"Moeder," het Richard gesê, "die eiers sal miskien nie almal uitbroei nie, maar ek is seker dat sommige sal."
"Hoekom is jy so seker," het Moeder gevra; "Ek dink dis reeds te laat."
Eindelik was die drie weke verby. Daar was geen teken van lewe in die nes nie. Dit was 'n sondagoggend, en Moeder wat ook maar 'n bietjie teleurgesteld was, het aan Richard gevra: "Hoe lyk dit Richard, is jy nog so seker?"
Richard se antwoord was: "Wag tot more; more sal die kuikens seker begin pik."
More het gekom en daar was nog geen kuikens nie - dit was Maandag.
Dinsdag het gekom, en niks het gebeur nie. Eindelik was dit woensdag; Moeder het gaan kyk, maar daar was niks.
Toe het sy gedink dat dit dwaas sou wees om te dink dat die kuikens nog sou uitkom, en daardie middag toe Richard van die skool af kom, het sy aan hom gesê om die eiers maar te begrawe en die hen nie langer op hulle te laat broei nie.
Richard het na die nes gegaan, en 'n rukkie later het hy by die huis wild binnegestorm.
"Moeder!" het hy geskreeu, "Moeder, kom kyk gou, ek hoor iets piep daar in die nes!"
Moeder het na die nes toe gehardloop, en daar onder die hen het hulle die skattigste, donsigtste, goudgeel kuikentjie gesien.
"O, ja!" het Richard gesê, "die Here het tog my gebede verhoor!"
Soos die Here gewoonlik doen, het Hy Richard se gebede in 'n dubbele maat verhoor, want die volgende dag, Donderdag, was daar nog 'n kuikentjie, hierdie keer 'n swartertjie wat vier dae laat gekom het.
Wel, van die dertien eiers het Richard twee kuikens gekry, en hoe dierbaar was daardie kuikens nie vir hom nie!
Richard was oortuig dat die Here hom so lank laat wag het om sy geloof op die proef te stel.
En so het daardie twee kuikens bekend geraak as die "geloofskuikens."