My Volk +(Die Trekpad van 'n Nasie) ENKEL OUER KAMPE
Vertellers Die Groot Verhaalboek Steven en Fay

Adult Pharma

MALE (and FEMALE) LIBIDO BOOSTER
We offer fast, secure and reliable ordering with your complete privacy. We will go the extra mile for each and every customer. Money Back Guarantee. Express Delivery. Safe Payments.
Community-verified icon



Female and male libido boosters
Vertellers Die Groot Verhaalboek

Die jonkmanskas

Die eerste keer dat hy dié woord gehoor het, was by sy vriendin, Iris. Dit was op 'n Sondagmiddag aan etenstafel nadat Stoffel, haar middeljarige broer, se gebooie die oggend in die kerk gelees is. Mamfi, hulle moeder, het aan die punt van die tafel die ietwat rumoerige geselskap vir 'n oomblik onderbreek en eers die seën gevra. Toe sy "Amen" sê, het Helena, Iris se hubare dogter wat langs die glimlaggende verloofdes gesit het, vir Koos gevra: "Mag ek vir jou inskep?" Hy het sy bord aangegee.

"Koos, bring vir ons nog 'n paar wynglase," het Iris gesê.

"Waar?"

"In die jonkmanskas daar in die hoek."

Hy het van die tafel af opgestaan en na die kas toe gestap. Dit was 'n geelhoutkas met twee laaie bo en twee deure daaronder. 'n Hangkas wat aan die eenvoudige behoeftes van 'n vryer voldoen, het hy gedink, maar gesê: "Jonkmanskas - dit het amper 'n maagdelike klank."

"Cheers to the virgins." Stoffel het sy reeds halwe glas rooi wyn gelig. Almal het vrolik gelag. Toe sê Helena: "'n Mens kan 'n storie daaroor skryf."

Die woord bly hom by en die aand tuis is hy verontwaardig en verbaas wanneer hy dit nie in die HAT of Die Afrikaanse Woordeboek kan opspoor nie. "Jonkmansweer" en selfs "jonkmansbegeerte" is daar, maar nie "jonkmanskas" nie.

Die volgende middag loer hy by 'n tweedehandse-meubelwinkel in. Eintlik is hy op soek na 'n houtbed, maar tussen marmerblad-wastafels en riempiesbanke sien hy in die donker, teen die agterste muur, 'n jonkmanskas.

Dis 'n mooi kas, dink hy. Hy stap tot baie naby, versigtig om nie iets om te stamp nie. Eers kyk hy net. Dan leun hy vorentoe en ruik aan die kas. Hy staan weer terug. Hy kyk lank na die kas. Wanneer hy vir die tweede keer vorentoe leun, fluister hy met sy lippe dig teenaan die dofglimmende hout: "Jonkmanskas". Dan vat hy die ronde knop van die een laai vas en trek dit met mening oop en soos Marcel Marceau begin hy versigtig, een vir een, die volgende artikels in die laai uit te pak: Drie skryfblokke, Croxley Cambric Linen Faced Writing Pad for Land, Sea or Air Mail, genommer, in 'n netjiese stapel bo-op mekaar, Ervaringe op Safari in Kenia - Jacobus Petrus Prinsloo in verbleikte blou in op die boonste een se omslag geskryf; 'n goue sakhorlosie, JPP onhandig, seker met 'n knipmes, op die rugkant uitgekrap; en twee verweerde foto's. En dan, met dieselfde geweld waarmee hy die laai oopgemaak het, sit hy vinnig 'n paar los getikte velle papier, die onvoltooide manuskrip van 'n storie, langs die ander goed neer:

DIE VERLANGSTE WAS TE GROOT

My ouma is op 12 Desember 1892 op Colesberg gebore. Sy is 'n nugter vrou en op nege-en-tagtig hou sy nog die lewe. My oupa het ek nooit geken nie. Hy is op vyf-en-sestigjarige ouderom op 30 Maart 1950, op Eldoret oorlede. Hy was, na wat ek kan aflei, 'n onverskrokke man.

Die kennis wat ek van my grootouers dra, is beperk en subjektief. Hierdie verhaal is dus blote fiksie:

Dit duur 'n rukkie voordat sy min of meer gemaklik sit. Die Volksie se bucket-seats is nie vir ou mense ontwerp nie, dink ek. Ek klim agter die stuurwiel in en maak haar veiligheidsgordel vir haar vas. Sy wikkel op die sitplek rond, maar sê niks nie. Sy knyp 'n handsak onder haar arm vas. Ek trek versigtig weg. By die hoek sê sy: "Die mandjie." Ons hou stil en ek sit die mandjie met padkos wat by haar voete staan, agter tussen die ander bagasie neer.

Die rit deur die stad verloop sonder enige verdere onderbrekings. Ek konsentreer op die verkeer en die verkiesingsplakkate. Op een van die Bly Blank My Volk-slagspreuke het iemand die B's doodgeverf.

Dis die eerste keer dat sy saam met my huis toe ry, maar sy het besluit dis tyd vir haar jaarlikse besoek en die geleentheid het hom dus as't ware self aangebied.

Net anderkant die Fonteine praat sy weer.

"Dis benoud."

Ek draai 'n venster oop en help haar om die veiligheidsgordel los te maak en vir die eerste keer sien ek sy het haar hare afgesny. Sy dra nog 'n haarnet, maar die bolla is weg.

"En Ouma se hare?" vra ek.

"Dit het 'n hennernis geword."

Ek het haar leer ken aan haar hare. In die oggend wanneer sy dit klaar gewag het, het sy buite op die stoep in die son gestaan, haar kop ver vooroor gebuig, en die Gileadkudde, 'n geil bos rooi kartels, met lang hare droog geborsel.

"Ja, dis seker die laaste keer," sê sy.

"Het Ouma dan ooit vantevore aan Ouma se hare gesny?" ontwyk ek wat vir my lyk of dit 'n emosionele onderwerp kan word.

"Toe ek klein was, moes ons. Dit was net voor die oorlog. Ons het Johannesburg toe getrek en daar was die een of ander siekte. Toe kry ons almal sere op ons koppe. Ek onthou die dag goed. Een van my broers het nog 'n loesing gekry omdat hy die hare aan sy gesig geplak het vir 'n baard."

Ek glimlag, maar ril 'n bietjie.

"En later in die kamp moes dit weer af," gaan sy voort.

"Die kamp?"

"Irene."

"Was Ouma dan in 'n konsentrasiekamp?" vra ek.

"Ja," sê sy en vat aan die haarnet, "ná die bomontploffing by die dinamietfabriek in Modderfontein is ons weg Bethal toe. My pa en broers is toe op kommando en die laaste elf maande van die oorlog was ons in die kamp."

"En toe sny die Engelse julle hare af?" Visioene van Auschwitz en Belsen doem voor my op.

"Nee, Moeder het. Daas luise in die leë soldatekwartiere wat ons vir 'n skool gebruik het."

"En is daar familie dood?" kry my sin vir melodrama verder die oorhand.

"Nee, Daar was net 'n gerug dat Vader gesneuwel het; die kampkommandant het laat weet." Sy  huiwer 'n oomblik. Dan sê sy: "Maar aan die einde van die oorlog het hy een aand van die trein afgeklim."

Lasarus, dink ek. Ek por vir nog inligting, maar sy lyk ongeneë om 'n woord verder te rep. Sy kyk deur haar oop venster na die plate kosmos wat die lappe sonneblomlande omring.

Anderkant Heidelberg haal ek in die ry die kosmandjie weer vorentoe. Sy skink vir my swart tee uit 'n fles en bied druiwe aan. Haar hande bewe nie. Tussen die blou are op haar voorarm is fyn, wit littekens wat 'n operasie agtergelaat het nadat sy op twee-en-sewentig geval en haar arm gebreek het.

Op Standerton hou ek by 'n kafee stil. Ek stap saam met haar tot by die toilette en gaan dan die kafee in om sigarette te koop. Wanneer ek uitstap, hoor ek 'n rumoer agter my. Ek draai om. Die kafee-eienaar stry met 'n swart vrou. Skielik slaan hy haar met die vuis in die gesig. Sy val. Daar tuimel 'n rak lekkergoed op haar om. Bloed loop uit haar mond. Ek stap na die motor toe en help Ouma in. Ek sluit my deur oop. My hande bewe.

Anderkant Standerton kan 'n mens reeds van ver af Perdekop op die gelykte uitken. Die son bak warm. Ek draai my ruit oop. Ons ry verby die dorpie. Skielik skyn die Jesus Kom-heuwel helder in die middaglig voor ons. Die klippe wat teen die skuinste gepak is om die apokalips aan te kondig, is nuut gekalk.

"Is Ouma bang om dood te gaan?" vra ek.

"Nee." Sy kyk stip voor haar in die pad. Dis weer lank stil in die motor. Ons ry verby 'n motel.

"Ons sal nou-nou op Volksrust wees," sê ek.

"Oorlede Vader is in die distrik gebore." Sy klink opgewonde.

"My oupa?"

"Ja."

"Wanneer?"

"Die sestiende September 1885," sê sy dadelik, sonder om eers te dink.

Dit is ook Breyten se verjaardag. Hy's in goeie geselskap, dink ek. "Hoe het julle ontmoet?"

Sy haal haar bril af en sit dit op haar skoot neer. "'n Kêrel het kom opsit; ene Piet Joubert van Ermelo se distrik." Sy vryf met haar hand oor haar oë. "Wind, ja hy't vreeslik baie wind gehad; my nie juis aangestaan nie. Maar hy't vertel van sy vrind uit Oos-Afrika." Sy sit weer haar bril op en ek skuif reg vir 'n lekker storie. Sy maak eers haar handsak oop en haal 'n rolletjie pepermente uit. Sy bied vir my aan, neem self een en knyp die handsak weer styf onder haar arm vas voordat sy begin vertel.

"Piet se vrind se naam was Koos. Hy's ná die oorlog saam met sy vader en moeder na Brits-Oos-Afrika. Ja, so 'n lang kêrel," beduie sy met haar hand. "Piet het vertel dat dié Koos glo enige perd kon tem; geen dier was vir hom te wild nie..."

"'O wys my 'n man wat sy man kan staan..."

Sy kyk gesteurd op oor my ontyduige tussenwerpsel.

"Ja, hy was 'n harde man. Sy kyk weer vorentoe."In alle geval, Piet het vertel dat Koos 'n lieflingperd had; 'n swart hings met 'n bles. En toe die perd die dag vrek, het Koos sy knipmes gevat en die bles versigtig uitgeslag. Die soewenier het al die jare agter sy kamerdeur gehang." Sy lyk skielik hartseer. "'n Jonkman so na my hart," prewel sy amper onhoorbaar.

Vertellers Die Groot Verhaalboek

 Vind Audio weergawe onder aan die blad.

Enkel Ouer en Kind Kamp

Enkel Ouer Kamp

R1559
Kultuur Avontuur Kamp Stapgroep Pretoria

Stapgroep (Voetslaanklub)

R150
Perdry Pretoria Om die Dam

Om-die-Dam Perderoete

R161
Ward 91 Tshwane

Onafhanklike Kandidaat (Pretoria) 

R600

Ek glimlag. "En toe?"

"Wel, hy't self die storie kom vertel." Sy sug. "Dit was op 'n aand by 'n konsert in die plaasskool. Een van die 'Chinese lanterns' wat ons gemaak het, het aan die brand geslaan." Sy rol die peperment in haar  hand al in die rondte. "Hy en Piet was daar. Hy het oor my geleun en die vlamme met sy hande doodgeklap. En toe het hy gesê: 'O, jy is seker Lalie'."

"En toe trou julle en Ouma gaan saam met hom Kenia toe?" loop ek die storie vooruit.

"Ja," antwoord sy kortaf.

"Wat dan van Ouma se ouers?" probeer ek die situasie red, want ek besef ek het haar entoesiasme gedemp. Maar dis tevergeefs.

"Dit was ware liefde," sê sy en steek die peperment in haar mond.

Buite Volksrust waarsku 'n bord teen spoedlokvalle. Ons ry stadig deur die dorp. En dan, wanneer ons die grens tussen Transvaal en Natal oorsteek met Majuba net mooi in sig, praat sy weer: "Jy moet sorg dat jou oupa se boek gepubliseer word."

"Se boek?" Ek hou my oë op die pad.

"Ja, hy't sy jagervaringe opgeteken en dis nooit gepubliseer nie, maar jy't geleerdheid." Terstond knip sy haar handsak oop en haal drie volgeskryfte skryfblokke uit. "Hier's twee kiekies ook."

Ek probeer nie protesteer nie.

"Die een voor die riethuis is jou grootjie en dié is ons trouportret," sê sy en druk die foto's onder my meus in.

Ons ry teen 'n slakkepas die gebergte af.

"Waar is Oupa?" vra ek. Ek soek tussen die tien kinders rond.

"Hy was terug in die Unie toe dit geneem is."

Die troufoto van die statige paar is erg verrinneweer. Oupa staan met manelpak en keil en Ouma gekroon met 'n reusagtige hoed, maar nie 'n sluier nie.

'n Sieraad vir haar hoof, dink ek. "En die hoed?"

"Ek sou dit weer kon dra," sê sy en voel of haar haarnet nog stewig sit.

--- --- ---

Die naweek by Pa en Ma lees ek die "manuskrip" deur. Dit bied moontlikhede, dink ek.

Ek vra Pa en Ouma uit na die gebeure wat hulle persoonlik meegemaak het, maar hulle kry dadelik stry.

"Oorlede Vader het daardie tier in Elgeyo geskiet..."

"Moeder, dit was in die Masai-reservaat..."

"Dit was Elgeyo."

"Maar ek was saam..."

"Almiskie..."

Ek besluit om my liewer op die "manuskrip" te verlaat en vra Pa om vir ons 'n paar home movies te wys. Hy stel die Slpecto 8mm/16mm-convertible op en ons kyk na films wat nog in Kenia geneem is: Kilimandjaro uit 'n Vicars Viscount; 'n toets op Nairobi tussen 'n blanke tuisspan en die Britse Leeus; Ouma se tuinman, 'n Masai, wat tussen haar dahlias skoffel; en 'n film van die verrigtinge by die vyftigjarige herdenkingsfees van die bestaan van die N.G.-gemeente Vergenoeg op Eldoret.

"Dis waar die eerste bamboeskerkie gestaan het, op Will Bouwer se plaas," verduidelik Pa wanneer 'n voormalige predikant 'n gedenkplaat onthul.

"Die plaas het eers aan oupa Prinsloo behoort," sê Ouma. Ek lei af dat dit my oupagrootjie moet wees, maar kry nie kans om navraag te doen nie. Pa en Ouma is dadelik weer aan die stry. Ma red die situasie met 'n vergeelde eksemplaar van die gedenkblad wat uitgegee is by dié herdenkingsfees. Vir 'n verandering is Ouma korrek in haar feite. Op bladsy drie-en-twintig staan daar: "Kort na ds. Loubser se aankoms is 'n tydelike kerkgebou op die plaas van oom Koos Prinsloo, ongeveer agt myl ten ooste van Eldoret opgerig, wat vir jare diens gedoen het as middelpunt van die gemeente."

Veilig tuis in Pretoria, Ouma se bevel helder in my ore, neem ek agter my lessenaar plaas en h aal die oortreksel van die tikmasjien af:

MIJ ERVARINGE

Ons Boere trek uit Suid-Afrika, die trek van oom Jan van Rensburg, na Brits-Oos-Afrika, later genoem Kenia. Ons vertrek van Wonderfontein-stasie op die vyftiende dag van Maart, 1908, (1) na Delgoabaai waar ons die skip sou vat. Ons het dieselfde nag nog daar aangekom. Ons was maar swak ingerig vir so 'n woeste landstreek. Ons had 'n klompie waens, 'n klompie perde en 'n paar honde. Dit was al lewende diere wat ons had. Ons had weinig huisraad.

(1) Indien die trek, soos L.J.S. Changuion (Die verhuising van boere na Oos-Afrika 1902-1914, M.A.-verhandeling, Universiteit van Pretoria, November 1975, bl. 132) beweer, op 6 Julie 1908 op Mombasa aangekom het, lyk hierdie datum verdag.

Die volgende oggend is ons besig met grote bewonderings vir die grote seewaters. Ons was alger verbaas oor die oneindigheid van die see en die gedreun van die branders. Ons bly twee dae op Delgoabaai terwyl ons ons goed en diere op die skip (2) laai.

(2) Volgens Elspeth Huxley (No Easy Way, A History of The Kenya Farmers' Association and Unga Limited, Nairobi, voorwoord 1957, bl. 59( was dit 'n Duitse skip, die S.S. Windhuk, wat Van Rensburg teen £1 750 gehuur het om die trek te vervoer.

Nou kom die orders, die skip gaan oor een uur vertrek. Ons hoor die skip se droewige fluit blaas. Daar was meteens 'n groot rumoer. Die mense sê teenoor mekaar: "Sal ons ooit weer die liewe aarde sien? Dalk sink die skip. Wat weet ons wat wag vir ons daar ander kant in die vreemde land waar ons na gaan net soos ons voorouers ook na 'n onbekende land gekom het."

Hier en daar begin vrouens te huil en intussen blaas die droewige fluit weer. Ons word georder om op die skip te klim. Nog 'n skoot blaas die fluit. Die lere word opgetrek en die gekerm word hoe langer hoe meer.

Dit was dan ook geen halfuur of die skip begin bokspring en jy hoor: "Ik word naar." Later word dit so erg dat die mense begin opgooi. Nog tien minute en jy hoor net brul. Waar j ou oog val, bid en huil en verwyt hulle: Wat het ons hier op di see kom soek?" Daar is ook nie meer skaamte vir mekaar nie. Die jonkman en die jongnooi se koppe druk teen mekaar waar hulle besig is om die naarheid af te koel. Die ou vrouens bid en huil en bejammer hulle kinders wat volgens hulle meen gaan sterf. Net vroomheid hoor jy uit die mond van die rowwe mense. Almal het maar gemeen dis die laaste.

Die eerste klok het gelui en so 'n derde van die mense is na die tafel maar die meeste was met haas weer terug op die dek.

Die volgende oggend het dit gelyk of daar 'n bietjie beterskap onder die mense is. Tog was daar maar min, want party is so uitgeput dat hulle geen kop kan oplig nie. In party gevalle het dit gelyk of daar iets slegs kon gebeur het. Dit het darem langsaam beter gegaan.

Daar was dan ook 'n kaffer op die derdeklasdek wat met groot geskree die Boere begin vloek en sê: "Ik gaan di Boere vanaand doodsteek." Hy spring daar weg met 'n groot mes in sy hand en klim die trappe op na waar die mense is. Ek en my maat, Jaap Smit, wat daar op dekstoele sit, sien die brutale kaffer met die mes in die lug. Ons stap die knaap tegemoet en toe ons binne bereik is, steek hy Jaap se voet amper op die trap vas. Jaap, wat 'n vinnige Boer met sy hande is, trek los met die vuis en slaan die kaffer die trappe af dat hy twintig voet van ons af op die dek val. Toe is die knaap twee keer so briesend en hy kom weer die trappe op met die mes. Ek, wat hom inwag, haak af met die vuis. Ta is weer daar onder op sy rug waar ek en Jaap hom gryp. Net toe ons hom oor boord wil gooi, keer die ou mense ons. Die kaffer is toe dadelik geboei en opgesluit.

Ek was toe 'n bietjie sleg humeurt en het my konsertina gevat en 'n paar lewendige stukkies gespeel waarop 'n ou tante wat verbystap vir my sê: "Jij frees nie eers die wreede see nie." Ek sê: "Maar ouw Tante, dit is hier op see net soos op di drooge aarde." Maar sy knor nog meer. Toe het ek maar my musiek gaan bêre.

Ons het die Duitsers van die skip uitgedaag om teen ons tou te trek; nege man teen nege man met 'n dik tou. Toe die vlag val, toe loop die boere met die nede Duitsers. Nog 'n skoot, maar die Boere stap met hulle. Ons daag twaalf Duitsers teen nege boere. Die Duitsers weier. Hulle sê: "Nee, julle Boere eet te veel mieliepap."

"Ja," sê Jaap Smit, "di boere het mussels en ook krag, maar julle ouw Duitsers is sommer pap fan fet. Dit is net fan bitter bier." Hulle lag toe en stap fort.

Ons het uiteindelik na nege dae op die water op Kilindinibaai geland. (3) Ons het ons waens, perde en al ons toerusting afgelaai. Van daar af moes ons loop, want die aand moes die goed op die stasie wees wat 'n paar myl van die dokke is.

(3) Graaf Crewe, staatsekretaris in Londen, stuur op 6 Julie 1908 'n telegram aan die goewerneur in Suid-Afrika, lord Selborne: "Press telegram states that 280 Boers are sailing for Mombasa with purpose of settling. Is this true, and if so, where do they propose to go and why are they going."   *  Dit blyk dat sir James Hayes-Sadler, goewerneur van Brits-Oos-Afrika met wie Van Rensburg onderhandel het, nie geglo het dat daar enigiets van die onderhandeling sou kom nie en dus nie sy hoofde in Londen of lord Selborne daarvan in kennis gestel het nie.  * Volgens die Immigrasieregulasies (£50 per persoon en kontant of bates ten bedrae van £200 per gesinshoof) het die meerderheid Boere egter nie gekwalifiseer om tot die land toegelaat te word nie, maar dit was onmoontlilk om hierdie groot groep te laat terugdraai. (Changuion, bl. 132)

Die aand het ons in 'n groot sinkgebou op die sementvloer kermisbed gemaak, maar ons het maar min geslaap, want die muskiete het ons half opgevreet. Die volgende oggend het ons die waens en perde op die treinwaens gelaai. Van daar was dit driehonderd-en-vyftig myl na Nairobi waar ons 'n dag moes oorbly om geldreëlings te maak en 'n bietjie hiervan en daarvan te koop. Van daar af is ons toe na Nakurustasie. (4)

(4) Die geselskap het op 18 Julie op Nakuru aangekom. Op 29 Augustus 1908 besoek ds. J.M. Louw die Trekkers daar en die eerste kerk in Brits-Oos-Afrika word gestig. Hy gee die naam Vergenoeg aan die gemeente: "Met deze benaming heefte de stichter uitdrukking willen geven aan de gedachte dat de trekkers toen vergenoeg van de Moederkerk in Zuid-Afrika waren getrokken." (De Kerkbode, 1921, bl. 255).  *  Nadat die Trekkers hulle op die plato gevestig het, is ds. M.P. Loubser na die gemeente beroep. "Kort na ds. Loubser se aankoms besluit die Kerkraad op 10 April 1911 (N.G. Kerkargief: Kerkraadnotule, Vergenoeg, bl. 16) om 'n tydelike bamboeskerk op J.P. (Koos) Prinsloo se plaas, ongeveer agt myl ten ooste van Eldoret, op te rig." (Gedenkblad, Vyftigjarige herdenkingsfees [1908-1958] van die Gemeente Vergenoeg, Eldoret, bl. 23.)

Daar (Nakurustasie) is ons ontmoet deur oom Frans Arnoldi wat ons 'n staanplek belowe het op sy plaas sowat agt myl van die stasie af terwyl die afgevaardig kommissie (5) na die hoëveld is om plase uit te soek. Met behulp van oom Frans se osse en kinders is ons na sy plaas. Van daar is die kommissie met 'n wa en agt man te perd na die Uasin Gishu-plato. Hulle was vir twee-en-twintig dae weg op die tog. Toe die kommissie terugkom, was alles in rep en roer.

(5) "Die afvaardiging het bestaan uit Jan van Rensburg, J.P. (Koos) Prinsloo, Jan Fourie, Bernardus Enslin, Jan Minie, Piet du Plooy, Jan Smit, Izak Smit, Piet Steenkamp en Piet Nel."  (Z. Enslin: Pioniers van Oos-Afrika, bl. 2.)

Ek had ' n wa en 'n paar jukke en toue van Suid-Afrika saamgebring. Ek had toe een van die gevreesde vlakvarke geskiet en omdat die ding na 'n erdvark lyk, dag ek die ding had seker 'n sterk vel en had ek vir my tien stroppe gemaak. Ek had toe tien ongeleerde osse gekoop. Twee van hulle was al voorheen twee of drie keer ingespan en moes nou as voorosse dien. 'n Mens kon dink hoe dit sou gaan. Ek had ook ' n Masaai-kaffer gehuur wat seker daardie dag vir die eerste keer in sy lewe 'n witmens sien - is heel waarskynlik onnoselder as 'n dier.

Dit het seker twee of drie uur gevat voordat ons die osse ingespan had. Ek het toe die redelose swartman in Zoeloe, waarvan hy natuurlik so min verstaan as 'n aap, beduie om die tou te vat. Toe ek die osse skrikmaak, neem die een helfte met blaas en brul en vaart een kant toe en die ander helfte die ander kant toe. Dit was geen twintig tellings of al tien die vlakvarkstroppe was af en elke os had sy eie koers. Dit het my toe die hele dag gevat om die osse weer bymekaar te kry.

Die nag by die vuur het ek vir my van rou wildsvelle stroppe gemaak; stroppe wat kon hou en nie sommer sou breek nie. Die volgende oggend het ons die osse weer ingespan en toe ek hulle skrikmaak, was dit weer brul en blaas en stoot en nekomdraai, maar die stroppe hou en later is die spul aan die gang. Ek en die Masaai-man is alleen, want my broers moet my pa help. Die Masaai trek só aan die twee ongeleerde voorosse se koppe dat ek aanhoudend sê, maar in Zoeloe: "Moet nie di osse se koppe soo trek nie." Maar dan is dit of die man dubbel soveel krag inspan.

Hy vat die tou met twee hande vas en lê vooroor, sy bors amper op die grond. Toe ek dit nie meer kon uithou nie, draf ek die trekkende swarte met die renostersweep by en had ek die eer om hom een streep te gee. Die snelle Masaai was binne een minuut die berg in en tot vandag toe, vyf-en-dertig jaar later, het ek hom nooit weer gesien nie.

Daar staan ek toe alleen met tien ongeleerde osse, raadop vir die lewe en die trek begin die volgende dag na 'n land sonder 'n pad deur swart houtbosse waardeur ons met byl en panga en pikke moet pad kap. so het ons dan aangesukkel en die honderd-en-agt myl binne een maand en agt dae afgelê. Toe ons op die plaas kom wat Pa vir ons gekies het, het ons 'n ent van die rivier af uitgekamp.

Nou begin meer moeilikheid. Ons het ongelukkig hier ingetrek met die lelikste meisies vir my oog, maar ek moes daarvan die beste maak. Ek was 'n skrander jonkkêrel uit 'n lewendige distrik en gebuurte en had nou 'n plan om 'n bietjie vir Anna te gaan kuier.

Ek het vir my 'n paar rooi skoene gaan koop waarvoor ek baie jammer was. Terwyl die gras in daardie dae so woes gegroei het en ek maar vroeg die môre moes begin stap, daar die enigste rygoed my twee voete was en ek ook maar bang was vir te laat in die veld wees, het ek my skoene se rieme aan mekaar gebind en oor my arm gedra om die woeste gras eers te laat afdroog. Op pad verwonder ek my aan die duisende wilde diere wat op die vlaktes loop: die een teenaan die ander. Elande, kwaggas, hartbeeste, blesbokke en nog ander kleinwild (dit lyk soos 'n kudde skape) oortrek die mooie vlaktes waar die rooi soetgras so 'n vaste blok staan en krul van mooiheid en geilheid.

Toe sien ek 'n erdvarkgat met vars stof wat voor hom uitslaan. Ek dog by myself, wat vir stof sou dit wees en besluit om nader te gaan en uit te vind. Toe ek by die gat kom, was dit net een dreuning en hier half onder my voete bars 'n vlakvarkbeer uit met tande soos beeshorings. Ek dag dis my laaste dag en omdat die skoene my enigste wapen was, gooi ek die dreigende vark teen sy kop. Intussen moet ek rondspring en groot woorde gebruik, want agter die eerste vark kom n og ses ander uit die gat uit, elkeen reg onder my in. Ten laaste staan ek daar, roerloos van skrik, en daar is geen skoen te sien nie. Dit kom my toe in die gedagte dat die goed oor die vark se tande is en dis vir seker die laaste sien. Nogtans vat ek die douspoor en minstens negehonderd treë daarvandaan kry en tot my grootste geluk my skoene, waternat en vol kwyl. Dit sou beter gewees het as ek die goed aan my voete gehou het, want dan het dit my ook al die onrus gespaar dat ek die aand dalk kaalvoet by die nooi sou moes sit.

Toe ek by Anna aankom, het ek daar my avontuur meegedeel. Daar is baie oor gelag en ek het lekker gekuier.

Dit was dan maar armoedig in ons nuwe land en ek moes nou uitspring om 'n lewe te maak. Daar was 'n meneer Gleeman(6), 'n Deen, by wie ek gaan werk het. Ek moes 'n looiery opsit, want, sê hy, daar steek geld in. Ek het later die Deen se werk bedank omdat daar maar min voordeel in was.

(6)Waarskynlik H. Gleeman wat opgetree het as Van Rensburg se privaatsekretaris tydens laasgenoemde se onderhandelingsbesoek aan Brits-Oos-Afrika in 1906. (Changuion, bl. 129.)

Ek was skaars by die huis of ek kry 'n hewige aanval van Malaria. Dit het amper my lewe gekos en ek was vir nege-en-twintig dae in die bed. Toe ek beter word, het ek besluit om terug te gaan na Suid-Afrika omdat hier in die wilde kafferland vir 'n jonkman geen lewe is nie; geen meisies. Alles is dood. Ek, wat ' n lewendige man is, is half oorbluf. Ek het toe ook aan die skeepsagente geskryf om vir my plek op die skip te kry. Toe ek van hulle geen antwoord kry nie, het ek maar op goeie hoop per ossewa na Londianistasie vertrek waar ek moes trein vat na Mombasa. Toe ek uiteindelik op Mombasa aankom, moes ek sewe dae lê en wag vir 'n skip. Twee dae voor die skip inkom, was ek verras van blydskap toe ek op die stasie sien hier klim een van my ou vriende, Piet Joubert, uit die trein en dat hy aan my sê hy gaan ook terug na ons ou land.

Daar was dan ook 'n sterkgeboude Engelsman op die skip. Ek en maat Piet wat net van tafel bo-op die dek kom, sien die Engelsman en 'n arm onnosel Italianer het "boxing gloves" aan en die kêrel slaan die ou Italianer half dood. Ons gaan sit op dekstoele om die petalje te aanskou. Maat Piet wat 'n uithaler bokser van Ermelo is, sê vir my: "Ouw maat, vandag moet jij sien hoe 'n Boer 'n Engelsman slaan."

Die ou Italianer wat nou rooi van die bloed is, wil nie meer boks nie en die Engelsman kom sit by my en Piet en begin ons te vertel dat hy sy lewe lank al boks en hy reis na geen land of plek sonder sy "gloves" nie. Maar Piet sê aan hom: "Sal jij met mij boks?"

"Ja," sê die kêrel laggend, "dit is mij plesier."

Maar Piet wat al half vererg was vir die mishandeling van die Italianer, trek toe die "gloves" aan, stap die kêrel by, vat sy hand en sê vir hom: "Ik is nie die ouw Taljander nie hoor."

"Oh," sê die Engelsman, "I am prepared for any man."

Die twee spring aan mekaar. Ek sien net die Engelsman skuif met sy kop en knie, soos 'n ruspe loop, tot teen die kant van die dek en keer om. Die bloed spuit uit die kêrel se neus. Alles wat om hom is, is bespat. Hy spring daar op en is die trappe af. Die nege dae wat ons op die skip was, het ons hom nie weer gesien nie. Maar Piet sê vir my: "Maat Koos, wat het ik jouw gesê, dit was 'n Boere hou."

So het ons dan 'n plesierige reis en al die beste grappies gehad.

Van Delgoabaai is ons per trein na Pretoria. Nadat ek en Piet van mekaar afskeid geneem het, het ek rond en bont verneem na my broer wat in Pretoria woon. Tot my grootste blydskap het ek by hom uitgekom. Ek is toe ook al kort van geld en moes begin werk soek. Ek en my broer het toe werk gekry in die Willies Deep-goudmyn. Dit het nie lank gehou nie, want na 'n dinamietongeluk het ek besluit dit is klaar met my en die goudmyn en het ek dadelik 'n applikasie gemaak vir die gevangenisdiens. Ek het twaalf maande daar gewerk as tolk in kaffertale en ook 'n goeie sakhorlosie met 'n lootjie gewen. Ek is toe getroud en terug na Kenia, want die verlangste na my ouers en die oop vlaktes was te groot.

Ek was maar arm en moes op alle maniere probeer om 'n lewe te maak. Ek het toe vir my en my vroutjie 'n grashuisie van agt voet by twaalf voet gemaak. Daarin moes ons woon. Ek moes maar elke dag uitspring vir 'n verdienste en ek het begin om sommer groot jagterye(7) aan die gang te sit.

(7)"Dit ly geen twyfel nie dat die Boere in Oos-Afrika hulleself skuldig gemaak het aan grootskaalse jag wat dikwels gegrens het aan 'n massa-uitroei en -slagting ter wille van ivoor en huide, soos wat hulle voorouers in Suid-Afrika ook maak gemaak het." (Changuion, bl. 168.)

Ná die laaste voetnoot duur dit 'n lang ruk voordat ek weer my moeë vingers op die sleutels sit om verder te tik. Maar niks gebeur nie. Ek staan op en gaan maak koffie. Dan stap ek na my boekrak en haal Brian Easlea se Science and Sexual Oppression tussen die ander slapbande uit. Ek slaan eers "penile insecurity" in die onderwerpindeks na. Op bladsy sestig kry ek waarna ek soek.

Dit is nie 'n groot stap tot by die volgende aanhaling en daarmee die einde van die storie nie:"Hunting was typically one such exclusively male and prestigious activity which served to bestow virile status on die successful male. Thus according to David Maybury-Lewis: 'Hunting is the most common expression of virility. Shavante men enjoy it for its own sake and delight in it, if they are good at it, because it enables them to make a public exhibition of their masculiness'."

Sonder om die jagstories te verhaal, blaai ek tam na die laaste bladsye van Oupa se ervaringe:

"Nouw besluit ik om geen lisensie meer te fat nie, daar ik voel mij kragte gee in. Ik is ook nie meer so finnig met di geweer nie - alles henner mij. Vroeër, as mij foete di grond fat is di geweer aan di kop en as di skoot klap, lê di bok. Nouw kan ik nie meer di korrel krij nie - di enigste is 'n skijf wat stilstaan.

"Ik is drie-en-sestig, mij hart is nog gewillig maar mij kragte is gebreek. Wat mij jagternatuur nog kalmeer is di wildskoppe, felle en karosse wat ik in di huis het - 'n fersameling wat ik al di jaare reeds bijmekaar gebring het."

As naskrif skryf hy:  "Ik kan di lesers fan hierdie eenvoudige jagtersverhale ferseker dat hierdie gebeurtenisse wat ik beskryf het nie uitgedink is of uit geleesde boeke kom nie. Alles het werklik gebeur en is nie fersindsels nie, maar ware manlike ondervindings.

--- --- ---

Die storie sou kon aangaan. Ek sou Ouma op 'n oggend kon gaan oplaai en uitry vir tee en skons by Jan Smuts-huis in Irene. Ons sou kon stry oor Jopie f\Fourie en sy sou uitvra na die vordering van Oupa se boek. "Voor die wind," sou ek dan huigel. En dan sou ons die begraafplaas, 'n monument ter nagedagtenis aan die gestorwenes van die konsentrasiekamp, gaan besoek.

Stel jou voor, sulke trietsige jonkmansweer. Ouma wat rondstap en vertel van die siekes en sterwendes wat hoes en huis dat dit soos 'n trop blêrende skape klink en van die paraffien wat hulle aan haar kopvel smeer teen die luise.

Ouma staan en rondkyk - soek na bekendes op die naamlys van gestorwenes. Sy brom dat die lys nie volledig is nie, want daar is minstens twaalf op 'n dag dood. Ek stap na my motor toe. Wanneer ek inklim, skakel ek die radio aan:  Imagine there's no heaven. / It's easy if you try. / No hell below us / And above us only sky / klink dit oor die luidsprekers. Ouma kom klim in die motor, maar ek ry nie, want skielik het die hartseer van jare my oorval. ek huil met oorgawe asof die hartseer nooit weer gaan einde kry nie. En langs my sit my ouma. Miskien dink sy aan 'n  jonkman op 'n vurige perd of aan 'n trourok met 'n hoed wat weer gedra kan word - ek weet nie. Al wat sy sê wanneer my trane begin bedaar, is: "Ek is moeg. Jy moet maar ry dat ons by die huis kan kom."

--- --- ---

Die middag by Iris-hulle aan tafel het Koos net met 'n halwe oor geluister na die gesprek wat hoofsaaklik gewentel het om Stoffel se voorgenome huwelik, want hy kon sy oë nie van die kas afhou nie. Hy het wel gehoor toe Mamfi opmerk dat die bewoording van die gebooie, in Stoffel se geval, miskien gewysig moet word na "oujonkman van die gemeente". Maar met die woord "jonkman" was sy gedagte dadelik weer by die kas. Sy mond was nog vol kos toe hy met sy vurk in die rigting van die kas beduie en sê: "Ek wil so 'n kas hê."

Helena het vir hom groot oë gemaak en gesê: "My ma sê altyd 'Wilhê kry 'n pak', en vir Iris geglimlag.

--- --- ---

Wanneer hy omkyk en sien dat die winkelier na hom staar, druk hy vinnig die laai toe. Hy staan 'n tree terug en vou sy hande agter sy rug.

"Ek sal die ander laai gebruik vir onderbroeke, kouse en sakdoeke..." sê hy hardop.

Die winkelier staan nader: "Verskoon tog..."

"...selfs miskien 'n skeerstel met 'n kwas," val hy die winkelier in die rede en gaan sit op sy hurke voor die kas.

"Jammer, meneer, maar..."

Hy maak die onderste twee deure oop.

"Meneer! Ons verkies dat klante nie die meubels betas nie," sê die winkelier, effens rooi in die gesig.

"Hierdie jonkmanskas ruik na motwortel," sê Koos. Dan klim hy in die kas in en trek die deure dig agter hom toe.

Koos Prinsloo

Vertellers Die Groot Verhaalboek

Volgende storie, asseblief?

Radio Omroeper Kort Kursus

Radio Omroeper Kort Kursus

R2095
Adult Pharma

A Pill to Thrill (Distributor Agents Needed)

R350
Independent Candidate Course

Online Independent Candidate Course

R3499
Shuttle Services Pretoria

Privaat UBER Pretoria (Shuttle Service)

R519
< >