Maar die volgende dag, tot Ella se verbasing en vreugde, het hy weer teruggekom, 'n bietjie kossies geëet en maar weer weggevlieg. Die volgende dag was die vinkie maar weer daar en vir 'n lang tyd het daar nie 'n dag verbygegaan dat die voëltjie nie vir sy kossies gekom het nie.
Maar eendag het die voëltjie nie sy verskyning gemaak nie en Ella het gewonder of die voëltjie nie miskien dood is nie. Sy het gewag en gewag en het selfs 'n bietjie kos naby die venster gehou - maar tevergeefs.
'n Week daarna het die vinkie egter weer gekom, maar hy het 'n wond in sy bors gehad. Ella het hom baie jammer gekry en hom versorg totdat hy weer gesond was. Bedags het hy uit 'n bordjie op haar bed geëet en hulle het groot vriende geword.
Toe het daar eendag iets buitengewoons gebeur. Ella se Mammie het eendag die kamer binnegekom terwyl Ella geslaap het en oor haar hare het daar 'n snaakse stukkie lint gelê. Sy het gewonder hoe dit daar gekom het en toe Ella weer wakker word, het sy ook nie geweet waar die lint vandaan gekom het nie.
Maar die volgende dag het Mammie 'n stukkie ligroos lap teen Ella se wang gekry. Hulle was dronkgeslaan, maar terwyl hulle nog so praat, wat dink julle het gebeur? Die vinkie het deur die oop venster aangevlieg gekom met nog 'n presentjie in sy bek - hierdie keer 'n stukkie blou lint. Hy het die stukkie blou lint op die bed laat val en weer weggevlieg.
Die goedhartige vinkie het hierna nog presentjies gebring, onder meer 'n stukkie kant, 'n klein slakskulpie, 'n stukkie varing, gekleurde wol en 'n klein gordynringetjie.
Watter mooi les oor dankbaarheid! Die vinkie was skynbaar besig om op sy manier te sê hoe dankbaar hy was vir die dogtertjie se goedheid. En toe ek die storie hoor, het ek aan Jesus se woorde gedink: "Sy het gedoen wat sy kon."