En dan kon hy een van die seuns hoor sê, "O, dis Elia se tuin."
Dis tog te jammer, het hy gedink, dat dit nou moes gebeur na al sy werk - en hy het geweet dat hy harder gewerk het as al die ander seuns. Maar daar was niks wat hy nou daaraan kon doen nie.
Elia het al slegter en slegter gevoel. Maar skielik het die kamerdeur oopgegaan, en tot sy verbasing het die superintendent en 'n klomp seuns ingestap gekom . Wat sou dit beteken?
"Ons het jou kom gelukwens," het die superintendent gesê. "Jy het die prys vir die mooiste tuin vanjaar gewen."
"Ek?" het Elia gesê, en sy oë het wyd gerek.
"Ja, jy," het die superintendent gesê.
"Maar - maar - dit staan seker vol bossies?"
"Nie toe ek dit netnou gesien het nie," het die superintendent gesê.
"Maar - hoe - wat - ?" het Elia gestamel.
"Dis alles reg," het Daniël gesê. "Ons is almal bly jy het die prys gekry. Jy sien, die Here het nie die bossies in jou tuin laat groei nie, want jy het verdien om te wen; Hy het geweet dat jy harder gewerk het as ons almal."
"Ek dink dit is reg," het superintendent gesê, "maar ek dink Hy het mensehande gehad om Hom te help."
Toe hulle hierdie woorde hoor, het die seuns gelukkig gelag en uitgehardloop na hulle werk toe.