Die skare het verbygekom. Wat kon die blinde manne doen? Hulle kon nie sien waar Jesus was nie en hulle kon ook nie deur die skare dring nie. Baie gou sou Jesus buite hul bereik wees, miskien vir altyd. Daar was net een ding om te doen.
"Jesus! het Baremeus uitgeroep so hard soos hy kon. "Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!"
"Bly stil!" het sommige van die onvriendelike mense in die skare vir hom geskree. "Die Meester is besig met ander."
Maar Bartemeus het gevoel dat dit nou sy kans was.
"Jesus! Jesus!" het hy nog harder geroep, "Seun van Dawid, wees my barmhartig!"
Jesus het gaan staan. Bokant die geskree van die skare het Hy die roepstem van die arme blinde man gehoor.
"Iemand het My geroep," het Hy gesê, "bring die man hierheen."
Onderwyl die mense die toneel in verbasing aanskou het, is Bartemeus en sy vriend gelei na die plek waar Jesus gestaan het.
"Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?" het Jesus vriendelik gevra.
"Here, dat ek kan sien," het Bartemeus geantwoord.
Jesus se hart van liefde is aangeraak deur hierdie dringende smeekgebede.
"Jou geloof het jou gered," het Hy aan hulle albei gesê. Hy het hulle oë aangeraak.
Dadelik het die duisternis verdwyn - die manne se oë is geopen en hulle het Jesus gesien.
Hoe bly was hulle nie! Weer kon hulle hul vriende sien, die kinders, die pragtige bome, die berge en die bloue lug. Hulle harte was vol van dankbaarheid en aan almal wat hulle teëgekom het, het hulle vertel hoe dankbaar hulle is vir wat God vir hulle gedoen het.