"Mammie sal nie omgee as daar klatte is nie," het Ted gesê. "Wat sal ons nou skryf?"
"Sê dat sy gou moet terugkom," het Tod gesê. "Ek sal," het Ted gesê.
Hulle het toe begin skryf, en hier is die brief:
"Liewe Moeder
Kom asseblief gou terug. Ons hoop Moeder word gesond. Ons het Moeder so lief kom gou huis toe. Tod se knoop is af. Moeder moet nie weer siek word nie die kat het kleintjies. Ons bid elke aand en ons vra Jesus om moeder beter te maak. Tod sê kom gou en ek ook.
Met baie liefde.
Van u liewe seuns en baie XXXXXX
Tod en Ted"
Hulle het die brief in 'n koevert toegelak, 'n posseëel by tante gekry, en toe is hulle na die briewebus om die brief te pos.
Tod het gesê dat hy die brief wil pos, maar toe hulle by die bus kom kon hy nie bykom om die brief in te gooi nie. Ted het hom opgetel so hoog as hy kon, en Tod kon net die gleuf bykom om die brief in te skuif.
Toe Moeder die brief die volgende oggend kry, was sy so bly dat sy gesê het dat sy sommer beter voel.