Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Die geveg in die hondehokke
Dit het alles een goeie môre in die Langstraatse hondehokke gebeur.
Keiser en sy Seun, Rex, het in een van die hondehokke gewoon, terwyl Dingaan en sy seun, Kaptein, net in die hok oorkant hulle was. Oor die algemeen het hulle goed klaargekom, maar soos dit die geval is met die meeste families, het hulle so af en toe 'n uitvalletjie gehad.
Rex en Kaptein het net baie lekker saam gespeel soos dit maar altyd die geval was wanner hulle buite toegelaat is, en hulle was heeltemal tevrede met dit alles totdat Rex skielik op 'n been afgekom het wat die man wat hulle altyd kos gee, seker per ongeluk laat val het.
Beide Rex en Kaptein het op die been afgestorm.
"Dis myne!" het Rex geskreeu, "Ek het dit eerste gesien."
Maar Kaptein was nie van plan om so 'n lekker been te verloor nie. Toe Rex dus eenkant gryp, het hy die ander ent beetgepak. En toe begin hulle trek.
"Njarrrr," het Rex gesê, "laat los dit. Dis myne."
"Njarrrr," het Kaptein geantwoord, "Dis nie joune nie. Ons het dit altwee gelyk gesien."
"Njaaarrrr," het Rex weer gesê, "ek sê vir jou, laat los."
"Njarrrrr", het Kaptein weer geantwoord, "los jy!"
Toevallig was Kaptein net 'n bietjie sterker as Rex en skielik het hy die been uit Rex se bek geruk en laat spat.
Rex het hom agternagesit en ingehardloop. En toe was die twee weer aanmekaar. Hulle het oormekaar geval en die hare het leterlik gewaai; dit het geblaf, gebyt en getjank dat dit 'n naarheid was. Teen hierdie tyd het al die honde in hulle hokke opgestaan om te loer wat gaande was en hulle het die petalje van Rex en Kaptein gesien.
"Vat hom, Rex!" het sommige geblaf, terwyl andere weer Kaptein se kant gekies het.
"Dit moenie toegelaat word nie," het 'n paar van die ouer honde geblaf.
"Baas! Baas!" het een, skynbaar in groot angs, geblaf.
Die lawaai was so groot dat die baas weldra kom kyk het wat aangaan, en toe hy sien wat gebeur het, het hy die twee hondjies uitmekaar gemaak en hulle beveel om na hulle hokke te gaan.
Kaptein en Rex se ore het gehang, want nie alleen het nie een van hulle die geveg gewen nie, maar die been het ook in die slag gebly Hulle het toe aan hulle ouers alles vertel wat gebeur het en natuurlik het die een die ander blameer.