde maand het Lous Botha 'n nuwe front in Natal probeer oopmaak, maar ten spyte van sy skitterende slag by Bloedrivierpoort op 17 September het sy "inval" doodgeloop. Hy is agternagesit tot in Transvaal en daar het hy een van Kitchener se beste kolonnes, onder kol. Benson, op 30 Oktober by Bakenlaagte aan flarde gesny. Nogtans het Kitchener se dryfjagte die Boeregetalle van maand tot maand laat afneem. Op Kersdag 1901 het De Wet nog met skitterende welslae 'n kamp van 400 Imperial Yeomanry by Tweefontein (Groenkop) bestorm, terwyl lord Methuen op 7 Maart deur De la Rey by Tweebosch verslaan en gevange geneem is, maar die syfers spreek boekdele: 1 579 Boere is in Desember gevange geneem; 1 387 in Januarie; meer as 2 000 in Februarie.
Die guerrillastryders is al hoe verder in die wildernis anderkant die blokhuislinies uitgestoot. Terselfdertyd was daar 'n oplewing in die Transvaalse ekonomie. Daar is opnuut Swart mynwerkers gewerf en teen April het 39 000 Uitlanders na Transvaal teruggekeer. 'n Derde van die goudmyne was weer in werking. Die twee nuwe kolonies was reeds selfstandig sover dit inkomste betref. Dit het gelyk asof die nimmereindigende oorlog uiteindelik sou begin doodloop.
--- --- ---
Gideon Scheepers: S.B. Spies
Gideon Scheepers *1878-1902) is vier en 'n halwe maand voor die vredesluiting op Graaff-Reinet deur 'n Britse vuurpeloton tereggestel. Hy was 'n Transvaler van geboorte wat kort voor die uitbreek van die oorlog na die Vrystaatse strydmag gesekondeer is. Hy het genl. De Wet goed gedien as verkenner en in Desember 1900 is hy en 'n klein groepie deur De Wet oor die Oranje gestuur om Britse troepe en verbindings aan te val.
Tien maande lank het Scheepers en sy manne die Britse gesag in die Kaap ernstig ontwrig, maar in Oktober 1901 is hy op 'n p laas in die distrik Prins Albert gevange geneem. Sy makkers het hom onwillig daar agtergelaat, maar hy was te siek (waarskynlik longontsteking) om verder saam met hulle te gaan.
Terwyl hy nog ernstig siek was, is Scheepers deur 'n Britse millitêre hof verhoor op aanklagte van moord, brandstigting, die ontsporing van treine en die mishandeling van gevangenes tydens sy operasies in die Kaapkolonie. Die doodvonnis wat deur die hof uitgespreek is, is deur Kitchener bekragtig. Tydens sy verhoor het Scheepers erken dat hy brand gestig en treine aangeval het en dat hy verantwoordelik was vir die skiet van 'n aantal Swartes en Kleurlinge wat bewapen was of van spioenasie verdink is. Nogtans bly dit twyfelagtig of 'n Britse militêre hof kragtens die Konvensies van Den Haag en Genéve en die reëls van die volkereg bevoeg was om tydens 'n oorlog 'n krygsgevangene ter dood te veroordeel.
--- --- ---
Swartmense in die oorlog: Peter Warwick
In Oktober 1899 was daar onder sowel Britse as Boereleiers 'n stilswyende ooreenkoms dat die stryd 'n "witmansoorlog" sou wees waarin Swartmense nie as bewapende soldate sou dien nie. Terselfdertyd is besef dat die oorlog nie 'n uitsluitlik Blanke onderneming kon wees in 'n gemeenskap wat vir vier vyfdes uit Swartes bestaan nie. Ook kon die Britte en Boere hul onderskeie veldtogte nie sonder die hulp van die Swartes aanpak nie. Veral die Britse leër het op hulpdienste gesteun en verwag dat die Swart en gekleurde bevolking baie van die arbeid verrig. Soveel as 100 000 Swartmense is in diens geneem as transportryers, touleiers, grofsmede, wielmakers, hoefsmede en timmermans, as werkers in vestingbou, kruierdienste en verbindings, as verkenners en verskaffers van inligting, en as ongeskoolde arbeiders en knegte in die militêre kampe.
Die Boeremagte was eweneens van Swartmense afhanklik vir hulpdienste, en baie is opgekommandeer om waens te dryf, loopgrawe te grawe, inligting in te win, perde te versorg, brandhout bymekaar te maak en 'n menigte ander noodsaaklike take te verrig. Baie burgers het een of meer agterryers gehad, wat verantwoordelik was vir die versorging van hul werkgewers, toesig oor perde en toerusting en die laai van gewere.
Mettertyd het die Swartmense nouer en op meer kontroversiële wyse by die stryd begtrokke geraak, veral aan Britse kant. Reeds in die eerste weke van die oorlog is 'n aantal Swartes in die Kaap bewapen om nedersettings teen Boere-invallers te verdedig. By Mafeking was daar aan albei kante bewapende Swartes in die loopgrawe, en Baden-Powell het plaaslike Barolong en Kleurlinge gewerf om die dorp te help verdedig. Britse indiensneming van bewapende verkenners het teen die einde van 1900 begin, toe dié wat aangesluit het, nie meer outomaties ontwapen is nie, op grond daarvan dat verkenners hulle moes kan beskerm. Onder Kitchener het die aantal bewapende Swartes in die Britse leër ingevolge die hoë eise aan mannekrag tydens die veldtog teen die guerrillas en die baie hoë siektesyfer onder die Britse troepe toegeneem. Algaande het bewapende Swart verkenners baie van die Britte se inligting oor die bewegings van die Boere begin verskaf, en heelwat van die blokhuise en verbindingslinie wat bedoel was om die bewegings van Boere-guerrillas te beperk, is deur Swart wagte bewaak. Presiese statistieke is nooit bygehou nie, maar teen die einde van die oorlog was daar ten minste 10 000 en waarskyn soeveel as 30 000 bewapende Swartes in Britse diens.
Swartmense het ook op ander maniere by die oorlog betrokke geraak, veral in Transvaal, waar die republikeinse staat as gevolg van sowel interne Swart weerstand as die millitêre inval van buite ineengestort het. Vanaf vroeg in 1900 het groot dele van Wes-, Noord- en Suidoos-Transvaal as gevolg van Swart vyandigheid vir Boeregesinne en klein groepies krygsmanne onherbergsaam geword.
Toe Smuts in die middel van 1900 deur Wes-Transvaal reis, het hy op streke afgekom wat deur die Blanke inwoners verlaat is en waar voormalige Swart pagters die grond en plase oorgeneem het. Die Kgatla het trouens met die steun van Britse troepe andeerkant die grens in Betsjoeanaland en met die goedkeuring van die Britse leër beheer gekry oor 'n groot deel van Wes-Transvaal. In die noorde is plase ook só deur Swartes oorgeneem en teen Boere-guerrillas verdedig.
In Suidoos-Transvaal het baie Zulu-gemeenskappe die plaaslike kommando's geteister. Die verhoudings tussen die twee groepe het al hoe bitterder geword en uitgeloop op 'n aanval op die Vryheid-kommando deur 'n Qulusi-impi by Holkrans in Mei 1902 waarin 56 burgers gedood is.
Dit is veelseggend dat een vand ie belangrikste redes vir die aanvaarding van die vredesvoorwaardes wat die Boereverteenwoordigers aangevoer het, die feit was dat baie Swartes "buiten en binnen de grenzen van het grondgebied der beide Republieken meest allen gewapend zijn en deel nemen in den strijd tegen ons en ... een onbestaanbaren toestand in vele districten der beide Republieken veroorzaken".
As die oorlogsjare 'n tyd van geleentheide was waarin die optrede van die Swartes die verloop van die stryd tussen Boer en Brit help bepaal het, was dit vir baie Swartmense egter ook 'n tyd van ontwrigting en beproewing. Die staking van die meeste mynbedrywighede aan die begin van die oorlog het baie trekarbeiders teruggedwing na die platteland, waar al die mans wat normaalweg elders werksaam was, moeilik gevoed kon word. Dit was veral armoede en die noodsaak om 'n loon te verdien wat die Swartes tot Britse diens gedwing het. In Transvaal en die Vrystaat het Kitchener se verwoestingstaktiek die ontworteling van Swart sowel as Blanke gesinne meegebring en teen die einde van die oorlog was 115 700 Swart vlugtelinge in 66 konsentrasiekampe gevestig. Die Swart kampe is as bron van goedkoop arbeid vir die Britse leër gebruik en die toestande daar was nog erger as dié in die kampe vir blankes. Meer as 14 000 Swartes, een uit elke tien vlugtelinge. het hier gesterf.
Vir die Swartmense wat die konsentrasiekampe ná die oorlog verlaat het, het die toekoms nie veel meer as loonarbeid ingehou nie. Die Swartes wat plase besit en tuine aangelê het, skouer aan skouer met Britse soldate aan die stryd deelgeneem en nou verwag het dat die nuwe bestuur in die oorwonne Boererepublieke hulle meer goedgesind sou wees, het trouens hoop begin verloor voordat die ink op die vredesooreenkoms nog droog was. Uit die vredesvoorwaardes was dit duidelik dat 'n nie-rassistiese kieserslys soortgelyk aan dié in die Kaap nie deur Brittanje in sy twee nuwe Suid-Afrikaanse kolonies ingevoer sou word, soos baie Swartmense gehoop het nie. Arbeidsregulasies is deur die na-oorlogse Britse bewind gemoderniseer en doeltreffender toegepas en die Swartmense is ontnugter en het gevoel dat hulle verraai is.
--- --- ---
Die "hensoppers" en "joiners": A.M. Grundlingh
Ná die val van Bloemfontein en Pretoria en die Britse anneksasie van die twee republieke, het n ie minder nie as 13 900 burgers hulle vrywillig aan die stryd onttrek en die Britse eed van neutraliteit afgelê. Die getal wapenneerlêers ("hensoppers") tydens die oorlog was sowat 26 persent van die krygspligtige burgers in die republieke of nagenoeg 40 persent van dié wat aanvanklik gemobiliseer is - hoewel sommige weer by die Boeremagte aangesluit het.
Die grootskaalse demoralisasie ná die val van Bloemfontein en Pretoria verklaar grootliks waarom soveel burgers die stryd gewonne gegee het. Meer spesifiek was daar drie kategorieë wapenneerlêers: dié wat die voortsetting van die stryd as onrealisties en tot nadeel van die land beskou het; dié wat oorlogsmoeg was en nie verder begaan was oor die uitslag van die konflik nie; en dié wat primêr besorg was oor hul persoonlike en materiële welsyn. Teen ;die einde van 1900 het van die wapenneerlêers, met die aanmoediging van die Britse owerheid, burgervredeskomitees gevorm wat vergeefs probeer het om die voortvlugtende burgers te oorreed om die stryd te staak. Die vredesgesante is deur die vegtende Boere as verraaiers beskou en het dus geen legitimiteit as tussengangers geniet nie. Twee van hulle, M. de Kock en J. Morgendaal, het selfs met hul lewe geboet.
Veral in die laastge ses m aande van die oorlog het sommige wapenneerlêers aktief aan Britse kant geveg. Hulle het in die volksmond as "joiners" bekend gestaan en teen die einde van die oorlog 5 464 man getel. Dit is geensins 'n onbeduidende getal nie, as in ag geneem word dat daar met die vredesluiting net sowat 17 000 "bittereinders" was. As individuele gidse en verkenners by die Britse kolonnes, asook georganiseer in plaaslike burgerkorpse en in groter eenhede soos die National Scouts in Transvaal en die Orane Rivier Colony Volunteers in die Vrystaat, het die "joiners" vanweë hul intieme kennis van die oorlogsterrein 'n besondere leemte in die Britse leër gevul. Vir die Boereleiers in die veld was dit 'n onrusbarende verwikkeling en dié breuk in Afrikanergeledere is as een van die oorwegings genoem waarom daar in Mei 1902 oor vrede onderhandel lis. Onder die "joiners" was daar 'n aansienlike getal armlastige bywoners wat voor die oorlog in 'n minderwaardige ekonomiese en sosiale posisie verkeer het. As 'n "verontregte" groep het hulle relatief maklik die prooi geword van misleidende Britse beloftes van ongekende welvaart.
Sommige "joiners" was bloot gefrustreer met die depressiewe eentonigheid van die lewe in die konsentrasiekampe, terwyl familie-oorweginge (heelwat "joiners" was op die een of ander wyse met mekaar verwant) moontlik ook 'n rol gespeel het. Hierbenewens het die "joiners" aangevoer dat die republieke reeds geannekseer was en dat hulle die einde van die oorlog wou verhaas ter wlle van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe. Vir talle "joiners" was dié argument bloot 'n rasionalilsering van hul optrede, maar vir sekere leiersfigure soos Piet de Wet (die generaal se broer) en Andries Cronjé was dit waarskynlik werklik van belang.
Hoewel die afvallige burgers in die na-oorlogse periode deur die res van die Boerebevolking verwerp en selfs hul eie kerk gestig het, was die meeste teen 1907 weer kerklik en polities by die Afrikanergeledere ingeskakel. Die versoeningsproses is o.m. vergemaklik deur die vergewensgesinde houding van "bittereinder"-leiers soos Louis Botha en deur die afsydige beleid van die na-oorlogse Britse owerheid teenoor die afvalliges.
--- --- ---
'n "Imperiale les"
Die oorlog het die Britte, om Kipling se uitdrukking te gebruik, 'n "imperiale les" geleer. Die Britse publiek het verwag dat dit voor Kersfees 1899 oor sou wees. Dit was egter die langste (byna drie jaar), die duurste (meer as £200 miljoen), die bloedigste ('n lewensverlies van minstens 22 000 Britte, 34 000 Boere en 15 000 Swartes) en die vernederendste oorlog wat Brittanje tussen 1815 en 1915 ervaar het.
Volgens Britse raming was daar meer as 100 000 ongevalle van alle soorte onder die 365 693 imperiale en 82 742 koloniale troepe wat aan Britse kant geveg het. Van die Britse dodetal het 5 744 op die slagveld omgekom, terwyl 16 168 aan wonde of siekte beswyk het. Na skatting is daar ook meer as 400 000 perde, muile en esels in die oorlog "verbruik". Daar is geen raming gemaak van die verliese onder die 10 000 bewapende Swartes wat aan Britse kant in diens geneem is of onder die meer as 40 000 onbewapende Swartes wat die leë as verkenners, gidse en drywers gedien het nie.
Die Britte het geskat dat daar 7 000 sterfgevalle was onder die 87 365 Boere wat in die oorlog geveg het, met inbegrip van 2 120 buitelandse vrywilligers en 13 300 Afrikaners uit die Kaapkolonie en Natal.
Sommige van die lesse uit die oorlog was vir Brittanje in die Wêreldoorlog van waarde, maar die sentrale taktiese les het hulle ontgaan. Die rede vir hul vernederende nederlae was nie die skietvermoë van die Boere of hul beter gewere nie, en ook nie die onnoselheid van die Britse generaals nie - dit was mites wat die Britse volk gerieflikerwyse aanvaar het - maar die magasyngeweer met vinnige, rooklose, langafstandpatrone van 'n klein kaliber, saam met die loopgraafstelsel, wat die voordeel beslissend van aanval na verdediging verplaas het. Hierdie les sou die wêreld opnuut leer uit die bloedige skaakmatte in die loopgraafoorlog van 1914-1918.
Die vredesonderhandelinge
Die eerste vredesonderhandelinge het op 11 April 1902 plaasgevind toe Schalk Burger, Smuts, Botha, Steyn, De Wet en ander Boereleiers met 'n spesiale trein na die Britse leërhoofkwartier in Pretoria gebring is. Kitchener het die onderhandelinge geopen, en Milner het sy bes probeer om hulle te verongeluk. Die twee Britse leiers was reeds maande lank haaks. Milner was geskok deur Kitchener se wrede en ondoeltreffende verwoesting van die platteland. Terselfdertyd was hy teen alle vredesonderhandelinge gekant, want na sy mening was die oorlog in elk geval besig om ten einde te loop. Brittanje moes aandring op onvoorwaardelike oorgawe, aangesien dit die enigste manier was waarop hy sy vry kon hou om Suid-Afrika ná die oorlog te omvorm.
Die kommando's het sestig nasionale afgevaardigdes verkies wat teen 15 Mei by Vereeniging vergader het. Ná 'n onbesliste debat oor vrede het hulle 'n afvaardiging van vyf man gekies om in Pretoria oor die werklike vredesvoorwaardes te gaan onderhandel.
Die tweede ronde van die samesprekings het op 19 Mei begin. In drie opsigte het Kitchener die aanbod aantrekliker gemaak as dié wat indertyd op Middelburg gedoen is. Daar sou wel 'n amnestie (met verlies van stemreg) vir die meeste Kaapse rebelle wees, hoewel nie vir leiers of vir Natalse rebelle nie; in plaas van £1 miljoen sou £3 miljoen bewillig word om die skulde van die twee republieke te betaal; en 'n verandering met verreikende gevolge is aangebring in die klousule wat die moontlikheid van stemreg vir die "Naturelle" in die nuwe kolonies in die vooruitsig gestel het.
Die tweede debat op Vereeniging het net soos die eerste daarom gegaan of dit prakties was om die stryd voort te sit. Die Vrystaat - wat as gevolg van Steyn se enrstige ongesteldheid deur De Wet gelei is - het bevestigend geantwoord. Die meeste van die Transvaalse afgevaardigdes het egter nee geantwoord en die redes was vir alle distrikte min of meer dieselfde. Daar wa s'n kritieke tekokrt aan perde en kos en hulle kon nie meer die gesinne wat nog by die kommando's in die veld was, onderhou nie. Selfs in die Kaap, waar geen plas afgebrand is nie, was perde en voer só skaars dat niks uitgerig kon word nie, soos Smuts verduidelik het.
Daar was twee verdere redes waarom die Transvalers ten gunste van vredesluiting was. Anders as die Vrystaters het hulle 'n Swart opstand gevrees. Op 6 Mei het 'n Zulumag 'n groep Boere by Holkrans aangeval en 56 gedood in weerwraak vir gedurige teistering deur kommando's, en elders het Boerevroue in gevaar verkeer. Terselfdertyd is die Boerevolk wreed deur die oorlog verdeel. Daar was reeds 5 400 National Scouts en ander "hensoppers" uit die twee republieke (o.a. De Wet se broer Piet).
Op 31 Mei is daar in die groot tent by Vereeniging tot stemming oorgegaan. De Wet en die Vrystaatse leiers het ingewillig om die volk nie te verdeel nie en het saam met die meerderheid gestem. Die leiers is inderhaas na Pretoria teruggebring, waar hulle om elfuur dié aand die voorwaardes van oorgawe onderteken het. Schalk Burger, die vise-president wat met Kruger se vertrek uit Suid-Afrika by hom oorgeneem het, het die eerste geteken vir Transvaal en De Wet het as waarnemende staatspresident van die Vrystaat geteken. Kitchener en Milner het hul name heel laaste onder die dokument geplaas. Binne vyf minute was alles verby.
--- --- ---
'n Aanbevole lees- en bronnelys verskyn aan die einde van die hoofstuk
--- --- ---
Hoofstuk 15
Rekonstruksie en unifikasie, 1902-1910: S.B. Spies
"Nou is ons goeie vriende," was Kitchener se opmerking teenoor die tien Boereleiers wat op 31 Mei 1902 die vredesooreenkoms onderteken het.Kroonkoloniebestuur is in die Boerestate ingestel en die hoogste gesag was in die hande van lord Milner, hoë kommissaris vir Suid-Afrika en goewerneur van die Transvaal- en die Oranjerivier-kolonie. Milner moes binne die raamwerk van die vredesooreenkoms optree4: "Waarskynlik een van die vreemdste dokumente in die geskiedenis," het hy opgemerk. Die ooreenkoms het inderdaad ongewone bepalings bevat: in plaas daarvan om skadevergoeding te eis, sou die oorwinnaar £3 miljoen betaal om die oorlogskade te help herstel, die mans wat oorgegee het sou hul eiendom behou, en hoewel die verowerde gebiede onder Britse soewereiniteit geplaas is, het hulle die belofte van selfbestuur ontvang.
Die betekenis van Vereeniging
In 1905 het Milner verklaar dat sy grootste fout was om klousule 8 van die ooreenkoms, wat ' n besluit oor die toekenning van stemreg aan Swartes tot ná die instelling van selfregering uitgestel het, te aanvaar. Volgens hom was hy nie bewus van "die enorme vooroordeel van byna al die Blankes - nie net die Boere nie". Volgens die Boere het Milner egter by Vereeniging teenoor Smuts en Hertzog opgemerk dat hy dit met hulle eens is wat stemreg vir Swartes betref. Klousule 8 het die moontlik van politieke regte vir Swartes nie heeltemal uitgesluit nie, en toekomstige Britse regerings ook nie verhinder om druk op Blanke Suid-Afrikaners uit te oefen om wetgewing in dié verband in te dien nie. Baie Swartes was egter erg verontwaardig omdat die Boere, wat die vyand was, oënskynlik bevoordeel word, terwyl hulle self skynbaar geïgnoreer word, maar dit was in 1902 vir die Britte op militêre én burgerlike vlak van die grootste belang om voorwaardes te vind wat die bittereinders tot oorgawe sou beweeg.
Die afgevaardigdes het toe na hul kommando's teruggekeer om reëlings vir die oorgawe te tref. In sy boek Commando vertel Deneys Reitz hoe die mans in sommige gevalle "hul ammunisie in die lug weggeskiet, hul geweerkolwe gebreek en hul wapens stuurs op die grond gegooi het". Die laastes van die 20 000 bittereinders was meestal uitgeteer en byna swart gebrand, en dikwels ook verflenterd. Hulle het nou geleidelik teruggekeer na hul huise - of wat daarvan oorgebly het.
Strukture in Suid-Afrika van 1902 tot 1910: Mense, mag en belange
Sommige historici het Milner se enorme gesag en sy ongetwyfelde invloed beklemtoon, maar die revisionistiese geskiedeskrywers Shula Marks en Stanley Trapido wys op die noodsaaklikheid daarvan om verby die "hebbelikhede van 'n enkeling" te kyk. Volgens hulle moet Milner se persoonlikheid en beleid gesien word as deel van die komplekse magte en geskille wat aan die na-oorlogse jare vorm gegee het. Polities gesproke het "Britse oppergesag" gedui op die daarstelling van Suid-Afrikaanse regerings wat die imperiale strewe simpatiek gesind was en dus "lojaal" sou wees en bereid om saam te werk (te "kollaboreer"). Dit het ook gedui op die daarstelling van 'n doeltreffende bestuursapparaat wat aan die burokratiese eise van die tyd kon voldoen. Op ekonomiese vlak moes die Suid-Afrikaanse landbou en nywerheid - veral die lewensbelangrike goudmynbedryf - ontwikkel en georganiseer word om die geld- en handelsmiddele van die Ryk te versterk en die middele vir oorlog te help voorsien. Strategies moes die vlootbasis by Simonstad, 'n uiters belangrike bastion opdie seeroete na Indië, uitsluitlik tot die beskikking van die Britse vloot staan.
--- --- ---
Die bevolking van Suid-Afrika: sensusstatiestieke (1904-1911)
Die eerste gelyktydige sensus in Suid-Afrika het op 17 April 1904 plaasgevind
Kategorieë: 1904 / 1911: Volke: Kaap / Natal / Transvaal / Oranjerivier-kolonie/OVS / & Totaal
Swartes: 1,425/1,520; 904 000/953 000; 937 000/1,220; 225 000/326 000 = 3,491/4,019
Blankes: 580 000/582 000; 97 000/98 000; 297 000/421 000; 143 000/175 000 1,117 = 1,276
Gekleurdes: 395 000/455 000; 7 000/9 000; 24 000/35 000; 19 000/27 000 = 445 000/526
Indiërs: 10 000/8 000; 101 000/133 000; 11 000/11 000; 200/100 = 122 200/152 100
Totale bevoking: Kaap: 2,410/2 565; 1,109/1,193; 1,269/1,687; 387 200/528 100 = 5,175+/5,973+
Hierdie statistieke is verkry uit die amptelike jaarboeke van die Unie van Suid-Afrika en ander amptelike publikasies. Die syfers is tot die naaste duisend afgerond (behalwe in die geval van die Indiërs in die Oranjerivier-kolonie/Oranje-Vrystaat
--- --- ---
Die onenigheid onder die Blankes oor imperialisme en onafhanklikheid of plaaslike outonomie en die vraagstuk van verhoudings tussen Boere en Suid-Afrikaanse Britte was nog steeds van die allergrootste belang. Die vrede het nbiks verander aan die bedreiging van die Kaapkolonie se selfregerende status nie. Tydens die onderhandelinge by Vereeniging het Milner, ondersteun deur lede van die mees imperialistiesgesinde plaaslike politieke party, Jameson se Progressiewe, weer eens 'n poging aangewend om die Kaapse grondwet opgehef te kry, maar sy pogings het gestrand op op teenkanting in Kaapstad en Londen. Toe die Progressiewe in 1904 aan die bewind kom, het dit gelyk asof Milner se doel omd ie Kaapkolonie as basis vir die bevordering van imperiale aspirasies te verkry, verwesenlik sou kan word. As eerste minister moes Jameson egter die belange van sowel die Kaap as dié van die Ryk in ag neem.
Natal is algemeen as die "lojaalste" Suid-Afrikaanse kolonie beskou, ondanks die feit dat slegs 2 500 Natallers tydens die Tweede Ango-Boereoorlog aan Britse kant geveg het. Natalse politici het geglo dat die oorlog 'n geleentheid sou bied om hul territoriale ambisie te verwesenlik, en die voormalige premier, Harry Escombe, was selfs ten gunste daarvan dat die hele Transvaal deur Natal geannekseer word! Negentien dae voor die onderteken van die vredesooreenkoms het die Natalse Parlement trouens met die goedkeuring van die Britse regering 'n Anneksasiewet aangeneem ingevolge waarvan die voormalige republikeinse distrikte Vryheid en Utrecht en 'n deel van Wakkerstroom aan Natal oorgedra is, hoewel die ooreenkoms self dié anneksasie nie gemeld het nie. Die wettigheid van dié oordrag was dus twyfelagtig.
Die toekenning van selfbestuur aan die twee verowerde state in 1907 het die Blanke inwoners die instellings gegee om hul politieke doelwitte in 'n parlementêre raamwerk na te strewe. Voor selfbestuur is Het Volk in Januarie 1905 in Transvaal en die Orangia-Unie in Mei 1906 in die Oranjerivier-kolonie gestig. Afrikaners in die voormalige republieke het nou patrypolitieke organisasies gehad wat gereed was om hulle te laat geld sodra die nuwe grondwette in werking tree. Al die Afrikanerleiers in Transvaal en die Oranjerivier-kolonie was manne wat die Boeresaak end-uit trou gedien het, en niemand wat met die vyand saamgewerk het, het die status van leier verkry nie. Die toekenning van verantwoordelike bestuur is deur sommige Britse Unioniste as 'n roekelose eksperiment beskou, maar was in werklikheid 'n Liberale strategie om Britse oppergesag in Suid-Afrika deur instemming en samewerking te verseker. Daar was eintlik geen alternatief nie - daarsonder sou die status van die state onbepaald dié van kroonkolonies moes gebly het.
In Transvaal is Het Volk se amptelike beleid van versoening grootliks bepaal deur 'n oortuiging dat dit die beste manier was om die oorlogswonde te genees, maar die behoefte om Engelssprekendes se stemme te werf, het ook 'n rol gespeel. Vanweë die betreklike klein getal Engelssprekendes in die Oranjerivier-kolonie was so 'n beleid nie vir die Orangia-Unie noodsaaklik nie, en hier het die Engelssprekendes onder John George Fraser in 1907 die Konstitusionele Party gestig.
Die Engelssprekendes in Transvaal was meer verdeeld. Van die Progressiewe Party in dié gebied onder Percy Fitzpatrick en George Farrar, is daar algemeen geglo dat dit noue bande met die kamer van Mynwese het, hoewel onlangse navorsing dié veralgemening getemper het. Die Responsible Government Association (wat later as die National Association bekend sou staan) het die belange weerspieël van ekonomiese groepe (waaronder ook dele van die diamantbedryf) wat teen die Kamer van Mynwese gekant was. Teen 1907 het dié groep feitlik 'n bondgenoot van Het Volk geword.
'n Belangrike verskynsel was die ontwikkeling van die Blanke vakbonde - veral 'n organisasie soos die Transvaal Miners' Association. In 1903 het Milner verklaar: "Ons wil geen Blanke proletariaat in hierdie land hê nie." Nogtans het daar, soos Elaine Katz, historikus van die vakbondwese in die vroeë 20ste eeu, aangetoon het, "'n besondere Suid-Afrikaanse arbeidsbeweging ... 'n vakbond-aristokrasie" tot stand gekom, wat aansienlike probleme vir Suid-Afrikaanse kapitaliste en die staat sou veroorsaak. Ewe belangrik was die invloed van die groot kapitalistiese myn- en ander ondernemings.
Kleur was vanselfsprekend 'n fundamentele skeiding wat dwarsdeur groeps- of klasseverskille gesny het. In 1904 was slegs 21,5 persent van die bevolking Blank, maar nogtans was dit 'n basiese aanname van Afrikaners en Britte dat Suid-Afrika 'n "witmansland" is. Die Kaap was die enigste Suid-Afrikaanse staat waar nie net Blankes enigsins sinvolle politieke regte gehad het nie, maar selfs daar was net 10 persent van die geregistreerde kiesers in 1909 Kleurlnge en minder as 5 persent Swartes. Hoewel die lede van die Kaapse Parlement deurgaans Blank was, was dit meer in voeling met die menings en belange van alle rassegroepe as enige ander ooreenstemmende instellings in Suid-Afrika. Opgevoede Swartes soos John Tengo Jabavu het ook geglo dat hulle betrokke moet raak by die politieke proses wat deur die Blankes oorheers word.
--- --- ---
John Tengo Jabavu (1856-1921)
John Tengo Jabavu was 'n Mfengu wat deur Wesleyaanse sendelinge opgevoed is. Hy het 'n loopbaan in die onderwys laat vaar om joernalis en werwer vir die politikus James Rose Innes te word. Hy was die eerste redakteur van die invloedryke koerant Imvo Zabantsundu ("Swart Mening") wat in 1884 met die hulp van liberale Blankes gestig is. Hy was gekant teen beperkende wetgewing op Swartes, maar by geleentheid was hy volgens sommige mense geneig tot buitensporige kompromieë. Tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog is sy koerant kragtens krygswetregulasies deur die Britse owerheid gesluit. Die Afrikanerbond het hom genader om hom in die verkiesing van 1904 as kandidaat vir dié party beskikbaar te stel, maar hy h et dit van die hand gewys.
Jabavu het 'n belangrike rol in die stigting van die Fort Hare-kollege speel, en sy seuns, Davidson Don Tengo en Alexander Macaulay Jabavu, was tot in die veertigerjare vooraanstaande figure in die Swart politiek. J.T. Jabavu self bly 'n omstrede figuur, hoofsaaklik vanweë sy gradualisme en samewerking met Blankes.
--- --- ---
Die African Political (later People's) Organisation (APO), wat in September 1902 gestig is, het algaande die belange van die gekleurdes begin verteenwoordig, veral nadat dr. Abdullah Abdurahman in April 1905 president van dié liggaam geword het.
--- --- ---
Abdullah Abdurahman (1872-1940)
Abdullah Abdurahman was die kleinseun van die vrygestelde slawe. Hy het sy opvoeding aan die Marist Brothers College en die South African College in Kaapstad ontvang en is aan die Universiteit van Glasgow as geneesheer opgelei. In 1895 het hy met sy Skotse vrou na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het stadsraadslid en lid van die Kaapse Provinsiale Raad geword en was 35 jaar lank die oorheersende figuur in die APO. In sy latere jare is Abdurahman kwaai gekritiseer deur militante jong gekleurdes wat hom as te matig beskou het. Sy dogter Zainunnisa Gool het later ook 'n leidende rol gespeel in politieke bewegings wat die lot van Swartes en Kleurlinge probeer verbeter het.
--- --- ---
Hoewel die grondwet van Natal die stemreg nie uitdrukllik van Swartes, Indiërs en Kleurlinge weerhou het nie, is die wet so toegepas dat 99,1 persent van die kiesers in 1907 Blankes was. Die Natal Native congress, wat in die oorlogsjare deur Walter Luthuli en andere gestig is, het steeds gegroei. Teen 1910 was die invloedrykste Swart leier in Natal Johan L. Dube, wat bekend gestaan het as Mafukuzela ("Hy wat hom teen hindernisse verset"). (Eerw. J.L. Dube was die stigter en prinsipaal van die Ohlange-hoërskool in Natal, redakteur van Ilanga Lasi Natal, skrywer van The Clash of Colour, stigterslid en president van die African National Congress en ook president van die Natal Native Congress.)
Natalse Indiërs en M.K. Gandhi, 'n advokaat uit Indië, het die Natal Indian Congress in 1895 gestig om die belange van hul mense te beskerm nadat Natal die jaar tevore verantwoordelike regering verkry het. Ná 1902 het Gandhi hom ook met die posisie van die Indiërs in Transvaal bemoei. Selfs in Transvaal en die Oranjerivier-kolonie, waar stemreg uitsluitlik vir Blankes voorbehou is, het Swart politieke organisasies te voorskyn getree.
Geneen van die groepe, klasse of rasse in Suid-Afrika was in die begin van die 20ste eeu monolities nie, en die dwarsstroming van belange maak dit onmoontlik om netjies afgewerkte opsommings van houdings en gedrag te gee. Dié belange is deur 'n groot vrye pers beïnvloed, weerspieë, bekend gemaak en georkestreer. Die invloedrykste koerante was waarskynlik dié van die Argus Company, 'n filiaal van die magtige Wenher-Beit (Corner House)-organisasie wat benewens goud-, diamant-, steenkool- en bankbelange ook uitgebreide grondbeleggings gehad het. In die jare van 1902 tot 1910 het sy koerante konsekwent hul steun verleen aan imperialisme, kapitalisme in die algemeen en die beleid van die Kamer van Mynwese in die besonder.
Daar was egter ook invloedryke onafhanklike koerante wat streek- en ander belange verteenwoordig het. Afrikanerbelange is in dié tyd waarskynlik die beste behartig deur die Pretoriase koerant De Volksstem. Land en Volk (Pretoria) het oorspronklik in opposisie tot De Volksstem gestaan, maar in 1908 het dit verdwyn. Die invloed van Het Westen (Potchefstroom) was nie net tot sy eie gebied beperk nie.
Verskeie Swart koerante het aansienlike invloed gehad. Die belangrikstes was Imvo Zabantsundu ("Swart Mening") en Ilanga Lase Natal ("Die Son van Natal"). Die historikus André Odendaal het daarop gewys dat hoewel dié Swart koerante nooit 'n hoë sirkulasie gehad het nie, hulle invloed wyd gestrek het, omdat opgevoede Swartes die inhoud aan hul ongeletterde volksgenote voorgelees het. Die menings en strewe van die Kleurlinge is gedien deur die Kaapse koerant A.P.O., en dié van die Indiërs deur Indian Opinion.
Rekonstruksie en Milner se "grand design": Mei 1902 tot April 1905
'n Groep jong Oxford-gegradueerdes wat as die "Kindergarten" bekend geraak het, het 'n belangrike rol in Milner se administrasie van die oorwonne Boerestate gespeel. In Februarie 1903 is die Wetgewende Raad in Transvaal vergroot na vyftien amptenaar- en veertien benoemde nie-amptenaarlede. Milner het Botha, Smuts en De la Rey setels in die Raad aangebied, maar hulle het dit van die hand gewys. Die Boere in Transvaal en die Oranjerivier-kolonie wat wel setels aanvaar het, was sonder veel invloed. Groter invloed is uitgeoefen deur Engelssprekende benoemdes soos Percy Fitzpatrick en George Farrar, wat belangrike lede van die Kamer van Mynwese was, die prokureur H.C. Hull, en A.S. Raitt, wat die vakbonde verteenwoordig het. In Maart 1903 het 'n konferensie tot die totstandkoming van 'n tolunie vir die vier state in Suid-Afrika gelei, en die oprigting van 'n Interkoloniale Raad in Mei 1903 het samewerking tussen die kolonies bevorder.
Teen Maart 1903 was die reusagtige onderneming van die na-oorlogse hervestiging van Blankes en Swartes feitlik afgehandel. Stanley Trapido het aangetoon dat hoewel die Boere hul pollitieke mag verloor het, die tradisionele agrariese eiendomsverhoudings gehandhaaf en deur krediet- en bemarkingsgeriewe onderskraag is. Plaaslike landbougenootskappe en ook nuwe departemente van landbou en veeartsenykunde het tot stand gekom, verkwistende landboumetodes is ontmoedig, en besproeiing, boomaanplanting, doeltreffende akkerbou en veeteelt is bevorder. In die bloeityd onmiddellik ná die oorlog het die staat duur grondtransaksies aangegaan, dikwels tot voordeel van die mynmaatskappye, wat groot grondbesitters was. Milner se poging om 'n aansienlike getal Engelssprekende immigrante op die platteland te vestig, was egter 'n mislukking.
Nog 'n mislukkig was die sg. Burgher Land Settlement, wat bedoel was om armblanke blanke boere bywoners van die staat te maak. Armblankes wat nog minder vir die stedelike lewe toegerus was as vir die landbou het steeds in groot getalle na die stede gestroom.
Altesame het die Britse regering sowat £16 500 000 aan repatriasie en noodleniging bestee. Louis Botha, J.H. de la Rey en Christiaan de Wet het aan die einde van Julie 1902 na Europa vertrek om geld vir hul behoeftige volksgenote in te samel, maar dié reis het het £103 819 opgelewer. Hul besoek aan Paul Kruger, wat as balling in Europa gewoon het, het egter meegebring dat beheer van die oorblywende republikeinse geldmiddele aan vooraanstaande Afrikaners in Transvaal en die Oranjerivier-kolonie oorgemaak is. Dié geld is bestee aan die aankoop van koerante en ander voorbereidings op die politieke herlewing van die Afrikaner.
Onder die Afrikaners was daar heelwat ontevredenheid oor die aanwending en administrasie van noodleniging, en tydens Joseph Chamberlain se besoek aan Suid-Afrika tussen Desember 1902 en Februarie 1903 is dié griewe onder sy aandag gebring. Emily Hobhouse het weer eens in Brittanje en Suid-Afrika vir die Boerevrouoe en -kinders in die bresse getree, en verdere hulp is ook deur die Britse Kwakergemeenskap verleen.
Engels het die medium van onderrig in alle regeringskole geword, en die leeroplanne het 'n duidelik imperialistiese inslag gekry. Die Departement van Kolonies en Milner was dit eens dat geen "fynbesnaarse meisies ... wat dalk Emily Hobhouse'e sou kan word" as onderwyseresse aangestel moes word nie. Deur die onderwysbeleid en die nuwe skole wat in die voormalige republieke ingestel is, is die Britse tradisies onder Engelssprekende Suid-Afrikaners versterk, want die nuwe hoër skole was op die lees van die Britse public school geskoei. Soos vroeër in die Kaap, het 'n aantal Afrikaners in die voormalige republieke voor dié verengelsende invloede geswig, maar aan die ander kant is daar min twyfel dat Milner se kultuur-imperialisme ook groot aanstoot gegee het. Daar was 'n heftige reaksie onder die Afrikaners, en skole vir Christelik-Nasionale Onderwys is gestig, terwyl die Tweede Afrikaanse Taalbeweging die gebruik van Afrikaans as skryftaal bevorder het.
--- --- ---
Die Tweede Afrikaanse Taalbeweging
Die Tweede Afrikaanse Taalbeweging is in 1903 ingelui toe "Onze Jan" Hofmeyr en ander Kaapse Afrikaners die Taalbond laat herlewe het. Die Taalbond het die erkenning en ontwikkeling van die "volkstaal" nagestrewe, wat vir sommige van dié mense Nederlands eerder as Afrikaans was. In die noorde het die skrywer-joernalis Gustav Preller en die digters Eugéne Marais (ook 'n koerantredakteur), Jan F.E. Celliers en J.D. du Toit (totius) hulle egter vir die gebruik van Afrikaans beywer. Gedigte deur Marais, Cellliers, Toitius en C. Louis Leipoldt het die uitdrukkingsvermoë en subtiliteit van Afrikaans getoon. Van die gedigte wat geput het uit die herinneringe van die Boerevolk aan hul beproewings tydens die oorlog en hul haglike toestand ná Vereeniging, was Marais se "Winternag" en CDelliers se "Dis al" waarskynlik die twee wat die grootste weerklank gevind het. Die sobere uitbeelding van wanhoop in dié gedigte het Afrikaners diep ontroer, maar dit was die werk van Totius wat die meeste vir Afrikaner-nasionalisme beteken het.
--- --- ---
Die Boere-hiërargieë van die oorlogstyd het intak gebly, in so 'n mate dat oud-president Steyn die groot aansien wat hy tydens die oorlog verwerf het, behou het, selfs al het sy gesondheid hom verhinder om aktief aan die politiek deel te neem. Die landbougenootskappe wat onder die Milner-bewind ontstaan het, het gedien as dekmantel vir aanvanklike organisasie, en pollitieke aktiwiteit is aangevuur deur die Boere se griewe teen Britse bestuur. Ná Kruger se dood in ballingskap by Clarens in Switserland op 14 Julie 1904, is sy gebalsemde lyk na Suid-Afrika teruggebring. Die begrafnis in Pretoria op 16 Desember 1904 was 'n verdere prikkel tot politieke herlewing onder die Afrikaners.
In 1903 het Milner die Suid-Afrikaanse Naturellesakekommissie aangestel. Dié kommissie - wat grotendeels uit Engelssprekende lede bestaan het onder voorsitterskap van sir Godfrey Lagden, die vorige Brits e resident in Basotholand - moes aanbevelings doen oor 'n gemeenskaplike "Naturellebeleid" vir al die state. Die verslag wat in 1905 verskyn het, het gebieds- en politieke skeiding tussen Swart en Blank aanbeveel en die stigting van lokasies vir stedelike Swartes goedgekeur.
Doeltreffende bestuur van die Witwatersrandse goudmyne en 'n hoër goudproduksie was noodsaaklik om die ekonomie van die verowerde state weer aan die gang te kry. Met die hulp van die imperiale owerheid het Milner £35 miljoen geleen en in 1901 is met Mosambiek 'n ooreenkoms aangegaan vir die indiensneming van werkers vir die Witwatersrandse myne in ruil vir die gebruik van die hawe van Delagoabaai, wat ' n aansienlike hoeveelheid Transvaalse besigheid verkry het. Die stigting van die Witwatersrand Native Labour Association tydens die oorlog was bedoel om voldoende mynarbeid te verseker, maar vroeg in 1903 het die myne, wat toenemend laegraadse erts moes ontgin, gekla dat hulle nie genoeg arbeid het nie. Swartes het hulle blykbaar verset teen die lone wat aangebied is, asook teen nuwe tegnieke en produksiemetodes wat ingevoer is. Volgens 'n waarnemer was die probleme egter "nie soseer aan 'n arbeidstekort te wyte nie as aan die aantal myne wat gelyktydig begin het".
Van die voorstelle dat arbeiders op groot skaal uit ander dele van Afrika of Indië ingevoer word, het niks gekkom nie. Ook die eksperiment van die mynbestuurder F.H.P. Creswell by die Village Main Reef en ander pogings by die Crown Deep en East Rand Proprietary Mines om ongeskoolde Blanke werkers te gebruik, was nie geslaag nie. In Maart 1903 het George Farrar 'n openbare veldtog vir die invoer van Chinese arbeid van stapel gestuur wat die steun van die Kamer van Mynwese verkry het. Dié skema is goedgekeur deur die Transvaalse Wetgewende Raad en deur die Britse regering, wat in Mei 1904 'n ooreenkoms met China bereik het. Tussen Junie 1904 en November 1906 is 63 695 Chinese arbeiders met kontrakte vir drie jaar na die Witwatersrand gebring. Ondanks die enorme koste van dié skema was hierdie arbeiders, wat kontrakte vir 'n langer dienstyd aangegaan het, in werklikheid goedkoper as Swartes.
Die waarde van goudproduksie het van £16 000 000 (22,46 persent van die wêreld se opbrengs) in 1904 gestyg tot £27 400 000 (32,32 persent van die wêreld se opbrengs) in 1907. Die Chinese arbeiders mog net sekere soorte werk doen, en aangesien dié werkreservering later op Swartes toegepas is, is die kleurslagboom in die myne versterk. Daar was egter wydverspreide politieke reaksie in Brittanje en in Suid-Afrika teen die invoer van Chinese arbeiders, en in 1907 is begin om hulle te repatrieer.
In Julie 1904 het die Britse regering aangekondig dat verteenwoordigende bestuur ingestel sou word wanneer Milner in April 1905 die land verlaat. Milner het geglo dat hy gefaal het om sy "grand design" uit te voer, maar lede van sy "Kindergarten" en die Britse Liberale Party het ingesien dat oppergesag in Suid-Afrika ook deur ander metodes, soos selfbestuur, "vertroue in die Boer" en unifikasie verkry kon word.
Suid-Afrika ná Milner: hegter eenheid - opgeloste en uitgestelde probleme
Milner se opvolger as hoë kommissaris was die Britse minister van die Vloot, die Graaf van Selborne. Hy was Chamberlain se onderminister van kolonies tydens die krisis voor die oorlog, en dit, asook die feit dat die "Kindergarten" in Suid-Afrika aangebly het, het as skakels met Milner se beleid gedien. Verreweg die belangrikste faktor wat sy dienstyd dienstyd beïnvloed het, was die Liberale regering onder sir Henry Campbell-Bannerman wat in Januarie 1906 in Brittanje aan bewind gekom het. Die nuwe regering het die Lyttelton-grondwet, wat in April 1905 uitgevaardig is om aan Transvaal verteenwoordigende bestuur te gee, maar wat nooit in werking gestel is nie, gekanselleer.
Die Britse kabinet het reeds voor Smuts se reis na Londen in Januarie en Februarie 1906 besluit om verantwoordelike bestuur aan die voormalige republieke toe te ken, maar dié besoek het die bande tussen die versoeningsgesinde Boereleiers en die Britse Liberale versterk. Oktrooie wat selfbestuur in Transvaal en die Oranjerivier-kolonie afgekondig het, is onderskeidelik in Desember 1906 en Junie 1907 uitgevaardig. Ondanks vertoë deur Swart en Kleurlinggroepe is stemreg uitsluitlik aan Blankes toegeken.
Ná verkiesings het Het Volk (met Louis Botha as eerste minister) in Februarie 1907 in Transvaal en die Orangia-Unie (met Abraham Fischer as eerste minister) in November 1907 in die Oranjerivier-kolonie aan bewind gekom. In die Kaapkolonie is Afrikanerrebelle weer op die kieserslys geplaas en het John X. Merriman se Suid-Afrikaanse Party in September 1908 met die steun van die Afrikanerbond aan bewind gekom.
Campbell-Bannerman was geen voorstander van die disintegrasie van die Ryk nie en wou ook nie dwaas en idealisties deur middel van 'n "grootmoedige gebaar" teenoor die Boere vir die "barbaarse metodes" en ander misstappe van die Unioniste vergoed nie. Moontlik het hy hom misreken - en sommige Liberale was teleurgestel deur Het Volk se oorwinning in die verkiesing - maar die toekenning van selfbestuur was nogtans gegrond op 'n nugtere geloof dat dit die doeltreffendste metode in Suid-Afrika was om Brittanje se internasionale, ekonomiese en strategiese belange te bevorder.
Louis Botha was vir die Britte die beliggaming van versoening en samewerking. By die Rykskonferensie in Londen in 1907 het hy 'n ondergeskikte rol gespeel, maar hy het meer publisiteit ontvang as enige ander afgevaardigde. Sy houding tydens die konferensie en sy regering se skenking van die Cullinan-diamant aan koning Eduard VI|I is egter deur sommige van sy eie mense as "te lojaal" gekritiseer. Nogtans was daar in die tyde ná 1907 meer welwillendheid onder Blanke Suid-Afrikaners as in die dekade daarvoor en is die Ryksverbintenis wel in d e algemeen deur Brittanje se vroeëre vyande aanvaar. Alles was dus gereed vir die samevoeging van die afsonderlike kolonies in 'n enkele staat, soos in 1867 in Kanada en in 1901 in Australië.
Daar was dwingende ekonomiese redes vir die politieke samesmelting van die Suid-Afrikaanse state. Die binnelandse en die kuskolonies het verskillende behoeftes gehad wat doeane- en spoortariewe betref. Die tydelike tolunie wat in 1903 saamgeflans is, was teen 1907 aan flarde. Daar was botsings tussen arbeid en kapitaal wat nywerheids- en handelsleiers en die regerings bekommer het. Die goumynstaking in 1907 het die Botha-regering gedwing om die hulp van Britse torpee in te roep en dit was duidelik dat 'n plaaslike verdedigingsmag en wetgewing wat vir arbitrasie in nywerheidsgeskille voorsiening maak, van lewensbelang was.
In die jare ná 1902 was daar in Suid-Af;rika wydverpreide vrees vir Swart opstande. Die groei van die sg. Ethiopiese of Swart separatistekerke, wat algemeen as anti-Blanke en voorstanders van "Afrika vir die Afrikane" beskou is, het dié vrees laat toeneem. Zulu-onrus, die opstand van die Herero en ander inwoners van Duits-Suidwes-Afrika vanaf 1904 en die Maji Maji-rebelllie in Tanganjika vanaf 1905 het dié angs van die Blankes gevoed. Die smeulende Swart ontevredeheid in Natal het in Februarie 1906 opgevlam, waarskynlik vanweë die heffing van h oofbelasting die vorige jaar, en twee Blanke polisiekonsgtabels is in die distrik Richmond gedood.
Dié onrus het later in die jaar ontwikkel tot die sg. Bambatha-rebellie, wat deur die Natalse milisie en vrywilligers van oor die hele Suid-Afrika onder bedwang gebring is (dié keer het die imperiale owerheid slegs morele steun verleen). Vir baie mense het dit egter die noodsaaklikheid van 'n interkoloniale verdedigingsmag beklemtoon, en daar is geglo dat dit die beste op die grondslag van politieke eenheid sou kan gebeur. Die onluste het ook die aandag gevestig op die onbevoegde Natalse regering (wat Churchill as "die boef van die Britse Ryk" beskou het) en die noodsaak vir 'n sterk sentrale gesag in Suid-Afrika.
--- --- ---
Die Bambatha-rebellie
Reeds voor die moord op twee Blanke polisiemanne in die Richmond-distrik in Februarie 1906, was daar wydverspreide gerugte in Natal oor 'n Swart opstand. Daar is o.m. beweer dat Dinuzulu, die seun van Cetshwayo, opdrag gegee het tot 'n rebellie teen die Blankes. Krygswet is afgekondig en die Natalse milisie het gesaaides en krale afgebrand en hoofmanne afgesit, terwyl sommmige van die betrokkenes by die moord o p die twee Blanke konstabels kragtes krygswet verhoor en geskiet is.
In April 1906 het Bambatha, die hoofman van die Zondi, met die steun van ander hoofmanne , aan guerrilla-bedrywighede begin deelneem. Op 10 Junie 1906 is die rebelle deur kol. Duncan Mackenzie by die Momekloof verslaan. Die rebelle het swaar verliese gely, en Bambatha self is gedood en sy kop is vir identifiseringsdoeleindes afgesny.
Daar was verdere uitbarsting in Mapumulo, en die onrus het tot 1907 voortgeduur. Dinuzulu is in hegtenis geneem en in 1908 tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy aan rebelle skuilplek verleen het. Tussen 3 500 en 4 000 rebelle en ongeveer 24 Bl,ankes is tydens die onluste gedood. Die rebellie was 'n tradisionele kleinboere-opstand teen die koloniale owerheid en die Swart pollitieke llggame wat besig was om na vore te tree, was nie daarby betrokke nie.
--- --- ---
Die Indiërs in Transvaal was 'n verdere groep wat teen diskriminasie geprotesteer het. Gandhi het die voortou geneem in die organiseer van geweldlose verset (satjagraha) teen die Immigrasiewet en die beperkings wat op die woon- en handelsregte van Indiërs geplaas is. 'n Tentatiewe en onbestendige verstandhouding is in Januarie 1908 tussen genl. J.C. Smuts en Gandhi bereik.
Teen 1908 het 'n oorlog tussen die vyandiggesinde Europese magsblokke (Duitsland en Oostenryk-Hongarye teenoor Frankryk en Rusland) al hoe moontliker gelyk en Brittanje het al hoe nouer betrokke geraak by die Frans-Russiese Verbond. Met die oogop dié dreigende konflik was Suid-Afrika van lewensbelang vir die Britse Ryk vanweë sy strategiese ligging (Kaapstad is beskou as een van "die vyf strategiese sleutels wat die wêreld toesluit"), sy minerale, sy mannekrag en die nabyheid van Duitswes-Afrika. Selborne en lede van die "Kindergarten", Britse kabinetslede en vooraanstaande Engels- en Afrikaanssprekende Blanke Suid-Afrikaners het begin glo dat die kritieke internasionale situasie nóg 'n dringende prioriteit geword het.
'n dokument waarin die redes uiteengesit is waarom unifikasie dringend noodsaaklik was, is deur Lionel Curtis opgestel, aan ander lede van die "Kindergarten" vir kritiek voorgelê en uiteindelik deur Selborne goedgekeur voordat dit in Januarie 1907 bekend gestel is. Dié Selborne-memorandum was 'n "manifes" eerder as 'n memorandum en het 'n beweging ingelei wat in dryfkrag toegeneem het toe die interkoloniale tolunie in Mei 1908 besluit dat dertig afgevaardigdes van die vier Suid-Afrikaanse state in Oktober dié jaazr vir 'n Nasionale Konvensie in Durban byeen moes kom om unie te bespreek.
Sir Henry de Villliers, hoofregter van die Kaapkolonie, was die voorsitter van die Nasionale Konvensie en M.T. Steyn die ondervoorsitter. Daar was afgevaardigdes van die regerende en opposisiepartyhe van die vier kolonies, en Suid-Rhodesië het drie waarnemers gestuur.
Ná die vergadering in Durban het 'n sitting in Kaapstad gevolg en die verrigtinge is in Mei 1909 in Bloemfontein afgesluit. Dit is opmerklik (en 'n aanduiding van die oorheersende begeerte na unifikasie) dat die grondwet van Suid-Afrika in minder as 'n jaar opgestel is. Sommige omstrede sake is eenvoudig opsy geskuif vir latere aandag, en talle kompromieë is aangegaan om onversoenbare teenstellings te oorbrug.
Die Natalse afgevaardigdes, wat in werklikheid meer belang daarin gestel het om doeane- en spoorgeskille besleg te kry, was in die minderheid in hul ondersteuning van federasie. Die Konvensie het besluit op 'n hoogs gesentraliseerde unie na die Westminster-model, getemper deur ondergeskikte provinsiale rade met beperkte magte. Die wetgewende mag in die sentrale regering het berus by 'n Volksraad wat aanvanklik sou bestaan uit 121 lede (almal Blank) wat regstreeks deur die stemgeregtigdes van die Unie verkies sou word, en 'n Senaat van veertig lede, deels indirek verkose en deels benoem. Wetgewing moes goedgekeur word deur 'n goewerneur-generaal wat die kroon verteenwoordig en ook daardeur aangestel word. Die uitvoerende mag was in die hande van die goewerneur-generaal en 'n kabinet.
Die netelige vraag van stemreg is opgelos (of ontwyk) deur elke staat sy stelsel van voor Uniewording te laat behou.Swartes en Kleurlinge in die Kaap het dus saam met die Blankes 'n gekwalifiseerde stemreg gehad, maar kon nie in ande rprovinsies stem nie. Slegs Blankes kon lede van die Volksraad of Senaat word. Plattelandse kiesafdelings het minder kiesers gehad as dié in die stede aangesien die getal kiesers in 'n kiesafdeling bepaal kon word op soveel as 15 persent bo of onder die "kwota".
Die emosionele kwessie van 'n hoofstad is opgelos deur die taamlik lomp en duur kompromis van drie hoofstede - Kaapstad as setel van wetgewing, Pretoria as administratiewe hoofstad en Bloemfontein as setel van die appél-afdeling van die Hooggeregshof.
Die grondwet kon deur 'n gewone meerderheid in die Volksraad gewysig word, behalwe twee verskanste klousules: artikel 35, wat die stemreg in Kaapland bepaal het, en artikel 137, wat Engels en Nederlands as die twee amptelike tale van die Unie erken het. Dié twee artikels kon slegs deur 'n meerderheid van twee derdes van albei huise van die Parlement tydens 'n gesamentlike sitting gewysig word.
Artikel 151 het voorsiening gemaak vir die inlywing van bykomende gebiede tot die Unie onder sekere voorwaardes. 'n Bylae by die wetsontwerp het die voorwaardes van bestuur van die hoë kommissaris-gebiede Basotholand, Betsjoeanaland en Swaziland behandel, indien hulle later aan die Unie oorgedra sou word.
In Junie 1909 het die kiesers van Natal die grondwet in 'n referendum goedgekeur, terwyl dit in die ander state deur die onderskeie Parlemente aanvaar is. 'n Oorweldigende meerderheid van die Blanke Suid-Afrikaners was ten gunste van die Suid-Afrika-wetsontwerp.
Swartes, Kleurlinge en Indiërs was egter sterk gekant teen baie van die bepalings van die grondwet. Reeds in Desember 1907 het Swart politieke leiers wat sommige van die bepalings van die wet voorsien het, in Queenstown 'n konferensie gereël wat ook deur Kleurlinge bygewoon is. Hier is besluit dat federasie verkieslik was bo unie en dat die Kaapse stemreg vir die hele land aanvaar moes word. Swartes het later ook petisies by die Nasionale Konvensie ingedien, en 'n South African Native Convention het in Maart 1909 in Bloemfontein vergader toe die basiese feite van die nuwe konstitusie bekend geraak het. Onder voorsitterskap van Walter Rubusana het die Native Convention sy teenkanting uitgespreek teen die bepalings in die wetsontwerp wat voorsiening gemaak het vir 'n kleurslagboom. Dié "konvensie", wat ook die vereniging van alle Swartes in "een groot gesin" bepleit het, was die eerste ware voorbeeld van gekoordineerde Swart politieke optrede in Suid-Afrika. Geeneen van die vertoë deur Swart of Kleurlingleiers het egter 'n indruk op die Nasionale Konvensie gemaak nie.
Agttien lede van die Nasionale Konvensie en "Onze Jan" Hofmeyr het die Suid-Afrika-wetsontwerp in 1909 na Londen geneem. 'n Afvaardiging onder die voormalige Kaapse premier W.P. Schreiner, bestaande uit Rubusana, Abdurahman, Jabavu en vyf ander verteenwoordigers van Swart en Kleurlingbelange, het ook na Brittanje gegaan, terwyl Gandhi en ander Indiërs die Britse hoofstad besoek het om die saak van hul mense in Suid-Afrika te bepleit. In 1909 was daar egter geen strominge van partypolitieke of openbare mening in Brittanje wat sterk genoeg was om 'n beter bedeling vir hulle in die grondwet te verseker nie, hoewel die kleurslagboombeperkings in die Britse Parlement en pers gekritiseer is.
Op 20 September 1909 het die ongewysigde Suid-Afrika-wetsontwerp koninklike goedkeuring ontvang nadat dit deur albei huise in die Parlement goedgekeur is.
--- --- ---
'n Aanbevole lees- en bronnelys sluit dié hoofstuk af.
Be