Koningin Victoria se Afrikaners

Die vestiging van 'n ryk

In 1822 skryf W.W. Bird, 'n Britse amptenaar getroud met 'n Afrikaanse vrou: "An Englishman, from the Orkneys to New South Wales, is the same unbending creature. He accommodates himself with difficulty to the manners of other countries and nothing can be right or proper that is not English, and to which he is unaccustomed." Die skouspelagtige opkoms van Brittanje as wêreldmag het by Britte in die kolonies die idee laat posvat dat die Britse manier van dinge doen verreweg die beste is. Dit sou ook die geval wees in die Kaapkolonie, wat Brittanje in 1806 weer beset het nadat dit tussen  1803 en 1806 deur die Bataafse bewind van Nederland bestuur is. Na 1806 se verowering was dit, anders as in 1795, Brittanje se voorneme om besit van die Kaap te behou omdat dit van groot strategiese waarde was as halfwegstasie op pad na Indië, die juweel van die Britse ryk.

In 1814 is die Kaap formeel aan Brittanje oorgedra kragtens die vredesverdrag wat tussen die strydende partye in Europa gesluit is. Die verbintenis tussen die Britse ryk en die kolonie aan die suidpunt van Afrika het lank geduur. Wit politici het in die eerste helfte van die twintigste eeu heftig oor die soewereiniteit van Suid-Afrika gestry en die term  ryk is deur statebond vervang, maar in 'n onlangse gesaghebbende studie van die Britse ryk verskyn 'n wêreldkaart waarin al die Britse imperiale gebiede teen 1939 rooi ingekleur is. Hierop is Suid-Afrika saam met 'n kwart van die wêreld rooi.

Die vestiging van Engelse kultuur en Britse setlaars

Al was die Kaap nie op sigself vir Brittanje belangrik nie, wou die nuwe heerser sy stempel daarop afdruk, veral in Kaapstad en die vernaamste dorpe. Dit het uitdrukking gevind in die bevordering van Engels as 'n "progressiewe taal van beskawing", en van Engelse kleredrag, argitektuur en sosiale etiket. In baie opsigte  was Engelse nasionalisme die oorspronklike nasionalisme in Suid-Afrika, waarop sowel Afrikaner- as Afrika-nasionalisme later sou reageer.

Reeds gedurende die eerste Britse besetting tussen 1795 en 1803 het sommige van die Britse heersers die burgers laat verstaan dat daar min in hul geskiedenis is waarop hulle trots kan wees. 'n Waarnemende goewerneur, generaal Francis Duncas, het die koloniste wreed, lafhartig en geslepe genoem. Selfs lady Anne Barnard, wat gesellig met die elite van die Kompanjiestryd verkeer het, het opgemerk dat "...a little parade...procures respect from the stupid heads." Met verwysing na hierdie gesindheid het J. Howison in 1834 oor sy landgenote geskryf: "They never have intercourse with foreigners without allowing them to perceive how thoroughly they despise them."

Vir die Kaapse burgers was dit moeilik om die Britse gevoel van meerderwaardigheid uit te daag. Diegene onder hulle wat ingelig was, het geweet dat die gemeenskap gesisoleerd, swak opgevoed en ver agter ontwikkelinge in Europa is. Die feit dat die Kaap so min militêre weerstand teen die Britse besettingsmag gebied het, het by die burgers  'n gevoel van onmag gewek, wat vererger is deur die feit dat hulle nou verowerdes onder 'n Britse outokrasie was.

In die anderhalwe eeu na die vestiging van 'n nedersetting het die kolonie bestendig vordering gemaak. In Kaapstad en op Stellenbosch en op die welvarendste wynplase waar daar elegante huise in die Kaaps-Hollandse styl met smaakvolle Kaapse meubels. Die kolonie was egter nie juis op die voorpunt van  ekonomiese en kulturele sukses nie. Daar was aan die Kaap geen eie koerante, tydskrifte, boeke, skilderye of uitvindings waarop geroem kan word nie.

Brittanje se besluit om in 1820 ongeveer 4,000 Britse setlaars na die Kaap te stuur, het nie net ten doel gehad om van die oortollige bevoking in Brittanje ontslae te raak nie, maar ook om die Kaap as kolonie 'n sterker Britse karakter te gee. Die setlaars was oor die algemeen arm, maar die meeste het tog meer vaardighede as die burgers gehad. Omtrent 'n derde was ambagslui en 'n tiende professionele mense. Hulle is omtrent almal in die Suurveld gevestig om as buffer teen Xhosa-invalle te dien. Binne tien jaar het die meeste die gebied verlaat en na dorpe en stede getrek.

Alhoewel die Brittanje wat die setlaars verlaat het nog ver van 'n populêre demokrasie was, was dit geen outokrasie nie. Die idee van individuele vryhede was teen die eerste dekades van die negentiende eeu reeds stewig gevestig. Die Engelssprekende setlaars aan die Kaap was nie bereid om die outkrasie wat veral in die eerste twee dekades van die Britse bewind bestaan het, net so te aanvaar nie. Hulle het ook hier op hul regte aangedring. In 1824 het John Fairbairn en Thomas Pringle 'n koerant, The South African Commercial Advertiser, gestig.

In dieselfde jaar het 'n Hollandse tydskrif, Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift, verskyn. Dit is geredigeer deur Abraham Faure, 'n predikant in Kaapstad. Fairbairn, Pringle en Faure het saam geveg teen die poging van goewerneur Somerset om 'n vrye pers te onderdruk, en teen 1827 was die stryd gewonne. Die pers het die reg gehad om oor politieke sake debat te voer en om oor regeringsoptrede verslag te doen en dit te kritiseer. 

Dit was die Britse setlaars wat die nuwe geleenthede die beste benut het nadat 'n veel vryer ekonomiese beleid ingevoer is. In die dorpe en stede het hulle die ambagslui en winkeliers geword. Saam met die Jode was hulle die smouse wat die binneland deurkruis het om met sowel boere as Xhosas op die grens handel te dryf. Dit was hulle wat eerste die potensiaal vir grootskaalse grondspekulasie raak gesien het, wat in die jare dertig die wolboerdery in die oostelike deel van die kolonie ingevoer het en wat die groot in- en uitvoerfirmas in Kaapstad en Port Elizabeth gestig het. Teen die einde van die eeu was die Afrikaners, selfs in die republieke, omtrent heeltemal afwesig as ondernemers in die nywerheid en as ambagslui.

Gedurende die tweede helfte van die eeu was Britte die ingenieurs van die paaie, brûe, passe, mynskagte en spoorweë. Britse en Joodse ondernemers het die gesofistikeerde nywerheids- en finansiële maatskappye gestig. Die verstedelikte Afrikaners het tot betreklik laat in die twintigste eeu 'n heel ondergeskikte rol in hierdie ekonomiese revolusie gespeel.

'n Verengelsingsbeleid

Nadat Brittanje in 1814 finaal beheer oor die Kaap gekry het, was die bewindshebbers gretig om die Kaap te "verbeter" en te "beskaaf". Een van die eerste stappe was 'n nuwe taalbeleid. In 1822 het die regering aangekondig dat Engels oor die volgende vyf jaar ingefaseer sou word as die taal van die regering en die howe.

Gedurende die 1820's het die Somerset-rereging ook geprobeer om die skole en die kerk te verengels. Die vrye regeringskole het onderwys met slegs Engels as voertaal aangebied. Die burgers was gretig om hul kinders Engels te laat leer, maar was daarteen gekant dat Hollands uitgedryf word. Hulle wou skole hê wat die kinders in albei tale onderrrig. Namate die Britse bewind stewiger gevestig geraak het, het die ouers se aandrang op Hollands afgeneem. Toe die Anteneaum (later die South African College en nog later die Universtiteit van Kaapstad) gestig is, het die ouers en die NG predikante nie omgegee dat die meeste van die leerkragte Engelse en Skotte was nie. Die predikante was egter ontsteld toe die Kollege godsdiensonderrig wou gee. Hulle was bevrees dat die jeug by 'n Engelse kerk sou aansluit.

Die Britse bewindhebbers het geweet dat die taalstryd in die kerk gewen of verloor sou word. Omdat hulle bewus was van die NG Kerk se belangrikheid het die Britte dit behou as 'n "established church", wat in feite 'n staatskerk was. Net soos die Kompanjie het dit jaarliks 'n groot bedrag aan die kerk betaal as salarisse en boukoste. Hulle het die reg behou om predikante in bepaalde gemeentes aan te stel en te verplaas. Lord Charles Somerset, wat in 1814 goewerneur geword het, het eers Hollandse predikante gesoek om die vakatures te vul, en toe hy nie daarin slaag nie, het hy hom tot Skotland gewend. Teen 1834 sou van die 22 NG predikante 12 Skotte wees.

Somerset wou hê dat die predikante in Kaapstad Engels gebruik. Hy het hulle daarop gewys dat vlotheid in die taal 'n vereiste is vir aanstelling as regeringsamptenaar. Die predikante het die verengelsing van die kerk verwerp en J.A. Turger, hoofregter, het die goewerneur in 1824 aangeraai om versigtig te trap. Slegs waneer die burgers vlot in Engels is, sou die verreiste toegepas kon word sonder dat dit as 'n vernedering beskou word.

Die eerste sinode van die NG Kerk, in 1824, het 'n versoek van die Skotse predikante om ook in Engels te preek, verwerp. Die druk het egter voortgeduur en in 1834 was daar 'n soortgelyke versoek voor die sinode. De Zuid-Afrikaan het emosioneel gereageer; "Lede van die Sinode...deur die taal van u godsdiens te verander, doen julle die eerste stap om u geloof en godsdiens te versaak."

'n Taal en kultuur onder bedreiging

Op sekulêre gebied het Engels vining veld gewen. In 1828 is die kolleges van landdros en heemrade afgeskaf en vervang deur magistrate en kommissarisse, wat hoofsaaklik Engels as eerste taal gepraat het. In Kaapstad is die munispale raad afgeskaf en in die plek daarvan het Engelssprekende trustees en kuratore gekom.

Engels het die vernaamste taal van die administrasie geword en al die senior amptenare het hule briewe in Engels geskryf. Dit was ook die vernaamste medium vir die openbare politieke debat. In 1828 het Piet Retief sy manifest waarin hy redes vir die trek uit die kolonie uiteensit, eers in 'n Engelse koerant gepubliseer.

Die Britte het nie te veel aan die regbspleging getorring nie. Baie van die regspleging het gebaseer gebly op dié  van die sewentiende- en agtiende-eeuse Nederland. Vroeg in die negentiende eeu het Nederland 'n nuwe regskode ingevoer, maar in Suid-Afrika het wat laer die Romeins-Hollandse reg genoem sou word tot die huidige tyd voortbestaan.

Regsgeleerdes soos Christoffel Brand, wat in Leiden gestudeer het, het 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die reg op die basis van Romeinse reg en presedente wat voor die Franse Revolusie in Nederland geskep is. Met verloop van tyd het die regstelsel in Suid-Afrika toenemend ook Engelse handels- en versekeringsreg geïnkorporeer.

Engels is van 1828 af as die enigste amptelike verslagtaal in die howe gebruik. Getuienis en kennis van Engels was een van die vernaamste vereiste vir jurielede. Na 1834 kon 'n jurielid gediskwalifiseer word as sy Engels gebrekkig was.

Dit is merkwaardig hoe gelate baie burgers dit aanvaar het. Daar is verskeie verklarings hiervoor. As mense wat baie ingestel was op die handel, was die Kaapse Afrikaners geneig om die taal as instrument  eerder as die simbool van hul identiteit te beskou. Dit was daarby vir baie Afrikaners voordelig om die nuwe heersers ter wille te wees. Baie van die ou amptenare van die Kompanjie het hul regeringsposte behou en hul lewenspeil het verbeter. 'n Klein lagie van die Kaapse elite en in die besonder seekere families, soos die Cloetes en Van der Byls, het doelbewus besluit om te verengels. Hulle het bekend geword as die "Cape Dutch" of "Anglomen". In 1831 het Henry Cloete verklaar: "The Cape Dutch are essentially English. Their habits, their intermarriage, their general improvements, all exhibit and prove this fact."

Op die boerebevolking het Britse imperialisme 'n heelwat swakker uitwerking gehad. Die meeste wyn- en koringboere het met rasse skrede vooruitgegaan, maar die materiële sukses het min laat verengels. In die binneland agter die eerste bergreekse het die boere afgesonder geleef. Hulle was ontsteld oor die regering se afskaffing van die kolleges van landdros en heemrade in 1828, maar daarby het dit gebly. Apatie en afsydigheid eerder as intense afkeer van die Britse gesag het die houding van die meeste boere in 1830 gekenmerk.

Daar was ook psigologiese verklarings hiervoor. Thomas Philipps, 'n Britse setlaar, het geglo dat die instelling van slawerny baie negatief op die burgers ingewerk het. Hy het geskryf: "As to the Dutch, with very few exceptions, they are so accustomed to obey that they tremble at a shadow... One of the very worst effects of the system of slavery is predominant in them, in proportion as they tyrannize over their domestic slaves, in the same ratio they degradingly crouch at the feet of their rulers."

Andries Stockenstrom was die mees senior amptenaar wat hom self as 'n Afrikaner geidentifiseer het. Hy was onder meer lid van die goewerneur se adviesraad, wat in 1825 ingestel is. Hy het hom bekommer oor die Afrikaners se "apatiese instemming" met alles wat die regering doen. Dit het die indruk gelaat dat daar  "met die Kaapse koloniste enigiets gedoen kan word omdat hulle in alles berus". Hy het by sy mede-Afrikaners daarop aangedring dat hulle hulle teen "elke belediging of benadeling" moet verset. Die feit dat iemand toevallig mag besit, gee hom nie die reg om "oor sy medemense baas te speel asof hulle 'n minderwaardige spesie is wat net geskep is om te sidder wanneer hy frons nie".

Maar die Britse amptenare en reisigers was nie al mense wat die Afrikaners gedefinieer en beskryf het nie. Ander Britte het hul eie opvattings gevorm. Die Britse setlaars aan die oosgrens het die probleem van die grensboere sekerlik beter verstaan as die amptenare. Hulle moes self sukkel om arbeid in die hande te kry en hul persoonlike veiligheid te verseker. Die opgevoede setlaar Thomas Pringle het sy Afrikanerbure as ongekultiveerd en bevooroordeeld teen die Khoi-Khois beskou, maar hulle ook beskryf as beskaaf, geoedgeaard en vernuftig in die handel.

Die Britse professionele en sakelui in Kaapstad het gegeprobeer om goeie verhoudinge met hul eweknieë anderkant die taalgrens aan te knoop, maar hulle het altyd "amalgamasie" bepleit met die veronderstelling dat die nuwe gemeenskap wat sou ontstaan hoofsaaklik 'n Engelse kultuurkarakter sou hê. Dit was in hierdie gees dat Fairbairn se South African Commercial Advertiser 'n pleidooi gelewer het vir "an end to the national distinctions and loyalties" en vir die "cordial and complete amalgamation of the Dutch and English colonists which is so...essential to the future interests and well-being of both."

Die soeke na 'n nuwe identiteit

Die Gerformeerde godsdiens en die Hollandse taal was die hoeksteen van die burgers se kulturele erfenis.  Die Kompanjie het dit van die vroegste dae van die volksplanting beklemtoon en veral die kerk het daaraan vasgehou. Teen die 1820's het die prentjie radikaal verander. Hollands was nie meer die taal van die regering in Kaapstad en die plattelandse dorpe nie. Evangelisme, wat die klem meer op die geloofservaring as die leer plaas, sou weldrae in die kerk sterk na vore kom en soms dreig om die verkondiging van die leer te vervang. Die kerk sou later swig voor die druk om Engelse dienste in te voer.

Nietemin sou die kerk, saam met die koerante en tydskrifte, die vernaamste bolwerk teen die druk van die Engelse kultuur en "amalgamasie" wees. Wat vandag 'n volks- of etniese identiteit genoem word, het in die negentiende eeu bekend gestaan as "nasionaliteit" en soms ook as "ras". Dit was met die bevordering van 'n bepaalde nasionaliteit dat ds. Faure hom van 1824 besig gehou het in sy Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift.

Hy wou hê dat die burgers lojale Britse onderdane bly, maar hulle terselfdertyd met hul eie geskiedenis en kultuur verneenselweg. Artikels oor Nederlandse heldemoed beklemtoon 'n emosionele band met die stamland eerder as Engeland. Die blad beeld die stigting van die Kaapse volksplanting in 1652 as 'n daad met groot godsienstige en historiese betekenis. Dit het Jan van Riebeeck se dagboek in aflewerings gepubliseer, en sowel die kommandeur as die eerste vryburgers word geskets as vroom mense besiel met die missie om die evangelie te versprei.

'n Ander toon is te bespeur in die eerste Hollandse koerant, De Zuid-Afrikaan, wat op 9 April 1830 die eerste keer verkyn. Die blad bepleit toenadering tussen die twee wit gemeenskappe en hoop dat die naam Afrikaner daarvaoor inslag sal vind indien 'n nuwe inklusiewe gemeenskap ontstaan. De Zuid-Afrikaan gebruik die terme Afrikaner en Suid-Afrikaner feitlik as wisselvorme. "Met die naam Zuid-Afrikaan hys ons 'n banier waaronder alle koloniste, sowel die ou koloniste as die nuwes, hulle kan skaar. Almal wat in die land woon en daaruit 'n bestaan put, is Afrikaners...Almal wat die land aanval, moet streng deur alle Afrikaners, sowel Engelse as Hollanders, bejeën word." Die verwysing na "koloniste" kom daarop neer dat bruin en swart mense nie as Afrikaners beskou word nie.

Twee sake het groot wrywing tussen die Afrikaners en hul Engelssprekende landgenote gewek. Die een was die manier waarop slawerny afgeskaf moes word. Daarvoor het Christoffel Brand, later redakteur van De Zuid-Afrikaan, en Fairbairn skerp gebots.

Brand het in 1820 in Leiden gepromoveer op 'n doktorale proefskrif waarin hy argumenteer dat die kolonies "dieselfde burgerrregte, dieselfde wette, instellings en voorregte" as die burgers in die hoofstad van die koloniale moondheid moet hê. Daar is algmeen aanvaar dat selgs die feit dat die proefskrif in Latyn geskryf is die goewerneur beweeg het om hom nie by sy terugkoms in Kaapstad in hegtenis te laat neem nie.

Die ander twispunt was die Groot Trek. Fairbairn het in 1837 geskryf dat Piet Retief en sy mense gelas moet word om terug te kom of anders die gevaar loop om voor die voet doodgeskiet word. Die Kaapse Afrikaners was geneig om krities oor die trek te wees, maar het tog ook gevoelens van simpatie en solidariteit gehad. Die trekkers se oorwinning oor Dingane se mag by Bloedrivier in 1838 het aan Brand groot vreugde verskaf. Hy het aan Andries Pretorius geskryf: "Die manmoedigheid en dapperheid van u en u manskappe het by die geleentheid uitgeblink en die wêreld sal met agting en eerbied van die naam Afrikaanse Boer hoor."

In 1837 het hy met 'n sekere mate van wrewel in 'n Engelse tydskrif geskryf: "England has taken from the old colonists of the Cape everything that was dear to them: their country, their laws, their customs, their slaves, yes even their mother tongue." Die Hollandse koloniste het alles in hul vermoë gedoen om te bewys dat hulle Brits is, maar dit was nie genoeg nie. Hy vervolg: "Their conquerers had continually worked to remind them that they were Hollanders."

Maar teen die einde van die 1830's was daar veel minder wrywing tussen die twee wit gemeenskappe, verpersoonlik deur die twis tussen Brand en Fairbairn. Albei gemeenskappe het hard geprobeer om die Britse parlement te oortuig dat hul onderlinge konflikte tot die verlede behoort en dat die tyd ryp is vir 'n wetgwende vergadering vir die kolonie. Brand se benadering het begin verander. In 1841 het hy beskryf dat die twee gemeenskappe moet verenig en dat hulle moet saamstaan oor openbare aangeleenthede. Iets meer as tien jaar later het Brand sir Christoffel Brand geword.

Die ideologie van vooruitgang en sy slagoffers

Die Kaapse Afrikaners het die spanning van hul dubbele politieke persoonlikheid - lojale Britse onderdane en tog ook nie Britte nie - probeer versoen deur die fokus van hul lojaliteit koningin Victoria te maak. Sy het die troon in 1837 bestyg as 'n mesie van 18 en is 64 jaar later oorlede. In haar eerste 25 jaar op die troon was die Britse kolonies sekondêr in die Britte se politieke beskouing. Toenemend het die ryk egter 'n sentrale plek begin inneem, nie onder die Britte self nie, maar onder die onderdane in die kolonies.

Nie net Britte nie maar baie mense oor die hele wêreld het die Britse ryk beskou as die groot mag wat ekonomiese en politieke vooruitgang en vrede aan die wêreld bring, wat mense bekeer en beskaaf en wat agtergeblewe gemeenskappe ophef en ontwikkel deur aan hulle spoorweë, paaie en onderwys - en ook die Engelse taal en kultuur - te bring. Die mense wat die nuwe sekulêre godsdiens van vooruitgang verkondig het, was dikwels oortuigde Christene, en hulle het alle vorme van bygeloof en voooroordeel verwerp. Na hulle mening kon mense met die nuwe kennis wat deur wetenskaplike navorsing beskikbaar gestel is, die samelewing en die maatskaplike instellings rasioneel herorganiseer met die oog op groter geluk en welsyn vir almal.

In Britse oë was vryhandel 'n belangrike deel van die imperiale beleid en ideologie. Volgens die ideologie van vooruitgang deur vryhandel het die onsigbare hand van die mark harmonie veroorsaak deur mense aan te spoor om hul eie belang na te streef en hulle laat vergeet van hul lojaliteit aan stam of nasionaliteit. Die Afrikaners was nie ondersteuners van vryhandel nie. Wat hulle aangetrek het, was Victoria se klem op die Christelike godsdiens, konserwatiewe sedes, morele plig en ordelikheid. Gedurende die tweede helfte van koningin Victoria se regering het die Kaapse Afrikaners haar toenemend beskou as 'n soort superskeidsregter wat sal sorg dat Brittanje aan sy beskawingsopdrag getrou is en dat dit nie die wit mense in suid-afrika as 'n klein gemeenskap afknou nie.

Tussen 1830 en 1870 was ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl feitlik die enigste mens wat daadwerklik teen die Britse evangelie van vooruitgang en verengelsing teenstand gebied het. Hy het voor 1830 twaalf jaar lank in Nederland gestudeer en was diep geskok oor die toestand van georganiseerde Christelike godsdiens. Daar het 'n liberale teologie ontwikkel wat groot klem op rasionaliteit gelê het. Dit het die letterlike vertolking van die Bybel veral ten opsigte van die erfsonde en wonderwerke betwis en ook bedenkinge uitgespreek oor die goddelike aard van Christus en die Heilige Gees.

Van der Lingen het sterk onder die invloed gekom van die konserwatiewe Réveilbeweging in Nederland, wat antirevolusionêr was en gekant teen die rasionele kritiek van die kerk se leerstellinge. Daar het 'n soort konserwatiewe herlewing plaasgevind wat 'n terugkeer tot die suiwer gereformeerde geloof en Calvinistiese beginsels vooropgestel het. Met sy terugkeer na die Kaap in 1830 was Van der Lingen vuur en vlam om hierdie antirevolusionêre en antiliberale beginsels in te voer.

Volgens hom kon die Britse ryk van die negentiende eeu nie vergelyk word met die glorie van die sewentiende-eeuse Nederlandse ryk nie, wat ook die nedersetting aan die Kaap gestig het. Hy het geglo dat hierdie ryk nie in Nederland self herstel kon word nie, omdat sekularisasie te ver gevorder het. Aan die Kaap moet die herlewing van die Hollandse mag en kultuur geskied, het hy geglo. Dit is die Nuwe Jerusalem, die Beloofde Land.

Hy was so belewe soo elke Victoriaan wat besiel was met sy kultuur. Daar was ongeveer tienduisend boeke in sy private biblioteek - 'n kwart van die aantal boeke destyds in die Suid-Afrikaanse biblioteek. Hy het ook 30,000 sigare van hoë kwaliteit nagelaat.

Die Cape Argus het sy voorkoms op sinodale vergaderings as volg beskryf: "[His] blanched face, grey locks, velvet skull-cap, and lappet dropping from the shoulders down the back, made one imagine that one of the members of the Synod of Dordt [of 1618] itself had made its reappearance on earth."

Van der Lingen mag wel na 'n historiese  relikwie gelyk het, maar hy kon goed insien dat die beleid van vryhandel vir baie boere rampspoedig is. Boere se beleggings in die uitbreiding van hul wingerde en die aankoop van nog slawe het 'n groot terugslag ondervind deurdat die voorkeurtarief van Kaapse wyne op die Britse mark afgeskaf is en planne boonop bekend geraak het om slawerny te beëindig. Daarna het die onbevredigende uitbetaal van kompensasie vir slawe baie eienaars skade laat ly.

Van der Lingen het nie net die idee van vooruitgang aangeval nie, maar ook die liberale teologie. Sy vernaamste vyande was liberale Hollanders soos dr. A.N. Changuion, wat sy eie instituut in kaapstad gestig het en sy liberale opvattings in De Zuid-Afrikaan verkondig het. Van der Lingen het ook die demokratiese gees wat in Europa vaardig was as 'n bedreiding beskou. Hy het die revolusies van 1848 in Europa aangeval.

Sy vernaamste teiken was die Britse imperialisme met die kulturele en materiële waardes wat daarmee gepaard gegaan het. Vir hom was die taal die persoon: Iemand wat 'n ander se taal na-aap, sal noodwendig ook daardie persoon se swakhede oorneem. Die Cape Argus het geskryf: "His keenest antipathy was towards the English language."

Van der Lingen het amper ewe veel energie bestee aan sy oorlog teen sekere manefestasies van vooruitgang. Gedurende die 1860's het hy en sy konserwatiewe Paarlse volgelinge 'n veldtog gevoer teen die treine wat op Sondae na die Paarl geloop het. Hy en sy volgelinge het hul optrede beskou as 'n groot konserwatiewe offensief teen die ongeloof. Hull het twee busmaatskappy gestig om aan die mense van die Paarl alternatiewe openbare vervoer te bied. Net om hierdie ondernemings aan die gang te hou, het sommige mense tot £ 500 elk bygedra.

Van der Lingen sou waarskynlik 'n gedeeltelike oorwinning behaal het as hy nie op 'n kritieke punt te veel gewaag het nie. Hy het sy volgelinge gevra om hierdie nuwe vervoermiddel, die trein, heeltemal te boikot totdat die kolonie die Gereformeerde waardestelsel onvoorwaardelik aanvaar. Sy vyande het hierdie geleentheid aangegryp om Van der LIngen se stryd teen vooruitgang bespotlik te maak.

Die viering van 'n volksplanting

In 1852 was die wit volksplanting twee eeue oud. Die viering van hierdie geleentheid was 'n oomblik van waarheid vir die kerk en vooraanstaande Afrikaners. Indien hulle 'n spesiale plek beklee as "die oorspronklike koloniste" was 6 April ook 'n spesiale dag, wat spesiale erkenning van die regering verg, Afrikanerleiers het die regering gevolglik gevra om dié dag tot 'n openbare vakansiedag te verklaar. Hulle wou ook hê dat dit 'n godsdienstige vakansiedag moet wees omdat die gereformeerde Christendom en die Europese vestiging aan die Kaap albei op daardie dag gebore is.

Die regering het die versoek geweier. In sy antwoord het die owerheid opgemerk dat dit die regering se plig is om alle kerkgenootskappe te bevorder en nie een uit te sonder nie. Vir die Kaapse Afrikaners het hierdie teenslag 'n soort identiteitskrisis geskep. Die leiers se taak was nou om in hul openbare redes gronde aan te voer waarom die dag spesiaal herdenk behoort te word.

Die tekste van die preke wat op 6 April 1852 deur Faure en Van der Linen gehou is, is die enigste bronne wat ons vandag het wat lig werp op die wyse waarop die geleentheid gevier is. Faure se preek was 'n geleerde referaat wat op historiese dokumente gegrond is. Dit was 'n ietwat desperate poging om sy kerk te verdedig teen die beskuldiging dat hy sy roeping om die evangelie aan die slawe en inheemse mense te bring, versaak het. Op die keper beskou, het die NG Kerk wel deeglik daarin geslaag om die koloniste onder sy vlerk te hou, maar sy sendingspogings was so karig dat hulle nie juis gevier kon word nie.

Van der Lingen se preek het 'n ander benadering gehad. Hy het die "nuwe koloniste" (die koloniste van Britse afkoms) gekritiseer omdat hulle nie kans gesien het om die vestiging van die Christendom aan die Kaap te vier nie. Een van sy ander teikens was die ou koloniste. Hulle verwaarloos die taal en gebruike van hul voorvaders. Hulle praat 'n vreemde taal krom en skeef en hulle laat hul kinders in 'n vreemde taal onderrig. Hulle verwaarloos die taal wat God aan hulle gegee het.

Net soos dié  van Faure was Van der Lingen se preek uit voeling met die werklikheid. Slegs 'n klein opgevoede groepie Afrikaners kon nog Hollands korrek en vlot praat. Die ander het almal die "volkstaal", wat later bekend geraak het as Afrikaans, gepraat. Die feesvierings van 1852 het geen besondere merk gelaat nie.

"Nie bereid om 'n Engelsman te word nie": die verset teen assimilasie

Toe verteenwoordigende regering in 1853 ingestel is, was daar ongeveer vyftig dorpe in die kolonie. Die kolonie het in die voorafgaande halfeeu aansienlik ontwikkel. Die ontwikkeling van die finansiële  stelsel, die besnoeiing van die koloniale skuld en die verbeterde openbare onderwys het baie tot die kolonie se ontwikkeling bygedra. Die aantal kinders op skool het gestyg van 4,000 in 1842 tot amper 20,000 in 1860.

Ongeveer 200,000 Afrikaners het teen die 1860's onder die hele suid-Afrika gewoon. Van hulle was 136,000 of ongeveer twee derdes in die Kaapkolonie. Sowat drie uit elke vier wit mense in die kolonie was Afrikaners. In die twee Boererepublieke was die verhouing nege uit tien.

WIT SUID-AFRIKAANSE BEVOLKING TEEN ONGEVEER 1860

                                             Wit Mense                 Afrikaners               Afrikaners as %

Kaapkolonie                         181,592                     136,000                  75%

Oranje-Vrystaat                      35,000                       30,000                  86%

Transvaal                               30,000                       27,000                  90%

Natal                                      15,000                         2,750                  20%

Baie van die dorpe het 'n hoofsaaklik Engelse karakter gehad, maar die Afrikanerkoloniste is glad nie uit die stedelike ekonomie in Kaapstad gedruk nie. Baie kapitaal het beskikbaar geword nadat kompensasie vir die vrygestelde slawe betaal is. In Kaapstad het Afrikaners op groot skaal in eiendom belê. J.A.H. Wicht het honderde huise in Kaapstad besit, wat hy uitgehuur het, sommige in 'n baie swak toestand. Hy het as 'n "slum landlord" bekend geraak.

Die stelsel van verteenwoordigende regering van 1854 tot 1872 was 'n teleurstelling. Alle besluite moes deur die Parlement goedgekeur word, maar die goewerneur, wat deur Brittanje aangestel is, het steeds die stelsel oorheers. Sy uitvoerende raad, wat ook in Londen benoem is, het hoofsaakliklik onafhanklik van die Parlement gefunksioneer. Die lede is betaal uit 'n begroting waaroor die Parlement geen beheer gehad het nie.

Van die begin was die Afrikaners se deelname aan die stelsel swak. Slegs 'n derde van die parlementslede was Afrikaners, alhoewel Afrikaners driekwart van die kieserkorps verteenwoordig het. Die Parlement het hoofsaaklik aan die belange van die Engelse gemeenskap aandag geskenk. Die vernaamste stryd was oor die aandrang van die oostelike distrikte op self-administrasie, 'n saak van weinig belang vir die Kaapse Afrikaners.

Iemand wat stemme gewerf het, het in 1869 vasgestel dat nege tiendes van die jong boere in sy distrik nie geregistreer het nie. Baie wat wel geregistreer het, het allerhande verskonings uitgedink waarom hulle nie stem nie. Die Parlement sou dan nie tot die kolonie se voordeel wees nie, hulle het gelieg of die veldkornet het hulle nie gewaarsku nie.

Toe J.H. ("Onze Jan") Hofmeyer Bloemfontein in 1883 besoek, het hy gesê dat anders as die Vrystaatse Afriakners die Kaapse Afrikaners huiwer om hulle vir die Parlement verkiesbaar te stel, omdat hull eEngels nie goed genoeg ken nie. As 'n AFrikaner in die Vrystaat voor die hof verskyn, word sy saak nie soos in die Kaap aangehoor in 'n taal wat hy nie verstaan nie. Op kommando word nie van hom verwag om soos in die Kaap te dien onder 'n man wat hy nie gekies het nie, wat nie sy taal ken nie, wat nie sy aard verstaan nie en wat hom minag.

Daar is geskat dat ongeveer driekwart van die Afrikaners in die Kaapkolonie gedurende die 1860's  nie Engels verstaan het nie. Desnieteenstaande het die gebruik van Engels as die openbare taal toegeneem. Kandidate vir die ongeveer 4,500 poste in die sentrale regering en plaaslike besture moes Engels vlot praat, maar nie Hollands nie. In die howe is alle Hollands in Engels getolk.

In 1865 het die regering besluit dat alle onderrig in staatskole in Engels moet plaasvind. Die paar uitsoekskole wat deur kinders van die wit elite bygewoon is, was bolwerke van die Engele kulturele invloed. Onder hulle was die Diocesan College in Kaapstad (gestig in 1849), St. Andrew's in Grahamstad (gestig in 1856), die Grey Institute in Port Ellizabeth (1856) en die Stellenbosch Gymnasium (1866). Maar selfs in skole op klein dorpies het Engelse en Skotse onderwysers net Engels met Afrikanerkinders gepraat. Kinders is selfs gstraf as hulle Hollands gepraat het. Die groot ideaal wat vir hulle voorgehou is, was om soos Engelse "ladies" en "gentlemen" op te tree.

Hollands as taal het wel nog sy plek gehad. Die meeste kerkdienste in die NG Kerk was Hollands. In Kaapstad was daar Hollandse koerante en buite Kaapstad was daar teen 1871 24 koerante wat gewoonlik twee keer per week verskyn het en wat van Hollands en Engels gebruik gemaak het.

Engelse koerante soos die Cape Argus en die Cape Monitor het 'n strydlustige kulturele imperialisme aan die dag gelê. Hulle het die engelse as "The dominant race" bestempel en dit betreur dat die goewerneur 'n beleid volg van "pleasing all parties". Na hul mening het Hollands min status onder die tale van Europa gehad en was dit aan die Kaap aan die kwyn. Afrikaans was in die woorde van die Cape Argus 'n "miserable bastard jargon" wat nie die naam taal enigsins werd is nie.

Hierdie koerante het besluit dat die burgers geen rede het om oor die moontlike verlies van hulle taal en nasionaliteit te treur nie. Volgens die Cape Argus sou  niks die kolonie se morele en maatskaplike vooruitgang meer bevorder nie as die vervanging van "Cape Dutch" deur die Engelse taal. Die Cape Argus het geskryf dat die toekomstige taal van die land Engels is en bygevoeg: "Let your language and your nationality go, and you need not fear for your religion."

Onder die Afrikaners het groot druk opgebou om Engels vlot te praat en die simbole van die Engelse nasionalisme - gedrag, kleredrag, etiket en taal - aan te neem. In 1839 het 'n artikel in die tydskrif Elpis verklaar dat ouers oor die algemeen baie graag wil hê hul kinders moet net in Engels opgevoed word. Die skrywer het darop gewys dat die siening selfs in die grensdistrikte is dat "beskawing" hand aan hand gaan met die oorheersende posisie van Engels as taal.

De Zuid-Afrikaan het probeer wal gooi. In 1857 het die blad erken dat daar 'n dag sal kom wanneer die Nederlandse nansionaliteit heeltemal verdwyn het. Die blad het dit nietemin betreur dat mense in 'n poging om "beskaaf" te wees hul voorvaders se taal, sedes en opvattings versaak. Dit sal uiteindelik daatoe lei dat hulle hul godsdiens ook prysgee.

Die Zuid-Afrikaan het dus assimilasie verwerp, maar wel gehoop dat in 'n samesmelting van die twee gemeenskappe iets van 'n besondere nasionaliteit sou oorbly. Die blad het vier jaar vroeër geskryf: "Dit is 'n dwaling, wat ons reeds baie kere bestry het, dat ons as Britse onderdane verplig is om die Britse nasioinaliteit ons eie te maak. Die koloniste van Hollandse oorsprong kan nie Engelsmanne word nie en moet ook nie Nederlanders wil wees nie." Dertig jaar later sou "Onze Jan" Hofmeyr verklaar dat die Afrikaner nie bereid is om sy nasionaliteit te laat vaar nie. Hy stel dit so: Die Afrikaner is wel bereid om 'n Britse onderdaan te bly en wel in die sin van onderworpenheid aan wet en gesag en gehegtheid aan orde. Hy is net so 'n lojale Britse onderdaan as enigiemand anders, maar met dit alles is hy nie bereid om Engelsman te word nie.

'n Stryd oor die hernuwing van 'n kerk

Die meeste dorpe het as kerkplekke tot stand gekom war die NG kerk 'n gemeente gestig en daarna 'n kerk gebou het. Hoewel die smelewing al hoe vinniger probeer moderniseer het, het die kerk hoofsaaklik 'n vesting van tradisionele gebruike en statusonderskeide gebly. Die victoriane se klem op verskille in rang en klas het hierdie veniging versterk

Dit was gewoonlik die welgestelde Afrikaners wat die geld gegee het om die kerk op te rig of wat skuld op die boukoste afgelos het. In hul allegdaagse lewe was die Afrikaners geneig om mekaar as gelykes te beskou, maar in die kerk het die ryker Afrikaners hul rang en rykdom probeer ten toon stel. Hulle het die voorbanke van die kerk vir hulle en hul familie bespreek, voor geloop in 'n begrafnisstoet en familiegrafte op 'n opvallende plek bespreek. In die kerkrade het die predikant en 'n paar welgestelde mense gewoonlik beheer uitgeoefen. Kerkrade is nog steeds op die grondslag van koöptasie aangewys: die raad het teen die einde van sy termyn die nuwe lede benoem.

Onder die prediikante was daar amper 'n instinktiewe neiging om lojaal te wees teenoor die regering, wat hulle as deel van 'n Godgegewe maatskaplike orde beskou het. 'n Meerderheid het by die NG Kerk se sinode van 1837 om hierdie rede hul afkeuring van die Groot Trek uitgespreek. Toe hy die Voortrekkers vroeg in die 1840's besoek het, wou Abraham Faure 'n heildronk op koningin Victoria instel as die soewereine mag in suidelike Afrika, tot groot ontsteltenis van die trekkers.

In die loop van die 1850's het duidelik dogmatiese verskille in die kerkhierargie begin ontwikkel. Party predikante het die liberale teologiese dogma verkondig. Aan die ander kant was daar die konserwatiewe predikante, wat oor sekere sake saamgestem en oor ander verskil het. Van der Lingen was tradisioneel konserwatief en pro-Hollands. Hy was gekant teen demokrasie, vooruitgang en sekulêre onderwys.

Teen groot persoonlike koste het Van der Lingen in 1857 die Gimnasium in die Paarl gestig as private skool met Hollands as medium en onder die beheer van die kerk. Dit was die enigste skool in die kolonie at die Hollandse taal en kultuur en die suiwer Gereformeerde leer onomwonde voortgestaan het. Dit was 'n voorloper van wat later as Christelik-nasionale onderwys bekend was.

Van der Lingen het baie lank byna alleen gestaan in die intellektuele debat, maar teen die einde van die jare veertig is sy geledere versterk deur 'n jonger generasie wat in Nederland gestudeer het en daar deur die Réveil-beweging aangevuur is. Die leidende figure was Andrew en John Murray (suens van Andrew senior), N.J. Hofmeyr, die vernaamste voorstander van sendingwerk, en J.H. Neethling, wat predikant op Stellenbosch sou word. Hulle het net so 'n groot afsku as Van der Lingen gehad van die oorheersende invloed van die liberale teologie in die Nederlandse kerk. Met hul terugkeer het hulle hulle self die "ortokokse party" genoem, wat die stryd teen die teologiese liberalisme aangeknoop het.

Die jong konserwatiewe was moderne mense wat, anders as Van der LIngen, die demokrasie verwelkom het en baie van die progressiewe idees ondersteun het. Hulle het geen begeerte gehad om hulle belaglik te maak deur alle vorme van vooruitgang en vernuwing teen te staan nie, soos Van der Lingen bereid was om te doen met sy boikot van Sondagtreine. Hulle het doeltreffende gebruik van koerante en ander moderne middele van kommunikasie gemaak om hulle menings uit te dra. Hulle het ook doelbewus geprobeer om na ander Christelike kerke uit te reik en het meegewerk om die blad Elpis as 'n ekumenise blad te stig. In 1860 het hulle die eerste ekumeniese Christelike konferensie in Worcester gehou, waar Andrew Murray junior pas predikant geword het.

Die moderne konserwatiewe het die Britse ryk beskou as basies 'n "benign empire" wat help om die kolonie se agterlikheid te oorkom. hUlle was in baie opsigte die voorlopers van "Onze Jan" Hofmeyr en Jan Christiaan Smuts deur die wyse waarop hulle koloniale nasionalisme bepleit het. Dit het 'n dubbele lojalteit behels; lojaal teenoor die ryk en met 'n groot respek vir die Engelse taal en kultuur, en ook lojaal teenoor die kolonie en gemeenskap. Vir hulle  moes die kolonie se belange nooit ondergeskik aan die van Brittanje wees nie en moes koloniale sefregering bestendig uitbrei.

Onder die moderne konserwatiewe was die jong Andrew Murray 'n reusefiguur. Hy het in 1862 moderator van die NG Sinode geword en dit tot 1897 gebly. Hy was 'n verpersoonliking van hierdie koloniale nasionalisme. Alhoewel hy die seun van 'n Skotse predikant was, het hy altyd onthou dat hy 'n "Hollandse predikant" is, soos hy dit gestel het. Hy was terselfdertyd 'n stoere ondersteuner van die ryk as die basis van orde en vryheid in Suid-Afrika. (In 1854 het hy self na Londen gereis om te pleit dat die imperiale regering hom nie aan Transoranje moet ontrek nie.) In 1862, toe hy die eerste keer tot moderator verkies is, het die sinode verlof gegee dat Engelse dienste in die NG kerk gehou kan word. Hierdie dienste het gou 'n algemene gebruik in Kaapstad en die grootste dorpe geword.

Van der Lingen het groot besware teen sulke pro-Britse standpunte gehad, maar in sekere opsigte kon hy met die jonger konserwatiewe saamgaan. So 'n saak was die behoefte aan 'n plaaslike teologiese skool. Hollandse universiteite was geneig om liberale teoloë te lewer. As Nederland die enigste plek sou bly waar Afrikaners vir predikant kon studeer, was dit heel moontlik dat die Kaapse kerk ook liberaal sou word.

By die Kaapse sinode van 1857 het N.J. Hofmeyr in 'n sleuteltoespraak 'n plaaslike kweekskool bepleit. Die liberale het dit onmiddellik as 'n groot bedreiging beskou. By die sinode het 'n vooraanstaande liberaal, dr. A.N. E. Changuion, teen 'n plaaslike kweekskool gepraat. Hy het betoog dat hierdie kweekskool dalk "reaksionêre teoloë, semi-verligte mense en semi-beskaafde lede van die gemeenskap" sou lewer. Die beweging om 'n plaaslike kweekskool tot stand te bring, was egter onkeerbaar. In 1857 het die sinode besluit om tot hierdie stap oor te gaan. By die inwyding daarvan in 1859 het ds. P.E. Faure, moderator van die sinode, dit duidelik gemaak dat daar verwag sou word dat hierdie instelling die "ware, gereformeerde, Christelike godsdiens" sou onderrig. Daar was geen rede tot kommer nie, want twee prominente lede van die ortodokse party, John Murray en J.J. Hofmeyr, het die eerste professore geword.

Van der Lingen wou graag hê dat die kweekskool in die Paarl, die sentrum van konserwatisme, opgerig word. Hy is een van die eerste leerstoele aangeboed, maar het hom ontrek toe Stellenbosch gekies word nadat dit die imposante Drosdy as huisvesting vir die kweekskool aangebied het. Van der Lingen het voorgestel dat die professore verplig word om Hollands te praat in sowel die klaskamer as tuis, maar sy voorstel is met 'n klein meerderheid afgestem.

Nietemin het daar nou 'n nuwe brughoof vir die Holandse kultuur ontstaan. Die sinode het besluit dat 'n behoorlike studie van die Hollandse taal en kultuur 'n noodsaaklike deel van die leerplan sou wees. Die Cape Argus was ontevrede: "It was intended only to foster by such means a spirit of spurious nationality, calculated to produce the most mischievous results in the minds of unthinking persons who may be weak enough to be led away by such a delusion."

Daar is geen getuienis dat die liberale in die kerk verdraagsamer as die konserwatiewe oor rassekwessies was nie. Albei groepe het die betaande rasse- en klasseverskille aanvaar, maar het nie geprobeer om dit in 'n beginsel te omskep nie. De Volksvriend, wat die konserwatiewe opvatting vertolk het, het in 1865 geskryf dat daar geen rede is om 'n swart seun toegang tot enige opvoedkundige inrigting te weier nie, indien sy vader vir hom kan betaal. Baie min swartes kon dit bekostig en die koerant wou eenvoudig nie van die kwessie van kleur of ras 'n strydpunt maak nie.

Die nederlaag van teologiese liberalisme

In 1859 het die ortodokse party in beheer van die nuwe kweekskool gekom, maar die stryd teen die liberale was ver van gewonne. Die feit dat die kerk finansieël van die staat afhanklik was, het beteken dat die howe een van die vernaamste strydperke sou wees. In een geval is die hooggeregshof suksesvol deur 'n liberaal versoek om verteenwoordigers van gemeentes anderkant die kolonie se grense van die sinode uit te sluit. Aangesien die meeste van hierdie mense konserwatief was, het hul uitsluiting die librale se posisie in die sinode versterk. Dit was 'n verreikende besluit, want dit het beteken dat politieke grense die NG Kerk langer as 'n eeu verdeeld sou hou.

Die liberale het ook die beheer wat die ortodokse party oor kerkrade gehad het van hulle probeer wegneem. Die liberale wou graag vrye verkiesings vir kerkrade invoer, en toe die kerk dit afwys, het 'n lidmaat die steun van die Parlement gekry om vrye verkiesings in te voer. Die regering het egter geweier om in te meng en die meer welgestelde en meer konserwatiewe Afrikaners het die kerkrade bly oorheers.

Nog 'n stryd het gegaan oor die beweerde kettery van twee liberale predikante, J.J. Kotzé en Thomas Francois Burgers. 'n Kerklike kommissie het hulle skuldig bevind en geskors. Albei het na die howe geappelleer en die saak het in die Britse geheime raad in Londen gaan draai. Hier het Burgers en Kotzé geseëvier en hulle het voortgegaan om aan vergaderings van die sinode deel te neem. Die liberale het ook ander oorwinnings behaal.

Die grootste geveg was oor die sogenaamde vrywillige beginsel. Die librale het geprobeer om die staat se subsidie aan die NG Kerk en die Anglikaanse Kerk, wat gebruik is vir die salarisse van predikante en die oprigting van kerke, te beëindig. Die ortodokse party wat die beheer oor die NG Kerk gehad het, was nie gewillig om van die staat se subsidies afstand te doen nie, en was baie ontevrede  omdat liberale soos Burgers en Kotzé hof toe gegaan het. Burgers het op 'n keer in 'n ope brief aan Andrew Murray geskryf dat daar geen groter anomalie is nie as die kerk se aandrang op staatsondersteuning sonder staatsbeheer. "Jy wil een Heer dien maar lone van twee ontvang." Saul Solomon, wat 'n lidmaat van 'n "congregationalist" gemeente was, het staatsteun vir kerke in die Parlement beveg en dit in 1875 afgeskaf gekry.

Dit was 'n groot keerpunt in die kerk se geskiedenis. Van nou af was die NG Kerk heeltemal van eie hulpbronne afhanklik. Dit het beteken dat sy toekoms in gevaar gestel is deurdat 'n toenemende aantal Afrikaners so hulpbehoewend was dat hulle geen bydrae tot die kerk se fondse kon maak nie.

Sonder vernuwing sou die kerk ondergaan, maar die groot vraag was: Hoe moet die kerk vernuwe? Aanvanklik het die liberale die oorhand gehad in die pers, waarin 'n heftige debat oor teologiese kwessies gevoer is. Die Onderzoeker, 'n maandlikse teologiese blad, en 'n lewendige koerant, Het Volksblad, was in die liberale kamp. De Zuid-Afrikaan het neutraal probeer wees, maar na die liberale kant oorgehel. Ernstig bekommerd het N.J Hofmeyr en ander konserwatiewe in 1862 De Volksvriend gepubliseer as 'n 'godsdienstige en maatskaplike' koerant. Dit was helaas maar vervelig en was op die punt om in duie te stort, toe professor Hofmeyr sy broerskind, Jan Hendrik Hofmeyr, slegs 17 jaar oud, as redakteur aanstel. Die jong Hofmeyr het die blad in 'n sukses omskep. Hy het helder en duidelik geskryf, die nuus gepubliseer, die ortodokse saak welsprekend verdedig en aangeleenthede soos die Hollandse kultuur en nasionale gevoelens aangeraak. In 1871 het hy De Zuid-Afrikaan oorgeneem en vroeg in die jare tagtig het hy leier geword van die Afrikanerbond, die eerste moderne politieke party. Hy was toe reeds welgesteld.

'n Belangrike rede vir die sukses van die ortodokse saak was die ontwikkeling van die evangeliese godsdiens in die kerk. Tradisioneel het die Calvinistiese leer van die standpunt uitgegaan dat God soewerein is en in alle belangrike sake sy invloed laat geld het. Die NG Kerk aan die Kaaap het 'n doopteologie verkondig waarvolgens die kinders van Christelike ouers reeds as suigelinge gedoop is en nie nadat hulle as volwassenes belydenis afgelê het nie.

Teen die middel van die negentiende eeu het baie mense huierdie godsdiens onbevredigend en inderdaad dor gevind. Vir baie het lidmaatskap van die kerk toetrede tot 'n bepaalde sosiale groep eerder as tot 'n gemeenskap van gelowigies geword. Mense wat hul godsdiens as sielloos ervaar het, het dikwels as 'n persoonlike  krisis beskou. In Engeland het Thomas Carlyle verwys na "people destitute of faith and yet terified of scepticism." Dit was ook op baie Kaapse Afrikaners van toepassing.

By wyse van reaksie het daar vroeg in die 1860's 'n sterk oplewing van evangeliesgesindheid ontstaan en Andrew Murray jr. was die verpersoonoliking hiervan. Sy pa het grootgeword in Skotland, waar die Franse Revolusie en die Industriële Revolusie die openbare debat oorheers het. Hier het die evangeliese beweging 'n deurslaggewende rol gespeel om die steun van die werkersklas vir die bestaande orde te wen. Dit het aan diegene wat die waardes van ordelikheid en onderdanigheid onderskryf 'n beloning in die hiernamaals belowe.

Die sentrale elemente hiervan was persoonlike berou en bekering gevolg deur vergifnis en 'n nuwe lewe wat radikaal anders as die ou sondige lewe is. En daar was die grimmige keersy: die duiwel, sonde, en verdoeming in die hel vir diegene wat nie gered is nie. Wat die leer betref, was die evangeliesgesindes ortodoks en wat die geloofservaring betref, het dit vir hulle om "a vital religion of the heart" gegaan. 'n Belangrike bedrywigheid was die wen van siele vir die Koningkryk van God.

Niks het die geestelike krisis van baie Christene beter geillustreer as die groot herlewing wat in die vroeë jare sestig oor die westelike deel van die Kaapkolonie gespoel het nie. Godsdienstige herlewings het in die negentiende eeu in Noord-Amerika en Engeland voorgekom en sommige NG predikante was hieroor ingelig. Die Kaapse herlewing en veral die intense uitstorting van emosies wat daarmee gepaard gegaan het, het predikante egter onkant betrap.

Volgens mondelinge tradisie het die Kaapse herlewing onder oudslawe in Worcester begin. Murray, wat toe predikant hier was, het hulle probeer keer. "God is 'n God van orde, maar dit is wanorde," het hy gesê. Hy het egter gou besef dat dit vir die kerk 'n positiewe ontwikkeling kan wees. Die herlewing het vinnig na ander gemeentes versprei. In die Paarl het selfs ds. Van der Lingen, in baie opsigte 'n meer konvensionele Calvinis as Murray, tydens Pinksterdiens in 'n beswying verval.

In die loop van die volgende jare en selfs dekades het 'n evangeliese piëtisme die godsdienstige lewe van baie Kaapse Afrikaners gekenmerk. Die kerk se leiers het die geleentheid aangegryp om die energie van die herlewing in die kanale van die georganiseerde godsdiens te stuur. Hulle het spesiale dienste ingestel. Sondagskool vir kinders en werkgroepe vir vroue om geld vir sendingwerk in te samel. Die vernaamste organisatoriese vernuwing was die instel van bidure, wat groot getalle mense gelok het. Hier is dikwels hoogs emosioneel en persoonlik gebid oor die wyse waarop mense tot bekering probeer kom het.

Die jong Petronella van Heerden het 'n verslag geskryf van die spesiale dienste wat sy en ander skooldogters vroeg in die twintigste eeu in Wellington tydens die periodieke herlewings bygewoon het. Die prediker was Andrew Murray.

"Die seuns is ook daar. Die vreeslikste verhale van sonde en die hel word vertel. Die hel word in sy fynste besonderhede beskryf. Dit was 'n helse hel waarheen jy onverbiddelik gaan as jy nie sommer dadelik bekeer raak nie. Orals is duiwels, hulle spring op jou, steek jou met 'n vurk en braai jou lewendig oor 'n baie warm vuur. Daardie vuur gaan ook nooit dood nie, dit brand ewig, en jy self raak ook nooit uitgebrand nie. Net waar jy draai, loer die oog van 'n wraaksugtige God op jou, hy lees jou gedagtes. Hy sien alles, maar wat Hy raaksien, is sonde en Sy Wraak sal vreeslik wees. 'n Byna tasbare angs sak af op die saal, die kinders huil en klou aan mekaar. Enige oomblik kan die einde van die wêreld kom en jy is verlore. Sommige snik en ander het histeries geword van angs dat dit sou gebeur voor hulle as 't ware behoorlik by die Here ingeskryf is. Nou moet ons oë toemaak en dié wat bekeer is, moet staan. Omtrent almal staan....Die angs bly nie in die saal agter nie, die plek is gedrenk daarin. Niemand durf alleen wees nie, hulle hou mekaar se hande styf vas, klim saans by mekaar in die bed en gaan selfs na die toilette twee-twee. Almal is onnatuurlik soet..."

Teen die middel van die 1860's het die emosies wat deur die herlewings en opwekkingsdienste losgelaat is tasbare resultate begin lewer. Daar was nou 'n desperate kommer oor verlore siele en veral die siele van armer dele van die bevolking. Dit was ook 'n sterk prikkel vir sendingwerk. In die Boland sou dit lei tot pogings om die Bybel beskikbaar te stel in 'n taal wat eenvoudiger is as Hollands. Een vertakking van hierdie pogings was die eerste Afrikaanse taalbeweging. Dit was alles 'n groot bron van kommer vir die liberale met hulle klem op 'n rasionele en onemosionele vorm van godsdiens.

Tussen die 1870's het die konserwatiewe party die stryd teen die liberalisme beslissend gewen. Die kerk het sy Gereformeerde karakter behou, maar dit het nou 'n sterk element van evangeliegesindheid gehad. Die liberale nederlaag het nie beteken dat irrasionele vooroordele en parogiale belangstellings geseëvier het of dat die "liberale oomblik" van die nierassige grondwet van 1853 vervaag het nie. Daar is geen enkele model vir mense om modern te word nie. Mense wat in hul geloofs- en morele oortuigings konserwatief is, kan pragmaties en selfs innoverend wees, en mense wat godsdientstig liberaal is, is nie altyd polities liberaal nie.

In sekulêre sake was Murray en sy konserwatiewe party in baie opsigte moderniseerders. Hulle het hul steun gegee aan die sekulêre onderwys wat die staat in 1865 ingestel het en aan die uitbreiding van die spoorwegnetwerk an Stellenbosch en die Paarl. De Volksvriend het boere gereeld aangemoedig om meer ondernemend te wees.

In ander opsigte was hulle konserwatief. Evangeliese predikers soos Murray het hoofsaaklik weggebly van die alledaagse politieke sake hulle wou nie hê dat die kerk te naby in 'n politieke party of 'n taalbeweging kom nie. Hulle het die breë Christelike beginsels geformuleer, maar selde hul konrete betekenis vir die alledaagse lewe uitgespel. Hulle het onderwerping aan die bestaande owerheid behalwe in uiterste gevalle voorgeskryf. Die krag van die evangeliese tradisie en die opdrag om aan sowel die sekulêre as die goddelike gesag gehoorsaam te wees, help om te verklaar waarom die Kaapse Afrikaners so lojaal teenoor koningin Victoria se ryk was. Murray was hewig ontsteld toe Brittanje die Boererepublieke omverwerp, maar oor die algemeen kon die Britse ryk nie 'n lojale ondersteuner hê nie.

"Minder sorg as aan diere"

Murray was slegs een van 'n paar NG predikante wat van die 1870's af daarop begin aandring het dat die kerk veel groter verantwoordelikheid vir die onderwys moet aanvaar. Terwyl Afrikaners nog hoofsaaklik van bestaansboerdery gelewe het, was hul gebrekkige onderwys nie 'n bron van kommer vir die kerk nie. Die kerk het ouers aangemoedig om hul kinders te leer lees en skryf, maar het oor die algemeen nie geweier om kinders aan te neem as hulle ongeletterd was nie.

Na die skeidng tussen kerk en staat in 1875 het kommer oor die gebrekkige stand van die onderwys en die betreklike agterlikheid van die Afrikaners vinnig toegeneem. Om die kommer te verhoog, het die bestaansboerdery 'n al hoe groter krisis begin beleef. Daar wes geen nuwe weivelde waarop beslag gelê kon word nie en baie plase was oorbewei. Ekonomiese en maatskaplike agteruitgang het hand aan hand gegaan. Afrikaners op die platteland het oor die algmeen geen boeke behalwe die Bybel of 'n paar traktaatjies gelees nie.

In die Kaapkolonie het die Engelssprekendes oor die algemeen heelwat beter onderwys geniet omdat hulle veel vroeër verstedelik het. In die sensus van 1875  is geskat dat slegs 43% van die kinders tussen vyf en vyftien in die Kaapkolonie kon lees en skryf. Vir Afrikaners was die proporsie waarskynlik heelwat laer, as aangeneem word dat die Kaapse Engelssprekendes moontlik die vlak van hulle eweknieë in bv. Nieu-Seeland bereik het, waar dit ongeveer 60% was.

'n Reeks artikels wat in 1873 in die tydskrif Cape Monthly Magazine verskyn het, verwoord die kommer oor die onderwys. Die naamlose skrywer merk op dat die kinders van die Hollandse deel van die wit bevolking grootword met minder sorg as wat aan die diere van die veld bestee word. Hulle kan nie lees of skryf nie en ken geen taal nie behalwe 'n taal met beperkte woordeskat wat half Hollands en half Hottentots is - woorde wat slegs op hul eie behoeftes en werksaamhede en dié  van hul diere betrekking het. Predikante, verklaar die skrywer, is nie besorg hieroor nie. Die enigste sigbare aktiwiteit van baie is die hou van kerkdienste. Die skrywer waarsku dat as geen oplossing gevind word nie 'n groeiende kriminele klas sal ontstaan.

Die swak stand van die onderwys is onder meer veroorsaak deur die regeringsbeleid oor die voertaal. Die groot meerderheid van die Afrikaanse kinders kon nie Engels verstaan nie; tog het die regering Engels in 1875 die verpligte voertaal in skole gemaak. Ouers het gekla dat hul kinders skaars kan lees en skryf na 'n paar jaar op skool en dat hulle slegs 'n gebrekkige kennis van Engels opgedoen het.

In die vroeë 1880's het ds. Adriaan Moorrees, wat 'n leier in die kerk sou word, op die absurditeit gewys dat terwyl die meerderheid van die wit kinders geen Engels kan praat nie, die meeste onderwysers geen Hollands of Afrikaans ken nie.

Die onderrig in die Hollandse taal was uiters swak. In 1870 het net drie skole in die westelike deel van die kolonie Hollands as vak aangebied. Teen 1880 is geskat dat slegs 4,000 uit 60,000 Afrikanerkinders enige onderrig in Hollands ontvang. Om die krisis af te weer, het party ouers private skole gestig en teen 1889 was daar 146 sulke skole in die westelike deel van die kolonie. Die regering het nie daarop aangedring dat gekwalifiseerde onderwysers 'n behoorlike kennis van Hollands moet hê nie. By die Kaapse Onderwyskollege was Hollands slegs 'n keusevak soos Sotho en Xhosa. In 1875 het 'n afvaardiging van die kerk die onderwysowerheid gevra dat die staat Hollandsmediumskole ondersteun, maar die versoek is geweier.

Talle predikante was daarvan oortuig dat Engels die enigste publieke taal sou word en het gevolglik pogings teengestaan om moedertaalonderrig in te voer. Een van hulle was Murray, wat Engels as voertaal voorgestaan het en dit as futiel beskou het om Hollands as openbare taal te probeer versterk. Terwyl hy moderator was, het die kerk verskeie skole vir Afrikaanse meisies gestig. Ook in dié skole het hy Engels as voortaal voorgestaan. Die prominenste van hierdie skole was die Hugenote-Seminarie op Wellington, wat in 1874 gestig is. Hierdie skool het volgens 'n verslag "'n Engelse gees geadem".

Op hierdie tydstip was die kerk meer bekommerd oor die bestryding van die teologiese liberaliste as oor tweetaligheid. Die kerk het Skotse en Amerikaanse onderwysers ingvoer uit vrees dat Hollandse onderwysers liberale beginsels sou verkondig. In 'n debat by die sinode in 1880 het sekere predikante argumente aangevoer wat baie soortgelyk was aan dié wat 110 jaar later in 'n demokratiese Suid-Afrika gehoor sou word. Hulle het geargumenteer dat dit die kinders 'n ondiens sou bewys as hulle 'n volle blootstelling aan Engelstalige onderwys moet ontbeer. Dit is nie vir kinders nodig om Hollands op skool te leer nie omdat hulle dit tuis kon doen. Die taal van die eonomie en die taal van "vooruitgang" is Engels, so het hulle geredeneer.

Die Patriot, 'n nasionalistiese koerant, het geantwoord dat daar 'n faksie in die sionde is wat glo die salgheid kan slegs in Engels bewerkstellig word. Die sinode het die onderwysdepartement wel oorreed om kleiner veranderings ten gunste van Hollands te maak, soos dat skoolkomitees self oor 'n skool se taalbeleid kon besluit. Ouers was geneig om aan Engels die voorkeur te gee, en daar was 'n ernstige tekort aan onderwysers wat in Hollands kon klas gee.Daar was nog geen sprake van Hollands as 'n algemene voertaal nie.

Die 1880's en 1890's was die dekades toe die Britse ryk op die toppunt van sy selfvertroue was. Die viering van die ryk se glorie en glans het 'n hoogtepunt bereik in 1897, toe Victoria 60 jaar op die troon was. James Morris beskryf die toneel in sy Heaven's Command: "It was a grand moment of history and the world recognized it without rancour." In die tyd van Victoria het die ryk tien keer groter geword en het nou 'n derde van die wêreld se bevolking bevat. "It had changed the face of continents...it had changed the manner of life of entire peoples, stamping its own values upon civilizations...There never had been such an Empire since history began, and the powers of the world, envious of its splendour respectfuly, it reluctantly acknowledges its supremacy...Even the New York Times conceded that the Unites States was...really part of Greater Brittian all the time.

Engelssprekende Suid-Afrikaners se selfbeeld is sterk deur die imperiale suksesse beinvloed. Die Engels-Suid-Afrikaanse skrywer Olive Schreiner, wat in die 1870's  as goewernante en onderwyseres by Afrikanerboere in die Karoo gewerk het, vertel dat sy, toe sy no jonk was, gedink het dat dit nie heeltemal regverdig van God was "to make us so much better than all the other nations". Dit sou vir haar onmoontlik gewees het om suiker te eet waaraan 'n Afrikanerkind geraak het, of tussen lakens te slaap wat tevore deur 'n "Dutchman" gebruik is.

Die Engelse Victoriane het ongunstig oor die plattelandse Afrikaners geoordeel. In hul oë was hul mede-wit mense wel wit,maar hulle was omtrent alles wat die Victoriane gedink het hulle self nie was nie: onkundig, bygelowig en konserwatief - en nie geinteresseerd in "vooruitgang" en die onderwys van hul kinders nie. Die Engelse het die Afrikaners se gasvryheid geloof, maar hul swaar gebruik van koffie en die mans se kouery van tabak betreur; so ook hul weiering om hulle self te "verbeter."

Die keersy hiervan was die Afrikaners se gevoelens van minderwaardigheid. Om dit wat Brits was te bevraagteken of 'n eie kultuur op te bou, was amper onmoontlik. Die skrywer M.E.R. gee die volgende beskrywing van die kulturele oorheersing van Engelse in Swellendam in die laaste dekades van die negentiende eeu: "Van hierdie groepe of persone was die volgende Engels of Skots: al die winkeliers, op twee na, waarvan een 'n gebore Duitser was en die ander 'n Afrikaner, albei met baie klein sakies op die uithoeke van die dorp; die vernaamste onder die winkelklerke; die magistraat, die dokter, die posmeester, die prokureurs, al die onderwysers, behalwe 'n paar assistente; later die bankbestuurder en sy klerke, asook die paar polisie-'dienders' wat gewoonlik ongelleterde Iere was. Daar was ook destyds op die dorp 'n hoedemakery van manshoede onder 'n Duitser; 'n skoenmakery onder 'n Engelsman en 'n brouery onder 'n Duitser. Die groot handelsbelange van die dorp en distrik was in die hande van Barry & Nephews. Die Engelse en Wesleyaanse predikante was Engels, en Brits ook was - in die persoon van dr. Roberson - die predikant van die Ned. Geref. Kerk.

"Die Engelse groep op die dorp het by mekaar geselskap gesoek. Hulle het 'n leesklub gestig en boeke van oorsee gekry; saam kaart gespeel en gesellige besoeke by mekaar afgelê."

"Die Engelse kon nie Afrikaans praat nie en het ook nie, met uitsondering van die winkeliers, enige moeite gedoen om dit aan te leer nie. Die Afrikaners kon nie Engels praat nie, maar het moeite gedoen om hul kinders dit te laat leer. En die gewig van hierdie hele posisie was dat die Hollandssprekendes nie een enkele gesagspos in die dorp of distrik beklee het nie- die kinders wat toe grootgeword het, het dit onwillekeurig aangeneem dat gesaghebbendes Engels was...

"Alles dan in aanmerking geneem, meen ek dat vasgestel kan word dat ons Afrikaner grootgeword het in 'n tyd toe die aansien van die Afrikaners op sy laagste punt bereik het en toe die meerderwaardigheidsgevoel van die Engelsman, in die binneland veral, op sy sterkste was. Want die geslag wat hom voorafgegaan het, was nog een van produsente, en was in tel. By die geslag na hom het die herstel van die ewewig al langsamerhand begin, toe die Afrikaanse kinders die Engelse taal baasgeraak en stadigaan in die staatsdiens gekom het, hoewel eers oor lange jare in die laer poste alleen. Ook het die twee Republieke vinnig ontwikkel, veral na die ontdekking van goud en diamante, en die hele kwessie tussen Engelsman en Afrikaner het langsaam ontplooi tot sy klimaks in die oorlog van 1899-1902.

M.E.R. het in later jare met wrewel aan die Engelse hovaardigheid teruggedink. Hulle het sosiale etiket gebrujik om te wys hoe meerderwaardig hulle as nasie is en hoe ver agter hulle die boere, selfs die welgesteldes, is. Hulle het Afrikaners om hul eerste name genoem, maar die Afrikaners het hulle as "Mister" aangespreek. Die Afrikaners is hier onderwerp aan dieselfde rituele van vernedering as wat hulle self gebruik het om bruin en swart mense op hul "plek" te hou.

'n Nuwe soort Politiek

Teen 1870 was daar die eerste tekens van 'n nuwe soort politiek. 'n Berig oor die verkiesing van 1869 lui dat by sommige vergaderings bekwame en gesiene mense toejuiging uitgelok het wanneer hulle verklaar dat hulle of hul kandiate Afrikaners is.

In 1872 het die Kaap 'n gevorderde vorm van selfregering gekry, wat verantwoordelike regering genoem is. Daar was nou 'n eerste minister en 'n kabinet, wat aan die Parlement verantwoording moes doen. Met 'n grondwet wat baie meer magte aan die kolonie toegeken het, sou die kiesers toenemend hul politieke mag probeer gebruik om die buitensporige uitgawe aan militêre ekspedisies te beveg. Die ekonomie was ook nou baie breër gebaseer as twee of drie dekades vroeër. Weens die ontwikkeling van die diamantveld het die kolonie se inkomste skerp toegeneem. Die politiek het nou veel meer daaroor gegaan om voordele vir bepaalde klasse of kiesafdelings te bewerkstellig. Die mobilisasie van kiesers op grond van hul nasionaliteit het 'n besliste moontlikheid geword.

Die Britse anneksasie van Basoetoland (1869), die diamantveld (1871) en later Transvaal (1877) het Afrikaners oral in Suid-Afrika in die harnas gejaag en hulle het openlik geprotesteer. 'n Kort rukkie het Arikaners noord en suid in Suid-Afrika mekaar as bondgenote gesien. F.A. van Jaarsveld beskou die proteste en betuigings van solidariteit as 'n teken van die ontwaking van 'n Afrikanernasionalisme. Die Kaapse Afrikaners het egter nie politieke bande met die republikeinse Afrikaners probeer aanknoop nie. Hulle het dit in hul beste belang geag om binne die liberale grondwet van die Kaapkolonie te bly werk.

Die imperiale beleid van vryhandel en die Afrikaners se reaksie daarteen het op die duur meer toto die stimulering van nasionalisme in die Kaapkolonie bygedra as die anneksasies. In sy beleid om vryhandel ral in die ryk in te voer, het die imperiale regering in 1860 alle voorkeurtariewe vir Kaapse wyn op die Londense mark afgeskaf en die Kaapse wyn gedwing om op gelyke voet met wyn uit lande soos Frankryk mee te ding. Gevolglik het die Kaap se wynuitvoer tussen 1863 en 1875 met meer as 80% afgeneem. 'n Groot wynsurplus het die pryse to baie laag afgedwing.

Daar was nou vryhandel in finansiële transaksies. In 1860 het die hooggeregshof die historiese plafon van 6% rente op alle verbande en finansiële transaksies afgeskaf. Afrikanerboere, wat tevore by ander boere geleen het, het hulle nou al hoe meer gewend tot handelaars, wat geneig was om hoër rente te vra. Hierdie handelaars het op hulle beurt gewoonlik geleen by die sogenaamde imperiale banke, wat van vroeg in die jare sestig sake begin doen het. Die prominenste onder hulle was die Standard Bank, wat vinnig sy netwerk oor die hele kolonie versprei het. Die opkoms van hierdie banke, wat hul hoofkantore in Londen gehad het, het talle distriks- of streeksbanke, wat dikwels met Afrikaners se kapitaal opgerig is, bankrot laat raak. Op die ou end het net een, die Stellenbossche Distriksbank, gestig in 1882, oorgebly.

In tye van resessie het die imperiale banke lenings opgeroep van diegene wat nie finansieel sterk gestaan het nie. Dit het gelei tot 'n kettingreaksie waarin baie boere bankrot gegaan het. Dit het 'n sterk afkeer van en agterdog teenoor die imperiale banke laat ontstaan.

Daar was nou ook vryhandel in landbouprodukte. Voorheen was die belange van die wyn- en koringboere, wat hoofsaaklik Afrikaners was, en die handelaars, wat of Britte of Europese Jode was, grotendeels dieselfde. Laasgenoemde het die boere se produkte sowel plaaslik as oorsee bemark.

Vryhandel het die hoofsaaklik Engelssprekende bankiers, vervaardigers en handelaars bevooroordeel. Die goeie verhouding tussen boere en handelaars  het agteruitgegaan toe die handelaars ingevolge die beleid van vryhandel toenemende hoeveelhede buitelandse wyn, spiritualieë en koring invoer. Dit het daartoe gelei dat die Afrikanerboere besluit het dat dit in hul belang is om hulle ook as Afrikaners te laat geld en nie net as boere nie.

Die kiesers se betrokkenheid by die poliltiek het ook skerp toegeneem weens die grootskaalse staatsbesteding aan militêre ekspedisies. Sir Bartle Frere, goewerneur en hoë kommissaris van 1877 tot 1880, en Gordon Sprigg, wat in 1878 eerste minister geword het, was geesgenote. Albei was uitgesproke imperialiste wat die uitbreiding van die Britse heerskappy in Suid-Afrika voorgestaan het. Frere het Sprigg oorreed om 'n koloniale mag te stuur om die Sotho's in Basoetoland, wat deel van die Kaapkolonie was, te ontwapen. Die oorlog in Boesoetoland het die Kaap amper £6,000,000 gekos. 'n Amptenaar in die koloniale kantoor in Londen het opgemerk dat die Kaapse koloniste niks hieruit gekry het nie.

Kort daarna 'n is 'n militêre veldtog van stapel gestuur teen die Ngqikas en die Gcalekas, wat botsende faksies anderkant die kolonie se oosgrens was. Die kampanje het amper £1,500,000 gekos. Hierdie uitgawes het die kolonie diep in die skuld laat kom en die Afrikaners gepolitiseer. Sedert die 1850's  was die Kaapse Afrikaners toenemend gekant teen oorloë in gebiede aar daar geen wit mense gewoon het nie. Die ekspedisies was dikwels die gevolge van mislukte imperiale beleide of vroeëre militêre of politieke flaters.

Vir die Kaapse Afrikaners was die druppel wat die emmer laat oorloop die Sprigg-kabinet se belasting op brandewyn. Die kabinet het bestaan uit politici van die Ooste en die Middelland sonder 'n enkele Afrikaner of Wes-Kaapse politikus. Om die koste van die nuwe spoorweë en koloniale inmenging in die oorlog tussen die twee Xhosas-faksies te finansier, het die kabinet besluit om 'n belasting op alle brandewyn te hef, en die produsente was omtrent almal Wes-Kaapse Afrikaners. Die wynboere het joe juis 'n moeilike tyd belewe weens skuld en oorproduksie. Hulle het sterk teenstand gebied, maar die kabinet het hul protes geignoreer en die wetsontwerp deur die Parlement gejaag.

Op die dag toe die aksynswet gepubliseer is, het 'n aantal boere 'n vergadering in die kantoor van Jan Hofmeyr, redakteur van De Zuid-Afrikaan, gehou. Hy het voorgestel dat hulle die saak deur die parlementêre kanale voer. Reeds in die vroeë 1870's het Afrikaner-boere boereverenigings gestig, wat die heersende imperiale vryhandelbeleid verwerp en groter beskerming vir koloniale produkte bepleit het. Engelssprekende boere het oor die algemeen nie hierby aangesluit nie en hul eie verenigings gevorm. Tydens die agitasie oor die brandewynbelasting is die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging (BBV) in Oktober 1878 onder leiding van Hofmeyr gestig om die belasting teen te staan.

Hofmeyr was 'n besondere soort politikus. hy het nie na die kalklig en persoonlike mag gesmag nie. Kritici het hom die bynaam "Die Mol" gegee op grond van sy weiering om 'n kabinetspos te aanvaar behalwe vir 'n kort tydperk. Hy wou eerder sy planne agter die skerms maak en toutjies trek. Sy politieke vaardighede was gedug en Cecil John Rhodes het hom as die knapste politikus in Suid-Afrika beskou. Hy was bedrewe daarin om sy politieke basis aan te pas nadat daar 'n nuwe ewewig in die politiek ontstaan het.

Die BBV was 'n inklusiewe organisasie, maar dit het selde verwys na gekleurde Afrikaanssprekendes. Hul stem vir die party is verwelkom, maar hulle was nie welkom as lede nie. Hofmeyr het die Stellenbosse setel in die parlementêre  verkiesing in 1879 met die hulp van bruin stemme gewen. Die BBV het amper die helfte van die setels in die hoërhuis en 'n derde van dié in die laerhuis verower. Na die verkiesing het die geesdrif egter gou getaan en die BBV was nie in staat om sy invloed veel verder as die kiesdistrikte Kaapstad, Stellenbosch, Paarl en Malmesbury te laat strek nie. Op die eerste jaarvergadering van die BBV in 1879 is gerapporteer dat nie 'n enekle tak sy lidmaatskapgeld betaal het soos die vereniging se grondwet bepaal het nie.

Dit was duidelik dat daar heelwat meer nodig is om aan die toetrede van die Afrikaners in die politiek stukrag te verleen. Op hierdie tydstip het 'n begaafde en hardkoppige jong predikant, Stephanus Jacobus du Toit, op die toneel gekom. Hy sou die taal Afrikaans gebruik as die voertuig vir 'n nuwe politieke aksie.

Die opkoms van Afrikaans

Stephanus (S.J.) du Toit is in 1857 gebore, die dertiende kind van 'n Paarlse wynboer. Die plaas was sedert die aankoms van die Hugenote in die familie se besit. Hy het die Paarlse Gimnasium bygewoon. Sy groot voorkop, deurdringende oë en fynbesnede gesig het anan hom 'n opvallende voorkoms gegee. Hy was intelligent, met byna onbeperkte ambisie, maar het dikwels gestruikel oor sy ongeduld om glorie te verwerf. Hy het maklik in twiste beland. Een van sy seuns het hom 'n moderne Ismael genoem: sy hand was teen almal en almal se hand was teen hom.

Du Toit het nie baie geduld gehad met godsdienstige herlewings, die emosionele betuiging van berou en die klem op vroomheid en onderdanigheid aan die owerheid wat kenmerke van die kerk geword het nie. Hy was aangetrokke tot die strenger, intellektuele boodskap van Calvyn. Hy het 'n groot bewondering gekoester vir die groot Hollandse neo-Calvinistiese denker Abraham Kuyper. Hy het sy teologiese studie in 1872 by die Stellenbosse kweekskool voltooi, drie jaar na ds. Van der Lingen se dood. Daar was nog 'ng groot stryd in die Paarse gemeente aan die gang om 'n opvolger aan te wys. Du Toit se ondersteuners het te staan gekom teen 'n faksie wat moeg was van Van der Lingen se kampanjes teen "vooruitgang" en sy pogings om die Paarlse Gimnasium as private Hollandsmediumskool in stand te hou. Hulle wou 'n moderne dominee hê, wat vooruitgang kon bevorder.

In die bittere stryd was daar geen wenner nie. Uiteindelik is 'n tweede gemeente in die Paarl gestig wat hoofsaaklik uit die volgelinge van Du Toit bestaan het. Onder die lede was daar 'n buitengewone aantal arm mense, die meeste van hulle gekleurd. Hierdie gemeente het Du Toit nou uitgenooi om sy predikant te word. In sulke onbelowende omstandighede het Du Toit tot die bediening toegetree. Hy sou die vernaamste dryfkrag wees agter die eerste Afrikaanse taalbeweging, wat van 1875 het M.D. Teenstra 'n dialoog tussen 'n Caledonse boer, sy vrou en 'n slaaf gepubliseer. Die doel was om aan te toon in watter mate die Kaapse hof na Afrikaans verwys as 'n taal wat vir hom heeltemal nuut is. In 1875 het Johannes Brill, 'n Hollandse opvoedkundige in Bloemfontein, verklaar dat Hollands die offisiële taal van die OVS is, maar die "Suid-Afrikaanse taal" is die nie-amptelike taal wat nie geskryf word nie, maar van Kaapstad tot diep in die binneland van Suid-Afrika gepraat word. Daar was geen aanduiding dat die mense wat hierdie waarnemings gemaak het, gedink het Afrikaans is nie as openbare taal geskik nie.

Afrikaans is die eerste keer in gedrukte vorm gebruik in Arabiese gebedeboeke wat in die 1840's en 1850's vir die Moslemgemeenskap in Kaapstad opgestel is. In 1861 is die eerste sekulêre boek in Afrikaans gedruk. Die was Zamenspraak tussen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het afscheiding tussen het Oostelyke en Westelyke Provincie. Die inhoud het die vorige jaar in Het Cradocksche Niewsblad verskyn. Van die 1860's is Afrikaans dikwels deur koerante gebruik, veral in geestige gedigte.

Engelssprekendes het Afrikaans as onwaardig vir openbare gebruik beskou. Maar die grootste vyande van Afrikaans was die statusbewuste koloniale Afrikaners in dorpe en stede wat gretig was om sosiaal aanvaar te word deur toonaangewende Engelssprekendes. Vir hulle was Afrikaans 'n verleentheid, dit was 'n veelrassige taal wat die verkeerde sein gegee het in 'n samelewing wat al hoe meer 'n obsessie met klasse- en rasseonderskeidinge ontwikkel het. Volgens J.H.H. de Waal het hierdie opgevoede Afrikaners Afrikaans beskou as 'n verarmde dialek, ontaarde Hollands, 'n onverstaanbare Kreolse taal, 'n 'Hotnotstaal' sonder enige toekoms.

In 1876 het sir John Henry de Villiers, hoofregter van die Kaap, ook op geringskattende wyse oor Afrikaans gepraat. Toe hy 'n jong seun was, het Johan Hendrik de Villiers se ouers vurig gebid dat hy Van der Lingen as predikant in die Paarl sou opvolg. De Villiers was seker dat Afrikaans nooit 'n literêre taal sou kon word nie. Hy het Afrikaans as volg beskryf: "Poor in the number of its words, weak in its inflections, wanting in accuracy of meaning and incapable of expressing ideas connected with higher spheres of thought, it will have to undergo a great modification before it will be able to produce literature worhty of the name." De Villiers was daarvan oortuig dat die koloniale Afrikaners veel beter sou vaar deur Engels te bemeester - "that rich and glorious language" - wat uiteindelik die taal van Suid-Afrika sou word.

Dat Afrikaans ondanks sulke teenstand wel kon ontwikkel, moet teogeskryf word aan bepaalde omstandighede in die negentiende eeu. Soos Jaap Steyn opmerk, wou geestelikes van twee godsdienste, die Islam en die Protestantisme, dit as middel gebruik om die massa  te bereik. En in albei gevalle was die aanleiding die behoeftes van die bruin sprekers van Afrikaans.

Die opkoms van Afrikaans is moeilik te verstaan sonder om twee faktore in ag te neem. Die eerste is die golf van godsdienstige entoesiasme met die herlewing van die jare sestig, wat aanleiding gegee het tot 'n sterk begeerte om die Christelike boodskap aan die armes, sowel wit as gekleurd, te bring. 'n Eenvoudige taal was nodig om hierdie boodskap wyd in gedrukte vorm te versprei. Die tweede faktor is die swak onderwys wat veral aan kinders van minder gegoede ouers, wit en gekleurd, gegee is. Hulle kon nie Hollands of Engels behoorlik verstaan nie.

Gedurende die vroeë jare sewentig het twee Hollandse immigrante die gebruik van Afrikaans om arm mense te bereik, begin propageer. Arnoldus Pannevis, wat onderwyser aan die Paarlse Gimnasium sou word, het in 1872 in De Zuid-Afrikaan voorgestel dat die Bybel in Afrikaans vertaal en gedruk word. Hy was bekommerd oor "het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land". In 'n opvolgbrief praat hy weer van "het Afrikaansch-Hollandsch dialekt" waarin die Bybel vertaal moet word, maar 'n leser antwoord daarop dat "het noch wenselijk noch nuttig zijn zoo ver af te dalen."

Later in dieselfde jaar vra hy die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap dat die Bybel vertaal word in "a kind of corrupted Dutch". Hy skryf dat hy weet van meer as 'n miljoen mense wat 'n "Cape Dutch Bible" sou wil lees. Hy stel S.J. du Toit as vertaler voor. Die klem was tot dan toe op Afrikaans as kleurlingtaal, maar die syfer wat Pannevis noem, wys dat hy wittes bygereken het, want die gekleurdes was ver minder as 'n miljoen.

Aan die einde van daardie jaar verskyn 'n brief waarin "een Boerenschoolmeester" verklaar dat die vertaling van die Bybel in die "volkstaal" noodsaaklik is. Dit is, gaan die brief voort, nie nodig om tot "Hottentotsch-Hollands" af te daal nie - "men spreekte immers ook fatsoenlijk Kaapsch". Dit is moontlik dat die skrywer C.P. Hoogenhout was, 'n Hollandse immigrant en geliefde onderwyser van die Groenbergskool naby Wellington.

In 1873 skryf Hoogenhout in De Zuid-Afrikaan oor "Die bijbel in Afrikaans". Sy brief gaan oënskynlik oor Bybelvertaling, maar dit is duidelik dat die kwessie van voertaal in die onderwys by hom swaarder weeg. Hy wys daarop dat die meeste boere se kinders "banja min" verstaan wat hulle deur medium van Engels of Hollands leer. Hy stel die vraag: "Wanneer sal die mense dan tog wil gegrijp dat Hollands en Engels hier in Afrika as vreemde tale mot behandel wort; en dat die Afrikanders ook eers in Afrikaans mot geleer word?" Onderrig in Afrikaans al die leeslus aanwakker. Hoogenhout prys Meureant se Klaas Waarzegger, wat 12 jaar tevore verskyn het. "Die skrijwer daarvan mot een verstandige kerel gewees heb, om te seh wat hij wou seh...in de eige taal van Afrika."

Mense praat en lag nog steeds daaroor.

In 1874 tree S.J. du Toit onder die naam "Ware Afrikaander" tot die debat in De Zuid-Afriaan toe. Sy ontleding en betoog is veel meer gesofistikeerd. Hy sê dat 'n moedertaal iemand se kosbaarste besitting is en betreur die groot skade wat aan Afrikaners gedoen word deur die verheffing van Engels tot die enigste openbare taal. Andrew Murray en sy bondgenote in die NG Kerk word gekritiseer oor hul steun vir Engelse preke en Engels in die skole. Du Toit verwerp die argument dat Afrikaans nie as 'n behoorlike taal beskou kan word nie omdat dit na bewering nie 'n behoorlike grammatikale struktuur het nie en uit verskillende linguistiese elemente bestaan.

Du Toit ontken dat Afrikaans die taal van gekleurde mense is: in werklikheid het "Hottentotte hul taal verlaat en ons s'n aangeneem." Afrikaans is 'n witmanstaal, "'n suiwer Germaanse taal", kort, duidelik en lewenskragtig. Afrikaners moet geleer word dat Afrikaans hul modertaal is en dat dit hul plig is om dit as publieke taal te ontwikkel saam met Hollands. In 'n daaropvolgende briefwisseling in De Zuid-Afrikaan het Du Toit een van die vernaamste spelreël van die taal geformuleer: "Ons skryf soos ons praat."

Op Pannevis se versoek dat die Bybel in die volkstaal vertaal word, het die Bybelgenootskap geantwoord dat hy nie geneig is "to perpetuate jargons" deur die Bybel in hulle te druk nie. Tog is ds. George Morgan, die genootskap se verteenwoordiger in die kolonie, gevra om die saak verder te ondersoek. Op 'n vergadering in 1875 het 'n meerderheid van die predikante in die Boland 'n vertaling afgekeur. De Kerkbode, die mondstuk van die NG Kerk, het toegegee dat eenvoudige Afrikaners nie Hollands verstaan nie, maar goed ken. Ds. Morgan het ds. S.J. du Toit nietemin gevra om die saak met voorstanders van Afrikaans te bespreek.

Du Toit het 'n vergadering in die Paarl belê in die huis van Gideon Malherbe, skoonseun van Van der Lingen. Dit het op 14 Augustus 1875 plaasgevind. Die vergadering het besluit dat die tyd nog nie ryp is vir 'n Bybelvertaling nie. In plaas daarvan is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig. Ses van die agt stigterslede, ook Du Toit, was jonger as 30 jaar en buiten twee was almal lidmate van die gemeente Noorder-Paarl, wat drie weke tevore gestig is. Du Toit was van die staanspoor die leier van die taalbeweging. Die GRA se doelwit was om die Hollands- en Afrikaanssprekende wit mense te oorreed dat Afrikaans 'n belangrike rol in hul nasionale bewussyn kan speel en om hulle self te beskou as 'n besondere gemeenskap met die naam Afrikaner.

Du Toit en sy kollegas het die term Afrikaner as 'n erenaam beskou wat 'n eksklusiewe groep aandui. Hulle het drie kategorieë van Afrikaners onderskei: diegene met Afrikaanse harte, diegene met Engelse harte, en diegene met Hollandse harte. Hulle het dit as hulle roeping beskou om 'n gemeenskap vir Afrikaners met Afrikaanse harte op te bou.

Om sy boodskap te verkondig, het die GRA sy eie koerant, Die Afrikaanse Patriot, uitgegee. Die eerste uitgawe het op 15 Januarie 1876 verskyn en die aantal intekenaars het in die vroeë jare tagtig vinnig geklim van 50 tot 3,700. Dit was tot die vroeë jare van die twintigste eeu die enigste Afrikaanse koerant. 'n Kort tydjie in die jare tagtig het dit die grootste sirkulasie van alle Hollandse of Afrikaanse koerante gehad. Die blad se styl was helder, bondig en vars, met eenvoudige sinne en woorde van een lettergreep. Hier is 'n voorbeeld: "Die hoogste wit is di wil van di volk. Wat di volk wil moet wet wore en as 'n volk nie eenstemmig is ni dan gaat dit met meerderheid van stemme. Di meerderheid maak di wet...Geen regering kan staan teen di volkswil..."

Du Toit het amper op eie houtjie die beweging vir Afrikaans omskep n een met klassieke nasionalistiese doelstellings. Pannevis het die behoefte aan 'n Afrikaanse Bybel vir bruin mense geidentifiseer, maar Du Toit het dit van die agenda geskrap. Sy artikels in De Zuid-Afrikaan en later Die Afrikaanse Patriot het Afrikaans as taal ten nouste met die nasionaliteit van die Afrikaners gekoppel. Selfs Pannevis het gou sy oorspronklike planne vergeet. Hy het later geskryf dat dit nie genoeg is om "Hottentots Afrikaans" te skryf en te lees nie; die tyd het gekom om vas te stel hoe die "beskaafde" deel van die bevolking Afrikaans praat en reëls vir die taal te formuleer.

Die Afrikaanse taalbeweging was gekonsentreer in 'n baie klein gebied, naamlik die Paarl en sy onmiddellike omgewing. 'n Enkele man was die leidende gees en skeppende genie. In 1878 het sy broer, D.F. du Toit, later as "Oom Lokomotief" bekend, redakteur van Die Patriot en Du Toit se assistent geword. Met beperkte hulpbronne het die GRA hoofsaaklik op Du Toit gesteun, wat beweer het dat hy die helfte van sy eie biblioteek moes verkoop om geld daarvoor te kry.

Du Toit en sy bondgenote sou ook baie in Hollands publiseer, maar vir hulle was Afrikaans die taal van die wit Afrikaners. Dat Du Toit sulke groot ideale vir Afrikaans as taal kon hê op 'n tydstip toe dit feitlik sonder 'n literatuur was, weerspieël sy amper onbeperkte intellektuele selfvertroue en sy nasionalistiese ywer. Hy was onvermoeibaar in sy ywer om Afrikaners te oorreed dat hulle Afrikaans moet praat "vir hul taal en hul land."

Om 'n gevoel van nasionaliteit te kweek, het Du Toit die imperialistiese geskiedskrywing probeer teengaan. Met die samewerking van ander het hy in 1877 'n nasionalistiese geskiedenis gepubliseer waarvan hy die hoofskrywer was. Die titel was Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk. Dit het die geskiedenis van die koloniale Afrikaners in herioiese kleure geskilder Volgens dié boek was die Afrikaners deur hul hele geskiedenis heen onder druk, maar hulle het nietemin aan hul Christelike geloof vasgehou en eerbare lewens gelei. Die Slagtersnekrebelle is as martelaars gehuldig, terwyl die Britse regering en "die Engelse" amper altyd negatief uitgebeeld is.

Die GRA het onder meer ook die volgende gepubliseer: 'n boek oor die eerste beginsels van die Afrikaanse taal, 'n geskiedenis van die Afrikaanse taalbeweging, 'n bloemlesing van Afrikaanse gedigte, en 'n prentjieboek vir kinders. Du Toit het besondere klem gelê op Christelik-nasionale onderwys, wat in daardie tyd sterk deur neo-Calviniste in Nederland bepleit is. Hy het hierdie onderwerp in 'n pamflet van 1876 aangeraak en het daarin sekulêre onderwys sterk gekritiseer. Hy het daarop aangedring dat ouers die reg het om te eis dat hul kinders op skool in die godsdiens van hul ouers onderrig word en 'n nasionale geskiedenis leer wat die ouers goedkeur.

As redakteur van De Zuid-Afrikaan het J.H. Hofmeyr die GRA se geskiedenis van Suid-Afrika gepulbiseer en hy het ook hulp verleen met die publikasie van die eerste uitgawes van Die Afrikaanse Patriot. Maar hy het in 1876 geskryf dat die manne van Die Patriot 'n hopelose stryd voer.

Die werk van die GRA het die klasseverskille in die Afrikanergemeenskap blootgelê. De Zuid-Afrikaan, die stem van die beter opgevoede en meer welgestelde Afrikaners, het neerhalend verwys na Die Patriot en brandewyn as die gemeenskaplike vyande van die beskawing. Ander kommentators het besef dat die GRA die klasseverskille in die Afrikanergemeenskap oorbrug het. 'n Korrespondent in die Vrystaatse koerant The Friend het uit Kroonstad oor Die Patriot geskryf: "Dit is nie net die lawe bywoners wat dit lees nie, maar ook die beskaafde mense onder ons."

Die Patriot het uit die staanspoor daarin geslaag om eksemplare in die twee Boere republieke te versprei. Toe Theophilus Shepstone in 1877 die ZAR annekseer, het Die Patriot hom skerp daarteen uitgespreek. Ook De Zuid-Afrikaan was krities. In Oktober 1880 het Die Patriot 'n stappie verder gegaan en geskryf dat die tyd vir aktiewe teenstand aangebreek het. Sommige Transvaalse leiers het later beweer dat dit 'n vername aansporing was om die wapens op te neem.

Die NG Kerk se leiers het Die Patriot met toenemende bekommernis gadegeslaan. Du Toit was vir baie predikante 'n doring in die vlees; hy het baie dinge wat die NG Kerk voorgestaan het, geopponeer: opwekkingsdienste, spesiale bidure, Engels in skole en onderdanigheid aan die regering. Nou was hy besig om verset teen die gesag in Transvaal openlik aan te moedig. In 1880 het die Kaapse sinode oor drie dae Die Patriot bespreek. Die een spreker na die ander het sy verderflike invloed veroordeel, veral die agterdog wat die blad teen die regering en die kerk kweek. Du Toit het hom self en die koerant verdedig, maar in 'n stemming van 114 teen 2 het die sinode die koerant veroordeel. Sy sirkulasie het vinnig gestyg.

Teen 1870 het Die Patriot al hoe meer 'n taalnasionalisme aan 'n politieke nasionalisme gekoppel. Met verwysing na die Britse bewindhebbers se gehamer op die vryhede wat mense onder die Britse vlag geniet, merk die blad sarkasties op dat daaronder seker ook inbegrepe is "dat ons kinders vollens wet in Engels moet geleer word; dat in ons Parlement ons eie taal nie mag gespreek word nie; dat ons nie eens 'n telegram in ons eie taal kan afstuur nie."

Hierdie propaganda het ook by sommige opgevoede Afrikaners 'n gevoelige snaar aangeraak. Op 30 Mei 1879 publiseer Die Patriot 'n brief wat 'n mediese student in Edinburg, Skotland, aan 'n vriend geskryf het. (Hy was een van 40 Suid-Afrikaners daar.) "Telkenmale as ik den Patriot ontvangen en gelezen heb stormt my het bloed door de aderen en wordt ik genoodsaakt naar buiten te vlugten, daar alles my te nauw om het hart wordt...Wij houden in Edenburg het Afrikaanderisme wakker, en waart gij hier, gij zoudt u verwonderen hoe Afrikaansch wij zijn. Wij praten onder elkander nooit Engelsch, altyd Afrikaansch. Wij denken Afrikaansch, wij doen alles Afrikaansch." Dit is 'n vroeë aanduiding van die diepe emosie wat Afrikaans kon opwek, veral wanneer dit taal bedreig is.

Die Afrikanernasionalisme is 'n kort rukkie gestimuleer deur die Tansvalers se skouspelagtige oorwinning oor 'n Britse mag by Majuba op 27  Februarie 1881. Kaapse burgers het op baie plekke openlik solidarieteit met die Transvaalse burgers betoon. Daar is gesê dat die Transvaalse opstand almal aanspreek wat 'n ware Afrikaanse gees het. J.H. Hofmeyr het die Kaapse Afrikaners in gedagte gehad toe hy die volgende gesê het: "De Anneksatie van deTransvaal...heeft haar goede zijde gehad. Zij heeft het Zuidafrikaansche Volk geleerd, dat bloed dikker is dan water. Zij heeft de anders te zeer aan het materiele slijk verkleefde Afrikaners vervuld met een nationale gloed van sympatjie voor de broeder over de Vaal..."

Hierdie "nasionale gloed van simpatie" is gekanaliseer in die stigting van die eerste politieke party in Suid-Afrika.

Die opkoms van die Afrikanerbond

Du Toit het die inisiatief geneem by die stigting van 'n party. In Die Patriot van 20 Junie 1879 bepleit hy in die hoofartikel die stigting van 'n Afrikanerbond met takke oral in Suid-Afrika. Dit moet 'n organisasie wees waarin "al wat Afrikaner is hom kan tuisvoel" en waarin "geen nasionaliteit ons van mekaar skei nie". Afrikaners word omskryf as "almal wat Afrika erken as hul vaderland...al is hulle van Engelse, Hollandse, Franse of Duitse afkoms.: Dit sluit mense uit wat van Engeland praat as "home" of van Duitsland of Holland as "vaderland" en net in Suid-Afrika "hulle beurs wil vul" om later in Europa te bestee. Dit wil "landsverraiers" uit die politiek weer en sorg dat net "ware vriende van die vaderland hulle plekke inneem."

Die bond wat Du Toit bepleit, moet die handel en nywerheid bevorder en wil sorg dat belange van nog die boer nog die koopman opgeoffer word. Terselfdertyd meot die organisasie hom uitspreek teen "spekulateurs" en die oorheersing van die geldmark deur "Engelse Banke". Die bond moet protesteer teen die groot bedrae wat bestee word aan die onderwys van een deel van die bevolking (Engelssprekendes) terwyl die grootste deel (Afrikaners) afgeskeep word. Die taal van alle dele van die bevolking moet gelyk erken word "in die skool, en kantoor, in regbank en raadsaal."

Die dokument self was merkwaardig gematig. Daar is geen aaandrang op diskriminasie teen bruin of swart mense of 'n pleidooi vir Christelike-nasionale onderwys nie. In artikels wat gevolg het, het Die Patriot sommige punte vollediger behandel. Dit weerspieël die meeste Afrikaners se afkeer van vryhandel en van handelaars, bankiers en ander agente van die Britse finansiële kapitalisme. 'n Spesiale teiken is die Standard Bank, wat 'n groot deel van sy dividende na sy hoofkantoor in Londen stuur. Die koerant beskuldig die bank daarvan dat dit saamgesweer het om talle distriksbanke in die vorige dekades in duie te laat stort. Daar word voorgestel dat 'n nasionale bank gestig word  nadat plaaslike banke geamalgameer en die Standard Bank uitgeskop is, soos die Oranje-Vrystaat in die jare sestig gemaak het.

In 1882 het Die Patriot die Standard Bank 'n "reusagtige duiwelvis" genoem, terwyl 'n Afrikanerpolitikus in die Parlement geinsinueer het dat die bank al die Wes-Kaapse boere "onder die plak het" sodat hy al die wynplase kan aankoop. Selfs De Zuid-Afrikaan het gemeen dat die Afrikaners verenig is in hul teenstand teen die imperiale banke.

Die Patriot het ook verbruikersboikotte bepleit en dit as die plig van elke Afrikaner bestempel om nie geld by 'n Engelsman se winkel uit te gee as hy dit kan vermy nie. Die blad het vorgestel dat boerewinkels op elke dorp gestig word, maar hierdie plan het nooit werklikheid geword nie. Selfs al was daar genoeg kapitaal om die winkels te begin, was dit amper onmoontlik om sonder groothandelaars klaar te kom wat goedere van Londen ingevoer het. Die Patriot het ook 'n Hugenote-gedenkskool bepleit waarin "eerbied vir ons voorgeslag, liefe vir ons volk, kennis van ons geskiedenis en n ware nasionaliteitsgvoel by ons jongere Afrikaners" aangemoedig word.

Die nasionalistiese toon was onmiskenbaar. Die liberale John X. Merriman het hom teen die opvattings uitgespreek omdat dit volgens hom politieke verdeeldheid tussen die twee wit gemeenskappe sou aanwakker, aangesien dit gegrond is "not upon legitimate differences of opinion, but upon race distinctions."

Hofmeyr het ook nie van die soort politiek gehou nie. Hy het 'n organisasie begeer wat sowel Afrikaners as Engelse, sowel boere as handelaars sou aantrek. Hy was bang dat die Engelssprekende deel van die wit bevolking maklik op hol gejaag sou word deur bewerings dat die bond 'n radikale organisasie is. Hy wou die kerk, wat sterk ten gunste van die Britse ryk en teen politieke aktivisme gekant was, nie aanstoot gee nie.

Hofmeyr was sekerlik bekommerd oor die kultuur van die koloniale Afrikaners, maar hy wou dit nie tot 'n twispunt maak nie. Hy wou niks doen wat dit kon laat lyk of die Kaapse Afrikaners dislojaal teenoor die ryk is nie. Hy het nie die ryk opgehemel nie, maar het geglo dit bied noodsaaklike beskerming aan die Kaap in 'n tydperk van wedywering tussen die groot moondhede.

Die Transvaalse opstand in 1880 en vroeg in 1881 het 'n kort rukkie Hofmeyr se politieke ewewig versteur. Die vernederende nederlaag by Majuba het die Engelse gemeenskap baie ontstel en Du Toit verheug. Du Tot het inderdaad geglo dat die Afrikanernasie by Majuba gebore is. Die Afrikanerbond het voordeel getrek uit 'n opleweing van die emosies rondom nasionaliteit. Dit het teen die einde van 1880 slegs drie takke gehad, maar na die Transvaalse opstand het talle takke tot stand gekom, veral in die Oos-Kaap maar ook in die OVS en die Transvaal.

Du Toit het nou meer radikaal geword en al die neo-Calvinistiese idees van sy geestelike held Abraham Kuyper verkondig. Vroeg in 1892 het Du Toit die Kaap verlaat om hoof van die onderwysdepartement in Transvaal te word. Hy het egter eers 'n nuwe program van beginsels opgestel wat die Afrikanerbond se strewe baie meer uitdruklik nasionalisties geformuleer het. Hy het nou die Afrikaners gedefinieer as almal wat van hoofsaaklik Hollandse of Hugenote-afkoms is. Hy het ook aangedring op selfbeskikking en verklaar dat die uiteindelike doel 'n verenigde Suid-Afrika onder sy eie vlag moet wees.

Intussen het Hofmeyr gesukkel om sy BBV op te hou. Dit het nie veel emosionele aantrekkingskrag gehad nie, omdat hy hom meer op stoflike belange toegespits het. Hofmeyr het 'n lid van die Afrikanerbond geword en begin werk om die meer radikale doelstellings te verwater. By 'n kongres van die bond op Cradock in 1892 het hy verklaar dat onafhanklikheid vir Suid-Afrika nie bereik kan word voor die twee wit gemeenskappe nader aan mekaar beweeg nie.

In 1883 is 'n kongres op Richmond gehou om die amalgamasie van die bond en die BBV te bekragtig. Hofmeyr se hand is duidelik te sien in die inklusiewe definisie van die term Afrikaner in die grondwet. 'n Afrikaner, so het dit gelui, is elkeen, ongeag sy afkoms, wat die welsyn van Suid-Afrika nastreef. Dit het ook Du toit se klem op'n Suid-Afrika onder eie vlag versag. Dit is nou bestempel as 'n "eindbestemming" eerder as 'n doel wat bewustelik nagestreef word.

Die kongres het entoesiasties sy lojaliteit teenoor die Britse ryk betuig. Oom Daantjie van den Heever, hart en siel van die bond in die oostelike distrikte, het hom self as 'n "vaderlandsliewende Hollandse Afrikaner" bestempel, maar bygevoeg dat hy die persoon wat oneerbiedig teenoor die Britse vlag is in sy kop sal skiet. Die kongres het afgesluit deur "met geesdrif en herhaling" 'n juigkreet vir koningin Victoria te verhef.

Hofmeyr het nou beheer oor die bond verkry en dit versigtig bestuur sodat dit matige vordering in taal- en kultuursake kon maak. Hy het terselfdertyd gesorg dat hy die Engelssprekendes nie vervreem nie en het 'n saamgestelde nasionaliteit bevorder waarin die Afrikaners en mense van Britse afkoms mekaar se taal, kultuur, onderwys en godsdiens erken en resprekteer. In 1882 het Hofmeyr die reg verkry dat Hollands in die Parlement gebruik kon word. In 1883 word kennis van Hollands verpligtend vir sekere range in die staatsdiens, en in die volgende jaar word dit in die howe toegelaat. In 1887 word dit 'n verpligte vak vir kandidate vir die staatsdienseksamens. Hollands was nou 'n amptelike taal, maar die gebruik daarvan is nie juis met oortuiging bevorder nie.

Hofmeyr het die meer welgestelde wyn- en koringboere en ook die prokureurs, afslaers en finansiële agente op die plattelandse dorpe verteenwoordig. Hy het beskermende tariewe vir die boere se produkte bepleit; asook die aanlok van buitelandse kapitaal, die ontwikkeling van die infrastruktuur, die bevordering van die landbou, die ontginning van markte in die binneland vir Kaapse wyn en brandewyn, groter beheer oor arbeid en hoër stemregkwalifikasies om swartes uit te hou. Hy was vir sekulêre onderwys, maar nie teen Christelik-nasionale skole nie. Waar mense op godsdienstige onderrig aandring, kan dit aangebied word, maar die skoolkomitee moet besluit.

Hofmeyr was seker in die praktyk sou min verander, en dit het inderdaad so gebeur. Op omtrent elke sinode die volgende drie dekades sou lede die gebrekkige godsdiensonderrig in skole betreur en saam daarmee die onwilligheid van die skoolkomitees om dit te verbeter. Soos Van der Lingen en Du Toit gevrees het, was die invloed van die sekulêre onderwys en die sekulêre staat verreikend.

Du Toit het in sy loopbaan in Transvaal misluk. Aanvanklik was hy 'n vertroueling van Paul Kruger, maar toe hy nie wesgrens van die republiek uitgestuur word as Kruger se verteenwoordiger, het hy halsoorkop opgetree en die omstrede gebied geannekseer. Dit was vir Kruger 'n groot verleentheid in sy verhoudinge met die rregerings van die Kaapkolonie en Brittanje. Hy het nou die advies van sy Hollandse amptenare begin aanneem. Du Toit, wat hom op die kantlyn bevind het, het sy pligte as hoof van die onderwysdepartement verwaarloos. Teen die einde van die jare tagtig was sy verhouding met Kruger baie swak en hy was bankrot weens spekulasie in goudmyne. Hy het in 1892 as 'n held in Transvaal aangekom, maar in 1890 na die Kaap teruggekeer as 'n hoogs omstrede man wat in talle persoonlike twiste beland het. Hy het Kruger bitterlik verwens.

Du Toit het sy nasionalistiese opvattings en anti-Britsheid soos vuil klere weggegooi. Hy het nou die vereniging van die kolonies en republike onder Britse beskerming voorgestaan. Na alle waarskynlikheid het Cecil John rhodes hom nou finansieël begin steun en hom na sy pype laat dans. Hy is vervreem van sy broer D.F. (Oom Lokomotief) en C.P. Hoogenhout by Die Patriot. In 1896 het hy die Hollandse koerant Het Dagblad in Kaapstad begin, maar di thet na twee jaar gevou. Nadat Hofmeyr oor die Jameson-inval met Rhodes gebreek het, het Du Toit Rhodes bly steun en later het hy ook Brittanje in die Anglo-Boere oorlog ondersteun. Hy was nou 'n tragiese figuur.

'n Taal wat kwyn

Du Toit se eerste taalbeweging het heelwat verrig. Dit het byvoorbeeld 93,650 eksemplare van Hollandse en 88,000 van Afrikaanse boeke gedruk. Teen 1890 was Du Toit se beweging egter prakties dood. Die geheime vergaderings van die GRA en Du Toit se klem op Kuyper se neo-Calvinisme het die verkeerde boodskap uitgestuur. Die beweging het te afhanklik van een man geraak en te veel vyande gehad. Du toit het 'n fout begaan deur 'n ultrafonetiese spelling vir Afrikaans te kies. Hy het byvoorbeed geskryf oek en o'er in plaas van ook en oor. Maar die heel grootste oordeelsfout was die aandrang dat Engels as publieke taal vervang word deur Hollands en Afrikaans. Dit was 'n hopelose stgryd. Die werklike uitdagings was om Afrikaans te ontwikkel tot op 'n punt waar dit Hollands kon vervang en langs Engels as amptelike taal staan. Solank Hollands die ampstaal was, kon Afrikaans nie vorder van die nederige spreektaal wat dit op daardie tydstip was nie. Die groot uitdaging was dus om Afrikaans as voertaal in die onderwys aanvaar te kry. Slegs dan sou die Afrikaners nie langer skaam wees om dit in die oopenbaar te praat en te skryf nie.

Hofmeyr se Afrikanerbond het voortggegaan om Hollands te probeer bevorder, maar dit was 'n opdraande stryd. Die Britte wou nie langer Afrikaans as 'n taal vermoor nie, maar hulle wou die Afrikaanse koloniste kans gee om dit self te doen. En hierin is hulle nie teleurgestel nie. Die Kaapse Afrikaner-elite het Engels as die simbool en maatstaf van sukses beskou. Hofmeyr het in 1890 moedeloos uitgeroep: "Begin met die taal in u eie huis...Moenie regte in die Parlement en skool vra wat u nie in eie huis wil hê nie. Die taalkwessie is 'n kwessie van lewe en dood. As u u taal misken, misken u u nasionaliteit. Eer u taal! Eer u nasionaliteit!"

In 1890 het Hofmeyr die stigting ondersteun van die Suid-Afrikaanse Taalbond, wie se doel was om die "volkstaal" en 'n sterker nasionaliteitsgevoel te bevorder. Maar wat was die volkstaal? Met 'n stemming van 48 teen 37 het die vergadering besluit om 'n vorm van Hollands eerder as Afrikaans as volkstaal te ondersteun. Dit wou Hollands die volkstaal maak deur die spelling te vereenvoudig.

Dit was 'n onbegonne taak. Hollands was in Suid-Afrika 'n sterwende taal: al hoe minder mense kon dit behoorlik praat of liefde daarvoor betoon. Selfs Paul Kruger, wie se ondersteuning vir Hollands as die ZAR se ampstaal noooit gestaan het nie, het Afrikaans baie beter as Hollands gepraat. Toe hy in 1884 in Nederland in 'n toespraak van sy gebroke Hollands an Afrikaans oorslaan, het 'n Hollandse verslaggewer opgemerk hoe vol "gloed, gees en lewe" sy taal geraak het.

In Kaapstad was Afrikaans ook aan die kwyn. In die laaste jare van die eeu was dit net die Moslems wat nog lojaal was teenoor Afrikaans. Waarnemers het geglo dat stedelinge of opgevoede Afrikaners binne 'n geslag nie meer Afrikaans sou praat nie.

Engels het bestendig vooruitgang gemaak. In die Groote Kerk is Engelse dienste naas Hollandse dienste gehou. Engelse dienste  in die gemeente is nie afgeskaf wees 'n groter nasionale bewussyn nie, maar omdat dit die kerk geldelik sou baat. Die spoorslag was 'n aanbod van 'n eksentrieke geldskieter, Jan Christoffel Hofmeyr, wat in 1897 gesterf het. Hy het in sy testament £20,000 aan die gemeente bemaak op voorwaarde dat daar elke Sondag ten minste twee dienste in Hollands gehou word.

In die Wes-Kaap het Engels en die simbole van die imperialisme Hollands en plaaslike simbole uitgedruk. In 1887 het Stellenbosch College (voorheen Stellenbosch Gymnasium) sy naam in Victoria-kollege verander. Die voertaal was Engels en die eerste professore en lektore was almal Engelse of Skotte. In 1882 het die Paarlse Gimnasium verplig gevoel om staatsubsidies te aanvaar en hiermee het die poging om 'n private Hollandsmediumskool aan die lewe te hou, gesneuwel.

Die Kaapse Afrikaners was trots daarop om deel van koningin Victoria se glorieryke "Empaaier" te wees. Hulle het die vryhede en regte wat hulle onder die Britse kroon geniet het hoog op prys gestel. Hulle het nie begeer om hulle van 'n juk te bevry wat liggies op hulle gerus het nie. In 'n onthullende berig in 1878 het De Zuid-Afriaan verklaar dat die Afrikaners geen republiekeinse vryheid, gelykheid en broederskap voorstaan nie. As hulle onsteld is, is hul eerste reaksie om 'n petisie aan koningin Victoria te stuur. Indien hulle 'n republiek sou uitroep, sou dit op dieselfde grondslag wees as die suidelike state van die VSA met hul stelsel van wit heerskappy. Dit is opvallend dat daar geen verwysing hier is na die Boererepublieke nie.

Hoewel die Afrikanerbond van die einde van die 1880's die helfte van die parlementêre setels gehou het, wou Hofmeyr nooit 'n kabinet vorm nie en hy het ook geweier om eerste minister te word. Hy het geglo dat dit sy eie party sou verdeel en die Engelssprekendes sou ontstel. In 1887 het die Afrikanerbond aan konigin Victoria, toe vyftig jaar op die troon, geskryf om haar te verseker  dat daar in die hele Britse ryk geen lojaler onderdane is nie. Op die bond se kongres in die Paarl die volgende jaar is 'n heildronk op die koningin gedrink en God save the Queen gesing. In 1890 het D.F. du Toit as leier van die nasionalistiese vleuel van die bond aan 'n Hollandse verslaggewer gesê die bond is so lojaal as moontlik en daar mense in Engeland meer as is in die Kaap oor 'n republiek praat. In 1898 het J.S. Marais, 'n lid van die Afrikanerbond, in die Paarl hartstogtelik verklaar: "Ons is lojaal aan ons Koningin en dank God dat Hy aan ons so 'n Godvresende, deugsame en vrome Koningin gegee het."

Soms was daar waarskuwende stemme soos dié van Die Patriot, wat opgemerk het dat die bond darem te Engelsgesind geword het. Die aantrekkingskrag van die Engelse kultuur en taal het vir die Kaapse Afrikaners al hoe sterker geword. Hulle was lief om te wys hoe vlot hulle Engels praat. Die skrywer M.E.R. het in herinnering geroep hoe sy en haar vriende dit in die jare negentig in Swellendam geniet het om Engels met mekaar te gesels. As moeders het hulle Engels met hulle kinders gepraat en aan hulle Engelse name gegee, veral in die geval van dogters. Ouers, minnaars, kinders, broers en susters het in Engels aan mekaar geskryf en hulle dagboeke in Engels gehou. Aan die Kaap was daar min mense wat 'n weddendskap sou aangaan dat Afrikaans sal oorleef.

Die ideologie van vooruitgang

Die imperialistiese ideologie van vryhandel en vooruitgang het die eiebelang van Brittanje en van handelaars en professionele lui in die kolonie, wat hoofsaaklik Engelsprekendes was, merkwaardig goed bedek. Brittanje het vryhandel in die negentiende eeu omarm nadat die Britte in vorige eeue sterk proteksionisties was. In die negentiende eeuse ryk was vryhandel tot die grootste voordeel van Britse vervaardigers en handelaars.

Die beleid van anglisering in die naam van vooruitgang het eweneerns Engelssprekendes bevoordeel in die wedywering om poste in die staatsdiens, die beroepe en die handel. In die howe is almal wat Engels nie goed kon praat nie gekortwiek, en in die Parlement

was daar buite verhouding baie Engelssprkende lede. In skole het Engels as die enigste voertaal 'n groot las op die meeste Afrikanerkinders geplaas.

Teen die 1840's en 1850's was die Britse gesag so stewig gevestig dat daar van opstand geen sprake meer was nie. Daar was in die tweede helfte van die negentiende eeu net een geval van burgerlike ongehoorsaamheid. In hierdie geval was die kragte wat vooruitgang voorgestaan het, sekerlik korrek en onbaatsugtig. Dit het gegaan oor die regering se bestryding van brandsiekte, sedert die sewentiende eeu endemies onder skape in die kolonie. Die gehalte van die wol is nadelig geraak en in droogtes het duisende skape gevrek. Teen die 1880's het dit boere in die kolonie skade ten bedrae van £500,000 laat ly.

Geleerdes het bevind dat die siekte beheer kan word deur dip en kwarantyn. Tussen 1886 en 1896 het die koloniale regering hierdie metodes probeer opdwing. Engelssprekende boere het sonder beswaar saamgewerk - hulle het die ideologie van vooruitgang en die korrektheid van wetenskaplike navorsing ten volle aanvaar. Onder Afrikanerboere was daar egter wydverspreide teenstand, wat soms selfs 'n godsdienstige kleurtjie gehad het. Teen 1893 het inspekteurs 1,568 boere per jaar vervolg omdat hulle die regulasies nie nagekom het nie.

Dit het gou ontwikel in 'n ernstige politieke krisis, wat selfs die Afrikanerbond se eenheid en saam daarmee die koalisie van Hofmeyr en Rhodes bedreig het. Daar is getuienis dat die agitasie 'n rol gespeel het in Hofmeyr se besluit in 1895 om uit sy setel in die Parlement te bedank. Die regverdiging van diegene wat beswaar gemaak het teen die maatreëls om brandsiekte uit te wis, weerspieël baie van die plattelandse Afrikaners se politieke kultuur. Ten eerste was daar 'n identifikasie met die tradisionele teen die amptelike aandrang op vooruitgang en wetenskaplike rasionaliteit.  Sommige boere het beweer dat brandsiekte 'n plaag is wat God gestuur het om sy mense oor hul sonde te bestraf. Die boere moet daarin berus soos in droogte, sprinkane en ander natuurrampe.

Daar was ook diegene wat geweier het om die wet te gehoorsaam op grond daarvan dat dit inbreuk op hul vryheid maak. Die Kaapse boere het 'n tradisie van twee eeue agter hulle gehad waarin veeboere feitlik heeltemal vry was om op hul plase te maak soos hulle wil, sonder regeringsinmenging. 'n Boer het sy optrede in die klassieke terminologie van die pionierboer verduidelik: "Die skaapboer is 'n vrye persoon en dis onregverdig om hom te dwing." Nog 'n boer het gesê die regering moet nie probeer om die glorieryke vryheid wat die kolonie onder die Britse vlag geniet aan bande te lê nie. Hierdie uitsprake vang iets van die dubbelsinnige identiteit van koloniale Afrikaners se patriotisme vas.

Die koloniale patriotisme wat die Afrkanerbond voorgestaan het, het Afrikaners toegelaat om verskeie identiteite en simpatieë te kombineer: patriotisme teenoor die kolonie, lojaliteit teenoor die monargie en ryk; solidariteit met hul republikeinse bure oorkant die Oranjerivier; en 'n vereenselwiging met hul eie kulturele uniekheid, soos uitgedruk in Hollands as kerk- en koerant taal.

Die koloniale Afrikaners se lojaliteit teenoor die ryk en later die Britse Statebond sou lank duur. Alhowel daar altyd 'n meerderheid van Afrikaners in die Kaapse kieserskorps was, was dit eers in 1958, toe die eerste wit verkiesing in die kaapprovinsie gehou is, dat 'n republieksgesinde party die meeste stemme in die gewese Kaapkolonie gekry het.

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8