Samesmelting en Oorlog

"Uiteindelik sal getalle tel"

In 1931 het J.H. Hofmeyr en 'n paar vooraanstaande akademici Coming of Age gepubliseer om die "mondigwording" van die Unie van Suid-Afrika te vier. Hofmeyer was die briljantste van 'n  handjievol buitengewoon talentvolle Kaapse Afrikaner-liberale. Hy was 'n wonderkind, wat reeds as 22-jarige 'n professor was, as 24-jarige rektor van wat onder hom die Universiteit van die Witwatersrand sou word en as 30-jarige administrateur van Transvaal. Jan Smuts was 'n leier wat lof spaarsaam uitgedeel het, maar ná Hofmeyr se dood het hy geskryf oor sy onvergelyklike geestesgawes, sy goue hart, sy integriteit en sy edele gees.

Die medewerkers aan Coming of Age het hulle toegespits op die ernstige strukturele krisisse wat Suid-Afrika toe in die gesig gestaar het. Hofmeyr het drie oorsake van heersende ontevredenheid geïdentifiseer. Vir eers was daar die gebrek aan eensgesindheid tussen die twee blanke gemeenskappe. Hy het geskryf teen die agtergrond van 'n groot twis oor 'n nasionale vlag, wat al die ou stereotipes herbevestig het. Die Afrikaners het beweer dat die Engelssprekendes meer omgee vir Brittanje as vir Suid-Afrika, terwyl die Engelssprekendes die Afrikaners daarvan beskuldig het dat hulle net die voordele van die imperiale bande wou benut en nie enige van die verpligtinge wou aangaan nie.

Ten tweede was daar groot strukturele probleme in die ekonomie. Hofmeyr het geskryf dat dit 'n illusie is dat Suid-Afrika 'n ryk land is met onbeperkte mineralebronne en 'n groot landboupotensiaal. Die goudmyne, het hy gesê, het 'n beperkte lewensduur, die vervaardigingsektor sukkel en die landbou laat boere harde bene kou. Die land is gewikkel in 'n wedloop met die tyd om genoeg voedsel vir 'n snel groeiende bevolking te produseer. Hofmeyr het gewaarsku dat die "blanke beskawing" in gevaar is indien die land nie daarin slaag om spoedig 'n moderne vervaardigingsektor tot stand te bring nie.

Ten derde was daar die faktor van 'n snel groeiende swart bevolking. By blankes het dit die vrees laat ontstaan dat - soos Hofmeyr dit gestel het - getalle uiteindelik deurslaggewend sal wees. Hy het ook verwys na die afkeer van bloedvermenging en die vrees dat die ontwikkeling van die swartes tot maatskaplike gelykheid rassevermenging en die

Bl. 355

verdwyning van die wit man in 'n swart oseaan sou lei. Hy het geskryf oor die vooruitsig dat bruin kindertjies eendag tussen die ruïnes van die Uniegebou sal speel. Sal die swartes nie wil wraak neem nie? Sal die swart man wat deur die wit man tot onderwerping gedwing is, nie eendag die wit man kwaad aandoen nie? Suid-Afrika, het hy geskryf, sal nie maklilk ontsnap uit die skaduwees wat hierdie vrese werp nie.

Hofmeyr het geskryf teen die agtergrond van die wêreldwye depressie wat uitgebreek het nadat New York se aandelemark in 1929 in duie gestort het. Dit het 'n wydverspreide gevoel van neerslagtigheid onder die leiers laat ontstaan. Wanhopig het Jan Smuts geskryf: "There has never been such a test to our economic civilization, and it it is still a question whether we can pull through without serious challenge to our spiritual heritage." Die krisis het vererger deur die poging van die NP-regering onder genl. J.B.M. Hertzog om die goudstandaard te handhaaf ten einde Suid-Afrika se ekonomiese onafhanklikheid te probeer bewys. Kapitaal het uit die land gestroom en daar was 'n algemene verwagting dat Suid-Afrika se geldeenheid skerp sou moes devalueer. Die uitvoer het dramaties gedaal.

Om die algemene ekonomiese krisis te vererger, was die land in die greep van 'n langdurige droogte. Teen 1933 het die produksie van die vervaardigingsektor met ongeveer 'n vyfde gedaal vergelyke met die syfer van 1929 en 22% van aalle bruin en wit mans is as werkloos geregistreer. Die werkers probeer om te verhinder dat werkgewers die lone besnoei en werkgewers het die vakbonde probeer vernietig. Die inkomste van die landbou het met die helfte gedaal en die wolboere moes vier keer soveel wol as vyf jaar tevore uitvoer om dieselfde betdrag in buitelandse valuta te verdien.

Teen die middel van die 1930's het die depressie en die droogte die land se skaapkudde met vyftien miljoen laat afneem. Die prys van mielies, die vernaamste landbouproduk, het tussen 1929 en 1933 met die helfte gedaal. Talle boere was bankrot, veral omdat Suid-Afrika se geldeenheid heeltemal oorgewaardeer was en die pryse skerp gedaal het. Daar was 'n wesenlike gevaar dat van die handelsbanke sou moes sluit.

Om die boere te help, het die regering groot bedrae aan subsidies en premies op landbouprodukte betaal en die invoertariewe is verhoog. Hertzog en Klaas Havenga, minister van finansies, het die druk van die boere omtrent ondraaglik gevind. Hertzog het in 1930 verklaar dat die onophoudelike geroep om staatshulp die ondergang van die Afrikaners kan beteken. Twee jaar later het hy gewaarsku dat as dit so voortgaan, Suid-Afrika op pad is na kommunisme. Hy het ernstige bedenkinge begin koester oor die bestaande vorm van demokrasie in Suid-Afrika. Dit het vir hom gelyk na 'n stelsel wat mense aamoedig om hul private belange bo die algemene belang te stel.

Teen die einde van die jare twintig was daar toenemend praatjies van 'n koalisie tussen die SAP van Smuts en die NP van Hertzog. Albei wit gemeenskappe het onveilig gevoel. In sy opstel het Hofmeyr geskryf dat veral die Engelssprekendes oor kulturele oorlewing in die land bekommerd is. Hulle voel dat die invloed van die Engelse taal aan die taan is en saam daarmee dié van mense wat Engels praat.

"Geminag en as 'n minderwaardige behandel"

Die Afrikanernasionaliste het hul eie vrese gehad. Eric Louw, een van die eerste Afrikanerdiplomate, het aan D.F. Malan, leier van die Np in die Kaapprovinsie, geskryf om hom

Bl. 356

te waarsku teen enige koalisie. "Ons moet die feit erken dat die Engelse seksie van die bevolking 'sterker' is as die Afrikanerseksie. Op taalgebied is hulle sterker omdat hulle taal 'n wêreldtaal is. Op ekonomiese gebied is hulle veel sterker omdat feitlik al die besigheid van die hele land in hul hande is. Die 'gemiddelde' Engelse Suid-Afrikaner is beter opgevoed ('educated') as die gemiddelde Afrikaanssprekende - en wel omdat die gros van die Afrikaanssprekendes op die platteland en op boereplase woon, terwyl die gros van die Engelse stedelinge is. Dan ook gee die 'Britse konneksie' aan die Engelse 'n sekere mate van politieke en morele sterkte ... 'n Eg republikeinse party is die enigste middel om die ou nasionale gees te laat herleef. Ons volk moet 'n ideaal hê - iets om na te streef en iets om voor te veg."

Louw het 'n belangrike saak aangeroer. 'n Kort uiteensetting van die Afrikaners se maatskaplike posisie in die 1930's sal dit aantoon. Die Afrikaners het vinnig verstedelik, van 29% in 1910, 50% in 1936, tot 75% in 1960. In 1936 het hulle 'n kwart van die wit bevolking van sowel Kaapstad as Johannesburg gevorm en die helfte van dié van Pretoria en Bloemfontein. Afrikaners nog steeds die boerdery oorheers. Die produksie van Afrikanerboere was meer as vier vyfdes van die totale landbouproduksie. Maar tot die 1940's was die posisie van die meeste boere glad nie veilig nie. Hulle moes op swak grond en in 'n wisselvallilge klimaat boer. Die boere was buitengewoon afhanklik van 'n simpatieke regering wat gewilllig was om die pryse te stabiliseer en hul beheer oor swart en bruin arbeid te versterk.

Mense van Britse of Joodse afkoms het die nie-landbousektore van die ekonomie oorheers. Daar was weinig Afrikaner-entrepreneurs. In 1936, toe die toekomstige Afrikaanse sakeleier Albert Wessels in Johannesburg aankom, het hy slegs drie Afrikaanse ondernemings van betekenis gevind: die persmaatskappy Afrikaanse Pers met sy sukkelende Verenigde Party-gesinde koerant, Die Vaderland; die bank Volkskas op die tweede vloer van 'n gebou; en 'n winkel vir mansklere wat kort daarna bankrot geraak het. In 1937 het die Johannesburgse koerant Die Transvaler geskat dat daar altesame slegs twintig Afrikaner-ondernemings in die stad is.

Die opvoedkundige peil van die Afrikaners was nog steeds baie laag. 'n Studie van 1933 het bevind dat uit 'n klas van honderd wat saam op skool begin het, 44 die skool verlaat het sonder om in standerd ses (die huidige graad agt) te slaag, slegs 17 het standerd agt gehaal en slegs agt matriek. Minder as drie het universiteit toe gegaan. In 1939 was slegs 'n derde van alle blanke studente aan universiteite Afrikaners op 'n tydstip toe hulle 56% van die blanke bevolking uitgemaak het. Die vernaamste oorsaak van die lae opvoedkundige vlakke was die voortgesette gewildheid van boerdery as 'n loopbaan onder Afrikanerseuns, hoewel die kommersialisering van die landbou al hoe meer boere laat tou opgooi het.

Afrikaners is ook swak verteenwoordig in die meeste witboordjie-betrekkings. In 1939 was hulle slegs 3% van die mense in die professionele kategorieë met die meeste aansien (eienaars van maatskappye, direkteure en vervaardigers wat vir hulle self gewerk het). Hulle was slegs 3% van die ingenieuirs, 4% van die boekhouers, 11% van die prokureurs en advokate, 15% van die mediese dokters en 21% van die joernaliste. Minder as 'n kwart van die senior staatsamptenare het Afrikaans as eerste taal gepraat. Die inkomstegaping tussen Afrikaners en Engelssprekendes was nog baie groot. In 1935 was die Afrikaners se inkomste slegs 60% van dié van wit Engelssprekendes.

Bl. 357

'n Verslag vir die Carnegie-kommissie het tot die gevolgtrekking gekom dat daar onder die Afrikaners in stede nog geen soliede burgerlike middestand ontstaan het tussen die werkersklas en diegene in die beroepe nie. Afrikaners het 'n swak selfbeeld gehad. Kerk en Stad, 'n studie deur J.R. Albertyn, P. du Toit en H.S. Theron, drie NG-predikante, skets die volgende portret van die behoeftige Afrikaner wat hom pas in die stad gevestig het: "Sy armoede, knegskap en verleentheid om te werk, besiel hom met 'n gevoel van afhanklikheid en minderwaardigheid ... Onder die indruk dat hy onwelkom is, is sy houding dan ook teen hom; hy doen hom swak voor, hy is sku, kom met die hoed in die hand en mis die selfvertroue van die Engelse werksoeker. Hy geniet geen invloed en voorspraak van beter-gesteldes nie; sy volk is arm en ondergeskik aan die wêreldmag wat die Engelse arbeider steun. Hy word deur ander nasies geringgekat en verag."

Sommige van die vakbonde het Afrikanerwerkers van sekere ambagte uitgesluit omdat hulle bang was dat die Afrikaners bereid sou wees om vir laer lone te werk. Net 'n kwart van alle vakleerlinge in die geskoolde ambagte was Afrikaners. In 1939 was omtrent 40% van alle volwasse manlike afrikaners in Johannesburg in vier werkskategorieë: ongeskoolde arbeider, mynwerker, spoorwegwerker en messelaar. In die geval nie nie-Afrikaanssprekende wit mans was net 10% in hierdie werkskategorieë. Ongeveer 70% van die wit mynwerkers was Afrikaners, maar 90% het ondergronds in die gevaarlike poste gewerk, wat ook 'n heelwat laer loon verdien het. Spoorwegwerkers het vyf sjielings per dag of minder verdien, vergelke met die minimum vir beskaafde arbeid van agt sjielings per dag.

Koalilsie en samesmelting

Die idee van 'n koalisie tussen die NP en SAP het heelparty jonger, opgevoede en idealistiese Afrikaners aangetrek. Baie ouer mense het egter nog bitter herinneringe gekoester van die stryd vir Afrikaans en nasionale simbole. Die toekomstige redakteur van Die Burger, Piet Cillié, het onthou dat hy as skoolseun op Stellenbosch aan sy vader, die opvoedkunde-professor G.G. Cillié, gesê het dat dit tyd is "dat die Afrikaners met die e\Engelse saamwerk". Die kort antwoord wat hy gekry het, was dat dit tyd is dat die Engelssprekendes met die Afrikaners saamwerk. Alan Paton, later 'n beroemde romanskrywer en vooraanstaande liberaal, het die houding van die Engelssprekendes soos volg saamgevat: "I believe that we are more inclined to believe in co-operation that we are in samewerking (do-operation). I believe we are inclined to co-operate in English."

Gedurende die loop van 1932 het die druk van die mynbedryf en die boere dat die land se geldeenheid gedevalueer moet word, skerp toegeneem. 'n Nat-Sap-afvaardiging van Ventersdorp het by Hertzog aangedring om 'n koalisie te vorm om die krisis die hoof te bied. Toe Hertzog vra hoe daar van hom verwag kon word om met 'n party saam te werk wat hom oor die taal en ander kwessies nog altyd net teengestaan het, het 'n boer uitgeroep: "In godsnaam, Generaal, laat staan die taal en gee ons brood." In die laaste dae van 1932 het die regering die goudstandaard verlaat, maar teen daardie tyd was die hele partystelsel reg vir herrangskikking.

Teen die vroeë dertigerjare het Hertzog begin moedeloos raak oor al die Afrikaner-

Bl. 358

drukgroepe, veral die boere. Smuts was moeg daarvan om op die opposisiebanke te sit. Albei was gretig om 'n breë politieke basis te bou wat die aandrang van al die drukgroepe kon weerstaan en wat in staat sou wees om sekere noodsaaklike strukturele veranderinge aan te bring wat blanke baasskap sou versterk. Hertzog het aan die NP se parlementêre koukus gesê dat dié party die volgende verkiesing sou verloor en dat al die vooruitgang wat die Afrikaners die vorige twee dekades gemaak het, in gevaar sou wees. "Ons sal verslaan word en dan sal dit klaarpraat wees met die Afrikanerdom." Hertzog het nou toenemend blanke eenheid bepleit. Hy het byvoorbeeld verklaar dat blanke politieke oorlewing slegs verseker kon word as die "Afrikanerdom van Suid-Afrika" by mekaar aansluit. Hiermee het hy bedoel "die Engelssprekende en die Holandssprekende, die Nasionais en die SAP". Hertzog het gehoog dat die Engelssprekendes hulle al hoe meer as Afrikaners sou beskou en hulle self Afrikaners sou noem.

Die grondslag van 'n koalisie waaroor Hertzog en Smuts vroeg in 1933 ooreengekom het, was die ontwikkeling van 'n gevoel van nasionale eenheid, gegrond op die gelykheid van die twee wit gemeenskappe en die gelyke erkenning van hul onderskeie kulturele erfenisse. In die algemene verkiesing van Mei 1933 het die koalisie 136 van die 150 Volksraadsetels verower. Die omstandighede was nou reg vir die samesmelting van die twee vernaamste partye.

Aanvanklik het Hertzog as NP-hoofleier en leier van die Vrystaatse NP min teenstand teen samesmelting ondervind. Die NP van Transvaal, die Vrystaat en Natal het samesmelting met groot meerderhede aanvaar. Die enigste teenstand was van die Kaapse NP onder leiding van Malan. Sommige van die parlementêre verteenwoordigers in die Kaapse party het min geesdrif daarvoor gehad om in 'n groot party geabsorbeer te word waarin Smuts en Hofmeyr en die mynbelange 'n groot sê sou hê. Onder die Nasionaliste wat samesmelting teengestaan het, was Paul Sauer, seun van J.W. Sauer, en Eric Louw van die Kaapprovinsie, C.R. Swart en N.J. van der Merwe van die Vrystaat en J.G. Strijdom, die enigste Transvaalse NP-verteenwoordiger wat samesmelting verwerp het.

Die Nasionale Pers en sy koerant Die Burger het aanvanklik feitlik op hul eie die idee van samesmelting verwerp. Die persmaatskappy het besef dat samesmelting al die pilare bedreig waarop die NP rus: die stryd vir Afrikaans as taal, die teenstand teen die groot geldbase, die beleid van beskaafde arbeid en ondersteuning vir die landbou. Dr. Albertus Geyer, redakteur van Die Burger wat die bynaam Ysterman gehad het, het Smuts beskou as 'n agent van Hoggenheimer, die simbool van groot kapitaal.

Geyer, 'n vasberade man met 'n doktorsgraad in geskiedenis van 'n Duitse universiteit, het maklike kompromieë en vlak politieke denke verafsku. Hy het in 1924 redakteur geword en gou gebots met Hertzog, wat oorgevoelig was vir kritiek van sy mede-nasionaliste. In 1933 het Geyer in 'n private memorandum geskryf dat die konserwatiewe boere en die myn- en finansiële magnate lankal 'n koalisie wou hê ten einde die blanke werkersklas onder beheer te bring. Na sy mening het die Afrikaners meer as ooit tevore 'n party nodig gehad wat gegrond is op sake soos kultuur en nasionaliteit.

Die Burger se veldtog teen samesmelting was onverbiddelik. In een van die talle spotprente teen samesmelting skets Boonzaier Hamlet wat aan die spook van samesmelting vra: "Be thy intents wicker, or charitable? Thou com'st in such questionable shape ..."

Ná aanvanklike huiwering het Malan hom ook teen samesmelting gekant. Paul Sauer

Bl. 359

sou later sê: "Ons moes Malan aan sy sitvlak uit samesmelting uittrek." Malan het nou teruggekeer na die rol wat hy in 1914 en 1915 gedurende die stigtingsjare van die NP gespeel het. Sy boodskap was dat die Afrikaners nog steeds hul eie party nodig het om hul taal, geloof en tradisies te bewaar. Hy het die nuwe Verenigde Party (VP) se oproep om vereniging of die bymekaarkom van alle wit mense teengestaan. In plaas daarvan het hy die hereniging voorgestaan van alle Suid-Afrikaners wat 'n onafhanklike Suid-Afrika en effektiewe tweetaligheid bepleit. "Bring bymekaar almal wat bymekaar behoort deur innerlike oortuiging," het Malan se slagspreuk geword.

Toe die NP se Federale Raad in die middel van 1934 besluit om die samesmelting van die NP en SAP goed te keur, het Malan dit verwerp. Hy het die nuwe VP bestempel as die bolwerk van imperialisme en kapitalisme. Saam met veertien parlementslede van die Kaapprovinsie, vier van die Vrystaat en een van Transvaal het hy die Gesuiwerde Nasionale Party (NP) gestig. Onder leiding van Malan het dit in 1934 die amptelike opposisie geword. Dit het die ou federale struktuur van Hertzog se NP behou, sodat die provinsiale partye feitlik as outonome entiteite sou funksioneer. Die Kaapse NP, wat deur Malan en sy getrouste volgelinge beheer is, het die nuwe NP tot 1954 oorheers.

Samesmelting: "Die groot eksperiment"

Vir Smuts was die samesmelting van die NP en die SAP 'n groot eksperiment en 'n triomf van die beginsels van universalisme wat volgens hom bestendig ind ie wêreld vooruitgang aan die maak is. "The driving force in this human world should not be morbid fears or other sickly obsessions, but ... (an) inner urge towards wholesome integration and co-operation," het hy gesê. Ander Afrikaners onder die VP-leiers het te kenne gegee dat die Afrikaners ander lesse van die geskiedenis moet leer as dié wat die Nasionaliste beklemtoon. Toe die herdenking van die Groot Trek in 1938 na sy hoogtepunt was, het Hofmeyr gevra waarom al die ou gevegte teen die Britte van 'n eeu tevore in herinnering geroep word, maar nie die invoer van wolskape nie, wat ook honderd jaar tevore gebeur het. Hy en Smuts het gereeld gewaarsku teen die gees van isolasie. Om die nuwe totalitêre state in Duitsland en Italië teen te staan, het Suid-Afrika volgens hulle die bande met die Statebond meer as ooit tevore nodig gehad.

Maar die VP se groot ideale moes met demografie en die kiesstelsel rekening  hou. Die verhouding tussen Afrikanerkiesers en Engelse kiesers was ongeveer 55:45 en die kiesstelsel het die landelike kiesafdelings, wat grootliks deur Afrikaners oorheers is, bo the stedelike kiesafdelings begunstig. Die ander partye het ten minste 25% van die Afrikanerstem nodig gehad om die Nasionale Party uit die bewind te hou. En die bevolkingsaanwas was aan die Afrikaners se kant. Die aantal volwassenes in die twee wit gemeenskappe was redelik gelyk, maar in die ouderdomsgroep 7 tot 21 was daar byna twee maal soveel Afrikaners as Engelssprekendes.

Afrikaanse opvoedkundige inrigtings het op hierdie tydstip begin om 'n bestendige stroom jong mense die wêreld in te stuur wat deur die medium van Afrikaans onderrig is. In 1936 het 55% van die wit kinders onderrig net deur die voertaal Afrikaans ontvang, 37% net in Engels en slegs 8% in albei tale. Kinders wat die skool verlaat het, het goed geweet dat as die staat die offisiële status van Engels en Afrikaans opdring, daar al hoe meer loopbaangeleenthede vir Afrikaners sou wees.

Bl. 360

Dit was nogtans nie onmoontlik vir die VP om die belange van al twee blanke gemeenskappe te bevorder nie. Die oorgrote meerderheid van die Engelssprekendes het die VP gesteun en het Hertzog gou as leier aanvaar. Hertzog was daarvan oortuig dat die reg van Afrikaans as ampstaal nou verskans was. Hy het ook geglo dat Suid-Afrika as land soewerein was met die reg om van die Britse kroon af te skei en neutraal te bly in enige oorlog waarin Brittanje betrokke raak. Hertzog het geweet dat Smuts hierdie siening in twyfel trek, maar hy was die leier, nie Smuts nie. Die uitdaging was om 'n veilige, blanke Suid-Afrika op die grondslag van blanke eenheid te bou ten spyte van kleiner verskille tussen die twee blanke gemeenskappe.

Hertzog het verskeie vooraanstaande Afrikaners met nasionalistiese oortuigings saam met hom na die VP gebring. Die voorste onder hulle was Henry Allan Fagan, wat as jong man 'n yweraar in die Afrikaanse taalbeweging was. Net soos sy kabinetskollegas Oswald Pirow, Attie Fourie en genl. Jan Kemp, het Fagan die idee van 'n republiek ondersteun, maar slegs as ' n langtermyn-doelstelling. Fourie as minister van arbeid het aan die spits gestaan van die regering se poging om die arblankes op te hef en Kemp was minister van landbou (en later van lande) op 'n tyd toe die staat op groot skaal geld bestee het ten einde boerdery lewensvatbaar te maak. In 1937 het die regering bemarkingsrade tot stand gebring wat produkte deur 'n enkele kanaal teen vasgestelde pryse bemark het. Dit het baie gehelp om die boerderybedryf te stabiliseer.

Die maatskaplike transformasie van die stede

Nadat Suid-Afrika teen die einde van 1932 van die goudstandaard afgestap het, het die goudprys gestyg van £4,25 tot £6,23 en in 1939 het dit verder gestyg tot £7,70. Die VP met sy breë basis het vertroue by die beleggers ingeboesem. Die mynhuise het groot winste gemaak en die staat se belastinginkomste uit die goudmyne het meer as verdriedubbel. Die staat het die infrastruktuur uitgebrei en die vervaardigingsektor se bydrae tot die nasionale inkomste het bestendig gegroei van 15% in 1935 tot 24% in 1970. Met sy eie vervaardigingsektor het Suid-Afrika die neokoloniale afhankllikheid afgeskud wat so baie ander kolonies wat ryk was aan minerale, gekortwiek het.

Die skielike vinnige ekonomiese groei het mense van alle gemeenskappe na die dorpe en stede gelok. Tussen die middel-1930's en die middel-1940's het die verstedelikte swart mense van een miljoen tot twee miljoen gestyg. Van die twee miljoen mense wat in 1936 in die nege grootste stedelike gebiede gewoon het, was 813 000 swart. Van hulle het ongeveer 'n halfmiljoen hulle aan die Witwatersrand gevestig. Slegs 'n kwart van die swart mense in Suid-Afrika was teen 1946 verstedelik, maar die verstedelikte swartes was reeds meer as die blankes in die stede en dorpe. Die res van die swart mense was omtrent gelykop verdeel tussen die plase en reservate.

Swart mense in die vervaardigingsektor het aan die spits gestaan van die transformasie van die stedelike arbeidsmag. In 1930 was die getalle van die wit en swart werkers in hierdie sektor nog ongeveer dieselfde, maar in die volgende twee dekades het die swart werkers verdriedubbel terwyl die wit arbeidsmag net verdubbel het. Soos die myne het baie nuwerhede swart trekarbeiders verkies bo swart mense wat met hul gesinne in die

Bl. 361

stad woon. Daar is geglo dat die trekarbeider nie alleen goedkoper is nie, maar ook baie makliker beheer kan word. Baie werkgewers het aangeneem dat die trekarbeiders se loon nie hul gesinne se behoeftes in berekening hoef te bring nie omdat hulle 'n bestaan kan maak uit die grond wat hulle besit. Plaaslike besture het verkies om hostelle eerder as gesinshuise te bou. Nietemin het al hoe meer swart werkers se gesinne saam met hulle gewoon. Baie van hulle is deur die vervaardigingsektor in diens geneem. Tussen 1936 en 1946 het die aantal verstedelikte swart vroue byna verdubbel. 'n Permanente bevolking van stedelike swart mense het hulle geleidelik in die politiek laat geld.

                              GESELEKTEER BEVOLKINGSYFERS

                                                            1930                 1950/51           1970

Wit bevolking                                1 801 000            2 641 689    3 835 000

Swart bevolking                            5 585 000            8 556 390   15 918 000

Wittes in vervaardiging                     91 024               191 093         276 900

Swartes in vervaardiging                  90 517                267 070        617 200

Die leef- en werksomstandighede van verstedelikte swart mense was haglik. Ongeveer een derde het in informele huisvesting gewoon. Omdat baie min swart mense eiendomsreg kon kry, het hulle nie juis moeite gedoen om hul huise te verbeter nie. Swart werkers het in elk geval sulke lae lone verdien, dat dit omtrent onmoontlik was om dit te doen. Die inwoners van die swart woongebiede kon ook nie genoeg huurgeld of belasting betaal om die wit munisipaliteite in staat te stel om hul huisvesting te verbeter nie. Swart mense se vordering is deur 'n omvattende kleurslagboom in die werkplek in die wiele gery. Die komitees wat oor vakleerlingskappe besluit het, het hulle van die geskoolde ambagte uitgesluit. Die meeste swartes was lede van swart vakbonde wat nie aan die onderhandelinge oor lone kon deelneem nie. Die gebrekkige onderwys en opleiding was nog 'n groot struikelblok.

Die inkomste van die swart gesin in die stad of dorp was gemiddeld die helfte van die bestaansloon en die dieet was dikwels hopeloos onvoldoende. Swart mense is blootgestel aan talle wette wat net op hulle van toepassing was. Die groot meerderheid van diegene wat aan kriminele oortredings skuldig bevind is, het net kleinere oortredings begaan, soos oortreding van die paswette en die verbod op drank vir swart mense. Dit het volgens 'n regeringsverslag daartoe gelei dat "a burning sense of grievance and injustice" posgevat het.

Op die plase, waar sowat 'n derde van die swart mense gewoon het, was die werkers grootliks onderhewig aan die grille en giere van hul werkgewers. Die huisvesting op die plase was gewoonlik baie swak en die reële lone op plase het, soos dié in die myne, eers in die vroeë 1970's verbeter. In die reservate, wat 7% van die grondoppervlakte van Suid-Afrika beslaan het, het die trekarbeiderstelsel die maatskaplike en ekonomiese lewe oorheers. Volgens die sensus van 1934 was 54% van die bevoking van die reservate die grootste deel van die jaar afwesig, omdat hulle as trekarbeiders gewerk het.

'n Krisis was aan die opbou weens die oorbesetting van die reservate. 'n Kommissie het in 1932 gewaarsku dat die druk op die grond in die reservate te erg is om 'n behoorlike

Bl. 362

bestaansbasis vir die meeste trekarbeiders en hul gesinne te bied. Die permanente inwoners van die reservate het al hoe afhankliker geword van die geld wat trekarbeiders teruggestuur het. Hulle het daarmee nie slegs vervaardigde goedere gekoop nie, maar ook voedsel wat buite die reservate geproduseer is.

Die trekarbeidstelsel het nie net die bestaansboerdry in die reservate ondermyn nie, maar ook die vermoë van die trekarbeiders in die stad om hulle in vakbonde te organiseer, aan bande gelê. Dit het 'n baie negatiewe uitwerking op die gesinslewe van die swart mense gehad en ook op die vooruitsigte om 'n gevestigde swart gemeenskap in die stede op te bou. In 1947 het Donald Molteno, 'n vooraanstaande liberaal, verklaar: "Our whole African population has been uprooted. They have been proletarianized, pauperized and demoralized. Those - as yet comparatively few - that have acquired some measure of education, are denied occupational opportunities and effective civil and political rights. ther consequent bitterness bodes ill for the future of the relations between white and black. Our whole society and economy are being poisoned by our failure to respond to the challenges that these conditions present."

Gedurende die twintigerjare was daar die eerste tekens dat swart mense begin om teen blanke baasskap op te staan. Tussen 1924 en 1930 het die radikale swart vakbond die Industrial and Commercial Workers' Union of Africa (ICU) met sy werwingspogings begin. Dit het soos 'n veldbrand deur die stede en die platteland van die Vrystaat getrek. Dit het ook plaaswerkers as lede gewerf. Baie boere was bevrees dat daar ' n breë opstand sou kom en het daarop aangedring dat die staat optree. In die vroeë jare dertig het die ICU egter in duie gestort.

Sedert die 1880's was daar 'n bestendige groei van die Sionistiese en die Ethiopiese beweging onder die swart mense en verskeie onafhanklike swart kerke is gestig. Hierdie separatistiese kerke was 'n simptoom van die swart werstand teen kolonialisme. Hulle het gevoel dat die vernaamse Christelike kerke swart aspirasies dwarsboom deur dit vir swart mense moeilik of onmoontlik te maak om leiers in die kerk te word en deur swart k ulturele en gebruite te verwerp. Baie swart mense het in die 1920's en 1930's by hierdie kerke aangesluit. In 1921 was daar ongeveer 50 000 aanhangers van Sionistiese en Ethiopiese kerke uit 'n totaal van 1,3 miljoen swart Christene. Teen 1936 was daar meer as 'n miljoen. Die groot meerderheid het op die platteland gewoon.

Kort nadat hy in 1924 eerste minister geword het, het genl. Hertzog planne bekend gemaak om die swart mense van die algemene kieserslys in die Kaapprovinsie te verwyder. Dit was 'n katalilsator vir verskeie konferensies deur afgevaardiges van swart en bruin organisasies tussen 1935 en 1937. In 1937 is die All-African Convention (AAC) gestig met die doel om die bedrywighede van al die swart organisasies te koördineer en om saam te staan in die stryd teen onderdrukking. Dr. Abdullah Abdurahman en sy African People's Organisation het aan die AAC-konferensie deelgeneem, maar die APO was nou 'n konserwatiewe organisasie. Die leierskap is skerp aangeval deur 'n nuwe generasie van kleurlingonderwysers en ander professionele mense, geïnspireer deur die teoretiese insigte van Leo Trotski.

In die vernaamste Engelse kerke het die teenstand teen segregasie begin groei. In die 1920's het die NG Kerk nog aan die veelrassige kerkkonferensies deelgeneem, maar die kerk het hom daarna aan die debat onttrek. Engelse liberale en swart mense het rasseverhoudinge

Bl. 363

op vergaderings van die "Joint Councils of Europeans and Africans" bespreek. Hieruit het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge ontstaan wat in 1929 gestig is.

Teen die vroeë jare dertig het die leierskap van die Anglikaanse Kerk, die Katolieke Kerk en die meeste ander kerke kritiek op segregasie begin uitspreek. Hulle het geregtigheid vir al die rasse hul belangrikste eis gemaak, maar sonder om 'n alternatiewe poltieke bestel uit te spel. In 1930 het die Anglikaanse biskoppe volle burgerskap vir alle mense van alle kleure gevra. Hulle het die NG Kerk uitgedaag om 'n Christelike alternatief vir die liberale standpunt te formuleer. Die NG Kerk was toe reeds besig om aan apartheid as 'n alternatief te dink.

Die afskaffing van swart stemreg

Die eerste dekade nadat hy in 1924 eerste minister geword het, kon Hertzog nie die nodige tweederde-meerheid kry om swart kiesers van die Kaapprovinsie van die kieserslys te verwyder nie. Die vinnige verstedeliking van swart mense en die sterk groei van die swart getalle het die druk om die Kaapse swart stemreg te verwyder, laat toeneem.

Voordat die stemreg in 1930 aan wit vroue gegee is, het die aantal swart kiesers in die Kaapprovinsie 7,5% van die Suid-Afrikaanse kiesers uitgemaak. Nadat blanke vroue die stemreg gekry het, het dit tot 'n skrale 3% gedaal. Die aantal swart kiesers was nou so klein dat hierdie vorm van verteenwoordiging kwalik kon dien om die weerhouding van swart regte te regverdig. Nietemin het die swart stemreg simbolies belangrik gebly. Hertzog het geglo dat so lank verteenwoordigers van die Kaapse swart mense in die Parlement sit, swart mense oor die hele Suid-Afrika sou bly hoop dat die Kaapse swart stemreg na die ander provinsies uitgebrei sou word.

Hertzog het nou op die gedagte gekom om grond vir stemme te probeer ruil. Hy wou die Kaapse swart kiesers van die kieserslys verwyder en die totale oppervlakte van die reservate verdubbel. In 1936 het hy die nodige tweederde-meerderheid gekry om hierdie plan in werking te stel. Die Kaapse swart kiesers souo nou op 'n aparte lys geplaas word en hulle sou drie blankes kies om hulle in die Volksraad te verteenwoordig. Terselfdertyd sou vier senatore, gekies deur kieskolleges, die ander swartes in Suid-Afrika verteenwoordig. Daar sou 'n Verteenwoordigende Naturelleraad ingestel word wat alle aangeleenthede kon bespreek wat swart mense binne en buite die reservate raak. Nog 7,25 miljoen morg sou vir die reservate gekoop word, wat dan 13% van die land se oppervlakte sou beslaan.

Feitlik al die vernaamste deelnemers aan die debat in 1936 het gevra of die wetgewing billik, regverdig en Christelik is. Smuts se toespraak was vol teenstrydighede. Aan die een kant het hy gesê: "Die naturelle van die Kaapprovinsie, inderdaad dwarsdeur Suid-Afrika, heg die grootste belang aan hierdie stemreg wat hulle geniet. Hulle beskou dit amper as heilig. Hulle beskou dit as die bepaling van hul status van gelyke burgerskap in ons land. Dit was nie 'n gewone gevestigde reg nie. Dit het veel dieper gegaan." Aan die ander kant is daar ook blanke belange. Hy het voortgegaan: "Ek is nie negrofiel nie. Ek is nie en ek was nooit gedtroud met die behoud van die Kaapse stemreg nie ... Ek neem nog die standpunt in dat, as die Kaapse naturellestemreg weggeneem word, dan moet dit

Bl. 364

alleen wees om absoluut die ernstigste redes en selfs dan moet daar 'n gepaste en billike quid pro quo aan hulle gegee word." Hy het gemeen dat Hertzog se wetgewing wel in 'n voldoende mate regverdig, billik en positief vir die toekoms het. Hoewel hy van afsonderlike verteenwoordiging vir swart kiesers hou nie, is dit beter as om alle vorme van verteenwoordiging vir swartes af te skaf.

Jan Hofmeyr, die voorste liberaal in die Parlement, het sterk van sy leier verskil. Hy het die wetsontwerp teengestaan omdat dit "gevestigde regte vervang deur 'n beperkte en minderwaardige burgeerskap, wat 'n stelsel van kommunale verteenwoordiging in die lewe roep". In so 'n stelsel van verteenwoordiging is daar "die kieme van vyandigheid en stryd". Dit veronderstel 'n "uiteenlopendheid van belange waar daar in Suid-Afrika 'n veel groter gemeenskaplikheid van belange is".

Die swak plek van die wetsontwerp, het hy gesê, is dat dit verskille beklemtoon op so 'n wyse dat dit vyandskap stimuleer en geen aandag aan die uiteindelike gemeenskaplikheid van belange wy nie. Aan "geleerde naturelle" sê dit dat hulle nooit politieke gelykheid selfs met die blanke of kleurling met die minste geleerdheid en kultuur sal verkry nie.

Hy het ook gesê dat die erkende doel van die wetsontwerp die selfbehoud van die blanke is. Dit het vrees as uitgangspunt en die grondbegrip daarvan is die belang van die sterkere. Die blanke kan egter nie op hierdie manier sy selfbehoud verseker nie. "Ek glo nie dat ons die toekoms van die blanke beskawing in Suid-Afrika kan verseker as dit nie geskied met die toestemming en welwillendheid van die nie-blanke bevolking nie. Wanneer ek hoor dat die Christelike beginsel van selfbehoud ingeroep word in verband met hierdie wetsontwerp, dan dink ek aan die ewige paradoks dat die persoon wat hom self wil behou, sy lewe sal verloor."

Terselfdertyd het hy ook gesê dat die vrees 'n volkome "natuurlike vrees is". Dit is 'n "vrees wat ons almal het ... ons het almal daardie vrees dat die blanke man sal verdrink in 'n swart oseaan". Hofmeyer het afgesluit met die waarneming dat daar 'n "gety van reaksie" in die blanke politiek is. Hy glo egter dat veral die jonger geslag aan die spits van die "stygende gety van liberalisme" staan. Hofmeyr se toespraak met sy liberale idealisme word dikwels geloof as een van die grootste toesprake wat nog in die Parlement gehou is. Daar was egter geen tekens van die stygende gety waarvan hy gepraat het nie. 'n Skrale vyf jaar tevore het hy self voorgestel dat die stemregkwalifikasies so gewysig moet word dat die swart mense nooit meer as 10% van die kieserskorps uitmaak nie.

Uit die oogpunt van realpolitik was die meningswisseling tussen twee ander Afrikanerpolitic, die twee Malans van die Wes-Kaap, meer ter sake. Die liberaal F.S. Malan het 'n beroep gedoen op die Afrikanerbond-tradisie wat deur sy leier, "Onze Jan" Hofmeyr, geformuleer is. Volgens hom het "Onze Jan" reeds in 1887 hierdie breë begomse; vasgestel: "Hou een standaard vir die kieser, maak die toets so hoog soos jy wil, maar as die man daardie standaard bereik, moenie 'n onderskeid  maak nie; behandel hom soos 'n regmatige burger van die land. Gee hom as kieser die verantwoordelikheid van burgerskap sonder om blootgestel te wees aan enige groepswetgewing." Malan het voorgestel dat die Kaapse gekwalifiseerde stemreg na die res van die land uitgebrei word.

Vir D.F. Malan was die Kaapse stelsel nie bedoel om ernstig opgeneem te word nie. Dit het 'n groot deel van die "naturelle" van die Transkei van die stemreg uitgesluit en toe daar

Bl. 365

in 1892 maatreëls getref is om die stemregkwalifikasie te verhoog, het niemand die rede daarvoor verborge gehou nie. "Daar is ronduit gesê dat dit aangeneem is om die blankes te beskerm teen die stemreg van die gekleurdes." Hy het gevra waar die land gaan beland indien die gekwalifiseerde stem vir die hele land sou geld.

"(Vir) teoretiese gelykheid tussen die naturel en die blanke gaan jy ... opoffer die praktiese reg van die blanke man. Jy gaan steeds groter getalle van die blankes uitsluit van die stemreg omdat hulle nie aan die hoër kwalifikasies kan voldoen nie. As jy die kwalifikasies nie hoog sit nie, dan kry hy 'n swartmansland. Dan kan die blanke beskawing hom nie handhaaf nie ... As ons nie 'n toestand van sake wil laat ontstaan nie en ons maak die kwalifikasies steeds hoër, dan kry ons 'n klein beperkte koterie blanke mense wat die land sal regeer. Die armblankedom - en daarby bedoel en nie wat gewoonlik die armblankes genoem word nie - maar alleen mense wat minder bevoorreg is, wat nie aan daardie kwalifikasies sal voldoen nie en duisende en miskien honderdduisende sal uitgesluit wees van die stemreg en as ons daardie toestand van sake gekry het, dan verdwyn die bolwerk teen uitbuiting in ons land. Die arm man se stem is die bolwerk teen uitbuiting."

Die implikasie van F.S. Mlan se toespraak was dat die vasstelling van die stemregkwalifikasies op 'n sekere vlak kon geskied sonder dat daar 'n felle konflik oor die vlak self ontstaan of oor enige daaropvolgende opskuif of afskuif van die vlak. D.F. Malan het tereg 'n groot vraagteken agter hierdie aanname geplaas. Suid-Afrika was 'n diep verdeelde samelewing met 'n dominante wit groep wat self etnies verdeel was. 'n Stygende aantal swart kiesers om wie se steun die partye meeding, sou die verhoudinge tussen Afrikaners en Engelssprekendes polariseer. Namate al hoe meer swartes kwalifiseer, sou spanning tussen wittes en die swartes toeneem. Sodra die aantal swart en wit kiesers gelyk trek, sou swartes waarskynlik op algemene stemreg aandring. Die gekwalifiseerde stem was dus nie 'n manier om die politiek te stabiliseer nie. Daar was 'n baie goeie kans dat dit die politiek verder sou destabiliseer en die ekonomie en saam daarmee die samelewing, in 'n krisis sou laat beland.

Hoewel Hertzog en Smuts saamgestem  het om die swart kiesers op ' n aparte lys te plaas, het hulle swart mense nietemin as burgers aanvaar. Hertzog se plan was om bepaalde konvensies oor rasseskeidings in stand te hou. Wetgewing moet net aangeneem word om ongewenste toestande uit die weg te ruim en wel op 'n wyse wat kwade gevoelens en veronregting vermy. Dit verskil van die benadering van die toekomstige argitekte van apartheid.

Daar was nog geen bloudruk vir die toekoms van die swart mense se regte onder D.F. Malan se ondersteuners nie. Dit blyk uit 'n voorstel wat A.L. Geyer in 1950 gemaak het. Geyer was die invloedrykste nasionalistiese redakteur van sy tyd en hy was ook die eerste redakteur wat die term apartheid gebruik het. Ná 1948 het hy hoë kommissaris in Londen geword. Hier het hy in 'n openbare toespraak voorgestel dat verskillende rade in die reservate ingestel word. Dan moes daar ook masjinerie ingestel word vir kontak en konsultasie tussen die regering en hierdie rade. "Uiteindelik moet daar 'n sentrale raad kom." Klaarblyklik het hy hiermee 'n vorm van federasie bedoel tussen die Parlement en 'n raad wat die reservate verteenwoordig. Twee jaar later het hy in 'n ander openbare toespraak gesê: " Either the Bantu areas become an independent state, or there will have

Bl. 366

to be some federal union." Hendrik Verwoerd, minister van naturellesake, was egter geensins van plan om 'n federasie in te stel of enigiets anders te doen wat die soewereiniteit van die Parlement aantas nie.

Van die middeldertigerjare het die NP onder D.F. Malan aangedring op die verwydering van die kleurlingkiesers van die gemeenskaplike lys. Dit sou 'n vorm van rassekwalifikasie behels, maar 'n kommissie het so 'n vorm van klassifikasie verwerp omdat dit onprakties sou wees terwyl daar geen duidelike definisie van 'n gekleurde persoon is nie. Apartheid het van segregasie verskil deurdfat sy aanspraak dat so 'n struikelblok ooreenkom kon word.

Die nuwe nasionalistiese intelligentsia

Albertus Geyer het van die begin af ingesien dat die samesmelting van die partye verwerp sou word deur "die werkersklas, vir wie die regering se bondgenootskap met die mynmagnate geen heil inhou nie, die republikeinse Afrikaner en die Afrikaner-intelligentsia". Met die intelligentsiae het hy bedoel onderwysers, lektore, joernaliste, predikante, politici en regsgeleerdes. Die vinnigste uitbeiding van wit ondrwys gedurende die eerste 25 jaar van die Unie het 'n Afrikaanse intelligentsia na vore laat tree wat veel groter en ook heelwat meer selfversekerd was as die een wat Malan en Hertzog in 1914-1915 ondersteun het. Gyer se koalisie van die werkers, intelligentsia en republikeine sou die basis vorm vir die apartheidsbestel wat in die vroeë 1950's ingestel is. Maar Hertzog het nog 'n groot mate van steun behou. Teen die einde van die dertigerjare is bereken dat die helfte van die Stellenbosse dosente die Verenigde Party ondersteun. Ná Suid-Afrika se omtstrede toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog in 1939, het hierdie steun vir die VP in duie gestort.

As leier van die nuwe NP moet D.F. Malan nie onderskat word nie. Hy is alom beskou as 'n knap parlementariër - 'n senior Engelse joernalis het gesê dat hy "the best fighting force" is wat die Pakt-regering in die Parlement het. In die openbaar het hy voorgekom as 'n somber en stroewe mens, maar hy was 'n voortreflike spreker wat 'n helder en logiese argument kon opbou. Hy kom sy Afrikaanse gehore twee uur of langer vasnael. Hy het passievol aan Afrikanereenheid geglo en hy was ook terdeë bewus van die nooodsaak van strategiese optrede om hierdie doel te bereik. Oor rassekwessies was hy aanvanklik pragmaties. Sy seun het geskryf dat sy pa grootgeword het met die idee dat onderwys die verskille tussen wit mense en dié wat nie wit is nie, sou uitwis. Net velkleur sou oorbly.

Teologies was Malan 'n liberaal en hy het Johannes du Plessis, professor in teologie op Stellenbosch, ondersteun toe konserwatiewe hom in 1928 van kettery beskuldig het. Du Plessis het 'n reputasie as vernuwende denker verwerf terwyl hy redakteur van die tydskrif Het Zoeklicht was. Hy het daarin artikels gepubliseer oor evolusie en die "hoër kritiek" in die teologie en gewaarsku teen 'n rigiede, doktrinêre benadering tot die rassebrobleem. In 1930 is Du Plessis uit sy pos in die kweekskool geskors en so het 'n groot matigende invloed verdwyn. Daar was nou slegs 'n praar kritiese stemme met gesag in die kerk toe die ideologie van apartheid gedurende die laat dertigerjare in kerkkringe opgang begin maak het. Deur apartheid te ondersteun, wou sekere kerkleiers die invloed en geloofwaardigheid terugwen wat in die veldtog teen Du Plessis opgeoffer is.

Bl. 367

Behalwe Geyer was nog 'n belangrike figuur in Malan se kring, Paul Sauer. Hy was in die NP se parlementêre koukus Malan se vernaamste vertroueling. Hy het geglo dat hy in 1924 in die kiesafdeling Stellenbosch deur die kleurlingstem verloor het en was daarna een van die sterkste teenstanders van die kleurlingstemreg. Hy het dikwels gesê dat so lank die kleurlinge in verkiesings  die deurslag kan gee, daar voortdurend wrywing tussen wittes en gekleurdes en tussen Afrikaners en Engelssprekendes sou wees. Daar was egter geen "tuisland" om te gebruik as 'n regverdiging vir die uitsluiting van die kleurlinge nie. Al wat die NP kon bied, was die belofte dat die kleurlinge op meer omvattende wyse maatskaplik opgehef sou word as wat met segregasie gebeur het.

Die nasionaliste in die Noorde moes ná die samesmelting feitlik van vooraf 'n beweging opbou. al wat werklik bestaan het, was die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Broederbond (AB). Onder die intelligentsia wat in hierdie organisasies leiding gegee het, was Nico Diederichs, Piet Meyer, Hendrik Verwoerd en sekere adademici van Potchefstroom. Diederichs en Meyer het in Duitsland gestudeer en by hul terugkeer, het Diederichs professor aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat (UOVS) geword en Meyer 'n voltydse organiseerder vn die FAK, die openbare vleuel van die AB. Diederichs het die nasionalistiese ideologie tot sy uiterste grense gevoer deur te argumentaar dat die individue sy hoogste geestelike vervulling sou kry deur hom in diens van die nasie te plaas en dat hy daardeur ook God dien. Diederichs was simpatiek teenoor die Nazi-ideologie en het die demokratiese stelsel verwerp ten gunste van 'n totaliltêre stelsel.

'n Bepaalde stroom van nasionalistiese denke was die neo-Calvinisme van Potchefstroom. Vir H.G. Stoker was daar verskillende maatskaplike sfere, onder meer die volk, wat elkeen gegrond is in die ordinansies van God. In Potchefstroom was daar ook L.J. du Plessis, 'n regsgeleerde, wat groot invloed op die Broederbond uitgeoefen het, en J.C. van Rooy, wat tussen 1932 en 1938 en weer van 1946 tot 1951 as voorsitter van die Broederbond gedien het.

Die noordelike nasionalistiese intelligentsia het geen bande met die ryker Transvaalse Afrikaanse boere gehad nie. Hierdie boere was omtrent almal VP-ondersteuners. Geld vir die nasionale saak was daar nie en dit was die mense van die Kaapse Nasionale Party wat 'n belangrike finansiële aandeel gehad het in die oprigting van die Voortrekkerpers. In 1937 het die pers Die Transvaler, die enigste nasionalistiese koerant in Transvaal, begin uitgee. Hendrik Verwoerd het sy professoraat op Stellenbosch bedank om redakteur te word.

Verwoerd het gou 'n sterk band gesmee met J.G. Strijdom, die Transvaalse NP-leier. Ideologies het Verwoerd nie neo-Calvinisme, Nazisme of selfs rassisme as ideologieë ondersteun nie. Hy was 'n man wat as 'n maatskaplike ingenieur bestempe kan word. Hy het aangedring op staatsinmenging indien die samelewing in die verkeerde rigting beweeg. Saam met 'n paar ander Stellenbosse professore het hy in 1936 in Kaapstad deelgeneem aan 'n openbare protes teen die aankoms van Joodse immigrante wat uit Nazi-Duitsland ontsnap en met die skip Stuttgart na die Kaap gekom het. Hulle het beweer dat 'n instroming van Jode dit selfs nog moeiliker vir die Afrikaners sou maak om in die sakewêreld en die beroepe opgang te maak.

Verwoerd het in sy studie van die armblankeprobleem tot 'n heeltemal ander gevolgtrekking

Bl. 368

gekom as diegene wat die stadsarmes aangeraai het om na die platteland terug te keer. Hy het sy spyt uitgespreek dat die arm Afrikaners nie eerdr 80 jaar vroeër stad toe getrek het nie, toe Suid-afrika aan die begin van sy proses van industrialisering gestaan het. "Hoe anders sou ons stede, hul atmosfeer en die werkers nie gewees het nie," het hy vroeg in 1937 uitgeroep.

Nasionalisme en anti-Semitisme

In die eerste uitgawe van Die Transvaler het Verwoerd 'n artikel van 4 000 woorde geplaas oor die "Joodse Kwessie" uit die NP se oogpunt. Volgens die artikel het daar belangebotsing tussen die benadeelde Afrikanervolk en die bevoorregte Joodse minderheid bestaan. Laasgenoemde het hulle lank voor die Afrikaners in die dorpe en stede gevestig. Hulle oorheers saam met mense van Britse afkoms die handel, nywerheid en die professies. Onder die Nasionaliste bestaan die persepsie dat die Joodse beheer oor talle firmas daartoe lei dat Afrikaners nie in hierdie firmas en ook nie in die beroepe opgang kan maak nie, omdat die Jode hul geloofsgenote verkies. Hulle glo ook dat die Jode die engelse pers en die VP gebruik om buitengewone invloed op die regering uit te oefen.

In die Transvaler-artikel het Verwoerd verder geskryf dat die Afrikaner-nasionaliste in werklikheid die wyse bewonder waarop die Jode saamstaan en dat hulle nie die Jode se godsdiens of ras in aanmerking neem wanneer hulle hul bleid teenoor die Jode bepaal nie. Die probleem is ekonomie. Verwoerd het geen rede verstrek waarom Joodse dominasie gevaarliker as dié deur enige ander etniese groep geag word nie. Hy het ook nie probeer om te bewys dat daar 'n gemeenskaplike Joodse agenda in Suid-Afrika is nie.

Sy oplossing vir die probleem wat hy geïdentifiseer het, was ongewoon. Hy wou wetgewing hê wat sou verseker dat elke blanke gemeenskap - hy het klaarblyklik Afrikaners, Engelssprekendes van Britse afkoms en Joodse Suid-Afrikaners as aparte gemeenskappe gesien - dieselfde aandeel van die vernaamste beroepe kry as sy persentasie van die wit bevolking. Aangesien die Jode 'n buitengwoon groot deel van die groothandel en die kleinhandel besit, het hy geredeneer, moet geen verdere handelslisensies aan hulle uitgereik word nie totdat die Joodse aandeel teruggebring is tot op die punt waar dit gelykstaan aan hul persentasie van die wit bevolking. (Daar is aangeneem dat die Jode 4% van die blanke bevolking verteenwoordig.) Verwoerd het dit "ewewigtige verspreiding" genoem, maar bygevoeg dat dit ook 'n "kwotastelsel" genoem word. Hy het ook geskryf dat alle diskriminasie moet verdwyn nadat die regte verhouding bewerkstellig is.

Verwoerd was nie 'n stem roepende in die woestyn nie. 'n Maand voordat sy artikel verskyn het, het die kongres van die Kaapse NP eenparig 'n voorstel aangeneem dat die regering alle Joodse immigrasie moet stopsit en dat handels- en ander lisensies op 'n proporsionele grondslag uitgereik moet word.

Daar word beweer dat die anti-Semitisme van Malan se NP in die laat 1930's 'n ommekeer verteenwoordig vergeleke met vroeëre pro-Joodse gevoelens onder die Afrikaners en dat hierdie ontwikkelinge aan Nazi-invloede toegeskryf kan word. Dit is moeilik

Bl. 369

om hierdie interpretasie te bewys. Daar is geen getuienis dat die Nazi's se anti-Semitiese literatuur wat Suid-Afrika binnegekom het, baie mense beïnvloed het nie.

Verwoerd se artikel en die Kaapse NP se besluit verteenwoordig ie tradisionele ekonomiese anti-Semitisme vand ie Afrikaners, wat veral op die platteland ontstaan  het. Die bronne was nie Duitse anti-Semitisme nie, maar plaaslike stereotipes van die geslepe Jood wat die boere uitbuit. Die Burger se spotprenttekenaar Boonzaier met sy karakter Hoggenheimer het die beeld versterk van die geslepe en gevoellose Joodse kapitalis wat Botha, Smuts en Hertzog in sy sak het en wat hom niks oor die lot van wit werkers bekommer nie. Anti-Semitisme is ook aangewakker deur die Afrikaners se frustrasie oor die stadige pas van ekonomiese vordering in die stad.

Dit was net Eric Louw onder toekomstige NP-leiers wat gepraat het van 'n Jodedom in die wêreld wat 'n kwaadaardige politieke invloed uitoefen, soos wat Hitler beweer het. Nadat die NP in 1948 die bewind verower het, het Louw vinnig sy anti-Semitisme afgesweer. Die NP se anti-Semitisme was opportunisties eerder as diepgewortel. Niemand in die party het daarvan gepraat dat die Jode uit die land verdryf moet word of dat hulle eiendom gekonfiskeer moet word nie.

Stryd tussen Noord en Suid

Hoewel die noordelike en die suidelike intelligentsia albei aan die Afrikanernasionalisme toegewy was, het hulle nie veel van mekaar gehou nie. Provinsialisme, wat in werklikheid vyandigheid tussen Transvaal en die Kaap was, was feitlik die hele twintigste eeu 'n belangrike verdelende faktor in nasionalistiese kringe. Teen die einde van die 1930's was die vernaamste bron van die Transvalers se ontevredenheid die oorheersing van die NP deur 'n Kaapse faksie onder leiding van Malan. Tot 1954, toe Strijdom NP-leier en eerste minister geword het, het Malan en 'n klein groepie mense in die Wes-Kaap feitlilk al die vernaamste besluite geneem. Die Nasionale Pers het opd ie gebied van die Afrikaanse perswese feitlik 'n monopolie gehad. Dit het baie hegte bande met Malan gehandhaaf, soos blyk uit die feit dat Die Burger se redakteur tot 1954 die vergaderings van die NP se parlementêre koukus bygewoon het. Om die provinsialisme te vererger, is 'n al hoe groter deel van die Afrikaners se spaarkapitaal gewerf deur Sanlam, 'n Kaapse maatskappy. dit het min oorgelaat vir die Afrikaner-entrepreneurs in die Noorde. Die Kaapse Nasionaliste se verhouding met Verwoerd se Transvaler was nooit goed nie. Verwoerd was ontevrede dat die Kaapse leiers sy pogings om 'n republiek te propageer, as onverstandig beskou het, maar die werklike probleem was dat Verwoerd nie beheer kon word nie.

Gedurende die dertigerjare het die Afrikanernasionaliste in sowel die Noorde as die Suide liberalisme verwerp, maar dit was 'n dekade waarin sllfs Winston Churchill hom in die openbaar teen 'n ongekwalifiseerde algemene stermreg uitgespreek het. Daar was egter ook belangrike verskille tussen die Noorde en die Suide wat swaarder geweeg het as hul gemeenskaplike verwerping van die liberalisme.

Die Noorde is die sterkste beïnvloed deur die Boere se nederlaag in die Anglo-Boereoorlog en die minagting van The Star en ander noordelike koerante vir die Afrikaners se taalstryd. Die noordelike Afrikaners is veel meer geraak deur 'n ongebreidelde kapitalisme.

Bl. 370

Armoede onder die Afrikaners was 'n verskynsel waarmee hulle van dag tot dag moes saamleef. Hierby kan gevoeg word die mededinging tussen swak gekwalifiseerde blankes en swartes en die proses van proletarisering van die blanke arbeiders. Nadat hy redakteur van Die Transvaler geword het, het Verwoerd aan 'n vriend geskyrf: "Die gevaar van die Afrikaner lê nie in sy verengelsing nie, maar dat daar met sy verstedeliking 'n ver-arbeidingsproses (sic) plaasvind waardeur hy alle belang in die Afrikaanse kultuur verloor. Hy word bloot 'n internasionale arbeider."

Die Afrikaners in die Suide het nie die Noorde se anti-kapitalistiese gevoelens gedeel nie. Hulle was reeds langer as 130 jaar in noue kontak met die Engelse finansiële en kommersiële kapitalisme. Anders as die Noorde het die Suide 'n gerespekteerde koerant, Die Burger, gehad wie se invloed dié van die politieke leierskap geëwenaar het. Die party en die koerant het 'n vorm van saambestaan ontwikkel, het Schalk Pienaar "onafhanlikheid-in-gebondenheid" aan die nasionale saak genoem het. Daar was in die Kaap geen groot verarmde Afrikanerwerkersklas nie en die twee wit gemeenskappe het 'n lang tradisie van wedersydse verdraagsaamheid gehad.

Tot die 1930's het talle Wes-Kaapse dorpe 'n buurt gehad waar bruin en wit mense saamgewoon het sonder dat daar wit teenstand hierteen was. Die Kaapse intelligentsia was egter net so gretig soos dié in die Noorde om seksuele vermenging oor rassegrense heen te verbied.

Die intelligentsia in die Suide en in die Noorde het ook oor die ideologie van nasionalisme verskil. Transvaalse Nasionaliste was geneig om die Afrikaners in metafisiese terme te sien. Hulle het die idee van 'n "volksiel" beklemtoon en omtrent altyd die term Afrikaner eksklusief gebruik. D.F. Malan, die Kaapse leier, het nie die neo-Calvinistiese obsessie van die Doppers met "konsekwente" en abstrakte denke gedeel nie. Hy het gepraat van 'n Godgegewe Afrikaner-identiteit en van die hand van God in die Afrikaner se geskiedenis, maar bygevoeg dat die Afrikaner nie dink dat hy bo ander volke verhewe is omdat hy God se gunsteling is nie. Vir hom was Afrikaners 'n gemeenskap wat apart ontwikkel het as gevolg van hul godsdiens, taal, kerk en nasionaliteit - as gevolg dus van 'n bepaalde historiese proses. Hy het ongeveer die middeldertigerjare die term Afrikaner sowel inklusief as eksklusief gebruik.

J.G. Strijdom, leier van die republikeinse Noorde, het gesmag na die dag wanneer Afrikaans die enigste amptelike taal sou wees en Engelssprekendes in 'n ondergeskikte posisie geplaas word. Die Kaapse tradisie was anders: Die Kaapse Nasionaliste het amper 'n eeu van parlementêre demokrasie agter hulle gehad waarin die mededinging tussen die twee wit gemeenskappe nooit werklik bitter was nie. Malan het die gelykheid van die twee tale sterk beklemtoon en ook die gelyke status van die twee wit groepe. Omdat hy geweet het dat dit die Engelssprekendes sou ontstel, wou hy 'n republiek nie 'n prioriteit maak nie en het dit eers ná druk van die noordelike Nasionaliste in die partybeleid opgeneem. Hy het daarop aangedring dat 'n republiek net uitgeroep kon word met die instemming van 'n betekenisvolle deel van die Engelssprekende gemeenskap.

Oor die rassekwessie was die Noorde dogmaties, rigied en ontoegeeflik, met 'n dik sou van rassisme. Die Suide se rassisme was meer bedek en dikwels skynheilig. Die suidelike Nasionaliste het privaat gesê dat die kleurling mettertyd deel van die dominante groep kan word, maar in die praktyk het hulle hulle op 'n afstand gehou. Die suidelike

Bl. 371

Nasionaliste was pragmatiste wat skepties gestaan het teenoor utopiese oplossings en Bybelse regverdiging van rassediskriminasie. Hulle wou blanke baasskap verdedig deur verskeie opsies oop te hou. Uiterste rassisme was vir hulle nie aanvaarbaar nie omdat hulle gemeen het dit is onnodig en bemoeilik die taak om tussen strategiese alternatiewe te kies.

Behalwe gedurende die 1960's, toe Hendrik Verword die Nasionale beweging oorheers het, was dit die suidelike tradisie wat die toon in die volksbeweging aangegee het. Binne die driehoek tussen Kaapstad, Stellenbosch en die Paarl het daar 'n ware etniese establishment van politici, akademici, joernaliste, kerkmanne en sakeleiers ontwikkel wat die vernaamste teenstand teen die VP sou vorm. Die apartheidsideologie sou ook uit hierdie establisment voortkom. In die Noorde was daar geen soortgelyke establisment nie.

"Die Afrikaner-Broederbond sal Suid-Afrika regeer"

Toe Malan samesmelting verwerp, het Hertzog sy woede toegespits op die instellings waarmee Malan vereenselwig is. Een was die Nasionale Pers en sy koerant, Die Burger. Hertzog het die Nasionale Pers die stryd aangesê deur bondgenote te oorreed om aandele te koop. Hy het geglo dat 'n meerderheid hom in staat sou stel om ontslae te raak van die "Keeromstraat-kliek" (die kantore van die Nasionale Pers, Die Burger, en die Kaapse NP was almal in Keeromstraat). Die Nasionale Pers was finansieel nog nie stewig gevestig nie, maar die maatskappy het daarin geslaag om Hertzog se aanval af te weer.

Hertzog se volgende teiken was die Broederbond (AB). In 1933 het die Broederbond 1 300 lede in 53 selle of takke gehad waarvan slegs vier in die Kaap was en die res in Transvaal en die Vrystaat. Hertzog was nie lid van die AB nie en dit is nie bekend of hy ooit gevra is om lid te word nie. Tot 1935 het hy nie besware teen die AB gehad nie. Ná samesmelting het hy hom waarskynlik daaroor bekommer dat so min van sy  manne in leidende posisies was. (Henry Fagan het tot die laat 1940's lid gebly.)

Historici, joernaliste en politieke opponente van die AB het aan die organisasie 'n belangrikheid buite alle verhouding toegeskryf. 'n Militêre intelligensieverslag het in 1944 beweer dat die bond die openbare mening kan manipuleer op 'n wyse wat selfs oorwinnings by die stembus irrelevant maak. Twee werke van joernaliste wat albei in 1990 gepubliseer is, het dieselfde strekking. Charles Bloomberg het geskryf dat die AB die hele Nasionale beweging koördineer en die skoktroepe daarvoor verskaf. 'n Ander werk, deur Allister Sparks, verklaar dat die organisasie apartheid uitgedink en in 'n radikale program omvorm het. Die AB was volgens hom ongeëwenaard in die wêreld "for its pervasive back-room power wielded over nearly every ascpect of national life".

In plaas daarvan om die Afrikanernasionalisme as 'n komplekse beweging met verskeie invloedsbronne te beskou, beeld Bloomberg en Sparks die Broederbond uit as 'n soort deus ex machina wat agter elke beweging om stap sit. Dit is nodig om op 'n veel meer oorwoë wyse oor die AB te dink. Ernst Stals, 'n gerespekteerde historikus en lid van die AB, het onlangs 'n manuskrip oor die organisasie voltooi wat op onbeperkte toegang tot sy argiewe gegrond is. Hierdie werk, wat nog nie gepublilseer is nie, skets 'n heel

Bl. 372

ander prentjie. Dit vertel die verhaal van 'n organisasie wat hom self geleidelik moes opbou, wat gesukkel het om sy invloed te laat geld en wat gedien het as 'n debatsforum vir 'n klein groepie aktiviste wat meesal ver van die werklike politieke aksie verwyder was. Die bond het geen finale besluite geneem of besliste leiding gegee nie. Namate sy ledetal vermeerder het, het dit die meningsverskille in Afrikanerkringe al hoe meer weerspieël eerder as besleg. Dit het lede aangemoedig om te debatteer totdat konsensus bereik is, maar ooreenstemming is selde bereik.

Tot die middel van die vyftigerjare, toe die swaartepunt van die mag na die Noorde verskuif het, het die AB as 'n hoofsaaklik noordelike organisasie nie naasteby die invloed van die Kaapse NP en Die Burger geniet nie. Omdat die meeste poliltieke leiers ná 1948 ook AB-lede was, neem sommige skrywers aan dat die AB die kabinet beïnvloed of selfs beheer het. Maar so 'n veronderstelling draai die magsverhouding op sy kop om. Die NP-leiers het die AB as klankbord gebruik en die organisasie het hom altyd aan die kabinetsbesluite onderwerp. Slegs in die 1960's, toe Verwoerd op die kruin van sy mag was, het die AB as 'n soort ideologiese pollisieman opgetree. Maar selfs wat daardie tydperk betref, is dit 'n misvatting om die AB se invloed te beskou as gelyk aan dié van die kabinet. Dit is een van die eienaardige kenmerke van die Suid-Afrikaanse historiografie dat die mite van die AB as 'n magtige, alomteenwoordige organisasie die gretigste gesluk is deur sy mees bevooroordeelde teenstanders en sy mees naïwe lede.

Gedurende die 1930's en 1940's het die AB sy grootste invloed in die onderwys en op kultuurgebied uitgeoefen. Ten tye van die samesmelting in 1934 het die organisasie duisend lede gehad, van wie 'n kwart boere was en een derde onderwysers en lektore. Die AB het druk uitgeoefen om die tweetalige universiteitskolleges in Pretoria en Bloemfontein in Afrikaanse enkelmedium-instellilngs te omskep. Dit het 'n rol gespeel in die wegbreek van Afrikaanse universiteite en kolleges van die National Union of South African Students, wat beskou is as 'n organisasie wat mense probeer "denasionaliseer". Die Afrikaanse studente het die Afrikaanse Nasionale Studentebond met 'n radikale nasionalistiese program gestig.

Gedurende die vroeë 1930's het noordelike akademici in die AB 'n republiek met 'n Afrikanerkarakter begin bepleit. L.J. du Plessis het 'n outentieke Afrikaanse politieke stelsel voorgestel wat 'n plek aan nie-Afrikaners sou gee mits hulle Suid-afrika hul vaderland maak, die Afrikaanse taal gebruik en die Suid-Afrikaanse lewenshouding aanneem. J.C. van Rooy het daarvan gepraat dat Engelssprekendes op die Afrikaanse stam oorgeplant moet word.

Die menings van dié twee Potchefstroomse akademici was die agtergrond van 'n Broederbond-omsendskrywe van 16 April 1934. Dit is mede-onderteken deur Van Rooy as voorsitter. Die Nat-Sap-verdeeldheid het ook die Broederbond binnegedring en die brief het nie vir een van die twee partye kant gekies nie. Soos Ernst Stals dit in sy ongepubliseerde werk stel, was die uitvoerende raad (UR) se standpunt dat die organisasie se ideale en waardes die algemene aard moet word van die Afrikaners in die algemeen en ook van die groter blanke gemeenskap.

Binne hierdie verband het die omsendbrief van 16 April die volgende stellling gemaak: "Broers, ons oplossing vir Suid-Afrika se kwale is nie dat dié of dié persoon of dat dié of dié party die oorhand sal verkry nie, maar dat die Afrikaner-Broederbond Suid-

Bl. 373

Afrika sal regeer."  In latere jare het die AB se kritici en vyande dié stelling aangehaal om te probeer bewys dat die organisasie mettertyd vir alle instellilngs in die Nasionale beweging en ná 1948 selfs vir die NP-kabinet voorgeskryf het.

Dit is egter duidelik dat dit vir die AB in 1934 gegaan het oor die idee van eenheid, eers van die Afrikaners en later van die wit gemeenskap, gegrond op "Broederbondwaardes". Van hierdie waardes was later glad nie meer omstrede in die blanke gemeenskap nie, maar ander sou groot spanning in die twee blanke gemeenskappe skep. In 'n gesprek van UR-lede met parlementslede wat lid was, word sommige van hierdie waardes genoem: die "internasionale selfstandigheid" van Suid-Afrika, beëindiging van die minderwaardigheid van Afrikaans in die staatsdiens, die "afsondering van alle gekleurde rasse", nasionalisasie van die "geldhandel" en die "verafrikaansing van ons openbare lewe".

Hertzog, wat ongetwyfeld lank van die bestaan van die AB bewus was, het 18 maande gewag voordat hy die omsendskrywe gebruik het om die AB in die openbaar aan te val. In privaat gesprekke met lede van die bond het hy ook sy besware uiteengesit: Dit is geheim, Engelssprekendes kan nie lid word nie en daar is die gevaar dat lede mekaar se belange op onbillike wyse sal bevorder. Hy het beweer dat die bond hom beveg en dat dit die mense in die Vrystaat teen hom laat draai het. Op elke dorp is daar 'n "nes" van sowat vyf mense wat in die donker knoei en deur middel van openbare verenigings - veral die onderwysers - die samelewing verpes.

Hertzog se beswaar oor geheimhouding en sy opmerking oor die moontlikheid van nepotisme, was seker geldig, maar sy woorde moet ook beoordeel word teen die agtergrond van die felle partypolitieke stryd tussen die VP en die NP. Hertzog het geweier om te aanvaar dat sy skielike besluit om die Nasionale Party met Jan Smuts se Suid-afrikaanse Party te laat saamsmelt, mense hulle teen hom laat draai het. Sy vernaamste doel was om Malan as politieke teenstander te diskrediteer. Die hele strekking van sy argument was dat Malan as gevolg van die Broederbond se invloed, samesmelting verwerp het.

Malan het inderdaad in Augustus 1933 'n lid geword, maar hy het in die kringe van die Kaapse NP en die Nasionale Pers beweeg. Die mense wat die meeste invloed op hom uitgeoefen het, was Willie Hofmeyr, Paul Sauer, A.L. Geyer en Frans Erasmus (sekretaris van die Kaapse NP). Geeneen was lid van die AB nie. Dit is heeltemal onwaarskynlik dat Malan tot 'n besluit oor samesmelting gekom het deur skielik die mening te aanvaar van 'n organisasie wat sy basis hoofsaaklik in Johannesburg en Potchefstroom gehad het en waarvan hy pas lid geword het.

Nadat Hertzog met lede van die bond se uitvoerende raad gepraat het, het hy die organisasie se versekeringe aanvaar. Die uitvoerende raad het nou sy doelwitte op 'n minder omstrede manier geformuleer as in die omsendskrywe van 1934, maar dit was 'n brose vrede wat uitgebreek het.

Afrikanerwerkers: Nasionaliste of Kommuniste?

Die grootste groep in die Afrikanergemeenskap gedurende die 1930's was werkers. Albert Hertzog het destyds geskat dat 80% van die lede van die wit vakbonde Afrikaners

Bl. 374

is. Met Famililelede ingesluit, was 500 000 Afrikaners - omtrente die helfte van die Afrikaners - deel van die georganiseerde wit werkersklas.

Ten spyte van die oorwig van Afrikanerwerkers het mense van Britse en Joodse afkoms die vakbonde oorheers. Ui 118 vakbonde was daar slegs 18 met 'n Afrikaner as sekretaris. E.S. (Solly) Sachs, 'n vooraanstaande vakbondleier, was baie krities oor die wyse waarop die vakbondleiers die Afrikaners en hul kultuur geminag het: "The workers' organisations looked on the Afrikaner people with an air of disdain. (They) failed almost entirely to appreciate fully the development, tradition, sentiments and aspirations of the masses of Afrikaners ... as a people who suffered cultural, economic and political oppression."

Ten spyte van sy ywer vir Afrikanereenheid, wou die bond nie werkers as lede hê nie. Dit het daarop aangedring dat voornemende lede mense moet wees wat status het en finansieel sterk genoeg is. Albert Hertzog het die feit betreur dat slegs 5% van die bond se lede uit die werkersklas gekom het. Hy het by die ekonomiese Volkskongres van 1939 gesê: " As u die Afrikanervolk wil red, dan is dit hulle (die werkers) wat u moet red." Nico Diederichs het dit net so melodramaties gestel: "As die werker van ons nasie weggelok word, kan ons net so wel Ikabod op die deur van ons tempel skryf." (Ikabod het die bron geword van 'n grap in die familie van adv. Bram Fischer, wat op die punt gestaan het om aktief by die Kommunistiese Party betrokke te raak.)

Die Afrikanernasionaliste het groot bedenkinge gehad oor die kapitalistiese stelsel met sy skynbaar bandelose gejaag na wins. Hulle het die klasseverdelings wat die stelsel in die hand gewerk het, betreur. Hulle was gegrief oor die uitbuiting van die ongeskoolde en die halfgeskoolde Afrikanerwerkers. Hierdie gevoelens was die sterkste in Johannesburg, wat beskou is as 'n stad wat op kru materialisme gebou is, en op uitbuiting, korrupsie, sedeloosheid en omtrent alle ander vorme van maatskaplike ontaarding. Terwyl die lone stagneer, het die mynmaatskappye wins gemaak wat, soos een maatskappy se geskiedenis dit gestel het, "beyond the dreams of avarice" was. Hierdie klassekonflik is verder vererger deur 'n botsing tussen kulture. In die werk Kerk en Stad is verklaar: "'n Baie gevoelige nadeel van die Suid-Afrikaans kapitalisme is dat sy verteenwoordigers en maghebbers nie tot ons volk behoort nie en dus vir ons ideale, taal en godsdiens niks voel nie. En nie net dit nie, maar deur hul magtige pers word bepaald gediskrimineer teen die Afrikaner. Hy moet met alle mag in 'n minderwaardige, onderhorige posie gehou word ... Die invloedrykes onder die Afrikaners word uitgekryt as ekstremiste en rassehaters."

Die AB en die Afrikaanse kerke het die kapitalisme met afkeer beskou, maar daar was by hulle 'n selfs nog groter afkeuring van linksgesinde vakbonde. In 1940 het die NG-sinode van die Kaap die Kommuniste daarvan beskuldig dat hulle swart mense in die vakbonde betrek in 'n poging om 'n revolusie aan te stook en saam daarmee ateïsme, sosialisme en die gelykstelling tussen wit en swart.

Die AB het dikwels die werkers van die Witwatersrand op onbeholpe wyse probeer organiseer. Wat die bond geïnspireer het, was 'n mengsel van nasionalistiese ywer en middestandswaardes. Dit het die werkers probeer organiseer met die crede van 'n Christelik-nasionale vakbondwese. Dit was veronderstel om die werkers aan te spoor om hulle self as werkers te beskou, maar nog méér as lede van 'n volk en 'n kerk. Die Nasionaliste

Bl. 375

van die Witwatersrand het die stryd aan die arbeidsfront met stygende bekommernis gadegeslaan.

In 1936 het die AB en die organisasies wat met hom saamgewerk het, die Nasionale raad van Trustees (NRT) onder leiding van Albert Hertzog gestig. Die onmiddellike doel van hierdie mense, wat hulself die "Hervormers" genoem het, was om hul eie lede tot die bestuur van die vakbonde verkies te kry of - indien dit nie slaag nie - vakbonde as teenstanders van die bestaande organisasies te stig. Vir die Hervormers was die ware vyand die sosialiste en kommuniste in die vakbondbeweging. Hulle het Afrikanerwerkers aangespoor om aan die Afrikaner se kulturele en godsdienstige tradisies getrou te bly en hulle deel van die Nasionale beweging te voel. Die Hervormers wou blanke werkers beskeerm deur 'n omvattende kleurslagboom in die werkplek, wat swart en gekleurde werkers uit geskoolde en soms ook halfgeskoolde werk sou h ou. Hulle het verlang dat druk op werkgewers in die private sketor uitgeoefen word om wit werkers in diens te neem.

Die Hervormers of die Broederbond self het min vakbondlede in hul geledere gehad. Albert Hertzog is opgelei as regsgeleerde en het geen vakbondervaring gehad nie. Die ander lede van die NRT was onder andere akademici (J.C. van Rooy en Nico Diederichs), predikante en die direkteur van 'n bank. Hulle was amper vanselfsprekend ook almal mans. 'n Artikelreeks in Die Huisgenoot deur 'n vroulike lid van die vakbondbeweging, was krities oor hul lomp poging om vroulike werkers te lok deur aan hulle te sê dat hulle die Afrikanervrou aanbid. Die skryfster het verklaar dat die jong vroulike werkers nie aanbidding wil hê nie, maar hulp om behoorlike werk te vind en beskerming teen uitbuiting. Die uitvoerende raad van die AB was so ontstig, dat hulle besluit het om aan die redakteur van Die Huisgenoot te skryf om teen hierdie artikelreeks te protesteer.

Die kommunistiese aktiviste het die Afrikanerwerkers geteiken, soos een kommunistiese leier later gesê het. "Ons moet die Afrikanerdom vir ons kant wen, anders word die saak moeilik; hy moet geleer word om te kies tussen kommunisme en armblankedom." Onder die voorste Afrikaner-kommuniste was Daan du Plessis, wat verkies is tot sekretaris van die Johannesburgse tak van die Bouwerkersunie. (Sand, sy broer, sou later 'n prominente Nasionale Party-politikus word.) In 'n pamflet wat hy in Afrikaans geskryf het, het Du Plessis verklaar dat die werklike mag nie in die Parlement of die kabinet is nie, maar in die hande van die kapitaliste. Die kapitalistiese stelsel blaas rassehaat onder die werkers aan as deel van sy meedoënlose gejaag na wins. Die uiters lae lone wat dit aan swart werkers betaal, druk die lone van alle werkers af. Du Plessis het het die werkers opgevorder om die bestaande stelsel omver te werp en kommunisme in die plek daarvan te stel.

Vir die Nasionaliste was die grootste gevaar die invloed van doeltreffende vakbondleiers wat die Afrikanerwerkers se kultuur gerespekteer en hul werksomstandighede probeer verbeter het. Een so 'n vakbondleier van Solly Sachs, 'n Joodse Suid-Afrikaer. Hy het in 1922 by die Communist Youth League aangesluit en het gou in die Kommunistiese Party van Suid-Afrika opgang gemaak. Vir hom en die meeste lede wat hul eerste taak om die werkersklas oor kleurgrense heen te verenig voordat die volgende taak aangedurf word, naamlik die bevryding van die onderdrukte swartes en die vestiging van 'n

Bl. 376

kommunistiese stelsel. In 1928 het Moskou egter die KPSA beveel om die slagspreuk "Naturelle-republiek in Suid-Afrika" te aanvaar en om die stryd van die swart nasionaliste te ondersteun. Sachs en baie ander is uit die party gedryf en in 1933 het slegs 150 lede oorgebly.

As hoofsekretaris van die Klerewerkersunie het Sachs geglo dat die blanke werkers opgevoed kon word om nie rassiste te wees nie en om politici wat die kwessie van ras uitbuit, te verwerp. Hy het besef dat, om te kan slaag, die vakbond die verskillende kulturele agtergronde van wit, bruin en swart werkers moet erken en respekteer en hulle in 'n eenheid saamsnoer ongeag hul verskille. Hulle moet leer om saam te veg vir beter werksomstandighede en lone wat alle werkers in staat sou stel om ordentlik te lewe. Eers nadat die werkers opgevoed is om sosiale demokrasie te eis, kan sosialisme op die agenda geplaas word. Hulle het gemeen dat die Afrikanerwerkers 'n sosiaal-demokratiese eerder as 'n nasionalistiese party sou ondersteun.

Sachs het die Klerewerkersunie suksesvol opgebou as 'n vakbond wat hoofsaaklik Afrikaner- en kleurlingvroue in die tekstiel- en klerebedryf aan die Witwatersrand verteenwoordig het. Teen die middeldertigerjare het die bedryf meer as 17 000 wit vroue, van wie die oorgrote meerderheid Afrikaners was, en ongeveer 3 000 kleurlingvroue in diens gehad. Hul omstandighede was swak. Die loon van 'n wit vrou was veel laer as dié van 'n man. In 1931 het Anna Swanepoel, 'n werker, getuig dat driekwart van die jong vroue hul families ondersteun en dit baie moeilik vind om met hul loon uit te kom. 'n Meisie van 18 jaar moes 'n familie van agt met 'n loon van £1 2s. 6d per week onderhou. Sy het aan 'n navorser gesê: "Ons moet baie sukkel om die huishouding bymekaar te hou. As ek saans by die huis kom, voel ek asof ek te moeg is om enigiets op te tel." Die bedryf se reëls vir siekteverlof en swangerska[ was buitengewoon hardvogtig. Sachs het gedink dat die lewensomstandighede van sommige Afrikanervroue aan die Rand van die slegste in die wêreld is.

'n Deel van die algemene krisis van die verstedelikte Afrikaners was die spanning tussen die geslagte in die Afrikanerfamilie. Getroude Afrikanervroue het gereeld tussen 20% en 40% van die huishoudelike inkomste van families bygedra. In baie van die huishoudings was die vrou die enigste broodwinner. Dit het geneig om vaders en eggenote se gesag te ondermyn. Sachs en ander vakbondleiers het ook die aandag op uitbuiting in die Afrikanergemeenskap gevestig. Op die vakbond se byeenkomste en in sy publikasies is beelde opgeroep van die sukkelende bywoner op die plaas, die arm boer wat grond ten duurste huur, die agterlike houtkapper, die verarmde Afrikanermeisie in die krotbuurt en die moeder wat probeer om 'n familie met 'n hongerloon bygemaak te hou.

Toe die ekonomie ná 1933 verbeter, het die vakbond onder Sachs se leiding daarin geslaag om die werksomstandighede en lone aansienlik te verbeter. Afrikanervroue het effektiewe vakbondlede geword. Anna Scheepers is in 1938 tot president van die vakbond verkies, Johanna Cornelius het nasionale organiseerder geword en haar suster, Hester, sekretaris van die Germiston-tak. Hester  het ook 'n toneelstuk, Die Offerhande, geskryf. Dit het die deugde van die Sowjetunie besing en werkers in Suid-Afrika aangemoedig om die kapitalistiese stelsel omver te werp. Ander Afrikanervroue is ook tot ampte in die vakbond verkies.

Ná 'n staking in 1931 het 'n navorser soos volg oor die vroue in die vakbond geskryf:

Bl. 377

"They displayed a singular solidarity, tenacity, endurance, courage and fortitude in meeting such strikes and have always stood loyally by their leaders." Baie van die vroue het Sachs as 'n redder beskou, veral aangesien die klerewerkers min konkrete hulp van die kerk en welsynsorganisasies ontvang het. In onderhoude wat Elsabé Brink lank daarna met werkers gevoer het, het sy van aangename herinneringe aan die vakbond gehoor. 'n Werker wat gevra is of die vroue ooit deur die Afrikaanse kerke en welsynsorganisasies bygestaan is, het met 'n vraag geantwoord: "Watter kerke? Watter vroue-organisasies? Niemand het hom oor ons bekommer nie, behalwe die vakbond."

Nasionaliste wat Sachs se vakbond teengestaan het, het sosialistiese klerewerkers uitgekryt as Afrikanerdogters wat "na Johannesburg toe gegaan het om met kaffers te dans". Toe Sachs in 1938 vra dat sy lede die eeufeesviering van die Groot Trek kan bywoon, het 'n woedende Nasionalis aan hom gesê: "Ons Afrikaners erken geen klasse soos jy en jou satelliete nie. Ons wil nie hê dat die klerewerkers as 'n 'klas' deelneem aan die feesvierings nie, maar saam met ons almal as boere - die fabrieksmeisie saam met die professor se vrou. Jy en Johanna Cornelius wat heeldag kaffers organiseer en toespreek, wil julle hulle ook saambring na die feesvierings? Hulle is jou mede-werkers en kamerade."

Johanna Cornelius het haar nie laat afskrik nie en sy het die Nasionaliste se poging om 'n vakbond in die bedryf te organiseer as 'n kapitalistiese komplot bestempel. Sy het gesê hulle wil die werkers in 'n agterlike staat hou deur haat te stook tussen wit werkers en dié wat nie wit is nie. Albert Hertzog se Hervormers het probeer om Sachs se beheer oor die Klerewerkersunie uit te daag, maar het misluk. Hulle het hull op die werkers se rassetrots, kultuur en geskiedenis beroep, maar Sachs kon wys op die verbeterde lone en werksomstandighede.

Afrikanerwerkgewers in die bedryf kon nie vir hul mede-Afrikaners beter omstandighede as hul Engelssprekende eweknieë skep nie. Albert Wessels, eienaar van 'n klerefabriek, het 'n onthullende verslag gegee van sy ongemaklike verhouding met die Afrikanervroue in die Klerewerkersunie. "Een middag in die middel van 'n uitgerekte en onplesierige onderhandeling, het een van hulle skielik vir my gesê: 'Wie is jy mnr Wessels, om te sê wat onredelik vir julle fabrikante is? Waarom sê jy nie liewers wat redelik vir ons is nie? Jy is een van ons, al is jy 'n bleddie kapitalis'."

Die Hervormers se grootste sukses was by die spoorweë, waar 'n groot aantal Afrikaners in diens was. Hulle het die Spoorbond gestig in die nis tussen die unies vir geskoolde werkers, wat hoofsaaklik uit Engelssprekendes bestaan het en die algemene unies, wat ook nie-wit lede aanvaar het. Die Spoorbond het 'n kleurslagboom by die spoorweë voorgestaan en van hom self gesê dat hy meer as 'n vakbond is, naamlik 'n volksbeweging. Die Engelssprekende leier van 'n mededingende vakbond het gou gemerk dat daar 'n verandering by die Afrikanerwerkers ingetree het. "The Afrikaners had thrown off their former feeling of inferiority and were now the dominant force in the service."

Die stryd van die Hervormers wat die meeste opspraak gewek het, was hul organisering van die wit mynwerkers. Meer as 90% van die 14 000 wit mynwerkers wat nie lid was van 'n vakbond wat rondom 'n bepaalde ambag georganiseer is nie, was Afrikaners. Die meeste van hulle het behoort tot 'n algemene unie, die Mynwerkersunie (MWU) onder leiding van Charles Harris.

Bl. 378

Die Hervormers het die Afrikanermynwerkers as die ideale teikengroep beskou, aangesien min van hulle dieselfde klassolidariteit as die klerewerkers gehad het. Hulle het oor spanne van swart mynwerkers toesig gehou. Hulle was, soos 'n geskiedenis van die Hervormers dit gestel het, "nie net werkers nie, maar ook base". Verder was Harris, die MWU se leier, korrup, outokraties en 'n pion van die Kamer van Mynwese. In 1937 het die kamer 'n geslsote geledere-ooreenkoms met die vakbond gesluit om op te tree teen enigiemand wat onrus in die bedryf wek. In 1939 het 'n Hervormer Harris vermoor.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die reële lone van die MWU-lede gedaal. Die Hervormers het hul pogings verskerp, maar die leiers van die MWU het die steun van die werkgewers, die Arbeidersparty, die Trades and Labour Council en uiteindelik ook die regering gehad. Die regering het verkiesings in die vakbond opgeskort tot ná die oorlog. Vyf maande nadat die Nasionale Party die verkiesing in 1948 gewen het, het die Hervormers die beheer oor die MWU oorgeneem.

Die Broederbond het beperkte finansiële bystand verleen, maar was onwillig om te regstreeks betrokke te raak. Mededinging tussen die nasionalistiese organisasies om die ondersteuning van die werkers, het die stryd belemmer. In 'n poging om die verskille te oorkom, is die Blankewerkers-Beskermingsbond in 1944 gesig. In sy bestuur was verskeie mense wat later Parlement toe sou gaan. Een van hulle (Hendrik Verwoerd) sou eerste minister en vier ander ministers word.

Die Beskermingsbond het dit moeilik gevind om in die idioom van werkers te praat. Sy tydskrif, Die Blanke Werker, was meer daarin geïnteresseerd om die nasionalistiese boodskap te versprei as om die agenda van 'n werkersklas te bevorder. Dit het 'n idilliese geskiedenis van lewe op die plase voorgehou waar daar geen skerp verdelings in die Afrikanergemeenskap was nie en die nederige bywoner aan tafel saam met die boer geëet het. Dit het die kapitalis en die vakbondleier die skuld gegee vir die stryd in Afrikanergeledere.

Die Afrikanerwerkers wat in vakbonde georganiseer is, het sulke stories skepties aangehoor. Maar Solly Sachs was ook die kluts kwyt met sy veronderstelling dat die Afrikanerwerkers die politieke leiding van die vakbondleiers sou aanvaar. Baie Afrikanerwerkers het Suid-Afrika se toetrede tot die Tweede Wêreldoorlog veroordeel as 'n duidelik voorbeeld van hoe die regering Britse belange hoër as landsbelange stel. 'n Kloof het gou ontstaan tussen die Afrikanerwerkers en die Arbeidersparty en Verenigde Party, wat albei sterk ten gunste van die oorlog was.

Om die steun van die werkers by die stembus te lok, het Sachs die Onafhanklike Arbeidersparty gestig om aan die verkiesing van 1943 deel te neem. Hy en Anna Scheepers en Johanna Cornelius het as kandidate in werkerskiesafdelings gestaan, maar almal het verpletterende nederlae gely. Ook die VP het die blanke werkersklas gedurende die oorlog heeltemal vervreem. Ná die oorlog was die NP gereed om op die golf van hierdie ontevredenheid aan die bewind te kom.

Die stryd tussen imperiale en nasionale kultuur

Toe hy besluit het om met die SAP saam te smelt, het Hertzog geglo dat die Afrikaanse en die Engelse stroom gereed is om saam te vloei. Malan se Nasionaliste het van hom

Bl. 379

verskil. Behalwe die inlywing van die werkers in die Nasionale beweging, was daar ook op twee ander gebiede gesamentlike Afrikaneroptrede nodig: die ontwikkeling van 'n kulturele nasionalisme en die verkryging van 'n veel groter aandeel in die stedelike ekonomie.

Daar was twee belangrike struikelblokke in die weg van kulturele nasionalisme. Een was die aantrekkingskrag van die Britse Ryk as 'n kulturele en geestelike projek. Dit is herhaaldelik deur die vernaamste Engelssprekende akademici geloof. Cornelius de Kiewiet, uitnemende historikus, het geskryf: "The empire is a spiritual achievement, with the enduring qualities of spiritual achievements, whether in literature, art, science, or in die relations of human beings on the face of the earth."

Nog 'n struikelblok was die gebrek aan 'n aansienlike Afrikaanse letterkunde en kultuur. C. Louis Leipoldt was een van die sterkste kritici van die vervanging van Hollands deur Afrikaans as amptelilke taal. In 'n artikel het hy in 1935-1936 bedenkinge uitgespreek oor die poging om die taal aan kinders in die skole en aan mense in die algemeen op te dwing. Hy het kritiek uitgespreek op die wyse waarop Afrikaans met die Nasionaliste se poltieke stryd verweef geraak het. Hy het vas geglo dat as 'n taal te gou as amptelike taal erken word, dit al hoe meer sou steun op politieke inmenging eerder as op die waarde van die werk wat in daardie taal gelewer word.

Leipoldt se kommer was sekerlik nie ongeldig nie. Nietemin het die erkenning van Afrikaans as amptelike taal groot kragte laat loskom. Digters, skrywers, joernaliste en akademici het die uitdaging aangegryp om 'n nasionale literatuur met 'n eie karakter op te bou. Leipoldt kon waarsku dat die Afrikaners hulle met "kulturele middelmatigheid" sou opsaal, maar hy h et geen alternatiewe strategie aan die hand gedoen nie.

Teen die begin van die dertigerjare het die sintaksis en die woordeskat van Afrikaans in 'n groot mate hul beslag gekry. Die Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn en is baie goed ontvang, in teenstellilng met die eerste konsep. Toe laasgenoemde in die vroeë jare twintig verskyn, is dit met 'n kreet van ontsteltenis begroet. Die taal is bestempel as "stompstert-Hollands", iets wat nóg vis nóg vlees is. D.F. Malan het die nuwe vertaling verwelkom as die grootste gebeurtenis in die lewe van die Afrikaanse volk op die gebied van kultuur en godsdiens. Hy het gesê: "Dit was 'n valse idee dat die volkstaal die Bybel sou verlaag. Ons sal nou die teenoorgestelde ondervind, nl. dat die Bybel die volkstaal sal verhoog." Bestellings vir die Afrikaanse Bybel het ingestroom. Sommige gemeentes het 'n eksemplaar vir elke kind bestel en skares het na die stasie gestroom toe die trein met die Bybels opdaag.

Afrikaans het op ander terreine vinnig opgang gemaak. Die eerste historici wat akademies opgelei is, het teen die einde van die 1920's uit Europa teruggekeer. Omtrent almal het hul werk in Afrikaans gepubliseer; die eerste was Coenraad Beyers se Die Kaapse Patriotte, 1779 tot 1791, wat in 1929 verskyn het. In 1932 het 'n studie van vyf dele van die Carnegie-kommissie van ondersoek na die armblankeprobleem in Afrikaans en Engels verskyn. In 'n resensie het N.P. van Wyk Louw daarop gewys dat die verslag in 'n vloeiende en pakkende styl geskryf is.

Tussen 1934 en 1937 het W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en Uys Krige hul eerste digbundels gepubliseer. Dit verteenwoordig 'n nuwe hoogtepunt in die Afrikaanse digkuns. Hierdie digters, genaamd "Dertigers", het radikaal van hul voorgangers

Bl. 380

se romantiese tradisie weggebreek. Die Dertigers het nie op die plaaslike of die tipiese Afrikaanse ervaring klem gelê nie, maar universele temas behandel. Die gedigte was oor die algemeen van 'n veel hoër gehalte as die werk van die voorafgaande drie dekades.

Die leiersfiguur was N.P. van Wyk Louw, wat in Sutherland grootgeword en sy hoërskool- en universiteitsopleiding hoofsaaklik in Engels in Kaapstad ontvang het. Hy het daarna lektor in opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad geword. In 1934 het Louw lid van die Broederbond geword. Hy was aanvanklilk aangetrokke tot die Nasionaal-sosialisme, maar teen die einde van die 1930's het hy dit laat vaar.

Hy was 'n digter en dramaturg van besondere formaat. As skrywer van essays oor die kultuurpolitiek, het hy vandag nog nie sy gelyke nie. Die twee bundes essays, Lojale Verset en Berigte te Velde wat in 1939 verskyn het, het lank 'n groot invloed op die Afrikaanse intellektuele debat uitgeoefen. Terselfdertyd het hy sy bydraes tot die Afrikaanse jeugtydskrif Die Jongspan met groot erns benader en helder en indringende artikels oor die wêreldpolitiek geskryf.

Volgens Louw moes die Afrikaanse literêre beweging hom losmaak van 'n koloniale mentaliteit wat altyd leiding ontvang uit Europa of Brittanje as die kern van die Statebond. Hy het daarop aangedring dat weggebreek word van die gemoedelike plaaslike realisme en die ophemeling van die landelike lewe. Die helfte van die Afrikaners was verstedelik en al hoe skerper klasseverdelinge het in die gemeenskap ontstaan. Die lewe het harder, vinniger en naakter geword. Afrikaanse skrywers en digters het nou met dieselfde sake as hul eweknieë in Europa geworstel. Louw wou hê dat hulle hul eie vertolking en verwerking van intellektuele en kulturele strydvrae moes vind.

Vir Louw was die belangrikste verandering wat 'n nuwe kulturele gemeenskap kan ondergaan, die oorgang van 'n kolonie tot volk. Hy het geskryf: "Die kolonie is 'n volksbreuk en weet dat hy fragmentaries is, dat die volle straal van sy volk se lewe nie deur hom gaan nie. Gewoonlik bevat hy ... nie alle stande en soorte nie ... Hy gee op geen gebied rigting nie, maar ontvang sy rigting van die moederland af. 'n Volk is 'n eenheid en universeel; hy omvat alle stande en klasse en gaan bokant algar uit; hy is gelykwaardig in sy reg met die ander volke as kultuurdraer in die wêreld; hy is hom van sy individualiteit bewus."

Op sekere plekke beklemtoon Louw die geestelike en amper mistieke karakter van die volk. In sy vroeë jare het hy gedig dat nasionalisme dieselfde absolute eise as godsdiens stel. Mettertyd het hy die kuns en kultuur wat deur die volk tot stand gebring word, die hoogste gestel. Wat in die literatuur geskep word, is van deurslaggewende belang. "(Ons) hele strewe om deur ons taal apart te bly, kan geregverdig word alleen deur die rykdom van onvervangbare waardes wat ons in dié taal voortbring ... 'n Groep word volk en waardevol, kry reg om te bestaan, alleen in soverre hy geestelike lewe voortbring ... As ons nie in Afrikaans so letterkunde kan skep dat ons vir elke mens, selfs vir die beste geeste wat by ons gebore sal word, sy diepste verlange kan bevredig nie en as hom nie iets kan gee wat hy in geen ander taal kan kry nie, dan moet ons in alle eerlikheid ons stryd om die behoud van ons taal staak as 'n gevaarlike partikularisme, want dan sal dit die Afrikaanse mens in sy geestelike ontwikkeling knel."

As intellektueel het hy nie teruggediens van die nasionalistiese eis van lojaliteit aan

Bl. 381

die volk nie, maar geëis dat elkeen, ook die skrywer, die reg het "om ten volle mens" te wees in sy eie taal. Hy moet kan skryf en werk sonder enige belemmeringe. Sommige van die mees uitnemende Afrikaanse akademici, veral die historikus P.J. van der Merwe, en die rgskenner, J.C. de Wet, het reeds teen die einde van die jare dertig uitmuntende werk in Afrikaans gelewer.

Baie jare later, in 1963, was Louw woedend toe 'n NP-regering sensuurwetgewing indien. Soos hy dit gestel het, was dit te betwyfel of selfs lord Milner 'n meer doeltreffende middel kon bedink om Afrikaans te kniehalte en aan engels in Suid-Afrika vrye teuels te gee. Afrikaanse werke wat verbied word, sal nooit in 'n ander land uitgegee word nie. Vir Louw het dit geklink of die regering se boodskap vir die jong aspirantskrywer in Afrikaans is: "Boeta, as jy jou sê wil sê, skryf in Engels! En as jy nie Engels goed genoeg ken nie, leer dit soos Joseph Conrad, maar skryf in Engels en behou jou siel!"

Louw se opstelle van die 1930's oor "volkskritiek" is gebundel in Lojale Verset (1939), terwyl sy opstelle van die 1950's in die bundel Liberale Nasionalisme (1958) op;geneem is. Hy het twee belangrike konsepte ingevoer waarmee hy die misbruik van die nasionalistiese idee wou teenwerk. die eerste was "oop gesprek". Hy het dit gestel teen diegene wat die debat tot 'n bepaalde dogma wou beperk. Nasionalistiese idees oor oorlewing moet opgeweeg word teen die Christelike morele gebod en die ideale van vryheid en geregtigheid.

Louw se tweede konsep was "lojale verset". Volkskritiek was vir hom 'n ander vorm van lojaliteit. Die volkskritikus is die gewete van die volk en die volk sonder volkskritiek, is verlore.

Hy het geskryf: "Die gevaar vir die intellektueles vandag is nie dat hulle te ver van die volk af staan nie, maar dat hulle te veel binne in hom staan, deel van hom is, deurtrek is van sy vooroordele, sy waardes, daarop ingestel is om sy guns te verwerwe. Ons moet onwrikbaar glo dat daar waardes bokant die volk of die gemeenskap is; eers waardes soos liefde, gesondheid, spel, kragtige lewe - en om hierdie dinge te kan geniet sonder die verwyt van ander oë wat hulle nie besit nie; en dan waarheid en sosiale geregtigheid en skoonheid. en die beste wat 'n mens dus kan behou in hierdie geweldige tyd, is die klein kern van menslikheid ..."

Ten einde gehoor te kan word, moet die volkskritikus hom met sy mense vereenselwig. "Die groot kritiek ontstaan wanneer die kritikus hom nie buite nie, maar in die midde van die groep stel wat hy kritiseer, wanneer hy weet dat hy onverbreekbaar verbind is in liefde en noodlot en skuld aan die volk wat hy waag om te bestraf; wannee hy nie praat van 'hulle' nie, maar van 'ons'."

Louw het besef dat die ontwikkeling en bevordering van Afrikaans in 'n groot mate oorgeneem is deur die sogenaamde "organisasiemense", veral die FAK en die Broederbond. Om die stryd vir 'n staanplek vir Afrikaans te voer en Engelse invloede teen te werk, het hy gemeen, is hierdie organisasies nodig. Dit bied die ruimte om 'n outentieke kultuur op te bou. Louw was egter daarvan oortuig dat die Afrikaanse kultuur bedreig sou word deur "kultuurleiers sonder kultuur" wat h ulle self as die beskermers van 'n verstaande kultuur sou aanbied. Hy was bevrees dat hulle alles sou uitdryf wat waaghalsig en vernuwend is. Die grootste gevaar is selftevredenheid.

Bl. 382

Die uitnodiging wat Louw in 1938 tot Afrikaners gerig het om kulturele nasionaliste te bly selfs wanneer hulle politieke nasionalisme verwerplik vind, het baie Afrikaners tot die einde van die eeu aangetrek.

Die geskiedenis keer terug

Van die middel van die 1930's was daar 'n ongekende oplewing in die belangstelling die Afrikaners se geskiedenis. Een van die treffendste kenmerke van die openbare debat tussen 1902 en 1934 was die stilswye oor die Anglo-Boereoorlog. Oudstryders het hul persoonlike herinneringe van die oorlog as te pynlik beskou om openlik daaroor te praat. Tussen 1906 en 1931 het slegs nege boeke oor die oorlog in Hollands of Afrikaans verskyn. Die Burger het geskryf dat 'n sluier oor die Britse konsentrasiekampe getrek is omdat die Afrikaners skaam is oor die manier waarop die vroue en kinders van 'n heldhaftige volk behandel is. Omdat hierdie oorlog feitlik glad nie aan die kinders in die skole geleer is nie, was die jonger generasie onkundig oor die traumatiese gebeure.

Gedurende die 1930's het 'n nuwe geslag Afrikaners probeer om hulle self te vind deur hulle met sowel die heroïsme as die lyding van die oorlog te vereenselwig. 'n Reeks populêre boeke oor die oorlog het skielik begin verskyn, asook feitlik 'n vloed van artikels in tydskrifte en koerante. Omtrent almal het die Boerevegters verheerlik, veral die heroïese verset van die bittereinders en die skokkende omstandighede in die konsentrasiekampe gekritiseer wat vir die dood van 26 000 Boerevroue en -kinders verantwoordelik was. Die Groot Trek het ook baie aandag van sowel populêre as akademiese historici ontvang namate die Eeufeesviering in 1938 nader gekom het. Van Wyk Louw se drama Die Dieper Reg het die Voortrekkers uitgebeeld as helde en heldinne wat aan die oproep van hul bloed gehoor gegee het.

Die Groot Trek-feesvierings het aan Malan en sy party 'n unieke geleentheid gegee om die boodskap te versprei dat die Afrikanervolk nog altyd 'n stryd om oorlewing voer en slegs op hom self kan staatmaak. In die tweede helfte van 1938 het die vierings, georganiseer deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, begin. Nege ossewaens het 'n trek van Kaapstad na die Noorde onderneem. Een roete het na Pretoria geloop, waar die hoeksteen van die massiewe nuwe monument ter ere van die Voortrekkers op 16 Desember gelê sou word. Die ander roete het na die toneel van die geveg by Bloedrivier in Noord-Natal gelei.

Die poging om die Groot Trek deur so 'n uitbeelding te laat herleef, het 'n golf van geesdrif ontlok wat saam mt die waens van die een plek na die ander gespoel het. Mans en vrou, dikwels in Voortrekkerklere, het die waens ingewag. Kranse is op die grafte van Afrikanerhelde gelê Strate is na Voortrekkerleiers hernoem. Die Stem van Suid-Afrika was nou prakties die Afrikaners se volksliled. Volksliedjies uit die FAK se bundel het 'n vaste deel van die populêre kultuur geword. Van daardie tyd af het dorpenaars en stedelinge braaivleis begin hou. Dit het met die 1938-feeste begin as nabootsing van die Voortrekkers, wat hul maaltye in die veld berei het.

Die hoogtepunt van die vierings was die byeenkoms in Pretoria op 16 Desember 1938, wat deur 'n skare van meer as honderdduisend bygewoon is. Dertig jaar ná die gebeurenis het Schalk Pienaar, wat die waens van Kaapstad tot in Pretoria vergesel het, die

Bl. 383

vraag gestel: Wat het met die feesvierings gebeur? dit was ten dele "romantiese heimwee", soos Bennie Keet opgemerk het, maar Pienaar het tot dié gevolgtrekker gekom: "Dit was iets diepers wat in 1938 gebeur het. Die vreedsame waentjies het op positiewe wyse bewerkstellig wat anders met 'n volk op 'n negatiewe wyse gebeur wanneer daar oorlog kom, of reeds is, wanneer die volk homself in sy wese bedreig voel. Die waentjies het - soos Vader Kestell, die groot kerkman van dardie jare - dit ingeklee het, die volk van sy bestaan magtig bewus gemaak ... Die hele volk is in die hart gegryp."

Die vierings was veronderstel om bokant partypolitiek te staan, maar die NP het by verre die grootste voordeel daaruit getrek. By die groot byeenkoms van 16 Desember by Bloedrivier het Malan pakkende historiese beelde gebruik om die lotgevalle van die verarmde Afrikaners in die stede uit te beeld as die grootste uitdaging vir die Afrikaners se oorlewing (sien hfst. 10, p. 303).

Smuts het die vierings in Pretoria bygewoon, maar nie 'n spreekbeurt gekry nie. Hertzog was uitgenooi, maar het daarop aangedring dat die goewerneur-generaal ook genooi word, aangesien die staat die meeste van die geld vir die monument sou bydra. Dit het beteken dat "God Save the King" ook gesing sou moes word, wat soveel ontsteltenis veroorsak het dat Hertzog sy u itnodiging van die hand gewys het. Hy het 16 Desember stil op sy plaas deurgebring en die viering afgemaak as die werk van 'n klein bende wat ontevredenheid saai. Hy was nou 'n bitter vyand van alles wat Malan en sy party beplan en ondersteun het. Hy het gewaarsku teen mense wat die onskuld van die Afrikaners besoedel en die heilige dinge van die Afrikaners in die politiek insleep.

Z.K. Matthews, die mees gerekende swart intellektueel en 'n leier in die African National Congress, het probeer om iets positiefs uit die vierings te haal. Hy het geskryf dat die eeufeesvierings 'n bewys kan lewer van die ruimhartigheid van die Afrikaners teenoor hul voormalige vyande. Hy het 'n stelling aangehaal wat by 'n NG Kerk-konferensie gemaak is: dat die Voortrekkers maatskaplike skeiding bepleit het sonder dat dit veronderstel dat swart mense onderdruk of in hul ontwikkeling gesteur word. Volgens Matthews sou die beste Voortrekkermonument 'n verbetering wees in die gesondheidsdienste en in die onderwys en opleiding aan swartes om aan hul eie mense dienste te lewer. Die argitekte van apartheid sou hierdie uitdaging aanvaar op 'n wyse wat Matthews in alle waarskynlikheid nie voorsien het nie.

"'n Volk red hom self"

'n Merkwaardige kenmerk van die Suid-Afrikaanse ekonomie is dat geen nasionalisering van die mynhuise of banke in die eerste twee of drie dekades van die twintigste eeu plaasgevind het toe buitelandse kapitaal hierdie sektore oorheers het nie. Die feit dat die Engelssprekendes in Suid-Afrika tussen die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog die beheer oor verskeie Brits-beheerde maatskappye verkry het, het gehelp om 'n krisis af te weer.

Die sterkste aandrang om nasionalisasie het van die Nasionale Party gekom. Die Afrikaners het slegs 'n baie klein deel van die private sektor buite die landbou beheer. Teen 1939 het die Afrikaners geen groot nywerheidsonderneming, geen beleggingshuis, geen bougenootskap, geen gewone kommenrsiële bank, geen verbruikersvereniging en

Bl. 384

geen maatskappy wat op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer is, besit of beheer nie. Die ekonoom Jan Sadie het die Afrikaners se aandeel aan die ondernemersfunksie in die private sektor teen 1939 soos volg bereken: 1% in die mynwese, 3% in vervaardiging en konstruksie, 8% in handel en 5% in die finansiële sektor.

Die feit dat die NP nooit nasionalisasie verder as propaganda gevoer het nie, moet in die eerste plaas toegeskryf word aan Suid-afrika se lidmaatskap van die Britse Ryk. Nasionalisasie sou ernstige ekonomiese koste inhou en ook die verhoudinge tussen die twee blanke gemeenskappe uiters gespanne maak. Dit kon moontlik selfs blanke baasskap bedreig. Die stigting van semi-staatskorporasies, in die besonder Yskor en Evkom (Eskom), het baie van die stoom uit die ontevredenheid met die klein Afrikaneraandeel in die ekonomie gehaal. Dit was hoofsaaklik Afrikaners wat hierdie korporasies bestuur het, wat so 'n belangrike rol gespeel het in die uitvoering van die beleid van Hertzog se Pakt-regering om plaaslike nywerhede te bevorder. Michael O'Dowd, in latere jare 'n direkteur van die Anglo American Corporation, het geskryf: "The primary credit (vir die beleid) belongs to the Afrikaners, and it was in effect opposed by many, if not all, English-speaking South Africans."

Teen die einde van die dertigerjare het stemme begin opgaan dat die Afrikaners hul kragte en kapitaal moet saamsnoer om vir hul gemeenskap 'n deel van die private sektor te verower. Sekere mondstukke van die Engelssprekende m ening het vyandig gereageer. Die Rand Daily Mail het geskryf dat "the sponsors of economic segregation in trade and industry cannot ultimately avoid the charge that they are fanning the flames of racial bitterness in South Africa". W.H. Hutt, destyds miskien die mees prominente ekonoom in Suid-Afrika, het dit as "oorlog" teen die Brits-gebore seksie van die gemeenskap bestempel en as sodanig deel van die dekades oue geveg teen UItlanders. Hierteenoor het J.L. Gray, 'n akademikus van die Universiteit van die Witwatersrand, geskryf dat niks skadeliker vir onderlinge begrip tussen die twee wit gemeenskappe kan wees nie as die geloof dat die Afrikaners geen regmatige ekonomiese griewe het nie.

Onder die Afrikanernasionaliste was daar 'n besef van die gevare. A.C. Cilliers, 'n prominente Stellenbosse akademikus en polemikus, het gewaarsku dat ekonomiese "segregasie" maklik kan boemerang. Afrikaners wat ekonomiese mobilisasie voorgestaan het, het moeite gedoen om versekerings te gee. T.E. Dönges, later 'n minister, het gesê dat die Afrikaners vasbeslote is om hul ekonomiese aandeel op 'n billike en vreedsame wyse te vergroot, maar hulle is nie van plan om Engelse firmas te boikot nie. Hy het bygevoeg dat die Afrikaners nie daarop geregtig is dat ander hulle help nie en dat hulle ook te trots is om ander te vra om hul ekonomiese redding te help bewerkstellig. Al wat hulle van Engelssprekendes vra, is om welwillend neutraal te bly terwyl die Afrikaners ekonomies op die been kom.

'n Groot strukelblok wat oorkom moes word, was die anti-kapitalistiese gevoelens in die Afrikaanse geledere. Geen groot Afrikaanse onderneming is op die klassieke kapitalistiese wyse gestig met entrepreneurs wat risiko's loop ten einde wins te verdien nie. Die Nasionale Pers het koerante teen 'n verlies gepubliseer om hulle in die eerste plek die nasionalistiese boodskap wou verkondig. (Piet Cillié het aan die skrywer gesê Die Burger is 40 jaar lank teen 'n verlies gepubliseer.) Die versekeringsmaatskappye Sanlan en Santam was o nderlinge genootskappe wat hoofsaaklik met lae risiko in verbande en

Bl. 385

eiendom belê het. Die landboukoöperasies wat tussen 1920 en 1940 gestig is, was nie daarop ingestel om wins te maak nie. Anti-kapitalistiese gevoelens is vererger deur die ineenstorting van 'n hele aantal Afrikaanse ondernemings vanweë korrupsie en bedrog. Die Afrikaners het baie agterdogtig teenoor sakemense geraak. 'n Hollandse besoeker is meegedeel dat mense wat handel dryf, oneerlik is.

Teen die 1930's was min risikokapitaal vir Afrikaanse ondernemings beskikbaar. Oor baie geslagte heen het mense hul kapitaal net aan hul onmiddellike familie toevertrou en sekerlilk nie aan vreemdelinge of 'n maatskappy om daarmee te woeker nie. Om ondernemings van 'n sekere grootte op te bou, moet mense bereid wees om mense buite die familiekring met kapitaal te vertrou. In die pioniersgemeenskap aan die grens was daar baie min kapitaal en ook in die stad het die vermoë en bereidwilligheid om met kapitaal te woeker, of ander daarmee te vertrou, baie stadig ontwikkel. Hendrik Verwoerd het in 1939 verklaar: "Ons is byna oorgeorganiseer op kulturele gebied en ongeorganiseer vir ekonomiese doeleindes."

Ná die stigting van Nasionale Pers en Sanlam in die eerste dekade van die Unie, was die totstandkoming van Volkskas in Pretoria in die 1930's die volgende groot stap. Vroeg in die twintigerjare het die Potchefstroom-tak van die AB voorgestel dat 'n "volksbank" opgerig word, maar 'n verslag deur L.J. du Plessis het bevind dat 'n bank met net Afrikanerkapitaal nie haalbaar sou wees nie. In 1933 het die AB se uitvoerende raad besluit om die stigting van volksbanke weer te ondersoek. Op aanbeveling van 'n komitee, saamgestel deur J.J. Bosman, het die UR besluit dat 'n spaarbank gestig moet word om die Afrikaners se kapitaal te monster. Dit moet dan gebruik word om groter ondernemings te finansier en ook die arm Afrikaners te h elp. Omdat die staat se tesourie nie bereid was om dit as 'n volwaardige handelsbank te registreer nie, is die onderneming Volkskas in 1937 as 'n koöperatiewe onderneming gestig deur die Broederbond se tesourier, J.J. Bosman, en ongeveer sestig lede van die bond. Dit het in Pretoria begin met 'n opbetaalde kapitaal van £5 000. Om kapitaal op te bou, is aandele vir 10 sjielings uitgereik en mense oor die hele land het dit opgeneem.

Bosman was die krag agter die stigting en ook die eerste bestuurder. Volkskas het lank informeel bekend gestaan as "Oom Bossie se bank". I.M. Lombard, wat sekretaris van sowel die Broederbond as die FAK was, het die platteland deurkruis om geld bymekaar te kry vir alle FAK-organisasies en Volkskas. Die Afrikaners se kulturele en ekonomiese mobilisasie heeltemal verstrengel geraak.

Bosman se visie was om 'n volledig toegeruste handelsbank tot stand te bring wat oor sy toonbanke die beste dienste lewer. Sy visioen - die nood van die Afrikaners en hul redding deuer kapitaalmonstering en werkverskaffing - is van mond tot mond oorgedra. U. Jooste, hoofrekenmeester, het oor die bank die volgende gesê: "Volkskas (sou) vroeg al inmekaar getuimel het indien selfsugtige en eersugtige motiewe die dryfvere was. Dit is juis die onbaatsugtige en pligsgetroue diens wat meneer Bosman gelewer het, wat die hoeksteen vorm waarop Volkskas rus ... Volkskas moes sy regmatige plek in die land se ekonomie verkry en niks sou hom stuit om hierdie doel te bereik nie ... en daar moes ook niks aan sy bank skort nie." Gedurende die 1940's het Volkskas sy koöperatiewe aard laat vaar en 'n gewone handelsbank geword. Volkskas en 'n paar ander instellings het teen die einde van die twintigste eeu geamalgameer en doen vandag sake onder

Bl. 386

die naam ABSA, die bankgroep met die grootste bruto inkomste van die Suid-Afrikaanse banke.

Die hoë ekonomiese groei ná 1933 het die lewenstandaard van die blankes sterk opgestoot. Oor die volgende tien tot vyftien jaar is wit werkloosheid in die dorpe en stede feitlik heeltemal uitgewis. Teen die laat 1930's het die boere begin herstel van die depressie en droogte. Hulle is bygestaan deur landboukoöperasies, wat sedert die vroeë 1920's vinnig gegroei het. Die koöperasies het 'n diens gelewer sonder die winsmotief en het lenings teen lae rentekoerse beskikbaar gestel. Die regering het die pryse van die vernaamste produkte deur middel van beheerrade gestabiliseer. 'n Groot deel van die risiko is uit die boerdery verwyder deur die waarborg van 'n minimumprys.

Teen 1939, toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, was die mees ondernemende boere gereed vir 'n bloeitydperk wat in die boerdery sou aanbreek. In die stedelike ekonomie het die Afrikaners ook vordering gemaak. Die regering het in hierdie stadium veel beter onderwys- en opleidingsgeriewe vir blankes beskikbaar gestel. Namate blankes hoër op die leer in die arbeidsmark geklim het, het hulle al hoe minder rede gehad om mededinging van gekleurdes te vrees.

Die finansiële bronne van die Afrikaners het dramaties toegeneem. Een skatting het die Afrikaners se spaargeld in 1939 op ongeveer £100 miljoen gestel en die Afrikaners se koopkrag op ongeveer dieselfde bedrag. Tog was weinig risikokapitaal beskikbaar. Die boere was geneig om hul wins weer in hul plase te belê en die meeste ander Afrikaners het hul spaargeld in veilige beleggings soos banke, bougenootskappe en trustmaatskappy geplaas. T.E. Dönges het verklaar dat die Afrikaners se kapitaal hoofsaaklik in verbande belê word en dat hierdie vorm van belegging vir die opbou van Afrikanerondernemings "van absoluut geen waarde" is nie.

Die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 het die prikkel gelewer vir die mobilisasie van kapitaal. Sowel D.F. Malan as die Vrystaatse kerkleier J.D. ("Vader") Kestell het aan die hand gedoen dat die beste eerbetoon aan die Voortrekkers sou wees om die arm Afrikaners te hulp te kom deur 'n "reddingsdaad". Hulle het dit beklemtoon dat min hulp van die staat of die sakewêreld verwag kon word. Die slagspreuk "'n Volk help hom self", wat eerste deur Kestell geuit is, het gou die verbeelding aangegryp.

Die Afrikaner-Broederbond het besluit om aan die FAK die taak toe te vertrou om 'n kongres te organiseer waarop die idee van 'n groot volksfonds bespreek kon word waarmee die arm Afrikaners opgehef kon word. Vroeg in 1939 het die Broederbond se uitvoerende raad egter teen enige "liefdadigheidsplan" besluit. In plaas daarvan moes dit 'n plan word "om die koopkrag en kapitaalkrag van (die) volk produktief in belang van verarming omgekeer word "in die rigting van groter en blywende welvaar vir elke volkslid". Die implikasie was dat ondernemings wat op dié manier gestig is, die armes sou red deur hulle in diens te neem.

In Kaapstad het die senior bestuurslede van Sanlam tot 'n soortgelyke gevolgtrekking gekom. Sanlam was gretig om te ontsnap aan die beperkings van versekering en landboukrediet. Die onderneming wou sy eie groot finansieringshuis stig ten einde die pogings te sentraliseer om die Afrikaners se spaargeld aan te trek en in belowende ondernemings te belê.

Bl. 387

Die groot dryfkrag in die Suid-Afrikaanse ekonomie was die mynhuise: hulle het geld vir beleggings verkry deur hul groot beleggingsmaatskappye, wie se notering op die Johannesburgse aandelebeurs hulle in staat gestel het om geld van beleggers oor die hele wêreld te lok. Die Afrikanernasionaliste het dié mode gebruik, maar hul beleggingsmaatskappy sou drie heeltemal uiteenlopende doelstellings nastreef: dit moes vir sy aandeelhouers wins lewer, dit moes die vooruitgang van die Afrikaners in die ekonomie bevorder en dit moes die Afrikaners help om van armoede te ontsnap deur aan hulle goeie werk in Afrikaanse ondernemings beskikbaar te stel.

Die ekononoom M.S. (Tienie) Louw het by die direksie van Sanlam die stigting van 'n finansieringshuis voorgestel. Sy voorstel het die gees vasgevang van die Afrikaners se ondernemers op daardie tydstip. "Dit spreek vanself dat die maatskappy gesonde besigheidsbeginsels sal handhaaf en dat die winsmotief nie uitgesluit sal wees nie. Maar terwyl die bestuur sal trag om die grootste moontlike winste vir sy aandeelhouers te verkry, sal die hoofdoel altyd wees om die posisie van die Afrikaner in die handel en nywerheid te versterk."

Die planne van Sanlam en die Broederbond sou nie veel opgelewer het as elkeen op sy eie probeer werk het nie. Die leierskap van die bond het min sake-ervaring gehad en 'n inisiatief deur Sanlam op sy eie sou lyk asof dit net sy eie belange nastreef. 'n Vennootskap tussen die bond en Sanlan sou geloofwaardigheid verleen aan die veldtog om kapitaal vir beleggings te trek. Dit kan kwalik toeval wees dat verskeie senior lede van Sanlam se bestuur op daardie tydstip uitnodigings aanvaar het om lid van die bond te word. Die Sanlam-Broederbond-vennootskap se eerste stap was om 'n ekonomiese kongres te hou.

Die sogenaamde Eerste Ekonomiese Volkskongres het in Oktober 1939 in Bloemfontein plaasgevind. Dit is deur politici, sakelui en akademici bygewoon. Die armblankevraagstuk op sigself het min aandag geniet. Predikante was opvallend afwesig. Die sprekers was almal mense wat 'n leidende rol in toekomstige Afrikaanse ondernemings sou speel.

C.G.W. Schumann, professor in ekonomie op Stellenbosch, was een van die vernaamste sprekers. Hy het die afgevaardigdes aangespoor om nie aan die armblankekwessie in isolasie te dink nie. Die taak is eerder om die "gesonder" dele van die Afrikaanse gemeenskap te versterk en daardeur die posisie van die swakker elemente te verbeter. Die taak is om Afrikaners te oorreed om Afrikaanse ondernemings te ondersteun, wat op hulle beurt weer Afrikaners in diens kan neem.

Die sprekers het 'n sterk poging aangewend om die bestaande teenstand onder die Afrikaners teen die kapitalisme af te breek. Net die soort kapitalisme waarin individue hulle self verryk sonder dat die gemeenskap daaruit voordeel trek, moet veroordeel word. In sy toespraak het L.J. du Plessis gesê dat die volk gemobiliseer moet word om die :uitheemse kapitalistiese stelsel" te verower en dit "om te skep en aan te pas aan ons volksaard".

Hierdie aangepaste kapitalistiese filosofie is later "volkskapitalisme" genoem. Dit het beteken dat vrye onderneming nie hoofsaaklik bedoel is om rykdom te skep vir individue vir hul eie sak nie, of selfs vir 'n groepie individue nie. Dit moet die Afrikaners help om uit hul ekonomiese knegskap te ontsnap en om vir hul mense 'n regmatige deel van die ekonomie te verwerf.

Bl. 388

Die volkskongres het drie instellings geskep, die finansieringshuis, 'n kamer van koophandel en 'n organisasie wat hom sou toespits op 'n reddingsdaad. Die belangrikste was die finansieringshuis, Federale Volksbeleggings (FVB), wat deur Sanlam beheer is. Die Afrikaners is gevra om op 'n konvensionele manier te beê deur aandele in gesonde Afrikaanse ondernemings te koop. Teen 1943 is meer as £2 miljoen belê in aandele van Afrikanermaatskappye, meestal dié van FVB. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het FVB groot beleggings in die vissery, hout, staal, chemikalië en landbougereedskap gehad. Bonuskor, 'n beleggingskorporasie in die Sanlangroep, was die eerste Afrikaanse maatskappy wat op die aandelebeurs genoteer is. Dit het gebeur op 26 Mei 1948, toevallig die dag waarop die NP die bewind verower het.

Een van FVB se eerste lenings aan klein Afrikaanse ondernemings was aan 'n maatskappy wat gestig is deur 'n jong entrepreneur, Anton Rupert. Rupert se Rembrandt-groep het mettertyd uitgegroei tot 'n konglomeraat met belange in onder meer tabak, die vervaardigingsektor, wyn en luuksegoedere. Die eerste aandeelhouers wat hoofsaaklilk Afrikaanse tabak- en wynboere. Rupert het hom in die klassieke idioom van die volksbeweging uitgedruk. Hy het in 1949 gesê die doelwit van die Afrikaanse sakesektor is "om die vrymaking van ons volk te bevorder en die Afrikaner te help om sy regmatige plek in die nywerheid in te neem as toekomstige werkgewer en werknemer".

FVB se beleggings in die mynwese het daartoe gelei dat hy in 1965 die beheer verkry het oor 'n gevestigde mynheid, General Mining. Hierdie mynhuis se belange het in die jare daarna tot 'n magtige myngroep ontwikkel.

In die vyftien jaar ná die volkskongres het die sterk anti-kapitalistiese gevoelens in Afrikanergeledere omtrent heeltemal verdwyn en saam daarmee die huiwerigheid van die Afrikaners om in Afrikaanse ondernemings te belê.

Die ekonomiese kongres van 1939 het ook die Reddingsdaadbond (RDB) gestig. Teen 1947 het dit 67 131 lede in 318 takke gehad, met Nico Diederichs as 'n voltydse organiseerder. Daar was takke vir kultuur, die ekonomie, die boerdery, vroue en blanke arbeid. Elke skoolkind is gevra om elke maand 6 pennies by te dra. Die oorspronklike gedagte was dat die RDB £500 000 insamel vir beleggings in Afrikaanse ondernemings en kulturele projekte. Minder as 'n derde hiervan is ingesamel. Van hierdie bedrag is 'n deel in FVB-aandele belê, 'n deel het na Afrikaanse organisasies gegaan en die res is vir studielenings gebruik.

Die RDB se belangrikste bydrae was om Afrikaners aan te moedig om Afrikaanse ondernemings te ondersteun. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, was omtrent alle ondernemings op die platteland in die hande van Suid-Afrikaners van Britse of Joodse of Indiese afkoms. Teen die einde van die oorlog het die Afrikaners baie van hierdie ondernemings, veral winkels en kafees, oorgeneem.

Die Broederbond het ook sy lede aangemoedig om Afrikaanse ondernemings te ondersteun. In 1941 het die bond omsendbriewe uitgestuur wat tien ekonomiese take vir alle regte Afrikaners voorgestel het. Hieronder was die taak om 'n polishouer in 'n Afrikaanse versekeringsmaatskappy te wees, om te spaar en om hierdie spaargeld in 'n Afrikaanse onderneming te belê.

Die Afrikaanse Handelsinstituut was die sambreelligaam van Afrikaanse sakekamers oor die hele land. Dit het 'n tydskrif, Volkshandel, gepubliseer wat invloedryk onder

Bl. 389

Afrikaanse sakelui geword het. In die oorlogsekonomie het die opkomende Afrikaanse sakelui spoedig hul gewig agter die Nasionale Party ingewerp. Die meeste Afrikaanse handelaars en vervaardigers se ondernemings was nog klein. Hulle was in 'n stryd gewikkel teen Engelse maatskappye wat hul ondernemings op veel groter skaal bedryf en ingevolge die regering se beleid van rantsoene en kwotas voorrang gekry het.

Sakegriewe het gou etniese griewe geword. Die AHI en Afrikanerboere het die pogings van die regering en groot ondernemings weerstaan om landboupryse af te druk. Die AHI se president het aan die boere gesê dat  hulle hul kapitaal op die regte plekke moet belê: 'n deel van hul kapitaal moet in Afrikaanse ondernemings, beleggings en sake-ondernemings belê word. Afrikaanse sakelui het die apartheidseis ondersteun dat swart arbeiders geen regte moet hê nie.

In 1951 is 'n tweede ekonomiese volkskongres gehou. Die atmosfeer was positief, dit was amper asof die deelnemers mekaar en hulle self wou gelukwens. L.J. du Plessis het gesê dat die armblankekwessie opgelos is en dat die Afrikaners op sleutelpunte in die stedelike ekonomie staan. Kapitaal vir Afrikaanse ondernemings was nou die belangrikste saak en daar is nie meer verwys na die noodsaak van 'n reddingsdaad nie. Anton Rupert het egter gevoel dat ná soveel sukses, die Afrikaners hul horison moet verbreed. Ten eerste is dit nodig om immigrasie aan te moedig, aangesien daar reeds 'n tekort aan vaardighede is. Ten tweede moet Afrikaanse sakelui 'n Bantoe-ontwikkelingskorporasie stig om plaaslike nywerhede in die reservate op 'n beskeie manier aan te voor. "Dit moet gedon word as blyk van ons goeie bedoelings en opregte strewe."

Die waterskeiding deur die oorlog

Suid-Afrika het onvermydelik betrokke geraak in 'n groot getwis oor die oorlog wat in September 1939 in Europa uitgebreek het. Die reg van Suid-Afrika om nie aan Brittanje se oorloë deel te neem nie, was een van die mees omstrede kwessies in die blanke politiek. Ná die Statuut van Westminster het genl. Hertzog geglo dat Suid-Afrika se outonomie verseker is. In September 1938 het hy die kabinet verbind tot neutraliteit indien Brittanje oorlog sou verklaar.

Dit lyk of Smuts hiermee akkoord ggaan het, maar met die Duitse inval in Tsjeggo-Slowakye in 1939 het hy sy mening verander. Hy het geglo dt Suid-Afrika, al is die politieke prys ook hoe hoog, verplig is om te help om Nazi-Duitsland onder Adolf Hitler te stuit. Tog was dit ondenkbaar dat Smuts bereid sou wees om Suid-Afrika aan 'n oorlog te laat deelneem op grond van 'n baie klein meerderheid in die Parlement en met waarskynlik die meeste kiesers daarteen gekant. toe kom die Duitse inval in Pole op 1 September 1939.

Die Parlement het op 4 September 1939 byeengekom oor 'n saak wat nie met die oorlog verband gehou het nie. Hertzog het aan die kabinet voorgestel dat Suid-Afrika neutraal bly. 'n Klein meerderheid onder Smuts wou dat Suid-Afrika oorlog verklaar. In die parlementêre debat het Hertzog 'n flater begaan deur die kwaadwillige en aggressiewe aard van die Nazi's se buitelandse beleid te ontken. Volgens hom het Brittanje en Frankryk hulle die oorlog op die hals gehaal deur die vernederende vredesverdrag van Versailles in 1919 aan die Duitsers op te dwing. Die analogie met die republikeinse Afrikaners by Vereeniging in 1902 was moeilik om mis te kyk.

Bl. 390

Die ander deel van Hertzog se toespraak het egter groot slaankrag gehad. In enige stemming oor die oorlog sou die kante feitlik gelykop verdeel wees. Om met 'n klein meerderheid tot oorlog te besluit, sou die vertroue tussen die twee wit gemeenskappe ernstig skaad. Die Afrikaners het met die stigting van die Suid-Afrikaanse Party ten tye van Unie en toe weer met die samesmelting probeer om die gemeenskappe in een party en een nasie byeen te bring. Indien Suid-Afrika aan die oorlog gaan deelneem, sou dit 'n ramp wees en 'n "toestand van ellende" skep. Dit sou :iets wees wat ons vir vyftig jaar, so nie vir honderd jaar, sal affekteer in ons onderlinge verhoudinge".

Malan het Hertzog gesteun. Hy het betoog dat indien Suid-Afrika geen bande met Brittanje gehad het nie, die land nooit oor 'n stryd in die verre Pole in 'n oorlog betrokke sou raak nie. As Suid-Afrika ingesuig moet word in elke oorlog waarin Brittanje betrokke raak, dan is die land nie 'n land van vrye mense nie, maar van slawe.

Smuts was ook baie reguit. Hy het gesê dat Hertzog se toespraak klink na 'n regverdiging vir Hitler se optrede. Hy het geen twyfel oor wat op die spel staan nie: Hitler wil die wêreld oorheers en met die dreigement van oorlog soveel annekseer as wat hy kan. "Die lotsbestemming van die mensdom en die toekoms van die beskawing" is op die spel.

Hertzog se mosie is in die Volksraad met 80 stemme teen 67 verslaan en die stemming het hoofsaaklik die taalverskille onder die lede weerspieël. Die goewerneur-generaal het geweier om die Parlement te ontbind en 'n algemene verkiesing uit te skryf. Round Table, 'n gesaghebbende tydskrif, het dit as waarskynlik beskou dat 'n anti-oorlog-party so 'n verkiesing sou gewen het. In plaas hiervan het die goewerneur-generaal Smuts gevra om 'n kabinet saam te stel en hy het Suid-Afrika tot die oorlog laat toetree.

Hierdie besluit was 'n waterskeiding in die politiek. Dit het die aansienlilke konsensus in die blanke politiek ten opsigte van ras en kleur vernietig. Sonder die politieke polarisasie wat deur die oorlog teweggebring is, is dit onwaarskynlik dat Malan se NP in 1948 aan die bewind sou gekom het met 'n veel radikaler rassebeleid as dié van die VP. Die vernaamste skrywer in Afrikaanse geledere, N.P. van Wyk Louw, het die radikalisering wat die oorlogsbesluit onder Nasionaliste teweggebring het, weerspieël. Hy het na die besluit verwys as 'n "groot nederlaag" en hom voorgeneem om 'n "kompromislose geestelike Afrikanerskap" te probeer opbou. Twee jare later skryf hy dat "die gemeenste ding op aarde is: om vir dié te veg wat jou mense verower het" en op aandag te staan "vir die lied wat met wapengeweld deur vreemdes op jou afgedwing is".

Wit Engelssprekendes het dit omtrent deur die bank as hul plig beskou om die oorlogspoging te steun en op te tree teen diegene in Suid-Afrika wat die oorlog teenstaan. Daar was die persepsie onder hulle dat alle Afrikaners heeltemal teen die oorlog gekant is. (Regter O.D. Schreiner het in latere jare vertel van 'n getuie wat tydens die oorlog gevra is wie 'n Afrikaner is. Die antwoord was: "Someone who is against the war.") In werklikheid was omtrent die helfte van die soldate wat geveg het Afrikaners. Die meeste het dit nie gedoen uit idealisme nie, maar om meer prosaïese materiële edes.

Volgens party skattings was 'n derde van die blankes tussen twintig en sestig jaar op een of ander manier by die oorlogspoging betrokke, in die land of in die buiteland. Smuts het trots verklaar dat hierdie prestasie dié van baie Geallieerde nasies oortref het. Tog wil dit lyk of Smuts soms gewonder het of die prys nie te hoog was nie. Volgens die

Bl. 391

rubriekskrywer "Dawie" in Die Burger het Smuts ná die oorlog aan 'n Ierse joernalis die volgende gesê: "Ek verstaan baie goed waarom Ierland neutraal gebly het. My eie land het dit baie amper gedoen. In Ierland se geval was dit vir my - geoordeel volgens ons eie beproewinge en ons eie volk se reaksies - heel duidelik dat hy dit moes doen."

Die stryd onder Afrikaners oor die Nazisme

Die skeuring in die Verenigde Party en die wegbreek van Hertzog en sy volgelinge, het die Afrikanernasionaliste nie onmiddellik verenig nie; daar het eerder 'n skerper verdeling ontstaan. In Januarie 1940 het die Malan- en die Hertzog-ondersteuners in 'n party saamgesmelt wat die Herenigde Nasionale of Volksparty genoem is, met Hertzog as leier. Terwyl Malan Hertzog geesdriftig gesteun het, het die radikaler Nasionaliste in die Noorde Hertzog ondermyn. Hertzog was lou teenoor die idee van 'n republiek en het onomwonde die planne verwerp wat die ronde gedoen het om Engels as taal en miskien selfs Engelssprekendes in 'n onderhorige posisie te dwing. Nadat sake by 'n partykongres op die spits gedryf is, het Hertzog verklaar: "Ek wil nie deel hê aan 'n politieke party wat nie absolute gelykheid aan engels- en Afrikaanssprekendes gee nie."

Hertzog het hom aan die party onttrek en Malan het leier geword. Dertien van Hertzog se volgelinge in die Parlement het nou die Afrikanerparty onder leiding van N.C. Havenga, Hertzog se lojaalste bondgenoot, gestig. Hertzog het militante aksie teen die oorlogspoging ontmoedig. Toe Anton Rupert en ander studente hom kom raadpleeg oor hul politieke opsies, het hy hulle aangeraai om hul studie voort te sit. Die Afrikaners sou ná die oorlog weer aan die bewind wees, het hy gesê, en wel deur middel van die stembus.

In sy laaste jare was Hertzog 'n ontnugterde en verbitterde man. Voor sy dood in 1942 het hy gesê dat die Nasionaal-sosialisme se ware karakter nouer aansluit by die geestelike en godsdienstige beskouinge van die Afrikanervolk as die bestaande Westminster-stelsel, wat dit moontlik gemaak het dat teen die kiesers se wil oorlog verklaar word. Wat hy eintlik wou hê, was 'n demokrasie volgens die model van die ou Vrystaatse republiek.

Hertzog se standpunte het getoon hoe groot die krisis vir die demokrasie was, asook die aanvanklike aantrekkingskrag van die Nazi-model. In 1933 het Louis Weichardt die Suid-Afrikaanse Christelike Nasionaal-sosialistiese beweging gestig, bekend as die "Gryshemde". Die inspirasie was die groei van 'n gewelddadige anti-Semitisme en die boewery van Hitler se stormtroepe, die "Bruinhemde". Hoewel die ledetal van die beweging nooit groter as tweeduisend was nie, het dit druk op die NP se regtervleuel uitgeoefen. Die NP is egter nie op betekenisvolle wyse deur die verregses beïnvloed in die rassebeleid wat hy aan die formuleer was nie.

Gedurende die vroeë oorlogsjare was daar twee ander organisasies wat openlik pro-Duits en pro-diktatuur was. Die een was die Nuwe Orde wat in 1940 gestig is. Die leier was Oswald Pirow, 'n lid van Hertzog se kabinet voor die 1939-skeuring. In 1942 was 17 van die parlementslede, wat almal in 1938 verkies is as VP-kandidate, deel van die partykoukus. Dit het 'n Afrikaanse variant van die Nasionaal-sosialisme bepleit.

Maar die belangrikste anti-oorlogsbeweging was die para-militêre Ossewa-Brandwag (OB).

Nl. 392

Dit is gestig om die "ossewagees" van die 1938-vierings voort te sit. In 1941 het dr. J.F.J. (Hans) van Rensburg, vroeër administrateur van die Vrystaat, as leier oorgeneem. Hy was 'n vurige ondersteuner van Nazi-Duitsland en het hom self beskou as 'n man van aksie eerder as 'n "kulturle vuurvreter".

As leir van die OB het Van Rensburg 'n veldtog begin ten gunste van 'n "vrye Afrikanerrepubliek gegrondves op Nasionaal-sosialistiese fondamente". Hy het die parlementêre politiek verwerp en daarop aanspraak gemaak dat die OB, as die enigste massa-beweging, alle Afrikaners verteenwoordig. Die beweging het sy hoop gevestig op 'n oorwinning vir die Spilmoondhede en Duitse hulp vir die vestiging van 'n Afrikaner-republiek. Die OB het sy eie afdeling stormtroepe gehad, genaamd die Stormjaers, wat deur sabsotasie en enkele sluipmoorde die oorlogspoging in die wiele probeer ry het.

As 'n kwasi-militêre organisasie het die OB sterk gegroei weens die groot ontnugtering van Afrikaners met die "Brits-Joodse demokrasie". Die beweging se ledetal ils deur sommige selfs op 100 000 geskat. Maar dit het gou die voorwerp van spot geword oor die pogings om geesdrif aan te wakker deur militêre oefeninge en die toekenning van militêre range.

Die steun vir die Nazi-ideologie het van plek tot plek verskil. In die Kaapprovinsie was dit nooit sterk nie, maar in Transvaal het verskeie vooraanstaande lede in akademiese kringe hulle daarmee vereenselwig. A.L. Geyer, redakteur van Die Burger, het Nico Diederichs - van 1938 tot 1944 voorsitter van die Broederbond se uitvoerende raad - as 'n deurtrapte Nazi bestempel. L.J. du Plessis, miskien die invloedrykste van al die Broederbondlede, H.G. Stoker, vooraanstaande Calvinistiese denker, en Piet Meyer, adjunk-sekretaris van die Broederbond het op 'n stadium almal artikels en boeke gepublilseer waarin hulle denke gepropageer het wat naby die Nazi-ideologie was.

Onder die sterk leiding van Malan het die NP die parlementêre politiek en die stembus voorgestaan as die enigste aanvaarbare metode om die party se nasionale strewes te verwesenlik. Dit het alle gewelddadige verset teen die oorlogspoging afgekeur. Maar Malan het ook by omtrent elke geleentheid verklaar dat Suid-Afrika hom aan die oorlog moet onttrek. Die regering het aangeneem dat die meeste Afrikaners teen die oorlog gekant is en het die nodige voorsorg getref, onder meer grootskaalse internering.

'n Oorlogsmaatreël wat groot ontsteltenis in die anti-oorlogkamp veroorsaak het, was die bevel dat alle burgerlikes - ook boere - hul wapens en ammunisie moet inlewer. Malan het geprotesteer: "Die Afrikaner word in sy eie land, wat hy vir die blanke beskawing en ander bevolkingselemente veilig gemaak het, as 'n vreemdeling behandel en ontwapen." Daar was ook ontsteltenis oor die regeringsbevel dat staatsamaptenare en onderwysers uuit die OB moet bedank en van 1944 ook uit die Broederbond.

Maar die mees gehate maatreël was internering sonder verhoor wat op groot skaal gebruik is. John Vorster, 'n jong regsgeleerde, was onder die geïnterneerdes. In 1944 het J.G. Strijdom in die Parlement verklaar dat die regering geen reg het om vrede tussen die twee blanke gemeenskappe te bepleit nie as die Afrikaners altyd onderdruk en verneder word wanneer Engeland in 'n oorlog is.

Baie Afrikaners het gebrandmerk gevoel oor die wyse waarop die regering sy verskeidenheid van spesiale permitte uitgereik het, veral die permit vir petrol. Almal moes byvoorbeeld 'n petrolpermit kry, of hulle nou ook die oorlog gesteun of teengestaan het.

Bl. 393

Wanneer Afrikaners nie so permit gekry het nie, het hulle dit aan politieke viktimisasie toegeskryf, wat dit soms was.

Die Smuts-regering kon nie anders nie as om die polisie- en weermag en die staatsdiens vir die oorlogspoging aan te wend. Mettertyd het die staatsdiens gepolitiseer geraak en is die onderskeid tussen die regerende party en die staatsdiens heeltemal uitgewis. Bewys daarvan was die optrede van die direkteur van militêre intelligensie, wat sy verslae oor NP-leiers aan die sekretaris van die VP beskikbaar gestel het.

Ook in ander opsigte het die oorlogspoging wrywing veroorsaak. Die regering het die versekering gegee dat niemand opgeroep sou word om oorsee of oorkant die ewenaar te veg nie. Die feit was egter dat dié wat vrywillig sulke militêre diens gedoen het, 'n hoogs sigbare oranje lussie op hul skouer gedra het. Dit het 'n politieke kenteken geword deurdat een deel van die wit bevolking  die soldaat met die lussie as lojaal beskou het en die ander deel as dislojaal. Binne die weermag het diegene wat geweier het om te gaan veg, 'n onaangename tyd deurgemaak. Talle het hulle verplig gevoel om te bedank en het daarna moeilik werk in die staatsdiens gekry.

Ook ander strydwekkende oorlogsmaatreëls het die gemoedere gaande gemaak. Omdat 'n groot aantal staatsamptenare by die leër aangesluit het, het die regering die tweetaligheidsvereistes vir nuwe aanstellings verslap. Baie het bevordering ontvang hoewel hulle slegs Engels kon praat.

Sekuriteitsoorwegings het daartoe gelei dat 'n groot aantal Afrikaners wat van anti-oorlogsgevoelens verdink is, dikwels net op grond van 'n verklikker se bewering bevordering ontsê is. So wyd verspreid was die klagtes van Afrikaners by die spoorweë oor hierdie praktyk, dat die NP-regering in 1948 'n griewekommissie aangestel het om ondersoek in te stel. Altesame 2 8875 spoorwegwerkers het getuig dat aan hulle - hoewel hulle hul glad nie aan anti-oorlogsbedrywighede skuldig gemaak het nie - promosie geweier is na poste wat gewissel van klerk tot hoofbestuurder.

'n Sleutelvraag in die vroeë jare was of die NP steun sou verloor teen die OB en die Nuwe Orde en of dit 'n Nazi-gesinde party sou word. 'n Onlangse studie deur Patrick Furlong betoog dat die NP, OB en NO as bewegings 'n "interconnected web" gevorm het en dat die nasionalistiese beweging, veral dié in Transvaal, 'n samevoegssel was van "authoritarian and populist ingredients, reminiscent, although never an exact facsimile of, European fascism".

Sommige NP-leiers se toesprake in die vroeë oorlogsjare was inderdaad kwalik bedekte aanvalle op die demokrasie en die regte van Engelssprekendes. Malan het in die eerste oorlogsjare 'n dokument vir bespreking binne die party aanvaar wat aan ekstramisme gegrens het. Dit was 'n besprekingsdokument, opgestel deur Hendrik Verwoerd, wat 'n Christelik-nasionale republiek bepleit het waarin Afrikaans die eerste ampstaal sou wees en Engels 'n tweede of aanvullende ampstaal.

Maar die poging om die NP-leiers as proto-Fasciste uit te beeld, is nie oortuigend nie. Dit berus op 'n swak begrip van sowel die Nazisme as die Afrikanernasionalisme. Die Fasciste en ander radikale regse bewegings in Europa is aangedryf deur 'n enkele ideologie, blinde gehoorsaamheid aan 'n leier, ekstremistiese nasionalisme en 'n obsessie met die onmiddellike en direkte aanwending van geweld.

Dit is vergesog om die NP as Fascisties of proto-Fascisties in  hierdie sin te bestempel.

Bl. 394

Malan en J.G. Strijdom in Transvaal is soos ander NP-leiers demokraties verkies en kon uitgestem word. Die party self was verdeeld oor 'n sleutelvraagstuk soos die republiek. Apartheid het nog nie een van die pilare van party-eenheid geword nie. Vogelinge was vry om hul menings uit te spreek en om die party te verlaat. Hulle kon selfs die party of die leiers skerp veroordeel sonder dat hulle vir hul lewe hoef te vrees. Omtrent sonder uitsondering het die NP-leiers die pogings van die OB om die para-militêre styl van die Fascisme na te boots, afstootlik gevind. Die meeste NP-leiers het die gebruik van geweld verwerp. Daar is geen oortuigende getuienis dat die radikale regse bewegings soos die OB of die Gryshemde enigiets meer as 'n vlietende impak op die Nasionale beweging of op apartheid as ideologie gehad het.

Vroeg in 1942 het Malan en die ander NP-leiers, ook Verwoerd en Strijdom, die Nasionaal-sosialisme onvoorwaardelik verwerp as 'n vreemde produk wat van buite in Suid-Afrika ingevoer is. Sonder uitsondering het hulle die parlementêre demokrasie onderskryf. Hulle het sabotasie deur die Stormjaers, die OB se para-militêre vleuel, veroordeel. Malan het dikwels gesê die party is die moeder en die gebruik van die stemreg die enigste regte politieke weg.

Die vernaamste Afrikaanse kerke het 'n soortgelyke standpunt uitgespreek. Die invloedryke Kerkbode, amptelike blad van die NG Kerk, het in Maart 1941 verklaar dat hy hom nie kan vereenselwig met enige vorm van oorheersing soos in die totalitêre stelsels in Europa gebeur nie. so 'n stelsel ondermyn die kerk se vryheid.

In 1945, 'n dag nadat Duitsland oorgegee het, het die dagblad The Star, wat die regering en die oorlog gesteun het, verklaar: "We do not suppose Dr Malan and his disciples were ever Nazis at heart, or that they had any real affection for the Hitler regime." Die NP was pro-Duits en anti-Brits. Wat dit wou hê, was nie soseer 'n Duitse oorwinning nie, as dat Brittanje nie beslissend moet wen nie.

Tussen 1944 en 1948 het Malan op 'n baie vernuftige manier die partye aan die NP se regterflank uitoorlê en hulle verpletterend verslaan. In 1941 is NP-lede gelas om uit die OB te bedank. Steun vir die OB en die Nuwe Orde het nou vinnig afgeneem. In die verkiesing van 1943 het die NP genoeg vertroue gehad om 'n verkiesingspakt met hierdie organisasies van die hand te wys.

Die verkiesing in 1943 is oor die kwessie van die oorlog gevoer. Smuts het sy volgelinge gevra om 'n mandaat om die oorlog voort te sit en te wen ten einde die wêreld vir die demokrasie veilig te maak. Die NP het die kiesers gevra om die imperialisme van die VP te verwerp en om hulle vir 'n demokrasie vir Suid-Afrikaanse blankes te verklaar. Die VP het 89 en die NP 43 setels verower. Baie Afrikanerkiesers het buite stemming gebly, maar Malan kon daarop aanspraak maak dat die opposisie uiteindelik weer gekonsolideer is. Die Burger, die party se invloedrykste ondersteuner, het die betekenis van hierdie verkiesing in 'n enkele sin saamgevat: Daar is geen ander model as die stembus vir ons aspirasies nie. In 1945 het die steun vir OB dermate gedaal dat die Broederbond se uitvoerende raad die NP aanbeveel het as die enigste party wat die Afrikaners kan help om hul politieke aspirasies te verwesenlik. So 'n aanbeveling sou nie maklik voor 1943 gedoen kon gewees het nie. Een van die belangrikste politieke gevegte van die vroeë jare het dus op 'n beslissende oorwinning uitgeloop vir die NP wat 'n demokrasie verkies het.

Bl. 395

Ná die verkiesing in 1943 was die NP nie meer 'n klein partytjie nie, maar het dit die status van 'n alternatiewe regering gekry. In 1938 se verkiesing het 40% van die Afrikaners na berekening vir die VP gestem; in 1943 was dit ongeveer 30%. Indien die VP nog tien persentasiepunte Afrikanersteun sou verloor, sou die NP op die rand van 'n oorwinning staan.

Malan het nou begin om die vrese van die Engelssprekendes te besweer deur daarop klem te lê dat albei blanke gemeenskappe gelyke regte ten opsigte van taal en kultuur moet hê. Hy het hulle daarop gewys dat die blanke gemenskappe ná die oorlog moet saamleef.

Die konsolidasie van nasionale eenheid

Die Broederbond, wat sy bes gedoen het om eenheid onder die nasiionaliste te bewerkstellig, het in die vroeë oorlogsjare geweier om tussen die NP en die OB te kies. Dit het min bygedra tot die opstel van apartheid. In 1934 het die uitvoerende raad 'n komitee aangewys wat 'n dokument opgestel het waarin die "algehele massa-segregasie vir swartes" bepleit is. Daar is gevra dat gebiede aangewys moet word waar swartes hulle self ooreenkomstig hul tradisie kon regeer. Dit kort dokument het nie betekenisvol verskil van die segregasie wat die vernaamste party bepleit het nie. Daarna het die bond 'n ander komitee aangestel om die rassekwessie te ondersoek, maar dié kon nie betekenisvolle vooruitgang rapporteer nie.

Vooraanstaande lede van die Broederbond het die vergaderings bygewoon van 'n "Afrikaanse Bond vir Rassestudie" wat in 1935 gestig is, maar dit het gou doodgeloop. By die Bondsraad van die AB in 1938 was die gevoel dat in die lig van die bestaande blanke konsensus oor naturellebeleid die bond op beleid teenoor kleurlinge moet konsentreer. Die uitvoerende raad het 'n komitee gevra om 'n organisasie te identifiseer wat die rasseprobleem namens die Afrikanerdom kon bestudeer. Stals skryf in sy werk oor die Broederbond dat van hierdie versoek niks gekom het nie. In 1940 het L.J. du Plessis, een van die invloedrykste Broederbond-akademici, nie die woord apartheid in 'n artikel oor die naturellevraagstuk gebruik nie. Hy het segregasie 'n nasionale beleid genoem wat nog nie ten volle uitgevoer is nie omdat die Afrikanerdom nog nie die kans daarvoor gehad het nie.

In 1944 het die Broederbond die leiding geneem om 'n konferensie oor die rassekwessie te belê. Hier is breë riglyne aan die hand gedoen, maar geen praktiese beleid geformuleer nie. Twee en 'n half jaar later het 'n plan nog nie uitgekristalliseer nie en het van die vooraanstaande lede moedeloos begin word. Albert Hertzog het in Augustus 1946 in die bond se uitvoerende raad uitgeroep dat die Afrikanervolk sonder inspirasie is en dat geen krag van hom kan uitgaan nie.

Waar die Broederbond, met die onderwysers, lektore en predikante onder sy lede, op hierdie tydstip wel 'n rol begin speel het, was met die verkondiging van Christelik-nasionale onderwys (sien p.417). Maar oor die makro-rassebeleid het die bond geen duidelikheid gehad nie. By 'n konferensie van die bond in 1947 was daar diepgaande verskille oor sleutelaspekte van die rassebeleid. Die sprekers het hulle verplig gevoel om daarin te berus dat die swart mense lank deel sou bly van die blanke sosio-ekonomiese stelsel.

Bl. 396

Ná die vergadering het die bond se sekretaris, Ivan Lombard, die verrigtinge "neerdrukkend" genoem omdat geen oplossings voorgestel is vir die talle probleme wat geïdentfiseer is nie.

'n Mens kom tot die gevolgtrekking dat die Broederbond met die vroeë idees oor apartheid saamgestem en dit gesteun het, maar dat dit nie apartheid ontwikkel en geformuleer het nie. Anders as wat gewoonlik aanvaar word, is apartheid as ideologie en as plan hoofsaaklik in die Wes-Kaap ontwikkel deur mense wat nie lede van die Broederbond was nie. Dit was ook nie apartheid wat deurslaggewend was in die NP se oorwinning van 1948 nie, maar die omstrede oorlogsverklaring en die ontwrigting wat deur die oorlog meegebring is. Dit was die katalisator wat aan die NP die steun van 'n breë spektrum van Afrikaners gegee het, elkeen met sy eie bepaalde belange en begeertes: kultuurmense wat Afrikaans wou bevorder; boere wat werkers wou hê; sakelui wat kapitaal en kliënte gesoek het; werkers wat beskerming verlang het; en die Afrikaners in die algemeen wat vasbeslote was dat Suid-Afrika nie weer in een van Brittanje se oorloë moet beland nie. Die besef dat Suid-Afrika rede het om trotste wees dat dit teen die demoniese Hitler-regime geveg het, het eers veel later deurgebreek.

Bl. 397

--- --- ---

Hermann Giliomee het

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8