Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die leë Posbus
Die kinders was vreeslik opgewonde! Basil en Vera se oom het hulle genooi om 'n maand by hom te kom vakansie hou op die plaas, en Moeder het gesê dat hulle maar kon gaan!
Hou sou vir 'n maand bly.
Vir 'n hele maand!
Daar was 'n baie groot doenigheid om klaar te maak vir die heerlike vakansie. Hulle het planne gemaak, klere ingepak, en heerlike drome gedroom. Eindelik het die dag aangebreek, en Oom het hulle self kom haal. Hulle het die motor vol gelaai van koffers, reistasse en sulke goed.
Toe het die groetery gekom.
Basil en Vera het nie daaraan gedink nie. Dit was heerlik om weg te gaan, maar dit was glad nie lekker om afskeid te neem en Moeder so alleen agter te laat nie. Daar was 'n knop in Basil se keel toe hy moes groet, en Vera moes net trane afvee.
"Julle moenie vergeet om gereeld te skryf nie." het Moeder gesê, en daar was ook trane in haar oë, alhoewel sy geprobeer het om gelukkig te lyk. "Ons sal sekerlik skryf," het Basil uitgeroep, "ons sal nie vergeet nie."
"Ons sal elke dag skryf," het Vera plegtig belowe. En toe is hulle daar weg.
Twee dae later het daar 'n poskaart gekom om te sê dat hulle 'n lekker rit gehad en veilig aangekom het. Dit was al.
Elke more en elke aand het Moeder na die posbus gegaan, hopende dat daar 'n brief mag wees, of selfs 'n poskaart, maar daar was niks. Moeder het haar baie bekommer oor die kinders; miskien is hulle siek, of dalk was daar 'n ongeluk. Sy kon skaars glo dat hulle moontlik vergeet het om te skryf.
Om die waarheid te sê het hulle skandelik vergeet! Hulle het die lewe op die plaas so geniet dat hulle nooit gedink het aan skryf nie. Hulle was die hele tyd aan die gang, en Basil en Vera het eenvoudig nie tyd gekry om te skryf nie. Daar was so baie ander kinders in die buurt, en so baie speletjies dat hulle nooit aan Moeder gedink het nie.