Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die laaste blad aan die boom
"Kom Francis,, kom laat ons na die eetkamer gaan om 'n bietjie te speel," het Freda aan haar maat gesê. Dit was Freda se verjaarsdag en sy het die seun wat 'n rukkie tevore langs hulle kom woon het, genooi om saam met haar te kom eet.
"Laat ons liewer in die kombuis speel," het Francis voorgestel, "ons moenie in die eetkamer speel nie."
"Maar hoekom nie?"
"Omdat die ou tannie daar is, en....."
"Die ou tannie!" het Freda uitgeroep, "maar dis dan my ouma."
"Ek is jammer, maar sal sy nie kwaad wees as ons daar raas nie?"
"Nee glad nie, jy ken nog nie vir ouma nie, sy wil graag hê dat ons met speel waar sy is. Kom maar."
Hulle is toe eetkamer toe waar Freda vir Francis aan haar ouma voorgestel het. Ouma het hulle so vriendelik gegroet dat al sy vrees verdwyn het.
"Ouma sal seker nie omgee as ons hier speel nie, sal Ouma?" het Freda gevra.
"O nee, glad nie, ek sien julle graag speel, dit laat my ook sommer weer jonk voel."
Met Mammie se hulp was die kinders gou besig om te speel. Hulle het blindemannetjie, soek die vingerhoed en ander kinderspeletjies gespeel. Ouma het ook sover as sy kon, hartlik deelgeneem, die lawaai het haar glad nie gesteur nie, ook nie toe Freda, as blindeman, vir Francis rondom haar stoel gejaag het nie.
Eindelik was die kinders moeg en toe het hulle langs Ouma by die vuur kom sit.
"Ouma, vertel vir ons 'n storie," het Freda gesoebat, "Ouma kan sulke lekker stories vertel."
"'n Storie? Wel, wat sal ek tog vertel?"
"Vertel vir ons van die dae toe Ouma nog 'n dogtertjie was," het Freda gesê, want sy het nooit moeg geword van Ouma se vertellings van haar jongdae nie.
"Dis baie, baie lank gelede," het Ouma gesê, "maar ek onthou nog sommige van die dinge wat ek gedoen het toe ek jonk was. Ek het jou al baie daarvan vertel, maar daar is een ding waaraan ek spesiaal vanaand gedink het toe julle kinders hier ingekom het."
"Vertel ons dan daarvan," het Freda gretig gesê.
"Ek is bevrees dit is nie 'n ware storie nie en dit is 'n bietjie treurig."
"Soveel te beter," het Freda geantwoord terwyl sy reggeskuif het om nou regtig lekker te sit en luister. "Ek hou vreeslik van treurige stories."
"Nou dan sal ek julle vertel. Terwyl ek vanmiddag hier gesit het, het ek begin dink aan al die kindertjies wat ek geken het toe ek nog 'n dogtertjie was en ook aan my eie broers en susters."