
"En nou my verhaal ..." sê Denis terwyl hy agteroor leun in sy gemakstoel. "Mary het dit al dikwels gehoor, maar dit het 'n einde wat ek nog aan niemand vertel het nie. Dit word tyd dat ek dit van my hart af kry ..."
Dis byna drie jaar dat ek Denis laas gesien het. Vanmôre het ek in Londen aangeland, hom kort daarna by sy skool geskakel, in die voormiddag het hy in sy motor na Londen gekom en my saam met hom teruggeneem om die naweek met hom en sy vrou in hul woninkie in Surrey deur te bring.
In 1942 het ons bevriend geraak in die Britse krygsgevangenekamp naby Sulmona, Italië, waar Denis een van die kamp se staatmakers was, hy lesings gegee het oor musiek, letterkunde, argitektuur en so meer, hy die dirigent was van die kamporkes en hy Shakespeare se Tempest met groot welslae opgevoer het. Die laaste maal dat ek hom gesien het, was in die kamp kort ná die Italiaanse Wapenstilstand in September, 1943, die dag voor 'n Duitse afdeling stormtroepe onverwags die kamp binnegeval het en dié van ons wat nie op die plek weer aangekeer is nie, die berge ingevlug het. Maar al dié dinge het baie ver en vreemd gelyk toe ek en hy vanmiddag deur die groen Engelse winterlandskap ry...
Oor skemerkelkies het ons egter oor Sulmona begin praat - en plotseling was ons kamplewe weer vir ons iets baie konkreet en onmiddelik het dit ons ingehok (soos ons vroeër deur doringdraad ingehok was) met herinneringe, maar die meeste van hulle aangenaam. En van die kamp tot die ontsnapping was 'n maklike oorgang. Aan tafel het ek vertel hoe ek uiteindelik ons linies bereik het. Nou, hier waar ons drie om die vuur sit, het Denis so pas vir die eerste maal van sy eie ontvlugting melding gemaak.
"Die begin sal ek weglaat," sê hy terwyl hy die staanlamp so stel dat die lig nie in sy oë skyn nie, "my net met die laaste paar dae besig hou. Daardie lang vallei tussen Morrone- en Maiella-gebergtes het gewemel van gevangenes, almal gevoed en geklee en in baie gevalle ook gehuisves deur die boere of inwoners van die bergdorpies. Toe los die Duitsers 'n geweldige klopjag op ons en ons weldoeners. Hulle het die meeste van die dorpies stormenderhand beset, verder alles in die vallei voor hulle skoongevee deur, blykbaar sonder enige bepaalde doel behalwe om skrik aan te ja, sommer hot en haar te skiet en handgranate rond en bont te smyt. Waar ook al hulle 'n skuuilplekkie in die kreupelhout vermoed, brand hulle op boom en blaar los terwyl hulle soos besetenes skreeu ons moet uitkom en ons oorgee.
"Ek het in 'n hut gesit op die rand van 'n bos toe 'n boer die capanna binnestorm. 'Gaan! Gaan!' skree hy. 'Hul's hier! Hul's op ons!' En hy verdwyn soos 'n haas in lang gras. Ek het opgespring, my rugsak gegryp en spore gemaak. Aan my regterkant sien ek hoe 'n tweede boer teen die steil helling na die eerste bome aanpiekel. Links, onder in die vallei, kom 'n twaalftal Duitsers die klippaadjie opgestorm, skiet hulle al hardlopende. Die volgende ooblik beur ook ek teen die opdraand uit.
"'n Dosyn tommiegewere knars tegelyk los en oral om my is daar ontploffinkies stof soos koeëls plonk-plonk teen die kluitgrond. Dis nie meer as honderd tree na die naaste kreupelhout nie, maar dit lyk 'n lang, lang ent. Toe ek die bos haal, klap die koeëls teen die boomstamme of sluit hulle deur die blare bo my kop.
"Ek het aangehou hardloop al dieper in daardie groen en goue herfsbos in waarop, goddank, die skemer reeds begin toesak het. Alhoewel ek gou buite skoot was, het die skietery glad nie afgeneem nie. Die Duitsers het uit elke rigting geskiet behalwe uit die suidooste, reg voor my. Dié bos, wis ek, sou my na die hoër hellinge van die Maiella voer - daardie kaal, barre, onvermiddelike reuse-bergketting wat my al weke lank vertraag het - maar vannag, nadat ek my goed uitgerus het, sou ek hom reg van voor pak en hom oorsteek, kom wat wil.
"Ek weet nie hoe lank en blindelings voortgesnel het nie. Agter my het die skietery nie opgehou nie. Voor ek besef wat ek doen, het ek in 'n oop kol op 'n hoogtetjie uitgehardloop, slaan die son my in die gesig soos 'n krieketkolf. Terselfdertyd krak-krak daar weer 'n kwaai sarsie tommiegeweervuur, besef ek die Duitsers is hier, vlak by my, aan die voet van die hoogtetjie. Ek is gedaan en gee nie meer om nie. Toe ek dus struikel en val, bly ek sommer lê, dink ek dofweg hulle kan my nou maar kom haal...
"Die volgende oomblik stoot die aarde onder my, lyk dit of hy my in die lug oplig - want ek is weer op my voete, kyk bedremmeld om my, dit dreun iewers en die grond bewe aanhoudend. Dit kan nie 'n bom uit een van ons vliegtuie wees nie, flits dit deur my gees, want die gerammel kom van onder my voete. Skielik onthou ek wat die boere my vertel het van 'n hele reeks spoorwegtonnels deur die Maiella se voorgebergtes, en besef ek wat gebeur het. Ek staan bo een van hierdie tonnels en 'n trein het so-ewe die tonnel binnegedruis!
"Dan spring daar iets vlak voor my uit die grond uit op, asof uit die aarde self losgeruk deur die krag van sy stuiptrekkings. Dis 'n man, byna 'n dwerg, omtrent vier voet ses duim lank, stewig gebou, met borselige wenkbroue bo sy swart glinsterende ogies, met tandeloos en met sy verrimpelde gesig, kaal arms en bene swart van die roet. Hy waai wild en woes met sy arms, sy hele liggaam ruk-ruk asof deur onsigbare toutjies getrek en hy beskree my in 'n taal waar ek geen woord van snap nie. As hy ophou met skree, hoor ek die tommiegewere knal. Dan gryp die man my hand met 'n verrassende krag, en begin my teen die steilte optrek.
"Binne 'n paar sekondes is ons weer in die bos se skuiling, mik ons regstreeks na die piek hier bo ons. Die man het my hand laat los en vorder verassend vinnig vir sy kort beentjies. Ek slaag darem daarin om by te hou. Gou hoor ons geen geskiet meer nie, net die geruis van die aandwindjie deur die loewer en die geknetter van droë blare onder ons stewels. Die mannetjie is nou tjoepstil, maar ná ons ongeveer 'n myl afgelê het, babbel hy weer in sy uitheemse bergdialek met 'n heftigheid buite alle verhouding, lyk dit, tot sy liggaampie, en nou verstaan ek hom goed.
"Sy naam is Arturo, Arturo Tucci. Hy's 'n carbonaio, 'n koolbrander. Ook sy seun, Pietro, is 'n carbonaio. Wag tot ek Pietro sien! Ek sou Pietro liefhê. Hy het Pietro lief. Mariana het Pietro lief, almal het Pietro lief. Jy kan nie help om Pietro lief te hê nie, hy's so 'n wonderlike kêrel - so sterk soos 'n perd, so dapper soos 'n leeu, so blond soos die son... Terwyl ek afkyk na hierdie verspotte mannetjie met sy wilde, senuweeagtige gebare, kan ek beswaarlik glo 'n kind van sy vlees is so welgeskape.
"Ja, hulle is koolbranders, hy en Pietro, hul kooloonde staan teen 'n krans hoog teen die berg, en hulle leef in 'n grot langs die oonde. 'n Tamaai grot, so groot soos 'n huis. Ook Mariana woon in die grot... Mariana, Pietro se nooi, 'n mooi nooi, 'n fyn nooi, 'n nooi duisend. Mariana hou vir hulle huis, stop, kook, sorg vir hulle. Hy sou graag wil hê hulle moet een van die mooi dae trou, dan sou Mariana selfs gelukkiger wees... Maar dis gevaarlik, baie gevaarlik om deesdae na die dorpie af te gaan. En watter priester sou soos 'n bobbejaan die berg kom opklouter om 'n paartjie in 'n grot te trou?
"Dit het al donkerder geword, ons pad al steiler en ruwer. Gou was dit heeltemal donker en kon ek nie my hand voor my oë sien nie. Maar so gou Arturo weer my hand in syne neem, het ek in daardie pikdonker bos so tuis gevoel soos vroeër snags in my eie tuin.
"Ek behoort gelukkig te wees, het Arturo weer welsprekend geword, ek behoort te lag, te sing, ja, soos Pietro te sing, Pietro het 'n pragtige stem... Want geen kwaad sal aan my geskied nie. Hy sal na my kyk, Pietro sal na my kyk, Mariana sal na my kyk, hulle sal almal na my kyk. 'n Goeie maaltyd, dan 'n lekker lang slaap in die warm grot en môre ligdag sal hulle vir my die pad oor die berge wys terug na my eie mense. Nie hy nie, hy's te oud, dis te ver, maar Pietro en Mariana... Ek moet vertrou op my nuwe vriende, carbonai, koolbranders, wat ook Carbonari, vryheidsvegter is, soos daardie Carbonari wat aan die begin van die vorige eeu gestry en gesterf het vir die vryheid van Italië... en ook op God vertrou... want God is goed...
"Ons dring al hoe dieper die ruigtes van die Maiella binne. en ons klim en klim... Al dae lank druk daardie massiewe berg soos 'n dooie gewig op my gedagtes, want met sy kolossale kaal kruin, sy opeenstapeling van laer pieke, sy afgronde en diep klowe, lê hy soos 'n klipmonster van teenkanting en weerstand dwars in die pad van my vryheid. En die eerste sneeu kan enige dag kom, sal nie net my bestyging van die Maiella oneindig bemoeilik nie, maar ook die wolwe bring... Nou het die Maiella egter geen verskrikking meer vir my nie, net geheime poësie, wonder.
"Iewers is die maan besig om op te kom, want dis nie langer so donker nie. Ons praat nie meer met mekaar nie, want al geruime tyd vorder ons maar trapsuurtjies al langs die klipperige voetpaadjie op die randjie van 'n afgrong soos 'n yslike swart wig geslaan in die berg se sy.
"Wag tot ek Pietro te sien kry, sê Arturo terwyl ons staan en blaas naby die spits top van 'n piek wat soos 'n swart muur 'n paar duisend voet opskiet uit die afgrond onder ons. Ek sal baie gelukkig wees in Pietro se geselskap, Pietro kan my taal praat, hy kan Amerikaans praat, hy is 'n Americano, hy het vier jaar lank in Amerika geleef, in New York, New Yorkstaat, hy praat net so goed Amerikaans as ek, net so goed as enige Amerikaner. Ja, ja, zenza dubio, ek sal met Pietro soos 'n broer kan praat, hy sal vir my 'n broer wees, 'n ware broer. Dis wat mense bedoel is om te wees, broers vir mekaar...
"Die maan is op, staan hoog bo ons, die briesie het intussen 'n koue, sterk bergwind geword en die bos hoë dennebome met breë kruine wat ons 'n halfuur gelede binnegedring het, weergalm van die wind se aanslag. Dan kom ons onder die denne uit, betree ons 'n oop kol - en hier, aan die ander kant van die ooptre, gewaar ek die grot se ingang, 'n wye swart opening aan die voet van 'n hoë krans naby 'n piektop die ene maanlig.
"'Ons houtskooloonde,' sê Arturo en hy beduie links van die grot. As ons voor hulle staan, kan ek hulle duidelik sien: tregtervormige bousels van rooibruin klei wat uitloop in 'n spits ongeveer twintig voet bo ons koppe.
"'Maar waar is Pietro?' vra ek toe ons aanstap na die grot.
"'Hy't gaan swem," antwoord Arturo. 'En om die bok te haal wat ons miskien in ons wip gevang het.'
"'Gaan swem!' roep ek verbaas uit. 'In dié weer?'
"'Ja, eers bad hy, dan swem hy. Die swemmery het ek hom geleer toe hy nog 'n knapie was. Die baddery is die een slegte gewoonte wat hy uit Amerika teruggebring het. Die Amerikane is goeie mense, maar hulle moet bietjie gek wees, hulle hou nooit op om te bad en hulle te was en met water te mors nie. Twee keer in die week gaan Pietro na 'n rotspoel drie kilo's hiervandaan. Hy wil die oondroet van sy lyf afwas, sê hy. Gek, stapelgek... Daardie roet kruip mos altyd terug, en beskerm dit jou dan nie teen die vlooie en die koue nie?' En Arturo streel sy nek asof dit nie deur 'n roetlaag beskut word nie, maar 'n warm serp.
"'En Mariana?' vra ek. "Is sy saam met hom?'
"'Ja, maar nie om te bad of te swem nie. Sy bad hier elke môre in 'n bronnetjie nie ver van die grot af nie. Sy sit net daar op 'n rots en kyk hoe Pietro swem; hy swem soos 'n forel, ek het hom geleer... dis 'n mooi gesig.'
"Ons het die grot binnegegaan, Arturo het 'n vuurhoutjie getrek, gebuk oor 'n groot houtstapel naby die ingang - en gou laai die vlamme op in daardie wye vuurherd, werp hulle dansende skaduwees teen die rooi dolomietmure, en word die hele grot helder verlig.
Ek kyk die grot 'n bietjie deur. Ruim, met 'n hoë koepeldak, gerieflik en huislik, herinner dit my aan die woonkamer van enige Abruzzi-boerewoning. Want daar staan of hang rooigoue koperketels en donkerbruin Abruzzi-kruike teen die mure 'n wynvaatjie rus op 'n stelletjie in een hoek, vyf groot pampoene gloei in 'n ander, hier lê 'n oop sak mieliepitte, daar 'n vol meelsak wat nog toegenaai is, links glinster 'n paar karba's soos die lig kom en gaan, en van spykers in die dak swaai stringe russies, knoflok en uie.
"Arturo neem 'n pot, gooi dit half vol water uit een van die groot kruike met 'n sierlik-gekrulde handvatsel, en begin ons aandmaal voorberei. Hy sal my 'n polenta opdis, verklaar hy geesdriftig, soos ek nog nooit tevore geproe het nie! Ek sit daar, 'n paar voet van die vuur af, verlustig my in al Arturo se doenigheid en die gedurige spel van rooi-en-goue lig teen die mure, luister hoe die wind die dennebos skud - en voel lomerig en doodgelukkig.
"Ek het half ingedut toe Pietro en Mariana binnekom. Skielik is ek wawyd wakker. Ek kan hulle net aangaap. Arturo het opgespring waar hy voor die vuur gehurk was en staan nou opgewonde met sy seun en gesels. 'n Mens kan jou nie 'n sterker kontras voorstel nie. Die jongman - oor sy regterskouer hang 'n takbok, die horings waarvan sy knieë raal - is 'n reus, minstens ses voer vier met 'n leeue-kop en 'n borskas soos die skild van Achilles. Dit lyk asof hy die ingang toestaan, asof hy nie net bo sy vader uittroon nie, maar die meisie langs hom, die laaiende vuur, die hele grot oorheers - asof hy selfs die ganse nag uitgsluit was, dawerend van wind en die gekletter van boomtakke, tot nou toe vir my so 'n wesenlike deel uitgemaak het van die grot.
"Sy welige krulhare is so blond as sy vader s'n donker is, sy oë diepblou, maar wat jou die meeste tref, is sy gesig. Dit het die sterk eenvoudige trekke en vlakke van beeldhouwerk, en die geleetsuitdrukking is kalm, byna streng.
"Die meisie is pragtig. Los swart hare met 'n rooi skynsel daarin, donkerbruin oë, olyfkleurige vel met 'n ligte blos, lang, fyn reguit neus en 'n bevallige figuur; was dit nie vir haar maat nie, sou ek nie my oë van haar kon afhou nie.
"Hulle het albei na my staan en kyk. Toe het Arturo se geklets end gekry, huppel hy nie langer soos 'n kaartmannetjie rond nie, swaai Pietro die bok van sy skouer af, gee hy 'n paar lang treë vorentoe, en hier omhels hy my, word ek minstens 'n voet van die grond af opgelig en voel en hoor ek hoe my litte kraak. Toe hy my neersit, sê hy langsaam in Engels:
"'Ek is bly Vader het jou gevind. Ek is bly jy is by ons. Jy is my broer. Ek is jou broer, Welkom in ons eenvoudige tuiste...'
"Selfs sy manier van praat is enig. Dit het geen spoor van die nadruklik-singende dreuntoon, tipies van die meeste Bronx-Italiane nie, maar is egaal en soetvloeiend.
"Mariana het uitgestap, teruggekom met haar arms vol bossies en lower en toe vir my 'n bed gemaak 'n entjie van die vuur af. Party van daardie struike moes kruie gewees het, want by tye is die grot deurtrek van die vars, nat reuk van kruisement en kry ek ook die droër, skerper geur van tiemie. En af en toe is daar die vreemde, wilde reuk van die bok wat Pietro aan 'n groot haak teen die muur opgehang het. Maar wat al hierdie fris buitelug-reuke oorheers, is die ou-ou geur, huislik en aanloklik, van die polenta wat in die oop pot borrel.
"Arturo was heeltemal reg omtrent sy polenta. Ek weet nie hoeveel porsies ek gehad het nie. Daardie growwe boerebrood wat Mariana gebak het - hy't eintlik van brosheid in my hande gebreek - geen brood op aarde sou ooit weer so smaak nie, was dit nie dalk die einste heuning van die wêreld nie? En was daar ooit so 'n wyn? Nòg droog, nòg soet, maar albei tegelyk, koud (asof jare lank gekelder) op die tong, tintelend teen die verhemelte aan, het dit my van binne laat gloei soos die vuur die grot.
"Hy was vier jaar lank in New York, het Pietro my vertel. Hy het in Brooklyn straatgevee, gehelp om 'n brug oor die Hudsonrivier te bou, in die East Side in 'n kafeteria gewerk. Maande lank was hy 'n vuisvegter se oefenmaat. Hierdie laaste brokkie inligting lyk vir my so onwerklik as enigiets wat vandag met my gebeur het, want die breë, oop gelaat voor my wys nie die geringste teken dat 'n vegtersvuis ooit teen dié gladde vel aangebons het nie.
"Aan die begin, sê Pietro, was alles vars en spik-splinternuut, was hy geïnteresseerd. Toe het hy daarvan moeg geword, al daardie staal en beton, ratwerk, malende ratwerk, masjinerie, motors, motors, motors... So baie mense, miljoene en miljoene mense - en tog tel die mens so min en die masjien so baie.
"Hulle het die aarde 'n groot kwaad aangedoen, want hulle het die gras toegemaak. Nou betaal hulle daarvoor. En ook hy, Pietro, het begin om daarvoor te betaal. Elke dag het hy meer gesmag na sy berge, daardie ewige pieke, hoog bo die wêreld van mense en motors verhewe, na hul koel, wye, oop hemele in die somer, en in die winter na hul sneeu, hul ysige, silwerskone lug en woeste winde wat hulle, so het hy hom dit altyd voorgestel, op daardie einste klipkranse skerp gemaak het om 'n mens se liggaam te prikkel, jou lewenslus aan te hits en so 'n groot vreugde in jou siel te laat oplaai. En hy het ook na sy vader verlang... Mariana het hy destyds nie geken nie. Toe kom hy terug.
"Met die uitbreek van die oorlog is hy opgeroep. In die suide gestasioneer, is hy in 1941 in die tronk gestop omdat hy demokratiese gedagtes bepleit het onder sy medesoldate. Gestuur na 'n kamp vir politieke gevangenes naby Modena, het hy teen die begin van 1943 ontsnap, langsamerhand suidwaarts getrek, maar nooit die bergtoppe verlaat behalwe wanneer hy 'n vallei moes oorsteek nie; en kort voor Mussolini se val het hy by sy vader aangesluit, weer 'n koolbrander geword.
"Van die begin van die maaltyd was Arturo druk besig om die polenta uit te skep en ons te bedien met brood en wyn waarvan hy nie 'n druppel gedrink het nie, het hy dus skaars 'n woord gepraat, was sy wakker laggende ogies egter deurentyd 'n sprekende bewys van sy trots op sy seun en sy geluk oor ons vriendskap. Nou, skielik, dans hy weer rond, vra hy Mariana aanhoudend waar is sy melk, wat de joos het van sy melk geword, waarom het hy nie sy melk gekry nie, hy wil sy melk nou op die daad hê...
"Mariana glimlag, staan op, glip deur die ingang en as sy terugkom, trek sy aan 'n riem 'n steekse bokooi met 'n stokou, droewige gesig en 'n tamaai uier wat amper op die grond sleep. Dan, terwyl die lig van die vuur flikker op meisie en dier, begin Mariana met vaardige vingers die bokooi melk. En gou knor-knor die oubaas doodtevrede oor 'n bak melk.
"Gedurende die laaste drie weke, sê Pietro, het hy drie groepe oud-gevangenes na ons voorste linies deurgebring. Dit was kinderspeletjies. Hy ken hierdie kontrei soos sy eie handpalm. En dis nie juis oorlog nie, slegs 'n soort patrollie-oorlog in die bosgebied wat die twee leërs van mekaar skei anderkant die Sangro-rivier. Daar is wel mynvelde, maar nie te veel nie, en hy ken hul presiese ligging asook dié van die Duitse kampe, fortjies, masjiengeweerneste en ander verdedigingswerke. Kort ná twaalfuur môre - ons moet eers lekker aan die wildsvleis smul! - sal ons in die pad val.
"Hy't nie daarvan gehou om die takbok met 'n mes dood te steek nie, maar vleis is skaars deesdae... Sy vader is 'n maestro wat betref die braai van 'n wildsboud en wat oorbly, neem ons saam. Mariana kom ook. Sy't daarop aangedring, sy het al twee keer saamgegaan en dis miskien beter so. Ons sal die hele nag deur stap, slaap in 'n capanna bo-op 'n berg gedurende die dag, dan ná sononder die Sangro oorswem en dwarsdeur die nag net stap en stap. En douvoordag op die derde dag staan ons aan die regte kant van die kanonne!
"'n Uur later lê ek nog met oop oë op die skaapvelkaros wat Mariana vir my op my struikebed uitgesprei het. Die wind, kom dit my voor, waai nou selfs sterker - daardie wilde tramontana wat die twee geweldige bergreekse span soos met 'n enkele sprong en die dennebos sonder ophou rondskud in sy reusegreep.
"Beelde het in my gedagtes opgeduik, talle beelde... die skaapwagter van die wind blasende op sy helderskulp, 'n orrel dreunende in 'n katedraal, baie orrels wat dreun in baie katedrale, 'n oseaan bulderend teen 'n donker, geheimsinnige kus aan wat geen reisiger nog ooit aanskou het nie.
"So het die nag verbygegaan...
"Pietro en Mariana het naby die vuur gesit, met Mariana teen Pietro se skouer aangeleun terwyl haar lang swart-glansende hare oor sy breë bors val. Rukke aaneen sit hulle daar doodstil - so stil soos Arturo, al lank vas aan die slaap op sy klein verkantige skaapvel - asof hulle na die wind luister. Maar dan het hulle saggies saamgesing - hy in 'n diep bas en sy in 'n soet alt - laaggestemde, droewige liedere wat ek nog nooit gehoor het en ek nie kon plaas nie. Soms het dit my aan die cante hondo of diep sang, primitief en rou van hartseer, van Spaanse sigeurs herinner, soms aan die geweeklae van Ierse boere, of aan die een of ander weemoedige eeue-oue landslied, begelei deur hul tenoras bo-op 'n bergtop tydens een van hul godsdienstige fiestas, van die vissers van die 'Wilde Kus' van Katalonië.
"By ander tye weer was dit of Pietro en Mariana se lied vir my 'n weerklank inhou van die ou Arabiese sange wat ek in die eerste jaar van die oorlog die woestynswerwers snags hoor sing het langs hul kamele om die eensame oaseputte in die hartjie van die ontsaglike Somalilandse woestyn.
"Die meeste van daardie liedere, het ek daar lê en dink, het iets eenders: dieselfde droefheid, 'n leed wat so diep lê dat dit skaars uit te spreek is, elementaal en onheuglik, asof dit uit die einste grond kom, so oud is soos die aarde self, nee, ouer, oeroud, verwortel met die allereerste daad van die Skepping.
"'n Paar maal toe die vuur tot slegs 'n paar smeulende kole gekwyn het, het Pietro met breë treë die nag ingestap - en kom hy terug met 'n houtstomp op sy rug of sleep hy 'n groot tak agter hom aan. Dan gooi hy die stomp of tak in die vuur, span die vonke en gou spring die vlamme weer die donkerte in en wapper die skaduwees nogmaals soos swart vaandels teen die rooi mure.
"Een keer het Pietro net buitekant die mond van die grot gaan staan, daar iets die donker nag ingebulder. Wat hy daar uitgeroep het, weet ek nie, maar dit het wild en juigend geklink - in opvallende teenstelling met die liedjie wat hy so pas met Mariana saamgesing het - ja, jubelend en vry en triomfantelik soos 'n elementale kreet van vreugde oor die lewenskrag in hom en die primitiewe grootsheid van die nag.
"Maar wat my miskien die diepste geroer het, was as hulle bloot na mekaar sit en kyk of stip voor hulle uitstaar met 'n kalm, gelukkige uitdrukking op hul gesigte, en die wind dan dié stilte vul.
"Miskien het alles saamgeval, alles wat dié dag met my gebeur het, die gevaar, die vrees en angs, tóé Arturo en nou hierdie grot, hierdie hele toneel, die gesing van Petro en Mariana, hul eenvoudige liefde, hul skoonheid, hierdie kruisement-agtige welriekendheid van die grot, wat my herinner aan my kinderdae en my moeder; miskien was dit al dié dinge saam en nog meer, ek weet nie wat nie - maar plotseling had my lewe sin en betekenis, was dit 'n geheel, ek één met mens en natuur, was ek net so deel van alle geskape dinge soos daardie wind daar buite, dié dawerende bos, daardie swart berg.
"Toe voel dit of alles tot 'n skerp spitspunt in my dryf en loop daar trane langs my wange af, warm trane van 'n vreugde wat ek nooit vroeër geken het nie.
"'n Groot moegheid kom oor my en ek raak aan die slaap, 'n diep, diep slaap sonder drome. As ek wakker word, voel ek wonderlik verfris. Die wind het gaan lê. Ons stap uit, Pietro, Mariana en ek, staan op 'n kliplysie bo 'n diep kloof, kyk uit oor daardie maanligwêreld, die ene stilte en majesteit. Geen stem, geen geluid ... net die piek se serende roerloosheid skyn die suggestie te hê van 'n gebed.
"Die maanlig lê in lang, breë vlakke, sag en rokerig, waarin die pieke en kranse hul skaduwees gedryf het soos pyle van swart ivoor. Die afgronde se skagte word deur die maan aangeraak, die rotsfronte glinster, maar dáár, diep onder, lê die skaduwees soos reusagtige swart blokke marmer. En aan ons regterkant, die bos, swart en saamgedronge, met nie 'n twygie of blaar wat roer nie... net die maanlig wat die strak boomtoppe hier en daar silweragtig laat flikker.
"Die kwartmaan glip agter 'n piek weg, skielik lyk die sterre groter en daar, hoog bo ons, vlam soos 'n groen en goue baken uit die swart hemel die môrester.
"'Kom,' sê Pietro eindelik. 'Nou moet ons gaan rus ... ek en Mariana moet 'n bietjie slaap kry. En ook jy moet weer slaap. Vader sal ons wakker maak wanneer die wildsboud gereed is.'
"Omtrent twaalfuur die volgende dag is ons voort ná Arturo my rugsak met wildsvleis en salame gevul en hy Pietro se groter sak met brood, bokmelk, kaas, rosyntjies en 'n fiasco wyn volgestop het. Arturo, vir 'n wonder doodstil, het 'n hele ent met ons saamgestap. Aan die voet van die Maiella se klipkruine het hy van ons afskeid geneem.
"'Jy't niks te vrees nie, seun,' sê hy ná ek vooroor gebuig en hy my op albei wange gesoen het. 'Hulle sal na jou kyk, Pietro en Mariana... Voor sonop oormôre sal jy by jou eie mense wees. Ek weet jy sal ons nie vergeet nie, jy sal later na Italië terugkeer, ons sal jou weer sien hier tussen ons berge...' en hy maak 'n laaste gebaar, maar dié keer kalm en langsaam, na die Maiella. 'Gaan met God!'
"Binne 'n paar uur was ons die Maiella oor en die ander kant af. Teen skemeraand het ons aan die slaap geraak in 'n hut bo-op die volgende bergreeks. Nie lank nie of ons is weer vort en ongeveer drie-uur in die môre staan ons voor die Sangro met 'n Duitse masjiengeweernes op albei walle 'n paar honderd tree van ons af. Dit het gereën en die rivier was vol. Ons het oorgeswem, Mariana met haar regterhand op Pietro se skouer. Met daglumier kom ons op 'n verlate massería af op die derde bergketting in ons pad. Daar het ons die hele dag geslaap omdat ons dié nag al ons kragte nodig sou hê, ons dertig myl of meer sou moes aansukkel oor 'n baie ruwe terrein dwarsdeur die laaste Duitse linies Niemandsland binne en anderkant uit...
"Dit was glad nie so maklik as wat Pietro voorspel het nie. Ons was naby 'n Duitse kamp toe 'n wag skielik voor ons opspring met sy tommiegeweer op Pietro gemik. Mariana het hom maklik uitoorlê. Nog nooit het ek haar so spraaksaam gehoor nie. Sy het hom toegeglimlag, hom geflikfooi, op die skouer geklop, hom 'n paar doppe saam met haar en Pietro laat wegslaan, gesê ek is haar doofstomme swaer, ek ly al 'n week lank aan die vreeslike maagkrampte, sy neem my na die dokter in die naaste dorpie, ja, ons moet vanaand daar uitslaan, nee, nie môre nie, vannag nog, stanotte stessa, want ek kan die aaklige pyne nie meer verduur, selfs vino help nie meer nie, sy het hierdie skaapwagter Pietro as gids en beskermer saamgebring, hy's 'n mooi groot, sterk kêrel, non è vero?
Toe ons 'n halfuur later daardie wag vaarwel sê, staan hy met sy tommiegeweer in die een hand en die halfvol fiasco in die ander ons half hoenderkop en agterna kyk.
"Ons het die volgende rivier, die Trigno, oorgeswem - en ons in 'n Duitse patrollie vasgeloop. In die donker begin hulle op ons skiet en 'n koeël fluit deur Mariana se hare. Gedurende daardie laaste skof toe ons bevrees was vir nuwe mynvelde en Duitse sowel as ons eie patrollies, was ek 'n senuwee-orreltjie.
"Ons het uit die bos uitgekom op 'n lang, kaal grasrant net toe die dag breek, en in die rooidag staan ek verwonderd en afkyk op dié dynserige, blou wêreld daar wyd uitgestrek aan alle kante onder 'n ontsaglike hemelkoepel, skoon en splinternuut, lyk dit, sonder 'n wolkvlekkie.
"'Ons is deur,' sê Pietro stil. 'Dit was baie m aklik. Niks het gebeur nie. Daar is jou mense...' En met uitgestrekte arms wys hy na die vir my ongelooflik skone wêreld wat daar vir die allereerste maal, so kom dit my voor, nou voor my verrukte oë uit enkel lig geskape word. 'Al wat jy moet doen, is hierdie bult af te stap, daardie dorpie dóér' - ek kon die dorpie sien, sy mure rooisrooi en goud in die daeraad - 'is vol Kanadese. Gaan, hulle wag vir jou...'
"Ek het probeer om hul oor te haal om met my saam te gaan, sodat ek hulle sigarette kon gee, klere, kos.
"'Nee,' sê Pietro, 'jy moet alleen sonder ons gelukkig kan wees onder jou eie mense, dis lank, bitter lank dat jy hulle laas gesien het.'
"'Maar jul vergoeding?' vra ek.
"'Ek wil geen vergoeding hê nie,' antwoord Pietro. 'Ek het so min uitgerig in hierdie oorlog waarin so baie beter manne as ek gesterwe het sodat ons broers mag wees. Met my hulp en dié van Mariana het 'n paar van julle vrygekom. Dit is my vergoeding.'
"Mariana het my op albei wange gesoen. En toe het Pietro my omhels, my nogmaals van my voete gelig. 'Ons is broers,' het hy gesê. 'Ons sal altyd broers wees...'
"Toe ek halfpad die steilte af is, kyk ek om. Teen 'n bleekgoue lug staan hulle daar bo die gesigeinder, leun Mariana teen Pietro se skouer aan en waai hulle albei vir my."
--- --- ---
Dit was 'n hele rukkie voor ek besef dat Denis opgehou het met praat. Toe ek na Mary kyk, sien ek dat haar oë met haar regterhand bedek is. Sy het opgestaan, gesê: "Nou gaan ek gou vir ons koffie maak."
Toe ons koffie klaar gedrink het, vra ek: "Wat het met Arturo, Pietro en Mariana gebeur, Denis? Het jy hulle weer gesien toe jy later na Italië teruggekeer het?"
Ná hy 'n sigaret oopgesteek het, sê Denis:
"In Desember verlede jaar was ek in Rome met 'n week se verlof van die Bologna-front. Ek het geweldig uitgesien na daardie verlof, maar ná 'n paar dae het ekk ellendig gevoel. Ek kon nie na die Abruzzi deurkom nie omdat al die spoorwegbrûe nog in die klowe of op die rivierbeddings gelê het, my jeep in die werkwinkels bly staan het en die meeste van die bergpaaie in die Abruzzi-provinsie nog besaai was met myne. Al wat ek dus gedoen het, was om deur die strate te slenter of in kroeë met luidrugtige maats te sit en drink met in my daardie aaklilge siek gevoel wat mens so dikwels in oorlogstyd kry - omdat jy verlang na die vrou wat jy liefhet, na jou kind of kinders, jy smag na 'n redelik normale lewe, jy gekwel word, nee, ontstel is oor wat oorlog gedoen het aan 'n land wat jy leer liefkry het.
"Oral om my was daar tekens van die verrotting wat daar altyd intree in die agterhoede van 'n oorwinnende leër. Die Ewige Stad met sy morele ontaarding, sy swartmark deur óns aan die gang gehou, sy skaamtelose prostitusie, die armoede en ellende van die oorgrote meerderheid van sy inwoners in daardie bitter koue winter - gou het ek byna verlang na die loopgrawe.
"Ek het geluister na die musiek in die groot kerke. Dit het vir my niks beteken nie. Ek het gaan staan voor die meesterstukke van al die groot skilders en beeldhouers wat ek nog altyd wou gesien het. Hulle het my koud gelaat. Vyf, ses dae lank het 'n flenterige grys reëntjie op ons afgedrup. Die volgende dag, my laaste in Rome, het dit opgeklaar en was ek besig om vanaf die corso Umberto in die rigting van die Tiber te stap, toe ek skielik, teen die front van 'n drieverdiepinggebou, 'n yslike kennisgewingbord sien met in groot swart letters daarop geverf: Allied Screening Commission.
"Ek het die trappe opgegaan, op die tweede verdieping die Kommissie inligtingskantoor binnegestap. Agter 'n lessenaar het daar 'n Engelse sersant gesit, besig om die Stars and Stripes te lees. Toe ek nader stap, kyk hy my half verveeld aan.
"'Ek wil graag navraag doen,' sê ek aan die sersant, 'omtrent 'n paar Italiaanse boere wat my twee jaar gelede gehelp het om te ontsnap. Het jy enige gen omtrent hulle?'
"Die sersant is dadelik op sy voete. En hy lyk nie langer ongeërg nie.
"'Ek is bly jy het gekom, kaptein,' sê hy.
"'Wat bedoel jy?'
"'Ek het ook ontsnap, kaptein,' antwoord hy. 'Ons het hier 'n volledige lys van alle Italiane wat krygsgevangenes gehelp het, maar niemand kom na hulle vra nie...'
"'Dalk is net 'n paar van ons kêrels in Italië terug?'
"'Honderde is terug. Baie min het kom vra, kaptein...'
"Hy het na 'n sykantoortjie gegaan en met 'n lêer teruggekom. Ek het by 'n tafel gaan sit en begin soek na die name van al die persone wat my gehelp het. Voor die meeste name is daar kruisies in ink aangebring. Party was ongemerk, andere weer had kringetjies. Gou het ek die name van die meeste van my vriende opgespoor, almal met kruisies.
"Die lang lys was nie streng alfabeties nie en die twee Tucci's kon ek nie vind nie. Uiteindelik het ek hulle teëgekom in die U-afdeling. Daar was drie: Arturo, Pietro en Mariana Tucci; en daar was 'n kringetjie voor elke naam.
"Die sersant het intussen die kamer weer verlaat en toe hy terugkom, vra ek hom:
'"Wat beteken die kruisies?'
"'Daardie mense het almal reeds vergoeding ontvang. Die Kommissie stuur eenhede die veld in om alle regmatige aansprake uit te betaal.'
"'En die kringetjies?'
"'Ons het nog nie al die kringetjies aangeteken nie, kaptein,' antwoord die sersant. 'Hulle is die mense wat deur die Duitsers of Swarthemde doodgeskiet is omdat hulle ons krygsgevangenes gehelp het...'"
Slegs tóé het ek opgelet dat gedurende die laaste drie of vier minute Denis nie sy sigaret gerook ht nie. Nou, terwyl hy versigtig vooroor leun, laat hy die lang grys pluimpie as in die asbak val.
UYS KRIGE
Vertellers
Saamgestel deur Merwe Scholtz
Eerste Uitgawe
ISBN 0-7981-2853-4